Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd (Hervormingsondag)

Sections

Oorsig

Vandag is Hervormingsondag en Job se emosionele inkeer kan goed aangewend word om die gesindheid van die proses van “hervorming” te illustreer. Gebruik die vyf Sola’s, soos ontwikkel tydens die Reformasie, by die onderskeie momente van die erediens om sodoende die begrippe te verhelder.

Ander tekste

Psalm 34:1-8, (19-22)
Die Here is naby
34 ’n Lied van Dawid. Hy het hom
kranksinnig gehou by Abimelek. Dié het
hom weggejaag en hy het padgegee.
2Ek sal die Here altyd weer prys,
sy lof sal altyd op my lippe wees.
3Ek sal die roem van die Here sing;
die wat swaar kry, sal dit hoor
en daaroor bly wees.
4Sing saam met my
oor die grootheid van die Here
en laat ons saam sy Naam prys.
5Ek het die Here aangeroep
en Hy het my geantwoord,
Hy het my gered uit alle doodsgevare.
6Dié wat swaar kry, sien op na Hom
en straal van blydskap,
hulle word nie teleurgestel
in hulle verwagting nie.
7Ek is een van die ellendiges
wat geroep het.
Die Here het gehoor,
uit al my benoudhede het Hy my gered.
8Die Engel van die Here
slaan sy laer op
rondom dié wat die Here dien,
en red hulle.

9Kom ondervind en sien self
dat die Here goed is!
Dit gaan goed met die mens
wat by Hom skuil.
10Julle wat aan die Here behoort,
dien Hom!
Wie Hom dien, het geen gebrek nie.
11Selfs leeus ly gebrek en kry honger,
maar wie die Here se hulp vra,
kom niks kort van al die goeie dinge nie.
12Kom, kinders, luister na my!
Ek wil julle leer
hoe om die Here te dien.
13As iemand die lewe liefhet
en ’n lang lewe begeer
om die goeie te geniet,
14moet hy sy tong weerhou
van kwaadpraat
en sy lippe van leuens.
15Bly weg van die kwaad af
en doen wat goed is,
soek vrede en jaag dit na!
16Die Here sorg vir die regverdiges
en luister na hulle hulpgeroep.
17Maar Hy tree op
teen dié wat kwaad doen
en vee selfs die herinnering aan hulle
van die aarde af.
18As die regverdiges om hulp roep,
hoor die Here hulle
en red Hy hulle
uit al hulle benoudhede.

19Die Here is naby die gebrokenes,
Hy help die moedeloses.
20Al word die regverdige ook
deur hoeveel rampe getref,
die Here red hom uit almal.
21Die Here sorg vir die hele liggaam
van die regverdige:
geen been word gebreek nie.
22Die kwaad wat die goddelose doen,
bewerk sy eie ondergang:
vir sy vyandskap teen die regverdige
sal hy boet.
23Die Here maak sy dienaars vry.
Wie by Hom skuil, sal nie as skuldige
behandel word nie.

Hebreërs 7:23-28
23Daar is ook ’n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het. 24Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý ’n priesterskap wat nie op ’n ander oorgedra word nie. 25Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

26Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, 27een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het. 28Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met ’n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.

Markus 10:46-52
Jesus genees die blinde Bartimeus

(Matt 20:29–34; Luk 18:35–43)
46Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en ’n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar ’n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

48Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.”

Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.”

50Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. 51Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”

“Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.”

52Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.”

Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.

Fokusteks

Job 42:1-6, 10-17
Job: In sak en as
42 Daarna het Job vir die Here gesê:
2“Nou weet ek dat U
tot alles in staat is
en dat U kan uitvoer wat U besluit.
3Wie is dit wat u bedoelinge
wou dwarsboom
sonder dat hy die insig gehad het?
Ek het oor dinge gepraat
wat ek nie begryp het nie:
u wonderdade was te groot vir my,
ek het dit nie verstaan nie.
4U het mos gesê: Luister
terwyl Ek praat,
Ek sal vra, antwoord jy My.
5Tot nou toe het ek net gehoor
wat mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien,
6en nou verag ek myself,
nou sit ek vol berou, in sak en as.”

Die Here: Job sal vir julle bid
7Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. 8Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as ‘n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie.

Job het ‘n vol lewe gehad
9Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die Here gesê het, en die Here het Job se gebed verhoor.

10Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. 11Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het vir hom ‘n stuk silwer en ‘n goue ring gegee. 12Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en ‘n duisend donkies gekry, 13en ook sewe seuns en drie dogters. 14Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. 15Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. 16Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. 17Job het toe gesterf. Hy was oud en het ‘n vol lewe gehad.

Liturgie

RUS

Aanvangslied: Lied 482 of Flam 125 of VONKK 77

Aanvangswoord: (Ps 22:1-4)

Seëngroet: (Romeine 1)

Lofsang: Lied 494 of Flam 399 of VONKK 133

Verootmoediging

Plaas die oop kanselbybel op die Nagmaalstafel en steek ‘n kers langs die Bybel aan.

Lied  478 of Flam 66

Gebed: (ahv Ps 104)

Geloofsbelydenis: (ahv Job 38 en 39)

Lied 489 of Flam 387

HOOR

Gebed

Skriflesing: Job 42:1-6, 10-17

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 476 ‘”n Vaste burg is onse God”

Seën: (Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of  Flam 361 of Vonkk 38

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied
Lied 482 “Keer terug en kom na my” of
Flam 125 “Wat ’n Liefdeof
VONKK 77 “Bring my die ou-ou tyding”

Aanvangswoord 
My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van mense weerklink!
(Ps 22:1-4)

Seëngroet
7Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(Romeine 1)

Lofsang
Lied 494 Gelukkig is die mens of
Flam 399 “U Is Die Een” of
VONKK 133 “My Lippe Wil Hom Loof” (Psalm 34)

Verootmoediging
Soos aangedui in die basisliturgie vir hierdie reeks word daar telkens ’n moment van besinning aan die begin van die liturgie ingeruim. Stel weekliks ’n bepaalde saak aan die orde waarop rou of weeklaag ’n natuurlike respons sou wees.

Moment van besinning
Ons lees in Job van mense se soeke na antwoorde te midde van lyding. Job se vriende probeer oorsake vind, maar hulle het nie die waarheid gepraat oor God nie (Job 42:7-8).

Skep nou ’n geleentheid waarin die gemeente kan nadink oor alles wat ons self oor God sê en hoor. Dikwels probeer ons dinge met ons eie teorië verklaar of sê ons goed oor God wat nie van God af kom nie.

Gebruik stilte as instrument met geleentheid vir stilgebed.

Job se vriende se antwoorde is nie die waarheid oor God nie.

Die Reformasie het gelowiges weer herhinner dat God self die waarheid oor God vir ons gee in die Bybel.

In Job lees ons hoe God oor Godself praat.
Job se reaksie is ook vir ons ‘n gepaste reaksie:
2“Nou weet ek dat U
tot alles in staat is
en dat U kan uitvoer wat U besluit.
3Wie is dit wat u bedoelinge
wou dwarsboom
sonder dat hy die insig gehad het?
Ek het oor dinge gepraat
wat ek nie begryp het nie:
u wonderdade was te groot vir my,
ek het dit nie verstaan nie.
4U het mos gesê: Luister
terwyl Ek praat,
Ek sal vra, antwoord jy My.
5Tot nou toe het ek net gehoor
wat mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien,
6en nou verag ek myself,
nou sit ek vol berou, in sak en as.”

Plaas die oop kanselbybel op die Nagmaalstafel en steek ‘n kers langs die Bybel aan.

Lied
Lied 478 “Op vaste fondamente” of
Flam 66 “Op Vaste Fondamente”

Gebed: (ahv Ps 104)
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met ’n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel
soos ’n tentdoek gespan
3en vir U ’n woonplek ingerig
het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
Amen

Geloofsbelydenis: (ahv Job 38 en 39)
Ek glo in die God van Job…
die God wat die aarde se fondamente gelê het;
wat die aarde afgemeet het…
Ek glo in God wat die see opgedam het toe hy begin uitborrel het;
in God wat die die môre beveel om te kom;
wat lig oor die hele aarde bring…
Ek glo in God wat die sneeu bêre;
wat die die hael opgaar;
wat vir die stortreën ’n pad oopkap en vir die donderwolke hulle koers bepaal…
Ek glo in God wat die Sewester met ’n band vasknoop
en die band van Orion kan losmaak;
wat die sterre op hulle tyd laat opkom…
Ek glo in God wat weerligstrale uitstuur;
wat verstand gee aan die ibis om teen die vloed te waarsku;
in God wie insig gee aan die haan om die dag aan te kondig…
Ek glo in God wat die tyd bepaal wanneer die klipspringers lam;
wat hulle die draagtyd bepaal;
wat aan die wildedonkie sy vryheid gee
en hom ongebonde vry laat loop loop…
Ek glo in God wat Sy Seun Jesus vir ons gestuur het;
ek glo in die vergifnis van sonde en
ek glo in die Heilige Gees.

Lied
Lied 489 “Waak, Christen, staan in die geloof “of
Flam 387 “Hier Is U Kerk” (Laat Ons Dien Met Ons Lewe)

Liedere

VONKK 77 “Bring my die ou-ou tyding”
Teks: Tell me the old, old story – Arabella Catherine Hankey 1834-1911; GBA Gerdener, Halleluja 1931; Jacques Louw 2009 ©
Melodie: TELL ME – WH Doane 1832 – 1915
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin-Bybel-Media) Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Musiek: openbare besit RUBRIEK: Tradisioneel – Toetrede en Aanroeping/Voorbereiding om God se Woord te hoor

1. Bring my die ou-ou tyding,
van God se Woord vir my.
Vertel my van sy liefde
wat sondaars kom bevry.
In sy groot genade
het God sy Seun gestuur.
Vir my het Hy kom sterwe,
Die smart en pyn verduur.

Refrein:
Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

2. Bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.
Vertel my hoe die Seun van God
die dood oorwin vir my.
Bring my die goeie tyding,
die evangeliewoord:
Dat Jesus opgestaan het
en lewe bring uit dood.

Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

3. Bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.
Vertel my hoe ek deur te glo,
verlossing kan verkry.
Bring my die blye boodskap
dat Jesus weer sal kom.
Hy gee vir ewig lewe
aan dié wat glo in Hom.

Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

VONKK 133 “My Lippe Wil Hom Loof (Psalm 34)”
Psalm 34Teks: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo) Musiek: NUWE SEISOEN – Jacus Krige 2009
Orrelbegeleiding: Jacus Krige 2010 Klavierbegeleiding: Colin Campbell 2010 (Pro Deo)
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

Keervers:
My lippe wil Hom loof, die Here altyd prys,
sy roem ewig lofsing, sy Naam eer bewys.
My lippe wil Hom loof, die Here altyd prys,
sy roem ewig lofsing, sy Naam eer bewys.

Psalmvers:
Die Heer het gehoor, Hy het my bevry.
Dié een wat sy hulp soek, sal straal en gedy.
Die Here sal sorg vir dié wat Hom dien.
Hul kom ook niks kort nie, hul weet dat God voorsien.

Keervers:
My lippe wil Hom loof, die Here altyd prys,
sy roem ewig lofsing, sy Naam eer bewys.
My lippe wil Hom loof, die Here altyd prys,
sy roem ewig lofsing, sy Naam eer bewys.

Psalmvers:
Die Here is by die mense wat treur.
Hy gee hulle moed, en genees hulle seer.
Ook kinders van God sal rampe ervaar,
maar Hy help hul telkens, Hy red hul uit gevaar.

Laaste keervers:
My lippe wil Hom loof, die Here altyd prys,
sy roem ewig lofsing, sy Naam eer bewys.

F387. “Hier Is U Kerk (Laat Ons Dien Met Ons Lewe)”
(RUBRIEK: Flam – Kerk en Koninkryk; Getuienis ) Teks: Neil Büchner en Jandré Viljoen
Musiek: Neil Büchner © Flam Musiek-Uitgewers

Hier is u kerk, U stel ons aan.
Ons is gekies, U gee ons u guns.
Laat u Gees oor ons elkeen kom.
Maak, Heer, u wil deur ons bekend
net soos dit is, dat mense dit ken.
Laat u Gees oor ons elkeen kom.

Refrein:
Laat ons dien met ons lewe
waar ons is u liefde bring.
Elke mens sien as u tempel
deur genade, u goedheid bewys
waar U kerk van u liefde getuig.
Hier is u kerk,
(ons is gekies)
hier is u kerk.
(ons is gekies)
hier is u kerk.

F399. “U Is Die Een”  
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Renthia Brits © Flam Musiek-Uitgewers

Ek bring ’n lofoffer aan die Een wat regeer,
verhef my stem na die Een wat lewe gee.
My hande wil U loof,
my lippe wil U prys,
want U’s die Een, U’s waardig!

Refrein:
U’s die Een, U is waardig!
U’s die Een, U is heilig!
U’s die Een vir wie ek altyd wil aanbid.
U’s my beloning; U’s die Een!

Brug:
U het my vrygemaak, nuutgemaak, losgemaak.
U’s die Een.

Einde:
U’s my beloning; U’s die Een. (x2)

F125. “Wat ’n Liefde”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklike titel:Wat Een Liefde Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2006 Faani Engelbrecht © 2004 Celmar Music

By U is ek tuis, by U is ek veilig.
In U is my huis, in U is ek heilig, in U …
By U vind ek troos, by U kan ek huil.
In U vind ek rus, in U kan ek skuil, in U …
U neem my in u arms en droog my trane af.

Refrein:
Wat ’n liefde! (x6)
By U is dit goed, U gee my u seën.
In U is my hoop, in U is my weë, in U.
U het uself vir my gegee,
in U kan ek wees, in U kan ek lewe, in U.
Ek hoef niks weg te steek nie
want U wys my nooit weg nie.

Refrein:

Brug:
En dat ek steeds terug mag kom
selfs al het ek ver afgedwaal.
En U my altyd wil vergewe
al het ek ook gefaal.

Refrein:
Dit is liefde! (x6)
U is liefde! (x8)

F66. “Op Vaste Fondamente” 
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof) Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
(Liedboek 478) © MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou.
Apostels en profete het ons dit toevertrou:
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees.

2. Hy roep uit alle volke ’n volk vir Hom tesaam –
een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam!
Hy gee die brood die beker, Hy gee die heil’ge doop
om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop!

Refrein:
Ja Hy lê die steen, Hy is die rots
sy fondament is vas. Hy is God
o ja, Hy is,
ja, Hy is God.

3. O Heer, skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet,
Al pynig ons die smarte, al martel ons die leed:
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop!
In ’n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop!

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Job 42:1-6, 10-17

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

[Die onderstaande is in 2012 ook voorgestel. Selfs as jy dit reeds gebruik het, kan jy dit weer doen om die Hervorming te verduidelik en te vier.]

Vertel die verhaal van die reformasie met behulp van ‘n kort “toneelstuk”.

Jy benodig:
• Akteurs: Maartin Luther; keiser, twee ontvoerders
• Tafel en stoel
• Groot Bybel
• papier
• hammer
• deur (enige plat oppervlak voor in die kerkgebou)
• skryfding
• klomp boeke
• vuurhoutjies
• kombers
• tweede stoel aan ander kant van ruimte
• pakkie papier

Lees die verhaal terwyl die “akteurs” die gebeure opvoer:
Daar was ‘n tyd dat mense nie hulle eie Bybels gehad het nie. Die Bybel was net beskikbaar in Grieks/Hebreeus en Latyn. Mense het nie Bybels in hul huise gehad nie. Die Bybel was weggesteek in universiteite en kerke. Ek wil julle vanoggend voorstel aan iemand wat baie gedoen het om dit te verander. Sy optrede het gemaak dat ons vandag Bybels kan hê en Bybels in ons eie taal kan lees.

• Maartin Luther kom staan regs voor in liturgiese ruimte
Sy naam Maartin Luther. Hy is gebore in 1483 (baaie lank gelede!) in Duitsland. Hy het eers regte studeer, maar tydens ‘n vreesaanjaende storm besluit hy om ‘n priester te word.

In 1507, toe hy 24 jaar oud was, word hy ‘n priester – en sien vir die eerste keer in sy lewe ‘n Bybel!
• Luther gaan sit by tafeltjie. Maak Bybel oop en blaai verwonderd daardeur.

Later word hy ‘n professor in teologie by Wittenberg Universiteit, asook ‘n priester by Wittenberg se kerk.

Terwyl hy die Bybel bestudeer, maak Rom 1:17 ‘n groot indruk op hom: dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” Hy begin besef dat dinge nie reg is in die kerk nie.

Op 31 Okt 1517 preek hy oor die goed wat verkeerd is, skryf ‘n brief waarin hy 95 goed lys, pos dit vir ‘n paar vriende, en hammer dit aan die kerk se deur vas.
• Luther staan op, hammer papier met stellings iewers vas.
• Bly staan en kyk na stellings.

Hy het nie vreeslike groot reaksie verwag nie. Maar dit het soos ‘n veldbrand versprei – mense het kopieë gemaak. Almal het daaroor gepraat. Party mense het met hom saamgestem, ander het van hom verskil.

Die Kerk van daardie tyd het gedink hierdie priester maak moeilikheid, en besluit om hom aan te spreek.

Maar die kopieë het aanhou versprei. Daarom besluit Luther om te verduidelik wat hy bedoel het.
• Luther gaan sit weer by tafeltjie,
• Skryf.

Luther sê hy wou net verkeerde dinge regstel, hy wou nie moeilikheid veroorsaak nie. Maar die Kerk begin ‘n ondersoek teen Luther. Intussen raak Luther al meer oortuig van sy saak.

In 1520 verbrand Luther in die openbaar ‘n klomp van die kerk van die tyd se belangrike boeke.

• Luther staan op, vat boeke van lessenaar af, gooi op hoop, trek vuurhoutjie en gooi op boeke – skud vuurhoutjie met gooi-slag, sodat dit doodgaan.
• Bly staan, kyk na hoop boeke.

Die Kerk ekskommunikeer vir Luther. Dit beteken dat hy nie meer ‘n lidmaat van die kerk mag wees nie. In Luther se tyd was dit baie erg, want daar was net een kerk! Hy kon nie na ‘n ander kerk toe gaan nie.

Luther is ook gestuur om die keiser te gaan sien. In 1521 het hy die keiser twee maal gesien. Die keiser sê Luther moet sy woorde terugtrek. Maar Luther sê elke keer nee.
• Luther gaan staan voor kansel
• Keiser verskyn op kansel, Wys vinger vir Luther,
• Luther skud kop.

Toe die keiser klaar met Luther gepraat het, het hy hom voëlvry verklaar. Dit beteken enigiemand kan Luther maar vermoor, hulle sal nie gestraf word nie! Terwyl Luther op pad terug huis toe was, het van sy vriende gereël dat Luther ontvoer word.
• Twee mense kom,
• Gooi lap oor Luther se kop,
• Vat hom na kant van liturgiese ruimte
• Haal lap af.

Dit was sodat hy kon ontsnap. Niemand het geweet waar Luther is nie. Party mense het selfs gedink Luther is dood. Maar Luther is gevat na Wartbrug, waar hy sy baard laat groei het, sy hare laat groei het en homself Junker Jörg genoem het
• Luther gaan sit by vêrste stoel, skryf op pakke papier.

In hierdie tyd vertaal hy die Nuwe Testament in Duits.

Intussen het die mense met Luther saamgestem het, voortgegaan in Wittenberg. Ons noem dit die Reformasie. Dit is waar ons kerk vandaan kom. Dit is ook waar die Bybel vir die eerste keer in mense se eie taal beskikbaar was. Dit is as gevolg hiervan dat ons vandag Bybels kan hê en kan lees.

Alternatiewe voorstelle:

  • Laat almal skryf (jonger kinders teken) wat hulle glo en dit aan ’n “deur” vas hamer (sit ’n plank voor in die liturgiese ruimte, of ’n groot stuk foamalite met ’n deur daarop geverf, of gebruik ’n plastiek hamer en cello tape en plak/”hamer” dit vas).
  • Suiwer vir pret: verduidelik die reformasie en speel “pin the beard on the theologian”.

Preekriglyn

Die intense worsteling van Job, en sy pogings om sin van sy lyding te maak, kom in Job 42 tot ‘n einde. Die worsteling het aanleiding gegee tot lang strydgesprekke tussen Job en sy vriende, met duisende woorde. Dit was – sagkens gestel – ‘n woordryke gedoente. Opvallend genoeg raak Job se woorde min wanneer hy God persoonlik ontmoet.

Dalk moet ons Job of sy vriende nie veroordeel oor hulle baie woorde nie. Die lang gesprekke help ons iets verstaan van ‘n lewe voor die aangesig van God, ook wanneer dit verskriklik swaar gaan.

Strydgesprekke

Hoe verloop die strydgesprekke oor die oorsake en betekenis van Job se lyding? Job se vriende verduidelik dat Job ly omdat hy gesondig het. Hulle werk met ‘n oorsaak-gevolg model. Die lyding sal weggaan as Job sy skuld bely. Wat meer is: voorspoed sal weer op sy skuldbelydenis volg.

Job verwerp hierdie verduideliking. Hy neem basies twee standpunte in teenoor sy vriende se “oplossing”:

  • Sy primêre standpunt is dat hy sy lyding hartstogtelik verwerp en dit geensins as “verdiende loon” kan beskou nie. Job maak nêrens op absolute volmaaktheid aanspraak nie. Hy probeer nie sê hy is sonder sonde nie. Menslik gesproke is hy die laaste een wat sulke lyding verdien. Vanuit hierdie posisie beroep hy hom op God as “Beregter”. Die Here moet bevestig dat hy regverdig is.
  • Job se vriende hou vol dat sy lyding God se regverdige oordeel oor sy sonde is. Daarom rig Job homself soms teen God. Hy aanvaar sy vriende se argument dat sy lyding ‘n oorsaak het. Maar wat of Wie is die oorsaak? Vir Job beteken dit: òf hy is skuldig, òf God is onregverdig. Aangesien sy skuld nie die oorsaak van sy lyding is nie, vra hy of dit dan God se onreg is? Vanuit die posisie sien hy God as onregverdige regter of gevoellose, afgetrokke soort Mugabe-figuur. Hy wil die vyandige God konfronteer, met die implikasie dat hy, Job, die wêreld beter (regverdiger) sal regeer.

Wie sal dan uitspraak gee? Wie sal sê of Job skuldig is en of God onregverdig is? Die enigste Regter waarop Job hom kan beroep, is God self. Daarmee beland Job in ‘n teenstrydige posisie. God is beide sy vyand en sy enigste hoop.

Ons het twee weke gelede stilgestaan by Job se aanklag teenoor God en hoe Job God inroep as beregter. Terselfdertyd was hy oortuig dat God nie sou opdaag om antwoorde te gee nie. Diep onderliggend leef daar egter by Job die hoop dat God goed en regverdig is.

God se reaksie

God daag wel op, maar God gee nêrens ‘n logiese verduideliking vir Job se lyding nie. Opvallend begin God dadelik, wanneer Hy vanaf hfs. 38 antwoord, met Job oor kennis en insig praat. “Job, het jy gesien…, ken jy…, weet jy…, was jy daar toe…” is woorde wat soos ‘n refrein by God voorkom. Kan Job die diep oorspronge, wysheid, insig krag en mag beskryf en naboots? Kan Job God antwoord? Het hy gesien? Het hy insig?

Job ontdek, deur God se woorde, die diep geheimenisse wat lê agter alles wat bestaan.

Job antwoord God

Job se woorde is min wanneer hy die Here in hfs. 42 antwoord. Dis vreemd vir iemand wat vroeër so baie gepraat het. Dit bewys egter alreeds dat die Here Job tot nuwe insig gebring het. Die Here het Job se regsaak gewen.

Job begin sy antwoord in vers 2 met: “Nou weet ek….”. Dit is ‘n kenmerkende menslike reaksie op God se woorde en beloftes. Mens kry dit dikwels in die Psalms (bv. Psalm 20:7; 41:12; 56:10). Dit dui daarop dat God se woorde Job na ‘n nuwe posisie geneem het. Job is nie meer dieselfde nie, en hy sien en beleef sy lyding ook op ‘n nuwe manier.

In vers 3 verwys Job na die Here se openingswoorde in 38:2 en erken onmiddellik dat hy oor dinge probeer praat het wat hy nie begryp het nie:
Ek het oor dinge gepraat
wat ek nie begryp het nie:
u wonderdade was te groot vir my,
ek het dit nie verstaan nie.

Job het, skryf die Bybellennium, die misterie van die grote God se handelinge bevraagteken, en God selfs van onreg en wanbestuur beskuldig. Maar nou snap hy dat hy as mens nie klinkklare afleidings kan maak oor God en sy skepping nie. Dit gaan oor dinge wat bo alle menslike begrip verhewe is. Job kon slegs ten dele sien, maar hy het gereageer soos iemand wat alles gesien het.

Met ons vermoeë om te redeneer, kan mense nie tot by die geheimenisse van God kom nie. Mense kan God voor regbanke daag, soos die regbank van die menslike rede. Sonder God se openbaring bly menslike redenasies dikwels net ‘n uitstalling van ons eie beperkte insig. Wanneer God se lig op die dinge begin val, kan ons maar net verleë lag en verskoning vra vir ons arrogansie. Dis wat Job doen.

Om God te sien

In die kern van sy antwoord sê Job dat hy deur sy lyding en strydgesprekke heen nou ‘n persoonlike ontmoeting met God gehad het:

Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien.

Job se wens van vroeër (19:25, 27) het nou waar geword, want hy het God gesien en God ontmoet. Dis ‘n oorweldigende ervaring, wat sy eie nietigheid voor God beklemtoon (6). Job ontvang dus nie ‘n verklaring van God nie. Job ontvang ‘n persoonlike ontmoeting met God.

In hierdie ontmoeting met God gebeur ‘n paar dinge:

  • Job vind vrede. Hy het God as oneindig meer leer ken as wat hy vantevore besef het. Vroeër was dit hoorsê, nou het hy die misterie van God ervaar. Toe hy God vroeër logies probeer uitredeneer het, het hy van God die gevangene van sy denke gemaak. Hy het God in ‘n boksie geplaas. Nou het hy God gesien.
  • Job word nie veroordeel nie. Sy aanspraak dat sy lyding nie uit sy sonde voortspruit nie word bevestig. Sy vriende, wat die teenoorgestelde sê, het “nie die waarheid gepraat nie,” sê die Here (7).
  • Job se aanklag dat God afwesig, of onregverdig is, word afgewys. Job het baie naby aan sy vriende gekom met die bewering dat sy sonde ‘n duidelike oorsaak het, as dit dan nie sy sonde is nie, is dit God se onreg. Hiervoor word Job tereggewys, want hy het gepraat sonder insig. God veroordeel nie vir Job hiervoor nie, maar roep hom tot orde.

Daar kom ‘n nuwe, persoonlike band tussen Job en God tot stand. In hierdie persoonlike verhouding vind Job vrede, selfs al sit hy steeds op die ashoop van sy lyding. God is genoeg.

‘n Gelukkige einde

Die verhaal het in alle opsigte ‘n gelukkige einde. Selfs die vriende, wat Job mislei het, se verhouding met God en met mekaar word herstel. Job word ook in sy ander verhoudinge herstel. Waar hy vroeër vermy is, kom sy broers, susters en vriende nou weer by hom eet. Hulle betoon medelye en vertroos vir Job.

Die Here maak die laaste deel van Job se lewe voorspoediger. Hy kry weer lewende hawe en tien kinders, sewe seuns en drie dogters. Verstommend genoeg vir daardie patriargale tyd word die name van die drie dogters gegee, en ook vertel dat hulle by Job geërf het – iets wat vroue in daardie tyd nie beskore was nie. Job leef ook tot ‘n 140 jaar – twee maal die 70-jaar wat destyds as ‘n geseënde lewe gesien is.

Ons moet werklik versigtig met hierdie gegewens omgaan. Nie almal se lewe eindig op so ‘n gelukkige noot nie. Baie mense wat getrou aan die Here was, se lewe eindig in die verskriklikste omstandighede. Johannes die Doper sterf in die tronk. Petrus word gekruisig, Paulus onthoof en Jakobus met die swaard omgebring.

Ons moet ook onthou die toets wat Job deurstaan het, was dat hy die Here net dien ter wille van God se goeie gawes. Dit was nie waar nie: Job het ten spyte van sy verliese aan God vasgehou, en hy is in hierdie verhouding bevestig toe God Hom aan Job openbaar het. Job is nie ‘n resep vir ‘n voorspoedige einde nie.

Coram Deo

Ons vier vandag die kerkhervorming uit die sestiende eeu. Mense soos Martin Luther en Johannes Calvyn het protesteer teen die verduistering van God deur teologiese en kerklike praktyke waarmee die mens God se guns kon verdien.

Een van die sentrale motiewe van die reformasie was ‘n persoonlike verhouding met God waardeur mens die goedheid van God en die genade in Jesus Christus kon ken. Ons praat van hierdie motief as ‘n lewe waar mens bewustelik voor “die aangesig van God” (Coram Deo) lewe.

Die reformasie gryp terug na ‘n ou, Bybelse motief. Dink aan die Here se woorde aan Abraham in Genesis 17:1:
Ek is God die Almagtige
Lewe naby My en wees opreg!
Of dink aan Jakobus 1:27 waar staan:

Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.

Voor God. Coram Deo.

In Job se geval word al die menslike teorieë en teologieë wat tussen mens en God kom staan, en tot ‘n Godsverduistering lei, weggevee deur Job se persoonlike ontmoeting met God. Selfs die Godsverduistering wat deur sy lyding veroorsaak word, “My God, my God, waarom het U my verlaat?,” word deurbreek.

In die Reformasie was die motief ook om teorieë oor God se guns te vervang met ‘n ontmoeting met God: op die plek waar God te vinde is, in die kruis en opstanding van ons Here Jesus Christus.

Kinders van die Reformasie

Vir ons, die geesteskinders van die Reformasie, is die werklikheid van ‘n persoonlike verhouding met God baie belangrik. Ook in ons geval kan dit so maklik gebeur dat ons lering oor God ‘n wig tussen ons en God indryf. Ons kan so seker wees hoe God aanbid moet word, hoe die erediens moet lyk, wie se leer reg is, dat ons God in die proses kan verloor.

Mense soos Luther en Calvyn het ‘n lewende verhouding met God gehad. Calvyn se persoonlike kenteken was ‘n hand met ‘n brandende hart vir die Here daarin. Hy staan as die teoloog van die Heilige Gees bekend. Calvyn was bewus dat ons nie self antwoorde kan fabriseer om by God uit te kom nie. Ons is afhanklik van die Woord, toegelig deur die Gees, met ‘n lewe wat deur God se Gees oopgebreek word, om God te ontmoet. Hoe tragies dat baie van hierdie leerstellinge in die geskiedenis tot ‘n dorre verstandelike denksisteem vervlak is.

Ook die Reformasie ontdek oor die laaste dekades opnuut weer ons wortels. Ons wortels lê in die ontvangs en oop-wees vir die teenwoordigheid van God. En ons eien dit toe deur bewustelik in groot geselskap te lewe: Coram Deo.

Enigste troos

Ten diepste is die aanwesigheid van God die enigste werklike troos in lewe en in dood. Dit is so vir alle mense, maar veral vir mense wat swaar ly. Lyding is nie die finale werklikheid nie. Ook vir mense wat so hard werk om God se guns te verkry. God is daar, God is ons in Christus goedgesind, en is gereed om ons te omhels met die misterie van sy teenwoordigheid, wat alle verstand te bowe gaan.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending
Lied 476 ‘n Vaste burg is onse God

Seën
Die Here sal julle seën en julle oppas.
Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.
Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.
(Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonkk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.