Twaalfde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jesaja 1:1, 10-20
Net Sion het oorgebly
1 Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het aangaande Juda en Jerusalem. Dit was in die regeringstyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.
Leer om weer goed te doen
10Luister na die woord van die Here,
julle Sodomsleiers!
Gee ag op wat ons God julle leer,
julle Gomorrasvolk!
11Wat het Ek aan julle baie offers?
vra die Here.
Ek is sat van die brandoffers van ramme
en die vet van voerbeeste;
die bloed van bulle en lammers en bokke
staan My nie aan nie.
12As julle kom om voor My te verskyn,
wie het julle gevra om my voorhowe
te kom vertrap?
13Moenie langer julle
nuttelose offergawes bring nie:
Ek het ’n afsku van julle wierookoffers.
Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings,
die uitroep van feesdae:
Ek verdra nie feesviering
met onreg saam nie.
14Julle nuwemaansfeeste en feesgetye
haat Ek.
Hulle is vir My ’n las,
Ek is moeg daarvoor.
15As julle julle hande in gebed uitstrek,
sal Ek my oë vir julle toemaak.
Selfs al bid julle hoe baie,
sal Ek nie luister nie,
want julle hande is met bloed bevlek.
16Was julle, reinig julle.
Moenie voor My verskyn
as julle verkeerd doen nie.
Hou op met kwaad doen.
17Leer om weer goed te doen,
sorg dat daar reg geskied,
gaan die verdrukker teë.
Laat reg geskied aan die weeskinders,
behartig die regsake van die weduwees.
18Kom tog, laat ons die saak
met mekaar uitmaak, sê die Here:
Al was julle skarlakenrooi van sonde,
julle sal wit word soos sneeu.
Al was julle purperrooi,
julle sal wit word soos wol.
19As julle gehoorsaam wil wees,
sal julle die goeie van die land eet,
20maar as julle weier en opstandig bly,
sal die swaard júlle eet,
want dit is die Here wat dit gesê het.

Psalm 50:1-8, 22-23
Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red
50 ’n Psalm van Asaf.
Die Here is God, Hy alleen is God.
Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,
van waar die son opkom
tot waar hy ondergaan.
2Uit Sion, stad van volmaakte prag,
verskyn God in glans.
3Ons God kom,
Hy bly nie stil nie.
Voor Hom uit brand ’n vuur,
rondom Hom woed ’n storm.
4Hy roep die hemel en die aarde op
vir die saak teen sy volk:
5“Maak bymekaar
dié wat aan My getrou is
en met ’n offer’n verbond met My gesluit het.”
6Die hemel getuig: “God is regverdig,
en Hy is die regter.”
7“Luister, my volk,
Ek wil my saak stel,
Ek wil teen jou getuig, Israel.
Ek is God, Ek is jou God!
8Dit is nie omdat jy nie offer
dat Ek rekenskap van jou eis nie;
jou brandoffers is immers
gedurig voor My.

9Ek wil geen jong bul uit jou stal hê
of bokke uit jou krale nie,
10want al die diere in die bos is Myne,
die wild op duisende berge.
11Ek ken al die voëls van die berge;
al wat roer op die veld, is Myne.
12Ek sou jou nie vra
as Ek honger sou kry nie,
want die aarde en alles wat daarop is,
behoort aan My.
13Eet Ek miskien die vleis van die bulle
wat julle offer,
of drink Ek die bloed van bokke?
14Lof is die offer
wat jy aan God moet bring.
Betaal jou geloftes
aan die Allerhoogste.
15Roep My aan
in die dag van benoudheid:
Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”
16Maar vir die goddelose sê God:
“Waarom sê jy my voorskrifte
een vir een op
en beroep jy jou op my verbond,
17jy wat ’n afkeer het
van wat Ek jou leer
en jou nie steur aan wat Ek sê nie?
18As jy ’n dief raakloop,
breek jy saam met hom in,
en as jy die kans kry, pleeg jy egbreuk.
19As jy jou mond oopmaak,
praat jy kwaad;
jou tong ryg bedrog aanmekaar.
20Jy sit en praat teen jou broer,
jou eie broer beswadder jy.
21“Moet Ek stil bly
as jy sulke dinge doen?
Dan sal jy dink Ek het soos jy geword! Nee,
Ek eis rekenskap van jou,
Ek kla jou aan!

22Julle moet luister
na hierdie waarskuwing,
julle wat nie met God rekening hou nie,
anders verskeur Ek julle
sonder dat iemand kan red.
23“Die mens wat My eer,
is die een wat lof as ’n offer bring.
Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red.”

Lukas 12:32-40
32“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.

33“Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ’n beurs aan wat nie leeg raak nie, ’n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. 34Waar julle skat, is daar sal julle hart ook wees.”

Die gelykenis van die waaksame slaaf
(Matt 24:45–51; vgl Mark 13:33–37)
35“Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand! 36Julle moet wees soos mense wat vir hulle eienaar wag tot hy van die bruilof af terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. 37Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self ’n voorskoot aansit en hulle kom bedien. 38Gelukkig is die slawe wat hy wakker aantref, selfs al sou hy eers om middernag of met hanekraai kom. 39Maar dit moet julle weet: as die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom, sou hy hom nie in sy huis laat inbreek het nie. 40Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie.”

Fokusteks

Hebreërs 11:1-3, 8-16
Wat geloof is
11 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.

3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.

4Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ’n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.

5Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. 6As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

7Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

8Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.

11Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ’n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12Die gevolg was dat daar van een man, ’n man wat nie meer ’n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.

13Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. 14Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ’n vaderland. 15As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. 16Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak.

17–18Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 155 “Verhef ons harte tot U, Heer” of
Flam 378 “Skyn met U lig in my hart, Heer”

Votum Psalm 50:1-6

Seëngroet

Lofsang 
Lied 190 “Grote God, aan U die eer” of
Lied 207 “Eer aan die Vader” of
Flam 72″ Ons Glo!”

Wet  Jesaja 1:16-17
Skuldbelydenis  Flam 7 “Here, Ek Vergeet So Gou”

Genadeverkondiging Jesaja 1:18
Vonkk 79 vers 3 “Genade, So Oneindig Groot”

Liedere

F378. “Skyn Met U Lig In My Hart, Heer”
Teks en musiek: Paul Baloche: Open the Eyes of my heart, Lord
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© 1997 Integrity’s Hosanna! Music
(Ps 123:1,2, Ef 5:15-23, Heb 12:2)

(x2)
Skyn met u lig in my hart, Heer
skyn met u lig in my hart,
Ek wil U sien, Heer. (x2)

(x2)
Beklee met majesteit en mag,
stralend in die glans van u grootheid.
Vul ons met liefde en krag
ek sing: Heilig, heilig, heilig.

Heilig, heilig, heilig (x3)
ek wil U sien, Heer.

Heilig, heilig, heilig (x3)
ek wil U sien, Heer. (x3)

F72. “Ons Glo!”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis)
Teks en musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Ons glo as ons struikel dat ons op kan staan.
Ons glo in U liefde soos ’n oseaan.
Ons glo in genade soos die see.
’n Stroom van vergifnis sleur ons mee
en ons bely.

Ons glo dat die Herder sy kudde lei.
Ons glo dat die Leidsman die weg berei.
Alwys alwetend onsienlik Heer.
Onmeetlik sterke Verlosser Heer,
ons glo!

Ons glo daar’s ’n more na die donker nag.
Ons glo aan ’n bruilof wat die bruid inwag.
Ons glo in vervulling van die Woord.
In Christus oorwinnaar oor die dood
en ons bely.

Ons sing omdat ons glo,
aanbid omdat ons glo,
bely dit dat ons glo,
ons loof U want ons glo.

Alwys alwetend onsienlik Heer,
onmeetlik sterke Verlosser Heer,
ons glo!

F7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy
Teks en musiek: Steve Merkel
Afrikaanse vertaling: 2005 Breda Ludik
© 2000 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ’n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

2. Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:

3. Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ’n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

VONKK 79 “Genade, So Oneindig Groot”
Teks: Amazing grace, how sweet the sound – John Newton 1779 (1725 – 1807); Jacques Louw 2009 ©
Melodie: AMAZING GRACE  — Amerikaanse volksmelodie in Southern Harmony 1831; aangepas Edwin Excell 1900
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: openbare besit
RUBRIEK:  Tradisioneel – Geloof en Vertroue

3.  Al was ek so verhard en blind,
al het ek niks verdien,
kon ek by U genade vind –
geloof, wat my laat sien.

F206. “Ons glo (Jesus Is Die Heer)”
(RUBRIEK: Flam – Geloofsbelydenis)
Teks: Nico Simpson
Musiek: Riaan Steyn, Jandré Viljoen, Neil Büchner
© 2011 Flam Musiek-Uitgewers
(Geskep tydens die NG Kerk Sinode Wes- en Suid-Kaap, Mei 2011)

1. Ons glo … in U alleen.
Saamgebring deur u Woord,
versamel deur u Gees.
beskerm en versorg.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Aan U kom toe die eer
heerlikheid in ewigheid,
Jesus Christus, U’s die Heer.

2. Ons glo … versoen deur U –
tot een beker en brood –
deur een doop gedoop
en ons bely een Naam.

Refrein:

3. Ons glo … gedring deur U
tussen haat en dood
breek U skeidings af
laat ons vredemakers word.

Refrein:

4. Ons glo… bevry deur U,
in ’n wêreld vol nood
is U by dié wat ly
en ons sal U daarin volg.

Refrein:

5. Ons glo … geroep deur U
selfs in weerstand en straf
om U alleen as Hoof
te leef en te bely.

Refrein: (x2)

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 11:1-16

Familie-oomblik

Hier word vertel dat ‘n “African Impala” tot 3 meter hoog kan spring.  Tog kan hulle in wildtuine agter heinings van minder as 1 meter aangehou word – want rooibokke spring nie waar hulle nie kan sien nie.  (Vir die pret kan jy die video wys van die rooibok wat onlangs in iemand se kar ingespring het!)

Jy kan hierdie beeld verbind aan die teks, wat sê dat geloof is om oortuig te wees van dié dinge wat ons nie kan sien nie en dan vir Abraham gebruik as voorbeeld van hoe dit lyk om in geloof op te tree, al kan jy nie sien wat voorlê nie.

Preekriglyn

‘n Sekere klein seuntjie was nie op sy mond geval nie. Daar kuier familie by hulle toe sy ma hom vir ete roep. “Onthou om jou hande te was,” sê sy, “en was al die kieme lekker af.”

Skaars beginne hy sy hande te was, of ma roep: “Kom, kom Jannie, gou maak! Pa wil al ogies maak om vir Jesus dankie te sê vir ons kossies.”

“By elke ete hoor ek ook net van kieme en van Jesus, kieme en Jesus, kieme en Jesus,” brom die klein rakker toe hy aan tafel kom. “En om te dink ek het nog nie een van die twee gesien nie!”

Om Jesus te sien

Die Johannesevangelie vertel van Tomas se behoefte om Jesus te sien. Hy kon nie glo God het Jesus werklik uit die dood opgetel nie. Jesus is hom genadig, en kom sy twyfel tegemoet. Hy verskyn aan Tomas. Toe Tomas sien, toe glo hy. Waarna Jesus die betekenisvolle woorde sê: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Joh. 20:29)

Johannes gebruik die insident om die motief te verskaf waarmee hy die evangelie skryf: “Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:30-31)

Dis duidelik dat sien en glo vir Johannes verband hou. Die oorvertel van Jesus se woorde en dade skep geloof in mense, wat hulle help om Jesus te sien met oë van geloof.

Sien en glo

Ons teksgedeelte werk ook met die verband tussen sien en glo. As jy by sien begin, gaan jy dit moeilik vind om te glo. Maar as jy by glo begin, gaan jy verstom raak oor wat jy kan sien. Geloof werk soos ‘n lens wat jou vermoë om te sien opskerp. Sodat jy kan sien waarop dit werklik aankom.

Vir moderne Westerlinge is sien een van die hoekstene waarop ons kultuur en kulturele prestasies gebou is. Die opkoms van moderne wetenskaplikheid is gebou op die behoefte om empiries waar te neem. Om dinge te sien met behoorlike fisieke waarneming, sodat ons dit kan verstaan, en dit kan gebruik.

Die karperd van sien in Westerse wetenskaplikheid is rasionele denke. Ons bedink dit wat ons waarneem.

Niemand kan ontken dat wetenskaplike waarneming en rasionele denke geweldige seën inhou nie. Dink net aan die mediese wetenskap wat reeds die rug van soveel lewensbedreigende en ander siektes geknak het. Dink aan elektrisiteit in ons huise, rekenaars op ons lessenaars, yskaste, vrieskaste en water (warm water!) in ons krane.

Gepaardgaande met die klem op waarneming, het betwyfeling en suspisie ook ‘n belangrike rol in ons prestasies gespeel. Dis hoe rasionele, wetenskaplike denke werk. Ons aanvaar nie dat dinge is soos dit op die oppervlak lyk nie. Ons wil dieper kyk, dieper grawe, sodat ons agter die dinge kan kom, en nie aan die neus gelei word nie. Dinge is nie soos dit met die eerste oogopslag lyk nie. Ons hou nie van eenvoudige antwoorde nie. Ons is suspisieus, en ons pluk die vrugte daarvan in manjifieke kulturele prestasies.

‘n Baie klein wêreldjie

Ons oorwaardering van fisiese waarneming het ons egter ook blind gemaak. Sê nou maar net mens kan nie alles ken deur dit fisies waar te neem nie? Sê nou daar is aspekte van klippe, bosse, berge, diere en mense wat meer is as wat ons onder ‘n mikroskoop, in ‘n proefbuis, onder die helder ligte van fisiese waarneming kan vasvang?

Is sien, bewys, verklaar, bedink die enigste betroubare bron van kennis?

Sê nou maar daar is dinge wat nie gesien kan word nie? Dinge wat nie deur rasionele betwyfeling ontbloot kan word nie?

Baie Westerlinge is diep oortuig dat die enigste realiteit die sigbare en verklaarbare, die materiële is. Daarom word selfs die oorsprong van alles ook ingetrek in die sfeer van die materiële. Alles móés hiervolgens deur die interaksie van materie ontstaan het. Allerhande teorieë ontwikkel om ‘n bloot materialistiese verklaring vir die oorsprong van die wêreld te gee.

Daar is nie meer ruimte vir God, engele, die geesteswêreld en vir openbaring as betroubare bron van kennis nie. Die sigbare wêreld rus nie in bedoelinge en verhoudinge groter en buite die sigbare nie. Al wat is, is dit wat ons kan sien.

Daarom is materialistiese Westerlinge die mense wat in die kleinste wêreldjie van almal leef. Daar is nie ‘n God nie. Daar is nie ‘n Skepper, Verlosser en Voleinder nie. Daar is nie ‘n skare van verlostes voor God se hemeltroon nie. Daar is nie boosheid en vernietiging nie. Daar is net die dinge wat ons kan sien.

Daar is ook nie wondere en verwondering nie. God het nie in Jesus van Nasaret op ons wêreld aangeland, dit aangeraak om dit nuut te maak nie. Jesus is nie doodgemaak, maar deur God lewend gemaak as bewys dat God die hele wêreld herskep nie. God het nie die Heilige Gees as Here en lewendmaker uitgegiet nie. God is nie Koning nie. Daar is net ons en die dinge rondom ons.

‘n Klein wêreldjie inderdaad.

‘n Groot wêreld

Hebreërs 11 stel ‘n groot wêreld aan ons bekend. Dit is ‘n wêreld waar:

  • Die sigbare dinge hulle ontstaan aan God te danke het: die sigbare het ontstaan uit iets van ons nie sien nie (1)
  • Mense se diepste sekerheid gebore word uit die hoop wat God in ons harte geskep het (1)
  • Waar ons hoop en etiese gedrag gebore word uit God se beloftes oor die toekoms (10).
  • Betroubare kennis ook deur God se openbaring te glo, verkry word.

Hierdie wêreld is groter as die sfeer van die sigbare. Dit is ‘n wêreld waarin ons vashou aan God en aan God se beloftes. Daarom glo ons en leef ons anders. Deur geloof sien ons God se beloftes en rig ons lewens daarvolgens in.

Die lang lys voorgangers in geloof, wat hier genoem word, het almal anders geleef en opgetree omdat hulle deur geloof wêreld kon sien wat mens sonder geloof nie kan sien nie. Die bril van geloof het hulle verander:

  • Abel se opregtheid is deur geloof bevestig (4);
  • Henog het deur geloof geleef soos dit God behaag het (5);
  • Noag het die ark op droë grond gebou op grond van God se belofte dat hy uit die komende oordeel gered sal word (7);
  • Abraham het op grond van die belofte van ‘n land alles verlaat, getrek sonder om te weet waar hy sou eindig, en na die beloofde land gereis onderweg na God se stad met vaste fondamente (8);
  • Abraham het deur geloof, as ‘n ou man, die ontvanger van ‘n talryke nageslag geword (11-12).
Wat geloof doen

Dit is duidelik dat geloof ‘n enorme impak op mens se lewe het. Die rede hiervoor kry ons in Hebreërs 11:1 wat begin met “Die geloof dan is….” Vers 1 kan letterlik só vertaal word: “Nou, geloof is die substansie van dinge waarop ons hoop, die bewys van dinge wat ons nie sien nie.”

Die Griekse woorde, “Ἕστιν δὲ,” waarmee die sin begin, kan in klassieke Grieks gebruik word om ‘n definisie in te lui. Hier wil die skrywer egter nie soseer ‘n definisie vir geloof gee nie. Grammatikaal is daar sterk aanduidings dat hy eerder wil sê: “Geloof verteenwoordig…”, of “Geloof vier…” Wat vier geloof? Dit vier ‘n objektiewe werklikheid (“substansie”) – ‘n komende werklikheid – waarop ons geloof fokus. Die vertaling sou dan lui: “Nou, geloof is die viering van ’n objektiewe werklikheid waarop ons hoop.”

Die NAV vertaal “substansie” of “objektiewe werklikheid” met “seker wees”. Dit gee ongelukkig aan die woord ‘n subjektiewe karakter. Die taak van geloof is om die ongesiende werklikheid so werklik te maak soos die werklikheid wat jy met jou oog kan sien. ’n Objektiewe werklikheid, ’n vaste sekerheid, dis wat God gee. Die sekerheid lê in God en nie in onsself nie. ’n Christen is dus iemand wat God se werklikheid en sy toekoms vir ons raaksien. Soos Hebreërs 2:5 sê “Die toekomstige wêreld, dit is die eintlike tema waaroor ons praat ….”

Wat geloof doen, is om ons aan God te verbind, en aan ons die sekerheid te bevestig van God se beloftes van die heerlike bestemming waarop die lewe van geloof uitloop.

Ons teks spel hierdie effekte van geloof dan as volg uit:

Effek 1: Realisme wat alle feite in ag neem
Ons wil almal graag realisties wees. Ons wil alle feite in ag neem. Geloof help ons om die onsienlik God, die Oorsprong van alle sienlike dinge, in ag te neem. Geloof help ons ook om God se beloofde wêreld raak te sien. Geloof slaan die brug tussen hierdie wêreld en die beloofde stad met vaste fondamente, waarvan God self die ontwerper en bouer is (10).

Geloof bevry ons van ‘n wêreldjie wat té klein is, ‘n wêreldbeeld wat nie al die feite in ag kan neem nie.

Mense wat realisties wil wees, maar net die sigbare in ag neem, se wêreld is té klein, onrealisties klein.

Effek 2: ‘n Toekomsverwagting
God se beloftes oriënteer ons aan die toekoms. Ons leef nou in harmonie met God, en gehoorsaam aan God, want ons weet hierdie gehoorsaamheid loop uit om die verkryging van God se beloftes.

Geloof bevry ons van ‘n lewe wat vasval in die hede, asof die hede al is wat ons het. Baie mense leef asof die hede al is wat ons het. Daar is nie ‘n toekomsverwagting nie. Hul lewens is vasgekerker agter die tralies van die hede.

Daar is meer as die hede. Om reg te lewe, moet ons die toekoms van God onthou. Johannes Calvyn het gesê mens moet elke dag die heerlike toekoms van God bedink en jouself daaraan herinner. Dit gee jou die moed om in die hede gehoorsaam te lewe.

Waarom is God se beloftes betroubaar? Hebreërs 11 wemel van voorbeelde hoe God reeds in hierdie lewe sy beloftes gestand doen. Abraham het alles agtergelaat, sy land en familie, en bloot op grond van God se beloftes getrek na ‘n vreemde land. God het sy beloftes gestand gedoen. Abraham het ‘n land en ‘n nageslag verkry.

Nietemin het nie almal die volle vervulling van God se beloftes gesmaak nie. Die ewige stad is immers nog nie ons deel nie. Baie gelowiges het gesterf sonder om te verkry wat beloof is (13), maar hulle juig reeds uit die verte oor die vaderland en stad wat God belowe het. God self is vir hulle die waarborg dat hulle dit sal kry.

Mens kan nie op God se koers vir jou lewe bly as jy nie God se toekoms in gedagte hou, en daaraan georiënteer bly nie.

Effek 3: Aanmoediging om voluit gehoorsaam te lewe
Geloof bevry ons van die angs dat ons lewe in ons eie hande is, en dat al wat saak maak hoe goed jy in die hede vir jouself sorg.

Vir die lesers van die Hebreërbrief was dit ‘n akute gevaar dat hulle moedeloos kon raak en die geloof versaak. Die rede hiervoor was die intense vervolging wat Christene in die Romeinse Ryk belewe het. As mens hfs. 11 verder lees, hoor jy die die skrywer hiervan vertel.

Wanneer jou vervolgers met die martelinstrumente nader kom, of wanneer jy jou werk verloor omdat jy ‘n gelowige is, is dit só maklik om liewer net die swaarkry en die skerp lemme raak te sien. Jy kan verblind word, jy kan die vermoë verloor om verder as die lyding te kyk en die heerlikheid waarop alles vir jou gaan uitloop steeds raak te sien.

Daarom moedig die Hebreërbrief gelowiges aan om áltyd deur geloof verder te kyk, God raak te sien, en die sekere vervulling van God se beloftes in gedagte te hou.

Op reis met God

‘n Lewe deur geloof is ‘n reis onderweg met God. ‘n Reis waarin die eindbestemming reeds vasstaan. ‘n Reis waarin die beloftes van God ons vorentoe trek op die pad van gehoorsaamheid. ‘n Reis waar ons nou reeds, uit die verte, juig oor die wonderlike beloofde toekoms van God.

 

 

God stuur ons om te leef

Apostoliese Geloofsbelydenis
Gebed
Dankoffer

Slotlied
Lied 518 “Voel jy soms of die Here te vér is?” of
Lied 489 “Waak, Christen, staan in die geloof” of
Flam 206 “Ons Glo! (Jesus is die Heer)”

Seën

Respons
Lied 204 “Halleluja! Amen”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.