Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie week se tekste lei ons na ’n omvattende spiritualiteit. Die Jesaja- en Psalmtekste sê: aanbidding en lewe is onskeibaar. Ware aanbidding soek altyd na geregtigheid. Die erediens en die lewe moet met mekaar geïntegreer word. Hebreërs ondersoek die rol van geloof as ’n manier om nuwe werklikhede oop te sluit en die teks uit die Lukasevangelie daag ons uit om wakker en gereed te wees vir God se teenwoordigheid in die gewone gang van ons lewe. Omvattende spiritualiteit omhels die omvangryke heelheid van ons lewe, dit verbind die uiterlike met die innerlike, gebed met aksie en die persoonlike met die gemeenskaplike sowel as die kosmiese.

Ander tekste

Genesis 15:1-6
15 Hierna het die woord van die Here
in ’n gesig tot Abram gekom:
“Moenie bang wees nie, Abram,
Ek beskerm jou!
Jou beloning sal baie groot wees.”
2Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.”
3Abram het verder gesê: “U het nie vir my ’n nageslag gegee nie. ’n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.”
4Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.”
5Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”
6Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.

Psalm 50:1-8, 22-23
50 ’n Psalm van Asaf.
Die Here is God, Hy alleen is God.
Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,
van waar die son opkom
tot waar hy ondergaan.
2Uit Sion, stad van volmaakte prag,
verskyn God in glans.
3Ons God kom,
Hy bly nie stil nie.
Voor Hom uit brand ’n vuur,
rondom Hom woed ’n storm.
4Hy roep die hemel en die aarde op
vir die saak teen sy volk:
5“Maak bymekaar
dié wat aan My getrou is
en met ’n offer
’n verbond met My gesluit het.”
6Die hemel getuig: “God is regverdig,
en Hy is die regter.”
7“Luister, my volk,
Ek wil my saak stel,
Ek wil teen jou getuig, Israel.
Ek is God, Ek is jou God!
8Dit is nie omdat jy nie offer
dat Ek rekenskap van jou eis nie;
jou brandoffers is immers
gedurig voor My.
22Julle moet luister
na hierdie waarskuwing,
julle wat nie met God rekening hou nie,
anders verskeur Ek julle
sonder dat iemand kan red.
23“Die mens wat My eer,
is die een wat lof as ’n offer bring.
Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red.”

Psalm 33:12-22
12Dit gaan goed met die nasie
wie se God die Here is,
met die volk wat Hy vir Hom
as sy eie gekies het.
13Die Here kyk uit die hemel
en sien al die mense.
14Van die plek waar Hy as koning sit,
sien Hy almal
wat onder op die aarde woon.
15Dit is Hy wat hulle verstand
gevorm het,
wat al hulle werk deurgrond.
16Dit is nie deur ’n groot leër
dat ’n koning wen nie,
en nie deur groot krag
dat ’n held behoue uitkom nie.
17Dit is nie waar dat die perd
die oorwinning gee
en dat sy groot krag
redding bring nie.
18Dit is die Here wat sorg
vir dié wat Hom eer,
vir dié wat op sy mag vertrou
19om hulle van die dood te red
en hulle in die lewe te hou
in hongersnood.
20Ons vertrou op die Here:
Hy is ons hulp en ons beskermer.
21Ja, in Hom is ons hart bly,
op sy heilige Naam vertrou ons.
22Hou u liefde oor ons, Here,
want ons stel ons vertroue in U.

Hebreërs 11:1-3, 8-16
11 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.

3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.

8Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.

11Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ’n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12Die gevolg was dat daar van een man, ’n man wat nie meer ’n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.

13Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. 14Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ’n vaderland. 15As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. 16Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak.

Lukas 12:32-40
32“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.

33“Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ’n beurs aan wat nie leeg raak nie, ’n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. 34Waar julle skat, is daar sal julle hart ook wees.”

Die gelykenis van die waaksame slaaf
(Matt 24:45–51; vgl Mark 13:33–37)
35“Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand! 36Julle moet wees soos mense wat vir hulle eienaar wag tot hy van die bruilof af terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. 37Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self ’n voorskoot aansit en hulle kom bedien. 38Gelukkig is die slawe wat hy wakker aantref, selfs al sou hy eers om middernag of met hanekraai kom. 39Maar dit moet julle weet: as die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom, sou hy hom nie in sy huis laat inbreek het nie. 40Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie.”

Fokusteks

Jesaja 1:1, 10-20
Net Sion het oorgebly
1 Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het aangaande Juda en Jerusalem. Dit was in die regeringstyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.
2Luister, hemele, gee aandag, aarde,
want die Here het gesê:
Ek het kinders grootgemaak en
opgevoed,
maar hulle het teen My in opstand
gekom.
3’n Bees ken sy eienaar
en ’n donkie die krip van sy baas,
maar Israel ken My nie,
my volk het geen begrip
van wat Ek doen nie.
4Ellende wag vir julle,
sondige nasie,
volk met skuld belaai,
geslag wat verkeerd handel,
julle wat net afbreek,
wat My, die Here, verlaat het,
My, die Heilige van Israel, verag
en vir My die rug gedraai het.
5Daar is nie meer plek
waar nog aan julle geslaan kan word nie,
en tog hou julle aan
om van My af weg te draai.
Die hele kop is vol seerplekke
en die hele gestel is verswak.
6Van kop tot tone
is daar nie een plek heel nie:
dit is die ene kneusplekke,
hale en rou wonde!
Hulle is nie skoongemaak of verbind
of met salf behandel nie.
7Julle land is verwoes,
julle stede is verbrand,
voor julle oë verteer vreemdes
julle landerye.
Hulle het dit ’n verlate wêreld gemaak.
8Soos ’n skerm in ’n wingerd
het Sion alleen oorgebly,
soos die hut van ’n wagter
in ’n komkommertuin.
Sion is ’n beleërde stad.
9As die Here die Almagtige
nie ’n klompie van ons
laat oorbly het nie,
sou ons soos Sodom geword het,
ons sou net soos Gomorra gewees het.
Leer om weer goed te doen
10Luister na die woord van die Here,
julle Sodomsleiers!
Gee ag op wat ons God julle leer,
julle Gomorrasvolk!
11Wat het Ek aan julle baie offers?
vra die Here.
Ek is sat van die brandoffers van ramme
en die vet van voerbeeste;
die bloed van bulle en lammers en bokke
staan My nie aan nie.
12As julle kom om voor My te verskyn,
wie het julle gevra om my voorhowe
te kom vertrap?
13Moenie langer julle
nuttelose offergawes bring nie:
Ek het ’n afsku van julle wierookoffers.
Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings,
die uitroep van feesdae:
Ek verdra nie feesviering
met onreg saam nie.
14Julle nuwemaansfeeste en feesgetye
haat Ek.
Hulle is vir My ’n las,
Ek is moeg daarvoor.
15As julle julle hande in gebed uitstrek,
sal Ek my oë vir julle toemaak.
Selfs al bid julle hoe baie,
sal Ek nie luister nie,
want julle hande is met bloed bevlek.
16Was julle, reinig julle.
Moenie voor My verskyn
as julle verkeerd doen nie.
Hou op met kwaad doen.
17Leer om weer goed te doen,
sorg dat daar reg geskied,
gaan die verdrukker teë.
Laat reg geskied aan die weeskinders,
behartig die regsake van die weduwees.
18Kom tog, laat ons die saak
met mekaar uitmaak, sê die Here:
Al was julle skarlakenrooi van sonde,
julle sal wit word soos sneeu.
Al was julle purperrooi,
julle sal wit word soos wol.
19As julle gehoorsaam wil wees,
sal julle die goeie van die land eet,
20maar as julle weier en opstandig bly,
sal die swaard júlle eet,
want dit is die Here wat dit gesê het.
21Die getroue stad
het ’n ontrou slet geword!
Die stad wat die tuiste van die reg was,
waarin geregtigheid geskied het,
is nou vol moordenaars!
22Jou silwer het lood geword,
jou bier is met water bederf.
23Jou vorste is in opstand teen My,
hulle is kop in een mus met diewe.
Hulle is almal versot op korrupsie
en is agter omkoopgeskenke aan.
Hulle laat nie reg geskied
aan weeskinders nie,
hulle behartig nie die regsake
van weduwees nie.
24Daarom sê die Here
die almagtige God,
die Sterke van Israel:
Ek sal afreken met my teëstanders.
Ek sal My wreek op my vyande.
25Ek sal teen jou optree;
met loog sal Ek jou lood
weer tot silwer suiwer,
al jou afsaksel afskei.
26Ek sal jou regeerders weer maak
soos hulle vroeër was
en jou leiers soos in die begin.
Dan sal hulle jou weer noem:
Stad van Geregtigheid,
Getroue Stad.
27Sion sal deur die oordeel
vrygemaak word,
dié wat hulle bekeer,
deur ’n regverdige beslissing.
28Wie oortree en sondig,
sal almal verpletter word.
Wie die Here verlaat,
sal te gronde gaan,
29want die afgodsbome
waarop julle begeertes gerig was,
sal julle vertroue beskaam,
en julle sal teleurgestel staan
met die tuine wat julle
bo My verkies het.
30Julle sal wees soos bome
waarvan die blare verdroog het,
soos tuine sonder water.
31Die sterke word ’n stuk lap
en sy werk is die vonk:
die twee sal saam brand
sonder dat iemand die
vuur blus.

Ekstra stof

In die eerste deel van die boek, hoofstuk 1-39, fokus Jesaja ons aandag op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies (vgl Jes 2:1-4). Hulle keuse om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7), het onvermydelik gelei tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs (7de eeu v C), en later voltrek deur die ballingskap in Babilon (6de eeu v C).

Juda se mislukking was veral te wyte aan hulle gebrek aan vertroue op Jahwe (Jes 30:15) wat hulle verlei het na afgodery (Jes 2:6) en politieke alliansies (Jes 7), sowel as hulle gebrek aan sosiale deernis met behoeftiges soos die wese en weduwees: “Die stad wat die tuiste van die reg was … is nou vol moordenaars.” (Jes 1:21-23).

Hierteenoor word God in sy heilige teenwoordigheid geteken (Jes 6) wat die oordeel oor sy volk Juda sal voltrek (Jes 8) … en tog ’n oorblyfsel (Jes 6:13) sal laat oorbly, waarin die belofte van ’n toekoms gesien kan word. Ook die nasies word deur God geoordeel (Jes 13-23), juis dié nasies op wie Israel hul vertroue geplaas het.

Jesaja 1 – Julle ken My nie
Hoofstuk 1-5 vorm ’n eenheid en handel oor die saak wat die Here teen sy volk het. Hoofstuk 6 handel oor die roeping van Jesaja as profeet, wat terugverwys na die eerste deel en ook die tweede deel, hoofstuk 7-12 inlei. Daar word gefokus op die belofte aan Agas, ’n belofte wat hy verspeel het, maar wat op uitnemende wyse in Jesus eeue later vervul is. Die eerste van ’n aantal oordele oor die nasies word – die een oor Assirië – word tussenin in hoofstuk 10 vertel.

Die profeet Jesaja het oor ’n lang tydperk opgetree, regdeur die koningstydperke van Ussia (word ook Asarja genoem in 2 Kon 15:1), Jotam, Agas en Hiskia in Juda – ongeveer van die jaar 740 – 697 v C, die sterfjare van onderskeidelik Ussia en Hiskia.

Vers 1 noem die woorde van Jesaja ’n openbaring (chazoon – visioen), ’n woord wat byna altyd vir ’n Goddelike openbaring of visioen gebruik word. (Vergelyk Spreuke 29:18 wat praat oor impak van die gebrek aan só ’n openbaring: “Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk”).

In drie perikope word God se saak met sy volk uitgespel. Die Here roep die hemele en aarde, die hemelraad, as getuies vir die saak wat Hy met sy volk het (vgl Deut 30:19 waar Moses dieselfde doen). Hy spreek hulle aan oor die feit dat hulle Hom nie ken nie, ennie weet wie hulle is en aan wie hulle behoort nie. Dit sit agter:

  1. die rebellie van die volk Israel teen God, wat daarom deur Hom gestraf is deur die verwoesting van hulle land – 1:2-7 (dit verwys heel moontlik na die veldtog van Sanherib in die tyd van Hiskia – Jes 36 en 2 Kon 18 – in Assiriese annale word vertel dat Sanherib 36 Judese stede verwoes het en 200 000 mense weggevoer het);
  2. die tempeldiens in Jerusalem wat teen God se wil gepaard gaan met onreg en geweld in die samelewing waaroor die Here hulle aanspreek en tot bekering roep – 1:8-20 (Jesaja gebruik hier dieselfde uitspraak oor offers as Samuel – 1 Sam 15:22);
  3. die ontrouheid van die stad Jerusalem wat in opstand is teen die Here en wat daarom deur die Here met streng optrede gestraf sal word, hoewel Hy tog steeds oordeel as ’n instrument tot vrymaking gebruik – 1:21-31 (die perikoop lees soos ’n begrafnislied waarin getreur word oor die dood van die reg en waardes waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie).

Let op hoe God se oordeel altyd met die hoop op een of ander bekering uitgevoer word – Hy los ’n oorblyfsel (:9 – ’n kenmerkende aspek van Jesaja se boodskap: 4:2-6; 6:13; 11:1); Hy belowe voorspoed as hulle gehoorsaamheid sou kies (:19); Hy belowe nuwe leiers (:26); Hy belowe vrymaking juis deur die oordeel (:27).

Liturgie

RUS

Toetrede: F131 of L179

Votum: (Uit Bybelmedia se “Woord en Fees 2015-2016”)

Seëngroet

Lofsang: F113 of L475

Wet: (Nav Jesaja 1:15-17 en Lukas 12:33-34)

Skuldbelydenis: (Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai” – Bybelmedia)

Respons: F69 of VONKK 1

Geloofsbelydenis: Hebreërs 11:1-3 en Apostoliese Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Jesaja 1:1-20

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Terugvoer: [Van ‘n plaaslike barmhartigheidsbediening waarby jul gemeente betrokke is.]

Voorbidding: of ‘n Gebed van St. Franciscus van Assisi

Slotsang: V158

Seën: [Op grond van ‘n seën uit die Iona Gemeenskap]

Respons: F212 Refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
F131. Kom Verander My Hart of
Lied 179 “Vader in die hemel”

Votum
Voorganger: Die Here alleen is God.
Gemeente: Hy alleen is God.

Voorganger: Hy spreek.
Gemeente: Hy roep die hele wêreld op

Voorganger: van waar die son opkom
Gemeente: tot waar dit ondergaan.
(Uit Bybelmedia se “Woord en Fees 2015-2016”)

Seëngroet

Lofsang
F113. Here Jesus, U Skyn Oor Almal [bekend: Shine, Jesus, Shine] of
Lied 475 “Allerhoogste Hemelvader”

Wet
[Bybelmedia se Woord en Fees 2015-2016 het ‘n pragtige Wet/Skuldbeydenis/Genadeverkondiging op grond van die fokusteks, wat jy ook kan oorweeg]
Vanoggend se Skriflesing praat van godsdiensoefening wat die nood van die medemens minag [Lees Jesaja 1:15-17 of enige ander seleksie uit die fokusteks]:
15As julle julle hande in gebed uitstrek,
sal Ek my oë vir julle toemaak.
Selfs al bid julle hoe baie,
sal Ek nie luister nie,
want julle hande is met bloed bevlek.
16Was julle, reinig julle.
Moenie voor My verskyn
as julle verkeerd doen nie.
Hou op met kwaad doen.
17Leer om weer goed te doen,
sorg dat daar reg geskied,
gaan die verdrukker teë.
Laat reg geskied aan die weeskinders,
behartig die regsake van die weduwees.

Ook Lukas 12:33-34 [Leesrooster evangelie vir die week] praat van hierdie fokus op die nood van ander:
33“Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ’n beurs aan wat nie leeg raak nie, ’n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. 34Waar julle skat, is daar sal julle hart ook wees.”

Gee paar oomblikke vir nadenke oor die nood in jul omgewing. Laat lidmate nadink oor die nood wat rondom julle is. Jy kan dalk selfs ‘n paar foto’s wys van mense wat by verkeersligte bedel, plakkerskampe, plaaslike bedieninge soos sopkombuise en “shelters”.

Skuldbelydenis
V: Here, ons is so besig dat daar in ons lewe nie ’n tyd vir alles is nie.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons leef grotendeels net vir ons eie belange.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons kyk die seëninge wat U vir ons gee so dikwels mis.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons dink groter, vinniger en meer is altyd beter.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is dikwels te gejaag en te moeg om vir ander om te gee.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons sien dikwels die mense rondom ons nie eens raak nie en luister nie in liefde na hulle nie.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, help ons dat ons nie die lewe self en vir U daarin misloop nie.
G: Here, wees ons genadig!
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai” – Bybelmedia)

Respons
F69. Was My Skoon [kan ook net die refrein twee keer sing] of
VONKK 1 Wees my genadig, hoor tog my smeking (Psalm 51)

Geloofsbelydenis 
Hebreërs 11:1-3
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.

3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.

Apostoliese Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 1 “Wees my genadig, hoor tog my smeking (Psalm 51)”
Psalm 51 Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo) Melodie: ABEL – Abel Jankowitz 2008 Orrelbegeleiding: Colin Campbell 2009
© VONKK 2009 (admin Bybel-Media) Rubriek: Klassiek / Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging

1. Wees my genadig, luister hoe smeek ek,
wis uit my skuld, ek het soveel verbrou.
Maak my weer skoon, Heer, witter as sneeu.
Spreek my tog vry in u liefde en trou.

2. Laat my weer vry wees, in U weer bly wees;
nederig buig ek voor U in berou.
Maak nuut my gees, Heer, U wil ek loof.
U wil ek dien en slegs leef in u trou.

“VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe
Teks: Jacques Louw 2011 © Melodie: ELLACOMBE – Wurtemberg 1784; Mainz 1833 Orrelbegeleiding: Tradisioneel
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin BybelMedia) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Barmhartigheid en Getuienis

1. Ons wy onsself aan Christus toe,
aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang,
die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop
en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

2. Sy liefde, so oneindig groot,
laat ons eerbiedig juig.
Dit dring ons na die wêreld toe,
waar ons sal moet getuig.
Laat ons, gehoorsaam aan sy Woord,
ook dáár betrokke raak,
met omgee en deur diensbaarheid,
sy liefde sigbaar maak.

3. Kom open U ons oë, Heer,
vir ander in hul nood.
Maak ons, soos U, barmhartig, Heer,
waar mense vra om brood.
Maar laat ons tog dié nood besef,
wat in hul harte leef.
Deur U alleen, die Middelaar,
word sondeskuld vergeef.

F113. “Here Jesus, U Skyn Oor Almal “
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis) Oorspronklike titel: Shine, Jesus, shine Teks en musiek: Graham Kendrick
Afrikaanse vertaling: Breda Ludik © 1987 Make Way Music (Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Here Jesus, U skyn oor almal,
met die glans van u liefde skyn U.
Skyn op ons tot ons oë oopgaan.
Maak ons vry om te lewe voor U.
Skyn oor my, skyn oor my.

Refrein:
Soos lig wat skyn in die donker van hierdie wêreld,
soos lig wat skyn, skyn die Heer in ons.
Kom, Jesus, kom en verdryf al die donker in ons.
Kom laat u liefde die wêreld oorwin.

2. Here, maak my ’n lig wat helder
skyn om liefde te dra, al verder.
Skyn deur my tot die hele wêreld,
weet dat U vir ons almal gesterf het.
Skyn deur my, skyn deur my.

Refrein:

F131. “Kom Verander My Hart”
(Rubriek: Flam – Gebed; Verootmoediging; Skuldbelydenis) Teks en musiek: Dinti Lotz
© 2006 NG Moreleta Publishing (geadministreer deur Urial Publishing)

Kom verander my hart, o Heer,
Kom vul my met U, Gees
Kom en snoei waar dit nodig is
om heilig te kan wees.

Maak my oë oop en wys my hoe
U vol in my kan woon
dat ek heilig kan staan voor u troon.
Maak my skoon; kom en reinig my
was my witter as sneeu.
Soos u Gees in my kom woon
maak my skoon; kom en reinig my
dat ek heilig kan staan voor u troon.

Kom verander my denke, Heer,
kom maak dit splinternuut.
Skyn u lig waar dit nodig is,
kom heilig weer my lied.
Maak my hart oop en wys hoe
U vol daarin kan woon
dat ek heilig kan staan voor U troon.

F69. “Was My Skoon”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed / Skuldbelydenis) Teks en musiek: Hannes Grabe © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Kom en reinig my, o Heer,
week my sonde en skuld in die bloed van u Seun.
Ek staan skuldig voor U, Heer,
die verlore kind kom vra ’n tweede kans.

2. Was my skoon, maak my rein,
laat U lig weer deur my skyn.
Neem my hart, maak dit nuut,
laat my lig na ander skyn.
Was my skoon, maak my rein
laat u lig weer deur my skyn.

3. Laat u Gees my hart deurspoel,
bring u vrede en rus, u genade oor my.
Maak my wit net soos die sneeu,
ek wil heilig leef, gewy aan U, my Heer.

F212. “Die Here Het Hom Nodig”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis) Musiek: Neil Büchner en Lizette Louw Teks: Louis Dressel
© 2008 MAR Gospel Music Publishers (2 Kon 5:3,15, Joh 6:9, Mark 11:3 Nuwe Lewende Vertaling)

1. Naäman het die Here nodig,
dis wat die dogtertjie hoor.
Ek het ook die Here nodig,
dis wat ek steeds hoor.

Refrein:
Here, lei my,
Heer, gebruik my,
Here, stuur my,
dis wat ek steeds hoor.

2. Sy brood en vissies het Hy nodig,
dis wat die seuntjie hoor.
Die Here het my alles nodig,
dis wat ek steeds hoor.

Refrein:

3. Die Here het ons almal nodig,
dis wat dissipels hoor.
Die Here het ons alles nodig,
dis wat ons steeds hoor.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Jesaja 1:1-20

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Vertel die storie van die Eendkerk!
Of jy kan aansluit by die “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu” van vers 18 en dit verbind met vergifnis deur Jesus se kruisdood. Die ou eksperiment met gekleurde water en bleikmiddel is altyd aanskoulik. Kyk hier hoe om dit te doen.
Hier is ‘n inkleurprent van ‘n sneeuman wat sê dat Jesus ons sonde weg was om witter as sneeu te wees.
Hier is ‘n baie oulike aktiwiteit om sneeuvlokkies te maak deur stukkies van gevoude papier te knip (volg die skakel in die dokument)

Preekriglyn

Elke Sondag, so gereeld soos klokslag, waggel die eende van ‘n sekere dorpie kerk toe. Hulle waggel uit hulle huise, af met Hoofstraat, draai in by die kerk en waggel tot by hulle banke. Daar gaan sit hulle mooi ordelik, elkeen op sy plekkie.

Op die regte tyd waggel die eendekoor in en gaan sit op die koorbanke. Dan kom die eenddominee na vore en slaan die Eendbybel oop. Hy lees voor: “Eende! God het vir julle vlerke gegee! Met julle vlerke kan julle vlieg! Met vlerke kan julle opstyg en sweef soos arende. Geen muur of grensdraad kan julle binne hou nie! Julle het vlerke. God het vir julle vlerke gegee, en julle kan vlieg soos voëls.”
Al die eende kwaak: “Amen!” Dan waggel hulle huis toe (oorvertel deur Tony Campolo).

Diskonneksie

Mens kan die boodskap van Tony Campolo se eendgelykenis op meer as een manier uitlê. Maar hier is duidelik ‘n slegte diskonneksie tussen erediens en lewe. Wat in die erediens van die lewe gebeur pas nie by die Godsontmoeting van die erediens nie.

Vir kinders van God, mense wat binne die ruimte van genade leef, is ‘n diskonneksie tussen lewe en erediens altyd ‘n krisis. Wanneer ons lewens nie erns maak met die beloftes van God, en ons lewensstyl nie pas by die gebooie van God nie, is dit tyd vir berou, bekering en hertoewyding aan God.

Dit is die worsteling van ons teks. Die profeet Jesaja tree ernstig in gesprek met die volk van God. Ons kan die inhoud van die gesprek kortliks as volg opsom:

  • Die volk se lewe op hierdie stadium word vergelyk met Sodom en Gomorra, en hulle tempel-eredienste met al sy offers afgewys.
  • Die rede is die lewe van onreg wat die volk lei. Hulle doen nie die goeie nie en laat nie reg geskied nie.
  • Daarom word die volk tot reinheid en geregtigheid opgeroep. Hulle moet onsedelikheid en verdrukking aflê en die Here in alle opsigte aanhang.
  • Dit sluit in dat hulle tot bekering kom, hulle verkeerde weë verlaat – onsedelikheid en sosiale onreg – die Here soek om vergifnis, en leer om volledig gehoorsaam aan Hom leef. Dit moet prakties in hul lewens sigbaar wees.
  • Die ervaring van die Godsverhouding – gebed, seën – word afhanklik gemaak van hulle soeke en bekering tot die Here: “As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land geniet…” (1:19).
  • Vir elkeen wat die Here soek, belowe die Here dat Hy sal antwoord en hulle sal seën met vryheid en geregtigheid. “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu, … julle sal wit word soos wol (1:18).
Bekering en lewensverandering

Die doel van Jesaja se boodskap was duidelik bekering en lewensverandering. Die dringende oproep van die profeet om te luister en ag te gee (1:10) kan met die laaste verse, naamlik om gehoorsaam te wees en terug te keer na God (1:18,19) verbind word. Die Here het duidelik ’n “saak” met die volk. Dit moet dringend uitgesorteer word. Hulle moet besef dat dit die Here self is wat met hulle praat (1:20).

Die bekering waarvan die profeet praat is egter nie om God se volk te word nie. Dit is nie om die regte God te aanbid nie. Dis om God reg te dien. Op die oomblik hou die volk die tempeldiens tot in die fynste detail in stand. Al die voorgeskrewe offers word gebring. Maar sodra hulle by die tempeldeur uit is, hervat ‘n lewe van sonde.

Dalk het hulle gedink die tempeldiens koop God se guns. Dis ‘n goeie belegging, want dit beteken die Here sal hulle lewe daarbuite dan seën.

God word nie omgekoop nie

God word nie omgekoop nie. Die nadruk op die baie offers (1:11), baie dae en feeste (1:13, 14) en baie gebede in hierdie verse (1:15) skep die indruk van ’n baie aktiewe godsdienstige lewe en toewyding aan God. Tog is dit leeg.

Mens kan dit sommer dadelik op onsself toepas. Hoe lyk ons vroomheid? Dit is uit ons teks duidelik dat kerkbesoek en bydraes aan die kerk nie skuldiges kan red nie. God word nie omgekoop deur godsdienstige rituele of spesifieke vorme van aanbidding nie. So ’n soort aanbidding is niks anders nie as selfbelang. Selfbelang neem die plek in van nederigheid en vertroue in God.

Hier plaas God elke vorm van ons aanbidding onder die vergrootglas. Wat is ons motiewe vir die manier waarop ons aanbid? Wil ons God se arm draai? Dink ons dat langer gebede en meer herhaling van dele van ’n lied groter lof aan God bring?

Jesus beklemtoon in Matteus 6 dat ons vroomheid in gebed, vas en hulp aan ons medemens nie daar is om God te beïndruk of om deur mense geprys te word nie. Inteendeel, om te dink dat God sal hoor as ons baie en lank bid is heidens, sê Jesus.

Aanbidding en lewe

Aanbidding en lewe is onskeibaar. Die profeet plaas sy vinger op die seerplek van hulle aanbidding. Die rede hoekom hulle so getrou aanbid het ’n rookskerm vir iets anders geword, naamlik onreg. Dit was nie die gebrek aan aanbidding nie, maar die gebrek aan ’n lewe wat daarmee saamgaan wat God siek en sat gemaak het.

Kyk net watter sterk taal die Here hier gebruik om sy misnoeë met hulle godsdienstigheid te kenne te gee. Hy is sat daarvoor. Dit staan Hom nie aan nie. Hy is moeg daarvoor. Die groot probleem word geïdentifiseer: aanbidding en onreg is onversoenbaar.

Die profeet benadruk dat hulle die woord van God, die onderwysing van God (Tora) moet hoor. Die Tora, waarin al die voorskrifte vir aanbidding gegee is, benadruk ook die lewenswyse wat daarmee saamgaan. Integriteit is wanneer ons aanbidding en lewe ooreenstem.

Prof. Dirkie Smit skryf iewers:
… die Christelike erediens (moet) … uitloop op lewens van geloof, hoop en liefde, van dankbaarheid en diensbaarheid, van navolging en gehoorsaamheid, van geloofwaardigheid en trou. Die Christelike aanbidding vloei oor in lewens van aanbidding, die liturgie van die erediens vloei oor in wat die Ortodokse tradisie die liturgie ná die liturgie noem, die lofsegging op die goedertierenhede van God vloei – op grond van die ontferminge van God – oor in offergawes van ons liggame, ons lewens, wat vir dié God welgevallig is. … só ’n oorgang van erediens na etiek, van liturgie na lewe, (is) … vanselfsprekend en noodsaaklik … binne die logika van die Christelike evangelie.

Die volk moes hulle daarom bekeer van onreg en terugkeer na die regte manier van aanbidding. Die liturgie ná die liturgie (hul lewe) moes ooreenstem met die liturgie (aanbidding) self.

Geen skeiding nie

Jesaja onderstreep dat ons diens aan God nie geskei kan word van ons diens aan ons medemens, ons naaste, nie. Bekering is om terug te keer na God en ons medemens. ‘n Teoloog skryf dat die oorskatting van uiterlike vroomheid tot ’n onderskatting van die minder sigbare verpligting teenoor ons medemens lei.

Mens moenie dink dit gaan net oor ander mense nie. Ons het hierdie skeiding tussen ons diens aan God en ons medemens tot ’n volmaakte kuns ontwikkel. Ons geskiedenis is vol van voorbeelde waarin ons met ons hand op die Bybel mense onderdruk het. Uit dieselfde mond het gesange en psalms van lof en die vloek van ons medemens gekom. Israel se sonde was sosiale sonde. Hulle sosiale sonde plaas hulle in die kategorie van Sodom en Gomorra. Hulle sosiale onreg het hulle aanbidding uitgekanselleer.

Só ernstig is sonde. Johannes beklemtoon dit ook (1 Joh 3:16-18; 1 Joh 4:7-21). Bekering is die gedurige terugkeer na ons naaste en God. Daarby is egte bekering ook ’n sosiale bekering!

‘n Voorbeeld

Jacques Presser se boek, De Ondergang, beskryf hoe die Nederlandse Jode deur die Nazi’s tussen 1940 en 1945 vermoor is. Hy beskryf die voorliefde van Hess, die kommandant van Auschwitz, en ander offisiere soos Gemmeker, vir Kersfees. Baie van hulle was goeie pa’s en baie gemoedelik. Gemmeker het selfs soms met die Jode as medemense gepraat. Hy is beskou as die beste offisier van ’n kamp waaronder iemand kon beland: “Hulle het Kersfees gevier en het dan hulle werk hervat, naamlik die moord op ontelbare mans, vroue en kinders, weerlose medemense.”

Presser beskryf Gemmeker as ’n moordenaar met handskoene. Mense wou hom na WO II hang – nie aan ’n draad nie, maar aan ’n fluweeltou, omdat hy so ’n “aangename” moordenaar was. Op die oog af lyk dit of hulle suiwer van hart en rein van hande was, maar die realiteit was dat hulle harte en hande met bloed bevlek was.

Ons is nie beter as hulle nie. Jesus het ons bevry van ons bloedskuld wat die wêreld vol is. Al was ons hande vol bloed van ons medemens, sê die Hebreërbriefskrywer, is ons harte gereinig van ’n skuldige gewete en ons liggame is gewas met skoon water (Heb 10:22). Ons is gewas en gereinig met die bloed van die Lam. Deur die bloed van Christus het ons vrye toegang om te aanbid (Heb 10:29). Dit lei uiteraard tot ’n lewe van omgee, liefde en goeie dade (Heb 10:24).

Vir ons wat Christus ken

Juis daarom is Jesaja se boodskap veel ernstiger vir ons wat Christus ken.

Ons teks sê dat ons medemens altyd tussen God en ons aanbidding staan:

  • Jesus sê dat ons eers vrede moet maak met iemand wat iets teen ons het as ons kom om te aanbid (Matt 5:23, 24).
  • In die gelykenis van die bruilof in Matteus 22 word die persoon sonder ’n bruilofskleed uitgevang tussen die skare van bruilofgangers (Matt 22:12).

Dis gewoon onmoontlik om weg te kruip, in te sluip in God se teenwoordigheid in, sonder om ontmasker te word as ons vals is. Bekering beteken om weg te draai van sonde en te draai na ons medemens toe.

Ons uitdaging

Ons teks nooi ons dus uit om aan onsself te dink as mense geroep om ons medemens te versorg. Elkeen van ons het daardie vermoë – hoe min of hoe baie ons het.

Soms is mens geneig om aan jouself as slagoffer te dink, as die “weeskind” of “weduwee” wat deur ander verontreg word. Dit mag so wees, maar selfs dan het mens die vermoë om te bly kies vir die belang van jou medemens. Ander se onreg kanselleer nie jou roeping om jou naaste se belange te dien nie.

Wanneer die erediens van die lewe binne enkele minute gaan begin, sodra ons deur die kerk se deure stap, lê die toets vir ons godsdiensbeoefening voor.

God stuur ons om te leef

Terugvoer
[Augustus is die Seisoen van Barmhartigheid, wat opbou na Barmhartigheidsondag die 28ste. Jy kan gerus elke Sondag geleentheid gee dat iemand van ‘n plaaslike barmhartigheidsbediening waarby jul gemeente betrokke is, terugvoer gee. Of vertel vir die gemeente van die bediening en wys ‘n paar foto’s.]

Voorbidding
Bid spesifiek vir die bediening waaroor julle terugvoer ontvang het.
of
‘n Gebed van St. Franciscus van Assisi
Here,
maak my ’n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde bring.
Waar daar oortredings is, vergifnis,
waar daar twyfel is, geloof,
waar daar wanhoop is, hoop.
waar daar duisternis is, lig,
waar daar droefheid is, vreugde.
O, Heilige Meester, gee dat ek,
in plaas daarvan om vertroosting te soek, ander sal vertroos;
om begrip te soek, andere sal verstaan;
om liefde te soek, andere sal bemin.
Want dit is deur te gee, dat ek ontvang;
deur te vergewe, dat ek vergewe word.
En dit is deur te sterwe,
dat ek die ewige lewe beërwe.

Slotsang
VONKK 158 Ons Wy Onsself Aan Christus Toe [bekend]

Seën
Liturg: Here, lei ons, dat ons mag vas staan in geloof vir geregtigheid.
Gemeente: Leer ons liefde. Leer ons deernis.

Liturg: Bo alles, leer ons om uit liefde en deernis te dóén.
[Op grond van ‘n seën uit die Iona Gemeenskap]

Respons
F212. Die Here Het Hom Nodig
Refrein:
Here, lei my,
Heer, gebruik my,
Here, stuur my,
dis wat ek steeds hoor.