Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag se sleutelteks uit Hebreërs en die evangelieteks uit Lukas fokus beide op gasvryheid en hoe ons kies om op te tree teenoor dié wat swaarkry.

Die Ou Testamenttekste vir hierdie Sondag is God se klag oor sy volk wat ander gode bo Hom kies ten spyte van alles wat die Here reeds vir hulle gedoen het.

Ander tekste

Jeremia 2:4-13
4Hoor die woord van die Here,
mense van Jakob,
al julle stamme van Israel!
5So sê die Here:
Waarin het Ek gefaal
dat julle voorvaders van My af
weggedraai het,
dat hulle nikswerd afgode gedien het
en so self niks geword het?
6Hulle het nie gevra:
“Waar is die Here
wat ons uit Egipteland
laat optrek het?” nie.
Hy het ons deur die woestyn gelei,
deur ’n droë wêreld vol slote,
deur ’n dor land vol doodsgevaar,
deur ’n land waardeur niemand trek
en waarin geen mens woon nie.
7Ek het julle in ’n vrugbare land
gebring
om die vrugte daarvan
en die goeie dinge daarin
te geniet,
maar toe julle in my land gekom het,
het julle dit verontreinig;
die land wat my eiendom is,
is deur julle besoedel.
8Die priesters het nie gevra:
“Waar is die Here?” nie,
dié wat my wil moes bekend maak,
het My nie erken nie.
Die regeerders het hulle
teen My verset,
die profete het in die naam van Baäl
opgetree
en gode gedien wat nie kan help nie.
9Daarom kla Ek jou weer aan,
sê die Here,
en ook jou nakomelinge kla Ek aan.
10Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk ’n bietjie, stuur boodskappers na Kedar toe en dink goed na:
Het daar al ooit so iets gebeur,
11dat ’n nasie sy gode verruil het,
selfs al was hulle geen gode nie?
Maar my volk het My,
hulle magtige God, verruil
vir gode wat nie kan help nie.
12Selfs die hemel moet daaroor skrik
en beef en sidder! sê die Here.
13My volk het twee sondes begaan:
Hulle het My,
die bron van lewende water,
verlaat,
en hulle het vir hulle waterbakke
uit klip gekap,
waterbakke wat gebars is
en nie water hou nie.

Psalm 81:1, 10-16
Vir die koorleier: met musiek.
Van Asaf.
2Jubel tot eer van God ons sterkte,
juig tot eer van die God van Jakob!
9Luister, my volk,
Ek gee julle ’n opdrag.
Israel, luister na My:
10‘Daar mag vir julle
geen ander god wees nie,
julle mag voor geen vreemde god
neerbuig nie.
11Ek is die Here julle God
wat julle uit Egipte laat wegtrek het.
Wat julle nodig het,
sal Ek in oorvloed gee.’
12“Maar my volk het nie
na My geluister nie,
Israel wou niks met My
te doen hê nie.
13Daarom het Ek hulle laat begaan
in hulle koppigheid
en hulle het hulle eie sin
en wil gevolg.
14Ag, as my volk maar
na My wou luister,
as Israel maar my wil wou doen,
15hoe gou sou Ek hulle vyande nie
op die knieë bring
en hulle teëstanders
met my eie hand verslaan nie.”
16Dié wat voorgee
dat hulle die Here dien,
maar Hom haat,
hulle straf sal vir altyd duur.
17Maar vir julle sal Hy voed
met die beste koring,
julle versadig met heuning
uit ’n rots.

Lukas 14:1, 7-14
Op ’n sabbatdag toe Jesus na die huis van ’n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou.
7Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis: 8“As iemand jou na ’n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy. 9Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem. 10Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor’. Dan sal jy in die agting van al die gaste styg. 11Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”

12Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand ’n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. 13Nee, as jy ’n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. 14Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.”

Fokusteks

Hebreërs 13:1-8,15-16
Die Christelike lewenswandel
13 As broers moet julle mekaar altyd liefhê. 2Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. 3Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

4Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê:
“Die Here is my helper,
ek ken geen vrees nie:
wat kan ‘n mens aan my doen?”
Loof God deur Jesus Christus
7Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.

8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
9Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie.

10Ons het ‘n altaar waarvan dié wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om te eet nie. 11Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand. 12Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. 13Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, 14want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.

15Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ‘n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. 16Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.

17Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie.

18Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is. 19Veral dring ek by julle daarop aan om te bid dat God my gou na julle toe sal laat terugkom.

Gebed vir die lesers
20God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. 21Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Laaste versoek en groete
22Broers, dit is my dringende versoek: julle moet geduldig na hierdie woorde luister waarmee ek julle bemoedig het, al het ek dit net kortliks aan julle geskrywe.
23Julle weet seker al dat ons broer Timoteus vrygelaat is. As hy gou genoeg kom, bring ek hom saam wanneer ek julle besoek.
24Groete aan al julle voorgangers en aan al die gelowiges. Dié wat van Italië afkomstig is, stuur ook vir julle groete.
25Die genade van God sal by julle almal wees!

Ekstra stof

Inleiding op Hebreërs
Die brief is gerig aan huisgemeentes in Italië
Die brief-boodskap aan die Hebreërs word geskrywe aan huisgemeentes in ‘n stad in Italië, waarskynlik Rome.  Dit is ‘n “Boodskap van aansporing” of ‘n “Boodskap van bemoediging” (hfst. 13:22) aan ‘n diverse groep gelowiges wat onder baie druk verkeer.

Hierdie gelowiges het tot bekering gekom deur die werk van eerstehandse getuies van die boodskap van Jesus (hfst. 2:3;13:7).  Hulle was veral Jode (vgl. die titel: “Aan die Hebreërs“, hoewel dit eers later bygevoeg is), goed bekend met die Joodse geloof en tradisies, maar het waarskynlik ook gelowiges uit die heidene in hulle geledere gehad (“dié wat van Italië is” – hfst. 13:24).

Die sestiger- of sewentigerjare van die eerste eeu is die mees waarskynlike tyd vir die brief, hoewel dit nie meer presies gedateer kan word nie.  Teen die middel negentigs haal Klemens van Rome al uit die brief aan, so dit moes voor daardie tyd geskryf gewees het.

Die gelowiges het traag geword om te luister weens teenstand
Hoewel hierdie gelowiges die verligting van die Heilige Gees en die “goeie woord van God gesmaak het” (hfst. 6:4-5), het hulle ironies genoeg “traag geword om te luister” (hfst. 5:11) en onder andere ‘n “behoefte aan melk en nie vaste kos nie” (hfst. 5:12) gehad.

Hoekom?  Dit is duidelik dat hulle baie teenstand in die gemeenskap ervaar het: ‘n “geweldige stryd van lyding“.  Hulle is nie net “deur beledigings en verdrukking openlik bespotlik gemaak” nie, maar daar is ook vroeër op hulle besittings beslag gelê (hfst. 10:32-36 – keiser Claudius het in 49 n.C. Joodse Christene uit Rome verdryf).  Baie van die gelowiges het dus die gevaar geloop om weens hierdie volgehoue druk uit die publieke gemeenskap van die geloof en die geloofsgemeenskap afvallig te raak.

Een van hulle geestelike leiers bemoedig hulle met die skrywe
Die skrywer, wat een van hulle eie leiers was (vgl. die “ons” in hfst. 13:17-19 en dat hy binnekort na hulle teruggebring wil word), kom sy pastorale en geestelike verantwoordelikheid teenoor hulle na met dié brief-boodskap, soos dit uit die slotgedeelte blyk (“aanvaar hierdie boodskap van aansporing, want ek het maar kortliks vir julle geskryf” – hfst. 13:22).  Dit is egter só goed saamgestel dat dit eintlik die karakter van ‘n goed uitgewerkte preek of selfs teologiese bydrae aanneem.

Nie dat ons weet wie dié skrywer-prediker was nie of waar hy op dié stadium was nie.  Dit kon nie Paulus gewees het nie, hoewel die skrywer wel met Paulus se werkkring bekend was.  Hy ken bv. vir Timoteus (hfst. 13:23).  Benewens die feit dat Paulus nie ‘n leier van een van die gemeentes in Rome/Italië was nie, verskil die taal, woordeskat, styl en teologiese beklemtonings van hierdie brief net te veel met dié van Paulus se ander briewe.  Dit bevat bv. van die beste Grieks in die hele NT en het 169 woorde wat nét hier in die NT voorkom (Lane, Word kommentaar). Hy haal ook meer letterlik uit die OT (LXX – Griekse vertaling) aan as wat Paulus doen.  Die skrywer het verder volgens eie getuienis nie eerstehands na die Here Jesus geluister nie (hfst. 2:3) waarvan Paulus wel getuig het (Gal. 1:11-17).

Die name van onder andere Barnabas, Apollos (Luther se voorkeur), en Silvanus (Paulus se medewerker) word deur van die ou kerkvaders en geleerdes deur die eeue voorgestel as skrywers, maar geen historiese sekerheid is daaroor moontlik nie.  Sommige stel ook Paulus se medewerker Priscilla voor (Hand 18; Rom 16:13; 1 Kor. 16:19; 2 Tim. 4:19 – in die laaste drie tekste word sy eintlik Prisca genoem; Priscilla was ‘n verkleinwoord van haar naam).  Maar, volgens hfst. 11:32 was die skrywer manlik, afgelei uit die manlike vorm van die deelwoord: “om te vertel” in Grieks wat na die skrywer verwys.

Moenie vasgevang word deur buitengewone of basiese dinge, ook nie deur Joodse gebruike nie
Hoe dit ook al sy, uit hierdie skrywer se boodskap blyk dit dat sommige van die gemeentelede hulle toevlug begin soek het in óf:

  • buitengewone ervarings, waarskynlik in hulle geval veral rondom die verering van engele – daarom die beklemtoning van Jesus se uitsonderlike posisie “hoog bo die engele verhef“. Hy is immers nie een van hulle nie, maar een met God: “U troon, o God, is vir ewig en ewig.” (hfst. 1-2);
  • die grondbeginsels van die Christelike prediking: die basiese dinge, ironies genoeg hier as “melk” beskryf – daarom die afwysing van ‘n vassteek by bv. dinge soos die doop en handoplegging, en die aanmoediging om eerder op geestelike volwassenheid in terme van leer en lewe te fokus (hfst. 6), d.w.s. “vaste kos“;
  • die Joodse gebruike van die wet – daarom die afwysing van bv. die reinigingsrites en reëls rondom kos en drank en die aanmoediging om eerder op die lewende verhouding met God te fokus (hfst. 9-10; 13:9).

Moenie afvallig word nie
Die grootste probleem was egter dat sommige van hulle doodgewoon afvallig begin word het, en in ongeloof (hfst. 3:12 – “‘n bose hart van ongeloof“), sonde (hfst. 3:13), ongasvryheid (hfst. 13:2), seksuele wanpraktyke (hfst. 13:4), geldgierigheid (hfst. 13:5), en nog allerlei vreemde leringe (hfst. 13:9) verval het.  Hierdie mense het daarom hulle leiers teengestaan (hfst. 13:7,17) en onbarmhartig teenoor die wyer gemeenskap geraak (hfst. 13:16).

Fokus op God se werk in julle lewe
Daarom lê die skrywer van Hebreërs daarop klem dat hulle weer die werk van God in hulle lewe moet erken:

  • die lewende verhouding met Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (hfst. 1:2; 2:1; 10:19-22; 12:2),
  • die dinamiese werk van die Heilige Gees (hfst. 2:4; 3:7),
  • die krag van die Woord van God (hfst. 4:12),
  • die aanmoediging van hulle onderlinge byeenkomste (hfst. 10:23-25), en
  • die inspirasie van hulle onderlinge aansporing (hfst. 3:13: “elke dag“!; 12:14-17; 13:1-6), sowel as
  • die boodskap en werk van hulle leiers (hfst. 13:7-9,17).

Dít is die dinge waarop elke gelowige in hierdie gemeente moet fokus, sê die skrywer.  Daarin lê die krag van God opgesluit.  Daardeur word sy krag in hulle lewe oopgesluit. Dit is die geloofsbeginsels waaraan hulle hul moet hou.

Luister na die Skrif en die prediking
Met talle aanhalings en voorbeelde uit die skat van die Ou Testament boodskap – ‘n boodskap waarmee hulle duidelik bekend was – begrond die skrywer sy boodskap en bemoedig hulle met die evangelie van Jesus as die Leidsman van ons verlossing sowel as die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis.  Daarmee word hulle aan die Skrif verbind soos dit deur die prediking aan hulle voorgehou word.

Hulle word opgeroep om almal saam te waak daarteen dat geeneen van hulle van die lewende God afvallig word nie.  Hulle moet styf vashou aan hulle belydenis en hulle verlossing – leer en lewe – en voortdurend met vrymoedigheid in gebed die troon van genade nader.

Fokus op geestelike volwassenheid
Hulle word dus opgeroep tot geestelike volwassenheid, om nie langer te fokus op die eerste beginsels van die geloof in Christus nie – “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (hfst. 6:1-3) – maar die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding te hardloop, hul oog gevestig op Jesus die Leidsman en Voleinder van hulle geloof (hfst. 12:1-2).  Gasvryheid, meelewendheid, mededeelsaamheid, gehoorsaamheid en onderlinge onderdanigheid moet hulle gemeentelike lewe kenmerk. God belowe immers dat Hy hulle sal toerus met alles wat goed is, sodat hulle sy wil kan doen (hfst. 13).

Hebreërs 13 – Wees gasvry, meelewend, mededeelsaam, gehoorsaam en onderdanig
In ‘n gemeenskap wat fokus op Jesus as Leidsman en Voleinder van die geloof en terselfdertyd sorg dat die ander lede van die geloofsgemeenskap nie agterbly en afvallig raak van die lewende God nie, kan mens nie anders as om te fokus op dinge wat die gemeenskap bevestig en bou nie.

Daarom beskryf die skrywer die tipe gemeenskap waarna hulle streef om te wees in die vorm van ‘n hele aantal onderlinge houdings en gewoontes.  Hy gee ‘n sinopsis van tien van die eienskappe van die geloofsgemeenskap wat as pastorale en etiese onderrig kan dien.

13:1-6 – Let op julle persoonlike verhoudinge
Die eerste lys van vyf aspekte het veral te make met hulle persoonlike ruimte:

  • 13:1 – Hulle moet mekaar liefhê – “Die broederliefde moet bly!
  • 13:2 – Hulle moenie versuim om gasvry te wees nie.  Só kan hulle straks verras word met engele as gaste!  Dit verwys waarskynlik na Abraham wat God self in die vorm van engele gehuisves het (Gen. 18).
  • 13:3 – Hulle moet sorg vir gevangenes en mishandeldes, asof hulle self gevangenes en mishandeldes is.
  • 13:4 – Hulle moet die huwelik in alle opsigte eerbaar hou.  Geen egbreuk en owerspel mag toegelaat word nie.
  • 13:5-6 – Hulle moet vry van geldgierigheid leef.  Hoe doen ‘n mens dit?  “Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, ‘Ek sal jou beslis nie verlaat nie en ook nie in die steek laat nie.’”  Dit is dieselfde belofte wat die Here aan Josua gegee het (Deut. 31:6,8; Jos. 1:5) en in gewysigde vorm vroeër aan Jakob (Gen. 28:15).  Dit bly die belofte van God aan sy mense.  Dán, sê die skrywer, sal mens met vertroue kan sê dat die Here vir jou ‘n helper is, aangehaal uit Ps. 118:6.

13:7-17 – Let op julle gemeenskapsverhoudinge
Die tweede lys van vyf aspekte het veral met die publieke ruimte van die geloofsgemeenskap te make:

  • 13:7-8 – “Hou altyd julle leiers in gedagte, dié wat die woord van God aan julle verkondig het.” Die skrywer verwys hier waarskynlik meer spesifiek na van die eerste leiers van die kerk in die eerste eeu, die apostels, en hulle nalatenskap ná hulle dood, want die gemeente moet spesifiek ag slaan op die uiteinde van hulle lewensloop en hulle geloof as voorbeeld neem.  Daaraan voeg hy by dat “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid,” waarmee hy ‘n maatstaf gee waaraan hulle prediking gemeet kan word.  Die woorde was waarskynlik deel van ‘n vroeë credo of belydenis van die vroeë kerk.
  • 13:9-14 – “Moenie meegevoer raak deur allerhande vreemde leringe nie.”  Hier verwys die skrywer veral na die aandrang van sommige op die nakom van Joodse eet- en offer gebruike.  God se genade word egter nie deur fisiese eetgewoontes en –reëls beleef nie, al het dit ook ‘n kultiese offer – en godsdienstige karakter.  Hoekom?  Want, God se genade is iets wat in die hart en deur die werking van die Here Jesus Christus ontvang word en nie deur wat jy eet nie.  Na ‘n baie moeilik verstaanbare gedeelte, waar hy basies die voortreflikheid van Christus se offer bó dié van die Joodse offers beskryf (vers 11-12), raai hy hulle aan om hulleself met Christus te identifiseer, al beteken dit ook dat hulle smaad sal verduur.  Hulle soek immers nie ‘n aardse heenkome saam met die Joodse volk nie, maar ‘n hemelse heenkome in die toekomstig stad van God.
  • 13:15 – Lofprysing moet hulle gemeenskap kenmerk: “dit is die vrug van lippe wat sy Naam saam bely.”  Dit moet hulle geloofsgemeenskap in sy samekomste kenmerk.
  • 13:16 – Hulle moet as geloofsgemeenskap nie versuim om goed te doen nie en mededeelsaam te wees in die gemeenskap nie, want dit is die tipe offer wat God se hart bly maak en ‘n impak maak.
  • 13:17 – “Wees gehoorsaam en onderdanig aan julle leiers“.  Hier het hy waarskynlik die geestelike leiers in die gemeente in gedagte na wie hulle moet luister, veral omdat dié leiers van hulle rekenskap sal moet gee, ‘n dure verantwoordelikheid.  Dit sal die leiers ook in staat stel om dié taak van leierskap met vreugde te verrig, want as hulle dit al sugtend moet doen, sal die uitwerking ook nie goed wees op die gemeente nie!

13:18-25 – Aanvaar die boodskap van aansporing
Hy sluit sy brief-boodskap af met ‘n aantal laaste versoeke.

  • Hy vra dat hulle vir hom sal bid in sy omstandighede waar hy hom op die oomblik bevind.
  • Hy wil ook hê dat hulle sal vra dat hy aan hulle terugbesorg sal word.
  • Hy bid hulle die seën van die Here toe, veral dat Hy hulle sal toerus met alles wat goed is.
  • En hy pleit by hulle om sy geskrewe boodskap van aansporing te aanvaar.
Boodskap

Ek dink elke geloofsgemeenskap moet aan die hand van dié lys van tien houdings en gewoontes ‘n eie weergawe opstel wat hulle ooreenkoms met mekaar bevat.  En ons moet onsself daaraan verbind en mekaar daaraan hou.  Ons is dit aan mekaar verskuldig.  Trouens, ons is dit aan die Here self verskuldig.

En hiermee kom ons aan die einde van hierdie besondere brief-boodskap.  Mag die genade ook met julle almal bly soos julle die wedloop wat vir julle voorlê met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.  En mag jy ook sorg dat niemand in die proses agtergelaat word en afvallig raak van die lewende God nie.  Niemand mag die insluiting in die “gemeente van die eersgeborenes” mis nie!

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 83 [bekend, nav Jeremia 2:5] of Lied 520

Votum: (verwerk uit die Iona Abbey Worship Book, Wild Goose Publications)

Seëngroet

Lofsang: Flam 548 of Lied 523

Wet: N.a.v. Hebreërs 13:1-6

Verootmoediging: VONKK [kinderlied] of Lied 505

Bemoediging: Nav Hebreërs 13:7-8

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 13:1-8; 15-16

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 284 of Lied 488

Seën: (nav 1 Tess 3:12-13)

Respons: Lied 488, vers 5 se laaste drie reëls

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 83 Siyahamba / Kom Ons Wandel In Die Lig Van God  [bekend, nav Jeremia 2:5] of
Lied 520 “Saam buig ons neer om God te eer”

Votum
Here, Jesus Christus, ons buig voor U in hierdie skuilplek van gebed,
Om weereens ons dankgebede te bring.
In ons saamwees vier ons u teenwoordigheid in ons, rondom ons en tussen ons.
Ons dank U vir hierdie gemeenskap, vir soveel jare al ‘n skuilplek vir gebroke en arm mense.
Ons is bewus van al die gebede van vreugde en swaarkry wat oor die jare hier gebid is.
Here God, U het ons geïnspereer om as reisigers vandag hier aan te kom.
Skenk ons u ewige teenwoordigheid en inspireer ons om gasvrye mense te wees.
(verwerk uit die Iona Abbey Worship Book, Wild Goose Publications)

Seëngroet

Lofsang
Flam 548 Redder en Vriend of
Lied 523 “Goddelike liefdebande”

Wet
N.a.v. Hebreërs 13:1-6
As broers en susters moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê:
“Die Here is my helper,
ek ken geen vrees nie:
wat kan ‘n mens aan my doen?”

Verootmoediging
VONKK 49 Daar’s Kinders In Die Wêreld [kinderlied] of
Lied 505 “Jesus, U gaan voor”

Bemoediging
Nav Hebreërs 13:7-8
Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.
Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 83 “Siyahamba / Kom Ons Wandel In Die Lig Van God”
Johannes 12:25 en Jesaja 2:5
Teks: Tradisioneel Suid-Afrika (isiZulu);  Afrikaanse weergawe Werkgroep VONKK 2009; Engelse teks oorgelewer.
Melodie: Tradisioneel Suid-Afrika. © Afrikaanse teks en begeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: openbare besit RUBRIEK:  Multikultureel – Liefde, Dankbaarheid en Diens

isiZulu
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’,
Siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.
Siyahamba, siyahamba,
siyahamb’ ekukhanyen’ kwe-nKos’.

Afrikaans
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel in die lig van God.
Kom ons wandel, kom ons wandel,
kom ons wandel in die lig van God.

English
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching in the light of God.
We are marching,
we are marching,
we are marching in the light of God.

VONKK 49 “Daar’s Kinders In Die Wêreld”
Teks: Jancis Jacobs 1981 (Pro Deo – postuum) Melodie: BETSIE – Betsie Els 1981 © Orrelbegeleiding: Colin Campbell 2010 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Betsie Els 1981 © © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kinderlied – Getuienis / Kindwees / Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. Daar’s kinders in die wêreld van elke taal en soort,
en Jesus wil graag hê dat elke kind aan Hom behoort.

2. Daar’s kinders in ons eie land, en kinders oor die see,
en Jesus vra dat elke kind sy lewe vir Hom gee.

F548. “Redder en Vriend”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en vertroue)  Teks en musiek: Retief Burger Kopiereg: © 2014 Urial Publishing
(Opgeneem op Nou en Vir Altyd)

Intro:
1. U hou die antwoord, U ken die pad
Wysheid vir soekers, met lig in u hand
Raad in die twyfel, geloof vir ‘n kind
Jesus my Rede, Redder en Vriend
U is my Rede, Redder en Vriend

2. Rus vir vermoeides, Vreugde in smart
Hoop vir bedruktes, Troos vir die hart
Tuiste vir vreemdes, Krag onverdiend
Jesus, my toevlug, Redder en Vriend
U is my toevlug, Redder en Vriend

Refrein:
Ek roem U Naam
Heilige Koning en Redder
En as ek val
Wees net die lig in die donker
Want U ken my deur en deur
Jesus, Redder en Vriend
My Here Jesus, Redder en Vriend

3. Op U vertrou ek, Hulp in my nood
Vrede in sterwe, Lewe in dood
Dwaal ek in duister, sal U my vind
Jesus, my alles, Redder en Vriend
U is my alles, Redder en Vriend

Refrein

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 13:1-8; 15-16

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Vir jonger lidmate is daar veral twee lyne wat die teks kan oopmaak:
(1) Om te deel of (2) Jesus verander nooit.
(1) Mededeelsaamheid

Gebruik die pragtige storie van The Word Collector om hierdie konsep te verduidelik.   Jy sal egter die storie moet aanpas, omdat die Engelse woorde in die storie beslis te moeilik gaan wees vir jou jonger lidmate!  Die storie werk egter baie goed, omdat meeste kinders iets versamel.  Jy kan vra wie wat versamel.  Vertel dan die storie van Jerome wat woorde versamel het.  Hy het egter heelwat meer plesier ontdek toe hy sy woorde begin deel.

Die idee is dat ons lewens ryker, voller en meer vol vreugde is wanneer ons dít wat ons liefhet, deel.

Jy sou ook vir ‘n 10c-stuk saambring, vir elke kind ‘n 10c stuk gee en gesels oor hoe vreemd dit sal wees as die 10c-stuk jou kosbaarste ding was.  Kyk hier vir ‘n uitgebreide verduideliking van hierdie indee.

(2) Jesus verander nooit (v16)*
Sermons4Kids stel voor dat jy Jesus se onveranderlikheid met behulp van ‘n kaleidoskoop verduidelik.  Of jy kan die voorbeeld van verkleurmannetjies gebruik.  Verbind dit aan mense wat aanmekaar van plan verander of elke dag anders is. Verduidelik dan dat God altyd dieselfde is:  God is altyd liefdevol, God sorg altyd vir ons, ons is altyd veilig by God. Kinders sal dit geniet om prente van verkleurmannetjies in te kleur terwyl hulle na die res van die preek luister.

(*Dis natuurlik ‘n vraag wat jy ernstig sal moet oorweeg:  hoe wys is dit om ‘n beeld te gebruik om te sê:  “Dit is hoe iets NIE is nie.” Veral wanneer jy daardie konsep vir kinders probeer verduidelik.)

Preekriglyn

D J Opperman skryf:
Deur tralies wat die tuin omsluit,
kyk ek en my verwarde broers verlangend na die stad nog uit:
hoe deur die reën en laaste lig,
krukkig soos nat voëls,
loop elke jas met sy gesig.

Agter elke jas skuil ‘n mens met ‘n hart, ‘n mens wat saam met my en ook langs my bly, wat saam met my werk, boer, skoolgaan, leef. ‘n Mens wat langs my sit in die kerk en wat dieselfde Here se lof besing. Tog vergeet ek dit so maklik. Daarom, sê ‘n onbekende Rabbi iewers, ‘n venster en ‘n spieël is albei van glas. Deur die venster kan ek ander mense sien. Maar sodra die silwer bykom, sien ek net myself.

In Jesus – en dit is die Paasfeesboodskap – verseker God gelowiges dat Hy na ons kyk net deur die rooi van Jesus se bloed. Hierdie versekering moet die kerk as geloofsgemeenskap uitdra na ‘n wêreld waar mense hooploos en gevolglik ook vreugdeloos lewe. Dit vra dat elke gelowige in sy/haar bootjie saam met Jesus sal klim, die veilige hawe van die kruis verlaat en God se liefde met woorde en dade sigbaar sal maak in ander mense se lewe.

Hoe doen gelowiges dit?

Hebreërs 13:1en  verder sê: Leef liefde! Dit is elke gelowige se roeping. Nie omdat ons dink dit is ‘n goeie idee nie. Ook nie omdat die kerk of watter instansie ook al, dit van ons verwag nie. Ons moet dit doen omdat God elkeen van ons eerste liefgehad het in Jesus.

Jesus vat dit saam as Hy vir die Fariseërs sê:
Julle moet in die eerste plek vir God bo alles liefhê. Maar dan moet julle ook julle naaste liefhê soos julleself (Matt 22:34ev.).

Hoe lyk hierdie liefde? 

Volgens die Hebreërskrywer is dit soos die band wat onderling tussen gesinslede van dieselfde huisgesin bestaan (1). Hierdie liefdesband is die sigbaarmaking van Jesus se liefde vir sy kerk.

Daarom is dit bepalend vir elke gelowige in sy/haar verhouding met ander mense. Uiteindelik is dit die maatstaf wat die wêreld, en ook die Here, aanlê om te bepaal of ons as gelowiges erns maak met ons verhouding teenoor die Here. In Engels uitgedruk is die “proof of the pudding, in the eating thereof”. Of soos die Here self sê, ‘n boom word geken aan sy vrugte!

Een van die eienskappe van so ‘n naasteliefde is om as gelowiges (kerk) gasvry te wees teenoor ander, medegelowiges maar ook vreemdelinge wat anders is as ons; anders in taal, kultuur, geslag, kleur, ekonomie, kerkverband en geloofsbeskouing maar ook teenoor ons vyande.

Gasvryheid

Gasvryheid (2), of “vreemdelingliefde”, verwys hier na Christene wat vanweë hulle geloof nie altyd welkom was in herberge nie. Hulle het ook nie altyd geld gehad om daarvoor te betaal nie. Soms het die herberge ook ‘n ongure reputasie gehad. Hulle was daarom afhanklik van medegelowiges se sorg vir kos, slaapplek en veiligheid.

Ongelukkig het Christene medegelowiges se gasvryheid soms misbruik. Ander mense het dit ook gedoen deur voor te gee dat hulle gelowiges is. Daarom was gasvryheid (philo xenia) nie net ‘n bord lekker kos of ‘n vriendelike glimlag nie. Dit het gevra dat gelowiges hulle harte vir ander sal oopmaak. So het Abraham engele as gaste versorg.

Die doel van gasvryheid is om van ‘n vreemdeling, ‘n buitestander, ‘n inkommer, ‘n gas te maak sodat wanneer hulle by ons as gelowiges weggaan, hulle ander, beter mense sal wees as toe ons hulle ontmoet het. Daarom was en is dit nog steeds ‘n uitstaande kenmerk van ‘n kerk waar die Here sentraal staan.

Gemaksones en vrees

Hierdie bepaalde uitlewing van naasteliefde maak ons as gelowiges (kerk) bang. Netnou vra die vreemdelinge iets wat ons uit ons gemaksone haal. Of nog erger, wat ons nie wil deel met ander nie. Miskien is dit ons tyd, geld, harte. Daarom maak ons nie oogkontak met ander nie. Ons skuur eerder by hulle verby terwyl ons maak of ons besig is. En as ons die ander wel moet ontmoet, raak ons monde droog, ons woorde droog op en ons  maak so gou moontlik ‘n verskoning en kies die hasepad.

Maar tog is ons ook nuuskierig. Ons kan nie wag om meer van ander te weet nie. Dan vra ons, fluister ons, skinder ons. So bly ons egter veilig en geborge binne ons eie mensgemaakte gemaksones, ons eie idee van hoe naasteliefde lyk.

Gasvryheid het destyds gevra dat gelowiges ander mense, ook vreemdelinge, se voete moet was. So is vreemdelinge verwelkom in gelowiges se eie lewe, maar ook in die kerk en in die Here se teenwoordigheid. Op hierdie manier het gelowiges dan erken dat ander mense waarde het, omdat die Here vir hulle waarde gegee het.

Praktiese gasvryheid

Vandag beteken gasvryheid in die praktyk om ander:
Mense te respekteer deur hulle op hulle naam te noem en tyd te maak om na hulle te luister;

  • Mense te respekteer deur hulle eerlik en opreg en met sagmoedigheid te behandel as gelykes;
  • Mense te respekteer deur hulle in die kerk te verwelkom, tuis te laat voel en in hulle belang te stel.

Hierdie liefde is so anders as die liefde waarvan die wêreld praat. Hierdie liefde gaan daarom nie oor ons geld, besittings, posisie of behoeftes nie. Dit gaan oor wat God in Jesus vir ons gedoen het. Dit wil ons nou vir ander gaan doen sonder om gevra of vergoed te word. So sê Petrus dat gasvryheid ‘n daad van liefde is (1 Pet 4:8). Paulus sluit hierby aan as hy sê dat gasvryheid vloei uit ‘n hart vol liefde (Rom 12:13).

Uitdaging

Met hierdie skrywe daag die Hebreërskrywer die gelowiges van sy tyd, maar ook ons uit om ons oë oop te maak en te sien wie die ander, veral ook die vreemdelinge, is. Ons moet besluit of ons bangjan is en of ons in ons harte vreugde ervaar oor hulle teenwoordigheid:

  • Groet ons hulle met ‘n vriendelike gesig?
  • Oorlaai ons hulle in die kerk met hartlikheid as ons hulle welkom heet?
  • Is ons bereid om dit te doen al is ons nie lus nie?
  • Of is ons bang om iets van onsself, miskien ons tyd te offer?

Hoor ons dat dit is wat die Here van ons vra?

Die wonderlike is dat as ons bereid is om dit wel te doen, dan ontdek ons dat ons nie net iets vir ‘n ander beteken nie. Ons ontdek ook opnuut hoe lief die Here vir ons is, asook hoe ander, al is hulle vreemdeling, van ons nuwe mense maak wat met nuwe moed die toekoms aandurf.

Ontdekkingsreis

Dit was nog nooit maklik gewees nie. Dit sal ook nooit maklik wees nie. Die vermoë om dit te doen kan ons ook nie op afslag by die supermark as ‘n kits produk koop nie. Dit vra dat ons in geloof op reis gaan en so in geloof sal groei. Hierdie reis sal ons soms uitasem laat stap op ons eie Camino de Santiago.

Maar ons sal ook iets anders ontdek. Dit waarvan Shel Silverstein in sy boek, “The giving tree”, skryf. Hy skryf dat daar ‘n appelboom was onder wie se takke ‘n seuntjie elke dag in die koelte gespeel het. Hy was lief vir die boom en die boom was gelukkig. Die seuntjie het ouer geword en die boom was dikwels alleen.

Op ‘n dag vertel die seun vir die boom dat hy geld nodig het. Hierop antwoord die boom: “Pluk my appels en verkoop dit!” Die seun het dit gedoen. Na ‘n lang tyd kom hy weer by die boom, want hy wou ‘n huis hê. Die boom stel toe voor dat hy sy takke afsaag en daarmee ‘n huis bou. En die seun het dit gedoen. Uiteindelik toe die seun baie oud was, maak hy weer ‘n draai. Hy wou net rus en die boom se stomp was die ideale plek. Die boom was gelukkig, want hy het sy alles gegee!

Jesus reis met ons

Ons sal ontdek, al is ons soms so moeg van al die geloofsuitdagings dat ons nie in die bootjie wil klim om na die ander kant oor te vaar nie, dat God in Jesus sy alles vir ons gegee het. Dit sluit ook in die versekering dat Hy ons op hierdie geloofsreis nooit alleen sal laat nie. Hiervan is sy pad met ons voorgangers die stille getuies!

Jesus is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde. As die Begin en Voleinder sal Hy nooit die hasepad kies nie. Hierin is Hy so anders as onsself en ook as ander mense, want ons menslike giere en geite wissel van die een sekonde na die ander. Daarom is ons in onsself onbetroubaar.

Sy verlossing is egter vir ewig, want dit is geskryf in sy bloed aan die vloekhout op Golgota. Hy bevestig dit deur sy graf wat leeg is. Daarom kyk God nie vas teen die silwer van ‘n spieël nie. Hy kyk na ons deur ‘n venster wat skoongewas is deur Jesus se bloed.

Klim gerus in die bootjie, wees lief vir ander, ook vir vreemdelinge asof hulle ons eie gesin is. Moenie bang wees nie, want God is altyd daar. Dit waarborg Jesus Christus, die Here!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei” of
Lied 488 “Helder skyn u lig vir die nasies”

Seën :(nav 1 Tess 3:12-13)
Mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen.

Respons
As die slotsang Lied 488 was, kan julle vers 5 se laaste drie reëls weer sing as respons

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.