Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie week se Skrifgedeeltes handel oor verhoudings wat versoen en verhoudings wat vervreem. Enersyds is daar die vervreemding tussen vader en seun wat lei tot die dood van die seun nadat hy voor sy vader en dié se soldate uitvlug (Dawid en Absalom in 2 Sam 18). Andersyds is daar die verhaal van ‘n verhouding tussen Vader en Seun wat vanweë die liefde tussen hulle lei tot die dood van die Seun omdat Hy deur die Vader gestuur is om deur sy dood die ewige lewe te bring vir wie in Hom glo. Hierdie verhouding tussen Vader en Seun is só intiem dat niemand na die Seun sal kom tensy die Vader hulle na Hom toe trek nie (Joh 6). Die Skrifgedeelte uit die psalms en briewe wil gelowiges tot ‘n verhouding met God aanspoor, deur te sê dat die gelowiges vanweë sy troue liefde selfs in die donkerste dieptes op God moet wag (Ps 130) en dat hulle Jesus se voorbeeld moet volg omdat God hulle liefhet en hulle sy kinders is (Ef 6).

Ander tekste

2 Samuel 18:5-9, 15, 31-33
Absalom sterf
18 Dawid het die manskappe wat by hom was, in gelid opgestel: hy het hoofde oor afdelings van duisend en honderd aangestel en die leër in drie verdeel: 2’n derde onder leiding van Joab; ’n derde onder Joab se broer Abisai seun van Seruja, en die ander derde onder leiding van Ittai die Gattiet.

Toe het die koning vir die leër gesê: “Ek gaan self saam met julle veg.”

3Die leër het egter geantwoord: “Nee, u moenie saamgaan nie, want as óns dalk moet vlug, kan ons maar vlug en niemand sal van ons notisie neem nie; of as die helfte van ons dalk sterf, sal dit nie saak maak nie. Maar u is soos tien duisend van ons. Dit sal beter wees as u ons van die stad af kom help.”

4Die koning sê toe: “Ek sal doen soos julle sê.”

Toe gaan staan hy langs die stadspoort terwyl die hele leër in afdelings van honderd en duisend uittrek om te gaan veg.

5Die koning het vir Joab, Abisai en Ittai beveel: “Werk om my ontwil tog saggies met my kind Absalom.”

Al die manskappe het die bevel oor Absalom gehoor toe die koning dit aan die offisiere gegee het.

6Die manskappe het toe in die oop veld teen Israel opgetrek. Daar het ’n geveg in die Efraimbos ontstaan, 7en Israel is deur Dawid se manskappe verslaan. Dit was ’n groot slagting. Daar het dié dag nie minder nie as twintig duisend man geval. 8Die geveg het oor die hele landstreek versprei, en op daardie dag het die bos meer lewens geëis as die swaard.

9Dawid se manskappe het op Absalom afgekom waar hy op ’n muil gery het. Die muil het onder die digte takke van ’n groot akkerboom deurgegaan, en Absalom se kop het in die boom vasgehaak. Die muil waarop hy gery het, het aangehou hardloop en Absalom het tussen hemel en aarde bly hang.

10Iemand het dit gesien en aan Joab vertel: “Weet u, ek het Absalom aan ’n akkerboom sien hang.”

11Toe sê Joab aan die man wat dit vir hom vertel het: “Wat? Het jy hom gesien? Waarom het jy hom dan nie net daar doodgeslaan nie? Ek sou jou dan tien silwerstukke en ’n eregordel moes gegee het.”

12Maar die man antwoord vir Joab: “Al sou ek ook vir my duisend silwerstukke met my eie hand kon aftel, sou ek nog nie my hand teen die koning se seun opgetel het nie. Ons het immers almal gehoor hoe die koning u en Abisai en Ittai beveel: ‘Werk tog saggies met my kind Absalom.’13As ek verkeerd opgetree het, sou dit by die koning bekend geword het en dan sou ú my nie gehelp het nie.”

14Toe sê Joab: “Ek kan nie so staan en tyd mors hier by jou nie.” Hy het drie spiese gegryp en dit deur Absalom se hart gaan steek waar hy nog lewendig in die boom gehang het.

15Toe het tien wapendraers van Joab nader gestorm en Absalom heeltemal dood geslaan.

Hy het dit gedoen 31en toe kom die Kussiet juis net daar aan en sê: “Daar is nuus vir die koning, want die Here het u vandag verlos van almal wat teen u in opstand gekom het.”

32“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning, en die Kussiet antwoord: “Mag dit met die vyande van die koning en almal wat teen u in opstand kom en u ondergang wil bewerk, gaan soos met daardie kind.”

33Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.”

Psalm 130
Ek wag op die Here
130 ’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Efesiërs 4:25-5:2
Riglyne vir die nuwe lewe
25Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.

26As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. 27Moenie die duiwel vatkans gee nie.

28As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.

29Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.

30En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

31Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

5 Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. 2Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was.

Fokusteks

Johannes 6:35, 41-51
35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

36Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

37“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. 38Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

Die Jode verstaan nie Jesus se woorde nie

41Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”

43Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie. 44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 45By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ f Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ‘n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

52Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”

53Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 55My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. 58Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.”

59Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.

Ekstra stof

Johannes 6:1–71 – God gee geloof wat vir altyd hou
‘n Mens sien in hoofstuk 6-7 hoe ‘n digte verhaal Johannes vir ons vertel – alles het met alles te make.  Die verhaallyn is as volg:

  • Jesus doen die broodwonder wat Sy gestuurdheid en goddelikheid bevestig – 6:1-15.
  • Jesus loop op die see wat ‘n opening skep om verder met die skare oor die betekenis van die broodwonder te kan gesels – 6:16-21.
  • Jesus verduidelik dat Hy die brood van die lewe is en dat mense op Hom moet fokus – 6:22-40.
  • Die Jode verstaan nie Jesus se woord nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê – 6:41-59.
  • Selfs onder Jesus se dissipels is daar mense wat nie glo nie – 6:60-71.
  • Jesus se broers vind dit ook moeilik om in Hom te glo 7:1-9.
  • Jesus leer die mense by die huttefees dat Hy die Christusis, dat Hy moet ly, maar die Gees sal gee vir elkeen wat in Hom glo – 7:10-39.
  • Dit lei tot verdere meningsverskil oor Jesus en ongeloof by die Joodse leiers – 7:40-52.

6:1-15: Die verhaal van die broodvermeerdering word in al die evangelies vertel, wat aandui dat dit ‘n belangrike perspektief op Jesus se bediening gee (Matt 14:13–21; Mark 6:30–44; Luk 9:10–17), soos Jesus inderdaad die volgende dag uitspel. Dit vind plaas net voor ‘n Paasfees aan die oorkant van die See van Galilea (by Tiberias – die dorpie is in 22 nC gebou en het mettertyd die naam geword waarmee die meer benoem is: See van Tiberias).

Die groot gevolg wat agter Jesus aankom, is veral daar omdat hulle die wondertekens gesien het.  Onthou egter wat in 2:23-25 al gesê is:  Jesus “verlaat” Hom nie op mense wat in Hom glo, omdat hulle die wondertekens gesien het nie.  In vers 66 sien ‘n mens dat hierdie selfde volgelinge Hom verlaat omdat volgelingskap te veel van hulle vra.  Jesus verlaat Hom dus nie op hulle nie, want Hy weet dat hulle ‘n geloof het wat uit hulleself kom, iets wat altyd die potensiaal het om tot niet te gaan.  Dit is net die geloof wat God gee, wat vir altyd hou, soos reeds in die gesprek met Nikodemus aangeroer is.

Let op die verskillende reaksies van die dissipels op Jesus se versoek dat hulle die menigte kos gee.  Filippus gooi hande in die lug, maar Andreas bring wat daar is, hoewel hyself nie regtig weet hoe dit so baie mense kos gaan gee nie.  Maar dit is presies waarmee Jesus dan werk, met daardie seuntjie se 5 garsbroodjies en 2 vissies om die wonder van die broodvermeerdering te laat gebeur.

Jesus voorsien hier aan die menigte kos, soos wat God dit in die woestyn gedoen het met die manna (Eks 16:4; Ps 78:24; 105:40 – vgl vers 30 vv) en die kwartels (Eks 16:13), wat sy goddelikheid bewys – die skare weet nou dat Hy die Profeet is, die Een wat na die wêreld toe moes kom (:14).  Daarom word dit ook ‘n wonderteken genoem.  Daar bly ook 12 mandjies oor wat die oorvloed waarmee God mense seën simboliseer.

Die skare se aandrang om Hom direk daar en dan met geweld koning te maak, laat Hom verder op met die berg klim, om hulle wondergeloof te laat afkoel, en moontlik die gebeure te deurdink – alleen.

6:16-21: Die dissipels keer terug na Kapernaum en beleef ‘n verdere wonder dat hulle in die onstuimige see vir Jesus na hulle toe sien aangeloop kom op die water.  Hulle vrees word deur Hom besweer en hulle kom saam aan die oorkant aan.  Dié wonder word as een van die sewe gereken, hoewel die woord wonderteken nie hier voorkom nie.

6:22-40: Dit word egter duidelik deur die skare as ‘n wonder ervaar – om die waarheid te sê, dit is waarskynlik presies ter wille van hulle wat die wonderteken gedoen is, sodat Jesus met hulle verder kon gesels oor die betekenis van die wonder van die broodvermeerdering, soos Hy dan inderdaad ook doen.

Jesus wys hulle dan daarop dat hulle die gevaar loop om HOM te mis deurdat hulle fokus op die brood wat hulle honger gestil het, dws die wonderteken as sodanig en nie dit waarna die wonderteken verwys nie. Hulle moet eerder fokus op die Wonderdoener, Jesus, en in Hom glo, want Hy kan vir hulle ewige lewe gee, Hy is die Brood wat lewe gee.  Daardeur bekom hulle die ewige lewe met die laaste dag se opstanding.

6:41-59: Let op hoe die Jode (op die sabbatdag in die sinagoge in Kapernaum – vers 59) nie die verband getrek kry tussen Jesus se aardse en sy hemelse afkoms nie, soos Nikodemus vroeër.  Jesus haal dan uit Jesaja 54:13 aan dat hulle dit net sal kan begryp as hulle dit deur God geleer word.

Die Jode wys hulle weerstand teen God se lering deur konsekwent Jesus se lering mis te verstaan.  Dit terwyl Jesus hier eintlik oop kaarte met hulle speel en van sy naderende dood in terme van sy liggaam en sy bloed te praat, die tekens van die nagmaal (onthou, Johannes vertel nie vir ons van die “laaste avondmaal” nie, net van die voetewas-episode in Joh 13).

Dit is dié wat die betekenis daarvan begryp en omhels, wat inderdaad in God is en ervaar dat God in hulle bly (dinge waaroor Jesus verder sal uitbrei in sy onderrig aan sy dissipels in hoofstukke 14-17).

6:60-71: Die Jode is egter nie die enigste wat moeite het met hierdie woorde van Jesus nie.  ‘n Hele paar van sy dissipels het hieroor gemor.  Interessant dat Jesus reageer deur van nog dieper dinge te gesels, sy Hemelvaart en per implikasie van die uitstorting van die Heilige Gees.  Die punt wat Hy maak is egter steeds, jy sal dié dinge nie verstaan as Godself dit nie vir jou duidelik maak nie.

Die gevolg is dat ‘n hele paar van die dissipels Hom op hierdie punt verlaat – behalwe die twaalf , waarvan Jesus geweet het dat een Hom nog sou verraai, Judas, die seun van Somon Iskariot.  Geloof is inderdaad ‘n geskenk wat God gee!

Die vraag is seker vir vandag: hoe weet ek dat ek ‘n geloof het wat God gegee het?  ‘n Baie belangrike vraag!

Die antwoord lê in die paradoks van vers 35 en 65: “Wie na My toe kom … niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”

Geloof lê aan die een kant in die keuse wat ek vir Jesus maak … EN aan die ander kant getuig my keuse van die geloof wat God vir my gegee het.  Ek glo, omdat God geloof vir my gegee het.

Albei kante van die paradoks is nodig, maar God se kant van die paradoks is die primêre oorsaak van die geloof wat ek in myself ervaar.  Daarom kan ek God net dank vir geloof, en nie daarop roem nie, asof ek beter is as hierdie Jode of dissipels nie.

Geloof is om vas te gryp aan God, al kan jy niks daarmee verdien en niks daarmee regkry nie … maar vertrou dat God dit kan gebruik, God dit waar kan maak.  Soos ‘n Petrus: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK of Lied 253

Votum: Psalm 130:6-8

Seëngroet

Lofsang: Lied 406

Wet: Kry verskillende lesers (minstens 2, verkieslik 7 – ’n lekker manier om jongmense of ouer kinders te betrek) om Efesiërs 4:24-5:2 te lees

Skuldbelydenis en Genadeverkondiging: Psalm 130 of Flam 461

Geloofsbelydenis: Flam 20 U Is Die Lig

HOOR

Gebed

Skriflesing: Johannes 6:35, 41-51

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 266 of  Lied 504

Seën

Respons: Lied 311

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 222 Almal Wat Dors Het, Kom Geniet of Lied 253 “U het die brood gebreek”

Votum
Psalm 130:6-8
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Seëngroet

Lofsang
Lied 406 “Ons loof U, Vader, op die troon!”

Wet
Kry verskillende lesers (minstens 2, verkieslik 7 – ’n lekker manier om jongmense of ouer kinders te betrek) om Efesiërs 4:24-5:2 te lees:

Almal: 24lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

Leser 1: 25Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.

Leser 2: 26As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. 27Moenie die duiwel vatkans gee nie.

Leser 3: 28As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.

Leser 4: 29Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.

Leser 5: 30En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

Leser 6: 31Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.

Leser 7: 32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

Almal:  5 Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. 2Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was.

Skuldbelydenis en Genadeverkondiging
Psalm 130 of
F461. Uit Die Dieptes (Psalm 130 / Ek Wag Op U)

Psalm 130 ’n Pelgrimslied.
Liturg: Uit die dieptes roep ek na U, Here, 2luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.
Gemeente: 3As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?

Liturg: 4Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.
Gemeente: 5Ek stel my vertroue in die Here,

Liturg: ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.
Gemeente: 6Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.

Liturg: 7Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. 8Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.

Geloofsbelydenis
Flam 20 U Is Die Lig

Liedere

VONKK 222 “Almal Wat Dors Het, Kom Geniet”
Nav Jesaja 55 Teks: Attie van der Colf 1978/2001 ©; aangepas VONKK Werkgroep 2012
Melodie: FRIENA – Friena Maritz 2010  Orrelbegeleiding: Friena Maritz 2012 Musikale verryking: Friena Maritz 2012
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Voorbereiding om God se Woord te hoor / Nagmaal / Geloof en Vertroue

Almal wat dors het, kom geniet
die grootste guns bewys;
neem wat die Here gee, verniet –
kom koop dit sonder prys;
God gee jul water, wyn en melk –
Hy gee dit as geskenk.

Waarom betaal en waarom werk
en dit nie eens vir brood?
Luister met aandag, en Ek breek
vir jul die lewenswoord.
My liefde, goddelik en trou,
sal jul herstel en bou.

Vra na sy wil; kom soek die Heer,
terwyl Hy Hom laat vind.
Ontdek Hy maak, genadig weer,
die sondaar tot sy kind.
Wie hul bekeer, dié word vergeef;
die Here laat hul leef.

Hy maak die doringbos sipres;
die distel mirtestruik.
Wie sleg is, maak Hy nuut – ’n mens
wat Hy met vrug gebruik.
Hy gee hul vreugde, vastigheid –
nou, en in ewigheid.

Soos wat die wolke kom met reën –
op aarde lewe giet,
so kom die woord van God met seën
dit doen wat Hy gebied.
Dit bly ’n teken tot sy eer –
die Here, Hy is Héér!

F20. “U Is Die Lig”
(RUBRIEK: Flam / Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Toewyding) Teks en musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. U is die Lig, U laat my sien;
U is die brood vir my lewe;
U is die water wat binne my vloei;
U laat my leef, U laat my groei.

Refrein:
Ek loof U Heer vir als wat U is.
Ek loof U Heer, U’s my Vader.
Ek loof U Heer vir als wat U gee.
Meer as wat ek kan verstaan,
daarvoor kom prys ek U Naam!

2. U is die Woord, U wil my rig;
U wys my U wil vir my lewe;
U skenk my vrede en U gee my rus;
U het my lief net soos ek is.

Refrein:

F461. “Uit Die Dieptes (Psalm 130 / Ek Wag Op U)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof)  Teks en musiek: Louis Brittz
Kopiereg: © Urial Publishing

Uit die dieptes roep ek na U,
hoor my hulpgeroep, o God.
Sou U my sonde my toereken
wat sou van my oorbly, Heer?

Maar by U is daar vergifnis
daarom sal ek U bly dien.

Refrein:
Ek stel vertroue in die Here
op die vervulling van u Woord.
Meer as wat die wagters op die môre wag
wag ek op U,
wag ek op U

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 6:35, 41-51

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Jesus se woorde in vandag se skrifgedeelte is waarskynlik vir kinders net so moeilik om te verstaan as wat dit vir die mense in die gedeelte self was!  Gesels met die kinders oor hoe vreemd dit is.  Wonder saam met hulle wat Jesus hiermee bedoel.

Enige interpretasie hiervan, sal vir kinders so eenvoudig moontlik moet wees.  Bring ’n pakkie “bread mix”.  ’n Mens dink jy het net die broodmengsel nodig om brood te maak, maar nee.  Wat moet nog alles bykom?  Om God se kinders te wees, het ons net een ding nodig:  Jesus.

Of jy kan gesels oor hoe ons kos nodig het om te leef.  Net so het ons vir Jesus nodig om te leef – om God se kinders te wees.

As julle gemeente ’n kombuis naby aan die aanbiddingsruimte het (naby genoeg dat mense reuke uit die kombuis kan ruik), kan jy reël dat brood gebak word in die kombuis.  Dalk kan kinders tydens die preek gaan brood bak.

Of, heel beste, as jy ’n broodmasjien kan kry.  Dan kan jy die brood sommer in die kerk bak!  Die kinders kan jou help om alles in die masjien te gooi.  As jou tydsberekening goed is, kan jy die familie-oomblik rondskuif en alles so bereken dat die brood net mooi aan die einde van die diens gereed is.

Hier is ’n inkleurprent.

Preekriglyn

[Nota: Aangesien die hele Johannes 6 ‘n diep-verweefde eenheid is, is dit goed om dit eenkeer tydens hierdie preekreeks oor Johannes 6 volledig in die erediens deur te lees. Dalk vandag?]

Die dissipel Johannes was saam met Jakobus en Petrus deel van die binnekring van Jesus se volgelinge. Hy het ook die langste geleef en skryf hierdie evangelie as ‘n ou man.

Teen die tyd wat hy die evangelie skryf, het Johannes diep gereflekteer en kon hy verduidelikings gee van die betekenis van Jesus se uitsprake. Anders as die eerste drie evangelies (bekend as die Sinoptiese Evangelies), gee die Johannesevangelie meer insig in Jesus se innerlike lewe en sy selfopenbaring van wie Hy is. Die Johannesevangelie gee dus nie die geskiedenis van Jesus se lewe weer in dieselfde mate as die ander evangelies nie, maar skryf met die doel om mense te laat (bly) glo dat Hy die Messias is, die Seun van God, en dat mense deur Hom die ewige lewe kan ontvang.

Hy het geskryf sodat die Joodse en Griekse Christene kan volhard in die geloof, kan aanhou glo en daarom die ewige lewe kan hê (Joh 20:31). Die eerste lesers van die evangelie was die Johannese gemeenskap. Waar dit was, is nie seker nie, maar die sosiale situasie spreek van groot spanning tussen die Jode en die Christene. Daar was ook Samaritaanse en Griekse invloede in die gemeente.

Tekens en preke

In die Johannesevangelie is daar deurgaans ‘n ooglopende verband tussen bepaalde tekens en preke, soms voor of soms na so ‘n teken. Anders as in die Sinoptiese Evangelies gaan dit in die wonders as tekens nie om die koninkryk van God nie, maar om die openbaring van Jesus Christus as die Seun van God. Johannes stel Jesus bekend as die Een wat lewe gee.

Johannes lê ook klem op die verlossing van Jesus reeds in hierdie lewe ‘n impak het. Die ewige lewe is nou reeds deel van dié wat glo en die brood van die lewe geëet het. In Johannes 6 word die voedingswonder gevolg deur ‘n preek oor die brood van die lewe. Hierdie evangelie wil ons dus laat sien wie Jesus is en wat dit vir ons beteken as ons in Hom glo.

In hierdie gedeelte (41-51) verskuif die toneel van die oewer van die meer (35) na die sinagoge in Kapernaum, waar die geestelike leiers van die volk, wat alles gehoor het wat Jesus sê, aan die woord is.

Onwillig en aangeveg

Nie net die Jode is onwillig om Jesus te glo nie, ook die dissipels ontkom nie aan die aanvegtinge in hulle geloof en die twyfel in Jesus nie. Thomas is maar een voorbeeld van ‘n dissipel wat getwyfel het. Johannes begin hoofstuk 1 met Jesus wat na sy eiendom gekom het en hulle het Hom nie aanvaar nie. Johannes eindig met die doel van die evangelie in Johannes 20:31, wat beter vertaal kan word met: “. . . Sodat julle kan bly glo.”

Ons teks (41-51), soos die hele Johannesevangelie, kan gesien word as ‘n versterking van die geloof van mense wat reeds dissipels van Jesus is. Teenoor alle twyfelvrae en die aanvegting van die geloof wil Johannes sê dat ons geloof rus op dit wat God doen (44). Hy neem die inisiatief om ons aan Hom te verbind en aan ons die lewe te gee. Hy bly getrou, en beloof dat Hy enduit, tot by die hemelse feesmaal, ons sal dra.

Steeds vannag is daar mense wat onwillig is om in Jesus te glo, of wie se geloof aangeveg word. Die wetenskapsideaal in die Westerse wêreld veroorsaak dat baie mense net wil glo wat rasioneel bewys kan word. Omdat God nie in ‘n proefbuis vasgevang kan word nie, wil mense nie glo nie. Ons kan net glo wat ons rasioneel kan bewys.

Rasionaliteit is nie die enigste manier waarop mens kan ken en weet nie. Ons het ook die vermoë om openbaringskennis deur geloof en persoonlike verhoudings te ontvang. Ons kan ook met ons geloofsore hoor dat Jesus die Brood van die Lewe is, ons kan ook in ons harte aangegryp word deur die Gees wat geloof in ons wek.

Hoekom glo?

Jesus nooi ons in ons teks uit om te glo, omdat Hy die brood van die lewe is. Hy vermeerder brood en begelei sy dissipels oor die stormsee om ons te laat beleef dat Hy van God kom.

Jesus verkondig hier die betekenis van die wonderteken wat sopas plaasgevind het. Die skare wou Hom koning maak omdat Hy die brood vermeerder het. Jesus kom leer ons egter dat ons Hom nie net moet soek as ‘n waarborg vir ons materiële en liggaamlike voorspoed nie. Die teken wys heen na God se grootste gawe, die Ware Brood uit die hemel wat beskikbaar is vir alle mense.

Jesus is self die brood wat lewe gee. Hy is die Een wat ons diepste honger versadig en dors les. Sonder Hom bly ons soekers. Ons het Hom nodig, nie sy gawes, sy leer of sy voorbeeld nie, maar Hom self.

Werklike lewe

Om Jesus te volg beteken dus nie noodwendig om ‘n vol maag en veiligheid te hê nie, maar eerder om werklik te lewe. Teenoor die “daaglikse brood” is hierdie Ware Brood die Een wat ons diepste nood kan aanspreek, in ons grootste behoefte kan voorsien, die gat in ons binneste kan volmaak.

Die klem val vir Johannes nie alleen op die verlossing van ons sonde nie, maar verlossing tot lewe, op die feit dat Hy sy lewe prysgee sodat almal wat die brood eet, kan lewe. Werklik lewe. Ewig lewe. Hoofletter LEWE. ‘n Lewe vol van al die gawes van die Gees wat daar in Christus is. Daar is nie ‘n ander soort lewe moontlik buite die lewe wat Hy gee nie. Enige ander soort lewe lei tot die geestelike en ewige dood.

As Jesus hier verklaar dat Hy die brood is wat lewe gee, is dit nie net ‘n stelling wat Hy maak nie. Die hele gedeelte is verkondiging. Dit is ‘n oproep om te glo. Om hierdie brood te eet, om na Hom toe te kom (35, 51). Ook jy wat ‘n dissipel is, hoor hierdie woord, luister daarna en verbind jou opnuut aan hierdie Ewige Brood.

Hoe mens bly glo

Jesus bemoedig ons met die versekering dat God self met ons op pad is. Ongeloof en twyfel oor God en die evangelie is iets waarmee Johannes alreeds te doen gehad het: die onbegryplike raaisel dat Jesus na sy eiendom toe gekom het en dat hulle Hom nie aanneem nie. Die strydgesprekke met die Jode. Die twyfel van sy dissipels: “Wil julle nie ook weggaan nie?”

Daar is vandag ook in die kerk ‘n soort lamheid omdat ons nou al 2 000 jaar wag. Omdat geloof nie meer polities korrek is nie. Daar is toenemende sekularisasie en persoonlike twyfel of dit alles die moeite werd is. Kan menslike onwil en aanstoot aan Jesus God se bedoeling keer? Sal die evangelie deurgaan tot die einde? (41, 42).

Die evangelie neem die twyfel van Jesus se dissipels ernstig op, wil hulle geloof versterk en hulle troos.

Onkeerbare genade

God se genade kan nie gekeer word nie. Mense van alle tye sal die roepstem hoor en na Christus toe kom en Hom volg. Want God is die Een wat daaragter sit, dit is Hy wat mense na Hom toe trek (44). God gee nie die werk van sy hande prys nie. Selfs al word ons moeg en moedeloos, God sal volhou om mense deur Christus te roep. Hy self is die waarborg dat daar altyd mense na Jesus toe sal kom. Hy self is die waarborg dat dié wat na Hom toe kom, nie verlore sal gaan nie, maar ewig behoue sal bly. “As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe.”

Dit het natuurlik universele betekenis, dat die Christelike godsdiens nie sal uitsterf nie. Dat daar altyd geloof sal wees, ten spyte van soveel aanslae op verskeie vlakke van die lewe. Ons is deel van Jesus se oorwinningstog deur die wêreld, sy koninkryk sal uiteindelik seëvier.

Maar dit het ook persoonlike betekenis. As mens op Jesus se roepstem reageer, na Hom toe kom en Hom vertrou, sal jy ontdek dat jy op vaste grond teregkom. Dit is God self wat jou na Jesus getrek het. Jou geloof is nie afhanklik van jou brose menslike wil, gevoel en denke nie, maar van God wat van jou sy kind kom maak het. Geloof is nie ‘n sprong in die donker nie. Geloof rus is die vaste sekerheid van die beloftes van Hom wat gesterf het, maar ook opgestaan het uit die dood. Hy werk, en niemand kan dit keer nie. Hy kan nie net die vloedgolf van ongeloof keer nie, maar is ook die waarborg van ‘n lewe in oorvloed, van ‘n toekoms sonder weerga.

Hy is die Brood wat aan ons die ware lewe gee.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 266 “Ons Vader wat woon in die hemel” of
Lied 504 “Kom, laat ons saam tot Jesus nader”

Seën

Respons: Lied 311 “Dit wat ons hier ontvang het”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.