Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd (Barmhartigheidsondag)

Sections

Oorsig

Romeine 12 bied aan die Christelike geloofs-gemeenskap die imperatief tot gasvryheid aan vreemdelinge. Ons is ‘n radikaal ander gemeenskap deurdat ons God se kinders is wat nuut dink en doen omdat ons genadegawes van God ontvang het.

Ons maak deel uit van God se groter verhaal wat geestelike vaders soos Abraham (Ps 105) en Moses
(Eks 3) insluit. In hierdie verhaal sluit God ander nasies asook die natuur in.

Dit is omdat Jesus so radikaal anders was dat hy deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes – sy eie mense – doodgemaak sou word (Matt 16).

Iets van hierdie radikale andersheid kom in die atmosfeer van hierdie erediens voor.

Ander tekste

Eksodus 3:1-15
God openbaar Hom aan Moses
3 Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ’n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.

2Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ’n vlam binne-in ’n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 3En Moses sê vir homself: “Ek wil tog ’n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?”

4Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!”
En hy antwoord: “Hier is ek.”

5Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” 6Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”
Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.

7Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 9Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. 10Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

11Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”

12God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

13Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”

14Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

15Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.

Psalm 105:1-6
105 Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.

Matteus 16:21-28
Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan

(Mark 8:31–33; Luk 9:22)
21Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

22Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.”

23Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg
(Mark 8:34–9:1; Luk 9:23–27)
24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. 26Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe? 27Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. 28Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Fokusteks

Romeine 12:9-21
Riglyne vir die Christelike lewe
9Die liefde moet opreg wees.
Verafsku wat sleg is
en hou vas aan wat goed is.
10Betoon hartlike broederliefde
teenoor mekaar;
bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11Moenie in julle toewyding
verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
12Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.
13Help die medegelowiges
in hulle nood
en lê julle toe op gasvryheid.
14Seën julle vervolgers,
ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.
15Wees bly saam met dié wat bly is
en treur saam met dié wat treur.
16Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie,
maar skaar julle by die nederiges.
Moenie eiewys wees nie.
17Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.
18As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense.
19Moenie self wraak neem nie,
geliefdes,
maar laat dit oor aan die oordeel
van God.
Daar staan immers geskrywe:”
Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.
20“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink;
want deur dit te doen,
maak jy hom vuurrooi
van skaamte.”
21Moet jou nie deur die kwaad
laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
deur die goeie.

Ekstra stof

Dit is belangrik om die verband met die vorige perikoop, 12:1-8, te verreken. Let op hoe Paulus daar die nuwe lewe uitspel.

  • Ons moet anders dink oor die sondige wêreld en nie konformeer aan die manier van leef wat die media en vermaaklikheidswêreld aan ons opdis nie (12:2).
  • Ons moet anders dink oor onsself en nie meer dink van onsself as wat ons behoort nie (12:3). Ons moet ‘n kopskuif na beskeidenheid maak.
  • Ons moet ook anders dink oor die gemeenskap van gelowiges (12:4):
    • Ons is een al het ons verskillende funksies (12:5). Ons verskillende gawes kom immers van dieselfde God af (12:6).
    • Ons moet die gawes met vernuwende denke aanwend:
      • Profesie moet in lyn wees met ons geloofsbelydenis (12:6).
      • Ons gawes moet sonder bybedoelings wees (12:8).
      • Ons leierskap moet met toewyding wees (12:8).
      • Ons hulp aan ander moet met blymoedigheid wees (12:8).

En dan in die res van die hoofstuk, waaroor hierdie week se fokusteks handel, spel Paulus ‘n lang lys van kenmerke van só ‘n nuwe lewe/denkwyse uit. Dit is só ‘n omvattende lysie dat dit die moeite werd is om dit uit te druk en op jou motor se stuurwiel te plak sodat jy dit kan lees voor jy ry, en as jy by die robot stilhou (hou net die robot ook dop!) en as jy by jou bestemming aankom (Deut. 6:6-9 vir vandag!).

En let op hoe dit van hoek tot kant met verhoudings te make het, in aansluiting by 12:4–8, hier in die eerste plek met medegelowiges (12:10,13,15,16), maar selfs ook met vervolgers (12:14) en vyande (12:19-21), kortom alle mense (12:17,18). Vers 11-12 bring ook die verhouding met God in spel waarin toewyding en gebed ‘n belangrike rol speel. En die laaste paar verse 12:19-21 verbind dit aan ‘n vertroue op God wat regverdig sal oordeel (Deut. 32:35) en transformerend sal optree in ons verhouding met vyande (Spreuke 25:21-22).

Veral hierdie laaste paar kopskuiwe maak ‘n mens gerus – God is regverdig EN kan die kwaad deur die goeie oorwin.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 525 of Flam 62

Votum: Psalm 105:1-3

Seëngroet

Lofsang: Flam 144 of  Lied 334

Wet: Matt 16:24-26

Skuldbelydenis: VONKK 63

Genadeverkondiging: Psalm 105:4-6 (of 9)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Romeine 12:9-21

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 256 of VONKK 146 of Lied 530

Wegsending: Romeine 12:11-12

Respons: Lied 525 of Vonkk 146 Refrein of Flam 144 fragment

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 525 “Waar daar liefde is” of
Flam 62 “Ons is Hier Vir ’n Doel En Vir ’n Rede (Saam Is Ons Beter)”

Votum: Psalm 105:1-3

Seëngroet

Lofsang
Flam 144 “God Is Liefde”
Lied 334 “God is liefde” juig ons harte!

Wet: Matt 16:24-26

Skuldbelydenis
VONKK 63 “Die Heer Oor Al Wat Lewe”

Genadeverkondiging: Psalm 105:4-6 (of 9)

Liedere

F62. “Ons is Hier Vir ’n Doel En Vir ’n Rede (Saam Is Ons Beter)”
(RUBRIEK: FLAM Kruisfuur – Diens en Getuienis / Kerk) Teks en musiek: Chardi Visser
© 2009 MAR Gospel Music (Opgeneem op Uitverkoop)

Ons is hier vir ’n doel en om ’n rede,
om Christus deur ons elkeen te laat lewe,
om te hoor wat Hy sê en die wêreld te verander.

Refrein:
Saam is ons beter, saam is ons meer,
saam bou ons ’n toekoms met dit wat Christus leer.
Saam is ons vir altyd, saam is ons sterk,
saam is ons Sy liefde, saam is ons sy kerk.

Brug:
Saam is ons beter. (x4)
Saam is ons beter. (x2)

Refrein:

F144. “God Is Liefde”
(RUBRIEK: Flam – Kersfees / Epifanie, lof)Musiek: Retief Burger Teks: Attie van der Colf © NG Kerk Uitgewers
© 2005 Urial Publishing (1 Joh 4:7-21, Rom 5:1-11, Joh 3:16)

God is liefde,
juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef,
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef.

VONKK 63 “Die Heer Oor Al Wat Lewe”
Matteus 16 : 24-28 Teks: Die Heer oor al wat lewe — AP van der Colf 1988; Jacques Louw 2010 ©
Melodie: MORNING LIGHT – George J Webb 1837 Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) © Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit

RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens
1. Die Here Jesus Christus, kom alles van my vra:
“Kom dra, deur selfverloëning, jou kruis en volg My na.”
Wie vir homself wil lewe – met selfsug God wil dien –
sal nooit die nuwe hemel, Sy koninkryk kan sien.

2. Wat help dit dat ons mense so streef na aardse wins?
Hoe sal ‘n mens jou lewe kan ruil vir God se guns?
Nee, elkeen wat die lewe net vir homself wil hou,
is aan die Heer se opdrag, sy doel vir ons ontrou.

3. Die Here vra ons almal dat ons onsself verloën,
want só kan ons aan ander ons Heer se liefde toon.
Is daar ‘n blyer boodskap? Wat kan ons meer verwag?
Wie met die Here sterwe, herleef ook deur sy krag.

4. Wanneer die Here Jesus weer eendag t’rug sal kom,
kom Hy beklee met luister, met eng’le rondom Hom.
Dan kom Hy om te oordeel oor dade – goed en kwaad.
Volg jy Hom dan gehoorsaam. Dien Hom met woord en daad.

VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”
Teks: My spirit, soul and body – Mary Dagworthy James 1885; Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2010 ©
Musiek: Phoebe Palmer Knapp (1839-1908) © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Pinkster / Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. My gees, my siel, my liggaam
wy ek aan U, o Heer.
Ek lê myself as offer
gewillig voor U neer.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

2. My diepste wens is, Here,
– gehoorsaam aan u Gees –
dat ek met al my gawes
vir U mag diensbaar wees.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

3. U liefde vir die wêreld
het U na ons gebring.
Mag ek na ander uitreik
deur liefde wat my dring.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

4. U stuur my na die wêreld
om dáár vir U te werk,
my gees en siel en liggaam
te wy ook aan u kerk.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

F256. “Ons Is U Liggaam”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis) Teks en musiek: JA de Beer en Zander van der Westhuizen © 2007 Urial Publishing

Ons leef u liefde in ’n wêreld wat uitroep.
Ons neem u water na mense wat dors.
Laat ons u liefde deur ons dade uitdra.
Ons neem u brood na ’n sterwende land.
So kom U naby aan elkeen wat nood het.
Laat u wil geskied deur ons gehoorsaamheid.
Want ons is u liggaam,
ons sal U vir altyd volg,
ons is die gesalfdes
wat opstaan vir u Naam.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Romeine 12:9-21

Familie-oomblik

As jy dit betyds in die hande kan kry, lees Tony Baloney deur Pam Munoz Ryan. Tony Baloney is ‘n pikkewyn – die tweede kind van vier en die enigste seun. Dis nie altyd vir hom maklik om saam met sy sussies te speel nie. Hy kan nie meer “in vrede met alle mense leef” (v18) nie en beland in die moeilikheid. Sy ouers sê hy moet mooi om verskoning vra. Tony wonder teenoor sy sagte speelding: “I am not feeling nicely in my heart. How long does it take for nicely to creep in? Maybe never, or in a little while. Just wait for it.” Dit sluit aan by die teks – Paulus praat oor hoe ons saam met mekaar leef. Ons moet dit doen, in Tony Baloney se woorde, “nicely and from our hearts”.

Jy kan ook gewoon deur die lys gaan. Die lys is egter te lank en ingewikkeld vir kinders. Maak eerder vir elke kind ‘n “plakaat”- ‘n vel papier met enkel woorde of kort frases wat verwys na sommige van die goed op Paulus se lys binne-in ‘n kruis. Gaan deur die lys om die enkel woorde en kort frases te verduidelik. Erken dat dit nie altyd maklik is om volgens die woorde te leef nie. Dis moeilik omdat ons da naan ander moet dink en wat hulle wil hê en nodig het – nie net ons eie wil nie. Dis hoekom die woorde in ‘n kruis is – want wanneer ons vir ander omgee, is ons gehoorsaam aan Jesus. Laat die kinders die plakate versier terwyl jy preek.

Preekriglyn

Waar die eerste elf hoofstukke van Romeine uitloop op ‘n loflied oor die genade van God, is die laaste hoofstukke ‘n kragtige beskrywing van die lewensveranderende krag wat God deur die liggaam van Christus, onder leiding van die Heilige Gees, in die wêreld bewerk.

Die eerste en laaste verse van ons teksgedeelte vorm die opskrif daarvan – liefde oorwin die kwaad:

  • Paulus skryf oor liefde wat opreg moet wees, vashou aan wat goed is en verafsku wat sleg is (9).
  • Dan gee hy uitgebreide praktiese riglyne hoe gelowiges onder mekaar moet lewe, maar ook in die wêreld, tussen ander mense, en spesifiek ook in die aangesig van hul vyande (10-20)
  • Hy sluit af deur ons op te roep om ons nie deur die kwaad te laat oorwin nie, maar die kwaad deur die goeie te oorwin.
Liefde oorwin die kwaad

Ongeveer ‘n half miljoen Amerikaners het in die Tweede Wêreldoorlog gesterf. Dit klink baie, tot mens hoor 40 miljoen Russe het hulle lewe verloor. Dit alles is die gevolg van die Nazi’s se strewe na mag, grond en oorheersing. Ontsettende verlies aan menselewens, geld en bronne was nodig om dit te oorwin.

Toe die verslane en verslete Duitse krygsgevangenes deur die strate van Moskou begelei is, was daar duisende Russe wat hulle uitmekaar wou skeur oor die pyn wat hulle die Russiese mense aangedoen het. Net die Russiese polisie het hulle weerhou om dit te doen.

Tog breek een Russiese vrou deur die linie en hardloop met ‘n stuk brood na een van die soldate. Skielik het baie ander Russe dit ook gedoen. Hierdie daad van liefde is ‘n illustrasie van die geweldige krag van die goeie wat die kwaad oorwin.

Tony Campolo, wat hierdie verhaal vertel, skryf: “I think we would all be gracious if we could look at each other and not see the enemy but see that each of us, in his or her own way, is somebody’s little kid, sick and dying and far away from home.”

Ons weet nie wat die effek op die soldate was nie, maar ons weet dat Christene só behoort op te tree. Phillips Brooks skryf in ‘n preek in 1878:

Laat die oënskynlike waardeloosheid van medelye jou nooit weerhou om die medelye, waarvan jou hart vol is as jy mense se lyding rondom jou sien, te betoon nie. Gaan en betoon dit sonder om jouself af te vra of dit die moeite werd is om dit te betoon. Dit is te heilig om te beoordeel of dit die moeite werd is. God, van wie dit kom, stuur dit deur jou aan sy behoeftige mense.

Emosie en passie

Hierdie gedeelte in Paulus se brief is vol emosie en passie. Woorde wat gebruik word, is liefde, haat, vashou aan die goeie, hartlike broederliefde, eerbied, toewyding, geesdriftig, verbly, volhard, help, gasvryheid, seën, nie vervloek nie, treur . . . ons kan aangaan. Dis asof ons hele menswees in beslag geneem word.

Dis ook hoe dit behoort te wees. Die hoofstuk begin met God se genade. Net soos die Tien Gebooie met God se bevryding begin en uitloop op liefde vir God en ander, word ons herinner aan God se ontferming in Christus (1). Dit lei tot ‘n lewe van totale oorgawe aan God se wil. Dit bring ‘n metamorfose, ‘n hervorming in ons tot stand (2). Die manier waarop die wêreld optree (2), die skemas van die wêreld maak nie meer sin nie. Ware liefde word gebore. Dis ‘n liefde sonder voorwaardes en maskers. Dit kom uit die hart en sluit alle mense in – die geloofsgemeenskap en hulle buite die geloofsgemeenskap.

Begrond in God se genade

Dit is dus duidelik dat liefde in hierdie gedeelte nie blote emosie is nie. Ons word nie opgeroep om ‘n emosionele opwelling in onsself te bewerkstellig wat oorvloei in goeie dade teenoor ander nie. Die vuur van ons passie en emosies brand vinnig uit.

Liefde teenoor die ander is ‘n keuse wat God in ons moontlik maak. God bewerk die nuwe lewe in ons en stort die liefde deur sy Gees in ons harte uit (5:5) Dit is daarom belangrik om die verband met die vorige perikoop, 12:1-8, te verreken. Let op hoe Paulus daar die nuwe lewe uitspel:

  • Ons moet anders dink oor die sondige wêreld en nie konformeer aan die manier van leef wat die media en vermaaklikheidswêreld aan ons opdis nie (12:2).
  • Ons moet anders dink oor onsself en nie meer dink van onsself as wat ons behoort nie (12:3). Ons moet ‘n kopskuif na beskeidenheid maak.
  • Ons moet ook anders dink oor die gemeenskap van gelowiges (12:4):
    • Ons is een al het ons verskillende funksies (12:5). Ons verskillende gawes kom immers van dieselfde God af (12:6).
    • Ons moet die gawes met vernuwende denke aanwend:
      • Profesie moet in lyn wees met ons geloofsbelydenis (12:6).
      • Ons gawes moet sonder bybedoelings wees (12:8).
      • Ons leierskap moet met toewyding wees (12:8).
      • Ons hulp aan ander moet met blymoedigheid wees (12:8).

En dan in die res van die hoofstuk, ons teks, spel Paulus ‘n lang lys van kenmerke van só ‘n nuwe lewe/denkwyse uit.

Nie maklik nie

Ons moet erken dat dit nie altyd maklik is om uit liefde teenoor ander te reageer nie.

Jean-Paul Sartre se drama (Huis Clos – geen uitgang) gaan oor die hel. Dis ‘n vertrek sonder vensters en spieëls. Die drie karakters in die drama, Garcin, Inès en Estelle, het elkeen ‘n rusbank. Hulle weet hulle is in die hel, maar daar is nie enige vuur of voorwerpe waarmee hulle mekaar kan martel nie. Uiteindelik ontdek hulle dat dit nie nodig is nie, want hulle martel mekaar. Hulle kan mekaar nie eens doodmaak nie, want hulle is reeds dood. Garcin sê: “Dit is die hel – die ander.”

Die ander maak die liefde nie maklik nie. Ons teks praat van vyande en vervolgers. Romeine herinner ons daaraan dat gelowiges dag vir dag soos slagskape behandel word (Rom 8:36). Hoe seën mens jou vervolgers? (14) Hoe betoon jy gasvryheid teenoor mense as hulle jou nie liefhet nie? (13) Hoe treur jy saam met vervolgers en spreek ‘n seën oor hulle uit? (15) Hoe kan ons goedgesindheid teenoor alle mense betoon? (17)

Binne die gemeente moet ons dikwels hand in eie boesem steek. Hoe betoon ons liefde vir medegelowiges uit die hart wanneer geloofsgemeenskappe soms meer klieke as egte liefdesgemeenskappe is? (13) Ons skaar ons nie by die nederiges nie, maar by ons vriende en ons eie klas. (16) Ons het ‘n stryd om eensgesind te wees, want ons is soms eiewys. (16)

Ons ken die stryd. Dit kan ons moedeloos maak. Baie Christene en leraars voel dat hulle uitbrand omdat hulle aanhou probeer om soos Christus op te tree, maar dit maak nie ‘n verskil nie!

Die Heilige Gees hou die vuur van liefde lewend

Natuurlik moet ons onsself as offers in diens van God en ander stel. Natuurlik moet ons volhard in die goeie wat ons doen.

Hoe kry ons dit reg? Paulus gee die antwoord in Romeine 12:11, 12. Die Heilige Gees hou die vuur van die liefde aan die brand. Ons geesdrif sal gedemp word as die Heilige Gees nie ons gees brandend hou nie Dis hierdie Heilige Gees wat die liefde in ons harte uitgestort het (Rom 5:5). Volhardende gebed en toewyding aan God bly die bron van ons krag in alle omstandighede. Gebed vestig ons oë op die bron van alle hoop – God self (Rom 15:5).

Wraak verbode

‘n Uitgebreide gedeelte van ons teks waarsku teen die vergeld van kwaad met kwaad, en die soek van wraak. Ons word geroep om – sover dit van ons afhang – in vrede met alle mense te lewe.

Deur die krag van sy Gees roep Hy ons weg van wraakgedagtes. Ons weet dat God in beheer is. Ons bid daarom nie vir die vernietiging van ons vyande nie, maar soek na hulle beste belange.

Calvyn het in sy kommentaar op Romeine breedvoerig oor die vyand geskryf. Hy waarsku ons op twee vlakke:

  • “Ons moenie op so ‘n wyse die goedkeuring van mense soek dat ons weier om die haat van enigiemand – wanneer dit ook al nodig is – ter wille van Christus te verduur nie.” Daar is mense, sê Calvyn, wat regtig vredeliewend en aangenaam is en tog deur hulle naaste familie as gevolg van die evangelie gehaat word.
  • Die tweede vermaning is dit: “Hoflikheid moenie verval in kompromieë, waardeur ons die boosheid van mense ter wille van vrede sal prys of duld nie . . . Want ons behoort, omdat ons vrede koester, baie dinge te verdra, oortredings te vergewe, en die volle wet op ‘n goedgesinde wyse na te kom. Tog moet ons dit op so ‘n manier doen dat ons bereid sal wees, wanneer dit noodsaaklik is, om moedig te stry: want dit is onmoontlik dat die soldate van Christus ewigdurende vrede met die wêreld, waarvan Satan die prins is, sal hê.”

Paulus se woorde: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang . . .” is dus die sleutel tot egte vrede. Calvyn se opmerking oor ware en valse liefde (9) sluit hierby aan: “Dit is moeilik om uit te druk hoe vernuftig byna alle mense is in die vervalsing van liefde wat hulle nie regtig het nie. Hulle mislei nie net ander mense nie, maar ook hulleself, terwyl hulle hulleself oortuig dat hulle ware liefde het vir diegene wat hulle nie net verwaarloos nie, maar in werklikheid verwerp.”

Ons houding teenoor ons vyande is egter nooit wraak nie. Ons gee plek vir die oordeel van God slegs wanneer ons geduldig wag vir die geleë tyd vir ons verlossing, terwyl ons in tussentyd bid dat die wat ons nou vyandiggesind is, tot inkeer sal kom en ons vriende sal word.

God stuur ons na ons vyande om hulle nood te verlig. God stuur ons na ons vervolgers om hulle te seën in plaas van te vervloek. God maak ons harte oop om gasvryheid teenoor vreemdelinge te betoon. God stuur ons na hulle wat rou en hartseer is, om hulle leed met hulle te deel, in plaas daarvan om ons daaroor te verlekker.

Nader as naby

Liefde speel ook in die gemeente ‘n belangrike rol. Die bring ons nader as naby aan mekaar. Ons kan op die kerkbanke baie naby aan mekaar sit, maar dis nog nie genoeg nie. God wil dat ons mekaar moet liefhê, nie net dat ons naby mekaar op die kerkbanke sal sit nie. Dis om in alle omstandighede vir die goeie te kies. Die hele gedeelte is ‘n beweging weg van die slegte, die kwaad, die boosheid, na die goeie, die liefde, na God toe! ‘n Lewe as erediens voor God, is ‘n lewe van liefde. Die liefde se gerigtheid is om ons rug op die kwaad te keer en ons gesig na die goeie te draai. Die liefde is die Christelike definisie van die goeie.

Liefde lei tot geloof en hoop

Prof JH Bavinck vertel dat hy eenmaal die inwyding van ‘n kerk bygewoon het. Op die vensters van die kerk was die volgende woorde: geloof, hoop en liefde. Ons weet dat dit die drie-eenheid van die Christelike lewe is. So lyk die styl van Geesvervulde mense. As jy aan die binnekant van die gebou gestaan het, het jy die woorde ook in hierdie volgorde gelees. As jy aan die buitekant gestaan het, het jy dit in teenoorgestelde volgorde gelees: liefde, hoop, geloof. Só, sê Bavinck, is dit in die regte lewe. Binne die kerk is die orde dat ons moet glo. Geloof lei tot hoop en dade van liefde. Buite die kerk is die orde omgekeerd. Ons moet liefde betoon. Dit lei tot hoop en geloof by mense.

Mense wat nie glo nie, sal alleen na die kerk getrek word wanneer hulle die liefde van mense raaksien. Ons kan ongelowige mense nie in die kerk kry op ‘n Sondag nie. Ons kan wel die ‘n erediens hou waar ons ook al beweeg. Die erediens van die daaglikse lewe is niks anders as die betoning van liefde aan die wêreld nie.

Plak dit teen die yskas

Hierdie gedeelte spel die nuwe kwaliteit van mens-wees uit wat die lewende God in ons lewens skep op grond van die verlossing in Jesus en deur die kragtige werk van die Heilige Gees. Dit is die moeite werd om dit op die yskas vas te plak, en elke dag te lees, en daaroor na te dink.

Hierdie teks verander mens se lewe. Dit verander jou gesin, jou straat, jou staat se lewe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 256 “Ons Is U Liggaam”
VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”
Lied 530 “Praat ek mense-, eng’letale”

Wegsending: Romeine 12:11-12

Respons
Lied 525 “Waar daar liefde is” of
Vonkk 146 Refrein of
Flam 144 fragment:
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.