Twaalfde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die boek Spreuke is saamgestel uit hoofsaaklik kort stellings of spreuke (mâshâl in Hebreeus) – sommige noem dit aforismes of twoliners. Dit vang lewenswaarhede of –wyshede vas sodat jy daaruit jou (en ander se) gedrag kan meet en (help) bepaal (1:2). Dit is daarom ‘n goudmyn van slagspreuke vir die lewe: “the scrapbook of common grace” (Martin).

Wysheidstradisie
Die boek stel opvallend min belang in die amptelike liturgiese aanbidding van God in die tempel. Dit was immers die taak van die priesters en die Psalms, en dié boek staan volledig in die tradisie van die wysheid. Daarom is die boek duidelik meer geïnteresseerd in hoe dit mense kan leer om God in die alledaagse lewe te dien. Die begin van die wysheid is immers om in alles met ontsag vir Sy teenwoordigheid te lewe (1:7; 9:10).

Praktiese benadering tot die lewe
Spreuke leer jou daarom die geheim ken van die lewe coram Deo (voor God), sodat jy met wysheid en oorleg kan leef (1:3) en die dwaasheid kan vermy (1:7).

Geen wonder nie dat dit ‘n uiters geskikte bron is vir ouers of opvoeders om in hulle onderrig en/of opvoeding te gebruik nie, want die boek werk nie soseer met groot of abstrakte teorieë of selfs godsdiens-kategese as sodanig nie, maar met ‘n doodgewone common sense praktiese benadering tot die lewe voor God en die wêreld, geïllustreer met vele stories, beelde en onthoubare slagspreuke en gesegdes. Maclaren beskryf die boek daarom as “portable medicine for the fevers of youth” en voeg by dat dié medisyne werk of jy die dokter ken of nie (Zondervan Bible Commentary, 654)!

Bou jou kapasiteit vir wysheid
Met die waarhede en wyshede van die boek Spreuke as gids kan ook jy ‘n ekspert in die lewe word! In die proses bou Spreuke jou kapasiteit vir wysheid, en vir wyse gedrag, sodat jy:

  • kan weet wanneer iemand verstandig praat (1:2) – bv “’n Oorwoë mening is diep waters, ‘n verstandige mens skep daaruit” – 20:5,
  • ‘n sin virregverdigheid kan ontwikkel (1:3) – bv “’n troon word deur regverdigheid bestendig” – 16:12 – Spreuke was die King IIICorporate Governance uitgawe van sy tyd!,
  • met oorleg kan optree (1:4) – bv “My seun, behou die takt en oorleg, moet dit nie uit die oog verloor nie” – 3:21,
  • tot dieper insig kan kom (1:5-6) – bv “Iemand wat goeie insig het, geniet goedgesindheid” – 13:15,
  • nie sal toegee as daar verleiding of dwaasheid oor jou pad kom nie (1:7, 10) – bv “Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is, so vonkel in die beker, so lekker smaak nie” – 23:31!

Opbou
Die spreuke is versamel in bundels waarvan 6 hulle weg tot in die boek Spreuke gevind het, soos ‘n mens telkens in die eerste vers van só ‘n bundel meegedeel word:

  • die spreuke van Salomo waarvan 2 bundels in die boek opgeneem is (10:1-22:16; 25:1-29:27) waarvan:
    • die eerste bundel veral met skerp teenstellings werk tussen wysheid en dwaasheid, godvresendheid en goddeloosheid (“Liewer ‘n stukkie droë brood met vrede daarby as ‘n huis vol kos met getwis daarby” – 17:1) en
    • die tweede bundel (geredigeer deur koning Hiskia se amptenare, ongeveer 2 eeue na Salomo, en in die tyd van die profeet Jesaja – 25:1) met komplementerende ooreenstemmings of sinteses werk waar die tweede stelling die eerste stelling aanvul, uitbou of afrond (“Miswolke en wind, maar geen reën nie, so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie” – 25:14);
  • die gesegdes van die wyses waarvan ook 2 bundels in die boek opgeneem is (22:17-24:22; 24:23-34) en veral met ooreenstemmings en sinteses werk; asook
  • die belangrike uitsprake van die onbekende Agur (30:1-22 – moontlik ook van Massa in Arabië soos Lemuel) wat onder andere ooreenkomste het met hfst 38 van die boek Job, ook die enigste gebed in die boek Spreuke bevat (30:7-9) sowel as ‘n paar diepsinnige opmerkings het oor die lewe , en
  • die woorde van die onbekende koning Lemuel van Massa (Arabië) – wat eintlik deur sy ma vir hom gegee is (3:1-31) – wat ‘n akrostiese gedig is (elke vers begin met ‘n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet [22 letters]) wat nie net die wyse woorde van ‘n vrou illustreer nie, maar dit verpersoonlik in terme van die wyse lewe van ‘n vrou.

Vir hierdie bundels is ‘n inleiding geskrywe (1:1-7) wat die doel van die boek uitspel, waarna ‘n hele aantal wysheidsgedigte geplaas is (1:8-9:18) in die raamwerk van ‘n langerige gesprek waarin ‘n pa sy seun onderrig, onder andere deur hom ook te laat luister na sy ma (1:8). Dit vorm die eerste deel van die boek wat die belangrikheid van ‘n leerbare gees – ‘n ander manier waarmee die vermoë om te luister beskryf kan word – onderstreep in terme van die verskil tussen die gedrag van goddeloses en godvresendes:

  • veral in die soeke na welvaart (korrupsie vs eerlike harde werk – easy money – iets waaroor die Prediker ook uitvoerig uitwy) en
  • gemeenskap (ontrouheid vs getrouheid – easy sex – ‘n sleutel aspek van Hooglied se wysheid).

Goddeloses luister na vrou dwaasheid (9:13-18), en godvresendes na vrou wysheid (9:1-12), sê die boek Spreuke.

Uiteraard veronderstel hierdie ontleding dat die boek, “a collection of collections”, oor ‘n lang tyd tot stand gekom het (Murphy). Selfs Hiskia het ‘n hand gehad in die redaksie daarvan, voor die boek Spreuke in sy finale vorm deel van die kanon geword het, waarskynlik ná die ballingskap.

Ooreenkomste met ander wysheidstradisies
‘n Hele paar van die spreuke in die boek Spreuke toon ooreenkomste met die wysheid van ander kulture en godsdienste uit daardie tyd, soos dit ook die geval was in die boeke Prediker en Hooglied. ‘n Mens sien dit in vergelyking met die Egiptiese Onderig van Amenemope en die Assiriese Woorde van Ahikar. Die Onderrig van Amenenope het verskeie gesegdes uit die 30 hoofstukke daarvan wat ooreenkom met van die spreuke in hoofstuk 22-23. Die Woorde van Ahikar het net een gesegde wat met 22:13 ooreenkom.

Hierdie ooreenstemmende spreuke is óf meesal aangepas vir gebruik binne die boek Spreuke óf andersom. Die meeste van die spreuke in die boek Spreuke toon egter ‘n aanvoeling vir die feit dat dit in die geloofsgemeenskap van Israel gebruik sal word (vgl bv in 6:16-19 die ooreenkomste met dele van die Tien Gebooie uit Eksodus 20). ‘n Mens kan ook duidelik sien dat die oorgrote meerderheid van die spreuke in die boek Spreuke uit Israel se eie geloofstradisies put (Skepping – 3:19-20; 8:22-31; Eksodus – 6:16-10; Tempel – 8:34; Land – 2:21-22; 10:30).

Ander tekste

Psalms 34:9-14 ()
9Kom ondervind en sien self
dat die Here goed is!
Dit gaan goed met die mens
wat by Hom skuil.
10Julle wat aan die Here behoort,
dien Hom!
Wie Hom dien, het geen gebrek nie.
11Selfs leeus ly gebrek en kry honger,
maar wie die Here se hulp vra,
kom niks kort van al die goeie dinge nie.
12Kom, kinders, luister na my!
Ek wil julle leer
hoe om die Here te dien.
13As iemand die lewe liefhet
en ’n lang lewe begeer
om die goeie te geniet,
14moet hy sy tong weerhou
van kwaadpraat
en sy lippe van leuens.

Efesiërs 5:15-20 ()
15Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. 17Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

18Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. 20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

Johannes 6:51-58 ()
51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”
52Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”

53Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 55My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. 58Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.

Fokusteks

Spreuke 9:1-6
9 Wysheid het vir haar ’n huis gebou
met sewe klippilare.
2Sy het geslag en wyn reggesit,
sy het haar tafel gedek
3en haar bediendes
na die stad toe gestuur
om van die hoogste plek af te roep:
4“Kom hiernatoe,
almal wat nog moet leer!”
En vir dié wat kennis kortkom,
het sy gesê:
5“Kom eet by my,
kom drink van die wyn
wat ek reggesit het!
6Neem afskeid van die onkunde,
dat julle kan lewe,
kom op die pad van die insig!”
7Wie iemand so opvoed
dat hy ’n ligsinnige mens word,
moet die verwyt daarvoor dra;
wie iemand so leer
dat hy ’n goddelose word,
doen dit tot sy eie skande.
8Moenie ’n ligsinnige mens
probeer opvoed nie,
hy sal jou daarvoor haat.
Voed ’n wyse op,
en hy sal lief wees vir jou.
9Gee jou aandag aan ’n wyse mens,
en hy kry meer wysheid,
leer ’n regverdige,
en sy kennis vermeerder.
10Wysheid begin
met die dien van die Here;
wie die Heilige ken, het werklik insig.
11As jy wysheid het,
sal jy lank lewe,
jou lewensjare sal vermeerder word.
12As jy wysheid het, het jy self
die voordeel daarvan;
as jy ’n ligsinnige mens is,
dra jy alleen die las.
13Dwaasheid is soos ’n vrou
wat luidrugtig bly klets,
stadig van begrip
en sonder kennis van sake.
14Sy sit by haar voordeur,
haar stoel staan op die hoogste plek
in die stad,
15en sy roep na dié wat verbykom,
elkeen besig om sy gang te gaan:
16“Draai af hiernatoe,
almal wat nog onervare is!”
Sy sê vir dié wat kennis kortkom:
17“Gesteelde water is soet,
kos wat stilletjies geëet word,
is lekker!”
18Dié wat na haar luister,
besef nie dat die dood self
daar wag nie,
dat dié wat hulle deur haar
laat nooi het,
klaar diep in die doderyk is nie.

Liturgie

Die bedoeling van ’n Seisoen van Barmhartigheid is om dit wat in die erediens gebeur doelbewus in verband met die nood van die wêreld te bring. Op die manier word ontdek dat die erediens nie ’n doel op sig self is nie, maar bedoel is om ons in te lei na ’n lewe wat God op elke terrein van die lewe vereer.

’n Sogenaamde hongerdoek wat in die liturgiese ruimte gedrapeer word en waarop lidmate die geleentheid kry om items soos koerantknipsels vas te maak tydens die erediens en wat die onmiddellike konteks van nood van die gemeente reflekteer. (Die hongerdoek pas tradisioneel liturgies binne die Lydenstyd en nie in Koninkrykstyd nie. Hierdie voorstel kan moontlik gesien word as ’n loslaat van daardie mooi verband, of dalk juis ’n verruiming van die gebruik van die hongerdoek).

Bring kos in natura na die erediens, veral die nagmaalviering, om dit te gebruik om die sakrament mee te vier en dit wat oorskiet na hulpbehoewendes of spesifieke projekte te neem. Die verband tussen die nagmaal en barmhartigheid kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie. Soos wat ons hierdie gawes, die produkte van ons arbeid, insamel, aandra en neerlê op die tafel, so lê ons ook ons lewe daar neer. Hierdie produkte van ons arbeid is nooit genoeg nie, maar op die tafel van ons Here word dit op ’n wonderbaarlike wyse vermenigvuldig sodat daar genoeg is vir iedereen. Op die tafel lê jou lewe.

Voorbidding kan in hierdie seisoen ’n besondere klem kry, weer eens en spesifiek soos geïnspireer deur die leesroostertekste en die gemeente se bepaalde konteks. Dieselfde geld vir die prediking vir hierdie seisoen.

Erediensgangers word uitgedaag om elke week tydens die Seisoen van Barmhartigheid een ete gedurende die week prys te gee en die waarde van daardie ete in die vorm van droë produkte na die erediens te bring wat gebruik sal word in ’n projek. Die produkte word nie sommer net in ’n mandjie by die deur geplaas nie, maar word tydens die derde beweging van die erediens (tafeldiens) fisiek vorentoe gebring en op die tafel geplaas. Dit kommunikeer ook baie ten opsigte van God se omgee en solidariteit in Jesus met mense in nood.

Hierdie seisoen is uiteraard ook ’n ideale geleentheid om projekte waar lidmate by kan betrokke raak, bekend te stel of dalk opnuut bekend te stel met verhale en getuienisse oor die projekte.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord
8Die Engel van die Here
slaan sy laer op
rondom dié wat die Here dien,
en red hulle.
9Kom ondervind en sien self
dat die Here goed is!
Dit gaan goed met die mens
wat by Hom skuil.
(Uit Psalms 34:8-9)

Seëngroet
Aan almal in ………………………………… wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(Efesiërs 1:1-2)

Lied 454 “Vader, ons eer U vs 1,2,3”

Verootmoediging
Die spieël van die Woord

Romeine 12:9-21
Riglyne vir die Christelike lewe
9Die liefde moet opreg wees.
Verafsku wat sleg is
en hou vas aan wat goed is.
10Betoon hartlike broederliefde
teenoor mekaar;
bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11Moenie in julle toewyding
verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
12Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.
13Help die medegelowiges
in hulle nood
en lê julle toe op gasvryheid.
14Seën julle vervolgers,
ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.
15Wees bly saam met dié wat bly is
en treur saam met dié wat treur.
16Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie,
maar skaar julle by die nederiges.
Moenie eiewys wees nie.
17Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.
18As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense.
19Moenie self wraak neem nie,
geliefdes,
maar laat dit oor aan die oordeel
van God.
Daar staan immers geskrywe:
“Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.
20“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink;
want deur dit te doen,
maak jy hom vuurrooi
van skaamte.”
21Moet jou nie deur die kwaad
laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
deur die goeie.

Gebed om vergifnis (John Wesley, 1703-1791)
Vergewe ons, Here God,
ons opsetlike sondes,
en dié van versuim;
die sonde van ons jeug,
én van ons ryper jare;
die sonde van ons gedagtes,
en van ons liggaam;
ons geheime en ons blatante sondes;
dié wat ons uit onkunde
of uit ongeërgdheid doen,
én die wat ons vooruit bedink en beplan.
Vergewe ons, Here,
die sonde wat ons doen
om onsself te bevoordeel
of om ander mense te plesier;
die sonde waarvan ons weet
en wat ons onthou,
maar ook dié wat ons vergeet het;
die sonde wat ons van ander probeer wegsteek,
en van onsself;
en dié waardeur ons ander tot sonde verlei het.
Vergewe hulle ook, o God.
Vergewe ons almal ter wille van Hom
wat vir ons sonde gesterf, en opgestaan het
sodat ons vrygespreek kan word,
en wat nou aan u regterhand sit
om vir altyd vir ons in te tree
-Jesus Christus, ons Here.
(Uit: Wat Here is en lewend maak van Dirkie Smit, 2001:49)

Riglyn om te lewe: Efesiërs 5:15-20 ()
15Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. 17Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

18Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. 20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

Lofprysing
Lied 213 “Kom volk van God verhef jul stem 1,2” en/of
Lied 214 “Here ons sal U loof vs 1,2,3”

Liedere

F36. “Ek Kom Na U Toe”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verootmoediging / Toewyding / Votum)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

Ek kom na U toe, Heer.
Wees by my,
neem weg my onrus;
laat u stilte bly.
Ek’s aan U voete, Heer.
Ontvang my weer,
sien my hart en weet
dat ek begeer:

Refrein:
Om weer naby U te wees!
Wys weer u liefde deur u Gees.
Maak my meer van U bewus.
Vul my met verwondering, Heer.
Wys my wie U is.

Ek kom na U toe, Heer.
Maak my stil,
kom en doen in my
net wat U wil.
Ek wil myself vergeet,
op U bly wag.
Maak my leeg en vul
my met u krag.

Refrein:

F228. “Waarom Is Ek Hier? (Nuwe Mens)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Diens & Getuienis)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2007 Urial Publishing

1. Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?
Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?

Pre-Refrein:
Is ek vir U behae beplan?
’n Kind van U familie?
Gemaak om soos U Seun te leef?
’n Dienaar wat wil dien?
Brandend vir sending?
Of om te sien dat ek kan:

Refrein:
Lewe
As ’n nuwe mens
Lewe
As ’n nuwe mens
Wys my, lei my, leer my altyd om te
Lewe
As ’n nuwe mens

Brug:
Aanbidding, Familie, Mense wat soos U leef
Bediening, Sending
Hier om te kan sien (x3)

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Spreuke 9:1-6

Prediking

Familie-oomblik

Die teks is nie iets wat maklik met kinders gedeel kan word nie. Vertel eerder ‘n verhaal wat wysheid illustreer, bv die verhaal van Salomo en die twee prostitute in 1 Konings 3.

Alternatiewelik kan die gedeelte van die verstandige (wyse) man vertel word:
Matteus 7:24-29 Die twee fondamente
(Luk 6:47–49)
24“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 25Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. 26En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het. 27Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

28Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, 29want Hy het hulle geleer soos ’n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.

Mens kan ook soos die preekriglyn begin met ‘n paar humoristiese wyshede. Ek voeg ‘n paar by (anoniem), vertaal gerus na goeddunke.

Q1. In which battle did Napoleon die?
* his last battle

Q2. Where was the Declaration of Independence signed?
* at the bottom of the page

Q3. River Ravi flows in which state?
* liquid

Q4. What is the main reason for divorce?
* marriage

Q5. What is the main reason for failure?
* exams

Q6. What can you never eat for breakfast?
* Lunch & dinner

Q7. What looks like half an apple?
* The other half

Q8. If you throw a red stone into the blue sea what it will become?
* it will simply become wet

Q9. How can a man go eight days without sleeping ??
* No problem, he sleeps at night.

Q10. How can you lift an elephant with one hand?
* You will never find an elephant that has only one hand..

Q11. If you had three apples and four oranges in one hand and four apples and three oranges in other hand, what would you have ?
* Very large hands

Q12. If it took eight men ten hours to build a wall, how long would it take four men to build it?
* No time at all, the wall is already built.

Q13. How can u drop a raw egg onto a concrete floor without cracking it?
*Concrete floors are very hard to crack.

Preekriglyn

Hier is ‘n paar grappige wyshede:
• Leen altyd geld by ‘n pessimis – hulle verwag dit nie terug nie;
• Hoe meer haas, hoe groter die haaspastei;
• Hoe gouer jy agter raak, hoe meer tyd het jy om in te haal;
• As jy gewoonlik nie met jou eerste poging slaag nie, moet jy nie valskermspring probeer nie;
• Indien jy iets nie met die eerste probeerslag regkry nie, vernietig alle getuienis dat jy hoegenaamd probeer het;
• Ervaring is iets wat jy opdoen die oomblik nadat jy dit nodig gehad het.
Egte wysheid is meer as ‘n bietjie humor. Egte wysheid is ‘n broodnodige rigtingwyser vir ‘n bestendige lewe.

Bybelse wysheid

In die wêreld waarin die Bybel ontstaan het, is wysheidsuitsprake gebruik om jongmense op te voed. Ouers het hul kinders met wysheidsuitsprake reggeskaaf vir die lewe. Jongmense is ook daarmee voorberei vir posisies van leierskap en om hul rol in die samelewing te vervul.

Spreuke is een van die wysheidsboeke van die Ou Testament. Dit illustreer dat wysheid vir die Ou Testamentiese gelowige was om na te dink oor die werklikheid waarin die mens lewe. Dit soek na die patroon en orde wat God in die wêreld se struktuur ingebou het. Wysheid is om te lewe volgens hierdie patroon en orde. Deur nadenke oor die patroonmatige kan mens jou lewe reg inrig, jy kan met wysheid lewe. Geluk en voorspoed is om volgens God se orde te lewe.

Wysheid begin met die dien van die Here: om die orde wat Hy daargestel het te soek en te eerbiedig, is diens aan die Here (9:10). Wysheid funksioneer altyd binne die raamwerk van geloof in die Here. Wie die orde van God ignoreer, versteur die orde en moet die gevolge daarvan dra; wie volgens die orde lewe, kan verwag dat dinge vir haar of hom goed sal verloop (9:6).

Die wysheid waartoe Spreuke uitnooi is om in die alledaagse, gewone lewe met wysheid, met insig te lewe; as mens wat God ken en wie se lewe deur Hom beheers word. Dit gaan daarom om die lewenskuns te leer, om met integriteit ‘n positiewe lewe te gaan lewe.

Wysheid bou ‘n huis

Wysheid word in ons teks – soos dikwels op ander plekke – as ‘n verstandige vrou voorgestel wat vir haar ‘n huis gebou het. Sy berei ‘n feesmaal voor en stuur haar bediendes die hele stad vol om mense te nooi om te kom leer. Diegene wat kennis kortkom, die onkundiges oor die regte lewenspad, moet saam kom feesvier en kom leer. Onkunde is dwaasheid wat tot verkeerde optrede lei. Mense moet kom leer, sodat hulle op die pad van insig kan lewe.

Die bou van hierdie vaste huis met die begronde onderrig wat Wysheid gee, is ‘n gelykenis wat getuig van die koers waarop God se wysheid mens se lewe plaas. Almal wat onvolwasse, eenvoudig en sonder ervaring is, word op die regte pad geplaas. Wysheid is om die Here te dien en te volg. Dit gee die ware lewe (6).

Hou rekening met Dwaasheid

Later in Spreuke 9 word ook van dwaasheid vertel (13-18). Dwaasheid word ook as ‘n vrou voorgestel. Sy sit en klets, sy roep ook die onkundiges. Sy leer mense dat gesteelde water lekker is, en kos wat in die geheim geëet word, lekker is. Hierdie skelmstreke en kortpaaie na sukses lei eintlik net na die dood toe. Die dood self wag vir mense wat haar lering volg.

Mense in die visier

Beide Wysheid en Dwaasheid het mense wat onderrig benodig, in die visier. In die eerste 9 hoofstukke van Spreuke word veral oor jongmense gepraat. Jongmense het opvoeding en leiding nodig. Hulle moet opgevoed en gelei word. Hulle het die keuse om hulle eie koppe te volg en die kortstondige voordele van dwaasheid na te jaag. Of hulle kan wysheid leer en daarmee op die pad na egte voorspoed geplaas word.

Soos 9:10 sê:
Wysheid begin met die dien van die Here;
Wie die Heilige ken, het werklik insig.

Leerbaarheid as deug

Die openheid om geleer en onderrig te word, is ‘n sleutel tot ‘n wyse lewe. Vir die wysheidsboeke van die Bybel is leerbaarheid een van die belangrikste deugde denkbaar. Leerbaarheid, aangevul deur wyse onderrig, maak mens ‘n ekspert vir die lewe.

Ons weet nie uit onsself wat die beste weg vir die lewe is nie. Ons het nodig om ons onkunde te bely, en ons oop te stel vir God se wysheid. Op hierdie manier leer ons om reg te lewe.

Christus as die Wysheid van God

Dis is opvallend hoeveel tipiese wysheidsuitsprake Jesus maak.
Daar is – om mee te begin – ‘n groot ooreenkoms tussen die huis wat Wysheid bou, die maaltyd wat sy voorberei, en die uitnodiging wat sy rig aan mense om te kom eet, en die soortgelyke maaltyd wat Jesus in een van sy gelykenisse beskryf (Lukas 14:15-32). Die verband tussen Jesus se lering en die wysheidsliteratuur strek egter veel dieper.

Sowat 70% van Jesus se lering het ‘n tipiese wysheidskarakter. Jesus gebruik gelykenisse, wysheidsgesegdes (“Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald…), saligsprekinge en raaisels (“Wie sy lewe verloor, sal dit behou…”). Jesus word in die Nuwe Testament as ‘n wysheidsleraar – net soos Vrou Wysheid – voorgestel.

Jesus is egter veel meer as net ‘n Wysheidsleraar. Jesus is die Wysheid van God. Jesus is God se mensgeworde Wysheid. Jesus se dissipels is diegene wat Wysheid se juk opneem en van Jesus leer.

God se Wysheid is om die wêreld te betree in Jesus, om die diepte van die dood as gevolg van die mens se dwaasheid te betree, en die dood en Bose aan die kruis te oorwin. Jesus se opstanding uit die dood is die ewige bevestiging van die oorwinning van God se Wysheid. Daarom is die weg wat Jesus wys die regte pad om op te lewe.

Toepassing

Wysheid se oorsprong is nie ’n geheim nie. Wysheid begin met die dien van die Here. Dit is om jou verhouding met God te verstaan, jou plek voor Hom te ken.

Om die uitnodiging na wysheid se fees te aanvaar, is om vir die lewe te kies. Om in dwaasheid te bly, stuur af op die dood. God wil so graag dat ons wysheid moet hê, dat Hy Christus God se wysheid vir ons gemaak het (1 Kor 1:30). In Johannes 6:51 sê Jesus Hy is die brood van die lewe, wie van Hom eet sal vir ewig lewe. Ware wysheid is om in Jesus te glo, om Hom in die nagmaal te eet, deel van jou lewe te maak. Met hierdie wysheid kom al die aardse en hemelse seëninge. Alles is vir jou voorberei en alle seëninge word aan jou belowe. Watter fees, watter uitnodiging!

Aanvaar Wysheid se uitnodiging. Kom neem jou plek aan Wysheid se tafel in.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Offergawes

Wegsending: Lied 511 “Lei U ons lig vs 1,2”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.