Twee en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Psalm 104 is ‘n skeppingspsalm wat God besing as die skepper en onderhouer.

God wys Job op die wonders van die natuur en bevestig Homself as die skepper en onderhouer van lewe. Die vrae waarmee Job worstel, word deur God se antwoord in perspektief gestel.

Die Hebreërteks bevestig Jesus is Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.

In die Markusteks leer die dissipels wat ware lyding is.

Ander tekste

Job 38:1-7
Die Here: Ek sal vra, antwoord jy My
38 Toe het die Here vir Job aangespreek uit ’n stormwind uit:
2“Wie is dit wat besig is
om my bedoelinge te dwarsboom
met woorde wat getuig
dat hy geen insig het nie?
3Maak jou reg vir die stryd:
Ek sal vra, antwoord jy My.
4Waar was jy toe Ek
die aarde se fondamente gelê het?Praat as jy die antwoord het.
5Wie het die aarde afgemeet?
Weet jy dit?
Wie het ’n maatlyn
oor hom gespan?
6Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit
7daardie oggend toe die sterre
saamgesing het
en al die hemelinge gejubel het?

Hebreërs 5:1-10
14Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

5 Elke hoëpriester is ’n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.

4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.”
6En op ’n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde
van Melgisedek.”

7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Markus 10:35-45
Die versoek van Jakobus en Johannes
(Matt 20:20–28)
35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.”

36“Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy hulle gevra.

37Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

38“Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”

39“Ons kan,” sê hulle vir Hom.

Daarop sê Jesus vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. 40Maar om aan my regter- of my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie God dit gereed gemaak het.”

41Toe die tien ander dit hoor, was hulle verontwaardig oor Jakobus en Johannes. 42Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. 43Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 44en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. 45Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Fokusteks

Psalm 104:1-9, 24, 35c
Ek wil my in die Here verbly
104 Ek wil die Here loof!
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met ‘n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel
soos ‘n tentdoek gespan
3en vir U ‘n woonplek ingerig
het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.
6Die groot waters het die aarde
soos ‘n kleed oordek,
die waters het bo-oor die berge gestaan.
7Maar toe U die waters aanspreek,
het hulle gevlug,
voor die krag van u stem
het hulle die wyk geneem.
8Hulle het oor die berge gespoel
en in die laagtes weggevloei
na die plek toe wat U
vir hulle bestem het.
9U het ‘n grens gestel
waaroor hulle nie mag gaan nie:
hulle mag die aarde
nie weer oordek nie.
10U laat fonteine in die valleie ontspring
en tussen die berge deur stroom.
11Daar kom al die wilde diere drink
en die wildedonkies hulle dors les.
12Die voëls maak hulle neste
langs die water
en kwetter tussen die takke.
13Uit die hemel laat U dit
op die berge reën,
die aarde word versadig
deur die reën wat U gee.
14U laat gras uitspruit vir die diere,
en groen plante vir die mens
sodat hy sy kos uit die aarde kan kry:
15wyn om mense se harte bly te maak,
olie om die gesig te versorg,
kos om die mens nuwe krag te gee.
16Die bome van die Here
kry volop reën,
die seders op die Libanon,
dié wat Hy geplant het,
17waar die voëls hulle neste maak,
en die reier sy huis
in die boomtoppe bou.
18Die hoë berge is ‘n tuiste
vir die klipbokke,
die rotse is ‘n skuilplek vir die dassies.
19U het die maan gemaak
om die vaste tye mee aan te gee,
die son weet wanneer om onder te gaan.
20As U die donker bring
en dit nag word,
roer al die diere in die bos.
21Die leeus brul op soek na prooi:
hulle vra hulle kos van God.
22As die son opkom, sluip hulle weg
en gaan lê in hulle skuilplekke.
23Dan gaan die mens na sy werk toe,
en hy werk tot die aand.
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop,
en hulle kry meer as genoeg.
29Maar as U U terugtrek,
is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood
en word hulle weer stof.
30U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond
laat U nuwe lewe spruit.
31Mag daar aan die roem van die Here
geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here
Hom vreugde verskaf,
32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33Ek wil tot eer van die Here sing
so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
35Mag die sondaars van die aarde af
verdwyn,
mag die goddeloses
ophou om te bestaan!
Ek wil die Here loof.
Prys die Here!

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 24 [Psalm 8] of Psalm 8 of Lied 199 [Psalm 148] of VONKK 85 (Psalm 8)

Votum: Psalm 104:1-3, 24, 35c

Seëngroet

Lofsang: Psalm 104 of Psalm 19, 29 of 148 of Flam 463 (Psalm 104)

Verootmoediging: Job 38:1-7

Toewyding: Flam 210 [Psalm29] of VONKK (Psalm 19:15) of Psalm 29

Geloofsbelydenis: BLYDENUUS VAN GELOOF Deel I

HOOR

Gebed

Skriflesing: Psalm 104:1-9, 24, 35c deur verskillende lesers

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 464

Seën

Respons: Lied 464 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 24 As Ek U Hemel Aanskou [Psalm 8] of
Psalm 8 of
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel” [Psalm 148] of
VONKK 85 Here, Ons Here, Hoe Groot Is U!  (Psalm 8)

Votum
Psalm 104:1-3, 24, 35c
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met ‘n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel
3en vir U ‘n woonplek ingerig
het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
Ek wil die Here loof.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 104 of
Psalm 19, 29 of 148
Flam 463 Here, Ek Wil U Loof (Psalm 104 / Here, U Gee Alles Wat Leef)

Verootmoediging
Job 38:1-7
Toe het die Here vir Job aangespreek uit ’n stormwind uit:
2“Wie is dit wat besig is
om my bedoelinge te dwarsboom
met woorde wat getuig
dat hy geen insig het nie?
3Maak jou reg vir die stryd:
Ek sal vra, antwoord jy My.
4Waar was jy toe Ek
die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het.
5Wie het die aarde afgemeet?
Weet jy dit?
Wie het ’n maatlyn
oor hom gespan?
6Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit
7daardie oggend toe die sterre
saamgesing het
en al die hemelinge gejubel het?

Toewyding
Flam 210 Erken nou die Heer [Psalm29] of
VONKK 102 Mag Die Woorde Van My Mond (Psalm 19:15) of
Psalm 29

Geloofsbelydenis
BLYDENUUS VAN GELOOF Deel I
Ek glo in God die Vader
die Almagtige Maker
van alles in die hemel
en alles op die aarde.

Ek glo in hierdie Vader
met die wondernaam:
“Ek is wat Ek is”,
werkwoordelik onvoltooid
voortdurend God.

Ek glo in hierdie Vader
van wie Moses slegs die rug
kon sien toe hy gevra het:
“Wys my U gesig.”

Ek glo in hierdie Vader
die God wat Liefde is
en ons na hierdie aard gevorm het
tot vlees uit stof,
en dit gevul het met Sy Gees
sodat ons uit gewone mensesaad
mense na Sy beeld kan maak:
om hiérin onsself te wees –
om lief te hê
sonder vrees.

Ek glo in hierdie Vader
wat die waters uit Sy hemel gee
as teken van Sy seën
sodat elke volk –
wit en bruin en swart –
in eie taal die Heer kan loof
en heersend oor die Skepping
voort kan gaan
om groente in akkers te plant
daarvan te eet en te dank.
Outeur: Wilhelm Jordaan, uit “Gebedeboek met liturgiese Voorstelle”

Liedere

VONKK 85 “Here, Ons Here, Hoe Groot Is U!  (Psalm 8)”
Psalm 8 Teks: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Melodie: HENTIESBAAI – Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo) Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2011
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr  – Verwondering

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 1:
Kyk, die hemel en die aarde wys die wonders van u Naam.
Kyk, die maanlig in die aande en die sterre sê dit saam:

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 2:
Al die kinders, selfs die kleinstes, wil oor U kom sing en juig.
Al die mense wat teen U is, sal ook voor U moet kom buig.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 3:
Ons as mense is maar nietig, tog gee U ons roem en eer.
U versorg ons en U kroon ons om u skepping te regeer.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

Strofe 4:
Al die diere van die aarde het U aan ons toevertrou.
U laat heers ons oor u skepping wat U in u hande hou.

Keervers:
Here, ons Here, hoe groot is U!
Here, ons Here, hoe groot is U!

F24. “As Ek U Hemel Aanskou”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Teks en musiek: Rhe Janse © 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1) (Ps 8)
1. As ek u hemel aanskou –
die werke van u vingers,
maan en sterre aanskou –
dan voel ek so gering, Heer.
Wat is die mens dan dat U aan hom dink?
Wat is die mens dan dat U na hom omsien?

2.U laat ons heers oor u werk –
die werke van u hande,
dis aan ons onderwerp –
die see, die lug, die lande.
Wat is die mens dan dat u aan hom dink?
Wat is die mens dan dat u na hom omsien?

Refrein:
O Heer, ons Heer, hoe wonderbaar u Naam!
O Heer, ons Heer, juig aarde, roem sy Naam!
O Heer, ons Heer, hoe wonderbaar u Naam!
O Heer, ons Heer, juig aarde, roem sy Naam!
Ons roem u Naam,
Ons roem u Naam!

F463. “Here, Ek Wil U Loof (Psalm 104 / Here, U Gee Alles Wat Leef)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof) Teks en musiek: Louis Brittz Kopiereg: © Urial Publishing

1. Here, ek wil U loof,
Here my God, U is groot.
U’s met majesteit beklee
met ’n kleed van lig omhul.

2. Dis U wat die hemelboog
soos ’n tent oor die aarde laat span.
Dis U wat op wolke ry
op die vlerke van winde gly.

Refrein:
Here, U gee alles wat leef
lewe in oorvloed uit u hand.
Asem wat leef vir elke mens
en reën uit die hemel vir die land.
Ek wil tot eer van die Here sing
solank as ek leef.
Ek wil die lof van my God besing
solank as ek leef, sy naam besing.

3. Dis U wat die weerlig beveel
die winde u boodskappers maak.
U laat die aarde staan
en waters vlug voor u Naam.

4. Here, U’t alles geskep
in wysheid alles gemaak.
Die son weet om onder te gaan
en die maan ken sy wentelbaan.

Refrein:

Brug:
Die aarde is vol van u heerlikheid
alles moet buig voor u majesteit.
En mag u roem sonder einde wees,
O mag my pryslied vir U alleenlik wees.

Refrein:

Here, ek wil U loof
Here my God, U is groot.

F210. “Erken nou die Heer”

(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering) Oorspronklike titel: Erken Nu De Heer Teks en musiek: Frank van Essen
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © Unisong Music Publishers geadministreer deur Small Stone Media South Africa  (Ps 29, 96)
1. Erken nou die Heer volke van die aarde,
erken nou sy Majesteit.
Kniel voor Hom neer want Hy is waardig
vol mag en heerlikheid.

Brug:
Hoor sy stem bo-oor die water en
hoor die donder, weerlig soos vuur.
Ontsagwekkend is sy magtige stem,
luister goed hierdie heilig’ uur.

Refrein:
Alle lof nou aan die ewige Heer,
alle heerlikheid en eer.
Kom verhoog sy Naam
en buig voor Hom neer.
Hy is Koning vir altyd.

2. Verhef dan jul stem, volk van die Here.
Verheug jul en juig voor Hom.
Sy Gees gee jul krag.
Hy seën met vrede
nuwe lewe is in Hom.

VONKK 102 “Mag Die Woorde Van My Mond  (Psalm 19:15)”
Nav Psalm 19:15
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Afrikaans – Pro Deo);  Jacques Louw 2010 (Engels en Duits);  Frans du Toit & Nataniël Sebolai 2010 (Sesotho); Naòmi Morgan 2010 (Frans)  Melodie: MY WILLEM – Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)  Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2010  Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2010  © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart,
vir U bly maak, o my Rots, en vir U mooi wees, o my Redder (en my God.)

Let the words of my mouth, the meditation of my heart,
Be delightful in Your sight and give You pleasure, my Redeemer (and my God.)

Se ke se bolelang le se ke se nahanang,
o kgahliswe ke tsona ‘fika le Molopolli wa ka (Morena.)

Lass die Reden meines Mundes und das Sinnen meines Herzens,
Dir gefallen, o mein Fels, und Dich erfreuen, mein Erlöser (und mein Gott.)

Que les paroles de ma bouche et ce que médite mon cœur,
te soient plaisants ô mon Rocher, de tout temps mon Rédempteur (et mon Dieu.)

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
Psalm 104:1-9, 24, 35c
Hier is ’n Duitse Sandkuns Video van Psalm 104.
Kry verskillende lesers – vroue en mans, kinders en volwassenes – om die teks te lees.

Liturg:  Ek wil die Here loof!

Leser:  Here my God, U is baie groot,  U is beklee met koninklike luister, 2U is met ‘n kleed van lig omhul.

Leser:  Dit is U wat die hemelkoepel soos ‘n tentdoek gespan 3en vir U ‘n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind, 4U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars,

Leser: 5U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie.

Leser:  6Die groot waters het die aarde soos ‘n kleed oordek, die waters het bo-oor die berge gestaan.  7Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug, voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem. 8Hulle het oor die berge gespoel en in die laagtes weggevloei na die plek toe wat U vir hulle bestem het. 9U het ‘n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie: hulle mag die aarde nie weer oordek nie.

Leser:  24U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep.

Leser:  Ek wil die Here loof.

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Koos van der Merwe van Prophet het n.a.v. Psalm 148 hierdie Psalm, getiteld “asems” geskryf:
asems
al die asems
al die wasem
loof Hom…
likkewane
bobbejane
olifante
al die leeus
al die spreeus
en fisante
kom nou kraaie
papegaaie
en volstruise
al die vlooie in die kooie
al die luise
pelikane
en sprinkane
en marmotte
al die tiere
en die miere
kokkerotte
die miljoene skerpioene
en die swane
al die ape
al die skape
en die hane
o die vele vaal kamele
en die reiers
al die uile
al die muile
en miskruiers
elke bees
en elke kees
en al die vinkies
al die bokkies
en toktokkies
en tinktinkies
dan die wille krokkedille
en die muise
en die katte op die matte in die huise
al die kewers
al die bewers
swartwitpense
en heel laaste
maar die meeste
al die mense

Verduidelik dat die Psalm God loof as skepper wat die aarde bewoonbaar gemaak het (kyk in die preek).  Skryf dan saam julle eie Psalm!  Laat elkeen dink aan hulle gunsteling deel van die skepping.  Jy kan elke keer sê:  Here ons loof U vir… en dan kan elkeen reageer met iets uit die skepping.

Hierdie is ook ’n ideale geleentheid om te praat oor ons verantwoordelikheid teenoor die skepping, om na die natuur om te sien.  Veral water is tans ’n baie relevante tema.  Dis nie deel van die leesrooster se teksindeling nie, maar die Psalm praat ook van God wat water voorsien.  Julle kan saam bid vir reën of dankie sê vir reën.  Gesels oor wat almal – veral kinders – kan doen om water te bespaar, ook wanneer daar nie droogte is nie.

’n Heerlike storie wat jy altyd kan gebruik wanneer dit gaan oor die versorging van die skepping, is die van Wangari Maathai, wat in Kenya grootgeword het en in die VSA gaan studeer het.  Toe sy na haar studies terugkom in Kenya, was sy geskok om te sien watter effek ontbossing op haar land het.  Sy het die “Green Belt Movement” begin deur 9 boompies in haar agterplaas te plant.  Uiteindelik is daar 30 miljoen bome in Kenya geplant, 80 000 mense se inkomste het vermeerder en die beweging het oor 30 lande in Afrika versprei.  Die effek van haar inisiatief was waarneembaar op die landskap én die klimaat.  ’n Kinderboek oor haar lewe is beskikbaar vir $8.73 in kindle-formaat.

Preekriglyn

[Nota: In hierdie preek word met die inhoud van die hele psalm gewerk.]
Die pragtige gedig van die Sweedse digter Carl Gustav Boberg: “O Sture Gud” (1885) het wêreldwye aanklank gevind en word regoor die wêreld gesing op die bekende Sweedse volkswysie. Dit is vertaal en uitgebrei deur die Britse sendeling Stuart K Hine as: “How great Thou art“. In die Liedboek van die NG Kerk lui dit soos volg (Lied 464):

O Heer my God as ek in eerbied wonder
En al U werke elke dag aanskou
Die son en maan, die aarde, sterre, wolke,
Hoe U dit elke dag so onderhou…

Refrein:
Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U, hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit saam
Hoe heerlik Heer U grote Naam!

Ek sien die veld – die bosse, berge, vlaktes
Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind
O Heer, U sorg vir klein, vir groot, vir alles
en U sorg dag na dag vir my, U kind.

Refrein

U maak ons deel van al U grootse werke.
U laat ons bid, Heer, dat U ryk mag kom.
En kom U weer, in heerlikheid op wolke,
maak U volkome nuut U eiendom.

Refrein

Hoewel Psalm 8 waarskynlik die inspirasie vir Boberg se gedig was, onder andere na aanleiding van sy verrukking oor die natuurskoon van ‘n geweldige storm wat opgevolg is deur ‘n vredevolle kalmte, vind ‘n mens dieselfde perspektiewe en selfs nog meer in Psalm 104. Dit is by uitstek ‘n lofpsalm uit die natuur en die skepping vir God se versorging.

‘n Pragtige natuurpsalm

Psalm 104 is saam met Psalm 8, 19, 29 en 148 die vyf Psalms van die natuur of die skepping in die Psalmboek.

Die Psalm toon ook ooreenkomste met ‘n Egiptiese lied van Amenhotep IV uit die vroeë 14de eeu v.C. wat handel oor die son, wat as die god Aten aanbid is (jy kan dit hier lees). Die ooreenkomste lê in die beskrywing van water in vers 10-13, die versadiging van voëls en diere in vers 11-14, die beskrywing van die leeus in vers 20-21, die beskrywing van die sonsopkoms in vers 21, die beskrywing van arbeid in vers 23, die beskrywing van die skepping in vers 24, die beskrywing van versorging in vers 27 en die beskrywing van God wat lewe gee in vers 29-30 (vgl. Allen in die Word kommentaar reeks).

Dit is egter net generiese ooreenkomste omdat dit in die breë oor dieselfde tipe natuur onderwerpe handel. Psalm 104 gaan ook sy eie weg op in die interpretasie van wat in die natuur en skepping gebeur het. Die groot verskil in die twee gedigte lê in die feit dat die Here in Psalm 104 as Skepper aanbid word wat lig, waarvan die son maar ‘n deel is, soos ‘n kleed aantrek (vers 2) en die son self in die Egiptiese lied die god is wat aanbid word.

Die son is dus ‘n objek in Psalm 104 maar die subjek in die Egiptiese lied. Dit is die diep en radikale verskil wat regdeur gehandhaaf word. In die Psalm is God die Skepper. In die Egiptiese lied is die son die skepper. Daar is ook ander verskille in bv. die betrokkenheid van God by die skepping van die mens in Psalm 104 wat afwesig is in die Egiptiese lied, maar vergelyk dit self by die skakel hierbo.

Inspirasie uit Genesis 1

Dit is boonop duidelik dat die inspirasie vir Psalm 104 uit Genesis 1 se skeppingsverhaal kom deurdat die volgorde van die onderwerpe wat in die Psalm aangespreek word in die breë met die Genesis gedig ooreenkom: lig, water, plante, son en maan, seediere, kos voorsiening. Dieselfde woordeskat word ook gebruik as in Genesis 1 vir die ooreenstemmende begrippe en dieselfde tipe teologie rondom God as Skepper en nie as deel van die skepping nie, word in beide gehandhaaf.

Die Psalm kan in ses dele ingedeel word, wat vier dinge uitspel waarvoor die Here geloof en geprys moet word, en afgerond word met ‘n gebed vir God en ‘n verbintenis tot lofprysing aan Hom:

  1. God het die hemel en die aarde gemaak – vers 1–4.
  2. God het die aarde bewoonbaar gemaak (water) – vers 5–13.
  3. God het die aarde leefbaar gemaak (voedsel) – vers 14-24.
  4. Alles en almal is van God se versorging afhanklik – vers 25-30.
  5. Mag God Hom bly verheug in sy werke – vers 31–32.
  1. Ek sal die Here loof solank ek leef – vers 33–35.

Een: God het die hemel en die aarde gemaak – vers 1–4
Die Here is groot, want Hy is met lig omvou soos met ‘n mantel. Hy het alles gemaak, hemel en aarde. Dit sal vir altyd en ewig nie wankel nie. Hy skep soos Hy dit nodig het. Winde en vlammende vuur word sy boodskappers. Wolke word sy strydwa. Hy ry op die wieke van die wind. Alles wat geskep is, is in Sy diens. Hy maak daarmee en stuur dit soos Hy wil. Alles wat geskape is, is objekte in Sy hand. Net Hy is die absolute Subjek, die Een wat as U aangespreek moet word.

Twee: God het die aarde bewoonbaar gemaak (water) – vers 5–13
Allen (Word kommentaar) het my oë oopgemaak vir die rol wat water speel in vers 5-13 en voedsel in vers 14-24. Vandaar die indeling van hierdie gedeelte van vers 5-13 en die volgende gedeelte van vers 14-24.

Die groot waters word beperk – vers 5-9
Let op hoe daar in vers 6 verwys word na die “groot waters” (oerwaters) wat die aarde oordek het. Die Hebreeuse woord wat vir “groot waters” gebruik word, is תְּהוֹם (téhom, “diepte”). Dié woord verwys na die oerwater wat egter nie net met die oseane verbind word nie (Gen. 1:2; Job 36:27; 37:10; Ps. 33:7; 107:23; Spr. 3:20; Jes. 51:10 – dit word ook soms simbolies gebruik, bv. in Jer. 51:55; Eseg. 26:19; Jon. 2:5), maar ook met die water wat onder die aarde is (vgl. Gen 7:11; 8:2).

Vir God se dreigendedonderende stem (Gen. 1 sê dit meer terughoudend: “Toe het God gesê:”) het die waters op die vlug geslaan in die valleie in na die plek wat die Here daarvoor bestem het. Hy het ook ‘n grens gestel waaroor die waters nie mag gaan om die aarde weer te bedek nie.

In aansluiting by die gedagte van die “groot waters” as ‘n aanduiding ook van die waters wat onder die aarde is, kan ek nie anders as om te vertel van die opspraakwekkende onlangse ontdekking deur geofisici van ‘n reservoir van water diep onder die aarde wat drie keer meer volume het as al die water van al die oseane van die aarde saam. Drie keer meer! Dit is wat hierdie nuwe navorsing beweer. Dié water is in ‘n laag van blou rots amper 700 km diep rondom die aardkors (lees meer by Science Magazine).

Dit het my laat dink aan die Noag verhaal. In Genesis 7:11 staan daar: “Presies op die sewentiende dag van die tweede maand van die ses honderdste jaar van Noag het die fonteine van die groot waters oopgebreek.” Dieselfde Hebreeuse woord wat vir “groot waters” gebruik word in Genesis 1, Psalm 104 en ander plekke word ook hier gebruik.

Die verhaal van Noag teken dus ‘n prentjie van onder-aardse water wat uitbars bo die aarde en die aarde na sy vorige staat – omring deur water – verander. Die skepping word dus as’t ware omgekeer. Die sondvloed is in Bybelse perspektief dus nie net ‘n soort vloedwater wat mens met tsunami’s sou verbind nie, maar ‘n omvattende verswelging van alles wat leef en beef op aarde.

God se belofte dat Hy nie weer só iets sou doen nie (Gen. 9:15: “Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie.”) het dus nie met oorstromings te make nie, maar met ‘n omvattende verswelging wat perfek sou pas by ‘n onder-aardse bron van water.

Hiervan praat Psalm 104 na my mening ook. Maar, meer hieroor wanneer ek met Genesis besig raak in 2016, DV.

Die aarde gee lewegewende water vir alles wat leef en beef – vers 10-13
Die Here gebruik nou die reservoir van water onder die aarde, die fonteine, om deur die riviere water te gee vir al die diere, die wilde donkies, en die voëls van die hemel. Almal kan hulle dors les en sing van vreugde! Netso vul Hy dit aan uit die hemel (sy bokamers!) met reënwater sodat die aarde deur God se sorg versadig kan word.

Drie: God het die aarde leefbaar gemaak (voedsel) – vers 14–24
Die voorsiening van voedsel en die versorging van die mens staan in dié gedeelte voorop, maar die werklikheid is dat alles wat leef ‘n volhoubare ruimte kry op die aarde wat leefbaar gemaak is deur die Here. Die leefbaarheid lê ook in wederkerigheid. Die bome word versadig sodat die voëls soos ooievaars daarin kan nesmaak. Die berge gee skuiling vir die klipbokke en dassies. Selfs die ritmes van dag en nag bring versadiging vir al die diere, selfs die leeus, en uiteindelik veral vir die mens in die ritme van sy arbeid.

Hoe talryk is u werke, Here! Alles is met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol van wat aan U behoort.” (vers 24 – 2014 vertaling)

Vier: Alles en almal is van God se versorging afhanklik – vers 25-30
Wat die Psalmis laat uitroep: “Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd.” (vers 26 – 2014 vertaling). Dit geld die seediere, en die seevaarders, selfs die oer seedier die Leviatan. Alles kom uit God se hand – versorging en die lewe. Sonder God se guns is geen lewe moontlik nie. Hy is die soewereine Skepper Heer. Hy is ook die soewereine Voorsiener Heer.

Vyf: Mag God Hom bly verheug in sy werke – vers 31–32
Dit laat die Psalmis die hoop en gebed uitspreek dat God tog sal voortgaan om Hom te verheug in sy werke, soos dit van Hom in die Genesis 1 gedig vertel is. Mag Sy Majesteit vir ewig duur, soos ook sy blydskap in sy Skepping, al is sy blik ook dreigend en donderend.

Ses: Ek sal die Here loof solank ek leef – vers 33–35
Hy sluit af met die verbintenis om van sy kant af die Here te loof en prys. Dit is waarvoor hy bestaan. Soos hy elke woord in lofprysing aan die Here moet opdra, so moet elke gedagte (bepeinsing, besinning) van hom in die eerste plek vir die Here, soos ‘n geurige offer, aangenaam wees. Hy wil hom verheug in die Here sy hele lewe lank, met woorde en gedagtes.

Net voor hy afsluit met die laaste “Ek moet die Here prys! Halleluja!” kry hy dwarsklap in na die sondaars en goddeloses vir wie hy tot nie-bestaan verwens. Hulle is ‘n klad op God se goeie skepping en verdien nie om in die ruimte wat God geskep het, te gedy nie. Die implikasie is dat hulle voortbestaan God se goeie Skepping in gedrang kan bring (Allen).

Boodskap van Psalm 104

Vir baie gelowiges is God prakties afwesig. Ons beleef God nie in ons alledaagse lewe nie. God is ver. Psalm 104 beklemtoon dat alles hulle lewe uit God se hand ontvang.

Psalm 104 loof God vir die bewoonbare en leefbare ruimte wat Hy met die Skepping vir alles wat leef en beef gegee het, in die besonder deur water en voedsel wat versadig en lewe moontlik maak. Hy is nie net Skepper nie, maar ook Voorsiener, en bly dit vir ewig en altyd: “Hulle almal sien op na U om vir hulle kos te gee op tyd.” (vers 27). Daarom bid Hy dat God vir ewig bly sal wees oor sy handewerk en verbind hy hom om dié God te prys in woorde en gedagtes solank hy leef.

In ons tydsgewrig is daar verder baie mense wat die skepping as ongeordend, onveilig, die bron van chaos-magte sien wat lewe bedreig. Dink maar net aan die talle flieks wat handel oor vreemde magte uit die werklikheid wat die aarde oorneem, onderdruk en in chaos dompel. Psalm 104 het ‘n bevrydende boodskap oor die aarde. Ons leef in God se hand. Niks kan skeiding maak tussen ons en God nie.

Die boodskap van hoop is God laat nie die werke van sy hande vaar nie. Hy onderhou mens en dier. Hy sorg daarvoor onder alle omstandighede en te midde van wanhoop, eensaamheid en donkerte. Baie psalms getuig van smart, hoop, wanhoop, vertwyfeling, aanvegting in siekte, skuldbesef, opstand, eensaamheid of berou gesmaak het. Psalm 104 draai ons gesigte egter in die rigting van God, en laat ons God se sorg en bewaring raaksien.

Johan Cilliers vat dit treffend saam as hy skryf:
Lof is die einddoel, die mikpunt, nie alleen van die Psalmbundel nie, maar van die Bybelse Godskennis as sodanig. Daarom moet ons as ‘t ware eers die hele Psalmbundel (die hele Skrif) déúrsing, déúrbid, om by die werklike lof uit te kom. Ons moet deur die hoogtes en dieptes van die menslike hart heen, oor die berge en dale van hoop en wanhoop gaan, om by die beproefde lofsegging aan te land.

Indien ons twyfel of vrees wie gaan môre en oormôre voorsien en uitkoms gee, sê Psalm 104: Kyk na die skepping! Kyk na God se geskiedenis in die natuur! Hoe Hy dit onderhou! Kyk na die identiteit van die Skepper. Kyk met nuwe oë na Hom as Jahwe en Adonai! Hy is groot en magtig en Hy doen wonders! Hy voorsien nou nog. Hy kan ons huise en samelewings wat woes en onbewoonbaar is, verander en dit leefbaar en bewoonbaar maak. Hy is immers Adonai, die God met mag, die God wat groot is, die God van hoop.

Dit vul ons gedagtes en word ons refrein vir hierdie dag: “Hoe groot is U, hoe groot is U!” Inderdaad.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 464 “O Heer my God”

Seën

Respons: Lied 464 refrein:  Dan moet ek juig…

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.