Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Dit is die laaste Sondag in die seisoen van Barmhartigheid. Die tekste in hierdie seisoen het ons nie net gelei na wat barmhartigheid vir ons beteken nie, maar ook na God se barmhartigheid. Die Jeremia-teks en die Psalm-teks wys iets van God se barmhartige hart nadat die Israeliete van God vergeet het of nie na Hom wou luister nie. Die Lukas-teks en die Hebreërs-teks lei ons om barmhartigheid in ons geloofslewe toe te pas.

Sleutelteks

Jeremia 2:4-19

ONTROU VAN ISRAEL EN JUDA
21Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Gaan roep uit ten aanhore van Jerusalem, ‘So sê die Here:
“Ek onthou jou –
die trou van jou jeug,
die liefde van jou bruidstyd,
hoe jy my gevolg het in die woestyn,
in ‘n land waar nie gesaai word nie.
3Israel was heilig vir die Here,
die eerste vrugte van sy opbrengs.
Almal wat daarvan sou eet,
sou skuldig wees –
onheil sou hulle oorval,”
is die uitspraak van die Here.
4Hoor die woord van die Here,
huis van Jakob,
en al die familiegroepe
van die huis van Israel!

5So sê die Here:
“Watter onreg het julle voorouers by My gevind,
dat hulle hulle aan My onttrek het,
nuttelose afgode gevolg
en self nutteloos geword het?
6Hulle het nie gevra nie,
‘Waar is die Here wat ons
uit Egipteland laat optrek het,
wat ons in die woestyn gelei het –
in ‘n land van woestynvlaktes en afgronde,
‘n land van droogte en diepe duisternis,
‘n land waardeur niemand trek nie,
en waar geen mens woon nie?’
7Ek het julle gebring
na ‘n land met boorde,
om die vrugte en die goeie daarvan te geniet.
Maar julle het ingekom
en my land verontreinig;
van my eiendom het julle
iets afstootliks gemaak.
8Die priesters het nie gevra,
‘Waar is die Here?’ nie;
hulle wat die onderrig hanteer,
ken My nie.
Die herders het teen My oortree;
die profete profeteer vir Baäl,
en hulle volg dié wat geen
voordeel bied nie.
9Daarom kla Ek julle steeds aan,”
is die uitspraak van die Here,
“en ook julle kleinkinders sal Ek aankla.
10Ja, gaan maar oor na die eilande
van die Kittiërs en kyk self!
Stuur maar na Kedar
‘n afvaardiging, en let goed op –
kyk of so iets al gebeur het!
11Het ‘n nasie sy gode al verruil?
En dit is nie eers gode nie!
Maar my volk het sy Majesteit
verruil vir hulle wat geen
voordeel bied nie.
12Staan verslae daaroor, hemele!
Sidder en beef onbedaarlik!”
is die uitspraak van die Here.
13“Want twee wandade
het my volk gepleeg:
My, die fontein van lewende water,
het hulle verlaat
om vir hulle opgaarputte uit te kap –
gebarste opgaarputte
wat nie water hou nie.
14“Is Israel ‘n dienskneg?
Of is hy van geboorte af ‘n slaaf?
Waarom het hy dan buit geword?
15“Die jong leeus brul teen hom;
hulle brul hard.
Hulle het sy land ‘n woesteny gemaak;
sy stede is verwoes, sonder inwoners.
16Ook die mense van Nof en Tagpanhes
sal jou skedel verpletter.
17Het jy, Israel,
dit nie aan jouself gedoen,
deurdat jy die Here jou God verlaat het
toe Hy jou op die pad gelei het nie?
18Daarom, wat wil jy bereik
deur na Egipte te gaan?
Is dit om die Sigor se water te drink?
Wat wil jy bereik
deur na Assirië te gaan?
Is dit om die Rivier se water te drink?
19Jou boosheid vermaan jou;
jou afvalligheid wys jou tereg.
Erken dan en sien in
dat dit sleg en bitter is
wanneer jy die Here jou God verlaat,
en daar by jou geen vrees vir My is nie,”
is die uitspraak van my Heer,
die Here, Heerser oor alle magte.

Ander tekste

Psalm 81:1, 10-16
As my volk maar na My wou luister
81 Vir die koorleier: met musiek.
Van Asaf.
2Jubel tot eer van God ons sterkte,
juig tot eer van die God van Jakob!
9Luister, my volk,
Ek gee julle ’n opdrag.
Israel, luister na My:
10‘Daar mag vir julle
geen ander god wees nie,
julle mag voor geen vreemde god
neerbuig nie.
11Ek is die Here julle God
wat julle uit Egipte laat wegtrek het.
Wat julle nodig het,
sal Ek in oorvloed gee.’
12“Maar my volk het nie
na My geluister nie,
Israel wou niks met My
te doen hê nie.
13Daarom het Ek hulle laat begaan
in hulle koppigheid
en hulle het hulle eie sin
en wil gevolg.
14Ag, as my volk maar
na My wou luister,
as Israel maar my wil wou doen,
15hoe gou sou Ek hulle vyande nie
op die knieë bring
en hulle teëstanders
met my eie hand verslaan nie.”
16Dié wat voorgee
dat hulle die Here dien,
maar Hom haat,
hulle straf sal vir altyd duur.
17Maar vir julle sal Hy voed
met die beste koring,
julle versadig met heuning
uit ’n rots.

Hebreërs 13:1-8, 15-16
Die Christelike lewenswandel
13 As broers moet julle mekaar altyd liefhê. 2Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. 3Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

4Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê:
“Die Here is my helper,
ek ken geen vrees nie:
wat kan ’n mens aan my doen?”

Loof God deur Jesus Christus
7Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.
8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

15Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. 16Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.

Lukas 14:1, 7-14
Jesus genees ’n man wat aan water gely het
14 Op ’n sabbatdag toe Jesus na die huis van ’n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou. 2Reg voor Hom was daar ’n man wat aan water gely het. 3Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: “Mag ’n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?”

4Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan. 5Daarna sê Hy vir hulle: “Sê nou ’n seun of ’n bees van een van julle val in ’n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op ’n sabbatdag?”

6Hulle kon daar niks op antwoord nie.

Gelykenis oor beskeidenheid en gasvryheid
7Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis: 8“As iemand jou na ’n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy. 9Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem. 10Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor’. Dan sal jy in die agting van al die gaste styg. 11Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”

12Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand ’n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. 13Nee, as jy ’n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. 14Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.”

Ekstra stof

Hoofstuk 2-6 vorm ‘n eenheid in terme van styl — amper alle gedeeltes is in poëtiese vorm — en inhoud — oordeelsprofesieë waarin die skraal hoop van ‘n moontlike omkeer tog nog lewend is (hfst. 4:14: “Reinig jou hart van die kwaad, dat jy behoue kan bly“).  Dit word ingelui met die frase: “Die woord van die Here het tot my gekom” wat eers weer in hfst. 7 herhaal word om ‘n nuwe afdeling in Jeremia se boek in te lui.  Ons vind dit regdeur die boek as die begin van onderafdelings van sy boodskap (1:2-3; 1:4; 1:11; 1:13; 2:1; 7:1; 11:1; 13:3; 13:8; 14:1; 16:1; 18:1; 21:1; 24:4; 26:1; 27:1; 28:12; 29:30; 30:1; 32:1; 32:26; 33:1; 33:19; 33:23; 34:1; 34:8; 34:12; 35:1; 35:12; 36:1; 36:27; 37:6; 39:15; 40:1; 42:7; 42:15; 43:8; 44:1; 46:1; 47:1; 49:34).
Omdat Josia pertinent in hfst. 3:6 genoem word, plaas geleerdes gewoonlik die ander gedeeltes van hfst. 2-6 in die eerste periode van Jeremia se bediening (627-609 v.C.), d.w.s. in die tyd van Josia (640-609 v.C.), onder andere omdat hoofstuk 7 op sy beurt in die tyd van die volgende koning Jojakim geplaas word (609-598 v.C.), weens die ooreenkomste met dieselfde tipe opdrag en boodskap wat in hoofstuk 26 gegee word, en waar dit duidelik in die tyd van Jojakim geplaas is (26:1). Hoewel dit moeilik is om altyd die perikope/gedigte van mekaar te onderskei, is daar min of meer ‘n progressie van gedagtes in terme van die breë lyne van die hoofstukke sigbaar, as ‘n tipe “regsgeding” teen die volk:

  • Hoofstuk 2 – My volk het My vergeet.
  • Hoofstuk 3 – Kom terug na My toe!
  • Hoofstuk 4 – Bekeer jou tot My
  • Hoofstuk 5 – Hulle het hulle nie laat leer nie
  • Hoofstuk 6 – Jerusalem is veroordeel

Die vyf hoofstukke vorm natuurlik ook ‘n onderafdeling van die eerste hoofdeel van Jeremia se boodskap aan Juda en Jerusalem — hfst. 2-33.  Dit handel oor:

  • die oordeel oor die volk wat God vergeet het (hfst. 2-20) waarby Jeremia se sewe “Konfessies” opgeneem is;
  • die oordeel oor die leiers  (konings, profete, en priesters: hfst. 21-23, waarin daar darem ook ‘n belofte van ‘n regverdige koning ingesluit is);
  • die ballingskap wat onafwendbaar aanbreek – hfst. 24-29; en laastens
  • die belofte van ‘n toekomstige herstel – hfst. 30-33.

Indeling ‘n Mens kan die individuele uitsprake/gedigte van Jeremia raaksien veral in die wisselende naamwoorde wat gebruik word: bv. “jy” in vers 1-3 wat in die vroulike tweede persoon enkelvoud geskryf is, “julle” in vers 4-9 wat in die manlike tweede persoon meervoud geskryf is, en so meer.  Maar dit help ook net so ver vir die afbakening, want in vers 6 word ook die derde persoon manlike meervoud gebruik, “hulle“. Die beste is om die indeling daarom op ‘n kombinasie van drie maniere te doen, eerstens in terme van frases wat ‘n nuwe aankondiging inlui, soos bv. “So sê die Here” in vers 2, en “Hoor die woord van die Here” in vers 4, tweedens om moontlike logiese gedagte eenhede te identifiseer, bv. vers 14-19 wat ‘n eenheid vorm rondom die sentrale gedagte in vers 17: “Jy het jou dit self aangedoen omdat jy My, die Here jou God, verlaat het” en derdens volgens bogenoemde naamwoorde, jy, hulle, julle en so meer. Dit gee die volgende indeling:

  • Die woord van die Here het tot my gekom” – vers 1-2a (inleiding)
  • Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was” – vers 2b-3
  • Waarin het Ek gefaal?” – vers 4-8
  • Daarom kla Ek jou weer aan” – vers 9-13
  • Jy het jou dit self aangedoen omdat jy My, die Here jou God, verlaat het“- vers 14-19
  • Jy het my gesag lankal verwerp” – vers 20-22
  • Besef tog wat jy gedoen het” – vers 23-25
  • Soos ‘n dief in die skande kom, wanneer hy betrap word, so sal die Israeliete in die skande kom“- vers 26-30
  • Slaan tog ag op die woord van die Here, my volk!” – vers 31-35
  • Hoe laag het jy gedaal deur jou wispelturigheid!” – vers 36-37

“Die woord van die Here het tot my gekom” – vers 1-2a (inleiding) Soos reeds genoem, word die hoofstuk ingelui met die frase: “Die woord van die Here het tot my gekom” wat eers weer in hfst. 7 herhaal sal word vir ‘n nuwe afdeling in Jeremia se boek.  Dit vorm dus nie net ‘n inleiding tot die hoofstuk se profesieë nie, maar ook vir die versameling hfst. 2-6.

“Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was” – vers 2b-3
Let op hoe die Here die volk as ‘n integrale eenheid van hulle ontstaan af tot in die hede aanspreek.  Die huidige inwoners van Jerusalem word aangespreek met: “Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug”  asof hulle fisies daar was by die begin in die woestyntyd.  Uit God se ewigheid is die volk van Israel een ondeelbare geheel.  Die verlede het dus ‘n onontwykbare impak op die hede, beide positief en negatief, soos ook reaksies in die hede natuurlik medebepalend is vir die toekoms van dié een volk van God.

Die intieme gemeenskap tussen God en sy volk word hier in herinnering geroep as getuienis vir God se saak met sy volk, soos in die res van die gedigte gaan ontvou, dat hulle sonder ‘n goeie rede van Hom af weggedraai het, al het Hy hulle van alle rampe beskerm.  Die doel daarmee is egter nie net om hulle te beskaam nie, maar juis te motiveer om hulle oop te stel om dié verhouding met God te soek en te hervat.

“Waarin het Ek gefaal?” – vers 4-8
Vers 4-13 is duidelik ‘n eenheid, maar ek hanteer dit as twee kante van die “regsgeding” – by wyse van spreke – wat die Here met die volk aanhangig wil maak. In die eerste deel vra die Here die vraag: “Waarin het Ek gefaal?” Hy wil weet hoekom die vaders van die volk van Hom af weggedraai het om nikswerd afgode te dien.  Hy wil weet hoekom hulle Hom nie opgesoek het nie, dié Een wat Hom as hulle God bewys het met die Uittog uit Egipte, die begeleiding deur die woestyn en die Intog en vestiging in Kanaän.

Die volk het egter die land – wat steeds God se eiendom was en is (vgl. Lev. 25:23) – besoedel (deur die wet te oortree), die priesters het Hom nie aan die volk bekend gemaak nie, die regeerders het hulle teen Sy koningskap verset, en die profete het afgode begin dien. Die ongehoorsaamheid was dus wydverspreid onder die leiers en die volk.

“Daarom kla Ek jou weer aan” – vers 9-13
In die tweede deel versterk die Here sy klag met die woorde: “Daarom kla Ek jou weer aan” en sluit ook die “nakomelinge” in.  Dit is immers onverstaanbaar dat ‘n nasie sy gode verruil.  Selfs al kom hulle agter dat dié gode nikswerd is nie, doen hulle dit nie! Die Here verwys hier na die Kittiëreilande — die eiland Siprus — en Kedar —  Bedoeïene afstammelinge van Ismael in die Siries-Arabiese woestyn.  Jeremia sal later ‘n spesifieke oordeel oor Kedar uitspreek (Jer. 49).

Dit is die hart van God se aanklag teen die volk, dat hulle van god verander het.  Hulle twee sondes is 1) dat hulle Hom verlaat het, en 2) dat hulle ander gode, “waterbakke wat gebars is en nie water hou nie“, gekies het. “Selfs die hemel moet daaroor skrik en beef en sidder! sê die Here.” Die hemel word hier as getuie aangeroep wat waarskynlik ‘n terugverwysing is na die Here se waarskuwing in Deut. 4:26 dat Hy die hemel en aarde getuies maak van die verbond sodat hulle ingetrek kan word wanneer dinge tussen Hom en die volk skipbreuk ly.

“Jy het jou dit self aangedoen omdat jy My, die Here jou God, verlaat het”- vers 14-19
Die Here se verbasing en selfs afgryse oor die volk se afvalligheid word helder hier uitgedruk.  Hulle tree op op maniere wat by slawe pas, nie by kinders van die land, d.w.s. kinders van God nie.  Hy is immers die eienaar van die land, en sy verbond met hulle gee aan hulle die voorreg om sy gawes en beskerming te geniet.  Hulle gaan soek egter beskerming by die groot wêreldmagte van die tyd, Egipte en Assirië.  Terloops, Memfis (In Hebreeus word dié stede met die wisselvorme Mof en Nof aangedui) en Tagpanges is twee stede in Egipte.  Jeremia word juis na Tagpanges ontvoer soos ons later in Jeremia 44 sal lees.

Let op hoe die Here die gevolge hiervan uitspel: “Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word.” D.w.s. die alliansie wat hulle met die wêreldmagte soek, sal hulle ondergang beteken – hulle gaan soek verkwikking (Jeremia gebruik die metafoor van die water) by die riviere van dié twee nasies, maar dit sal hulle suur bekom.  Die Here sal hulle oorgee aan hulle eie planne wat téén sy wil en raad gesmee is.  “Omdat jy van My af weggedraai het, sal jy daaronder ly.  Jy sal agterkom hoe rampspoedig dit is, jy sal proe hoe bitter dit is om My, die Here jou God, te verlaat, om geen eerbied meer vir My te hê nie, sê die Here God, die Almagtige.” Angswekkende woorde!

Dat ‘n mens jouself en jou volk só in die voet kan skiet deur jou heil op verkeerde plekke te gaan soek.  Dit laat ‘n mens ook besef dat die oordeel van die Here nie ‘n bose daad van God is nie.  Hy boelie nie vir Israel nie.  Hy laat hulle ná eeue se waarskuwings oor aan hulle eie dwaasheid om te kyk of hulle nie só tot inkeer kan kom nie.

“Jy het my gesag lankal verwerp” – vers 20-22
Die kern van die probleem van Israel is dat hulle die gesag van die Here oor hulle lewe, in wet en wandel, verwerp het. Hulle het van ‘n goeie wingerdstok verander in onkruid, in ‘n wilde wingerdstok, deur mee te doen aan die afgodediens van die land Kanaän. Geen wonder dat Jesus eeue later gekom het as die ware wingerdstok, sodat ons almal by Hom ingeënt kan word sodat die verhouding met God herstel kan word – Joh. 15.  Lees meer hier daaroor: Johannes 15:1–26 – Om Jesus te aanvaar en sy pad vir jou te omhels, is die lewe.

“Besef tog wat jy gedoen het” – vers 23-25
Met uitdagende metafore word die afvalligheid van die Here se bruid, die volk, geskets.  Hulle tree soos ‘n bronstige kameelkoei of ‘n wildedonkie op in hulle ongeoorloofde politieke verbintenisse sowel as in die afgodediens waaraan hulle hulself blootstel.  Die Hinnomdal is net suid van Jerusalem (vgl. ook Jos. 18:16; Neh. 11:30). Die Here wil hê dat hulle moet besef wat hulle doen, maar hulle weier: “Ek sal nie daarmee ophou nie.

“Soos ‘n dief in die skande kom, wanneer hy betrap word, so sal die Israeliete in die skande kom”- vers 26-30
Dit beteken dat soos ‘n dief in die skande kom, wanneer hy betrap word, so sal die Israeliete in die skande kom, die volk en hulle leiers.  In plaas daarvan om God as Skepper en Vader te eer, verleen hulle godsdienstige status aan dooie voorwerpe, hout- en klipbeelde.  Dit is eintlik net wanneer ‘n ramp hulle tref, dat daar ‘n verposing in hulle afgodediens kom en hulle hul na die Here wend.  In die oë van die Here is dit egter net nie goed genoeg nie.

“Slaan tog ag op die woord van die Here, my volk!” – vers 31-35
Daarom spreek die Here die volk ernstig aan om op sy woord ag te slaan.  Al kan Hy nie regtig begryp hoe hulle Hom en hulle verhouding met Hom kan vergeet nie, is dit die feite waarmee die Here rekening moet hou.  Die volk het Hom verlaat, al was Hy goed vir hulle, al was hulle aan mekaar verbind soos ‘n bruid aan haar man. Een van die ysingwekkende redes vir hulle afvalligheid is dat hulle gewoond geraak het aan die kwaad.  Dit het hulle vermoë om te kan onderskei, afgestomp.  Dit het hulle ook afgestomp ten opsigte van arm en verontregte mense en laat hulle toe dat booswigte vry kom. Maar hulle onsensitiwiteit vir hulle eie sondigheid, is uiteindelik nie ‘n verskoning nie.  Die volk sal die gevolge van hulle afvalligheid dra.

“Hoe laag het jy gedaal deur jou wispelturigheid!” – vers 36-37
Die wispelturigheid van die volk in hulle verhouding met God en hulle onheilige verbintenis met die twee groot wêreldmagte, Egipte en Assirië, sal hulle egter niks in die sak bring nie.  Soos hulle die Here in die steek gelaat het, só sal die wêreldmagte vir Israel in die steek laat.  Daar sal geen volhoubare hulp van dié magte af kom nie.

Boodskap
Boosheid is in sy diepste wese vergeetagtigheid, die groeiende gebrek aan ‘n Goddelike geheue, die onwilligheid om God se goedheid voortdurend te erken en in herinnering te roep.  Waar God in ‘n mens se bewussyn vervaag, en Hy nie voortdurend in herinnering geroep word, daar lê die kiem van die Boosheid.  Dit manifesteer dan in dwase verbintenisse, alliansies wat nie goed deurdink word nie, en dit manifesteer in sosiale onreg, waar deernis met armes verdwyn, en met dié wat onreg ly.  Dít skep die klimaat waarin ‘n samelewing uiteindelik verval in anargie en wetteloosheid waar elkeen sy eie idees van hoe dinge moet werk op ander af forseer.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord:– uit Handelinge 4:32-37

Seëngroet  

Lied: 192 “Grote God U skepperhand 1,2,3”

Wet
Psalm 81 herinner aan die woorde van die wet in Eksodus 20…
In die profesie van Jeremia (fokusteks, hoofstuk 2) hoor ons dan God se hart/ teleurstelling…

Skuldbelydenis
Lied: 279 “Hoor ons sug o Heer 1 (herhaal 2 of 3 maal)”

Vryspraak 
God se beloftes van seën in respons op getroue navolging word ook gehoor in Psalm 81

Geloofsbelydenis: (ahv Kolossense 1)

Loflied: Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Epiklese

Skriflesing: Jeremia 2

Familie-oomblik
Prediking

Gebed: (Ahv Jeremia 2)

Offergawes

Wegsending: Lied 08 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën: Numeri 6:24-26

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord  
V: Heer, ons kom voor U vandag, een van hart en siel.
G: Nes die eerste gelowiges staan ons in afhanklikheid voor U.

V: Alles wat ons het en ontvang, is genade alleen.
G: Help ons om nie aan materiële dinge vas te hou nie.

V: Ons getuig van die Here Jesus se dood en opstanding.
G: God se genade is groot vir ons almal.

V: Here, in U oë is almal gelyk.
G: Help ons, o Heer, om met ander oë na die wêreld te kyk.

V: Help ons om nie vas te klem aan die materiële nie,
G: maar ons seëninge te deel volgens elkeen se behoefte.

Almal: Ter wille van U onderstebo koninkryk! Amen.
– uit Handelinge 4:32-37

Seëngroet  
Genade en vrede vir elkeen in die Naam van die drie-enige God deur wie ons die koninkryk van God hier op aarde soek en uitleef!

Lied 192 “Grote God U skepperhand 1,2,3”

Wet
Psalm 81 herinner aan die woorde van die wet in Eksodus 20…
11Ek is die Here julle God
wat julle uit Egipte laat wegtrek het.
Wat julle nodig het,
sal Ek in oorvloed gee.’

10‘Daar mag vir julle
geen ander god wees nie,
julle mag voor geen vreemde god
neerbuig nie.

In die profesie van Jeremia (fokusteks, hoofstuk 2) hoor ons dan God se hart/ teleurstelling…

7Ek het julle gebring
na ‘n land met boorde,
om die vrugte en die goeie daarvan te geniet.
Maar julle het ingekom
en my land verontreinig;
van my eiendom het julle
iets afstootliks gemaak.
8Die priesters het nie gevra,
‘Waar is die Here?’ nie;
hulle wat die onderrig hanteer,
ken My nie.
Die herders het teen My oortree;
die profete profeteer vir Baäl,
en hulle volg dié wat geen
voordeel bied nie.

11Het ‘n nasie sy gode al verruil?
En dit is nie eers gode nie!
Maar my volk het sy Majesteit
verruil vir hulle wat geen
voordeel bied nie.
12Staan verslae daaroor, hemele!
Sidder en beef onbedaarlik!”
is die uitspraak van die Here.
13“Want twee wandade
het my volk gepleeg:
My, die fontein van lewende water,
het hulle verlaat
om vir hulle opgaarputte uit te kap –
gebarste opgaarputte
wat nie water hou nie.

Erken dan en sien in
dat dit sleg en bitter is
wanneer jy die Here jou God verlaat,
en daar by jou geen vrees vir My is nie,”

Skuldbelydenis

Lied: 279 “Hoor ons sug o Heer 1 (herhaal 2 of 3 maal)”

Vryspraak
God se beloftes van seën in respons op getroue navolging word ook gehoor in Psalm 81
17Maar vir julle sal Hy voed
met die beste koring,
julle versadig met heuning
uit ’n rots.

Geloofsbelydenis: (ahv Kolossense 1)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.

En ek glo in die Seun wat die beeld van God is,
van God wat self nie gesien
kan word nie.

Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.

Ek glo Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.

Ek glo dat God besluit het
om met sy volle wese in Hom te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.

Ek glo dat God deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
die vrede herstel het,
en deur Hom alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen het.

Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied: Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Liedere

F7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy
Teks en musiek: Steve Merkel
Afrikaanse vertaling: 2005  Breda Ludik
© 2000 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ‘n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer weer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:
Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ‘n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

F251. “Ek Hef My Hande Op”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Toewyding)
Teks en Musiek: Jaco du Plessis
© 2006 Urial Publishing
(Opgeneem op Luidkidz)

Ek hef my hande op
Na U, o Here God
Ek wil nog nader kom as nou
Ek plaas U in beheer
en wil nou my alles gee
U hoor my as ek sing

Halleluja, U is Heer
Ek buig my lewe voor U neer
Laat als wat asem het U loof
Want U is God en ek sê dit in geloof

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, U het ek lief
En ek buig my hele wese voor U neer
Voor U, my Heer
Hoor die lied van my hart
Sien my hande na die hemel opgehef
terwyl ek U nou vereer

Heilig
U is die Seun van God
Vredevors, wat in ewigheid regeer
U alleen verdien die hoogste lof
Jesus, dit is U wat ek bemin
(Uit Flam 177)
OF
Heer, in hierdie tyd van die kerkjaar wat ons nadink oor wat dit beteken om barmhartig te wees, breek ons harte oop vir u boodskap. Help ons om ons vooropgestelde idees eenkant te plaas en te onderskei waarheen U ons lei. Die wêreld verhard dikwels ons harte: Kom breek dit oop en vul ons met die Heilige Gees sodat ons u hande en voete hier op aarde kan wees. Amen.

Skriflesing: Jeremia 2

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

[foto vanaf pexels.com – “free to use”]
Om die ondenkbare te illustreer dat Israel haar God prysgegee het vir gode wat nie gode is nie, kan die volgende storie dramaties vertel word.

Daantjie is sy lewe lank nog passievol oor rekenaars. Vir sy ouers is dit maklik- as jy Daantjie wil dissiplineer moet jy gewoon sy rekenaar van hom wegneem vir n dag of twee. As jy Daantjie sien, sien jy sy rekenaar. En ja, hy kan met MS Word werk, hy kan Powerpoints maak, hy kan selfs met Excel tabelle optrek en tred hou hoe hy sy sakgeld spandeer-nie sleg vir ’n 11-jarige laaitie nie.

Maar die grootste ding van die rekenaar wat Daantjie geniet is die speletjies. Sy versameling bestaan reeds uit 42 DVD speletjies- in sy skool het niemand meer speletjies as Daantjie nie. Sy gunsteling was x

Hy moes lank spaar om die R400 bymekaar te kry vir die speletjie “Company of Heroes”. Maar uiteindelik kon hy dit koop en nou is daar niks wat hom terughou nie. Hy vorder al tot by vlak 72…uit 80. So die ruiltransakasie vir die opgegradeerde x met 144 vlakke sou heeltemal nuwe uitdagings meebring.

Ongelukkig was hy met ’n slenter uitgevang. Die nuwe “Company of Heroes 2”* program werk nie op sy rekenaar nie, blykbaar te doen met die spesifikasies van die rekenaar self. En nou het hy eintlik niks. Sy geliefde x program is geruil vir die nuwer een, x2, wat nie werk nie.

Klink omtrent soos die verhaal van Jeremia se God wat sy hande saamslaan as Hy sê… Het so iets al ooit gebeur? Het ’n volk ooit hulle gode vir ander gode verruil al is hulle nie regtig gode nie? Tog het my mense My verruil vir gode wat niks werd is nie! (JEREMIA 2:10, 11 NLV)

Preekriglyn

[Nota: In die preek word soms na die hele hoofstuk 2 verwys, en nie bloot net na die afgebakende teksgedeelte nie.]

Mens weet daar is moeilikheid as jy ‘n klagstaat ontvang waarop jy jou in die hof moet verdedig. Ons teks is gegiet in die vorm van so ‘n antieke amptelike klagstaat of regsgeding.

Kenmerke van ‘n tipiese antieke klagstaat was:

  • Die aanroep van die aarde en hemele as getuies in die regsproses (vers 12)
  • ‘n Reeks vrae wat almal na ‘n klag verwys (verse 5 en 6)
  • ‘n Herinnering aan die weldade wat in die verlede aan die aangeklaagde betoon is, met ‘n lys oortredings wat teen hierdie liefdesverbond begaan is (verse 7 tot 11)
  • ‘n Verwyding na die sinloosheid van verskeie pogings om aan die gevolge van die optrede te ontkom (verse 26-28)
  • ‘n skuldigbevinding en dreigende straf (Verse 31-31).

Prof Dirkie Smit skryf: Ons teks is deel van ‘n regsgeding van die Here teenoor sy volk. Hulle word aangekla van die ergste graad van afvalligheid. Die Here waarsku, pleit, dreig, roep getuies in, herinner aan die verlede en verwerp moontlike verontskuldigings.

Kom ons stap in groter detail deur ons teksgedeelte:

“Ek onthou nog …” 

In die eerste drie verse kom die Woord van die Here tot Jeremia, en vertel die Here hoe Hy onthou hoe getrou Israel aan Hom was in haar jeug. Israel was soos ‘n bruid wat die Here die woestyn in gevolg het. Israel was toe getrou aan die Here.

Die gemeenskap tussen God en sy volk word hier in herinnering geroep as getuienis vir God se saak met sy volk, soos in die res van die gedigte gaan ontvou, dat hulle sonder ‘n goeie rede van Hom af weggedraai het, al het Hy hulle van alle rampe beskerm.  Die doel daarmee is egter nie net om hulle te beskaam nie, maar juis te motiveer om hulle oop te stel om dié verhouding met God te soek en te hervat.

“Waarin het Ek gefaal?”

In verse 4-8 vra die Here waarin Hy gefaal het. Hy wil weet hoekom die vaders van die volk van Hom af weggedraai het om nikswerd afgode te dien. Hy wil weet hoekom hulle Hom nie opgesoek het nie, dié Een wat Hom as hulle God bewys het met die uittog uit Egipte, die begeleiding deur die woestyn en die Intog en vestiging in Kanaän.

Die volk het egter die land – wat steeds God se eiendom was en is (vgl. Lev. 25:23) – besoedel (deur die wet te oortree), die priesters het Hom nie aan die volk bekend gemaak nie, die regeerders het hulle teen Sy koningskap verset, en die profete het afgode begin dien. Die ongehoorsaamheid was dus wydverspreid onder die leiers en die volk.

“Daarom kla Ek jou weer aan” – vers 9-13

In verse 9-13 versterk die Here sy klag met die woorde: “Daarom kla Ek jou weer aan” en sluit ook die “nakomelinge” in.  Dit is immers onverstaanbaar dat ‘n nasie sy gode verruil.  Selfs al kom hulle agter dat dié gode nikswerd is nie, doen hulle dit nie!

Dit is die hart van God se aanklag teen die volk, dat hulle van god verander het.  Hulle twee sondes is 1) dat hulle Hom verlaat het, en 2) dat hulle ander gode, “waterbakke wat gebars is en nie water hou nie“, gekies het. “Selfs die hemel moet daaroor skrik en beef en sidder! sê die Here.”

“Jy het jou dit self aangedoen …”

In verse 14-19 word die Here se verbasing en selfs afgryse oor die volk se afvalligheid helder uitgedruk.  Hulle tree op maniere op wat by slawe pas, nie by kinders van die land, d.w.s. kinders van God nie.  Hy is immers die eienaar van die land, en sy verbond met hulle gee aan hulle die voorreg om sy gawes en beskerming te geniet.  Hulle gaan soek egter beskerming by die groot wêreldmagte van die tyd, Egipte en Assirië.

Let op hoe die Here die gevolge hiervan uitspel: “Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word.” D.w.s. die alliansie wat hulle met die wêreldmagte soek, sal hulle ondergang beteken – hulle gaan soek verkwikking (Jeremia gebruik die metafoor van die water) by die riviere van dié twee nasies, maar dit sal hulle suur bekom.  Die Here sal hulle oorgee aan hulle eie planne wat téén sy wil en raad gesmee is.

Tot sover ons teks.

Kom ons gee nou aandag aan die boodskap van die teks.

Vergeet is verskriklik

Dit is verskriklik om te dink dat God se volk vir God kan vergeet. Hoe is dit moontlik dat God se volk, God se kerk, God se gemeente, God se duurgekoopte eiendom, vir God kan vergeet? Dit klink onmoontlik, maar dit het gebeur. Daarom moet selfs die hemele daaroor skrik en beef (vers 12).

Hierdie vergeet het baie kante:

  • Deur God te vergeet, vergeet die volk hulle eie verlede: hoe hulle slawe in Egipte was, maar hoe God van hulle ‘n volk gemaak het. Hulle vergeet hulle eie jeug, toe hulle nog trou aan God was, hom liefgehad het, Hom soos ‘n bruid die woestyn in gevolg het.
  • Hiermee vergeet die volk van God se liefde jeens hulle: sy verkiesing van die volk, sy versorging, sy barmhartigheid hoe Hy hulle uit gevare gered het, die land wat Hy hulle gegee het, sy reddende dade.
  • Hiermee vergeet die volk ook God se hand van beskerming oor hulle: hoe God hulle vyande weggevee het, hulle noukeurig bewaar het teen die bose, die magte wat teen hulle opgestel was.
  • Deur van God te vergeet, gee die volk te kenne die fout lê by God. God het hulle gefaal, God het ontrou teenoor hulle geword, Hy het misluk en is nie langer die moeite werd om te volg nie.
Geestelike leiers het vergeet

Die ergste van die vergeet van God is dat diegene in God se volk wat moes sorg dra dat die volk nie vergeet nie, self ook van die Here vergeet het. So stel vers 8 dit:
Die priesters het nie gevra,
‘Waar is die Here?’ nie;
hulle wat die onderrig hanteer,
ken My nie.
Die herders het teen My oortree;
die profete profeteer vir Baäl,
en hulle volg dié wat geen
voordeel bied nie.

Die priesters het nie na die Here gevra nie. Hoekom nie? Dalk was hulle so pastoraal verbonde aan die volk se belewenis, so een van siel en een van hart met die vergeetagtige volk, dat hulle eerder die volk se belange gedien het as om van die Here te onthou.

Diegene wat die wil van die Here moes bekend maak en die volk moes onderrig, het ook vergeet. Hulle het liewer boodskappe gebring wat die vergeetagtige Godsvolk bevestig het, terwyl hulle die Here moes verteenwoordig.

Die regeerders moes die Here se reg en geregtigheid dien deur reg te laat geskied. Hulle het onderdrukkers geword wat die reg vertrap – omdat hulle van die Bron van geregtigheid vergeet het.

Onmoontlike moontlikheid

Die vergeet van God is ‘n onmoontlike moontlikheid. Na alles wat hulle van God beleef het, hoe kon die Godsvolk hul rug op God draai? Hoe kon die kerk die teenswoordige wêreld liefkry? Sy eerste liefde kon verlaat? Vergeet dat die kerk duur gekoop is en nie vir haarself moet leef nie? Hoe is dit moontlik dat gelowiges nie ware vrugte kan dra nie?

Vergeet is verruil

Volgens Jeremia 2 is om God te vergeet erger as bloot vergeet. Vergeet is om God te verruil.
Opsigself klink vergeet nog te ontskuldig. Almal is mos maar vergeetagtig.
Dis nie wat die Here by monde van Jeremia bedoel nie. Lees weer verse 10-11:
Ja, gaan maar oor na die eilande
van die Kittiërs en kyk self!
Stuur maar na Kedar
‘n afvaardiging, en let goed op –
kyk of so iets al gebeur het!
Het ‘n nasie sy gode al verruil?
En dit is nie eers gode nie!
Maar my volk het sy Majesteit
verruil vir hulle wat geen
voordeel bied nie.

Dit gaan nie oor algemeen-menslike vergeetagtigheid nie. Dit gaan ten diepste oor sonde. Dit is ‘n morele kwessie. Dit gaan oor die hart en wil van die volk wat nie meer by God was nie.

Kan ‘n man sy bruid vergeet? Kan ‘n moeder haar kinders vergeet? As ‘n man dan nie sy vrou en kinders kan vergeet nie, hoe kan hy sy God vergeet? As hy sy God vergeet, is dit ‘n keuse van ontrou, onwil, sondige afvalligheid, verharde afkerigheid. Hoe kan ‘n vrou haar God vergeet wat sy waarlik as God geken het? Anders as deur ander belange, ander lojaliteite, ander sekuriteite, ander liefdes, ander verbontenisse van diepe trou?

Ons het almal gode. Ons dien almal altyd iemand of iets. Calvyn het gesê die mens is ‘n fabriek van  afgode. Dit geld ook die kerk. Ons dien almal altyd iets – of die ware Here, of iets anders uit die skepping wat ons bron van diepste sekuriteit is.

Daarom is doelbewuste onthou so belangrik.

‘n Goeie ruil?

Daarom het die Here twee aanklagte teen die volk. Vers 13:
Want twee wandade
het my volk gepleeg:
My, die fontein van lewende water,
het hulle verlaat
om vir hulle opgaarputte uit te kap –
gebarste opgaarputte
wat nie water hou nie.

Wanneer mens iets verruil, is jou aanname dat dit ‘n goeie ruil is. Die toekoms gaan nou nog beter wees as die verlede. Daar gaan nou meer sekuriteite en beter waarborge wees. Die dienste ontvang gaan nou soveel meer gunstig wees. Die nuwe prioriteite plaas ons op ‘n beter baan.

Ja, wie God verruil, doen dit altyd met die idee dat dit ‘n goeie ruil is. Maar dit is nie. Dit is selfmisleiding. Dit is dwaasheid. Hy wat sy lewe soek, sal dit verloor. Die loon van die sonde is die dood.

Wie van God wegdraai, dien nikswerd afgode en word self niks nie (5). Hulle dien afgode wat nie kan help nie (8). Hulle bou waterbakke wat gebars is en nie water kan hou nie.

Hoe verskriklik is dit nie. Vir ons en vir God. Dit is om God se Heilige Gees deur wie ons verseël is te bedroef. Dit is om die bloed waardeur ons gereinig is te vertrap. Dit is om Sy genade vergeefs te ontvang. Dit is om in goeie grond geplant te wees en reën te ontvang en dan dorings en distels voort te bring.

Vergeet gebeur ongemerk

Die ergste van vergeet is dat dit so ongemerk gebeur. Die volk vergeet die Here, verruil die Here, vernietig hulleself … en hulle weet dit nie.

Die verskriklikste is dat dit ook van ons waar mag wees, maar dat ons dit dalk nie weet nie. Juis omdat dit so ongemerk gebeur, roep die Here profete en priesters om die kerk te herinner. Die Woord van die Here kom tot hulle, spoor hulle aan om te sê: “Hoor die Woord!”

Dit is die Here se bedoeling dat ons moet onthou. God spoor ons aan om ons voortdurend te bekeer. Hy bedoel dat ons lewe omdat ons onthou.

God stuur ons om te leef

Prediking

Gebed: (Ahv Jeremia 2)
God van Abraham, Isak en Jakob;
God van Dawid, Amos en Jeremia,
my God:

U het nie gefaal om God te wees nie-
ek faal daagliks om U toegewyde en getroue volgeling in hierdie wêreld te wees;

Vir Israel het U deur die woestyn gelei,
deur ’n droë wêreld vol slote,
deur ’n dor land vol doodsgevaar,
deur ’n land waardeur niemand trek
en waarin geen mens woon nie.
U het hulle in ’n vrugbare land
gebring…

Op baie ander maniere het u ook vir my voorsien;
my van onheil bewaar,
my daaglikse brood gegee,
my lewe verryk met my gesin en familie en vriende!

U Here is my kosbaarste goed:
U wil ek vir niks verruil nie.
U is vir my die bron van lewende water.

Aan U die eer
Amen

Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën
Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.