Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Jeremia 31:27-34
Ander tekste: Psalm 119: 97-104; 2 Timoteus 3:14-4:5; Lukas 18:1-8

Inleiding

Die twee en twintigste Sondag in Koninkrykstyd val tussen die Seisoen van die Skepping en Hervorming-sondag. Die tekste saam moedig gehoorsaamheid aan: gehoorsaamheid aan God, sy wet en die evangelie. Hierdie gehoorsaamheid is nie ʼn blote lewenstyl nie, maar word op die gelowige se hart geskryf dat dit deel kan raak van sy/haar hele wese en sy/haar lewenspad lei.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Here, God van Israel,
Gemeente: U alleen is God.

Voorganger: U wat oor die gerubs troon,
Gemeente: U alleen is God.

Voorganger: U het die hemel en die aarde gemaak,
Gemeente: U alleen is God.

Gemeentelede draai na mekaar en groet mekaar met “Vrede vir jou van die Drie-enige Heer”. As herinnering van hulle verbondsdoop kan lidmate met die groet ʼn kruisie trek op die ander se hand.

Diens van die Woord

Opening van die Woord
Sing Lied 258:1 “Vreugdevolle tyding”

Gebed na die preek
Sing Lied 258:3 “Vreugdevolle tyding”

Kindertyd
Die prediker lê klem op die belang van die hart en brein as liggaamsorgane (kan selfs as inleiding tot die preek dien).

Gebruik die prent om aan hulle die begrip van God se verbond, wat ingeprent is op die mens se hart en gedagtes volgens vers 33, verstaanbaar te maak.

Diens van die tafel

Die voorganger lê klem op introspeksie aangaande ongehoorsaamheid en gee ʼn oomblik geleentheid vir stilte en verootmoediging. Die stilte word beëindig met: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die Heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek” (2 Tim 3:14-16).

Indien moontlik kan elke lidmaat die sakramente by die nagmaalstafel ontvang.

Uitsending

Alternatiewe einde: Want Ek is jou God en jy is deel van my volk (Jer 29:33).

Seën
Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om die aanvalle van die bose af te slaan.
Die Here is onder jou om jou te dra as jy sou val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is in jou om jou te lei met sy Heilige Gees.
Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid
(ʼn ou Ierse Seën).

Musiek en sang

Lofsang: Lied 198:1, 2 en 3 “God is my lied”; Lied 207:1, 2 en 3 “Eer aan die Vader”
Genadeverkondiging en danksegging: Lied 286 “Here God van liefde”
Slotsang: Lied 200:1, 2 en 3 “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie”

Preekstudie: Jeremia 31:27-34

Teks

Jeremia 30:1-33:26 – Woorde Troos en Hoop;
30:1-31:40 – Boek van Vertroosting.

Jeremia 31:27-34 (die 1983-vertaling word vir alle verwysings gebruik tensy anders aangedui) vorm deel van die “boek van vertroosting” (of “troosboek”) en kan in twee gedeeltes verdeel word. Die eerste gedeelte (27-30) bestaan uit ʼn godspraak (tweede van vyf) wat handel oor elke gelowige se persoonlike verantwoordelikheid vir sy/haar sonde. Dit word opgevolg deur die tweede gedeelte (31-34), wat handel oor die nuwe verbond wat Jahwe, in die lig van die godspraak, met sy volk gesluit het. Saam dra die twee tekste die boodskap van Jahwe se regverdigheid, getrouheid en meegaande belofte van redding en hoop. Die element van hoop vir die toekoms van die volk word verder versterk deur beide gedeeltes se aanvangsinne: “Daar kom ’n tyd, sê die Here” (sien Jer 31:27, 31) wat dui op ’n eskatologiese vooruitsig aan die einde van Jahwe se oordeel en toorn (sien Jer 31:29 wat deur ’n gekla verteenwoordig word), en die herstel en heropbou van die verbondsvolk onder ’n nuwe verbond met Jahwe (sien Jer 30:12 wat gepaardgaan met die lofsang tot Jahwe). Hiermee word die volk, wat hulleself in ballingskap in Babilonië bevind, getroos en gedra.

Vers 27 open die tweede godspraak met die eskatologiese formule, “Daar kom ’n tyd, sê die Here . . .” en beloof om alle oordeel wat in die verlede oor die volk uitgespreek is en tot teëspoed en diaspora gelei het, nietig te verklaar. Jahwe sal die verbondsvolk weer vrugbaar maak met die saad (tsera) van “mense en diere” (sien Jer 7 en 21 vir hierdie bewoording in die oordeelsfrase ook). Hierdie metafoor dat “Jahwe saai” is ook in Hosea 2 en herinner aan die vrugbaarheidsbelofte in die eerste verbondsbelofte in Genesis. Die volk herken met die gebruik van hierdie bekende terme dat sodanige volksvoorspoed voorheen bestaan het deur die werke van Jahwe en dat dit dus weer sal kan gebeur as Jahwe so wil. Vers 28 se gebruik van die bekende woordpare “uit te ruk” en “af te breek”, “plat te slaan” en “vernietig”, en “op te bou” en “plant” (waarvoor die boek Jeremia bekend is; sien 1:10 en 29:5) dien om verder te bevestig dat Jahwe hier in beheer is; net soos die negatiewe woordpare werklikheid geword het wat die volk nou nog beleef, so sal die positiewe ook tot vrug kom en die volk help floreer.

’n Bekende metafoor, een wat waarskynlik baie deur die bannelinge geuiter is, word in vers 29 herhaal om aan te dui (deur die stelling “In daardie tyd sal hulle nie meer sê nie”) dat Jahwe hulle gekla hoor en dit sal verander. Hoe sal Hy dit verander? Deur die rede vir die klag te verwyder. Jahwe ontken nie die grondigheid van die klag in vers 29 nie, maar bevestig deur vers 30 en sy meegaande verandering van die verloop van straf, dat die volk se waarneming, soos in die metafoor weergegee, inderdaad korrek is. Hierdie straf vir vorige generasies op die huidige generasies sal nie meer plaasvind nie, maar die wet (soos weergegee in Deut 24:16 en Eseg 18) sal weer korrek en regmatig geïmplementeer word. Vers 30 bevestig dat hierdie metafoor op sy kop gedraai sal word. Elkeen sal self verantwoordelik wees vir hulle sondes, hulle eie “tande sal stomp word”. Hierdie konsep van persoonlike geloof en persoonlike geloofsverant-woordelikheid is vir Jeremia van groot belang en kom dwarsdeur die boek voor. Dit is dus gepas dat dit hier vervat word.

Vers 31 merk die Skrifdeel wat handel oor die nuwe verbond wat Jahwe met sy volk sal sluit met die eskatologiese formule (soos :27), “Daar kom ’n tyd, sê die Here . . .”. Dit dui weereens op die toekomstige redding wat aan beide Juda en Israel as herenigde volk (sien v 27) beloof word. Die frase “nuwe verbond” (brit chadashah) is uniek aan die Ou Testament (alhoewel dit redelik gereeld in die Nuwe Testament voorkom) en kom net in hierdie vers voor. Slegs Jahwe weet wanneer die ou verbond verbreek is en Jahwe self bepaal die aanvang van die nuwe verbond.

Vanaf vers 32 dui Jahwe aan hoe hierdie nuwe verbond sal lyk, deur die gebruik van negatiewe taal (“Dit sal nie . . .”). “Dit sal nie” presies soos die “ou” verbond wees wat Hy met die ballinge uit Egipte gesny het nie. Daardie verbond is nietig gemaak deur die voorvaders se ontrouheid (sien Jer 11:10) aan Jahwe en kan nie gekorrigeer word nie. Hierdie ontrouheid (wat in die vorm van geloofsafvalligheid in die geskiedenis van die voorvaders en die huidige generasie te sien is) is so ernstig dat dit in die grondtaal vergelyk word met egbreuk (ʼn eggenoot besit ’n eggenoot – baal; sien Deut 24 en Jer 3). Die enigste alternatief is ’n “nuwe verbond” wat Jahwe weereens inisieer met ’n “nuwe” eggenoot, naamlik die huidige en komende generasies gelowiges. Die doel van die “nuwe verbond” is wel soos die “ou verbond”, naamlik die genadige verbinding van Jahwe aan sy volk.

Die inhoud van die verbond is wel nie so duidelik nie. Alhoewel vers 33 dit laat klink asof die inhoud van die verbond uitgelê gaan word (“Dit is die verbond . . .”), word daar liewer aangedui in watter formaat die nuwe verbond sal geskied, naamlik “. . . op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê”. Dit is dus nie in die vorm van ’n wetboek of twee kliptafels soos in die verlede, wat die verhouding tussen Jahwe en die mens uit stip nie, maar die verbond is intrinsiek deel van hulle verstand (Deut 29), geheue en wilsbesluitneming (Jer 3). Op dieselfde plekke waar die volk se sonde lê (“Die sonde van Juda is ingegraveer met ’n ysterpen, ingegrif met ’n diamantpunt op hul harte . . .” – Jer 17:1), neem Jahwe nou heerskappy en tree die verbond deur Goddelike inisiatief in. Die gevolg van hierdie nuwe verbond (34) is dat almal (“. . . klein en groot . . .”; sien ook Jer 6) instinktief wetsgehoorsaam sal wees en Goddelike eerbied toon. “ʼn Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: ‘Jy moet die Here dien’ nie”, want geloofsafvalligheid en verval sal nie meer deel uitmaak van die volk se lewenswyse nie. Deur die geskenk van Goddelike genade (en nie deur die goeie werk van die volk nie) sal hulle bevry (New King James Version gebruik die woord “pardon” – salach) wees van sonde en oordeel, en Jahwe ken. Deur die aanduiding van die formaat en die karakter van die nuwe verbond kan ons wel aflei dat die inhoud van die verbond bestaan uit die wet of Torah, wat, soos in die “ou verbond”, as lewensriglyn sal dien.

Jahwe hou by sy woord, soos weergegee deur die profeet Jeremia, en straf die verbondsvolk vir hulle geloofsafvalligheid en verval. Dit is hierom dat Jerusalem geplunder is en die Judeërs hulleself as ballinge in Babilon bevind. Dit het dus ironies genoeg as troos gekom om hierdie woorde van toekomstige hoop, vergifnis en redding te hoor; in hierdie verband sal Jahwe ook getrou wees, soos Hy beloof.  Dit sal nie net die einde van hul ballingskap wees nie, maar ook die vergifnis van hulle sondes.

Konteks

(Sien 9 Oktober vir meegaande konteks.)
Die tyd van Jahwe se toorn en straf het aangebreek (sien Jer 4). In 598/7 vC het die stad Jerusalem hulleself oorgegee aan Babilonië. Koning Jojakim en ander burgers, saam met baie tempelartefakte, is na Babilon weggevoer en Sedekia is deur Nebukadnesar op die Judese troon geplaas. Ten spyte van Babilonië se onlangse vertoning van mag en krag was baie van die oorblywendes in Jerusalem tog oortuig dat Jahwe Jojakim en die ander ballinge, asook die tempelskatte, spoedig aan Jerusalem terug sou besorg en Juda tot onafhanklikheid sou bring. ʼn Mate van geestelike meerderwaardigheid het onder die oorblywendes kop uitgesteek. Hulle was van opinie dat hulle as die geregtiges gespaar is teen Jahwe se toorn. Hierom sou Hy aan hulle getrou bly en Juda weer binnekort herenig. Die nasionalistiese profete het dit verder teologies beaam en ’n atmosfeer van snelle vergelding teen die Babiloniërs het geheers. Jeremia was egter nie ’n nasionalistiese profeet wat gepreek het oor die vinnige herstel en herbou van Jerusalem en hereniging van Jahwe se verbondsvolk nie. Sy taak was nie om populêre woordjies te spreek wat die ballinge se harte warm maak nie, maar om “die woord van die Here” (Jer 1:10) aan hulle oor te dra. Tot dusver was hierdie woorde nie wat hulle wou hoor nie en het Jeremia die bepaaldheid en die langsaamheid van Jahwe se toorn en straf (om onder Nebukadnesar en die Babiloniërs se beheer en ballingskap te wees) vir hulle ernstig benadruk. Hierdie profesie is bevestig deur die verdere plundering van Jerusalem, afbranding van die tempel en die ballingskap van gewone Judeërs in 587/6 vC.

Van Jeremia 30:1 tot 31:40 kom daar wel ʼn verskuiwing in die trant van die profetiese boodskap (soos in Jer 1:10 ook aangedui word). In hierdie “boek van vertroosting” geniet die boodskap van Goddelike redding en toekomstige hoop, dít waarna die Judeërs so hunker, voorkeur. Daar was natuurlik ander profete wat in hierdie tyd boodskappe van troos, redding en volksherstel

vir dié in Juda gepredik het sowel as vir Babilon. Hierdie profete was meer nasionalisties georiënteerd en was van mening dat Jahwe reeds die juk van straf en toorn verwyder het (sien Jer 27) en, dat die ballinge, saam met Jojakim en die waardevolle tempelartefakte binne twee jaar terug in Jerusalem sou wees (sien Jer 28). Vir so ʼn trotse en nasionalistiese nasie was die enigste denkbare uitweg om in opstand te kom teen die vyand en om alle boodskappe tot die teendeel te verwerp. Hulle was die uitverkore volk van God, gebind deur die verbond met Dawid (Juda) en met Abraham (Israel). Jahwe het ook Jerusalem en die tempel as sy aardse woning gekies. Politiek en geloof het in die denkraamwerk van die volk versmelt geraak. Geen vyand sou oor die volk kon triomfeer nie. Jahwe sou dit nie toelaat nie.

Sulke profesieë het aan die staatsprofete baie gewildheid besorg en Jeremia baie ongewildheid (sien Hanánja se reaksie, Jer 28). Jeremia het geensins die temas van Goddelike toorn en huidige lyding afgemaak deur die ballingskap nietig te verklaar nie, maar het liewer hierdie temas ingevleg saam met die boodskap van Goddelike redding en toekomstige hoop. Hiermee herinner en herbevestig Jeremia aan die verbondsvolk (Juda sowel as Israel) dat hulle verlede, hede en toekoms ingeweef is in Jahwe se wil en dat wat Hy wil, geskied. Hulle bevind hulleself in ballingskap omdat dit die gepaste straf is vir hulle geloofsverval. Jeremia verkondig aan hulle dat hierdie stand van sake die normatiewe toestand is vir tyd en wyl en nie sommer binnekort gaan verander nie (hfst 29). Tog is dit nie al wat Jahwe wil nie. Hy wil ook hoop, redding en die herbou en herstel van sy volk deur ʼn hernude verhouding met hulle aan te knoop deur die nuwe verbond. Hierdie aspek van God se wil sal ook geskied. Dit is gepas dat die “boek van vertroosting” tussen hoofstuk 29 en hoofstuk 32 staan. Hoofstuk 29 handel oor hulle huidige ballingskap en toekomstige heropbou en herstel terwyl hoofstuk 32 handel oor Jeremia se aankoop van grond (deur lossingsreg) in Anatot. Die “troosboek” dui Juda se vertroue in die woord van hoop, heropbou en herstel deur Jahwe aan.

Met al hierdie verskillende profetiese stemme moes dit vir die volk moeilik wees om te onderskei wie die waarheid praat en watter boodskap hulle ter harte moet neem. Die enigste regte toets was om te wag en te sien watter profesie vervul word (sien Jer 28), ʼn vooruitsig wat nie baie aanloklik was vir ʼn volk in ballingskap en onder verdrukking nie. Politieke besluite moes vinnig geneem word en Juda moes hulle alliansies gou agtermekaar kry as hulle die Babiloniese aanval en inval wou trotseer. Met die oorheersende nasionalistiese atmosfeer was dit onvermydelik dat die volk en haar leiers liewer die profesieë van die nasionalistiese profete ter harte sou neem en daarvolgens politieke besluite sou maak (sien Jer 36 en die besluit om teen Nebukadnesar te rebelleer). Die uiteinde hiervan is die verhaal van ballingskap en onderwerping aan die Babiloniërs wat ons so goed ken en waarteen Jeremia gewaarsku het.

Geen van Jeremia se profesieë is ter harte geneem nie. As gevolg van sy ongewilde boodskap dat Jahwe die volk straf vir hulle geloofsafvalligheid en die Babiloniërs as instrument vir hierdie straf gebruik, het van die nasionaliste hom as ʼn Babilonies-gesinde verraaier bestempel (selfs die Babiloniërs was hiervan oortuig, sien Jer 11), ander het hom as ʼn ongelowige pasifis geag. Toe die aanval, inval en die gevolglike ballingskap deur die Babiloniërs uiteindelik vanaf ongeveer 600 tot 597 vC plaasgevind het, was dit duidelik dat Jeremia nie een van hierdie dinge was nie, maar liewer ʼn gehoorsame man wat “die woord van die Here” (sien Jer 1:2, 3 en 4) te alle tye gepredik het selfs al kon dit sy lewe kos (sien Jer 36). Hy het die toets deurstaan (sien Jer 28), sy boodskap is geregverdig.

Alhoewel sy profesieë nie in sy leeftyd tot die harte van die mense deurgedring het nie, sou die boodskap van Jahwe se nuwe verbond en die vergifnis van sy mense vir hulle in die toekoms nog baie troos bring. Nooit sou hulle weer as ʼn nasiestaat bestaan nie, maar die verbondsvolk sou bly glo en hulle geloof bly beoefen onder watter omstandighede hulle hulself ook al  bevind (ook vir Jeremia wat weggevoer is na Egipte toe en daar sy laaste dae spandeer het). Hulle weet: “Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees” (Jer 31:33).

Preekvoorstel

Om iemand te vertroos, is om langs daardie persoon in sy/haar oomblik van pyn en hartseer te staan en te bemoedig, te ondersteun en getroue liefde aan hom/haar te bewys. Dit is wat Jahwe in hierdie gedeelte doen. Alhoewel dit Hyself was wat die volk in ballingskap geplaas en hierdeur gestraf het, is dit ook Hyself wat hulle in daardie omstandighede omarm en troos deur hulle te verseker dat Hy hulle sal plant en opbou nadat Hy hulle platgeslaan en vernietig het. Oordeel en straf is nie die finale boodskap nie, maar gaan gepaard met shalôm (sien Jer 29). Dit is hierdie boodskap van vertroosting wat die prediker ook aan die gemeente kan bring deur die teks van Jeremia 31.

Dit sal goed wees as die prediker ook aan die gemeente duidelik maak op watter drastiese manier hierdie vertroosting plaasvind. Jahwe verander die dinamika tussen Homself en die gelowiges van daardie tyd deur aan te dui dat die ou verhouding, naamlik die ou verbond, nie meer die normatief sal wees nie. Soos wat Hy ’n bekende metafoor onderstebo draai en nietig verklaar (dink aan die implikasies: Hy verander vir ewig en vir alle tye hoe daardie metafoor in die volksmond gebruik kan word), so maak Hy ook met die verbond wat die gelowiges verbreek het. Hierdie “nuwe verbond” sal ook die “nuwe” soort verhouding tussen Jahwe en die gelowiges verteenwoordig. Hy neem hulle weg van die tempel en sy aardse woning, al die artefakte en wetrolle wat sy teenwoordigheid uitbeeld, asook die koning wat sy verteenwoordiger is en herinner hulle aan wat belangrik is: God is daar, al is al die dinge wat sy teenwoordigheid moet uitbeeld nie meer nie. Sy shalôm is teenwoordig in hulle harte en hul verstand, in als wat hulle dink, sê en voel.

Dit is belangrik om kennis te neem dat hiermee geensins geïnsinueer word dat die “ou verbond” wat sterk klem gelê het op die wetsrolle en die Mosaïese tafels foutief is nie, dit is immers ingestel deur Jahwe self. Die feit dat dit verander word is bloot omdat Jahwe dit vir die volk wil duideliker maak dat Hy intrinsiek aan hulle gekoppel is en dat hulle woning aan Hom gekoppel is (en nie aan ’n plek nie). Daar is niks wat hulle van Hom kan skei nie. Deur die gebruik van die term “nuwe verbond” gee Jahwe eintlik die volk ’n vars begin, ’n tweede kans om oor te begin en nuut te leef waar hulle voorheen gefaal het. Hy vertroos hulle met sy genade van vergifnis. Die prediker moet dus baie versigtig wees om ’n lynregte parallel te trek tussen die “nuwe verbond” en Christenskap en ’n soort vervolmaking van God se verhouding met die mens. Alhoewel hierdie twee terme gereeld saam gebruik word in die Nuwe Testament, is die “nuwe verbond” eerstens aan die Jode as verbondsvolk gekoppel. By hierdie tweede geleentheid skep God wel vir ons as Christene, gebore uit die Jodedom (Rom 11), die geleentheid om deel te wees van die nuwe kans op vergifnis en genade.

Bibliografie

Clark-King, E 2010. 17th October: Proper 24 Jeremiah 31:27-34; 2 Timothy 3:14-4:5; Luke 18:1-8: Pentecost 21. The Expository Times. 121, 614; Keck, Leander E 2001. The New Interpreter’s Bible: Isaiah – Ezekiel (volume VI). Nashville, Tennessee: Abingdon Press; Keown, G L, Scalise, P J & Smothers, T G 1995. Jeremiah. 26-52. Waco, Texas: Word Books; Lundbom, J R (2004). Jeremiah 21-36: A New Translation with Introduction and Commentary. New York: Doubleday; Orsmond, E (et al) 2014. Preekstudies en Liturgiese Voorstelle gebasseer op die Kerkjaar, Seisoene en Feeste in die Lewe van Gemeentes. Matieland: Communitas.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.