Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Melany Adonis
Die Sondag se tekste is ietwat uiteenlopend: In die sleutelteks is Petrus geseën om te sien dat Jesus die Seun van God is. Die verhaal van baba Moses word in Eksodus 1-2 vertel. Psalm 124 sluit hierby aan met die belydenis: As die Here ons nie gehelp het nie, het die vloedwaters ons oorweldig. Romeine 12 begin met die bekende oproep: Gee julleself as heilige offers wat vir God aanneemlik is.

Ander tekste

Eksodus 1:8-2:10
Die farao probeer die getal van die Israeliete beperk
8Toe ’n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, 9het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons? 10Kom ons bedink ’n plan teen hulle sodat hulle nie kan vermeerder nie. Anders kan dit gebeur dat as daar oorlog uitbreek, hulle dalk by ons vyand aansluit om teen ons te veg en ons land te oorweldig.”

11Daar is toe slawedrywers oor hulle aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk. Hulle moes die voorraadstede Pitom en Rameses vir die farao bou. 12Maar hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle geword en hoe meer het hulle oor die land versprei, in so ’n mate dat die Egiptenaars baie bang geword het vir hulle. 13Die Egiptenaars het slawe gemaak van die Israeliete 14en die lewe vir hulle bitter moeilik gemaak deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die lande. Hulle moes onder dwang al die slawewerk vir Egipte doen.

15Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: 16“As julle ’n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit ’n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit ’n dogter is,mag sy bly lewe.”

17Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: Hulle het die seuntjies laat lewe.

18Die Egiptiese koning het die vroedvroue ontbied en vir hulle gevra: “Waarom doen julle dit? Waarom laat julle die seuntjies lewe?”

19Toe antwoord die vroedvroue die farao: “Die Hebreeuse vrouens is nie soos dié van Egipte nie, hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore.”

20As gevolg hiervan het die volk aanhou vermeerder en baie talryk geword.

God het toe die vroedvroue self ook voorspoedig gemaak. 21Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee.

22Daarna het die farao sy hele volk beveel: “Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi, maar spaar die dogtertjies se lewe.”

Moses se geboorte en opvoeding
2 ’n Man uit die stam Levi was met ’n Levitiese meisie getroud. 2Die vrou het swanger geword en ’n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek. 3Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom ’n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit. 4Sy suster het op ’n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur.

5’n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal. 6Met die oopmaak sien sy dit is ’n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies.

7Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: “Mag ek vir u ’n vrou gaan roep, ’n Hebreeuse vrou met ’n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?”

8Die dogter van die farao het haar geantwoord: “Ja, goed!”
Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep.
9Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal.”

Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg. 10Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses a genoem, “want” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.”

Psalm 124
As die Here ons nie gehelp het nie
124 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
As die Here ons nie gehelp het nie,
dit moet Israel bely,
2as die Here ons nie gehelp het
toe mense ons aangeval het nie,
3dan het hulle ons lewendig verslind
toe hulle woede teen ons ontvlam het;
4dan het die waters ons weggespoel
en die vloed ons oorweldig;
5dan het die skuimende waters
ons oorweldig.
6Aan die Here kom die lof toe:
Hy het nie toegelaat
dat ons hulle prooi word nie.
7Ons is bevry soos ’n voël
uit die wip van ’n voëlvanger;
die wip het gebreek en ons was vry!
8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Romeine 12:1-8
Die nuwe lewe in Christus
12 En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

3Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. 4Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. 5Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. 6Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. 7As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. 8As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.

Fokusteks

Matteus 16:13-20
‘n Tweede versoek om ‘n teken afgewys
(Mark 8:11–13; Luk 12:54–56)
16 Die Fariseërs en die Sadduseërs het gekom om Jesus op die proef te stel. Hulle het Hom gevra om vir hulle as teken uit die hemel ‘n wonder te doen.

2Maar Hy antwoord hulle: “In die aand sê julle: ‘Daar kom mooi weer, want die lug is rooi;’3in die môre sê julle: ‘Vandag sal dit onweer wees, want die lug is dynserig rooi.’ Julle weet hoe om die voorkoms van die lug te beoordeel, maar die tekens van die tye kan julle nie onderskei nie. 4‘n Slegte en afvallige geslag wil ‘n teken hê, en geen teken sal aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona.”

Hy het hulle daar gelaat en weggegaan.

Die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs
(Mark 8:14–21)
5Die dissipels het na die oorkantste oewer toe gegaan, maar vergeet om brood saam te neem. 6Jesus het vir hulle gesê: “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.”

7Hulle het toe met mekaar daaroor gepraat en gesê: “Dit is omdat ons nie brood saamgebring het nie.”

8Jesus het geweet wat hulle praat, en Hy sê vir hulle: “Kleingelowiges! Hoekom praat julle met mekaar daaroor dat julle nie brood het nie? 9Verstaan julle nog nie en onthou julle nie die vyf brode vir die vyf duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? 10En die sewe brode vir die vier duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? 11Hoe is dit dan dat julle nie verstaan dat Ek nie met julle oor brood gepraat het nie? Ek het gesê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.”

12Toe het hulle verstaan dat Hy nie bedoel het dat hulle vir gewone suurdeeg op hulle hoede moet wees nie maar vir die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs.

Die belydenis van Petrus
(Mark 8:27–30; Luk 9:18–21)
13Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”

14Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”

15“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

16Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

17“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

20Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan
(Mark 8:31–33; Luk 9:22)
21Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

22Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.”

23Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg
(Mark 8:34–9:1; Luk 9:23–27)
24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. 26Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe? 27Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. 28Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Ekstra stof

Matteus 16 – Jesus kondig sy eie kruispad aan as model vir dissipelskap
Jesus fnuik die Joodse leiers se versoek om ‘n teken en laat hulle agter – 16:1-4
Dit by darem net ongelooflik dat die Joodse leiers midde-in ‘n reeks wonderwerke van Jesus, ‘n spesiale teken uit die hemel van Jesus vra.  Die rede is natuurlik, soos Matteus sê, dat hulle Jesus wil toets en iets teen Hom wil kry.  Daar is immers reeds genoeg tekens!

Jesus is egter te vernuftig vir hulle en ontbloot hulle kwaadwilligheid deur hulle te herinner daaraan dat hulle wel die tekens aan die hemel kan lees, om die weer te voorspel.  Hoekom kan hulle dan nie die tekens van die tye lees nie, vra Hy?  Jesus is dan die hele tyd besig om dié tekens wat God se genadejaar aankondig, te doen.  Weereens sê Hy dat die enigste teken wat hulle sal kry, is die teken van Jona, soos Hy vroeër al gesê het.  Daarmee verwys Hy na sy kruisdood soos ons ook later meer van sal lees in die hoofstuk.

Hy breek die gesprek met hulle op betekenisvolle wyse af – soos Matteus sê: “Hy het hulle agtergelaat en weggegaan.”  Die gesprek sou eers later weer hervat (hfst. 19).  Die Fariseërs se onbegrip leer ons dus dat die probleem nie lê by hulle intellektuele vermoëns nie, maar by hulle ontvanklikheid.  Hulle is soos die grond langs die pad waar die Bose die saad oppik net ná dit daar gesaai is.

Jesus waarsku die dissipels teen die leer van die Fariseërs – 16:5-12
Jesus gebruik ‘n misverstand van die dissipels oor brood om hulle te leer dat  die dissipels versigtig moet wees vir die “leer van die Fariseërs.” Hy beeld dié leer ook as suurdeeg uit,  soos Hy dit met die leer van die koninkryk van God gedoen het. Net soos die koninkryk alles deursuur, is dit ook waar van die leer van die Fariseërs.  Dit is waarom die dissipels uiters versigtig moet wees en die gevaar daar van moet onderskei.  Een van die onderskeidingskenmerke van die leer van die Fariseërs is dat hulle oor klein onbenullighede lang en ingewikkelde debatte kan voer wat jou nêrens bring nie.  Daarvoor moet die dissipels versigtig wees.

Petrus bely dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God – 16:13-20 
Jesus se identiteit is nou al op verskillende wyses geïdentifiseer deur die loop van die evangelie, ook as die Seun van God (14:33 – deur die dissipels op die boot), maar Petrus se belydenis is ‘n fundamentele standpuntinname oor Jesus.  Dit is ‘n dieptepunt in die evangelie en het die belydenis van die vroeër kerk beslissend beïnvloed.  Jesus is nie maar net nóg ‘n geneser cum demoon uitdrywer nie.  Hy is die Seun van die lewende God.

En dit is belangrik dat die dissipels dít van Jesus snap vóór Hy die pad van die kruis begin loop.  Dit is immers as die Messias, die Christus, wat die kruisdood vir die dissipels en vir almal wat in Hom glo, vir die wêreld, sin en betekenis gaan hê.  Anders is dit net ‘n tragiese verhaal van wat kon gewees het.

Let op dat dié belydenis steeds iets is wat op God se openbaring aan Petrus berus.  Maar, dan is dit ook ‘n belydenis wat die fondasie word van die kerk, die vergadering van die geroepenes, wat die boodskap regoor die wêreld gaan uitdra.  Saam met die belydenis kom daar groot verantwoordelikheid.  Mense se ewige saligheid hang van dié belydenis af.

Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan – 16:21-23  
Direk ná die geweldige belydenis van Petrus, kondig Jesus die volgende stap in sy bediening aan, sy kruisdood en opstanding.  Petrus se teregwysing moet aan die eenkant aan sy vinnige geaardheid toegeskryf word, maar aan die ander kant het dit vir hom ingedruis teen sy idee van die Messias.  Jesus beskou sy teregwysing egter as ‘n struikelblok, op dieselfde vlak as die duiwel se versoeking dat Hy die maklike uitweg vat (Matt. 4).  Hy verkwalik daarom vir Petrus dat dié menslike dinge bedink en nie die dinge van God nie, soos wat Jesus dit inderdaad doen.

Jesus spel die gevolge van navolging uit – 16:24-28
Jesus spel dan onmiddellik daarna die implikasies van sy eie kruisdood vir die dissipels uit.  Soos Hy gekom het om ter wille van die vestiging van die koninkryk aan ‘n kruishout te hang, só sal elke volgeling van Hom bereid moet wees om dieselfde te doen, soms by wyse van spreke, ander kere inderdaad presies soos Jesus dit ervaar het.

Jesus spel egter ook die wonder van die ewige vergelding uit, waarin elkeen die lewe sal kry.  Dit is die paradoks van dissipelskap.  Die wat hulle lewe wil red, sal dit verloor.  Die wat hulle lewe ter wille van Jesus verloor, sal dit wen.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 124

Seëngroet  

Lied 530 “Praat ek mense engle tale 1,2,3”

Barmhartigheidsondag

Skriflesing: Lukas 10:25-37

Skuldbelydenis

God se voorsiening in Christus: Romeine 5:1-8

Verbintenis: Romeine 12

Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 16:13-20

Familie-oomblik
Prediking
Geloofsbelydenis
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 265 “Enigste Here, enkele Wese vs 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 124
8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Seëngroet  
“Genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader en Christus Jesus ons Here” (2 Tim 1:2).

Lied 530 “Praat ek mense engle tale 1,2,3”

Barmhartigheidsondag
In vorige bydraes was die volgende suggesties gemaak:
Die bedoeling van ’n Seisoen van Barmhartigheid is om dit wat in die erediens gebeur doelbewus in verband met die nood van die wêreld te bring. Op die manier word ontdek dat die erediens nie ’n doel op sig self is nie, maar bedoel is om ons in te lei na ’n lewe wat God op elke  terrein van die lewe vereer.

’n Sogenaamde hongerdoek wat in die liturgiese ruimte gedrapeer word en waarop lidmate die geleentheid kry om items soos koerantknipsels vas te maak tydens die erediens en wat die onmiddellike konteks van nood van die gemeente reflekteer. (Die hongerdoek pas tradisioneel liturgies binne die Lydenstyd en nie in Koninkrykstyd nie. Hierdie voorstel kan moontlik gesien word as ’n loslaat van daardie mooi verband, of dalk juis ’n verruiming van die gebruik van die hongerdoek).

Bring kos in natura na die erediens, veral die nagmaalviering, om dit te gebruik om die sakrament mee te vier en dit wat oorskiet na hulpbehoewendes of spesifieke projekte te neem. Die verband tussen die nagmaal en barmhartigheid kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie. Soos wat ons hierdie gawes, die produkte van ons arbeid, insamel, aandra en neerlê op die tafel, so lê ons ook ons lewe daar neer. Hierdie produkte van ons arbeid is nooit genoeg nie, maar op die tafel van ons Here word dit op ’n wonderbaarlike wyse vermenigvuldig sodat daar genoeg is vir iedereen. Op die tafel lê jou lewe.

Voorbidding kan in hierdie seisoen ’n besondere klem kry, weer eens en spesifiek soos geïnspireer deur die leesroostertekste en die gemeente se bepaalde konteks. Dieselfde geld vir die prediking vir hierdie seisoen.

Erediensgangers word uitgedaag om elke week tydens die Seisoen van Barmhartigheid een ete gedurende die week prys te gee en die waarde van daardie ete in die vorm van droë produkte na die erediens te bring wat gebruik sal word in ’n projek. Die produkte word nie sommer net in ’n mandjie by die deur geplaas nie, maar word tydens die derde beweging van die erediens (tafeldiens) fisiek vorentoe gebring en op die tafel geplaas. Dit kommunikeer ook baie ten opsigte van God se omgee en solidariteit in Jesus met mense in nood.

Hierdie seisoen is uiteraard ook ’n ideale geleentheid om projekte waar lidmate by kan betrokke raak, bekend te stel of dalk opnuut bekend te stel met verhale en getuienisse oor die projekte.

Kos na erediens bring
Bring kos in natura na die erediens, veral met nagmaalviering, om die sakrament daarmee te vier en waar die res na hulpbehoewendes of spesifieke projekte gaan.

Een ete prysgee
Erediensgangers word uitgedaag om, indien hulle omstandighede dit toelaat, elke week tydens die Seisoen van Barmhartigheid een ete gedurende die week prys te gee en die waarde van daardie ete in die vorm van droë produkte na die erediens te bring om  in ’n bepaalde projek gebruik te word. Die produkte word nie sommer net in ’n mandjie by die deur geplaas nie, maar word tydens die derde beweging van die erediens (tafeldiens) fisiek vorentoe gebring en op die tafel geplaas. Dit kommunikeer ook baie ten opsigte van God se omgee en solidariteit in Jesus met mense in nood.

Projekte bekendstel
Hierdie seisoen is uiteraard ook ’n ideale geleentheid om projekte waar lidmate by betrokke kan raak, bekend te stel of dalk opnuut bekend te stel met verhale en getuienisse oor die projekte.

’n Geloofsgetuie
Hier kan elke Sondag ’n kort vita (lewensverhaal) van ’n geloofsgetuie vertel word, spesifiek ook van iemand wat haar/sy lewe aan barmhartigheidswerk gewy het. Voor die hand liggende name wat opkom is Fransiskus van Assisi en Moeder Teresa, maar daar is verseker ook minder bekende en veral ook Suid-Afrikaanse voorbeelde.

Skriflesing: Lukas 10:25-37

Die barmhartige Samaritaan
(Matt 22:34–40; Mark 12:28–34)
25Daar was ’n wetgeleerde wat aan Jesus ’n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

26Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”
27Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
28“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”
29Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”

30Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ’n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. 31Dit gebeur toe dat daar ’n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. 32Net so het daar ook ’n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. 33Maar ’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ’n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. 35Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’
36“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”
37Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”
Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

Skuldbelydenis
Voorganger: Here, mense ly rondom ons, maar ons voel nie saam met hulle lyding nie.
Here, ons verontskuldig onsself maklik en ken nie ons sonde nie.
Gemeente: Here, wees ons genadig!
Voorganger: Here, ons leef vir ons eie belange.
Here, ons vergewe ander nie en betoon nie genade nie.
Gemeente: Here, wees ons genadig!
Voorganger: Here, ons wil so graag beter as ander wees.
Here, ons is so dikwels te gejaag en moeg om vir ander om te gee.
Gemeente: Here, wees ons genadig!
Voorganger: Here, ons luister nie in liefde na ander nie.
Here, ons motiewe is dikwels so liefdeloos en ons agendas so verskuil.
Gemeente: Here, wees ons genadig!

God se voorsiening in Christus: Romeine 5:1-8
Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Verbintenis: Romeine 12
Voorganger: God het Homself oor ons ontferm deur sy Seun te gee as ’n heilige en voldoende offer vir ons sonde. Daarom doen ek ’n beroep op julle: Gee julleself as ’n lewende en heilige offer wat vir Hom aanneemlik is.

Gemeente: Ons gee onsself as offer aan U, Here.
Voorganger: Dit is die wesenlike van die godsdiens wat ons beoefen dat ons onsself aan God oorgee.

Gemeente: Ons behoort nie aan onsself nie, maar aan die ewige God, Vader, Seun en Gees.
Voorganger: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.

Gemeente: Verander ons, Here, want ons behoort aan U.
Voorganger: As God julle verander sal julle kan onderskei wat sy wil is en wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Gemeente: Vernuwe ons denke, Here, want ons behoort aan U (uit Rom 12).

Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Liedere

F1. “Die Hemel Juig”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: All heaven declares
Teks en Musiek: Noel & Tricia Richards
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht & Jacques Louw
© 1987,1997  Thankyou Music

1. Die hemel juig, getuig van al u grootheid, Heer.
Die skepping buig in aanbidding voor U neer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

2. Ons wil verklaar:
U is die opgestane Heer;
U is die Lam
wat vir ewig sal regeer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

F64. “U Is God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Heerskappy van God)
Teks en Musiek: Nellis van Zyl Smit
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Die hele skepping sing dat U regeer
En elke rots skree uit: U is God
Die bome wieg deur u asem, Heer
En saggies fluister hul: U’t opgestaan
U regeer tot in ewigheid
U is God vir altyd nog
Elke knie sal buig, elke tong bely
U is waardig om geprys te word.
U is God!

Wat is die mens dat U aan hom dink
Die mensekind dat U hom besoek?
Slegs minder as die eng’le gemaak
En tog met heerlikheid en eer gekroon
Heilig, heilig, heilig is die Heer
Wat was, wat is en wat kom
Aan U behoort alle lof en eer tot in ewigheid

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Hoe diep stel ons U nie teleur nie. U gee ons ’n hart van vlees, maar ons bly ons hart verhard. Dit is U wil dat ons woorde van hoop spreek. Dit is u begeerte om vir U ’n tuiste in ons harte te maak, maar ons is gastekamers ingerig vir bitterheid, woede en valsheid. Vergewe al ons oortredinge. Skenk ons u genade. Help ons om te wag vir die nuwe lewe wat ons erfenis is. Ons wil ons hoop vestig op die Woord van vreugde en vrede. Die Woord wat Jesus Christus, ons Redder is. Amen
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Skriflesing: Matteus 16:13-20

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Verduidelik die betekenis van die moeilike woord “barmhartigheid”aan die kinders…

Dit beteken veral om vir iemand anders om te gee…

Soos wanneer ’n maatjie geval het en daar is bloed aan sy knie- dit vir hom af te vee met ’n nat lappie en hom te troos…

Soos om jou lekker broodjies vir skool met iemand te deel wat nie kos in sy kosblik het nie…

Ons gee om vir ander mense omdat God eerste vir ons omgegee het!

Hoor bietjie hoe het Matteus daaroor geskryf…
5     1–2 Eendag, toe daar baie mense na Jesus toe gekom het, het Hy ’n ent teen ’n berg opgeklim. Hy sê toe vir sy dissipels:

3–11 “God gee om vir almal wat met hulle hele lewe in Hom glo*. Hulle sal vir altyd by Hom in die hemel bly.

God gee om vir almal wie se hart nou seer is oor al die lelike dinge wat in die wêreld gebeur. Hy sal sorg dat hulle nooit weer huil as hulle eendag by Hom bly nie.

God gee om vir almal wat nie dink hulle is ouliker as ander mense nie. Hy sal vir hulle ’n plek in sy nuwe wêreld gee.

God gee om vir almal wat net hulle beste vir Hom gee. Hy sal vir hulle gee net wat hulle wil hê as hulle eendag by Hom bly.

God gee om vir mense wat ander help wat swaar kry. Hy sal vir hulle sorg as hulle eendag daar by Hom bly.

God gee om vir mense wat vir Hom lief is. Hulle sal Hom een van die dae met hulle eie oë sien.

God gee om vir mense wat vrede maak tussen ander wat met mekaar baklei. Hy sal eendag vir almal vertel dat hulle sy kinders is.

God gee om vir mense wat sleggesê word omdat hulle sy kinders is. Hulle sal definitief ’n plek kry in sy nuwe wêreld.

(Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)

Deel nou items/ lekkers uit ‘n “goody bag”uit vir die kinders…

Maar die keer met ‘n ander doel- hulle moet dit in die week vir iemand anders gaan gee!

Preekriglyn

“Die Skepping van Adam” is ‘n kunswerk deur Michelangelo Buonarotti (1475 – 1564), een van die mees bekende Renaissance kunstenaars. Dit is ‘n fresko wat deel uitmaak van die Sistynse Kapel se plafon, geskilder in die jare 1508 tot 1512. Die plafon behels ‘n komplekse uitbeelding van talle Bybelse tonele, waaronder die moment uit Genesis waar God vir Adam skep.

Die totale plafon beslaan sowat 500 vierkante meter, met meer as 300 figure. Nege episodes uit Genesis word ingesluit, wat die skepping van die wêreld, die skepping van die mens, die val uit God se genade en die familie van Noag uitbeeld.

In “Die Skepping van Adam” simboliseer ‘n bejaarde man met ‘n grys baard God die Vader, terwyl Adam passief agteroor lê en ontspan. God se regterarm is uitgestrek na Adam toe om die vonk van lewe na hom oor te dra. Adam se linkerarm is uitgestrek soos God s’n, om aan te dui dat God die mens na God se beeld skep. God en Adam se vingers raak nie, wat aandui dat God as Gewer van Lewe uitreik na Adam, wat nog nie die lewe ontvang het nie. God en Adam is nie op dieselfde vlak nie, hulle skud bv. nie hande soos twee gelykes sou doen nie.

Die teks wat uitgebeeld word, is Genesis 1 vers 27: “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep….” Sommige kenners sê die inspirasie vir die skildery kom uit die Middeleeuse lied Veni Creator Spiritus (Kom, Skepper Gees) wat bid dat “die vinger van die Vader se regterhand” woorde aan die gelowiges gee.

Geen lewe is moontlik sonder dat God dit gee nie. Ons sou kon byvoeg: Geen insig, geen selfverstaan, roepingsbesef, ja, geen getuienis is moontlik sonder dat God openbaring, kennis, wysheid gee nie. Ons het geen lewe, geen begrip, geen benul van ons identiteit, ons gebrokenheid en ellende, en van God se liefde en verlossing, sonder dat God dit aan ons meedeel nie. Sonder God het ons nie eers woorde oor God nie, kan ons niks oor God bely nie.

Ons het openbaring nodig. Gelukkig skenk God dit ruimhartig, soos die lewe self. Soos Jesus in ons teks aan Petrus sê: “Gelukkig is jy … want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou openbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.” (16:17).

Kom ons stap eers deur ons teks, en kyk daarna na die betekenis daarvan vir ons vandag.

Sesarea-Filippi

Vers 13 skets die konteks waarbinne Petrus sy belydenis doen. Die plek word aangedui as die “streke van Sesarea-Filippi” en die toneel as ‘n gesprek tussen Jesus en sy dissipels. Die gesprek handel oor Jesus se vraag aan sy dissipels, oor wat hulle by die mense hoor oor wie Hy is: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Dit is die vraag na Jesus se identiteit en mense se geloofsreaksie op hulle verstaan van wie Jesus is.

N T Wright skryf:
So when Jesus wanted to put the question to his followers he took them well away from their normal sphere of activity. Caesarea Philippi is in the far north of the land of Israel, well outside the territory of Herod Antipas . . .”

Wat die mense sê

In antwoord op Jesus se vraag gee die dissipels in vers 14 oënskynlik objektiewe terugvoering oor wat hulle by die mense hoor aangaande Jesus se identiteit. In hulle antwoord noem hulle vier moontlike verklarings van wie Jesus is wat onder die mense lewe:

  • Sommige mense dink die Seun van die mens is Johannes die Doper, die een wat as voorganger van Jesus die pad vir die komende Messias voorberei het.
  • Ander dink die Seun van die mens is Elia, die profeet van die Ou Testament wat die profete van Baäl verslaan het.
  • Nog ander dink aan die profeet Jeremia wat in die sesde eeu vC in Juda opgetree en die verbondsvolk tot bekering opgeroep het.
  • ‘n Vierde groep mense dink aan ander profete uit die geskiedenis van die verbondsvolk wat op verskillende stadia opgetree het as spreekbuis van Jahwe.
En julle?

Jesus se reaksie in vers 15 gee die indruk dat Jesus óf nie tevrede was met die dissipels se antwoorde nie óf bloot die geleentheid geskep het om ‘n dieper en persoonlike vraag aan die dissipels self te vra: “‘Maar julle,’ het Hy gevra, ‘wie, sê julle, is Ek?'”

Nou verander die toonaard van die gesprek. Dit is nie meer die siening van ander mense waarna Jesus vra nie, maar die standpunt van “julle” hier by My. Nie meer die mense se menings oor die objektiewe benaming “Seun van die mens” nie, maar die dissipels se persoonlike oortuiging van wie “Ek” is.

Dan kom staan Simon Petrus in die middel van die toneel met ‘n antwoord wat as sy belydenis beskryf word: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (16).

Vers 17 verwoord Jesus se reaksie op Petrus se belydenis in die vorm van ‘n saligspreking (“Gelukkig is jy . . .”) en ‘n uitleg van Petrus se uitspraak waarin Jesus die oorsprong daarvan verklaar (“. . . dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is”). Daarmee beklemtoon Jesus die waarheid van die inhoud van Petrus se belydenis as die grond vir die mens se saligheid (geluk).

Jesus lê tweedens die verband tussen sy aanvanklike verwysing na “Seun van die mens” en sy verwysing na “Ek” in sy vraag aan die dissipels self, as Hy praat van “my Vader wat in die hemel is”. Kennis van wie die Seun van die mens is (Ek), is ‘n openbaringswaarheid. Die Seun van die mens is die gevolmagtigde van God, die Een in Wie God handel.

‘n Nuwe identiteit

In vers 18 volg Jesus sy aanvaarding en bevestiging van Petrus se belydenis op met ‘n bevestiging van Petrus se identiteit en ‘n nuwe naam (“Jy is Petrus”), ‘n roepingsverklaring deur die Seun van die mens (“. . . op hierdie rots sal Ek my kerk bou”), en ‘n belofte van bewaring teen die magte van die doderyk (“. . . die doderyk sal dit nie oorweldig nie”).

Vers 19 bevat Jesus se uiteensetting van wat Petrus se roeping en taak in die koninkryk van die hemel sal behels, as Jesus die beeld invoer van sleutels wat Petrus sal ontvang. Daarmee sal hy aardse dinge kan oop- of toesluit, wat ook in die hemel effek sal hê.

Die Skrifgedeelte sluit af met Jesus se bevel aan sy dissipels om hul kennis dat Hy die Christus is op hierdie stadium met niemand te deel nie. Nog ‘n voorbeeld van die sogenaamde Messias-geheim. Wat sou dit in hierdie spesifieke geval beteken?

Noudat ons ons vinnig na die inhoud van ons teks gekyk het, kan ons fokus op die betekenis daarvan vir ons vandag.

‘n Dieper verbintenis

Die feit dat Jesus sy dissipels opsy neem, na Sesarea-Filippi, wys op die meer intense verbintenis wat Hy van nou af van hulle vra. Dit is nie genoeg dat hulle Hom bloot langer volg en by Hom leer nie. Hulle het al soveel van Hom gesien:

  • Die oop uitnodiging en genade waarmee Hy hulle geroep het;
  • Die gesag waarmee Hy deur sy woorde genesing en herstel vir mense bewerk het;
  • Die gesag waarmee Hy hulle bemagtig het toe Hy hulle uitgestuur het na Israel toe;
  • Die gelykenisse waarin Hy van die koninkryk van God praat wat skeiding bring tussen mense en vra dat mense God se koningskap erken en God volg.

In al hierdie dinge het hulle die Messias, die Gesalfde van God, aan die werk gesien, die Een wat hulle roep om Hom te volg.

Nou vra Jesus meer intense toewyding. Die vraag is of hulle gereed is om hierdie Christus tot in die dood te volg. Net in die volgende paragraaf, na ons teks, kondig Jesus sy lyding, sterwe en opstanding aan. Die vraag is of die lydende Christus sal volg?

Op hierdie stadium het Jesus baie vyande gehad. Jesus het ook die skare gehad wat Hom oral gevolg het. Hulle was bewonderaars, wat gedink het Hy is Elia of Johannes die Doper wat uit die dood opgestaan het. Vir hulle was Hy die wonderwerker, die Een wat brood gee. Daar was ook baie wat gedink het Jesus is ‘n spesiale mens, maar wat Hom bewonder het sonder om te dink Hy is die Een in wie die koninkryk van God ‘n werklikheid word.

Jesus wil weet of sy dissipels meer as bewonderaars is. Hy wil hulle bind aan Hom as die Messias, die Seun van God, die Seun van die mens deur Wie God handel.

Daarom is Petrus se belydenis so kragtig. Petrus bely spesifiek dat Jesus die Christus is, die gesalfde Seun van die lewende God. Daarom verbind Petrus homself en die dissipels op ‘n baie diep vlak aan Jesus. Wanneer mens Jesus die “Christus” genoem het, is jy verbind om hierdie Jesus tot die einde te volg, waarheen dit ook al mag lei.

Net in die volgende paragraaf kondig Jesus sy dood en opstanding aan. Jesus se toekoms het die vorm van ‘n kruis, en sy dissipels s’n ook. Wanneer jy Jesus die Christus noem, is jy verbind om Hom te volg op die pad waar Hy jou lei. Dit is die pad van ware seën.

Geseënd is jy

Jesus reageer op Petrus se belydenis met ‘n saligspreking:
“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.” (17)

Die ware geluk in die lewe word gebou op die belydenis dat Jesus die Christus, die Seun van die mens is. Dit is om voor Jesus te buig en Hom te  dien en te volg. Om Jesus as die Christus te ken, kom van God. ‘n Lewe in diens van Christus is daarom ‘n lewe wat God verbly.

Let ook op die nuwe naam wat Petrus hier ontvang: Simon Barjona. “Barjona” beteken “Seun van Jona”. Vir Matteus is Jona die profeet wat – deur drie dae in die vis te wees- sterwe en opstanding beleef het. Die belydenis van Jesus as die Christus, bind die dissipels aan die sterwe en opstanding van Jesus. Die dissipels sterf saam  met Jesus, en staan saam met Hom op. Hulle beleef die nuwe lewe wat die kruis bring.

Dit is ook hoe ons oor onsself moet dink. Die vashou – deur geloof – aan Jesus, die gekruisigde en opgestane Here, beteken ook dat ons saam met Jesus sterf, en saam met Hom opgewek is in ‘n nuwe lewe. Dit gee aan ons ‘n nuwe identiteit.

Die rots

Petrus se belydenis bring ware geluk, maar dit begrond ook die dissipels se lewe. Jesus sê:
En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. (18)

Christene het vir eeue geworstel oor die betekenis van die woord “rots”. Vir sommige beteken dit dat Petrus in sy persoonlike hoedanigheid die rots van die kerk is, en dat Petrus se opvolgers die rol van rots voortsit. Aangesien Petrus met sy dood in Rome gewerk het, is die biskop van Rome sy opvolger en die rots van die kerk. Die Rooms Katolieke pous is die biskop van Rome.

Vir die Nuwe Testament is Jesus self (Matt. 21:42; 1 Kor. 3:11) en die getuienis van die apostels oor Jesus (Gal. 2:9; Ef. 2:20; Openb. 21:14) die fondament van die Christelike kerk.

Vir Protestante is Jesus die Fondament en Hoof van die kerk. Nie Petrus nie, maar die belydenis van Petrus (“U is die Christus, die Seun van die lewende God”) die rots waarop die kerk gebou word. Die “rots” dui dus nie op die standvastigheid of enige ander persoonlike eienskappe van Petrus nie. Hy was in staat tot hierdie wonderlike belydenis, maar kon ook ‘n struikelblok vir ander wees. Petrus se belydenis, en die geloof in Jesus wat hy van God ontvang, dit is die rots waarop die kerk staan.

Ons kan sê Petrus is hier ‘n simbool van ons almal wat Jesus volg. Soms stap hy dapper op die water, soms sink hy soos ‘n rots, soms toon hy besondere insig en ander kere twyfel hy, soms bely hy Jesus en soms verloën hy Jesus. In Petrus sien Jesus egter die boumateriaal wat Hy gebruik vir sy kerk. Dit is materiaal wat deur God se genade gevorm en geskik gemaak word vir die bou van die kerk. In Petrus sien Jesus die hele toekomstige gemeenskap van gelowiges wat danksy die Vader sal glo in Jesus die Christus, die Seun van die lewende God, en deur sy Naam lewe en heerlikheid sal hê.

Nooit oorweldig nie

Aangesien Jesus die Seun van lewende God is, sal selfs die magte van die dood die kerk nooit oorweldig nie. Dit is die belofte van die rots waarop die kerk gebou is.

Wat word met die “magte” bedoel? Dit kan na die bose mag van Satan in die algemeen verwys, maar ook na die skynbaar onafwendbare mag van die dood oor die lewe, of selfs na die vernietigende mag van vervolging wat die vroeë Christelike kerk sou tref.

Wanneer mens as die Here bely, beteken dit dat jy nee sê vir ander magte en ander leiers. Dit kan jou die woede en oordeel van daardie magte op die hals haal, of dit geestelike magte is of aardse keisers en diktators.

Die belofte is dat Jesus, die Seun van die lewende God” wat uit die dood opgewek is, sy lewe deel met die kerk. In die bekende Anastasis Fresko (skildery oor die opstanding) in die Chora-kerk in Istanbul is dit die eerste dinge wat Jesus na sy oorwinning oor die dood aan die kruis doen: Hy stamp die hekke van die doderyk oop en tel Adam en Evan – en ander gelowiges – uit die dood in nuwe lewe op.

Sleutels

Jesus gee ook aan Petrus en die kerk ‘n besondere verantwoordelikheid en roeping:
Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.” (19)

Die verklaring van hierdie teks is deur die eeue uiteenlopend verstaan. In die Joodse tradisie verwys “toesluit of “bind” en “oopsluit” na besluite wat sekere dinge toelaat en ander dinge verbied. In hierdie sin beteken “oopsluit” en “toesluit” veral na gesaghebbende etiese lering, wat sekere dinge toelaat en ander dinge verbied. Jesus se lering in die Preek op die Berg is dan ‘n uitstekende voorbeeld hiervan.

Jesus sê dan vir Petrus Hy sal ‘n nuwe geloofsgemeenskap skep waar die leraars nie die Fariseërs of die Skrifgeleerdes of oorlewering van die tradisie sal wees nie, maar mense wat getuig oor Jesus. Oor dit wat Jesus gedoen, geleer en bereik het.

Die getuienis van die apostels oor die Evangelie (goeie nuus) van Jesus Christus is dan die sleutels van die kerk. Die getuienis klink oor die wêreld, en sluit vir mense die weg na God oop, of sluit die weg deur hulle eie ongeloof en ongehoorsaamheid toe.

Die kerk se roeping is daarom om oor Jesus te getuig. Die kerk hou Jesus se leer lewend en pas dit toe. Só sluit die kerk oop en toe.

Ten slotte

In hierdie ryk gedeelte sien ons God aan die werk. Die lewende God gee sy Seun aan die wêreld, en wek geloof in Jesus by mense. Deur Jesus, die Hoof van die kerk, bou God ‘n geloofsgemeenskap wat nooit oorweldig sal word nie, en deur wie die boodskap van ewige hoop en verlossing oor die wydte en breedte van die aarde, deur al die eeue, gedra sal word.

God stuur ons om te leef

Geloofsbelydenis
Voorganger: Saam met die eerste volgelinge van Jesus bely ons ons geloof in Hom. Saam met
Johannes die Doper …
Gemeente: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

V: Saam met Andreas …
G: Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!

V: Saam met die Samaritane …
G: Ons weet dat Hy werklik die Verlosser van die wêreld is!

V: Saam met Simon Petrus …
G: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

V: Saam met Maria Magdalena …
G: My Meester!

V: Saam met Tomas …
G: My Here en my God.

V: En nou ook saam met die wêreldwye kerk, versprei oor alle lande, tale en kulture …
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige …

die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.
(Uit Handleiding vir die erediens: Responsoriese tekste)

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 265 “Enigste Here, enkele Wese vs 1,2”

Seën
Julle is die liggaam van Christus.
Julle is sy hande en voete, sy arms wat vashou.
Julle is sy omgee vir ander.
Die genade van ons Here Jesus Christus,
die liefde van God en
die gemeenskap van die Heilige Gees
sal met julle wees en deur julle na ander kom.
of
Voorganger: Gaan en leef nou die lewe van die nuwe mens wat al meer vernuwe word na die beeld van haar Skepper
Gemeente: en tot die volle kennis van God.

Voorganger: Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie.
Gemeente: Hier is Christus alles en in almal (uit Kol 3).

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.