Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Johannes 6:35, 41-51
Ander tekste: 2 Samuel 18:5-9, 15, 31-33; Psalm 130;  Efesiërs 4:25-5:2

Inleiding

Hierdie week se Skrifgedeeltes handel oor verhoudings wat versoen en verhoudings wat vervreem. Enersyds is daar die vervreemding tussen vader en seun wat lei tot die dood van die seun nadat hy voor sy vader en dié se soldate uitvlug (Dawid en Absalom in 2 Sam 18). Andersyds is daar die verhaal van ’n verhouding tussen Vader en Seun wat vanweë die liefde tussen hulle lei tot die dood van die Seun omdat Hy deur die Vader gestuur is om deur sy dood die ewige lewe te bring vir wie in Hom glo. Hierdie verhouding tussen Vader en Seun is só intiem dat niemand na die Seun sal kom tensy die Vader hulle na Hom toe trek nie (Joh 6). Die Skrifgedeelte uit die psalms en briewe wil gelowiges tot ’n verhouding met God aanspoor, deur te sê dat die gelowiges vanweë sy troue liefde selfs in die donkerste dieptes op God moet wag (Ps 130) en dat hulle Jesus se voorbeeld moet volg omdat God hulle liefhet en hulle sy kinders is (Ef 6).

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Kom sing ’n lied op pad na vandag se erediens.
Voorganger: Uit die dieptes roep ek na U, HERE.
Gemeente: My Heer, hoor tog my stem,
laat u ore aandagtig luister
na my smeekgebed (uit Ps 130 DV).

Diens van die Woord

Gebed voor die Skriflesing
Voorganger: Here, ons God, as gebroke mense wat leef
in ’n gebroke wêreld, wag ons op U lewende Woord.
Gemeente: Uit die dieptes roep ons na U, Here.

Voorganger: Hoor tog ons hulpgeroep.
Gemeente: Uit die dieptes roep ons na U, Here.

Voorganger: As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?
Gemeente: Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.

Voorganger: Ons stel ons vertroue in die Here.
Gemeente: Ons vertrou op U, ons wag op die vervulling van u Woord.

Voorganger: Ons wag op die Here, meer as die wagte op die môre wag.
Gemeente: Wag op die Here, Israel, want by die Here
is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.

Diens van die tafel

Inleiding tot die nagmaal
Twee van vandag se Skrifgedeeltes handel oor die verhouding tussen vader en seun. Enersyds vertel 2 Samuel van 18 die verhaal van vervreemding tussen vader en seun wat daartoe lei dat die seun letterlik vir sy lewe voor sy vader en dié se soldate moet uitvlug. Wanneer Absalom sterf, roep Dawid hartseer uit: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absolom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het.” Andersyds vertel Johannes 6 die verhaal van ’n Vader wat die wêreld só liefhet dat Hy sy Seun stuur om te sterf sodat almal wat in Hom glo die ewige lewe sal ontvang. Hierdie Seun is die brood wat lewe gee en Hy gaan vrywillig waar die Vader Hom stuur, maar Hy vertel vir die mense dat niemand na Hom toe sal kom tensy die Vader hulle na Hom toe trek nie. Uit liefde gee die Vader gee sy Seun weg en uit liefde gee die Seun Homself weg: “Die brood wat ons eet . . .”

Uitsending

Voorganger: Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.
Gemeente: Ons vertrou op U, Here, ons stel ons tot beskikking van die vervulling van u Woord.

Voorganger: Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en
om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja ’n offer wat vir God aanneemlik was.
Gemeente: Ons vertrou op U, Here, ons stel onsself tot beskikking van die vervulling van u Woord.

Almal: Amen.

Musiek en sang

Aanvang: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam”/NSG 351
Lofsang: Lied 200 “U goedheid, Heer,  kan ons nie peil nie”/NSG 43; Lied 203 “Loof die Here, al wat lewe”/NSG 33
Gebed voor die nagmaal: Lied 253 “U het die brood gebreek”/NSG 370
Verootmoediging: FLAM 10 “Jesus, alles gee ek U”; FLAM 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”
Vryspraak: Lied 510 “Genade, onbeskryflik groot”/NSG 273
Slotsang: Lied 199 “Loof die Here uit die hemel”; Lied 205 “Bring lof aan die Vader”/NSG 45               

Johannes 6:35, 41-51

Inleiding

Daar is relevante inligting in C A Anthonissen se twee studies uit Johannes 6 in Riglyne vir Nagmaalsprediking 4, asook bietjie meer agtergrond in Anton Mocke se preekstudie in Woord en Fees 2015, wat altwee in die Bibliografie opgeneem is.

Konteks

Die dissipel Johannes was saam met Jakobus en Petrus deel van die binnekring van Jesus se volgelinge. Hy het ook die langste geleef en skryf die evangelie as ’n ou man. Die wortels van die evangelie kan teruggevoer word na Jesus self. Die herinneringe van Jesus is oorvertel en geleidelik is dit neergeskryf. Johannes kon reflekteer en verduidelikings gee van die betekenis van Jesus se uitsprake. Anders as die Sinoptiese Evangelies, gee die Johannesevangelie meer insig in Jesus se innerlike lewe en sy selfopenbaring van wie Hy is. Die Johannesevangelie gee dus nie die geskiedenis van Jesus se lewe weer in dieselfde mate as die ander evangelies nie, maar skryf met die doel om mense te laat (bly) glo dat Hy die Messias is, die Seun van God, en dat mense deur Hom die ewige lewe kan ontvang. Hy het geskryf sodat die Joodse en Griekse Christene kan volhard in die geloof, kan aanhou glo en daarom die ewige lewe kan hê (Joh 20:31). Die eerste lesers van die evangelie was die Johannese gemeenskap. Waar dit was, is nie seker nie, maar die sosiale situasie spreek van groot spanning tussen die Jode en die Christene. Daar was ook Samaritaanse en Griekse invloede in die gemeente.

In die Johannesevangelie is daar deurgaans ’n ooglopende verband tussen bepaalde tekens en preke, soms voor of soms na so ’n teken. Anders as in die Sinoptiese Evangelies gaan dit in die wonders as tekens nie om die koninkryk van God nie, maar om die openbaring van Jesus Christus as die Seun van God. Johannes stel Jesus bekend as die Een wat lewe gee. Johannes lê ook klem op die “gerealiseerde heil”, die ewige lewe wat nou reeds deel is van dié wat glo en die brood van die lewe geëet het. In Johannes 6 word die voedingswonder gevolg deur ’n preek oor die brood van die lewe. Hierdie evangelie wil ons dus laat sien wie Jesus is en wat dit vir ons beteken as ons in Hom glo.

In hierdie gedeelte (41-51) verskuif die toneel van die  oewer van die meer (35) na die sinagoge in Kapernaum, waar die geestelike leiers van die volk, wat alles gehoor het wat Jesus sê, aan die woord is.

Nie net die Jode is onwillig om Jesus te glo nie, ook die dissipels ontkom nie aan die aanvegtinge in hulle geloof en die twyfel in Jesus nie. Thomas is maar een voorbeeld van ’n dissipel wat getwyfel het. Johannes begin hoofstuk 1 met Jesus wat na sy eiendom gekom het en hulle het Hom nie aanvaar nie. Johannes eindig met die doel van die evangelie in Johannes 20:31, wat beter vertaal kan word met: “. . . Sodat julle kan bly glo.” Die perikoop (41-51), soos die hele Johannesevangelie, kan gesien word as ’n versterking van die geloof van mense wat reeds dissipels van Jesus is. Teenoor alle twyfelvrae en die aanvegting van die geloof wil Johannes sê dat ons geloof rus op dit wat God doen (44). Hy neem die inisiatief om ons aan Hom te verbind en aan ons die lewe te gee. Hy bly getrou, en beloof dat Hy enduit, tot by die hemelse feesmaal, ons sal dra. Dit sal goed wees om te kyk na die vorm wat twyfel vandag aanneem en die vrae wat vandag deur gelowiges gevra word in ’n toenemend gesekulariseerde en Godlose samelewing.

Teks

Johannes 6:35 bevat die eerste van die sewe groot “Ek is”-uitsprake van Jesus, naamlik: “Ek is die brood wat lewe gee.” Dit sluit aan by God se bekendstelling van Homself in Eksodus 3:14: “Ek is wat Ek is.” Wie na Jesus toe kom en in Hom glo, dus hulle toevlug tot Hom neem en op Hom vertrou, ontvang Hom soos brood wat die geestelike honger wegneem. Daar is dus ’n verskil tussen gewone brood (die voedingswonder) en die hemelse brood. Vers 35 saam met vers 41-51 vorm dus deel van Jesus se selfopenbaring waarin Hy sê dat Hy die vervulling is van die Jode se eskatologiese verwagting van die Een wat die mens se diepste honger en dors na egte lewe kan vervul. Daarom is dit nie ’n neutrale stel feite nie, maar verkondiging, uitnodiging om in Hom te glo. Dit beteken nie dat ons daaglikse brood vir God onbelangrik is nie, dit bevestig net dat ons nie van brood alleen kan leef nie. Ons kan Jesus nie volg net omdat ons waarborge wil hê vir ons liggaamlike versorging nie. Dit is ons menslike neiging om die heil te verstaan as iets wat ons natuurlike bestaan verseker. Die kruisiging van Jesus pas nie eintlik in hierdie soort geloof nie. Nee, ons leef veral van God se woord, van Jesus se uitnodiging tot geloof in Hom wat sy liggaam gegee het om lewende brood vir ons te wees.

Jesus se aanspraak in vers 35 dat Hy die lewende brood is, word herhaal in vers 41, 48 en 51. Vers 41-51 kan as afsonderlike perikoop, gesien word as ’n gedeelte waarin Jesus antwoord op die besware van die Jode teen sy prediking dat sy liggaam die brood van die lewe is wat uit die hemel kom. In die Evangelie van Johannes speel ongeloof, veral onder die Jode, ’n prominente rol. Ons sien dit ook aan die begin van hierdie perikoop (41, 42). Hierdie perikoop (41-51) word ingelei met die murmurering van die Jode. Dit is dieselfde woorde wat gebruik is toe Israel hulle verset teen Moses en die Here uitgedruk het (Eks 15:24; Num 14:2). Die gemompel van opstandigheid loop gewoonlik uit op verset. Jesus se uitspraak dat Hy uit die hemel gekom het, ontstel hulle, want dit dui daarop dat Hy Goddelik is. Hulle meen hulle weet mos waar Hy vandaan kom, menende as kind van Josef uit Nasaret. Hulle wil niks weet van die Kind van God uit Betlehem nie. Sedert Moses se tyd was die Jode geneig om te kla. Jesus herhaal vyf keer dat Hy uit die hemel kom, maar hulle aanvaar dit nie.

Vers 44 sluit aan by een van die sentrale aspekte van hoe God en sondaar bymekaar uitkom, naamlik die soewereine handelinge van God waarin Hy uit louter genade mense na Jesus “trek”. Die gesprek vind plaas teen die agtergrond van die Jode se pretensie dat hulle uit hulleself tot geloof in staat is. Jesus wou sodanige moontlikheid afsny en dit stel dat die ware lewe alleen in Hom te vinde is. Geloof in Hom is uit en uit ’n gawe van God. Hierdie “trek” deur God word in vers 45, in die lig van Jesaja 54:13, verduidelik as iets wat plaasvind deur God se lering, sy roepstem. Die tyd van luister en leer val hier, soos in Jesaja, saam met ’n nuwe tyd van heil en redding vir sy volk. God trek mense deur die hoor van sy woord, geloof kom deur die luister na God se roepstem. Omdat Jesus van God af gekom het en die Vader gesien het, is Hy die Een deur wie God die mens wil leer (46). Die mense wat hulle deur Jesus laat leer, kan weet hulle is deur God na Hom getrek. Die klem val dus in hierdie gedeelte op die feit dat God die inisiatief neem in ons verlossing. Hy is die een wat aan ons geloof gee. Anthonissen wys op die gedagte dat die “trek” wederstrewigheid van die mens se kant af kan impliseer. Die genade van God is egter ten diepste onweerstaanbaar. Die “trek” is ook nie iets wat buite die mens se verantwoordelikheid en handelinge plaasvind nie. Die mens leer en luister en neem so ’n verantwoordelike besluit. In en deur die mens se gehoorsaamheid is God werksaam. Die verband tussen lering en om getrek te word is duidelik hier te sien.

Vanuit die hemel bied God dus die redding aan, maar Hy beweeg ook die hart van die mens om die redding aan te neem. Die verskil tussen die aardse en die hemelse kom in vers 47-51 weer na vore. Die manna in die woestyn het net tydelik hulle honger gestil. Almal het tog gesterf. Jesus is die brood uit die hemel wat alle geestelike behoeftes ewig stil en wat die ewige lewe gee. In vers 48 word herhaal wat in vers 35 staan. Jesus is die enigste weg na die ewige lewe. Die koms van die brood uit die hemel het ’n besondere bedoeling gehad: Wie in Hom glo, het die ewige lewe.

In vers 51 kom daar ’n wending. “Die brood wat lewe gee” word nou “die lewende brood”. Jesus is die Lewende, wat self die brood, die lewe, kan meedeel aan almal wat met Hom een geword het deur die geloof. In vers 51 is die “eet” ’n beeld van die geloof in Jesus, en in die oorspronklike taal ‘n eenmalige handeling. In hierdie konteks beteken dit om vir “eens-en-vir-altyd” vir Jesus te aanvaar. “Liggaam” word eintlik beter vertaal met “vlees”, ’n geslagte liggaam, vleis wat voedsel word vir die liggaam. Die sterk uitdrukking wil die leser se aandag vestig op die feit dat Jesus werklik Homself gegee het vir die mensdom. Hy het sy aardse liggaam oorgegee as ’n offer om die lewende brood vir ons te wees. Die plaasvervangende werk van Christus speel ’n belangrike rol vir Johannes. Die oproep tot geloof is dus ’n oproep om te deel in Jesus die gekruisigde, wat ’n aanstoot vir die hoorders is. Dit was ’n aanstoot vir mense wat Christus se selfopoffering nie kon verstaan nie. Die “gee” dui op iets wat nog moet gebeur. Dit herinner aan die priester wat die liggaam van die offerlam op die altaar moes neerlê en lê nog voor vir Jesus. So gee Christus Homself as ’n offer tot voordeel van die wêreld. Met die gedagte van “lewe vir die wêreld”, word duidelik gestel dat die offer van sy liggaam nie net vir die Jode was nie, maar tot voordeel van die hele wêreld. Dit beteken nie almal word gered nie. Die moontlikheid van die ewige lewe is vir almal oop.

Vers 51 bring die vraag of hierdie gedeelte na die nagmaal verwys. Daar is verskil van mening daaroor. Dit is waarskynlik dat Johannes self op ’n later stadium, in ’n gemeentesituasie, in hierdie vertelling eucharistietaal opgeneem het. Sommige meen dat dit teenoor die sieninge staan wat die mistieke en outomatiese aard van die tekens beklemtoon, deur aan te wys dat die tekens heenwys na Jesus self. Hy is die lewende brood, dit gaan dus nie oor die brood as sodanig nie, maar om intieme gemeenskap met Hom. Dit gaan oor die geestelike toe-eiening van die offer van Jesus. Dit is nie die bedoeling om jouself tevrede te stel met net die gebruik van die brood nie. Hierdie brood waarvan ons elke dag lewe, maak ons volledig diensbaar aan God en medemens. Dit is ’n gemeenskapsmaal wat alles van ons vra.

Preekvoorstel 

Hoekom glo mens in Jesus Christus?
Jesus nooi ons uit om in Hom te glo, omdat Hy die brood van die lewe is.

Jesus verkondig hier die betekenis van die wonderteken wat sopas plaasgevind het. Die skare wou Hom koning maak omdat Hy die brood vermeerder het. Jesus kom leer ons egter dat ons Hom nie net moet soek as ’n waarborg vir ons materiële en liggaamlike voorspoed nie. Die teken wys heen na God se grootste gawe, die Ware Brood uit die hemel wat beskikbaar is vir alle mense. Jesus is self die brood wat lewe gee. Hy is die Een wat ons diepste honger versadig en dors les. Sonder Hom bly ons soekers. Ons het Hom nodig, nie sy gawes, sy leer of sy voorbeeld nie, maar Hom self.

Om Jesus te volg beteken dus nie noodwendig om ’n vol maag en veiligheid te hê nie, maar eerder om werklik te lewe. Teenoor die “daaglikse brood” is hierdie Ware Brood die Een wat ons diepste nood kan aanspreek, in ons grootste behoefte kan voorsien, die gat in ons binneste kan volmaak. Die klem val vir Johannes nie op die verlossing van ons sonde nie, maar verlossing tot lewe, op die feit dat Hy sy lewe prysgee sodat almal wat die brood eet, kan lewe. Werklik lewe. Ewig lewe. Hoofletter LEWE. ’n Lewe vol van al die gawes van die Gees wat daar in Christus is. Daar is nie ’n ander soort lewe moontlik buite die lewe wat Hy gee nie. Enige ander soort lewe lei tot die geestelike en ewige dood.

As Jesus hier verklaar dat Hy die brood is wat lewe gee, is dit nie net ’n stelling wat Hy maak nie. Die hele gedeelte is verkondiging. Dit is ’n oproep om te glo. Om hierdie brood te eet, om na Hom toe te kom (35, 51). Ook jy wat ’n dissipel is, hoor hierdie woord, luister daarna en verbind jou opnuut aan hierdie Ewige Brood.

Hoe bly ‘n mens glo in Jesus?
Jesus bemoedig ons met die versekering dat God self met ons op pad is. Ongeloof en twyfel oor God en die evangelie is iets waarmee Johannes alreeds te doen gehad het: die onbegryplike raaisel dat Jesus na sy eiendom toe gekom het en dat hulle Hom nie aanneem nie. Die strydgesprekke met die Jode. Die twyfel van sy dissipels: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Daar is vandag ook in die kerk ’n soort lamheid omdat ons nou al 2 000 jaar wag. Omdat geloof nie meer polities korrek is nie. Daar is toenemende sekularisasie en persoonlike twyfel of dit alles die moeite werd is. Kan menslike onwil en aanstoot aan Jesus God se bedoeling keer? Sal die evangelie deurgaan tot die einde? (41, 42). Die evangelie neem die twyfel van Jesus se dissipels ernstig op, wil hulle geloof versterk en hulle troos.

God se genade kan nie gekeer word nie. Mense van alle tye sal die roepstem hoor en na Christus toe kom en Hom volg. Want God is die Een wat daaragter sit, dit is Hy wat mense na Hom toe trek (44). God gee nie die werk van sy hande prys nie. Selfs al word ons moeg en moedeloos, God sal volhou om mense deur Christus te roep. Hy self is die waarborg dat daar altyd mense na Jesus toe sal kom. Hy self is die waarborg dat dié wat na Hom toe kom, nie verlore sal gaan nie, maar ewig behoue sal bly. “As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe.”

Dit het natuurlik universele betekenis, dat die Christelike godsdiens nie sal uitsterf nie. Dat daar altyd geloof sal wees, ten spyte van soveel aanslae op verskeie vlakke van die lewe. Ons is deel van Jesus se oorwinningstog deur die wêreld, sy koninkryk sal uiteindelik seëvier. Maar dit het ook persoonlike betekenis. As mens op Jesus se roepstem reageer, na Hom toe kom en Hom vertrou, sal jy ontdek dat jy op vaste grond teregkom. Dit is God self wat jou na Jesus getrek het. Jou geloof is nie afhanklik van jou brose menslike wil, gevoel en denke nie, maar van God wat van jou sy kind kom maak het. Geloof is nie ’n sprong in die donker nie. Geloof rus is die vaste sekerheid van die beloftes van Hom wat gesterf het, maar ook opgestaan het uit die dood. Hy werk, en niemand kan dit keer nie. Hy kan nie net die vloedgolf van ongeloof keer nie, maar is ook die waarborg van ’n lewe in oorvloed, van ’n toekoms sonder weerga.

Hy is die Brood wat aan ons die ware lewe gee. Dit is ’n motief wat uiteraard tasbaar en sigbaar in die gebruik van die nagmaal gevier kan word.

Bibliografie

Anthonissen, C A 1982. Riglyne vir Nagmaalsprediking. Woord teen die Lig 4. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers; Beasley-Murray, G R 2002. Word Biblical Commentary: John. Dallas: Word Books; Groenewald, E P 1980. Die Evangelie van Johannes. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers; Mocke, A 2015. Woord en Fees: Preekstudies en Liturgiese Voorstelle, Advent 2014 – Koninkrykstyd 2015. Newman, B M & Nida, E A 1993, c1980. A Handbook on the Gospel of John. New York: United Bible Societies; Nqewa, S 2006. Africa Bible Commentary: John. Nairobi: Zondervan; Van Zyl, A H 1997, 1993. Die Bybel verklaar: 1983-vertaling. Kaapstad: Lux Verbi; Vosloo, W & Van Rensburg, F J 1999. Die Bybellennuim. Vereeniging: CUM; Vosloo, W & Van Rensburg, F J 1997, c1993. Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling). Vereeniging: CUM; Wiersbe, W 1996, c1989. The Bible Exposition Commentary. Wheaton, Ill: Victor Books

© Missio 2024 | All rights reserved.