Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die twee en twintigste Sondag in Koninkrykstyd val tussen die Seisoen van die Skepping en Hervorming-sondag. Die tekste saam moedig gehoorsaamheid aan: gehoorsaamheid aan God, sy wet en die evangelie. Hierdie gehoorsaamheid is nie ‘n blote lewenstyl nie, maar word op die gelowige se hart geskryf dat dit deel kan raak van sy/haar hele wese en sy/haar lewenspad lei.

Ander tekste

Psalm 119: 97-104
97Hoe lief het ek u wet!
Dit bly my elke oomblik by.
98U gebooie gee my meer insig
as wat my vyande het,
en is altyd by my.
99Ek munt uit bo al my leermeesters,
want u verordeninge bly my by.
100Ek het meer insig as ouer mense,
want ek gehoorsaam u bevele.
101Ek het my voete
van elke verkeerde pad af gehou
sodat ek gehoorsaam kan wees
aan u woord.
102Van u bepalings
het ek nie afgewyk nie,
want U het my dit geleer.
103Hoe aangenaam is u woord,
soeter as heuning in die mond.
104U bevele gee my insig,
daarom haat ek elke verkeerde pad.

2 Timoteus 3:14 – 4:5
Laaste opdrag aan Timoteus
10Maar jy het my nagevolg in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding, 11in vervolging en ontbering soos my te beurt geval het in Antiogië, Ikonium en Listra. Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered. 12Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. 13Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei.

14Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeester was 15en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. 16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

4 Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: 2verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, 3want daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. 4Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend. 5Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.

6Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. 7Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. 8Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

Lukas 18: 1-8
Die gelykenis van die weduwee en die regter
18 Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. 2Hy het gesê: “In ’n sekere stad was daar ’n regter wat geen eerbied vir God of agting vir ’n mens gehad het nie. 3En in dieselfde stad het ’n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: ‘Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.’4’n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan ’n mens steur ek my nie, 5maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.”

6Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter. 7Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? 8Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!

“Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?”

Fokusteks

Jeremia 31:27-34
31 Daardie tyd, sê die Here, sal Ek die God van al
die stamme van Israel wees,
en hulle sal my volk wees.
2So sê die Here:
Israel, die volk wat aan die swaard
ontkom het,
is begenadig in die woestyn,
hy sal na sy rusplek toe kom.
3Van ver af het die Here Hom
aan Israel bekend gemaak:
Ek het jou nog altyd liefgehad,
daarom het Ek jou met geduld verdra.
4Ek sal aan jou kinders gee, Israel,
jy sal kinders in die wêreld bring.
Jy sal weer jou tamboeryne dra,
jy sal uitgaan om te dans
saam met dié wat bly is.
5Jy sal weer wingerde plant
op die Samariaberge,
die boere sal dit plant
en die vrugte daarvan geniet.
6Die dag het aangebreek,
die dag waarop dié wat wag staan,
op die Efraimsberge sal roep:
“Kom ons gaan na Sion toe,
na die Here ons God toe.”
7So sê die Here:
Sing van blydskap oor Jakob,

die leier onder die nasies,juig oor hom!
Laat hoor julle loflied, en sê:
Red u volk, Here,
red wat van Israel oorgebly het!
8Ek laat kom hulle uit die land
in die noorde,
Ek vergader hulle van die uithoeke
van die aarde af:
onder hulle is blindes en kreupeles,
swanger vrouens en vrouens in kraam.
‘n Groot gemeente sal hiernatoe
terugkom.
9In trane sal hulle kom,
met smeekgebede,
maar Ek sal hulle lei,
Ek sal hulle by waterstrome bring,
op ‘n gelyk pad,
niemand sal struikel nie,
want Ek het Israel se Vader geword,
Efraim is my eersgeborene.
10Hoor die woord van die Here, nasies,
vertel dit aan die verste eilande!
Julle moet sê:
Hy wat vir Israel verstrooi het,
sal hom bymekaarmaak.
Die Here sal hom oppas
soos ‘n wagter sy trop skape oppas.
11Die Here het vir Jakob bevry,
hulle gered uit die mag van een
wat sterker as hulle is.
12Hulle sal kom
‘n op die Sionshoogte sing,
hulle sal straal van blydskap
oor die goeie
wat deur die Here gegee word:
oor koring, wyn en olie,
oor die aanteel van kleinvee
en grootvee.
Hulle sal floreer soos ‘n tuin
wat goed natgelei word,
hulle sal nie meer na water smag nie.
13Dan sal die jong meisies
dans van blydskap
saam met die jong mans en die ou mans.
Ek sal hulle droefheid
in vreugde verander,
Ek sal vir hulle uitkoms gee:
Ek sal hulle bly maak,
hulle sal geen kommer meer hê nie.
14Ek sal ‘n oorvloed goeie kos
vir die priesters gee,
my volk sal oorgenoeg hê
aan die goeie wat Ek gee, sê die Here.
15So sê die Here:
‘n Gekerm word op Rama gehoor,
‘n gehuil vol hartseer:
Ragel treur oor haar kinders,
sy wil haar nie laat troos nie,
want haar kinders is weg.
16So sê die Here: Bly stil,
moenie huil nie,
moenie trane in jou oë hê nie!
Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word,
sê die Here,
jou kinders sal uit die vyand se land
terugkom.
17Daar is ‘n toekoms vir jou nageslag,
sê die Here,
jou kinders sal na hulle besitting toe
terugkom.
18Ek het duidelik gehoor hoe Efraim kla:
“U het my gestraf,
ek is ingebreek soos ‘n kalf
wat mak gemaak is.
Bring my terug na U toe
dat ek my kan bekeer,
want U is die Here my God.
19Ek het weggedwaal,
maar ek het berou gehad,
ek het tot insig gekom
en myself vol berou
op die heupe geslaan,
ek het my geskaam,
ek het skande oor my gebring,
ek is verneder oor die sondes
van my jeug af.”
20Efraim is nie my troetelkind nie,
‘n kind in wie Ek My verlustig nie,
en tog, elke keer as Ek hom bestraf,
dink Ek met hartseer aan hom
en is Ek ontstel oor hom,
want Ek het hom baie lief,
sê die Here.
21Rig vir jou padwysers op,
bring vir jou rigtingborde aan,
hou jou oog op die grootpad,
op die pad wat jy moet loop.
Kom terug, Israel,
kom terug na jou stede toe.
22Hoe lank gaan jy nog talm,
jy wat so dikwels jou eie koers gaan?
Die Here skep iets nuuts in jou land:
Israel sal die Here liefhê.
23So sê die Here die Almagtige,
die God van Israel:
Wanneer Ek hulle lot verander,
sal hulle weer in Juda
en in sy stede sê:
Die Here sal jou seën,
regmatige woonplek,
heilige berg!
24Mense sal saam woon in Juda
en in sy stede,
boere en veewagters wat rondtrek.
25Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is,
Ek maak die moedelose weer vol moed.
26Dit is waarom Ek ingryp:
Ek het alles gesien,
Ek sal nie terugkom op my besluit nie.
27Daar kom ‘n tyd, sê die Here,
dat Ek Israel en Juda weer sal vol maak
met mense en diere.
28Ek was gretig om hulle uit te ruk
en af te breek,
om hulle plat te slaan en te vernietig,
om rampe oor hulle te bring. Ek sal net so gretig wees om hulle op te bou en hulle te plant, sê die Here. 29In daardie tyd sal hulle nie meer sê: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword” nie. 30Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word.

31Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34‘n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.
35So sê die Here,
Hy wat die son bedags laat skyn,
die maan en sterre beveel
om snags te skitter,
Hy wat die see
onstuimig laat word,
wat sy golwe laat druis,
wie se Naam Here die Almagtige is:
36Eers as hierdie dinge uit my teenwoordigheid verdwyn, sê die Here, sal die nageslag van Israel ophou om vir altyd in my teenwoordigheid ‘n nasie te wees.
37So sê die Here:
As die hemel daarbo afgemeet kan word
en as die fondamente van die aarde
daaronder vasgestel kan word,
sal Ek die hele nageslag van Israel
verwerp
oor alles wat hulle gedoen het,
sê die Here.

38Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat hierdie stad vir My herbou sal word van die Gananeltoring af tot by die Hoekpoort. 39Die maatlyn sal van daar af reguit loop tot by die Garebheuwel en dan sal dit swaai na Goa toe. 40Die hele dal waar lyke en as weggegooi word, en al die terrasse tot by Kedronspruit en ooswaarts tot by die Perdepoort sal aan die Here gewy wees. Dit sal nooit weer uitgeruk of platgeslaan word nie.

Ekstra stof

Jeremia 30:1-31:1 – Ek sal julle lot verander
Die boek van Vertroosting
Die volgende vier hoofstukke handel oor die toekomstige herstel van die land en volk – hoofstukke 30-33. Geleerdes noem dit die “Boek van Vertroosting“, ‘n boodskap van hoop midde-in die chaos wat die volk weens hulle ongehoorsaamheid tref.

Die belofte van herstel wat reeds in Jeremia se roeping opgesluit was (Jer. 1:10), maar tot dusver min aandag gekry het (vgl wel die vorige vyf heilsprofesieë: Jer. 16:14-21: “Ek sal hulle terugbring ná die oordeel – ook die nasies“; Jer. 23:1-8: “Ek sal ‘n regverdige koning voorsien“; Jer. 24: “Die ballinge van Juda is goeie vye“; Jer. 25: “Die ballingskap sal sewentig jaar duur“; Jer. 29: “Ek beplan vir julle voorspoed, nie teenspoed nie“), word nou helder verwoord.

Hoewel dit in hoofstuk 31-31 primêr om profesieë gaan, en dit in poëtiese taal geskryf is, is die tematiese en inhoudelike ooreenkomste met die verhalende gedeeltes van hoofstuk 32 soveel dat dit as ‘n eenheid beskou kan word. Die grondkooptransaksie van hoofstuk 32 staan immers as ‘n simbool of teken van die profesieë van hoofstukke 30-31 van ‘n hoopvolle toekoms wanneer die land van Israel en die volk van Israel en Juda weer verenig sal wees. En hoofstuk 33 se poëtiese gedeeltes sluit weer baie nou aan by hoofstuk 32, veral as ‘n mens vers 1 in ag neem: “Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom …”

Die beskrywing van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag in hoofstuk 33 kan moontlik as ‘n datering gebruik word vir die samestelling van die vier hoofstukke – “Skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in ‘n boek” (Jer. 30:2) – hoewel die onderskeie profesieë waarskynlik op verskillende tye ontvang is. Dit is saamgevoeg in die tyd van Sedekia, ná Jeremia uit die put getrek is en ingeperk is in die binneplaas (Jer. 38:13), baie naby aan die einde van Sedekia se regeringstyd en die aanvang van die ballingskap in 586 v.C.

Die sentrale boodskap van die “Boek van Vertroosting” word reeds in hfst. 30:3 gegee: “Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.” Die woord “lotsverandering” kom ses keer voor in dié vier hoofstukke (30:3,18; 31:23; 33:7,11,26) en som die kern van die boodskap van hoop op wat uitgepak word in terme van ‘n nuwe verbond (31:31-34; 32:38-41) waarin die Godsverhouding (30:22; 31:1,33; 32:38), hulle volkseenheid (31:27,31-34; 33:14) en hulle verhouding met die land (30:2,10; 31:8,17,21; 32:37) herstel sal word wat ook die herbou van die stad Jerusalem sal insluit (31:35-37; 33:6-10). Die effek van die ballingskap word dus omgekeer.

Let ook op dat die boodskap nie net vir die Suidryk – Juda waarby Benjamin geïnkorporeer is – se ballinge bedoel is nie, maar ook vir die ballinge wat reeds ‘n eeu tevore uit die Noordryk – die tien stamme ryk van Israel – weggevoer is in ballingskap (722 v.C.). Só is dit ook al vroeër geformuleer (Jer. 16:14-15 [lande]; 23:3 [lande]; 23:6 [Juda en Israel]; 23:8 [Israel en lande]; 29:14 [plekke]), hoewel dit uiteraard ook die huidige ballinge insluit (Jer. 24:6; 29:10). Jeremia het selfs van ‘n terugkeer van die nasies na die Here gepraat in soortgelyke terme (Jer. 16:19).

Daarom word die volk ook hier in hoofstuk 30 as Jakob aangespreek, en in hoofstuk 31 as Efraim en Juda om die eenheid van die Godsvolk in die oë van die Here aan te dui. Die Here se onverbreekbare band met die hele Israel word in hoofstuk 31 beklemtoon met verwysing na Sy soortgelyke onverbreekbare band met die Skepping (31:35-37).

Geen wonder dat die terugkeer uit die ballingskap gevolglik op alle Jode van toepassing was, waar hulle hulself ook al bevind het. So is die edik van die Persiese koning Kores geformuleer wat aan alle nasies onder sy beheer gestuur is: “Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort, kan teruggaan, en mag die Here sy God by hom wees” (2 Kron. 36:22-23; Esra 1:1-4). Hoewel daar dus meer mense van Juda (dele van Efraim, Manasse en Simeon is vroeër al by hulle ingesluit – 2 Kron. 15:9; ‘n hele klomp “Joodse” immigrante is ook in die tyd van Hiskia by Juda ingesluit – vgl. 2 Kron. 30:25) en Benjamin, sowel as van Levi teruggekom het, het dit ook ander Joodse families ingesluit.

30:1-3 – Opskrif
Die sentrale boodskap van hierdie “Boek van Vertroosting” is die volgende: “Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.” Die Here belowe dat die ballingskap opgehef sal word en dat hulle weer sal kan terugkeer na die land wat God aan hulle gegee het.

Hierna volg daar sewe profesieë, verspreid oor die volgende twee hoofstukke, wat God se boodskap van omvattende herstel beskryf:

  • 30:4-11 – Jakob se benoudheid en bevryding
  • 30:12-17 – Die genesing van Sion se ongeneeslike wonde
  • 30:18-31:1 – Die herstel van Jakob as verbondsgemeenskap
  • 31:2-6 – God se genadige hervestiging van Israel en Juda
  • 31:7-14 – Israel se tuiskoms om God se genade te geniet
  • 31:15-22 – Die omkeer van Ragel se rou met Efraim se terugkeer
  • 31:23-40 – Die omvattende lotsverandering van Israel en Juda

30:4-11 – Jakob se benoudheid en bevryding
Jeremia sluit aan by die angs en vrees wat die Jode ervaar – “Waarom het elke gesig doodsbleek geword?” – met die chaos wat die ballingskap bring. Dit is ‘n tyd van weergalose swaarkry, “maar hy (Jakob) sal daaruit gered word.”

Die Here belowe dat die juk van die vyand afgegooi sal word en hulle bevryding sal beleef. Hulle sal die Here kan dien in vryheid met die nuut-aangestelde koning Dawid. Daarom hoef hulle nie bang te wees waar hulle hul ook al mag bevind nie, want die Here is by hulle om nie net die nasies uit te wis nie, maar hulle te bevestig: “Ek sal jou nie uitwis nie.” Hulle sal wel nie ongestraf bly nie, maar die Here sal regverdig wees.

30:12-17 – Die genesing van Sion se ongeneeslike wonde
Die ongeneeslike en dodelike siekte van Sion, die stad Jerusalem, word in geen onduidelike taal geskets. “Almal wat jou liefgehad het, het jou vergeet, hulle gee nie vir jou om nie.” Op die koop toe is dit die werk van die Here self wat hulle gestraf het weens hulle ongeregtigheid en sonde. Daarom kan hulle nie regtig kla daaroor nie!

Maar, die genade is dat God Hy self hulle wonde sal genees: “Ek sal jou gesond maak, jou wonde genees, sê die Here.” Dit sal insluit dat Hy hulle teëstanders sal straf en in ballingskap sal wegvoer.

30:18-31:1 – Die herstel van Jakob as verbondsgemeenskap
Die naam van die stamvader, Jakob, word doelbewus gebruik om die belofte van die herstel van die verbondsgemeenskap aan die hele volk Israel te koppel. Al Jakob se woonplekke, al die streke waar hy woon, sal herbou word. Die stad Jerusalem sal herbou word sowel as die paleis en daar sal weer feesgevier word soos tevore: “die gemeente in hom sal in blywende plek hê in my teenwoordigheid“.

Hulle leier sal ongehinderde toegang tot die Here hê: “Ek sal hom laat nader kom en hy sal na My toe kom.” Uiteraard het beide Nehemia en Esra met die terugkoms ná die ballingskap dié voorreg gebruik (Neh. 1; Esra 9), maar dit slaan ook op die Messiaanse vervulling in Jesus sowel as op die voorreg wat elke kind van God het: “ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom … laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid.” (Hebr. 9:19-25).

Jeremia 31:2-40 – Ek sluit ‘n nuwe verbond met julle
31:2-6 – God se genadige hervestiging van Israel en Juda
Twee belangrike eksegetiese gegewens in dié perikoop is ongelukkig wegvertaal in die NAV. Die eerste is die feit dat Israel in vers 4 as ‘n jongvrou, ‘n maagd beskrywe word. Dit beteken dat God die verhouding met Israel só nuut maak dat dit is asof hulle weer oor begin, asof dinge só nuut gemaak is, dat die verlede van hulle gebroke verhouding nie meer bestaan nie.

Die tweede is dat die hervestiging van Israel en Juda in hulle eie land met drie beloftes beskrywe word wat telkens met die woordjie weer weergegee word in vers 4 en 5. Dit is die kern van God se prentjie van die toekoms wat Hy vir hulle skep, soos die OAV dit meer letterlik vertaal het: “4Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers. 5Jy sal weer wingerde plant op die berge van Samaría; die planters sal plant en die vrugte geniet.” Die belofte van hervestiging in hulle eie land sluit dus hulle geloofsgemeenskap as God se volk, die genot van ‘n normale gemeenskapslewe wat in hulle feeste tot sy reg sal kom, en die herstel van hulle ekonomieselewe in.

Let ook op dat die woorde bou en plant direk aan Jeremia se roeping in die eerste hoofstuk verbind is. In God se genade en geduld maak Hy alles nuut, sodat die oproep om die Here, hulle God, te aanbid, weer gehoor en gehoorsaam kan word. Hoekom? “Ek het jou nog altyd liefgehad,” sê die Here.

Let ook op dat die volk ten diepste in sy verhouding met God geteken word, soos dit regdeur hierdie hoofstuk die geval sal wees, trouens soos dit regdeur die OT die geval is. Dit is nie hulle etnisiteit of afkoms wat die Godsverhouding tipeer in die eerste plek nie, maar die feit dat God Hom aan hulle verbind. Sonder die herstel van hulle verhouding met God is daar geen godsdienstige volk van Israel nie. Iets om in gedagte te hou in enige nadenke oor Israel as Godsvolk. Israel as Godsvolk is ‘n teologiese konsep. Die God van Israel is bepalend vir die godsdienstige begrip Israel.

Die naam Israel mag dus nooit losgemaak word van die God wat die naam aan hulle gegee het nie. Buite God om het die naam Israel geen selfstandige godsdienstige betekenis nie.

31:7-14 – Israel se tuiskoms om God se genade te geniet
Die Here roep almal op om ‘n loflied oor sy volk te sing wat Hy van die uithoeke van die aarde af sal terugbring na hulle land. ‘n Groot menigte sal terugkom onder leiding van die Here, waaronder ook blindes en kreupeles, swanger vrouens en vrouens in kraam. Dit dui op die wonder karakter van die terugkoms.

Die volk word met die name Jakob, Efraim (Josef se tweede kind, maar wat deur Jakob bó die eersgeborene Manasse geseën is – Esegiël 37 voorspel dat Efraim deel van Juda sal word) en Israel aangedui wat die tema van die eenheid van die Godsvolk voortsit. Hulle sal terugkom om God se genade te geniet: “Hulle sal straal van blydskap oor die goeie wat deur die Here gegee word.”

Hulle sal voorspoed geniet, amper soos dit in Psalm 1 beskrywe word: “Hulle sal floreer soos ‘n tuin wat goed natgelei word.” Alle ouderdomme sal die voordeel daarvan geniet: jong meisies, jong mans, en ou mans. Hulle droefheid sal in vreugde verander word. Selfs die priesters sal ‘n oorvloed goeie kos hê, omdat die volk oorgenoeg sal hê aan die goeie wat die Here vir hulle sal gee.

Let ook op hoe God as Vader beskrywe word, een van die min geleenthede in die OT.

31:15-22 – Die omkeer van Ragel se rou met Efraim se terugkeer
Die volk word in hierdie gedeelte met drie name beskryf, Ragel (Jakob se geliefde vrou, ma van Josef, ouma van Efraim), Efraim (Jakob se geliefde kleinseun) en die jongvrou of maagd Israel (soos dit in die oorspronklike teks is).

Ragel word hier dus as volksmoeder geteken, eerder as Lea, hoewel sy en Jakob net twee kinders gehad het, Josef en Benjamin. Die smart oor die ballingskap word hier met haar verbind om ook die omkeer van die ballingskap as geskenk aan haar te kan teken: “Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word.”

Efraim word hier as die uitverkore nageslag van Jakob geteken wat in berou die Here opsoek en oor wie die Here Hom dan ontferm en hervestig in die land. Hoewel hulle die Here op baie maniere gefrustreer het, is die liefde van die Here meer as sy ontsteltenis oor hulle. Daarom bring Hy hulle terug na hulle land toe.

Die volk Israel wat teruggebring word, word as jongvrou of maagd beskrywe om die nuwe begin wat die Here met hulle maak, te skets: “Die Here skep iets nuuts in jou land: Israel sal die Here liefhê.” Die woord skep is ‘n woord wat in die OT net met God verbind word en ook net gebruik word vir beskrywings van die eersteskepping en die kere waar daar van ‘n herskepping sprake is. Dit is ook die enigste keer in Jeremia wat dié woord gebruik word, wat die gewig van dié nuwe skepping van God onderstreep, naamlik, dat die volk God se liefde sal kan eggo, sal kan beantwoord.

Die frase wat vertaal is met: “Israel sal die Here liefhê“, lui letterlik só: “vrou omhels man“. In die konteks dui dit op Israel as die vrou en God as die man. Dit beteken dus dat die liefde tussen die volk en God ook van die volk af sal kom, ‘n baie belangrike, hoewel ietwat enigmatiese formulering. Eugene Peterson vertaal dit op pragtige wyse: “A transformed woman will embrace the transforming God!

Dit is voorwaar ‘n dinamiese formulering van die liefde vir God wat Jesus vir ons kom moontlik maak het!

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 269 of Psalm 119 verse 18-19

Votum: (Nav Ps 25 uit “Psalms en Gesange”)

Seëngroet

Lofsang: Lied 292

Doop en Toewyding: Flam 454 of Lied 290

Geloofsbelydenis: VONKK 210 of Lied 495

HOOR

Gebed

Lied: VONKK 137

Familie-oomblik

Skriflesing: Jeremia 31:27-34

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffers

Slotsang: Lied 327

Seën

Respons: Enige van Lied 312-315 of F361

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 269 Hy Verwelkom My of
Psalm 119 verse 18-19

Votum
Gods geheimenis is die lewe
Vir wie wandel in sy vrees;
En hy’t sy verbond gegewe
Om vir hul ‘n lig te wees.
(Nav Ps 25 uit “Psalms en Gesange)

Seëngroet

Lofsang
Lied 292 “My enigste troos”

Doop en Toewyding
Voorganger: Ons doop is ’n teken en seel dat God ons gered het. Deur die geboorte, dood en opstanding van Jesus Christus is die magte wat ons bind, verbreek en het God se koninkryk ons wêreld ingekom. Deur ons doop is ons burgers van God se koninkryk gemaak en vrygemaak van alles wat ons gevange hou. Kom ons vier vanoggend opnuut hierdie vryheid deur die beloftes wat by ons doop gemaak is te herbevestig.
Ons gaan ons vanoggend opnuut aan God toewy deur ons geloof te bely en die doopwater aan te raak.

V: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Gemeente: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat God ons Vader met jou doop al sy beloftes aan jou toegesê en jou Syne gemaak het.
Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat Jesus Christus vir jou gesterf het en dat jy die redding wat Hy bewerk het, besit.
Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Heilige Gees in jou woon en vir jou die krag gee om ’n ware dissipel van Jesus te wees.
Jy behoort aan die Here en niks kan hierdie waarheid ooit verander nie.
G: Amen.
(Uit Wepener, Cas. 2011. Soos ‘n Blom na die Son Draai. Wellington, Bybelmedia.)

Terwyl ‘n lied gesing word, kom lidmate vorentoe en steek hul hande in die doopvont. (Sien ook Handleiding vir die Erediens, pp 50-51)
Flam 454 Psalm 119
Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is”

Geloofsbelydenis
VONKK 210 Heer, U Het Die Eerste Woord Gesê
Lied 495 “Jesus, U verbly my”

Liedere

F269. “Hy Verwelkom My”
(RUBRIEK: Flam – Toetrede) Teks en musiek: Elmarie Wiesner © Urial Publishing

1. Ek het toegang tot die Vader
en sy heiligdom.
Op ’n weg wat heel nuut is
voorberei deur Hom.
Vrygespreek en veilig
want Jesus het betaal.
In sy oë heilig,
deur sy liefde so bepaal.

2. Vrymoedig, vol vertroue,
nader ek tot God,
Hy dink nie aan my sonde nie.
Ons het ’n ewige verbond,
Hy het sy wet in my hart gegee
geskryf in my verstand
sy Heilige Gees getuig in my
Hy hou my in sy hand.
Hy verwelkom my,
my plek voorberei.
In genade vry
kom ek nader om te bly.

F454. “Psalm 119”
(RUBRIEK: FLAM – Verwondering / Geloof en vertroue) Teks: TT Cloete
Kopiereg: © NG Kerk Uitgewers (Psalm 119) Musiek: Louis Brittz © Urial Publishing (Ps 119)

Ja, dit gaan goed met die pelgrim wat leef,
wat met u woorde in sy hart na u leiding streef.
Gee dat ook ek by u voorskrif kan hou
op u raad my lewe bou.

Refrein:
U Woord is die lamp wat die weg my wys
die lig op my donker pad.
Here, leer my u weë
laat my daarlangs loop
laat my vreugde daarin vind.
Hoe kan ’n jongmens sy pad skoon hou?
Deur te luister na u Woord.
Om daar by te hou
wat U bepaal het, sal ewig staan
u bevele sal nooit vergaan.

Refrein 2:
U Woord is die rots waarop ons kan bou.
Van geslag tot geslag bly U steeds getrou
aan U kom lof toe en aan U eer.
Sal U my na u voorskrif leer?
Refrein: (x2)

VONKK 210 “Heer, U Het Die Eerste Woord Gesê”
Teks: Pieter Malherbe 2011 ©¬ Melodie: JOHAN SE BELYDENIS – Pieter Malherbe 2011 ©
Orrel- en klavierbegeleiding: Daleen Kruger 2012 (Pro Deo) © 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Doop

Heer, U het die eerste woord gesê
en by die doop het U gewys dat U my wil hê,
dat ek in u hand kan lewe
en kan weet ek is vergewe –
by die doop het U die eerste woord gesê.

Refrein:
U hou my vas, U beloftes gee my hoop.
U hou my vas, ek sal antwoord met geloof.
Hou my vas, op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou,
op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou.
Heer, U het my eerste liefgehad,
in die verbond hoor ek U praat
en U vat my hand.
Deur u bloed word ek beskerm,
U het U oor my ontferm.
By my doop het U die eerste woord gesê.

Refrein:
U hou my vas, U beloftes gee my hoop.
U hou my vas, ek sal antwoord met geloof.
Hou my vas, op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou.
U hou my vas, U beloftes gee my hoop.
U hou my vas, ek sal antwoord met geloof.
Hou my vas, op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou,
op die Vader, Seun en Gees sal ek vertrou.

VONKK 137 “Soos ‘n Flits In Die Donker”
Nav Psalm 119 : 97, 105 Teks: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Melodie: ANUSKA – Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo) Orrelbegeleiding: Daleen Kruger 2011 (Pro Deo) © 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kinderpsalm – Die Wil van God / Voorbereiding om God se Woord te hoor / Geloof en Vertroue / Kindwees

Soos ‘n flits in die donker is die Bybel vir my;
dis ‘n lig wat my wys hoe ek naby God kan bly.
Ek is lief vir U, Heer, ek wil hoor wat U sê,
want u woorde leer vir my om te doen wat U wil hê.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Lied: VONKK 137 Soos ‘n Flits In Die Donker

Familie-oomblik

Skriflesing: Jeremia 31:27-34

Preek

Familie-oomblik

Vers 33 is die beste aansluitingspunt vir kinders: “Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê.” God sê dat sy woord nie op kliptablette of in boeke sal wees nie, maar in ons harte. Kinders dink natuurlik baie letterlik, so jy sal dit bietjie moet verduidelik. Lag saam oor die absurde idee van God wat ons harte uit ons bors uithaal en met ‘n pen daarop skryf. Gesels dan oor die idee van iets “uit jou kop uit” memoriseer. Die Engels praat van “by heart.” Om net ‘n Bybel te hê, beteken nie veel nie. Dit is eers wanneer ons dit lees, wat dit regtig ons s’n word – in ons harte geskryf word. Dan word die woorde op papier woorde in ons harte.

Reël gerus vooraf dat kinders hul Bybels saambring en verwonder julle saam aan al die verskillende Bybels. Reël ook dat ‘n ouer persoon wat ‘n stukkend geleesde Bybel het, dit bring. Kyk daarna en gesels oor die manier waarop die Bybel so deel van daardie mens se lewe is dat, selfs al val dit heeltemal uitmekaar, is dit binne hul harte. (As julle ‘n interessante kanselbybel met ‘n besondere geskiedenis het, kan jy dit ook wys en die storie vertel.)
OF
Carolyn Brown (worshipingwithchildren.blogspot.com) stel ook voor:
“Tattoos fascinate children. They love sporting stick-on tattoos from birthday parties or community fairs. Talk about using tattoos to identify yourself. (In my town most children have worn a UVA tattoo and would not consider wearing a VT one if it was the last tattoo available!) Note the difference in how long stick-on and permanent tattoos last. We can try out stick on tattoos. But when you get a permanent tattoo it is going to be there the rest of your life. It will become part of us. Jeremiah is saying that God’s Law will be tattooed on us, it will become part of us forever.”

Deel “temporary tatoos” uit!

Preekriglyn

Mense het ‘n eindelose vermoë om hulle eie kop te volg en hul eie geluk te probeer skep, volgens hulle eie reëls. Die moderne samelewing met sy enorme sosiale probleme is ‘n voorbeeld hiervan.

Dikwels boemerang ons pogings om ons eie geluk te skep.

Anne Widdecombe skryf: “Laat ons erken, ons is nie ‘n meer gelukkige samelewing as gevolg van die bevryding van die 1960’s en 1970’s nie. Ons het al die bande afgegooi. Nou bereik die egskeidings-koers rekordvlakke, so ook die koers van selfdood, van tienerswangerskappe, van jeugmisdaad, asook van kinderseks. Ons moet eerlike wees en erken die Groot Eksperiment het misluk. Jy kan nie geluk hê sonder om norme en waardes na te volg nie.”

In Jeremia se tyd het God se volk ook hul eie kop gevolg. Hulle het God probeer paai met uiterlike vormgodsdiens, en gemaak soos hulle wil. God los hulle egter nie, maar voed hulle op, tug hulle, en bring hulle weer by sy genade uit.

Ons teks handel oor God se gewilligheid om met sondige mense te bly werk, selfs in die aangesig van hul opstand en verwerping van Hom as God. God is genadig, geduldig en vol liefde. God bly by sondaars, werk met hulle, lei hulle deur die woestyn en – in hierdie geval – deur ballingskap, maar bring hulle uiteindelik altyd weer by sy genade uit.

Troosboek

Jeremia se boodskap was dat die volk van God gesondig het, bly volhard het ten spyte van waarskuwings, en daarom deur God gestraf is. God het die Babiloniërs as instrument gebruik om die volk in ballingskap te plaas. Die Israeliete het dit as ‘n harde woord beleef, en dit verwerp. Hulle het eerder valse profete geglo wat hulle gepaai het met beloftes dat God sy volk se lot vinnig sal verander.

Tog het Jeremia nie net van God se oordeel getuig nie. Ons teks kom uit ‘n gedeelte van Jeremia wat as die “Boek van Vertroosting” bekendstaan. Die sentrale boodskap van die “Boek van Vertroosting” word reeds in hfst. 30:3 gegee: “Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.” Die belofte is dat God sy volk sal vernuwe en vir hulle ‘n nuwe toekoms sal gee.

In die “Boek van Vertroosting” word hierdie vernuwing uitgespel.

Twee dele

Ons teks, verse 27 tot 34, kan in twee dele ingedeel word:

  • Die eerste gedeelte (27-30) vertel van God se belofte om die beloofde land weer met lewe te vul, en elke gelowige persoonlik verantwoordelik te hou vir sy/haar sonde.
  • Die tweede gedeelte (31-34) vertel van die nuwe verbond of ooreenkoms wat die Here met sy volk sluit, en wat die aard van hierdie verbond is.

Een: Die volk sal floreer
In die eerste gedeelte (27-30) beloof die Here om alle oordeel wat in die verlede oor die volk uitgespreek is, en wat hulle ontwortel en in ballingskap laat beland het, nietig te verklaar. Die Here sal nou ‘n bouer en ‘n saaier wees wat die volk opbou en plant. Net soos die Here vantevore vrugbaarheid en vermeerdering aan die volk geskenk het, sal Hy nou weer doen. Die Here sal die volk help floreer.

Die Here haal ‘n bekende spreuk onder die ballinge aan. Hulle het blykbaar dikwels gesê: “Die vaders het groen druiwe geëet en die kinders se tande het stomp geword” (29). Daarmee het hulle bedoel die geslagte voor hulle het gesondig, maar dat hulle nou die gevolge moes dra. Die Here verwyder in hierdie tyd die rede vir hulle klag. Die straf vir vorige generasies sal nie meer op die huidige geslag neerkom nie, want die Here se wet sal regmatig geïmplementeer word.

Van nou af sal almal persoonlik verantwoordelik wees vir hulle sonde, hulle eie “tande sal stomp word”. Persoonlike geloof en persoonlike geloofsverantwoordelikheid word nou herstel.

Hoe doen die Here dit? Deur ‘n nuwe verbond met die volk te sluit waarin die Here sy gebooie persoonlik op elkeen se hart sal skryf.

Twee: Die Here sluit ‘n nuwe verbond
Die Here sê die nuwe verbond is anders as die ou verbond wat Hy gesluit het toe Hy Israel in Egipte aan die hand gevat en hulle uit slawerny gelei het. Toe is die verbond op Sinaïberg op kliptafels geskryf en aan die volk gegee. Die inhoud was dat God sy volk getrou sal versorg en dra, en dat hulle verantwoordelikheid was om deur liefde en gehoorsaamheid op God se redding en trou te reageer.

Die volk het hierdie ou verbond deur hulle ongehoorsaamheid en ontrou tot niet gemaak, al het die Here getrou gebly. Die ontrouheid het oor opeenvolgende geslagte voorgekom, en het op die ballingskap uitgeloop. In die grondtaal word die ontrouheid vergelyk met egbreuk. Vir die Here kan die eeue-oue ontrou nie meer herstel word nie.

Die enigste alternatief is ‘n “nuwe verbond” wat die Here sluit met ‘n “nuwe eggenoot”, die huidige en toekomstige geslagte van sy volk. Die doel van die “nuwe verbond” is wel soos die “ou verbond”, naamlik die genadige verbinding van God aan sy volk.

Die formaat van die nuwe verbond gaan nou anders wees. Die Here gaan dit “… op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê”. Dit is dus nie in die vorm van ‘n wetboek of twee kliptafels soos in die verlede, wat die verhouding tussen God en die mens uitdruk nie. Die verbond is nou wesenlik deel van hulle harte, gedagtes, hul verstand, geheue en wil. Op dieselfde plekke waar die volk se sonde lê (“Die sonde van Juda is ingegraveer met ‘n ysterpen, ingegrif met ‘n diamantpunt op hul harte …” – Jer 17:1), neem die Here nou beheer en stel die verbond op Goddelike inisiatief in.

Die gevolg van hierdie nuwe verbond (34) is dat almal (“… klein en groot …”) van harte wetsgehoorsaam sal wees en Goddelike eerbied toon. “‘n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: ‘Jy moet die Here dien’ nie”, want geloofsafvalligheid en verval sal nie meer deel uitmaak van die volk se lewenswyse nie. Deur die geskenk van Goddelike genade (en nie deur die goeie werk van die volk nie) sal hulle bevry wees van sonde en oordeel, en die Here ken.

Hierdie nuwe verbond sal nie net die einde van hul ballingskap wees nie, maar ook die vergifnis van hulle sondes.

Die groter prentjie

Die twee dele van ons teks, die belofte van land en lewe wat floreer, en die belofte van die wet in die volk se hart en gedagtes geskryf, is ‘n samevatting van vyf besondere beloftes wat God in die groter konteks van hierdie gedeelte gee. Ons kan dit as volg opsom:

1. 31:23-26 – Die herstel van hulle grondgebied – die Here wil hê dat mense weer gedy in hulle eie woonplek: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed.”

2. 31:27-30 – Die herstel van die gemeenskapslewe – die Here wil hê dat mens en dier vrugbaar sal wees in die land, soos dit met die skepping bedoel is, en besluit om hulle te bou en te plant, die metafore van Jeremia se roepingsopdrag. Hy sal spesifiek individuele verantwoordelikheid instel, sodat die “groen druiwe” nie die hele oes sal benadeel!

3. 31:31-34 – Die sluit van ‘n Nuwe Verbond – die Here wil die gebreke van die Ou Verbond herstel waarin die volk dit kon verbreek, al was God getrou aan hulle. Hy skrywe nou die wet (woorde) van die verbond as ‘n interne werklikheid in hulle harte en binneste (gedagtes) wat hulle op ‘n onverbreekbare manier aan Hom sal verbind. God gee dus die innerlike motivering en krag wat nodig sal wees vir die nakoming van die wet in die nuwe verbond.

4. 31:35-37 – Die bevestiging van die onverbreekbare band tussen die Here en die nasie Israel – die Here is aan die nasie van Israel só verbonde soos Hy aan die skepping verbonde is. Hy sal nooit die hele nageslag van Israel in totaliteit verwerp “oor alles wat hulle gedoen het” nie. Die geestelike verbintenis met God is noodsaaklik om die werklikheid hiervan te kan geniet.

5. 31:38-40 – Die herbou van die stad Jerusalem (vgl. Neh. 3) – die Here sal Jerusalem herbou sodat dit weer sy heilige plek sal wees. En onthou, selfs in die nuwe hemel en aarde, bly Jerusalem die fokus van die belewenis van God se teenwoordigheid, soos die Openbaring aan Johannes dit veel later steeds sal bevestig.

Let op dat die belofte van die Nuwe Verbond die hart van hierdie vyf beloftes uitmaak. Die eerste en vyfde belofte is geografies van aard en het met die grondgebied en die stad te make. Die tweede en vierde belofte is sosiaal van aard en het met die gemeenskapslewe en God se verbintenis aan hulle as nasie te make. Die derde belofte vorm dus die kern van die belofte van ‘n omvattende lotsverandering, dit is die geestelike belofte van ‘n nuwe verbond van vergifnis en vernuwing.

Boodskap van lotsverandering

Die boodskap van God wat ‘n omvattende lotsverandering teweegbring vir sy volk, troon bó die vorige boodskappe van die onafwendbare oordeel oor die volk uit. Dít is die klein stukkie genade waarvoor Jeremia gebid het IN die oordeel. Hierdie genade troon só groot uit bo die oordeel, dat die oordeel inderdaad verdwerg word. God se nuwe skepping is inderdaad goed.

Dit is heerlik om aan dié boodskap van heil vas te gryp. Dit is heerlik om die innerlike motivering en krag wat God deur sy Gees in ons gee, te kan ervaar. Dit maak alles die moeite werd en bring ‘n sekerheid wat nie op eie vermoë gebaseer is nie, maar op God wat binne ons werk.

Dit geld ook vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges. Vir ons het die verbond ten volle nuut geword in Christus, wat die groot genade van God is, die Een wat ons lot totaal verander en vir ons nuwe lewe en nuwe uitsig gee. “How great is our God, how great is our God!” (Chris Tomlin).

‘n Vertroostende God

Ons is geneig om dikwels aan God as bloot ‘n veroordelende God te dink. Uit vrees moet jy in jou spoor trap. In ons teks leer ons die moederlike, vertroostende kant van God ken.

Om iemand te vertroos, is om langs daardie persoon in sy/haar oomblik van pyn en hartseer te staan en te bemoedig, te ondersteun en getroue liefde aan hom/haar te bewys. Dit is wat God in hierdie gedeelte doen. Alhoewel dit Hyself was wat die volk in ballingskap geplaas en hierdeur gestraf het, is dit ook Hyself wat hulle in daardie omstandighede omarm en troos deur hulle te verseker dat Hy hulle sal plant en opbou nadat Hy hulle platgeslaan en vernietig het. Oordeel en straf is nie die finale boodskap nie, maar gaan gepaard met die vrede en heelheid van God, die shalôm (sien Jer 29).

Hierdie boodskap van vertroosting kom na ons as gemeente deur die teks van Jeremia 31.

Ingrypende troos

Ons moet duidelik raaksien op watter drastiese manier hierdie vertroosting plaasvind. Die Here verander die dinamika tussen Homself en die gelowiges van daardie tyd deur aan te dui dat die ou verhouding, naamlik die ou verbond, nie meer die normatief sal wees nie.

Dit beteken nie dat die wet gekanselleer word nie. Dit beteken wel dat die manier hoe die wet in hulle lewe teenwoordig is, verander. Vroeër was die wet ekstern, dit is deur kliptafels, boekrolle, die tempel en die offerdiens aan hulle voorgehou. Die koning was God se verteenwoordiger wat hulle aan die wet moes hou.

Al hierdie dinge is nou weg: tempel, offerdiens, koning en stad. Dis ook nie meer nodig nie. God skryf hierdie dinge nou in hulle harte en gedagtes, die lewe wat God vra kom deur die oordink en doen van die wet. God is daar, al is al die dinge wat sy teenwoordigheid moet uitbeeld nie meer nie. Sy shalôm is teenwoordig in hulle harte en hul verstand, in als wat hulle dink, sê en voel.

Niks kan nou meer skeiding maak tussen hulle en God nie, selfs nie hulle voormalige sondige lewe nie,

Tweede kans

Hierdie is die ingrypende troos van ‘n tweede kans met God. Deur die gebruik van die term “nuwe verbond” gee die Here eintlik die volk ‘n vars begin, ‘n tweede kans om oor te begin en nuut te leef waar hulle voorheen gefaal het. Hy vertroos hulle met sy genade van vergifnis.

In Christus, die beliggaming van God se verbond met die mens, is ons ook ingeplant in God se tweede kans. Ons is die wilde olyf wat ingeplant is op Israel, op die mak olyf (Romeine 11) en deel daarom aan God se nuwe begin met mense. Ons het ook kans op vergifnis en genade.

Moenie jou eie kop volg nie

Mens moet daarom nie jou eie kop volg, jou eie reëls sonder God maak, en jou eie geluk probeer skep nie. Ou Israel het al die kortpaaie geskep wat hulle gedink het vrede en voorspoed gaan bring. Hulle het in die moeras van die ballingskap, in doodloopstrate van formaat beland.

Ons moet liewers kinders van God se tweede begin wees. Ons deel in die begin wat God volgens Jeremia maak so lank gelede in die verre Babilon van ballingskap. Ons het Christus ontvang as deel van God se nuwe begin met mense. Ons het die Gees ontvang wat God se Woord lewend in ons harte hou.

Laat ons daarom vanuit hierdie genade leef. En waar ons val, laat ons opstaan saam met Christus, deur Woord en Gees, sodat veranker bly in die geleentheid tot volle lewe wat God bied.

Dit is hoe lewe floreer.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffers

Slotsang
Lied 327 “Dag van verlossing! Kyk, hy kom”

Seën
Die Here sal sy woord op julle harte skryf
en dit in julle gedagte vaslê.
Die Here sal julle God wees
en julle sal sy volk wees

Respons
Enige van Lied 312-315
of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed) Teks en musiek: Neil Büchner Kopiereg: Ó Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.