Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

1 Tessalonisense 2 vertel van Paulus en sy medewerkers wat ‘n goeie voorbeeld gestel het deur so te lewe dat hulle lewe eer aan God gee. Dit word gekontrasteer met die slegte voorbeeld van die Skrifgeleerdes en die Fariseërs in Matteus 23 wat alles doen om die eer van mense te verkry. In die Josua-teks lees ons dat God aan Josua hoë aansien gee in die oë van die volk. Psalm 107 herinner ons aan God se dade, want alle eer kom God steeds toe.

Ander tekste

Josua 3:7-17
7Toe sê die Here vir Josua: “Ek begin vandag om vir jou hoë aansien in die oë van die hele Israel te gee sodat hulle kan weet dat Ek by jou is soos Ek by Moses was. 8Sê nou vir die priesters wat die verbondsark dra, hulle moet by die Jordaan gaan staan wanneer hulle by die waterkant kom.”

9Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader, luister na die woorde van die Here julle God!”

10Daarna sê hy: “Hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is en dat Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete sekerlik sal verdryf om vir julle plek te maak: 11kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde sal voor julle uit die Jordaan in gaan. 12Wys nou twaalf man aan uit die stamme van Israel, een uit elke stam. 13Wanneer die voetsole van die priesters aan die Jordaan se water raak, die priesters wat die ark van die Here dra, die Here van die hele aarde, sal die water van die Jordaan wat afkom, afgesny word en op een hoop gaan staan.”

14Die volk het toe van hulle tente af vertrek om deur die Jordaan te trek. Die priesters wat die verbondsark gedra het, was voor hulle. 15Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, 16het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek. 17Die priesters wat die verbondsark van die Here dra, het daar binne-in die Jordaan op die droë bedding gaan staan terwyl die hele Israel oor die droë bedding deurgaan tot die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan is.

Psalm 107:1-7, 33-37
Let op die Here se dade van trou
107 “Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.
4Party was verdwaal in die woestyn,
in ’n barre wêreld,
en kon die pad na ’n bewoonde stad
nie kry nie.
5Hulle was honger en dors,
hulle was uitgeput,
6maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp
en Hy het hulle gered uit hulle ellende.
7Hy het hulle op die regte pad gebring
en by ’n bewoonde stad laat uitkom.
33Hy verander waterryke gebied
in woestyn,
fonteinwêreld in dorsland,
34Hy maak vrugbare grond brak
oor die slegte dade van dié
wat daar woon.
35Hy verander woestyngebied in rietvlei,
dorsland in fonteinwêreld
36en laat honger mense hulle daar vestig
dat hulle stede kan stig om in te woon.
37Hulle bewerk lande en plant wingerde,
en dié lewer hulle oeste.

Matteus 23:1-12
Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs
(Mark 12:38–39; Luk 11:43–46; 20:45–46)
23 Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek 2en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. 3Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. 4Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie ’n vinger verroer om dit te dra nie. 5Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot. 6Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges 7en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. 9Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. 10Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.

11“Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. 12Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”

Fokusteks

1 Tessalonisense 2:9-13
Julle weet tog self, broers, dat ons koms na julle toe nie op ‘n mislukking uitgeloop het nie. 2Inteendeel, al is ons kort tevore in Filippi beledig en mishandel, soos julle weet, het ons God ons die moed gegee om sy evangelie aan julle te verkondig ondanks felle teenkanting. 3Ons prediking berus immers nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. 4Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.

5Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie. 6Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle of ander is 7al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het. Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel. 8So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry.

9Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle ‘n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie.

10Julle, en ook God, is getuie van hoe suiwer, reg en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo. 11Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos ‘n pa sy kinders 12het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê.

13Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys.

14Broers, dit het met julle gegaan soos met die gemeentes van God in Judea, hulle wat aan Christus Jesus behoort: julle moes van julle volksgenote dieselfde behandeling verduur as wat die gelowiges in Judea onder die Jode moes ly. 15Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is. Wat God wil, doen hulle nie, en hulle is vyandig teenoor alle mense; 16hulle probeer verhoed dat ons aan die heidene die boodskap bring waardeur hulle gered kan word. Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 107

Seëngroet: 1 Tessalonisense 1

Lied: Psalm 107 (Eerste melodie) vs 1, 7, 11

Verootmoediging: Josua 3:7-17
Lied: 231:1 “Heilig, heilig, heilig Here”
Lied 231:2 “Heilig, heilig, heilig Here”
Psalm 107:1-7

Lied 231:3 “Heilig, heilig, heilig Here”

Gebed: (ahv Ps 104)

Geloofsbelydenis: ahv die God van Job

Loflied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”

Epiklese

Skriflesing: 1 Tessalonisense 2:9-13

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seënbede: Num 6 BDV en Gen 12

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord  
“Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
33Hy verander waterryke gebied
in woestyn,
fonteinwêreld in dorsland,
34Hy maak vrugbare grond brak
oor die slegte dade van dié
wat daar woon.
35Hy verander woestyngebied in rietvlei,
dorsland in fonteinwêreld
36en laat honger mense hulle daar vestig
dat hulle stede kan stig om in te woon.
37Hulle bewerk lande en plant wingerde,
en dié lewer hulle oeste.

Seëngroet: 1 Tessalonisense 1
Aan die gemeente van ………………………………….,
wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.
Genade en vrede vir julle!

Lied: Psalm 107 (Eerste melodie) vs 1, 7, 11

Verootmoediging: Josua 3:7-17
7Toe sê die Here vir Josua: “Ek begin vandag om vir jou hoë aansien in die oë van die hele Israel te gee sodat hulle kan weet dat Ek by jou is soos Ek by Moses was. 8Sê nou vir die priesters wat die verbondsark dra, hulle moet by die Jordaan gaan staan wanneer hulle by die waterkant kom.”

9Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader, luister na die woorde van die Here julle God!”

10Daarna sê hy: “Hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is en dat Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete sekerlik sal verdryf om vir julle plek te maak: 11kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde sal voor julle uit die Jordaan in gaan. 12Wys nou twaalf man aan uit die stamme van Israel, een uit elke stam. 13Wanneer die voetsole van die priesters aan die Jordaan se water raak, die priesters wat die ark van die Here dra, die Here van die hele aarde, sal die water van die Jordaan wat afkom, afgesny word en op een hoop gaan staan.”

14Die volk het toe van hulle tente af vertrek om deur die Jordaan te trek. Die priesters wat die verbondsark gedra het, was voor hulle. 15Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, 16het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek. 17Die priesters wat die verbondsark van die Here dra, het daar binne-in die Jordaan op die droë bedding gaan staan terwyl die hele Israel oor die droë bedding deurgaan tot die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan is.

Lied 231:1 “Heilig, heilig, heilig Here”

Matteus 23:8-12
8“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. 9Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. 10Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.

11“Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. 12Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”

Lied 231:2 “Heilig, heilig, heilig Here”

Psalm 107:1-7
Let op die Here se dade van trou
107 “Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.
4Party was verdwaal in die woestyn,
in ’n barre wêreld,
en kon die pad na ’n bewoonde stad
nie kry nie.
5Hulle was honger en dors,
hulle was uitgeput,
6maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp
en Hy het hulle gered uit hulle ellende.
7Hy het hulle op die regte pad gebring
en by ’n bewoonde stad laat uitkom.

Lied 231:3 “Heilig, heilig, heilig Here”

Gebed (ahv Ps 104)
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met ’n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel
soos ’n tentdoek gespan
3en vir U ’n woonplek ingerig
het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
Amen

Geloofsbelydenis: ahv die God van Job
Ek glo in die God van Job…
die God wat die aarde se fondamente gelê het;
wat die aarde afgemeet het…
Ek glo in God wat die see opgedam het toe hy begin uitborrel het;
in God wat die die môre beveel om te kom;
wat lig oor die hele aarde bring…
Ek glo in God wat die sneeu bêre;
wat die die hael opgaar;
wat vir die stortreën ’n pad oopkap en vir die donderwolke hulle koers bepaal…
Ek glo in God wat die Sewester met ’n band vasknoop
en die band van Orion kan losmaak;
wat die sterre op hulle tyd laat opkom…
Ek glo in God wat weerligstrale uitstuur;
wat verstand gee aan die ibis om teen die vloed te waarsku;
in God wie insig gee aan die haan om die dag aan te kondig…
Ek glo in God wat die tyd bepaal wanneer die klipspringers lam;
wat hulle die draagtyd bepaal;
wat aan die wildedonkie sy vryheid gee
en hom ongebonde vry laat loop loop…
Ek glo in God wat Sy Seun Jesus vir ons gestuur het;
ek glo in die vergifnis van sonde en
ek glo in die Heilige Gees.

Loflied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”

Liedere

F94. “U’s My Vader”
(RUBRIEK: Komtemporêr – Afhanklikheid / Geloof en vertroue)
Teks en Musiek: Zander van der Westhuizen
© 2005 Urial
(Opgeneem op Uit dieptes)

Ek soek na U.
Ek roep na U.
Ek wil U ken –
U’s my Vader,
U’s my Heer.
Ek wag op U.
Ek ken u Naam.
Ek wil U loof.
U’s my Vader,
U’s my Heer.
En ek kom sit by u voete.
En ek kom lê in u arms.
Ek hou U vas met als in my,
want U’s die Een wat verstaan.
Ja, U’s die Een wat verstaan.

F233. “Ewige Vader”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof / Geloof & Vertroue / Gebed)
Teks en Musiek: H Berner
© MAR Gospel Music Publishers

1. Ewige Vader, aan U al ons dank
Vir alles wat U vir ons doen.
Aanvaarding en liefde’s oorvloedig by U.
U genade laat ons weer sing.

Refrein:
Vader, U wat in die hemel woon,
Laat die wêreld juig oor u Naam.
Vader, U heers tot vandag toe oor als.
Geesdriftig wil ons u wil doen.
Vader, U voorsien in ons daaglikse nood.
U vergeef en lag nog oor ons.
Vader, ons wil U vir altyd bly dien.
Mag u hand ons altyd bewaar.

2. Ewige Vader, u goedheid is groot.
U hoor elke woord wat ons bid.
U sê: “Klop en soek!  Kom en vra.  Jul sal vind.”
U sal ons nooit weg wys nie.

Refrein:

Brug:
En aan U behoort die mag,
Al die krag en heerlikheid!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
God wat altyd by ons is,
U trek ons nader aan u hart
sodat ons, toegevou in u barmhartigheid,
die gebrokenheid van almal om ons kan sien.
Leermeester wat altyd langs ons is,
U trek ons nader aan Uself
sodat ons in navolging van U
die diepe vreugde,
van diens aan die gebroke wêreld, kan ervaar.
Gees wat altyd in ons is.
U kom nader aan ons met u vrede
sodat, versoen en herstel met God,
ons die wêreld wat deur wanhoop versplinter is,
kan genees.
Amen

Skriflesing: 1 Tessalonisense 2:9-13

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Paulus skrywe dat hulle opgetree het soos ’n pa teenoor sy kinders.
11Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos ’n pa sy kinders 12het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê.

Beskrywe die pa se optrede in elkeen van die foto’s…

The Message vertaal vers 11 soos volg:
“Holding your hand/ whispering encouragement/ showing you step by step how to live well before God”.
Gelowiges moet teenoor mekaar optree soos ’n goeie pa teenoor sy kinders.

Preekriglyn

[Nota: Die teksindeling werk met 2:1-13 as ‘n eenheid. Aangesien hierdie die eerste van ‘n reeks preke uit 2 Tessalonisense is, word in hierdie preek van heelwat inleidende stof gebruikgemaak.]

Paulus het eers laat in sy bediening begin om briewe te skrywe.

Hierdie eerste brief kom ongeveer 16 jaar nadat hy die dramatiese bekering op die pad na Damaskus beleef het. (Terloops, die briewe van Paulus in die Nuwe Testament is van lank na kort gerangskik – Romeine tot Filemon – en nie in datum volgorde nie.)

In hierdie brief wys hy na Christus, weg van homself, en praat hy oor die vorming van die gelowiges om Christus na te volg tot eer van God die Vader.

Isenheim

Paulus se bediening herinner aan die wyse waarop Johannes die Doper uitgebeeld word op die Isenheim altaar, na die skildery van Matthias Grünewald. Terwyl Christus aan die kruis ly, staan Johannes die Doper aan sy linkerkant, met ‘n lam aan sy voete. Die lam is ‘n uitbeelding van Christus se offer, terwyl Johannes se wysvinger buite verhouding groot uitgebeeld word. In Latyn staan die beroemde woorde van Johannes die Doper geskryf: “illum oportet crescere me autem minui” – “Hy moet meer word en ek minder.”

Dit is wie Paulus in sy bediening wou wees: iemand wat na Christus wys, en in Jesus se Naam dissipels maak, opbou in die geloof en bind tot ‘n gemeente van die Here.

Besoek

Paulus het Tessalonika (vandag Salonika, tweede grootste stad in Griekeland), die bedrywige hoof- en hawestad in die Romeinse provinsie Masedonië, net ‘n paar weke lank besoek, tydens sy tweede sendingreis, net na die eerste “sinode”-sitting in Jerusalem (Handelinge 17:1-9). Dit was saam met Silvanus (Silas) en Timoteus, na die stigting van die eerste gemeente in Europa, Filippi. Lukas het in Filippi agter gebly (Hand 16:40), ten spyte van Paulus en Silas se geseling en kortstondige tronkstraf, en eers weer later saam met hulle verder gereis (Hand 20:6).

Die groot belang van Tessalonika vir die uitbreiding van die evangelie was dat dit geleë was aan die hoofweg (die Via Egnatia) wat die Ooste en Weste met mekaar verbind het. Die hoofstraat was in der waarheid deel van hierdie pad. Die stad was daarby as hawestad ‘n verbindingskakel met al die vernaamste hawens van daardie tyd. Gevolglik kon die gemeente ‘n invloed uitoefen deur hulle gasvryheid teenoor reisigers wat by hulle stad aangedoen het.

Die gemeente van Tessalonika

Ons lees in Handelinge 17:1-9 van Paulus se bediening in Tessalonika. Ons lei af dat Paulus sy beroep as tentmaker (vgl. 1 Tes 2:9) in Tessalonika beoefen het om nie ‘n las vir die gemeente te wees nie.

Hy begin soos gewoonlik met ‘n besoek aan die sinagoge en fokus drie Sabbatte na mekaar op die boodskap van die lyding en opstanding van Jesus, wat bewys dat Hy die Christus, die Messias is. En sy hoofargumente kom uit sy lees van die Ou Testament.

‘n Aantal Jode, onder andere Jason in wie se huis Paulus tuisgaan, sowel as ‘n hele aantal godvresende Grieke en ‘n aansienlike aantal vooraanstaande vroue kom tot bekering. “Vooraanstaande” vroue speel hier, sowel as in Filippi en later in Berea, ‘n groot rol, en wys ook op die status wat hulle in die Griekse samelewing geniet het. Interessant is dat die gemeente in Filippi, met Lidia ‘n leidende figuur daar, in dié tyd vir hom meer as een maal ondersteun het (Fil. 4:16).

Maar die bekering van sommige Jode stuit die meerderheid ander Jode teen die bors. Hulle kom in opstand hieroor en hits die stadsbestuur aan om teen Paulus-hulle op te tree, omdat hulle die “hele wêreld” in beroering sou bring en in stryd met die keiser se wette optree, deur te sê dat Jesus koning is.

Die stadsbestuur weier egter om te streng op te tree en laat die gelowiges vir eers met rus. Paulus-hulle vertrek egter die aand na Berea waar hulle die mense meer ontvanklik vir die evangelie vind, soos ons in Handelinge 17:10-15 lees. Die Joodse oproer teen sy bediening in Tessalonika het egter tog ook oorgespoel na Berea, sodat hy ook vandaar moes vlug na Atene, waar hy sy beroemde toespraak op die Areopagus gehou het.

Daarmee word Paulus effektief eers gestuit in sy voorneme om in die gemeente van Rome uit te kom (Rom. 1:10!), want dit is waarheen die Via Egnatia hom sou lei, as hy verder daarop sou reis. Hy sou eers later as gevangene daar uit kom.

Die kern van ‘n florende gemeente in Tessalonika was egter in dié kort tydjie gevorm. Nog heidene kom tot bekering en sluit by die gemeente aan (vgl. 1 Tes 1:9 “Die mense vertel self … hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het”). En die verbintenis met Paulus bly staan, waarvan sy twee briewe aan hulle getuig. Aristargos en Sekundus reis ook later saam met Paulus (Hand 19:29; 20:4; 27:2; Kol 4:10; Filemon 24) en moontlik selfs ook Jason soos ‘n mens uit Rom. 16:21 aflei. Dié brief aan die Romeine is waarskynlik ook in Korinte geskryf op Paulus se tweede besoek daar tydens sy derde sendingreis.

Interessant genoeg het die stad later bekend gestaan as die “Ortodokse Stad” weens hulle standvastigheid en evangelisering van ander nasies.

Die briewe

Na Paulus se verdere bediening in Berea en Atene kom hy in Korinte aan waar hy 18 maande lank bly en in die gemeente leiding neem (Hand 18:11). Die brief aan die Tessalonisense, en ook die tweede brief aan hulle, is in dié tyd geskrywe, waarskynlik in die loop van 50-51 n.C., omdat ons weet dat Gallio in die tyd goewerneur van Agaje geword het (inskripsie te Delphi) en Paulus voor hom verskyn het in Korinte (Hand 18:12–18). Hy skryf dus die brief uit Korinte.

Omdat hy so min tyd gehad het om die gelowiges te bemoedig (vgl. die metafore in 2:7, 11), en onseker was oor die impak wat die evangelie op hulle lewens sou hê – hy is immers beide in Tessalonika en Berea as ‘n onrusstoker uitgeskop – het hy eers uit Atene vir Timoteus gestuur om uit te vind hoe dit met hulle gaan (3:1).

Nadat hy berig ontvang het oor hulle standvastigheid in die geloof, skryf hy dus hierdie eerste brief vanuit Korinte (Hand 18; 1 Tes 3). Die terugrapport moes hom self baie bemoedig het, want die Gees het immers op ‘n besondere wyse vir hulle daarheen geroep (Hand 16:6-10). Die geloofsgroei by die gemeente het dus vir hom gesê dat hulle werk nie tevergeefs was nie, en hulle het die Gees nie verkeerd gehoor nie.

Uit die onderwerpe wat hy aanraak, kom ‘n mens egter ook agter waaroor hulle onseker was, onder andere seksuele sake (4:3-8), die gemeenskapslewe (4:9-12 en 5:14-15), die lewe na die dood (4:13-18), die wederkoms (5:1-11 – waaroor hy weer gaan skrywe in die tweede brief om verdere misverstande op te klaar), hulle leiers (5:12-13) en die gemeentelike lewe (5:16-22).

Dit is ook interessant dat hy, anders as in sy ander briewe, hier in die meervoud skryf “Ons dank God …” (1 Tes 1:2; 2 Tes 1:3). Dit is omdat die briewe afkomstig is van Paulus, Silvanus (Latynse naam vir Silas) en Timoteus (1 Tes 1:1; 2 Tes 1:1) en al drie ‘n sleutelrol in die bediening aan die gemeente gespeel het.

Die tweede brief hak aan by die eerste brief se laaste tema, die wederkoms, en probeer veral misverstande daaroor uit die weg ruim. Hy waarsku hulle om vas te staan ten spyte van vervolging en om hulle selfstandigheid in die werksituasie te behou, en nie leeg te lê weens ‘n verkeerde wederkoms verwagting nie, moontlik op grond van ‘n brief of profesie wat valslik aan Paulus toegeskryf word (1 Tes 2:2). Let op hoe hy sy outeurskap van die brief bevestig in 3:17!

Belang van die briewe

Prof du Preez skryf dat die twee briewe aan die Tessalonisense die gees en boodskap van die vroegste Christelike kerk beliggaam. Hulle illustreer volgens hom die krag van die evangelie van Jesus Christus om mense uit alle volkere nuwe mense te maak. Dit is ‘n bemoediging vir alle mense wat die evangelie wil neem na die uithoeke van die wêreld.

En dit illustreer hoe jy mense wat pas tot geloof gekom het, help om te groei te midde van vervolging. Jy bevestig hulle in hulle geloofservaring en jy spits jou lering toe op die praktiese vrae wat hulle vra. So bou jy gelowiges wat nie net heilig en verantwoordelik lewe in die gemeente nie, maar ook in die gemeenskap.

Dwarsdeur die twee briewe is daar ook ‘n duidelike klem op die wederkoms, sodat hulle soms Paulus se eskatologiese of eindtyd briewe genoem word (ta eschata = die laaste dinge). So kom alles wat behandel word in die helder lig van die wederkoms te staan, en word alle gelowiges geleer om te leef, te dink, te praat en te werk in die verwagting van die Here wat kom.

1 Tessalonisense 2:1-16 – Paulus koester en begelei

Paulus herinner die gemeente daaraan dat hulle bediening in Tessalonika vrug gedra het, anders as die wandelende filosowe en heiliges van sy tyd, wat meer aangedryf is deur gierigheid as geloof. Daarom het hy die ambag, tentmakery, wat hy in sy opleiding aangeleer het daar beoefen, soos elke rabbi van daardie tyd gedoen het.

Treffend dat die inspirasie vir sy onvermoeide ywer, ten spyte van belediging (psigies deur as Romeinse burger onregverdiglik in die tronk gegooi te word) en mishandeling (fisies deur geseling), soos pas tevore in Filippi (Hand 16), van God af kom wat hulle die moed gee om die evangelie te verkondig ten spyte van felle teenkanting (vers 2).

Die twee metafore wat hy gebruik om sy bediening aan hulle te beskryf, val op:

  • Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel (vers 7). Die woord liefdevol beskryf ‘n ma wat haar kind borsvoed. Dit is ‘n baie intieme en sorgsame beeld. Hierdie beeld druk dus op uitsonderlike wyse die liefde en aanvaarding wat hy vir hulle gehad het uit. Dit bevestig die verhouding met hulle.
  • Soos ‘n pa sy kinders het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe (vers 11). Hierdie beeld druk sy droom vir hulle uit, dat hulle nou al tot God se eer sal lewe, en eendag in sy heerlikheid sal deel. Dit moedig hulle aan om nie tevrede te wees, maar volstoom te werk aan hulle verhouding met God.

Hy bemoedig die gemeente ook deur hulle te herinner aan hulle aanvanklike ontvangs en aanneming van Paulus-hulle se prediking as die Woord van God. Die woordjie aangeneem word ook gebruik wanneer jy iemand gasvry ontvang. Paulus sê daarmee dat hulle God se Woord gasvry ontvang het, wat gelei het daartoe dat dit ‘n kragtige uitwerking in hulle lewe gehad het. Die radikale verandering in hulle lewenswyse bewys dat daar iets spesiaal met hulle gebeur het.

Dat daar steeds geweldige teenstand uit die Joodse gemeenskap was (Hand 17) en is, soos dit inderdaad ook in Judea was en is, bewys eintlik dat dit God se Woord was. Teenstand moet hulle dus nie ontmoedig in hulle Christelike stryd nie, maar juis bemoedig omdat dit ‘n teken van God se werk in hulle lewe is.

Paulus spreek ons op twee maniere met hierdie gedeelte aan.

Eerstens kan ‘n bediening net vrug dra as ‘n mens regtig lief raak vir die mense wat jy bedien, in ‘n familie, ‘n kleingroep en ‘n gemeente. Paulus sou selfs sy lewe wou gee vir die Tessalonisense. Daarom het hy self vir sy eie brood en botter in sy verblyf daar gewerk, en nie die voorreg van ‘n apostel gebruik om deur die gemeente versorg te word nie. Hoekom? Omdat hy lief is vir hulle, en op geen manier iemand iets negatiefs oor sy bediening wil laat sê nie. Hy het natuurlik ook in die oog dat daar van hulle is wat nie werk nie, en wou ook vir hulle ‘n voorbeeld stel.

Tweedens, ‘n mens kan nie net sag wees en koester nie. Daar is ook aanmoediging en bemoediging en uitdagings nodig om mense te inspireer tot alles wat hulle kan wees, sodat God in hulle lewens gesien en geëer kan word. En Paulus doen al twee: hy koester en hy karring, hy bederf en hy begelei.

Die regte fokus

Paulus se rol as geestelike moeder en vader is daarop gerig om hulle om in die regte verhouding tot God te lewe.

Later in die bederf verduidelik Paulus hoe gevaarlik die verleiding is wat hulle bediening op niks kan laat uitloop nie (3:5). Teen die agtergrond hiervan beklemtoon hy in ons teks waaroor sy prediking en bediening nié gegaan het nie, en waaroor die wel gegaan het.

Waaroor dit nie gegaan het nie (2:3-9):

  • Dit berus nie op dwaling nie;
  • Kom nie voort uit onsuiwer beweegredes nie;
  • Dit is sonder enige bybedoelings;
  • Dit wil nie die guns van mense wen nie;
  • Werk nie met vleitaal nie;
  • Kom nie voort uit hebsug nie;
  • Streef nie na die eer van mense nie; en
  • Plaas nie die las van versorging op diegene wat die prediking hoor nie.

Op so ‘n gebroke platform kan die regte geestelike vorming nie plaasvind nie.

Waaroor dit wel vir Paulus gegaan het, was om die Here te behaag en te doen wat God verwag (2:4). The Message vertaal: “… not after crowd approval – only God approval.” Hy het die goeie nuus wat van die Here af kom, verkondig.

Die goeie nuus beklemtoon waartoe “die Here” hulle roep. Hulle is elkeen bemoedig, aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van die Here te lewe, “Hy wat hulle roep” om in sy koninkryk “in te gaan” en so aan sy heerlikheid “deel te hê” (2:12).

Die goeie saad

Ten diepste is dit nie Paulus nie, maar “die Here” wat sy goeie nuus in hulle laat werk (1:5; 2:13). Die gemeente, wat groei in die geloof, standvastig bly staan, en tot eer van God lewe, is die bewys van God se werk. Die is God se goeie nuus wat vrug dra en tot wasdom kom.

Deur die eeue bely die Christelike geloof dat dit “in die Bybel” gaan om hierdie “Woord van die Here”, die goeie nuus wat lewens verander.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis stel dit só:
Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van die Here is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind” (Art. 5).

In Neem, lees! Hoe ons die Bybel hoor en verstaan sê prof. Dirkie Smit:

Die kerk het altyd met die vertroue geleef dat die Woord van God soos saad is, klein, onopsigtelik en skynbaar selfs onbeduidend, maar inderwaarheid lewend, vol potensiaal, en stilweg besig om te ontwikkel en te groei en vrug te dra, wat op ‘n dag tot verwondering en verbasing van almal net sigbaar word, in alle prag. Vir die kerk is die Bybel daarom ook meer as net ‘n boek, ‘n gewone boek. Dis asof die Bybel aktief is, werksaam, vir homself sorg. Dis asof die boodskap van die Bybel ook nie van ons inspanning en vermoëns en vaardighede en invloed en oorredingskrag afhanklik is nie, maar asof die Bybelse boodskap self sy weg vind en sy doel bereik, sy vrug oplewer deur die wonderbare en verborge werking van Gods Gees. Daarom is die kerk ook nooit oormatig besorg oor teenkanting en verwerping teen dié boodskap nie – omdat die Woord soos saad is, wat vrug gaan oplewer ondanks alle oënskynlike verset, struikelblokke en hindernisse (bl 260).

Ons het wat nodig is, ontvang. Kom, laat ons tot eer van die Here lewe!

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Seënbede: Num 6 BDV en Gen 12
Mag die Here jou seën en jou beskerm.
Mag die Here Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.
Mag die Here Sy gesig na jou toe lig en aan jou vrede gee.
En mag jy vir ander tot seën wees. Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.