Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Hervormingsondag

Sections

Oorsig

Inleiding

Naas die voorgeskrewe Skrifgedeeltes, kan die volgende ook gebruik word:

  • Lukas 19 kan van toepassing wees omdat dit aansluit by God se vrye guns/genade wat selfs vir die hooftollenaar is.
  • Habakuk worstel met die Here wat blykbaar afwesig is en moedig sy lesers aan om nie onverskillig te raak in hulle nood nie.
  • Psalm 119 lê klem op die Woord wat suiwer is en werd is om lief te hê omdat dit jou begelei op die pad van die lewe.
  • Tessalonisense 1 moedig ons aan om te bly by die waarheid – die waarheid van die evangelie van God se genade.

Inleiding
Met Hervormingsondag herdenk Protestantse kerke die Kerkhervorming van die sestiende eeu. Dit kan moeilik ‘n “fees” genoem word as mens in ag neem hoeveel bloed gevloei het ter wille van die Hervorming.  Daarom dat die liturgiese kleur vir hierdie Sondag bloedrooi is. Dit word herdenk met groot dankbaarheid teenoor die Here vir mense wat bereid was om hulle lewe te gee vir hierdie groot waarheid – die goeie nuus (evangelie) dat ons op grond van God se genade alleen verlos is.

Die datum is altyd die laaste Sondag in Oktober, aangesien Martin Luther op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge van protes teen die aflaatstelsel teen die deur van die Kasteelkerk in Wittenberg vasgespyker het. Hierdie gebeurtenis word algemeen beskou as die begin van die Hervorming.

Dit gaan veral oor die viering van die vier Reformatoriese sola’s: die sola gratia (verlossing uit genade alleen sonder enige verdienste), die sola fidei (die geloof as die leë hand waarin die verlossing ontvang word), die sola Scriptura (die voorrang van die Bybel) en die soli Deo gloria (aan God alleen alle eer).

In die liturgie wat hieronder volg, word daar gebruik gemaak van verskeie elemente uit die tyd van die Hervorming, byvoorbeeld Lied  476 “’n Vaste Burg is onse God” (Luther se weergawe van Psalm 46) en die eerste paar vrae en antwoorde van die Heidelbergse Kategismus. Die “Litanie vir Verbintenis aan God en sy Woord” en die sing van Lied 255 daarna gee uitdrukking aan die sola Scriptura, terwyl die gebruik van Romeine 3:21-24 as vryspraak en Efesiërs 2:4-10 en 1 Petrus 1:18-21 by die nagmaal uitdrukking gee aan die sola gratia en die sola fidei.

Deur aan die erediens ’n vreugdevolle karakter te gee kan uitdrukking gegee word aan die soli Deo gloria.

Fokusteks

Lukas

Ander RCL tekste

Habakuk 1:1-4; 2:1-4
Psalm 119:137-144
2 Tessalonisense 1:1-4, 11-12

Lukas 19:1-10
Jesus en Saggeus
19 Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2Daar was ’n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ’n ryk man. 3Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in ’n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

6Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.
7Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ’n sondige man tuis!”
8Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”
9Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ’n kind van Abraham. 10Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

Aksente van Lukas

Lukas-Handelinge as ’n eenheid

  • Lukas laat die twee dele van sy verhaal – Lukas en Handelinge – baie vernuftig met mekaar korrespondeer:
    • Handelinge 1-12 vertel van die verspreiding van die evangelie en korrespondeer met Lukas 1-9 – die geografie is net omgekeer: dit begin in die stad Jerusalem en versprei na die platteland in Judea.
    • Handelinge 13-20 is ook ‘n reisverhaal en korrespondeer met Lukas 10-19 – Paulus neem die evangelie na Asië en Europa (op pad na Rome – soos Jesus op pad na Jerusalem).
    • Handelinge 21-28 vertel ook van ‘n verhoor en korrespondeer met Lukas 20-24 – Paulus verskyn voor dieselfde drie tribunale as Jesus (die Joodse Sanhedrin [Luk 22/Hand 22], die Romeinse goewerneur [Luk 23/Hand 25], en een van die Herodes konings [Luk 23/Hand 25 {Julius Markus Agrippa}]) – die resultaat is dat die evangelie tot in die hart van die Romeinse ryk versprei.

Die evangelie van Lukas

  • Lukas se primêre fokus is op die redding van Israel met die belofte van die insluiting van die heidene.  
    • Hierdie redding beteken dat God sondaars aanvaar en vergewe.
    • Dit is goeie nuus vir die armes (4:18; 7:22).
    • Dit is goeie nuus vir alle gemarginaliseerdes (ryk belastinggaarders – 19:1-9; [ekonomies] armes, kreupeles, verlamdes, blindes – 14:1; Samaritane – 17:11; vroue – 7:36; 8:2; 10:38)
    • Dat dit die heidene insluit, word veral vir die tweede deel van die verhaal in Handelinge gehou:
      • In Lukas is die universalisering van die redding VERTIKAAL – dit sluit alle Jode uit alle lae van die samelewing in.
      • In Handelinge is die universalisering van die redding HORISONTAAL – dit fokus veral op die heidene en die opmars van die evangelie van Jerusalem na Rome toe.
  • Die tempel (Sion) speel ‘n betekenisvolle rol in Lukas-Handelinge.
    • Die Messias word tot beskikking gestel en as sodanig herken in die tempel (2:21).
    • Die enigste kinderverhaal van Jesus in die evangelies speel in die tempel af (2:41).
    • Hy maak die tempel “simbolies” skoon deur die handelaars uit te jaag (19:45).
    • Sy laaste onderrig word in die tempel gegee (20:1-21:38).
    • Die uitstorting van die Heilige Gees en die eerste verkondiging van die evangelie vind in die tempel plaas (Hand 2-6).
    • Jesus voorspel ook die vernietiging van die tempel (Luk 21:20), want in die nuwe era van redding bly God nie meer in ‘n mensgemaakte tempel nie (Hand 7:48).
  • Die verwerping van Jesus deur baie in Israel, veral die religieuse leiers.
    • Dit vervul die profesie van Simeon (2:34).
    • Dit begin reeds met die eerste optrede op die Sabbat in Nasaret (4:16).
    • Die verwerping bereik ‘n hoogtepunt met die kruisiging van Jesus.
    • Dit word ‘n belangrike tema in Handelinge.
  • Die boek van Jesaja speel ‘n belangrike rol in Lukas
    • Simeon se profesie eggo Jesaja se klem op die nasies (Luk 2:32 – Jes 49:6).
    • Die bediening van Johannes die doper word met Jesaja se visie van ‘n universele redding gekoppel (Luk 3:4-6 – Jes 40:3-5).
    • Jesus begin sy openbare bediening met ‘n aanhaling uit Jesaja (Luk 4:18-19 – Jes 61:1-2).
    • Jesaja se profesieë oor die Lydende Kneg is die sleutel om Jesus se aardse bediening te verstaan (Luk 22:37; Hand 8:32 – Jes 53).
    • Die verwerping van Jesus ook in Rome word deur Paulus aan Jesaja se roepingvisioen gekoppel (Hand 28:26-27 – Jes 6:9-10; Vgl ook sy aanhaling van Jes 49:6 om sy bediening aan die heidene te motiveer op sy eerste sendingreis in Handelinge 13:47, wanneer die Jode sy boodskap teenstaan in Antiochië in Pisidië [Turkye]).
  • Die Psalms speel ook ‘n belangrike rol in Lukas
    • Jesus kom na die tempel as Israel se regmatige Koning (Lukas 20:17, 42-42; Hand 2:34-35; 4:11,25-26 – Ps 2 [“die leiers span saam teen die Here en teen sy gesalfde”], 110 [“Kom sit aan my regterhand”], 118 [“”Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword”]).
  • Die Heilige Gees speel ‘n deurslaggewende rol in Lukas en Handelinge.
    • Die Gees het ‘n vername rol reeds in Lukas 1-2 (1:35 – bewerk die maagdelike ontvangenis; 1:41 – wek die verwagting van die koms van die Messias; 1:67 – neem besit van Sagaria sodat hy die lofsang kan uitspreek; 2:25 – vul die lewe van Simeon en Anna) maar ook reg deur die bediening van Jesus.
    • Alles wat Jesus doen in voorbereiding vir sy bediening word deur die Gees begelei (3-4:11).
    • Jesus verbind baie spesifiek sy bediening aan die Gees met sy eerste optrede in Nasaret (4:18).
    • Die Gees word ook geskenk aan elkeen wat die Vader daarvoor bid (11:13).
    • Vir sy dissipels is die Gees die krag om hulle roeping te gehoorsaam (24:49).
    • Regdeur Handelinge word dié tema volgehou.
  • Gebed en vreugde word beklemtoon in Lukas en Handelinge.
    • Jesus bid by elke belangrike wending in sy bediening (4:42 – vertrek na ‘n eensame plek net voor die roeping van eerste dissipels en die uitbreiding van sy bediening in Galilea; 6:12 – bid voor die keuse van die 12 dissipels en die lewering van die bergrede; 9:28 – bid op die berg van verheerliking en net voor Hy die pad na Jerusalem aandurf en die 72 sendelinge uitstuur; 11:1 – bid net voor sy onderrig oor gebed; 21:37 – Jesus vertoef elke nag op die Olyfberg voor elke dag se onderrig in die tempel; 22:30 – Jesus bid ”volgens gewoonte” ‘n laaste keer op die Olyfberg [Getsémané] net voor die kruisiging.)
    • Jesus gee meer onderrig oor gebed in Lukas as in die ander Evangelies.
    • Die goeie nuus van die evangelie laat mense gereeld in vreugde reageer – Lukas sluit bv.  sy evangelie daarmee af.

Eksegeties en hermeneuties

Inleiding
Die verhaal van Saggeus is aan ’n iedere en ’n elk bekend. Van kinders tot volwassenes word deur hierdie verhaal aangespreek. Enigeen kan hom of haar identifiseer met die tipe mens wat Saggeus was. Maar dan ook met Saggeus se begeerte om geheel en al ’n nuwe mens te word. Ongelukkig lê die verhaal se gevaar ook in sy oorbekendheid. Oorbekendheid kan ’n mens maklik mislei om Jesus se hoofboodskap te mis.

Om hierdie gevaar te vermy, word mens verplig om dit binne sy konteks te lees. Die verhaal vorm deel van die sogenaamde reisverhaal wat by Lukas 9:51 begin en strek tot by Lukas 19:28. Dit vorm die middelste gedeelte van die Lukasevangelie en word deur die Galileaverhaal (4:14-9:50) en Jerusalemverhaal (19:29-21:38) omarm. Op hierdie manier vorm die verhale ’n eenheid wat ’n stygende tendens vertoon, sodat dit uiteindelik op ’n hoogtepunt afsluit. Om dit te bereik, herhaal Lukas telkens sekere hoofgedagtes of belig hy dit vanuit ’n ander hoek. Dit dwing ’n mens om rekening te hou met dit wat reeds op die reis gebeur het of nog gaan gebeur.

In hierdie gedeelte (19:1-10) beskryf Lukas Jesus se reis waar Hy op pad is na Jerusalem om daar te sterf. Op dié reis wou Jesus aan die mense verduidelik wie God regtig is en wat Hy van elke mens verwag. Hierdie boodskap kan slegs verstaan word deur die mens wat ontvanklik is vir God se roepstem. Hierin is die werk van die Heilige Gees ononderhandelbaar, al is dit nooit pertinent by die naam genoem nie!

Vanuit hierdie perspektief, besef ’n mens dat die lewensverhaal van Saggeus eintlik die evangelie in ’n neutedop is. Dit begin by die reis en gepaardgaande onderrig (9:51-10:37) en eindig by Jesus wat sy taak aan die dissipels verduidelik (19:1-28). Laasgenoemde begin by Jesus se optrede jeens Saggeus, gevolg deur nog ’n gelykenis (19:11-27) en eindig by die Jerusalemverhaal wat uiteindelik uitloop op Jesus se dood en opstanding.

Teks en Konteks
In die Reisverhaal kom Jesus in aanraking met Samaritane, Fariseërs, skrifgeleerdes, rykes en armes, melaatses en blindes, vroue en kinders, asook met tollenaars soos Saggeus. Vir hulle het Hy net een boodskap: God se genade is bedoel vir almal! Hierdie genade is nie beperk tot ’n enkele faset van ’n sondaar se lewe nie. Dit raak sy totale menswees. Daarom verwoord Luther dit jare later as hy sê dat die reaksie (bekering) van mense op God se genade, begin by die hart, maar dit eindig by die tjekboek.

Vanuit hierdie perspektief word die woord “redding” in ’n omvattende sin gebruik. God se redding het ten doel om mense wie se lewe vasgeloop het as gevolg van sonde, nuut te maak sodat hulle oor kan begin. Vanuit hulle oor begin, het hulle die vermoë om na God se wil en sy koninkryk te soek. En te glo dat God alles wat hulle nodig het, vir hulle sal gee (Matt 6:33). Daarom soek die Here om te red, dié wat verlore is (19:10)!

Hierdie heilsboodskap word vir Saggeus waar, as Jesus hom in sy huis ontmoet. Dit is ’n verbondsgebeurtenis, want ook vir sy huis het daar redding gekom. Dit lei tot groot blydskap en ’n lewe vol van dankbaarheid, wat gekenmerk word deur die doen van goeie dade.

Ongelukkig verstaan die Jode dit nie. Nog minder verstaan die kerkmense dit. En hierin is die ironie geleë; die Fariseërs wat daarop roem dat hulle kinders van Abraham is, word ontmasker as buitestanders. Daarteenoor word Saggeus, wat ’n uitgeworpene was, gereken as ’n kind van God, net omdat hy positief op God se genade gereageer het. So begin Saggeus se nuwe lewe!

Vers 1: Jesus se pad na Jerusalem loop deur Jerigo, ’n belangrike stad op die karavaanroete vanaf Damaskus na Arabië. Dit was ’n stad wat bekend was vir sy palmbome en lekkerruik olies. Dit was ook op die pelgrimsroete van Galilea na Jerusalem geleë. Hier het pelgrims hulle batterye herlaai voordat hulle die laaste ent pad na Jerusalem aangedurf het. Jerigo was dus ’n handelstad wat terselfdertyd ’n belangrike deurgangsroete vir mense was.

Vers 2-4: In hierdie verse ontmoet ons een van Jerigo se berugte inwoners, Saggeus. Sy naam is afgelei van die Hebreeuse woord Zakka” (Neh 7:14; Esra 2:9). Sy naam beteken “skoon” of “onskuldig”. Hy was dus ’n Jood wat na aanleiding van sy geboorte tot die huis van Israel behoort het. Hy was ook die hooftollenaar van Jerigo, ’n ryk en eensame man.

Hierdie “teenstrydigheid” veroorsaak dat Saggeus in twee geskeur word. Vir die Jode was hy ’n uitgeworpene, want dit was sy werk om allerlei tolgelde namens die Romeinse owerheid in te samel. In Jerigo, met sy talle handelsroetes, was dit groot besigheid. Dit was selfs een van die oorsake vir die Romeins-Joodse oorlog (66-74 nC). Hy was dus nie so onskuldig en skoon as wat sy naam vertel het nie.

Wat sy posisie in die oë van die Jode nog meer bedenklik gemaak het, is die feit dat hy, soos al die ander tollenaars, skuldig was aan korrupsie. Omdat ’n tollenaar geen vaste salaris ontvang het nie, is hy deur die owerhede toegelaat om hom ten koste van die gewone mense te verryk. Dit het hy inderdaad met oorgawe gedoen. Hiermee kon die Jode doodgewoon nie vrede maak nie. Om te heul met die vyand was een ding, maar om dan nog ryk te wees, het veroorsaak dat ’n tollenaar verban was tot in die buitenste duisternis. Vir die Jode was dit gruwels in die oë van God (vgl 18:18-30).

Saggeus, ten spyte van al hierdie etikette wat om sy nek gehang is, is ’n soeker na verlossing (19:10). Daarom begeer hy om Jesus, van wie hy al so baie gehoor het, te sien. Toe hy hoor dat Jesus wat so pas ’n blinde man in die buite wyke van die stad genees het in Jerigo aangekom het, begin Saggeus planne maak om Hom van naderby te hoor en te sien. Ongelukkig was hy te kort van postuur en is al sy planne verydel. Dit het hom egter nie ondergekry nie. Hy maak gou ’n ander plan en nadat hy vasgestel het watter roete Jesus sou volg, hardloop hy vooruit en gaan klim in ’n wildevyeboom. Hoe absoluut vreemd was hierdie optrede van Saggeus nie gewees nie. ’n Volwasse, vooraanstaande man wat in ’n boom klim. Dit het net nie gepas nie. Maar hy was desperaat! Hy wou Jesus sien!

Vers 5-6: Jesus gaan staan stil toe Hy regoor die boom kom waarin Saggeus is. Daar gekom, kyk Hy op na Saggeus en sê: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuisgaan.” Met hierdie sin vat Jesus die evangelie in ’n neutedop saam. As Hy vir Saggeus op sy naam noem, dan sê Hy vir hom vier dinge: (1) Ek moet: Daar is by Hom haas, dringendheid, noodsaak,  want dit is Jesus se roeping om God se genade aan alle mense te verkondig; (2) Vandag: Die “nou” is belangrik vir Jesus, want die beste tyd om dit te doen is nou – net-nou mag dalk te laat wees; (3) In jou huis: Jesus wag nie op Saggeus se uitnodiging nie. Hy nooi Homself na Saggeus se huis. Terwyl Saggeus die inisiatief neem om Jesus te sien, neem Jesus nou die inisiatief om by Saggeus uit te kom; (4) Tuis: ’n Persoonlik ontmoeting tussen Jesus en Saggeus wat sy hoogtepunt bereik deur saam te eet (wat hier nie spesifiek gesê word nie, maar per implikasie gesuggereer word, want dit was tekenend van Joodse gasvryheid).

Dit is die taal van verlossing wat sê dat Jesus na die huis van ’n ryk tollenaar gegaan het wat as uitgeworpe sondaar gebrandmerk was – nie na die huis van ’n gewone, regverdige landsburger nie (Fitzmeyr). Hierop reageer Saggeus onmiddellik as hy haastig afklim en Jesus in sy huis, soos ’n eregas, ontvang!

Vers 7: Was die Jode nie ontsteld nie! Hulle maak luidrugtig en met allerlei beledigende opmerkings beswaar as hulle sê: “Hy gaan by ’n sondige man tuis!” Vir die kerklui van daardie tyd was Jesus se optrede onaanvaarbaar. Volgens hulle was God se genade net vir sekere mense bedoel. Beslis nie vir die randfigure van die samelewing na wie Jesus uitgereik het nie. Hulle was so vasgevang in hulle eie leefwêreld en denkpatrone, dat enige optrede van Jesus buite-om dit, vir hulle geheel en al ondenkbaar en onaanvaarbaar was. Genade wat die redding van tollenaars soos Saggeus ten doel gehad het, was onverskoonbaar. Daarteenoor verkondig Jesus die evangelie as goeie nuus, ook vir ’n tollenaar van Jerigo!

Vers 8: Jesus se ontmoeting het ’n radikale uitwerking op Saggeus. Dit is asof Jesus ’n tweede blinde man (vgl 18:35 ev) se oë laat oopgaan. Hy beleef ’n radikale transformasie. Hy wat voorheen so op homself ingestel was, kyk nou weg van die eie-ek en sien ander raak. Hy is bereid om reg te maak en in ’n nuwe verhouding met hulle te leef. Hy sê dit nie net nie. Hy doen dit ook as hy hom bereid verklaar om baie meer te doen as wat die wet vereis (Lev 5:16; Num 5:7; Eks 22:1). Dit veroorsaak verharding by die Jode en veral die Fariseërs (18:9-14)!

Vers 9-10: Saggeus ontvang bevestiging dat hy, die tollenaar, vandag, hier en nou, redding verkry het. Hy kry die versekering dat hy wat eens vuil en skuldig was, ’n uitgeworpene, nou ’n kind van Abraham is. Daarom kan hy aanspraak maak op die beloftes van verlossing (vgl.1:45-55; 1:68-75). Dit is die bevestiging dat God se genade nie ingeperk of bepaal word deur menslike voorkeure, afkeure, vooroordele of denke nie. God se liefde is vir alle mense (Joh 3:16). Daarom het Hy sy Seun gestuur om te sterf en op te staan. Die resultaat hiervan is ’n totale nuwe lewens- en wêreldorde. Diegene wat eens buite gestaan het, word nou kinders van God genoem, want hulle het die lewe tot in ewigheid ontvang. (Lees ook Matt 9:9-13; Mark 2:13-17 en Luk 5:27-31 oor die roeping van Matteus [Levi]).

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Tema: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom”

Rus

Aanvangswoord
Voorganger:
God is vir ons ’n toevlug en beskerming.
Gemeente: Hy was nog altyd bereid om ons te help in nood.

Voorganger: Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad,
Gemeente: al skuif die berge tot in die dieptes van die see,

Voorganger: al druis en skuim die waters van die see,
Gemeente: al skud die berge deur sy onstuimigheid.

Voorganger: Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.
Gemeente: Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob
is vir ons ’n beskutting  (uit Ps 46:2-4, 11-12). Amen.

Seëngroet
In die Naam van die Vader
en die Seun
en die Heilige Gees.
God se onverdiende guns rus op julle en Hy laat julle nou al – hier op aarde – iets van die hemel ervaar.

Aanbiddingslied
Lied 476:1-4 “’n Vaste Burg is onse God”
Lied 478 “Op vaste fondamente”
Flam 66 “Op vaste fondamente”
NSG 184, 379

F3. “Aan U Voete, Heer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Oorspronklike titel: Aan Uw Voeten, Heer
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afr. vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1993  Celmar Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Keervers:
Aan U voete, Heer, is die beste plek, 
daarom kniel ons voor U neer.
Om by U te wees is die grootste eer,
daarom buig ons voor U neer.

Ja, ons verkies nou om by U te wees
en om na U te luister.
in plaas van altyd maar weer besig te wees,
kom ons nou tot rus by U.

Keervers:

En ons verlang na u teenwoordigheid, Heer,
om saam te kniel in aanbidding;
in Gees en waarheid waarlik een te wees,
daarom buig ons voor U neer.

Keervers:

Net soos ‘n vader wat sy kinders vertroos
so omhels U ons elkeen.
U is ‘n Vader wat versorg en beskerm
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U.

Familie-oomblik

Die Bybel is ons (die kerk) kosbaarste besitting. J H (Johan)  Cilliers het ’n pragtige boodskap vir kinders hieroor in: Vos, Cas (red) Omdat ons klein is Lux Verbi.BM 2000 bl 13-16. ISBN 0 86997 819 5

Hier volg ‘n kort boodskap wat daarop gebaseer is, en wat jy in jou eie woorde kan uitbrei:
Boeke is wonderlik.  Mense vertel die wonderlikste stories daarin.  Die Bybel is wel deur mense geskrywe, maar vertel vir ons God se storie.  Mense het dit nie uitgedink nie.  God het dit vir hulle gegee.

Wat is die Bybel vir ons?
1. Ps 119:105 – “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.” – gebruik ‘n lamp of flits om dit te illustreer.
2. Ps 119:133 – “Laat u woord my op die regte pad hou …” – gebruik ‘n padkaart of GPS om te illustreer hoe die Bybel ons help om koers te hou soos God dit wil.
3. Ps 119:103 – “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond.” – gebruik ‘n botteltjie heuning om die voedsaamheid, maar ook lekkerte van God se woorde te illustreer.
4. Ps 119:72 – “U wet is vir my kosbaarder as ‘n oorvloed van goudensilwer.”- gebruik enige goue of silwer voorwerpe (armbande, kettinkies, muntstukke) om die kosbaarheid van God se woord te illustreer.

Jy kan verder uitbrei op die feit dat die eerste twee feite van die Bybel ons bemoedig dat God ons sal lei as ons nie weet watter kant toe nie.  En die laaste twee feite oor die Bybel maak ons opgewonde om God se woorde te geniet en te gehoorsaam.

Sing lekker saam:
Lied 294 “Jesus roep die kindertjies”
Lied 553 “Ek is bly ek ken vir Jesus”
NSG 362, 320A
Flam 76 “Die Woord van God”
Sing liedjies soos “Saggeus” en “My B-Y-B-E-L” van Jan de Wet en die Lofkleuters

God praat met ons en ons luister

Verootmoediging
Voorganger: Wat is ons enigste troos in lewe en in sterwe?
Gemeente: Dat ek met liggaam en siel
in lewe en in sterwe
nie aan myself nie,
maar aan my getroue Verlosser,
Jesus Christus, behoort.

Voorganger: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Gemeente: Drie dinge:
hoe groot my sonde en ellende is;
hoe ek van al my sonde en ellende verlos is;
hoe ek God vir hierdie verlossing dankbaar moet wees.

Voorganger: Waaruit ken jy jou ellende?
Gemeente: Uit die wet van God.

Voorganger: Wat vra die wet van God van ons?
Gemeente: Jy moet die Here jou God liefhê
met jou hele hart
en met jou hele siel
en met jou hele verstand.
En jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Voorganger: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Gemeente: Nee, want ek is van nature geneig
om God en my naaste kwaad aan te doen.

Voorganger: Kom ons bely ons skuld voor die Here.

Skuldbelydenis 
Lied 235:1 “Voor u wet, Heer, staan ons skuldig”
NSG 217
Flam 7 “Here, ek vergeet so gou”

Vryspraak
Romeine 3:21-24

Doopherinnering
Watter wonderlike dag om mekaar daaraan te herinner dat ons verlossing vasgemaak is by God deur Jesus Christus alleen. Jy kan die hele gemeente ry-vir-ry laat vorentoe kom by die doopvont verby en jou nat hand op elkeen se voorkop druk.

Plaas by elke uitgang van die kerk ’n glasbak water sodat elkeen met die uitgaan sy hand daarin kan druk en dan op sy/haar voorkop as herinnering daaraan dat God (deur sy volle name: Vader, Seun Heilige Gees) Hom aan elkeen by sy/haar volle name verbind het. Met ’n gesin kan pa sy hand in die water druk en op elkeen se voorkop druk.

Sing daarna Lied 290:1 “Dit is my troos dat ek gedoop is” of 292:1-2 “My enigste troos”;  NSG 361of 317

Preekriglyn

In Lukas 19 is Jesus teen die einde van sy reis van Galilea na Jerusalem, waar Hy sou sterf.  Saggeus, die kort, skatryk mannetjie, tollenaar en hoofskurk van Jerigo, word die laaste dissipel wat Jesus op sy reis na Jerusalem werf.

Saggeus tussen die vyeblare moes ’n potsierlike gesig gemaak het.  Skatryk en welvarend sit hy soos ’n uil op ’n kluit, hoog in die takke.

Niks aan sy verhaal is potsierlik nie.  Hy ontmoet die Here en sy hele lewe keer om.  Klemens van Aleksandrië, ’n vroeë kerkvader, skryf in sy boek Stromata dat Saggeus deur die dissipels Matthias genoem is, dieselfde Matthias wat die plek van Judas Iskariot in die apostelkring na Jesus se hemelvaart oorgeneem het.  Latere geskrifte sê dat Saggeus die Tollenaar die eerste biskop (kerklike leier) van Sesarea geword het.

Wie was die tollenaars?

Die Romeinse owerheid het tollenaars gebruik om belasting in te samel.  Belastingvordering is – anders as vandag – op tender aan private indiwidue of groepe toegeken.  So ’n indiwidu of groep moes dan die belasting vir ’n spesifieke gebied en vir ’n spesifieke tydperk vooraf aan die Romeinse owerheid oorbetaal.  In ruil vir hierdie belegging in Rome se staatskoffers kon die persone (tollenaars genoem) dan gelde of goedere uit die gebied invorder.  In hierdie proses het hulle dan hul finansiële uitleg gedek en ook wins gemaak.

Waar die staat op die langtermyn in ’n bestendige belastingopbrengs geïnteresseerd is, het tollenaars op die korttermyn die meeste voordeel probeer trek uit hul reg om indiwidue met geld of goedere te belas.

Tollenaars het ook as geldvoorskieters opgetree.  Vandag sal ons hulle loan sharks noem.  Sodra jy finansieel in die moeilikheid beland het, kon jy by die tollenaar gaan geld leen, teen geweldige hoë rente.

Deur die toedoen van Saggeus se beroep het mense verarm, was daar nie kos op die tafel nie, en was ’n behoorlike, menswaardige, ekonomies volhoubare lewe vir baie mense nie moontlik nie.  Terselfdertyd het Saggeus die soustrein gery, en waarskynlik nie die einde van sy skatte geken nie.

Saggeus, die tollenaar

Saggeus werk in Jerigo, geleë in die Jordaanvallei.  Jerigo was ’n belangrike stad op die karavaanroete vanaf Damaskus na Arabië. Dit was bekend vir sy palmbome en lekkerruik olies. Dit was ook op die pelgrimsroete van Galilea na Jerusalem geleë. Hier het pelgrims hulle batterye herlaai voordat hulle die laaste ent pad na Jerusalem aangedurf het. Jerigo was dus ’n handelstad wat terselfdertyd ’n belangrike deurgangsroete vir mense was.

Saggeus se naam is afgelei van die Hebreeuse woord “Zakka” (Neh 7:14; Esra 2:9). Sy naam beteken “skoon” of “onskuldig”. Hy was dus ’n Jood wat na aanleiding van sy geboorte tot die huis van Israel behoort het. Hy was ook die hooftollenaar van Jerigo, ’n ryk en eensame man.

Hierdie “teenstrydigheid” veroorsaak dat Saggeus in twee geskeur word. Vir die Jode was hy ’n uitgeworpene.  Om te heul met die vyand was een ding, maar om dan nog ryk te wees uit korrupsie en afpersing, het veroorsaak dat ’n tollenaar verban was tot in die buitenste duisternis. Vir die Jode was dit gruwels in die oë van God (vgl 18:18-30).

Saggeus, ten spyte van al hierdie etikette wat om sy nek gehang is, is ’n soeker na verlossing (19:10).  Daarom begeer hy om Jesus, van wie hy al so baie gehoor het, te sien.  Toe hy hoor dat Jesus wat so pas ’n blinde man in die buite wyke van die stad genees het in Jerigo aangekom het, begin Saggeus planne maak om Hom van naderby te hoor en te sien.  Hy gaan klim in ’n wildevyeboom.  ’n Volwasse, vooraanstaande man wat in ’n boom klim.  Dit het net nie gepas nie.  Maar hy was desperaat!  Hy wou Jesus sien!

Jesus ontmoet Saggeus

Jesus gaan staan stil toe Hy regoor die boom kom waarin Saggeus is.  Hy kyk op na Saggeus en sê: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuisgaan.” Met hierdie sin vat Jesus die evangelie in ’n neutedop saam.

Dit is die taal van verlossing wat sê dat Jesus na die huis van ’n ryk tollenaar gegaan het wat as uitgeworpe sondaar gebrandmerk was – nie na die huis van ’n gewone, regverdige landsburger nie. Hierop reageer Saggeus onmiddellik as hy haastig afklim en Jesus in sy huis, soos ’n eregas, ontvang!

Redding vir hierdie huis

Godsdienstig gesproke maak Jesus Homself onrein deur Saggeus se huis te betree.  Jesus maak sy hande vuil.

Die resultaat op die besoek is egter verstommend.  Saggeus is so geraak deur Jesus se teenwoordigheid dat hy die helfte van sy goed vir die armes gaan gee, en waar hy iets afgepers het, gee hy dit vierdubbel terug.

Jesus se reaksie is: “ Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom”.

Inderdaad.  Redding moet hier omvattend verstaan word.

Een: ekonomiese redding
Dink aan die talle mense in Jerigo wat verarm is deur Saggeus se opportunistiese finansiële tegnieke.  Wanneer die hoofskurk Jesus vind, en sy lewe verander, kan mense weer ekonomies asem haal en is hulle lewe veilig.  Saggeus se bekering sit kos terug op kinders se borde.  Dit beteken dat arbeiders, handelaars, boere, alle ekonomies aktiewe persone in die bevolking ’n sug van verligting kan slaak.  Daar het ekonomiese uitkoms gekom.

Jerigo is verlos van ’n parasiet wat dood gesaai het.

“Hierdie huis” in hierdie sin beteken die gemeenskap, die finansiële huishouding van Jerigo.

Twee: sosiale redding
Weens sy gierigheid was Saggeus en sy huis geïsoleer en gemarginaliseer in die gemeenskap.  Saggeus was vervreem van sy mense.  Daarom kon hy nie maar net voor in die straat gaan staan om Jesus te sien nie.  Hy moes in die boom klim.  Die godsdienstige mense het hom as ’n sondaar beskou en hom en sy huis vermy.  Mens kan net aan die heimlike veragting dink waarmee mense wat geforseer was om by Saggeus geld te leen hom bejeën het.  Hy en sy mense was hoogstens verdra in die gemeenskap, en dit omdat hulle die veragtelike mag van die staat agter hulle gehad het.

Wanneer Jesus Saggeus aanraak, kry Saggeus ’n gemeenskap terug.  En die gemeenskap kry ’n weldoener.  Die armes kry ’n versorger.  Die wat afgepers is, word gekompenseer en kry lewensmiddele.

Saam met die ander Jode in die gemeenskap word Saggeus nou weer as ’n kind van Abraham gereken.

Drie: vergifnis van sonde, insluiting in die geloofsgemeenskap
Saggeus word ’n dissipel.  Sy sonde word vergewe.  God se redding het ten doel om mense wie se lewe vasgeloop het as gevolg van sonde nuut te maak sodat hulle oor kan begin.

Dit verg ’n prys van Jesus: Hy moet die risiko loop om Saggeus te huis te betree, sy hande figuurlik vuil te maak, en die godsdienstige sosiale taboe te oortree om met Saggeus saam te eet.  Dit bring redding vir Saggeus, vir sy huis, en vir Huis Jerigo.

Saggeus word weer wat sy naam beteken.

Kortsigtige godsdienstige reaksie

Die mense van Jerigo is ontsteld om Jesus by Saggeus tuisgaan (19:7).  Hulle kon nie meer sien as net ’n sondige man nie.

Jesus kon meer sien. Hy sien:

  • ’n mens, eerder as bloot ’n sondige mens;
  • ’n ekonomiese leier, wie se handelsaktiwiteite groot implikasies vir die heil en shalom in die gemeenskap het;
  • ’n menslike behoefte aan sosiale kontak met mede-burgers wat herstel moet word;
  • God se hart vir mense eerder as mense se vasgevalde sondige lewens;
  • mense se kapasiteit om reg te maak wat hulle verbrou het wanneer hulle die Bron van Geregtigheid ontmoet.

As die mense van Jerigo, wat almal waarskynlik die vroomste en opregste motiewe gehad het, en die eer van God gesoek het, kon voorsien wat Saggeus se redding vir die gemeenskap kon beteken, sou hulle Jesus waarskynlik aangemoedig het om by Saggeus tuis te gaan.

Ons aanbid ’n Here wat die hardste sondige hart kan laat vermurwe, vir Wie geen boef, hardgebakte sakeman, bendeleier, tronkvoël, tradisie-Christen, prostituut, vesting van bose mag, sisteme van onreg en uitbuiting, wat ook al, onoorwinbaar is nie.

Kan ons met sy oë na die magsbeheptes, gulsige sakereuse en skurke van ons tyd kyk?  En wat gaan ons daaraan doen?

Wat moet ons sien op Hervormingsondag?

Ons geloofstradisie, as Protestante en spesifiek Gereformeerdes, het van vroeg af ’n oog vir die samelewing en vir sosiale en ekonomiese werklikhede gehad.

Johannes Calvyn, die grondlegger van ons Gereformeerde geloofstradisie,  was ’n toegewyde gelowige man.  Sy persoonlike simbool was ’n hart aan die brand vir die Here wat aan God geoffer word.

Calvyn was vir ’n groot deel van sy lewe die predikant van Geneve.  Die stad het destyds sowat 10,000 inwoners gehad, waarvan sowat 5,000 ontwortelde vlugtelinge voor Rooms Katolieke vervolging uit Frankryk was.

Mens kan jou kwalik die sosiale nood, ekonomiese swaarkry, en geestelike ontreddering van hierdie mense indink.  Die verdere vraag was hoe die ou inwoners van Geneve hierdie toestroming sou hanteer.  Hoe sou die godsdienstige versorging, sosiaal-maatskaplike uitdagings en ekonomiese nood van die samelewing prakties en Christelik bestuur word?

Uit Calvyn se preke, kommentare oor Bybelboeke en ander boeke weet ons hoe ’n sterk sosio-ekonomiese bewussyn hy as teoloog gehad het.

Calvyn kon Saggeus met Jesus se oë sien.

Een voorbeeld: In Calvyn se tyd het die diakens nie fondse vir die gemeente ingesamel nie.  Hulle was die mense wat nood in die samelewing moes raaksien, en daaraan aandag gee.  Hulle moes Jesus aan die Saggeus-figure van hul tyd, en aan die armes wat die Saggeus-lewensstyl veroorsaak het, bedien.  Dit het hulle deur versorging gedoen, maar ook deur geregtigheid te bevorder.  Baie van die diakens uit Calvyn se tyd was juis prokureurs, regsgeleerdes.  Beide barmhartigheid en geregtigheid is as instrumente van shalom gesien.

Vrae waaroor ons op Hervormingsdag moet dink
  • Wie is Saggeus vandag in ons gemeenskap?  Is hy bloot ’n individu, of dalk ’n groep, of ’n sisteem?
  • Hoeveel van Saggeus sit in my, as individu, in my familie, my kerk, ons gemeente?
  • Wat moet ons in die gemeenskap leer raaksien wat ons tans nie kan sien nie?  Wie gaan ons hiermee help?  Hoe gaan dit van ons verg om weerloos te wees, behoeftes aan selfregverdiging te laat vaar, onsself vir ander oop te stel?
  • Wie of wat het Saggeus beweeg om kontak met Jesus te maak?  Waarom was Saggeus so diep geraak deur Jesus?
  • Met wie moet ons in die gemeenskap begin verhoudinge bou in die Naam van Jesus?  Wat moet ons houding teenoor hierdie mense wees?  Hoe gaan ons hulle intrek in gemeenskap met God se mense op ’n manier wat – al oortree dit sosiale taboes – groot vrug vir die koninkryk kan dra?

God stuur ons om te leef

Danksegging
Lied 492:2 “Heer, U bring vreugde, vrede en vreugde”
NSG 73
Flam 307 “Ons draai terug”

Offergawe

Toewyding
Lied 488:1-5 “Helder skyn u lig vir die nasies”;
Lied 119:18-19
Flam 2 “Met ons lewens wil ons U eer”

Seën
Die Here sal julle seën en beskerm
Die Here sal julle te hulp snel (ook al verdien julle dit nie), want Hy is ’n genadige God
Die Here kyk met groot begrip na julle.
Die Here sal ons vriendelik behandel.
So laat Hy ons – nou al hier op aarde – iets van die hemel ervaar (uit Num 6:24-26 – die priesterlike seën).

Sang
Lied 312, 313 of 315 NSG 355 of
Lied 356 “Amen”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.