Tweede Sondag in Advent

Sections

Oorsig

Die tweede Sondag van Advent is die Sondag van vrede waar ons fokus op Johannes die Doper wat gekom het om die weg vir die Here gereed te maak. Die Here se mense word bemoedig en getroos, want die troue Here is aan die werk. Hy stuur sy boodskapper voor Hom uit, want Hy is aan die kom. Maak dus gereed vir die koms van die Here.

Ander tekste

Psalm 85:1-2, 8-13
U was goed vir u land

85 Vir die koorleier. Van die Koragiete. ’n Psalm.
2U was goed vir u land, Here,
U het aan die nageslag van Jakob
’n nuwe toekoms gegee;

3U het u volk sy sonde 
nie toegereken nie, 
hom al sy skuld kwytgeskel. 
4U het u woede laat bedaar, 
u gloeiende toorn laat afkoel. 
5Ontferm U weer oor ons, 
o God, ons Verlosser, 
moet tog nie langer op ons toornig 
wees nie! 
6Sal U dan altyd vir ons kwaad bly? 
Sal U dan u toorn van geslag tot geslag 
laat voortduur? 
7Wil U nie weer die lewe 
vir ons nuut maak 
sodat u volk hulle vreugde 
in U kan vind nie? 

8Laat ons u troue liefde belewe,
skenk ons u reddende hulp, Here.
9Ek wil luister na wat God die Here sê,
want sy woord bring vrede vir sy volk,
vir dié wat Hom getrou dien.
Hulle moet net nie weer afdwaal nie.
10Waarlik, uitkoms is naby
vir dié wat Hom dien:
Hy sal sy reddende mag in ons land
openbaar.
11Liefde en trou sal mekaar ontmoet,
geregtigheid en vrede
sal mekaar omhels;
12trou sal uit die aarde uit opspruit,
geregtigheid sal uit die hemel uit
afkom.
13Die Here sal voorspoed skenk
en ons land sal sy oes gee.
14Die geregtigheid sal Hom vooruitgaan
en ’n pad maak vir sy koms.

2 Petrus 3:8-15a
8Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. 9Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

10Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ’n dief kom. En op dié dag sal die hemel met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. 11Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. 12Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt. 13Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.

14Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, moet julle julle daarvoor beywer om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe. 15En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word.

Markus 1:1-8
1 Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:

Die optrede van Johannes die Doper
(Matt 3:1–12; Luk 3:1–18; Joh 1:19–28)
2In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe:
“Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit.
Hy sal die pad vir jou regmaak.
3Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.”

4Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 5Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

6Johannes het klere van kameelhaar gedra met ’n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 7Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. 8Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Fokusteks

Jesaja 40:1-11
Soos ’n herder versorg Hy sy kudde
40 Die uitkoms is hier!
Die uitkoms is hier!
Dit, sê julle God, moet julle
vir my volk sê.
2Bring vir Jerusalem die goeie tyding,
sê vir hom sy swaarkry is verby,
hy het geboet vir sy sonde,
hy het van die Here
die volle straf ontvang
vir al sy sondes.
3Iemand roep:
“Maak vir die Here ’n pad
in die woestyn,
maak in die barre wêreld
’n grootpad vir ons God!
4Elke laagte moet opgevul word,
elke berg en rant
moet gelykgrond word.
Elke bult moet ’n gelykte word
en elke koppie ’n vlakte.
5Dan sal die mag van die Here
geopenbaar word;
al wat leef, sal dit sien.
Die Here self het dit gesê.”
6Iemand sê: “Roep!”
En ek vra:
“Wat kan ek roep?
Alle mense is soos gras,
alles waarop hulle staatmaak,
is soos ’n veldblom:
7gras verdor en blomme verwelk
as die Here sy wind
daaroor laat waai.”
Dit is so, die volk is soos gras.
8Gras verdor en blomme verwelk,
maar die woord van ons God
bly vir ewig.
9Klim op ’n hoë berg en roep hard, Sion,
jy wat die goeie tyding moet bring;
roep hard, Jerusalem,
jy wat die goeie tyding moet bring,
moenie bang wees nie.
Sê vir die stede van Juda:
“Julle God is hier!”
10Die Here God kom,
Hy is die Magtige, Hy regeer.
Hy bring die volk saam
wat Hy Syne gemaak het,
dié wat aan Hom behoort,
is by Hom.
11Soos ’n herder versorg Hy sy kudde:
die lammers maak Hy bymekaar
in sy arms
en Hy dra hulle teen sy bors,
Hy sorg vir die lammerooie.

Predikers kan gerus gebruik maak van Bybel-Media se uitstekende Preekstudies en Liturgiese voorstelle vir 2011-2012 vir agtegrondmateriaal oor teks en konteks.  Besoek www.bmedia.co.za

Liturgie
Suggestie: Begin die diens met die voorstel by Familie-tyd.
God nooi ons uit en ons kom tot rus

Die tweede Sondag van Advent is die Sondag van vrede. Daar is gepoog om hierdie tema dwarsdeur die liturgie vir vandag te neem.

In die Preekstudies en Liturgiese voorstelle (2011-2012) van Bybel-Media word ook melding gemaak (by die bespreking van Jesaja 40:1-11) dat ruim gebruik gemaak is van Jesaja 40 in die Messias van George Frideric Handel. Van hierdie musiek sou ruim in die liturgie gebruik kon word. Addisionele leesstof is oa beskikbaar by http://en.wikipedia.org/wiki/Messiah_(Handel) terwyl heelparty musieksnitte hiervan by Youtube beskikbaar is (byv by http://www.youtube.com/watch?v=11xABcKjux8). Veral van toepassing is snitte 2 tot 4, 9 en 20.

Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Aanvangswoord: (Ahv Ps 85)
8Laat ons u troue liefde belewe,
skenk ons u reddende hulp, Here.
9Ons wil luister na wat U, God die Here, sê
want U woord bring vrede
vir dié wat U getrou dien.
11Liefde en trou sal mekaar ontmoet,
geregtigheid en vrede
sal mekaar omhels;
12trou sal uit die aarde uit opspruit,
geregtigheid sal uit die hemel uit
afkom.

Seëngroet
Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het.
2Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here! (2 Petrus 1:1-2)

Lied 188 “Kom dank nou almal God 1,2”

Verootmoediging

Skriflesing met vrede tema: uit Jesaja 8 en 9

’n Seun is gebore
23Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie. In die verlede het die Here die gebiede Sebulon en Naftali verneder, maar in die toekoms sal Hy die pad na die see van Galilea toe, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene in ere herstel.

9 Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.
2U het dié wat nie meer ’n nasie was nie, baie gemaak,
hulle blydskap groot gemaak.
Hulle het hulle in u teenwoordigheid
verbly
soos mense bly is in die oestyd,
soos hulle juig wanneer hulle
die buit verdeel.
3Soos die dag toe Midian verslaan is,
het U die juk verbreek
wat op die volk gedruk het,
die stok waarmee hulle geslaan is,
waarmee hulle gedryf is.
4Elke soldateskoen wat in die oorlog
gebruik is,
en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word,
deur die vuur verteer word.
5Vir ons is ’n Seun gebore,
aan ons is ’n Seun gegee;
Hy sal heers, en Hy sal genoem word:
Wonderbare Raadsman,
Magtige God,
Ewige Vader,
Vredevors.

6Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

Lied 345:2, 4

GELOOFSBELYDENIS AHV Efes 2:13vv (verander om in 1e persoon te lees)
13Maar nou is ons een met Christus Jesus.
Ons wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. 14Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het.

Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het.

15Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode, en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig.

16Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig.

17Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring:

vrede vir diegene wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was.

18Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

 

 

God praat met ons en ons luister

 

Epiklese

Here, skenk aan my uit u genade

  • lig waar ek net donker sien
  • moed waar ek vrees
  • hoop waar ek wanhoop
  • vrede waar my gemoed storm
  • vreugde waar ek hartseer is
  • krag waar ek swak is
  • wysheid waar ek verward is
  • sagtheid waar ek bitter is
  • liefde waar ek haat
  • vergifnis vir my sonde
  • Úself in die plek van mýself

Here, Here, skenk aan my Úself!

Amen.

(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk. Datum onbekend)

Skriflesing Jes 40:1-11

Prediking

 

God stuur ons om te leef

 

Gebed

 

Wegsending Lied 284 Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3

Seën

Filippense 4 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Amen

 

Musikale Amen: Lied 314

 

  1. God nooi ons uit en ons kom tot rus
    1. Rus
    2. Liedere

F133. As Ek Stil Word  

(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding,  Verwondering,  toetrede)

Teks en Musiek: Janie de Bruin

© MAR Gospel Music Publishers

 

As ek stil word

Om by U te wees

Bedaar my hart

Se donker vrees

As ek u hartklop

Teen my wang kan voel

Verstaan ek wat u Woord bedoel

 

U is wonderbare Raadsman

U is magtige God

U is ewige Vader

U is Vredevors

 

F181. U Ken My Vredevors (My Fontein) 

(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Afhanklikheid en vertroue)

Teks en Musiek: Wian Vos

© 2006 Urial Publishing

 

1. U ken my Vredevors

My honger en my dors

U hoor my as ek pleit

Vir krag en heiligheid

My hele lewe, Heer

Lê ek nou voor U neer

Loop saam deur die woestyn

Want U is my Fontein

 

Refrein:

By wie ek water drink, Lewende Water drink

Dit vloei so vry, verniet vir my

Daar waar ek water drink, Lewende Water drink

Les U my dors, my Vredevors

My Fontein

 

2. As ek dink aan wie U is

Dan raak ek weer bewus

Van U grootheid en my kleinheid

My skuld en my onreinheid

 

As ek self, alleen probeer

Dan val ek maar net weer

Loop dan saam deur die woestyn

Want U is my Fontein

 

Refrein:

 

  1. God praat met ons en ons luister
    1. Familie-oomblik

Aansteek van die tweede Adventskers.

Verfris die kinders se geheue oor die betekenis van die Adventskrans.

Jesus is ons Koning. Hy het gewen en sal vir altyd en altyd heers. Hy kom ons haal om by Hom te wees. Ons moet gereed wees wanneer Hy kom.

Vandag as ons by die Adventskrans staan, weet ons ons almal maak foute en doen slegte dinge. Net Jesus Christus was volkome gehoorsaam aan God. Jesus help ons om te lewe soos God wil hê ons moet lewe. Jesus gee ons vrede.

Vra ’n kind om Jesaja 53:4-5 te lees.

Ons steek vandag die tweede kers aan om die koms van God se lig, Jesus Christus, te verkondig. Die viering van sy koms kom al nader. Met sy koms bring Jesus vir ons vrede, want Hy is die Vors van vrede. Jesus se naam is ook Immanuel, God met ons. Omdat Jesus in ons lewe teenwoordig is, gee Hy ons dag vir dag vrede.

’n Kind steek die volgende kers in die krans aan.

Nog ‘n opsie:

Sermons 4 Kids sluit aan by die pad-beeld en Advent onder die tema: “Preparing our hearts for Christ’s coming.” Kry dit by http://sermons4kids.com/prepare_way.htm

Verdere opsie:

Max Lucado se storie van The Crippled Lamb sluit mooi aan by die tema van verlies, troos en tuiskoms:

Lank gelede het daar ‘n in pragtige vallei ‘n lammetjie genaamd Josua gewoon.  Hy was altyd hartseer, want sy een pootjie het nie lekker gewerk nie.  Hy is kreupel gebore en het mank geloop.  Daarom kon hy nie saam met die ander lammetjies speel nie.

Die enigste tyd wat hy nie hartseer was nie, was wanneer Abigail, sy beste maatjie, by was.  Abigail was ‘n ou koei.  Sy het altyd vir Josua stories vertel en hulle het hulle graag verbeel dat hulle op avonture in ver lande gaan.

Eendag was al die skape baie opgewonde, want die skaapwagters het gesê dat hulle na ‘n nuwe veld toe gaan.  Die ander skape het egter vir Josua uitgelag toe hy nader hop.  Hy’s te stadig om saam te gaan, het hulle gemê en vir hom geroep dat hy eerder moet huis toe gaan.

“Hulle is reg, Josua”, het die skaapwagter gesê.  “Dis te ver vir jou.  Gaan slaap liewer vanaand in die stal.”

Terwyl Josua en sy vriendin Abigail in die stal gelê het, was Josua baie hartseer.

In die middel van die nag het Josua skielik wakker geword van ‘n geluid.  Bang-bang het hy vir Abigail wakker gemaak.  “Iemand is hier”, het hy gefluister.

Daar, in die vars hooi, die krip waaruit hulle altyd eet, het ‘n pasgebore baba gelê.  Josua het nader gestrompel.  Die baba het gehuil.  Hy was koud, want die skaapwagters het al die komberse saamgevat veld toe!

Josua het teen die babatjie gaan lê om hom warm te hou.  Gou-gou het die baba ophou huil.  Na ‘n tydjie het ‘n man ingekom met ‘n paar lappe.  “Jammer Maria,” het hy gesê.  “Hierdie is al wat ek kon kry.”

Sy het geglimlag en gesê:  “Dis reg.  Hierdie lammetjie hou die nuwe Koning warm.”

Koning?  Josua het na die babatjie gekyk.  “Sy naam is Jesus.  Hy is die Seun van God,” het Maria verduidelik.

Skielik het die skaapwagters ingestorm gekom.  Hulle het uitasem vertel dat hulle engele gesien het.  Toe sien hulle vir Josua langs die babatjie lê.  “Josua!  Weet jy wie die baba is?”

Josua het na die babatjie gekyk en geweet die babatjie is baie spesiaal.  Ewe skielik het hy besef as hy nie kreupel was nie, was hy nou saam met die ander skape in die veld!  Omdat hy in die stal was, kon hy vir Jesus in die wêreld verwelkom.

Koop die boek by http://www.loot.co.za/product/max-lucado-the-crippled-lamb/cwcj-1620-g890  Daar is ook ‘n DVD vir R85 http://www.loot.co.za/product/max-lucado-the-crippled-lamb/jrbh-610-g360

[As jy die boek bestel het en dit nie betyds gaan kry nie, kan jy vroegtydig ‘n vriendelike e-pos (moontlik met ‘n aanbod van sjokolade) stuur aan [email protected] en sy sal vir jou die volledige storie en prente stuur.]

    1. Preekriglyn

Deleese Williams is kosmetiese chirurgie, wat haar lewe sou verander, beloof deur die vervaardigers van Extreme Makeover.  Daarvan het dadels gekom.  Sy het uiteindelik regsaksie teen die vervaardigers van hierdie populêre TV-werklikheidsreeks ingestel.  Haar droom het in skerwe gespat toe een van die mondchirurge bevind het haar hersteltyd sou langer as verwag wees.  Dit sou nie in die tydraamwerk van Extreme Makeover se produksiespan inpas nie.  Sy is aan die reeks onttrek die aand voordat haar rekonstruktiewe chirurgie geskeduleer was om te begin, en terug huis toe, Texas toe, gestuur.

Volgens die hofdokumente het Williams ontroosbaar gehuil toe die nuus aan haar oorgedra is.  “Hoe kan ek so lelik teruggaan soos ek gekom het,” het sy gesê.  “Ek was veronderstel om mooi terug te keer.”  Volgens Wesley Cordova, Williams se prokureur, is Deleese so geknak en verneder dat sy nou nie meer haar huis bedags verlaat nie.  “Sy gaan middernag om haar inkopies te doen.”

Die regsaksie voer aan dat Williams se verhouding met haar familie beskadig is.  Die vervaardigers het haar familie aangemoedig om nie haar fisiese gebreke te aanvaar nie en het druk op hul uitgeoefen om hul menings oor haar lelike voorkoms in video-opnames te bespreek.  Deleese het hierdie opnames later gesien.  Die hofdokumente beweer: “Noudat sy in dieselfde toestand teruggekeer het as waarin sy oorspronklik van die huis weg is, is daar geen geheime meer nie, geen verborge gevoelens, en geen beloning nie.”

Cordova voer ook aan dat die emosionele spanning verbonde aan die situasie ‘n tragiese impak op Deleese se suster, Kellie, gehad het.  “Kellie kon nie daarmee saamleef dat sy lelike dinge gesê het wat haar suster seergemaak het nie.”  Haar lewe het in duie gestort.  Vier maande na dié voorval het sy haar lewe beëindig met ‘n oordosis pille, alkohol en kokaïne.  Die familie is uitmekaar geskeur.  Daar is ‘n hoë persoonlike prys betaal weens die optrede van die vervaardigers van Extreme Makeover.  (nydailynews.com, 2005)

Vir Deleese was daar nie troos of uitkoms uit die greep van haar fisiese voorkoms nie.  Wat ‘n troosvolle, triomfantelike tuiskoms moes wees, het in ‘n nagmerrie ontaard.

‘n Volk wat troos nodig het

Aan die einde van Jesaja 39 bevind die volk Israel hom in ‘n benarde posisie.  Die profeet Jesaja sê aan koning Hiskia dat die volk na Babilonië weggevoer sal word.  Jesaja se roepingsvisioen kondig reeds dié donker tyd in die volk se geskiedenis aan.  In hoofstuk 6 roep die Here Jesaja om aan te kondig die stede en die land sal verwoes word.  Die stede sal sonder inwoners wees en die huise verlate lê.

Hierdie traumatiese profesie (hfs 39) word in 597 v.C. werklikheid toe die Babiloniërs Jerusalem verower.  Koning Jojagin en ander word gedeporteer (2 Kon 24:1-17).  Tien jaar later word dit nog erger.  Jerusalem word nou heeltemal vernietig, die tempel afgebrand en die grootste gedeelte van die bevolking na Babilonië in ballingskap weggevoer.  Dit lei tot ‘n ontsettende krisis in die geloofslewe van die volk.

Ballingskap

Vir die Jode word die ballingskap ‘n tyd van intense verlies.  Die steunpilare waarop hulle wêreld gebou is, val een vir een om: hulle het hulle vryheid verloor; Jerusalem, die Godstad, is afgebrand; die tempel waar die Here deur die eeue aanbid is, is met die grond gelyk gemaak.  Hulle is sonder tuiste gelaat, en weggevoer na ‘n plek waar hulle moeilik tuis kon kom.

Hulle grootste verlies, vir die gevoel van baie van die ballinge, lê in hulle geloof.  Kan hulle nog op God reken?  Sien God ooit nog raak wat van hulle word?  Of het die Here handdoek ingegooi, die stryd verloor teen die magtiger gode van Babel?  Die getuienis spreek immers vanself: Babel se gode woon in indrukwekkende goue tempels, hulle word op seremoniële hoofpaaie rondgedra in feestelike optogte, met juigende skares.  Babel se gode is suksesvol.  Sit die Here dalk in sak en as in tussen die puinhope van sy verlate tempel, terwyl sy volk alleen moet voortsukkel in ballingskap?

Die dieptepunt van hulle  troosteloosheid lê waarskynlik eerder in hulleself, in die ervaring van hulle eie mislukking.   Hulle is gewaarsku, weer en weer vermaan om om te draai en die Here te gehoorsaam.  Maar ag, die gevaar het so ver gelyk, die lewe in Jerusalem was vir hulle maar lekker soos dit is, hoe kon hulle die waarskuwings ernstig opneem?  Toe oorval die ellende hulle, word hulle wêreld met een slag uitmekaar geslaan.  Nou sit hulle, as hulle die slag die genade kry om eerlik te wees met hulleself, met die galbittere besef:  Ons skuld is dit, ons eie, verskriklike skuld is dit.

Klaagliedere

Van die roerendste gedeeltes in die Ou Testament beskryf Israel se smart en disoriëntasie.  Psalm 137 vertel van die trane by die riviere van Babel.

Die boek Klaagliedere verwoord die verlies en ontworteling.  In Klaagliedere 1 word die beeld gebruik van Jerusalem wat onbedaarlik die hele nag huil met trane wat oor haar wange loop. Daar is niemand om haar te troos nie (vgl. vers 2).  Ook die paaie na Sion treur omdat daar geen feesgangers is nie.  Telkens lees ons in Klaagliedere 1 dat daar niemand was wat bystand verleen het nie.  Vers 17 stel dit só: “Sion steek haar hande uit om hulp, maar daar is niemand wat haar bystaan nie”.  En vers 21: “Hulle hoor my sug, maar daar kom niemand om my by te staan nie.”  Heelwat Engelse vertalings vertaal “niemand om my by te staan nie” met die frase “no one to comfort me.”

Hierdie aantal verse uit Klaagliedere weerspieël iets van Israel se ballingskapervaring.  Daar is ’n diep gevoel van tuisteloosheid en trauma, van treurigheid en gebrek aan troos.

Troos My volk

Daar lê ‘n enorme wêreld van ballingskap en ontsettende pyn tussen Jesaja 39 en die hoopvolle uitroep waarmee Jesaja 40 begin: “Die uitkoms is hier!  Die uitkoms is hier!”  ‘n Beter vertaling is om te sê: “Troos, troos my volk, sê julle God.”  (Ou Afrikaanse Vertaling)

Terwyl die volk ontworteld in Babilonië in ballingskap sit, bevestig hierdie woorde dat die uitkoms aangebreek het:

Bring vir Jerusalem die goeie tyding,

sê vir hom sy swaarkry is verby,

hy het geboet vir sy sonde,

hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes (2).

Hierdie is nie goedkoop trooswoorde nie.  Dis nie die tipe Skrifteksie wat mens op ‘n kaartjie kan skryf en teen jou yskas plak vir daardie dae wat jy mistroostig voel nie.  Hierdie woorde is bedoel vir mense wat in ballingskap verkeer en dit weet.  Dit is vir mense wat deur verlies gebreek is, mense wat weet dat hulle ‘n duur prys betaal vir hulle dwase keuses en steier onder hulle eie mislukking.  Die volle prys is nou betaal, die swaarkry is verby, daar is troos.  Die Here het hulle vergewe.

Maak vir die Here ‘n pad!

Die profeet word geroep om troos aan te kondig.  As deel van die troosboodskap kom die oproep om ‘n grootpad vir die Here God te maak (3-5).

Hierdie oproep het te doen met die Babiloniese gebruik om die Babiloniese gode tydens godsdienstige feeste te paradeer.  Dit was ‘n indrukwekkende godsdiens waarin onder meer triomftogte vir die gode gehou is op spesiale seremoniële grootpaaie.  Teenoor dié godsdiens het die ballinge se geloof in ‘n onsigbare God uiterlik afgesteek.  Daarby kom nog dat die Here, volgens die heersende opvattings, “verloor” het teen die gode van Babel.  Daarom sê die trooswoord dat God sy mag sal openbaar – en dat daar vir Hom ‘n triomfpad gebou moet word.  Hierdie trooswoord vra dus ook “bekering” van die ballinge wie se harte dalk geval het vir die leuen dat die Here afsteek by Babel se gode.

Die verwoeste wildernis en woesteny waarin die Babiloniërs Jerusalem en die land agtergelaat het, sal nou omgebou word tot ‘n hoofpad waarin die mag van die Here ten toon gestel word met die volk se terugkeer.  Almal sal kan sien dat die Here die ware God is.  Nie Babel of die Babiloniese gode spreek die finale woord nie, maar die God van Israel.  “Al wat leef sal dit sien.” (5)

Die verpletterde ballinge word uitgenooi om die werklikheid in ‘n nuwe lig te sien: in die lig van God se beloftes, en die werklikheid van die Here se teenwoordigheid en regeermag.

Troos lê in God, en in die woord van God

Die profetiese stem wat God se troos uitroep, word gekonfronteer met die wete dat troos slegs by God te vind is.  Mense dra nie troos, of enige grond vir troos, in hulself nie.  Gebroke ballinge weet baie goed:

Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom:

gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai.

Dit ís so, die volk is soos gras.

Gras verdor en blomme verwelk. (6-8)

Troos is slegs buite mense, in God te vind:

Die woord van ons God bly vir ewig. (8)

Die goeie nuus lê nie in mense se vermoë om hul omstandighede te verander nie, maar in God.  Daarom word die profeet geroep om ‘n kragtige publieke aankondiging te maak:

Klim op ‘n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Julle God is hier!” (9)

Ou Testamentikus Walter Brueggemann sê oor vers 9:  “This is not a piece of poetry, not history, not doctrine, not ontology. It is invitational poetry, invitation to an alternative perception of reality.” (Cadences of Home: Preaching among Exiles)

Die profeet bring die goeie nuus: “Julle God is hier!”  God  is sigbaar aanwesig in ’n omgewing waar God lank verduister was vir die volk.  In die Babiloniese wêreld is ‘n prentjie van die werklikheid aan die volk opgedring waar daar nie vir God plek was nie.  Die gevaar was dat die ballinge kon begin glo God is werklik afwesig.  Nou blyk die teendeel helder:  Imperiale arrogansie en die wanhoop van die ballinge spreek nie die laaste woord nie.  God is kragtig en handelend teenwoordig.

Die karakter van God

Die beskrywing van die troos wat uit God se aktiewe teenwoordigheid voortspruit, bereik in verse 10 en 11 ‘n hoogtepunt wanneer die karakter van hierdie God beskryf word.

Volgens vers 10 is die God wat hierdie beloftes maak ‘n magtige kryger.  Hierdie magtige God is ook ‘n teer herder (vers 11).  Die twee beelde vorm saam ‘n kragtige geheel.  Majesteit en versorging, mag en teerheid, loop hand aan hand.  Die Here is sterk genoeg om bevryding te bring, en sensitief genoeg om die volk met sagtheid te versorg.

Waar die Babiloniese gode deur mense op seremoniële hoofpaaie gedra word, dra die ware God sy mense op die pad van genesing wat Hy vir hulle voorberei.

Tuiskoms

Die sentrale tema van hierdie gedeelte, sê Walter Brueggemann, is tuiskoms.  Die ballinge keer terug, in God se teenwoordigheid kom hulle tuis.

Troos-as-tuiskoms maak net sin wanneer ons bly onthou dat hierdie woord aan mense in ballingskap gerig word.  Wat is ballingskap?  Eugene Peterson stel dit so:

The essential meaning of exile is that we are where we don’t want to be.  We are separated from home.  We are not permitted to reside in the place where we comprehend and appreciate our surroundings . . .  It is an experience of dislocation – everything is out of joint; nothing fits together.  The thousand details that have been built up through the years that give a sense of at-homeness – gestures, customs, rituals, phrases – are all gone.  Life is ripped off the familiar soil of generations of language, habit, weather, story-telling, and rudely and unceremoniously dropped into some unfamiliar spot on earth.  The place of exile may boast a higher standard of living. It may be more pleasant in its weather. That doesn’t matter. It is not home.

Vir almal wat ballingskap beleef, het hierdie teks ‘n troosvolle uitsig op God se werk in die wêreld.

Toegepas op Johannes die Doper

In die Nuwe Testament word hierdie troosaankondiging toegepas op Johannes die Doper.  Johannes is die een wat die pad vir Jesus voorberei (vgl. bv. Markus 1:2-4).

Om hierdie rede word hierdie teks dikwels in die Adventstyd, dié tyd van die kerkjaar wanneer ons aandag op die koms van Jesus na die wêreld gevestig word, gebruik.

In die bediening van Jesus kom die volk se ballingskap eintlik eers tot ‘n einde.  Jesus is die Een wat God se troos ‘n werklikheid maak.  Jesus is die hoogste openbaring en die diepste aksie van God se troosvolle teenwoordigheid in die wêreld.  In en deur Jesus kom ons troosvol tuis in die versorgende teenwoordigheid van God.

Wat beteken dit vir ons?

Een: Ballingskap

Wie hierdie troos wil ervaar, moet jou en jou groep se eie ballingskap toeëien.  Ballingskap kan baie vorme aanneem:

  • Geografiese vervreemding – daar is miljoene vlugtelinge en migrante in ons wêreld;
  • Politiese vervreemding – baie blankes beleef hierdie vervreemding in die nuwe Suid-Afrika.  Talle mense het politiese vervreemding in die ou Suid-Afrika beleef.  Ten spyte van politieke hervorming in ons land is baie mense steeds gemarginaliseerd en sonder ‘n menswaardige toekoms in ons land.
  • Sosiale vervreemding – mense word deur hul eie dwase keuses gemarginaliseer, beland in die tronk, of in die posisie van ‘n sosiale verstoteling
  • Godsdienstige vervreemding – soos die moderne wetenskapsgeloof toenemend invloed in ons land verwerf, kies baie mense vir ‘n denkraamwerk waarin daar slegs vir die fisiese, sintuiglik-waarneembare aspekte van die werklikheid plek is.  Die wêreld word klein en verloor sy misterieuse wonderkarakter.  Dit is ‘n verstaansraamwerk van suspisie en ontluistering.  Geloof word moeilik, nee onmoontlik.  Baie sê: Vroeër het ek nog geglo…”
  • Gesinsvervreemding – baie gesinne is verskeur, kinders ignoreer ouer, of vice versa, en huwelike versplinter.

Twee: ‘n Belofte van tuiskoms

Ons teks bly ‘n uitnodiging om met die finale en hoogste realiteit van God rekening te hou.  God se teenwoordigheid in die wêreld beteken dat daar altyd ‘n hoopvolle beweging aan die gang is.  Dit is ‘n beweging van ballingskap na tuiskoms, van oordeel na vergifnis en verlossing, van moedeloosheid na troos, van gebrokenheid na herstel.

Hierdie beweging is goeie nuus, dit is die evangelie.

Drie: Getroos deur Jesus

‘n Aanhaling van Andries Cilliers:

Hierdie koms van God sien ons spesifiek ook in Jesus Christus, die Seun van God wat gekom het om by ons te wees.  Hy het gekom as mens, gebore in ‘n stal, bestem vir ‘n swerwersbestaan en ‘n misdadigersdood – uitgelewer aan die ontworteling en verlies wat aan ons bestaan eie is, met die las van ons mislukkings op sy skouers.

Hy is uitgestoot uit die gemeenskap van mense – sodat ons ingetrek kan word in ‘n egte gemeenskap met God en met mekaar.  Daarom herinner Hebreërs 13 ons dat Jesus buite die stadspoort – ons sou kon sê: in ballingskap! – gesterf het; en voeg dan by: “Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het…” (Hebr. 13:13)

Want dit is buitekant die veiligheid van die laer wat ons die troos van God leer nodig kry en leer ken; dit is buitekant die laer wat ons leer om ook verby die verdeeldhede en vooroordele wat ons so veilig laat voel het daar binne, te groei.  So ontdek ons buite die laer dat God na ons kom om ons te troos en by ons te wees en ons te dra; so vind ons ook weer mekaar.  In die arms van die herder word ons weer ‘n kudde.

God maak die verskil

Arme Deleese Williams se tuiskoms het in ‘n nagmerrie ontaard.  Die godin van skoonheid wou nie oor haar glimlag nie.  Extreme Makeover se beloftes was leeg.  Die partye het later op ‘n onbekende bedrag in die hof geskik, maar die skade was gedoen.

Die Here se vaste belofte en woorde van trou maak die verskil.  Ons kan vandag die woord van Jesaja 40 hoor: Daar is troos en uitkoms! En hierdie woord is gebou op die woord van God, die God wat nie gedra word nie, maar ons dra: “Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.” In hierdie wete kan ons rus en vrede vind.

  1. God stuur ons om te leef

God stuur ons om te leef

 

Gebed

 

Wegsending Lied 284 Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3

Seën

Filippense 4 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Amen

 

Musikale Amen Lied 314

 

  1. Volgende erediens

Jesaja 61:1-4, 8-11

 

Familie-oomblik: Rethie van Niekerk

Liturgie: Wicus Wait

Powerpoint : Rethie van Niekerk

Preek: Danie Mouton

Prosesbestuur: Chris van Wyk

 

 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

God praat met ons en ons luister

God stuur ons om te leef

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.