Twee en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Hervormingsondag

Sections

Oorsig

Die oorsteek van grense na die nuwe lewe in Christus is die tema van al hierdie week se tekste. Josua 3 is die vertelling van hoe die volk die finale grens tussen die ou lewe as slawe en die nuwe lewe as vry mense in die Beloofde Land oorsteek – al agter die verbondsark aan. Psalm 107 besing God se bevrydende wonderdade in die verlede. In Matteus 23 beskryf Jesus hierdie nuwe lewe as die gehoorsame navolging van die wet van Moses, nie as sware las nie, maar in navolging van die voorbeeld van Christus. Die kern van só ‘n lewe is dat die een bereid moet wees om die ander te dien. In 1 Tessalonisense 3 bemoedig Paulus die gemeente om vas te staan in hierdie nuwe lewe deur te groei in hulle liefde vir mekaar en vir alle mense.

Ander tekste 

Psalm 107:1-7, 33-37
Let op die Here se dade van trou
107 “Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.
4Party was verdwaal in die woestyn,
in ’n barre wêreld,
en kon die pad na ’n bewoonde stad
nie kry nie.
5Hulle was honger en dors,
hulle was uitgeput,
6maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp
en Hy het hulle gered uit hulle ellende.
7Hy het hulle op die regte pad gebring
en by ’n bewoonde stad laat uitkom.
33Hy verander waterryke gebied
in woestyn,
fonteinwêreld in dorsland,
34Hy maak vrugbare grond brak
oor die slegte dade van dié
wat daar woon.
35Hy verander woestyngebied in rietvlei,
dorsland in fonteinwêreld
36en laat honger mense hulle daar vestig
dat hulle stede kan stig om in te woon.
37Hulle bewerk lande en plant wingerde,
en dié lewer hulle oeste.

1 Tessalonisense 2:9-13
9Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle ’n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie.

10Julle, en ook God, is getuie van hoe suiwer, reg en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo. 11Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos ’n pa sy kinders 12het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê.

13Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys.
Matteus 23:1-12

23 Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek 2en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. 3Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. 4Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie ’n vinger verroer om dit te dra nie. 5Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot. 6Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges 7en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. 9Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. 10Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.

11“Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. 12Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.

Fokusteks

Josua 3:7-17
Die Israeliete steek die Jordaan oor 
3 Josua het die môre vroeg van Sittim af vertrek en by die Jordaan aangekom, hy en al die Israeliete. Hulle het daar oorgebly voor hulle deur die rivier sou trek. 2Na drie dae het die beamptes die kamp deurgegaan 3en die volk beveel: “Wanneer julle sien die Levitiese priesters dra die verbondsark van die Here julle God, moet julle van julle staanplekke af vertrek en die ark volg, 4sodat julle kan weet watter pad om te gaan, want julle het nie vantevore met dié pad langs gegaan nie. Maar daar moet ‘n behoorlike afstand wees tussen julle en die ark, omtrent nege honderd meter. Moenie te naby hom kom nie.”

5Josua het vir die volk gesê: “Reinig julle, want môre gaan die Here wonders doen tussen julle.”

6Vir die priesters het Josua gesê: “Tel die verbondsark op en stap voor die volk uit.”
Hulle het die verbondsark opgetel en voor die volk uit geloop.

7Toe sê die Here vir Josua: “Ek begin vandag om vir jou hoë aansien in die oë van die hele Israel te gee sodat hulle kan weet dat Ek by jou is soos Ek by Moses was. 8Sê nou vir die priesters wat die verbondsark dra, hulle moet by die Jordaan gaan staan wanneer hulle by die waterkant kom.”

9Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader, luister na die woorde van die Here julle God!”

10Daarna sê hy: “Hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is en dat Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete sekerlik sal verdryf om vir julle plek te maak: 11kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde sal voor julle uit die Jordaan in gaan. 12Wys nou twaalf man aan uit die stamme van Israel, een uit elke stam. 13Wanneer die voetsole van die priesters aan die Jordaan se water raak, die priesters wat die ark van die Here dra, die Here van die hele aarde, sal die water van die Jordaan wat afkom, afgesny word en op een hoop gaan staan.”

14Die volk het toe van hulle tente af vertrek om deur die Jordaan te trek. Die priesters wat die verbondsark gedra het, was voor hulle. 15Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, 16het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek. 17Die priesters wat die verbondsark van die Here dra, het daar binne-in die Jordaan op die droë bedding gaan staan terwyl die hele Israel oor die droë bedding deurgaan tot die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan is.

4 Nadat die hele nasie deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê: 2“Neem nou die twaalf man uit die volk, een uit elke stam, 3en sê vir hulle: Vat hier uit die Jordaan, op die plek waar die priesters gestaan het, twaalf klippe en neem hulle saam met julle deur en sit hulle neer op die plek waar julle vannag oorbly.”

4Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, 5en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen ‘n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete. 6Dit moet onder julle as ‘n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’7moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete ‘n blywende herinnering daaraan.”

8Die Israeliete het gemaak soos Josua gesê het. Hulle het die twaalf klippe in ooreenstemming met die getal stamme van Israel gevat soos die Here vir Josua gesê het, dit met hulle saam deurgeneem na die plek toe waar hulle sou oornag en dit daar neergesit.

9Josua het ook twaalf klippe binne-in die Jordaan opgerig, op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondsark gedra het. Die klippe is vandag nog daar.

10Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die Jordaan bly staan tot alles afgehandel was wat die Here vir Josua opgedra het om vir die volk te sê in ooreenstemming met alles wat Moses vir Josua beveel het. Die volk was haastig om deur te gaan. 11Toe die volk klaar deur is, het die ark van die Here deurgegaan. Die priesters was voor die volk. 12Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het, soos Moses hulle beveel het, in formasie voor die Israeliete getrek. 13Omtrent veertig duisend gewapende manne het vir die oorlog die rivier deurgegaan voor die ark van die Here uit na die Jerigovlakte toe.

14Die Here het daardie dag aan Josua hoë aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hulle het sy lewe lank aan hom eerbied betoon soos aan Moses.

15Die Here het vir Josua gesê: 16“Sê vir die priesters wat die ark met die getuienis dra, hulle moet uit die Jordaan kom.”

17Josua het toe die priesters beveel om uit die Jordaan te kom, 18en toe die priesters wat die verbondsark van die Here dra, uit die Jordaan kom en hulle voetsole die grond aan die kant raak, het die rivier se waters weer op hulle ou plek begin loop. Soos tevore het hy weer al sy oewers oorstroom.

19Die volk het op die tiende dag van die eerste maand uit die Jordaan gekom en kamp opgeslaan in Gilgal, oos van Jerigo. 20Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan saamgebring het, in Gilgal opgestel 21en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag hulle pa’s vra: ‘Wat beteken daardie klippe?’22moet julle die kinders inlig en sê: Israel het op droë grond deur hierdie Jordaanrivier gegaan. 23Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurgaan, net soos Hy met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan. 24Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.

5 “Toe al die konings van die Amoriete wes van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete aan die see hoor dat die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat opdroog het sodat ons kon deurgaan, het hulle harte van angs verstyf en het hulle nie meer moed teen die Israeliete gehad nie.”

Ekstra stof

Josua 3:1 – 5:1 – God lei Israel met ‘n wonder deur die Jordaan
Die volgende fase van Josua se veldtog breek aan met die vertrek die môre vroeg van Sittim af. Hulle het tot by die Jordaan getrek en daar oorgebly in voorbereiding vir die Intog in Kanaän. Dit was ‘n groot groep, want dit het drie dae geneem om almal daar te kry.

Die Leviete kry die opdrag om met die ark van die verbond – ‘n simbool van God wat die stryd voer – omtrent ‘n kilometer voor die Israeliete uit te trek, sodat die Here so self die pad kon aanwys. Só was dit ook die geval met hulle reis deur die woestyn waar die Here op dié manier vir hulle oorbly plekke aangewys het (Num 10:33).

Trouens, die Here het hulle gestraf as hulle dit gewaag het om sonder sy leiding te beweeg (Num 14:44). Hierdie begeleiding van die Here deur die ark sou egter nooit ‘n magiese of outomatiese karakter aanneem nie, soos die Israeliete in die tyd van Samuel sou uitvind. Daar is hulle verslaan ten spyte van die ark se teenwoordigheid, want hulle het die Here nie geraadpleeg nie (1 Sam 4). Gehoorsaamheid aan die Here bly die vereiste wat Hy stel vir elkeen wat Hom wil volg.

Ná hierdie instruksies is die volk gereinig in voorbereiding vir die Here se teenwoordigheid wat wonders gaan doen met hulle deurtog deur die Jordaan. Die riglyne daarvoor is natuurlik alreeds gegee in die riglyne wat Moses deurgegee het, en in Levitikus opgeteken is.

Met die reiniging voltooi, bevestig die Here vir Josua in die oë van die volk deurdat Hy soos Moses die voorreg kry om ‘n mondstuk vir die Here te raak. Josua se aansien sou aansienlik versterk word daardeur, sowel as deur die wonders wat by die Jordaan en verder in Kanaän sou gebeur. Sy status as Godsman onder sy tydgenote was vir altyd gevestig.

Op bevel van die Here kan die Israeliete – met Ruben, Gad en die halwe Manassestam vooraan! – daarom droogvoets deur die Jordaan trek, gewapen vir die oorlog, deurdat die Here sorg dat die water van die rivier opdam by Adam, ‘n stad ‘n entjie boontoe in die Jordaan, ‘n plek waar aardbewings voorkom en die rivier op sy nouste is. Soos die tog deur die Rietsee Moses se bediening gekenmerk het, só sou die tog deur die Jordaan Josua se bediening kenmerk.

Maar die gebeure sou uiteindelik ten diepste tot God se verheerliking dien. Wat Hy vir Josua gedoen het, dien tot ‘n bevestiging van sy goddelikheid, en dat Hy bó alles aanbid moet word.

Twaalf man uit die volk, een uit elke stam, neem op bevel van die Here twaalf klippe uit die Jordaan en pak hulle as herinneringsteken anderkant die Jordaan by hulle oornagplek, Gilgal vanwaar die Heilige Oorlog gevoer sou word. Josua het dieselfde binne-in die Jordaan gedoen, iets wat latere geslagte kon nagaan, soos die redakteur(s) ons meedeel.

Hulle slaan kamp op by Gilgal op die tiende dag van die eerste maand, presies dieselfde dag 40 jaar tevore wat hulle begin regmaak het om uit Egipte uit te gaan deur ‘n lam vir die Paasfees gereed te kry (Eks 12:3 – dieselfde dag wat Esra eeue later die priesterlike geslag sou suiwer – Esra 10:16). Die paasfees viering sou vier dae later plaasvind, presies soos dit in die wet beskryf is.

Aanvanklik sou Gilgal ‘n belangrike geestelike rol speel in die lewe van Israel, met talle besoeke van Samuel daaraan in die era van koning Saul (1 Sam 7:!6; 10:8; 11:!4-15). Met Dawid skuif die geestelike sentrum na Jerusalem op bevel van die Here, en verander Gilgal se funksie. Ongelukkig raak dit mettertyd ‘n plek waar afgode gedien is (Hos 9:15; 12:11; Amos 4:4; 5:5).

Die wonder van die Here se mag deur die Israeliete droogvoets deur die Jordaan te kry, het die moed van die Amoriete en Kanaäniete gebreek. “Hulle harte het van angs verstyf.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 221 (Ps. 107) of VONKK 189 (N.a.v. Ps. 107)

Votum: Psalm 107:1-3

Seëngroet

Lofsang; Psalm 107 of Flam 270

Verootmoedigin;g Matteus 23:1-12

Toewyding: Lied 276

Geloofsbelydeni:s Lied 518

HOOR

Gebed

Skriflesing: Josua 3:7-17a

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 505

Seën

Respons: Lied 505:3 laaste 2 reëls of Lied 505:4 laaste 2 reëls

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 221 (Ps. 107) “Loof die Heer omdat Hy goed is” of
VONKK 189 (N.a.v. Ps. 107) Ek Wil Die Here Loof (Respons)

Votum
Psalm 107:1-3
“Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 107 of
Flam 270 U Is My God

Verootmoediging
Matteus 23:1-12
Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek 2en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. 3Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. 4Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie ’n vinger verroer om dit te dra nie. 5Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot. 6Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges 7en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. 9Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. 10Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.

11“Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. 12Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.

Toewyding
Lied 276 “Leer ons om in eie oë”

Geloofsbelydenis
Lied 518 Voel jy soms of die Here te vér is

Liedere

VONKK 189 “Ek Wil Die Here Loof (Respons)”
Nav Psalm 107:1,8 Teks: Driekie Jankkowitz 2011 (Pro Deo – postuum) Melodie: GETROU – Jacus Krige 2012
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2012 (Pro Deo) Kantoryverwerking: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Lofprysing

Ek wil die Here loof vir sy liefde en trou.
Hy doen wonders vir sy kinders;
dis Hy wat red en behou.

F270. “U Is My God”
(RUBRIEK: Flam – Lof) Teks en musiek: Derek de Bruin © 2006 NG Moreleta Publishing (geadministreer deur Urial Publishing)

U is my God; ek sal U loof,
my God, u grootheid sal ek besing.
Ek loof U, Here, want U is goed
aan u liefde is daar geen einde nie.
U is my God; ek sal U loof,
my God, u lof sal ek besing.
Heer, ek loof U, want U alleen is goed
aan u liefde is daar geen einde nie.
U alleen, ja, U alleen is goed.
Aan u liefde is daar geen einde nie.
U alleen, ja, U alleen is goed
aan u liefde, aan u liefde,
aan u liefde is daar geen einde nie.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Josua 3:7-17a

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Hier is ‘n oulike video – ‘n Kinderbybel-weergawe van vandag se Skriflesing (jy kan die video sonder klank wys en self die verhaal vertel terwyl die video speel). Of gebruik hierdie video.

Carolyn Brown stel voor dat jy hoofstuk 4 se eerste verse ook lees. Kry dan 12 mans om redelik groot klippe in die paadjie af te dra en voor in die liturgiese ruimte neer te sit. Dan kan jy gesels oor die dinge wat ons help om te onthou – ons eie stories, ons families se stories, God se stories met ons.

Of gebruik haar ander suggestie en gesels oor die Ark. (Onthou, ons wil nie net vir kinders morele lessies gee nie. Ons wil hê dat hulle die Bybel leer ken. ‘n Konsep soos dié van die Ark, is ‘n sinvolle gedagte om by stil te staan.) Afhangende van hoe handvaardig jy is, kan jy ‘n model Ark maak om dit visueel uit te beeld. Hier is ‘n eenvoudige patroon – jy kan ook vir die kinders afdrukke hiervan gee om elk self so ‘n model te maak. Hier is ‘n bietjie meer komplekse patroon. Of gebruik hierdie idee en maak ‘n Ark van ‘n boks wat jy goud spuitverf.

Hier is ‘n inkleurprent van vandag se teks.

Of gebruik een van hierdie idees uit BybelMedia se Woord en Fees:

Doopherinnering: God se volk was slawe in Egipte en die Here het hulle vrygemaak. Hulle kon teruggaan na die land wat die Here vir hulle belowe het: die Beloofde Land. Daar sou hulle vry van die Egiptenare en slawerny kon leef en die Here as vry mense dien. Die laaste ding wat hulle moes doen, was om oor die Jordaandriver te trek na die Beloofde Land. Só is ons doop ook. Die doop sê dat die Here ons vrygemaak het van enigiets wat slawe van ons maak. Die doop sê dat ons nou as vry mense in die Beloofde Land kan woon wat die Here vir ons gegee het (uit Jos 3:7-17).

Vir kindertyd:https://littleblogofjewishhumor.com/tag/gps/

Vir die res van die erediens:https://mosaicmagazine.com/response/uncategorized/2015/06/the-spirit-of-jewish-conservatism-day-three/

        1. Preekriglyn

Die jaar 2020 sal lank onthou word as die jaar van onsekerheid. Mens het die aanvoeling dat dinge nie sommer weer gaan wees soos dit was nie. Iets groots het verander. Maar hoe dinge vorentoe gaan lyk, dit weet ons nie verseker nie.

In sulke tye is mens meer sensitief en oop vir mense wat voorheen in groot oomblikke van oorgang was. Ons teks is ‘n voorbeeld hiervan. Die Israeliet was slawe in Egipte. Die Here het hulle onder Moses bevry en hulle in die woestyn tot sy volk gevorm. Nou is Moses weg en moet hulle die beloofde land, ‘n nuwe toekoms , onder nuwe, onbekende leierskap binnegaan.

Wat gebeur in ons teks?

In Josua 3 moet God se volk die grens oorsteek na ‘n nuwe toekoms. Die ou sekerhede val weg, want daar is ‘n nuwe, onsekere leierskap. Daar is egter ‘n nuwe sekerheid, die brose, onmagtige teken van die Here se magtige leiding.

Die boek Josua

Josua is hoofsaaklik ‘n historiese vertelling van hoe Israel die land inneem, verower en onder die stamme verdeel.

Josua vertel hoe die Here sy beloftes aan die aartsvaders ten volle nakom. Die boek word gewoonlik verdeel in drie hoofdele:

      • 1-12 = die verowering van die land;
      • 13-21 = die verdeling van die land;
      • 22/23-24 = verbondsverpligtinge.

Hoofstukke 1-21 handel oor die Here se verbondsbeloftes wat Hy vervul, en 23-24 oor die verbondsverpligting wat daardeur op die volk gelê word (Josua 22 is ‘n tussenstuk.)

Ons teks kom uit die eerste gedeelte wat oor die verowering van die land handel. Die veroweringsberig, Josua 1-12, word in drie onderskeie dele weergegee:

      • 1-2 = die voorbereidings om die land binne te gaan;
      • 3-5 = die deurtog deur die Jordaan;
      • 6-12 = die verowering van verskillende dele en streke.

Deur die Jordaan

Hoofstuk 3 en 4 is eintlik ‘n aaneenlopende verhaal van die deurtog deur die Jordaan, terwyl hoofstuk 5 vertel van die besnydenis en Paasfees wat eers gevier moes word voordat Jerigo aangedurf word.

Die doel van die deurtog word verwoord in die laaste vers van Josua 4 (vers 24): … sodat al die volke van die aarde sal besef dat die mag van die Here groot is, [en] sodat julle die Here julle God altyd sal dien (vrees).

Die gedeelte word dan ook omraam deur die uitdruklike opmerkinge in 2:24 en 5:1 dat die volke Israel vrees omdat die Here die pad vir hulle oopmaak en die land aan hulle gee.

Tot hiertoe ons oorsig oor die inhoud van die boek

Oorgangstyd

Josua 3 handel dus baie duidelik oor die volk van God in ‘n oorgangstyd. ‘n Oorgangstyd gaan altyd gepaard met groot onsekerheid en verliese van ou sekerhede. Dit is een van die sleutelgedeeltes vir Israel se self-verstaan (Hamlin), met die oog op ‘n nuwe identiteit na die woestyntyd. Almal moet deur die Jordaan gaan. Niemand kan agterbly nie, want agter lê die woestyntyd en slegs verre herinneringe aan beter tye lank verby. Die voortstuwing van die geskiedenis, ja, van die vervulling van God se beloftes, vereis dat almal moet meegaan en saam met mekaar die vrese en ekstase van die oorgangstyd en nuwe toekoms beleef. Dis ‘n noodwendige waagstuk. Maar dis ook ‘n pad van oorwinningsekerheid vir hulle wat hulleself in God se hande toevertrou, en die teken van sy teenwoordigheid (die verbondsark en die priesters) gehoorsaam volg.

Wat hier met die Jordaanwaters gebeur, word in skeppingsterme beskryf in onder meer Job 38:8-11: Die Here tem en bedwing die chaosmagte. Wanneer die Skepper op so ‘n wonderbaarlike manier ingryp (3:5), kan sy volk deur geen seë of riviere – geen anti-goddelike magte – teruggehou word nie.

Krisis en geleentheid

Josua 3 handel oor die Godsvolk in ‘n oorgangsituasie, wat enersyds ‘n krisissituasie is, andersyds die‚ geleentheid wat hulle identiteit sou stempel en aan hulle koers sou gee vir soortgelyke oorgangstye in die toekoms. Ons kan aanvaar dat dié gedeelte veral aktueel was in die tyd na die ballingskap en voor die tweede besetting van die land. Die toepassing op die oorgangstyd waarin ons leef, is voor die hand liggend.

Die volgende temas in die teks is vir ons belangrik:

EEN: OORGANG

Die oorgang is ‘n breuk tussen die sekerhede van die verlede en die onsekerheid van die toekoms:

Die Jordaan was fisies die grens tussen die woestyn en beloofde land; maar ook die grens tussen twee eras: die tyd van Moses en dié van Josua. Die tyd van Moses was weliswaar die woestyntyd, maar tog ‘n vertroude tyd, van ‘n sterk leier, van vastigheid en sekerheid. Van bekende (alhoewel woestyn!) paaie. Moses is egter nou dood. Al was daar ook die hunkering na hom en sy dae, is dié tyd onherroeplik verby. Die grens na die onbekende moet eenvoudig oorgesteek word. Dis ‘n nuwe, onbekende pad (vers 4), met ‘n nuwe leier wat homself nog nie bewys het nie.

Die Here maak egter voorsiening vir hierdie onseker tyd. Hy gee Josua, die leier. Hy gee die ark van die verbond wat voor die volk uitbeweeg en die Here se teenwoordigheid beseël. Die Here gaan self mee, want die Here is besig om die afgode van die nasies te oorwin en sy ewige koningskap te bevestig.

God word deur almal erken

Die inname van die land is God se oorwinning oor die volke en hulle gode. In hierdie stryd is die Here die enigste werklike universele, magtige, God:

      • Hy is God bo in die hemel en onder op die aarde (2:11),
      • “die Here van die hele aarde” (3:11, 12);
      • “die lewende God” (3:10].
      • Hy span die natuurelemente (son, maan, haelstene – 10:11-15) in in sy stryd.
      • Hy gee aan Israel die land, Jerigo, die vyande, die aardbodem, rus vir die volk (die woord gee kom 28 keer voor).

Daarom vrees die volke en gode Hom. En daarom hoef Josua en Israel nie te vrees nie. Kry hulle trouens die opdrag “moenie bang wees nie….” Die Here se oorwinning ter wille van Israel is vas en seker. God sal die volke sekerlik verdryf (3:10).

Josua, die leier

In die verhaal van God se oorwinning oor die magte, oftewel die nakoming van sy verbondsbeloftes, speel die verbondsmiddelaar ‘n belangrike rol. Moses word opgevolg deur Josua. Dis belangrik dat Josua net soveel aanvaarding, aansien en respek verkry soos Moses gehad het. En dit is wat die Here gaan bewerk deur Israel droogvoets deur die Jordaan te laat trek soos destyds deur die Rietsee onder Moses se leiding (3:7, 4:14).

Deurtog

In die perspektief van die Josua-verhaal was Moses se tyd, die tyd van die eksodus, deurtog deur die Rietsee en woestyntog in werklikheid net ‘n voorbereiding vir die vervulling van God se beloftes. Die tyd van Josua is die tyd van vervulling van die landbelofte alreeds aan Abraham. Die deurtog deur die Jordaan is die aanvang en terselfdertyd voorwaarde vir die vervulling van die belofte.

Die deurtog of oorgang (die woord kom 22 keer in hoofstuk 3 en 4 voor) is dus nie toevallig nie, maar ‘n noodwendige en noodsaaklike stuk van die pad met God. Dis ‘n situasie waarin die hele Israel (3:7, 17) betrek word, sodat almal sal weet en beleef dat die lewende God by Josua en die volk is [net soos Hy met Moses en die volk was by die Rooi See – 4:23].

TWEE: ONSEKER LEIERSKAP

Terug by Josua as die nuwe leier. Die grens moet nou oorgesteek word met ‘n nuwe onsekere soort leierskap:

Met die oorsteek van die Rietsee destyds, was daar ‘n krag wat van die leierskap uitgegaan het. In Eksodus 14 lees ons dat die engel van die Here die leiding geneem het, die vuur- en wolkkolom tussen Israel en die Egiptiese leër ingebuffer het, en Moses met ‘n magsgebaar die waters van die see oopgekloof het. Moses se leierskap was bewese, alreeds in Egipte.

Hier by die Jordaan is Josua op die agtergrond, slegs maar die Here se mondstuk. Die volk kry ‘n opdrag by monde van die kampopsigters dat hulle die verbondsark moet volg sodra die priesters dit die Jordaan in dra. Josua bevestig hierdie opdrag met ‘n profetiese woord aan die volk (v 9). Die priesters met die ark moet die weg baan. Totaal en al die teendeel van magsvertoon.

Soos Josua (hoofstuk 1), het die volk niks meer nie as net die beloftewoord (die woord van Josua wat homself nog moet bewys!) en deur die ark die (swakke) teken van die Verbondsgod se teenwoordigheid. Dit verg inderdaad geloof om te glo dat die “Here van die hele aarde” die werklike leier is.

DRIE: DIE HERE LOOP VOOR

In hierdie oorganstyd moet die Here toegelaat word om voor te loop. Die volk moet afstand hou tussen hulle en die ark:

Die ark van die verbond

In hierdie oorganstyd speel die ark ‘n besondere rol. Dis simbool van die teenwoordigheid van die strydende en oorwinnende Here. Israel het die ark so met hierdie Here vereenselwig, dat hulle in ‘n latere episode die ark laat haal om die neerlaag teen die Filistyne te probeer omswaai in ‘n oorwinning – tot hulle eie skande (1 Sam 4).

In Josua is die ark “die ark van die verbond”; die draer van die “tafels” van die wet, die verbondsbepalings. Die Here is teenwoordig deur sy verbond, as die Verbondsgod, die Grootkoning wat Israel, sy bondgenoot beskerm en sy verbondsbeloftes teenoor Israel nakom. Op sy beurt moet Israel die eer aan die Here gee (die Here vrees, dien en gehoorsaam – 4:24).

In 3:4 word die afstand tussen die volk en die ark beklemtoon: die Here is heilig en kan nie gemanipuleer word nie (die verhaal van 1 Sam 4), maar moet in gehoorsaamheid gevolg word. Die teken dat die Here vir hulle die oorwinning behaal, is dat “die verbondsark van die Here van die hele aarde” voor hulle uit, die Jordaan in, gaan (3:11).

Afstand, God eerste

Die volk moet feitlik ‘n kilometer oophou tussen hulle en die ark. Hulle moet die afstand hou, al het hulle hulle gereinig. Waar die ark gaan, is heilige grond. Die ark gaan vooruit: God se geskiedenis gaan voorop. Daar is ‘n afstand tussen die menslike en die goddelike geskiedenis. Israel kan nie, soos wat so dikwels in die verlede gebeur het, hulle eie geskiedenis en God se geskiedenis met mekaar verknoop nie, asof hulle saak per se God se saak is, asof die volk se geskiedenis per se heilsgeskiedenis is. Israel se geskiedenis moet deursigtig wees as die terrein van God se handelinge. Deur hulle gehoorsame navolging moet die mense God kan raaksien, kan raaksien dat die lewende God die land binnegekom het. Alle direkte koppelings tussen volk en God, alle volksteologie, alle roem op godsdienstigheid en triomfalisme word hiermee by voorbaat afgesny.

VIER: NUWE SEKERHEID

Hierdie is ook ‘n tyd van nuwe sekerheid en belewing van God se wonders:

In die plek van die ou “sekerhede”, kom ‘n nuwe sekerheid. Die versekering dat God die vyandelike volke voor Israel uit sal verdryf (v 10), is gegrond op die teken van God se teenwoordigheid, die verbondsark, wat voor hulle sal uitgaan. So seker as die ark die water ingaan en die waters voor die ark opdroog, so seker voer die Here sy beloftes uit. Op die weg van gehoorsaamheid beleef die volk die wonderwerk.

Kwantitatief kan Israel ook honderd persent op God reken: die sewetal nasies wat uitgeroei sal word, is die simboliese volgetal. So ook die twaalf manne, verteenwoordigend van die hele Israel. Hoofstuk 3 begin en sluit af met “al die Israeliete, die hele Israel” wat voor die Jordaan te staan kom, en uiteindelik almal deur die Jordaan is. Hierdie sekerheid hang egter deurgaans saam met geloofsgehoorsaamheid, en hef nooit die spanning op tussen wat reeds gegee is en wat nog voorlê nie: die volk het regoor Jerigo deurgetrek (v 16) – in ‘n situasie wat opnuut geloofsmoed verg.

TOEPASSING

Ja, ons leef in ‘n oorgangstyd. In so ‘n situasie is dit vir ons belangrik

      • Om ons hoop op God te stel. Die Here bewaar ons nie van verandering, oorgange en deurgange nie. Die Here daag ons dikwels self uit. Maar die Here is met ons en bewaar ons. Hierdie is nie goedkoop stroop teen die pyn nie. Hierdie is ‘n diep versekering.
      • Die Here is steeds die oorwinnaar oor die magte. In Jesus Christus, die Gekruisigde en Opgestane Here is alles onderwerp. Niks kan ons skei van die liefde van God in Jesus Christus, ons Here nie.
      • Die versekering dat God met ons is plaas ook verantwoordelikheid op ons. Ons moet die Here voor laat loop. Ons is volgelinge. Ons doen soos die Here van ons vra.
      • Leierskap is belangrik. Ons benodig diensknegleiers, soos Josua. Dit is mense wat ons voorgaan in die navolging van die Here.

Wat doen die gebeure aan jou?

Die meeste van ons sal waarskynlik met verwondering reageer. Die verhaal beskryf immers die grootheid van die Here wat met ‘n wonderwerk sy volk droogvoets deur die Jordaan laat trek. Dit was boonop oestyd en die rivier het sy walle oorstroom. Dit beklemtoon die grootsheid van hierdie gebeure nóg verder. Ontsag en verwondering is baie natuurlike reaksies.

Die verbondsgod, Hy is die enigste God. Hy alleen is die magtige God wat groot dinge doen. Die tog deur die Jordaan is daarvan ‘n teken. Ons hoef nie die vreemde gode te vrees nie. Kyk wat het by die Jordaan gebeur, en later ook by Jerigo. Daarom kan hulle die Here steeds vertrou.

Dit is ‘n boodskap wat ons deeglik moet hoor. In ‘n tyd van onsekerheid en transformasie, moet ons dit weer met groot helderheid hoor: Die Here doen groot dinge.

En dié groot dinge lê nie altyd in die buitengewone nie. Die groot dinge wat God doen, lê ook in die gewone en alledaagse. Kyk hierdie kerk, die dorp met sy natuurskoon. Kyk na hierdie erediens waar broers en susters elke Sondag saamkom om te aanbid. Die skoene waarmee ek hardloop, die medisyne wat my beter laat voel, vanmiddag se nagereg. Kyk, God doen groot dinge! As ons net mooi kyk, sal ons die Jordaan-gebeure nog elke dag om ons sien.

Die Here wat groot dinge doen, is ook die Een wat by ons is. Ons sien in ons teks dat die priesters met die ark voor die volk uittrek. Die ark is die simbool van God se teenwoordigheid. Dit is nóg iets wat ons moet hoor in dié verhaal. God trek saam met ons die wêreld in. Ons is nie alleen nie. Hy is by ons. Josua 21:44 sê dat God sy volk in die beloofde land rus gee. God se teenwoordigheid bring rus en kalmte. Ons kan ontspan. Dit is ook hoekom ons kerk toe kom — om in sy teenwoordigheid te rus.

As die Here groot dinge doen, wat moet ons doen? Ons kan nie net passiewe toeskouers wees as die Here werk nie. In die boek Josua word die volk as ‘n gemeenskap geteken wat aan die Here gehoorsaam is en Hom volg. Hulle is sy medewerkers wat ook hulle deel doen om die land in besit te neem.

God stuur ons om te leef

Gebed
Gebruik die vrae aan die einde van die preek as ‘n geleentheid vir stil refleksie, of gee kans dat mense, veral in familieverband, daaroor gesels. Hierdie is ook ‘n goeie geleentheid om spesifiek dankie te sê en te bid vir die geloofsvoorbeelde in jul gemeente, hoe julle ookal kies om dit te interpreter – dalk kategete, kerkraadslede of ouer lidmate?

Dankoffer

      1. God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 505 Jesus, U gaan voor

Seën

Respons

Afhangende van hoof-fokus van preek, kies tussen:

Lied 505:3 laaste 2 reëls: U is in beheer / ons Verlosser, Heer. OF

Lied 505:4 laaste 2 reëls: U wat alles sien / leer ons sinvol dien.

Slotsang
Flam 100 Gaan Dan Heen
VONKK 38 Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser”

Seën

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.