Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Die klem in hierdie liturgie val op die verhouding tussen liturgie en lewe, tussen die doen van barmhartigheid en aanbidding. Aan die een kant word die sonde van aanbidding sonder sosiale geregtigheid uitgewys, maar aan die ander kant word God se seën wat rus op die doen van geregtigheid ook beklemtoon.

Fokusteks

Jesaja 58:9-14

Ander tekste

Psalm 103:1-8 (Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde);
Hebreërs 12:18-19 (Julle het nie by ’n tasbare berg gekom nie);
Lukas 13:10-17 (Bekeer julle; gelykenis van onvrugbare vyeboom; ’n genesing)

Jesaja 58:9-14
9Dan sal jy roep,
en die Here sal antwoord,
jy sal om hulp roep,
en Hy sal sê: Hier is Ek!
As jy sorg dat mense nie meer by jou
verdruk word nie,
nie meer gedreig
en vals beskuldig word nie,
10as jy jou wy aan dié wat honger het,
as jy voorsien in die behoeftes
van dié wat in nood is,
sal die lig vir jou skyn
wanneer dit donker is,
sal wat vir jou nag is,
word soos die helder middag.
11Die Here sal jou altyd deur lei;
selfs in dor streke
sal Hy in jou behoeftes voorsien.
Hy sal jou sterk maak.
Jy sal wees soos ’n tuin met volop water,
soos ’n fontein waarvan die water
nie opdroog nie.
12Jou mense sal die ou puinhope herbou,
die fondamente herstel
wat al geslagte lank bestaan.
Jy sal bekend staan as ’n volk
wat sy afgebreekte mure herbou,
wat sy strate herstel
sodat daar weer mense kan woon.
13As jy nie op die sabbat oortree nie,
op my heilige dag doen
net wat jy wil nie,
as jy die sabbat ’n vreugde noem,
as jy die heilige dag van die Here
in ere hou,
as jy dit eer deur nie jou gewone gang
te gaan nie,
nie te doen net wat jy wil nie,
en nie handel dryf nie,
14sal jy vreugde vind in die Here.
Ek sal jou die land
weer in besit laat neem,
Ek sal jou laat eet van die opbrengs
van die land van jou vader Jakob.
Ek, die Here, het dit gesê.

Eksegeties

John D W Watts lees Jesaja as ’n drama en dit maak verrassende nuwe deure oop vir die verstaan van die teks. Die “toneel” speel vir hom soos volg af: God (en sy Boodskapper) spreek vanaf die “upper level” of koninklike balkon en die Judese aanbidders en die nuwe koning (Artasasta, 465-424 vC) is die aanhoorders en lewer selfs ook repliek. Die saak ter sprake is: Julle aanbid soos “julle” wil en nie soos “Ek” wil nie! Hieronder is ’n uiteensetting van die “draaiboek”. (Dit is dus, gesien in die lig van ’n geheelprentjie, onmoontlik om net vers 9b-14 aan die orde te stel!)

Wie is aan die w(W)oord Vers Teks
Jahwe aan sy

Boodskapper

 

1, 2 1.  Die Here sê: Roep uit volle bors, moet niks verswyg nie! Laat jou stem hoor, duidelik soos ’n ramshoring! Wys my volk op hulle oortredinge, die afstammelinge van Jakob op hulle sondes.

2.  Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag. Hulle gee voor dat hulle ’n nasie is wat doen wat reg is en hulle aan die bepalings van hulle God hou. Hulle vra My wel om regverdige beslissings asof hulle van my teenwoordigheid hou.

Judese aanbidders 3a 3a. Hulle vra: “Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?”
Jahwe 3b-6 3b. Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk.

4.  Julle vasdae loop uit op twis en rusie, julle dam mekaar met die vuis by. Julle kan nie op hierdie manier vas en dan verwag dat julle gebed in die hemel verhoor sal word nie.

5.  Is dit ál wat Ek op ’n vasdag wil hê: net dat ’n mens homself verneder, dat hy sy nek buig soos ’n biesie en in sak en as sit? Noem jy dit ’n vasdag, ’n dag waarvan die Here hou?

6.  Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek?

Jahwe aan Juda 7 7.  Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ’n blyplek gee, dat wanneer jy iemand sonder klere teëkom, jy vir hom klere gee, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?
Aan Artasasta 8a 8a. Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag,
Aan Juda 8b 8b. jy sal gou herstel.
Aan Artasas 8c 8c. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom.
Aan Almal 9 9.  Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie,
Aan Artasasta 10-11a 10.  as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.

11a. Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak.

Aan Juda 11b 11b. Jy sal wees soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie.
Aan Artasasta

 

12 12. Jou mense sal die ou puinhope herbou, die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan. Jy sal bekend staan as ’n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon.
Aan Juda 13 13. As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat ’n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie,
Aan Artasasta en Juda 14a 14. sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob.
Boodskapper 14b 14b. Ek, die Here, het dit gesê. (Letterlik: Voorwaar, die mond van Jahwe het dit gespreek.)

Die situasie waarin Juda (na-eksilies) hom bevind, is dat alles nie so watwonders gaan nie. Hulle is uiteindelik terug in die land waarna hulle so verlang het, maar dit gaan haglik. Hulle het waarskynlik reeds ’n soort van tempel gehad en het met aanbiddingsgeleenthede begin, maar dit was vir hulle (en vir Jahwe) onverkwiklik en onbevredigend. Die volk wil doen wat hulle wil (lett: wat hulle plesier – v 3, חפץ), terwyl God iets anders wil hê (בחר) en van ander dinge “hou” (רצון) (v 5). Op sosiale vlak was die ekonomie onstabiel (Neh 5:1-8) en hoë belastings was aan die orde van die dag (Neh 5:4, 15). Die regering verdruk ook mense en dit het gelei tot allerhande opstandige optredes.

Vers 1: Die oortredinge en aanklag is die volk se eie wense en plesierighede wat belangriker geword het as God s’n. Die gevolg is twis en rusie (4), verdrukking (9) en onderlinge beskuldigings (pointing fingers).

Vers 2: Tog gee hulle voor dat hulle baie godsdienstig is.

Vers 3 en 4: Die een groot saak wat in hierdie gedeelte ter sprake kom is die vas. Die vasdae is aanvanklik uitgeroep sodat die val van Jerusalem betreur kan word. Dit is bedoel om as treur- en verootmoedigings-geleenthede te dien. Na die Ballingskap ontmoedig die profete die volk egter om te vas (Joël 2:13; Jer 14:12; Sag 7-8). Die vas as “treur” moet omgeskakel word in feestye . . . die aanvanklike gebruik van vas het vir Juda verander in iets waarvan die Here nie hou nie (v 3).

Die analise van die probleem is dat die volk wegkruip agter die “vas” as ritueel om sodoende God se guns te wen, of dan ten minste, om die seer en pyn van die hede te ontglip. Die tipiese uitspraak van Karl Marx dat godsdiens die “opium vir die volk” is, dat dit die verdowingsmiddel vir die volk word, is hier ter sprake.  Hulle wil die pyn van sosiale marginalisering en finansiële druk en slegte landsadministrasie verdoof deur agter die tempel se deure weg te kruip.

Hulle aksies korrespondeer nie met God se wense nie . . . en dit sit hulle “terug” waar hulle begin het (1:11-17). “In die bykans 300 jaar tussen vóór die ballingskap (740) en ná die ballingskap (465), het daar niks verander nie!” kan ’n mens Jahwe hoor sê.

Vers 5: Die vers lui die tora (reëls) vir behoorlike aanbidding in: dit begin en eindig by wat God wil hê . . .  nie net (en dis baie sarkasties gestel) “’n nekkie wat buig” en “in sak en as sittery” nie! Aanbidding het baie meer praktiese implikasies.

Vers 6: Drie sake is van belang ten opsigte van hulle aanbidding: Eerstens moet die onregverdiges bevry word. Die kern element van God se boodskap deur die eeue is: vrymaak (Ps 31:6). Die volk word aangemoedig om die juk af te haal van diegene wat verdruk word.

Vers 7: Tweedens moet brood aan die hongeriges uitgedeel word en derdens moet klere uitgedeel word. Eers dan is daar sprake van egte aanvaarbare aanbidding. Tradisioneel kon lede van die volk wat arm of broos of uitgelewer was hulle na familielede wend (vgl Rut). Die na-eksiliese volk is egter verskeur, vermoor en ontgogel, gesinne en families is verstrooi en . . . wie moet dan help? Die volk moet!

Vers 8: Die Persiese amptenare moet dit ook weet. As hy wat die land regeer die beskerming van Jahwe wil hê, moet hy ook die sosiale probleme aanspreek. Die taal wat gebruik word, is “uittog”-taal . . . die beskerming van God voor jou uit en agter jou (vgl die wolk- en vuurkolom)

Vers 9: Dan . . . As God se voorskrifte gevolg word . . . Let op; Die volgorde dui alles op God se soewereiniteit. Artasasta en die volk moet weet dat die volgorde is soos wat God dit voorskryf, nie andersom nie.

Vers 10: Die politieke leiers moet ook aan die hulpeloses aandag gee.

Vers 11: Jahwe sal hom dan lei sodat Juda voorspoed sal geniet. Soos ’n fontein sal die water uitborrel.

Vers 12: Die opdragte is aan Sirus (Jes 44:26; 45:13) en aan Darius gegee (Artasasta se oupa, Jes 49:8b-9a) en word nou met Artasasta bevestig. Hy sal die herbouer genoem word as hy doen soos die Here wil hê hy moet. Uit Esra 4:7-24; 7:1-28 en Nehemia 2:1-9 is dit duidelik dat Artasasta wel gehelp het met die herbouprogram.

Vers 13: Die vermelding ten opsigte van die Sabbatsonderhouding gaan oor die lojaliteit jeens Jahwe. Dit geld hier as ’n toets vir lojaliteit. Die “issue” is steeds: God se wil of ons s’n?

Vers 14: “As julle doen wat Ek vra, sal julle bekers oorloop”. Om die belangrikheid van die hele toneel te onderstreep net nog een ding: Die woorde is nie sommer net afkomstig van enigiemand af nie, maar dit kom van Jahwe self af! Dit kom uit sy mond!

Hermeneuties

Ons het hier te make met vroom mense, wat in die tempel is en tog is geweld, verdrukking en wedywering deel van hulle lewe. Hulle ontvang nie die vrede en seën van Jahwe nie, omdat hulle aanbidding net vertikaal geskied en nie die armes, verdruktes, hongeriges, weduwees en wese insluit nie. Hulle aanbidding het ’n aksie geword wat vir hulle reg sou voel. Hulle probeer skuil agter die “kerk”-deure. Hulle word opgeroep om anders te aanbid. “The kind of worship God will choose and honour is not ostentatious self-abnegation in fasting with much beating of breasts, but acts which overcome the problems”. Om God te behaag moet jy (i) verkeerd-hede erken, (ii) die wat dit doen stop en (iii) die slagoffers te hulp snel! As dit nie die voorspel tot aanbidding is nie, sal die seën wegbly. “Fasting in sorrowful memory of Jerusalem’s great catastrophe and as a symbol of humiliation before God became a problem when it failed to move one to look toward the future.” As vas, saam met hartseer oor sonde en vergifnis van sonde lei tot nuwe oplossings, kan dit bruikbaar en baie terapeuties wees. Indien dit net ’n doel op sy eie is, is dit steriel en kontraproduktief.

Verskeie invalshoeke is moontlik vir ’n preek. Die universaliteit van God se guns kon een wees. (Regeerders, selfs al is hulle nie gelowiges nie, word ook deur God aangespreek en gebruik.) ’n Volgende kan wees oor die soewereiniteit van God wat oor alles en almal regeer en ons rebellie teen Hom. Jy kan ook die diepte van aanbidding (worship) aan die orde bring. Die preekvoorstel hieronder is ’n poging om te laat blyk dat ware aanbidding ook te make het met die wêreld waarin ons leef, die mense wat ons pad kruis en wat ons so moeilik onder ons velle laat inkruip.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangswoord
Voorganger: As jy sorg dat die mense by jou nie meer verdruk word nie,
Gemeente: nie meer gedreig en vals beskuldig word nie,

Voorganger: as jy jou wy aan dié wat honger het,
Gemeente: as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is,

Voorganger: sal die lig weer vir jou skyn wanneer dit donker is,
Gemeente: sal wat vir jou nag is, word soos helder middag (uit Jes 58).

Wet
Lukas 13:10-17

Skuldbelydenis
Voorganger: Here, mense ly rondom ons, maar ons voel nie saam met hulle lyding nie.
Here, ons verontskuldig onsself maklik en ken nie ons sonde nie.
Gemeente: Here, wees ons genadig!

Voorganger: Here, ons leef vir ons eie belange.
Here, ons vergewe ander nie en betoon nie genade nie.
Gemeente: Here, wees ons genadig!

Voorganger: Here, ons wil so graag beter as ander wees.
Here, ons is so dikwels te gejaag en moeg om vir ander om te gee.

Gemeente: Here, wees ons genadig!
Voorganger: Here, ons luister nie in liefde na ander nie.
Here, ons motiewe is dikwels so liefdeloos en ons agendas so verskuil.
Gemeente: Here, wees ons genadig!

Lied

Toetrede: Lied 526 “Die werk behoort aan U, ons Heer”
Woordbediening: Lied 247 “Heer, wees ons genadig”

Familie-oomblik

Die basiese betekenis van die teks – dat God meer hou van hoe ons ander mense hanteer, as wat ons in die kerk of op Sondae (sabbat) doen – is iets wat kinders kan verstaan.

Jy sou daarom ’n verhaal kon vertel van hoe ’n familie sukkel om almal betyds by die kerk uit te kom.  Brei uit oor skoene wat weg is, omdat ma se opdrag dat dit gebêre word, nie uitgevoer is nie.  En kinders wat nie kan besluit wat hulle wil aantrek nie, en met mekaar stry om eerste in die badkamer te wees, en kla omdat hulle kon eet nie, al vergeet hulle dat hulle te laat bly lê het, ens.  En pa wat in die motor wag en baie vies is dat die kinders nie klaarkry nie.  En so kom almal by die kerk aan, vies vir mekaar, en sommer net boos vir mekaar.

Vra dan hoe hulle dit gaan regkry om die erediens te geniet, en die Here se stem te hoor.  Nie maklik nie.

En as hulle terugry huis toe en bly krap aan mekaar en aanhou lelik is met mekaar?
En kla oor alles, die preek, die sang, en hoe lank dit alles was? Het dit dan enigsins gehelp dat hulle by die kerk was?  Die antwoord is natuurlik, nee.

Vertel dan in jou eie woorde die inhoud van Jesaja 58:13, en fokus op hoe ’n mens ander mense moet hanteer, nie net op Sondae nie, maar regdeur die week.  Om die Here lief te hê, begin by hoe jy die mense om jou hanteer.  Sluit af met Jesaja 58:14, en brei uit op hoe ’n mens se hart oop raak vir God se teenwoordigheid, en dit jou met vreugde vul, as jy met liefde en deernis teenoor ander mense, veral jou familie, optree.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Audrey Hepburn
Die volgende is deur Audrey Hepburn geskryf toe sy versoek is om “skoonheidwenke” te gee.”
“For attractive lips, speak words of kindness.
For lovely eyes, seek out the good in people.
For a slim figure, share your food with the hungry.
For beautiful hair, let a child run his or her fingers through it once a day.
For poise, walk with the knowledge that you never walk alone.
People, even more than things, have to be restored, renewed, revived, reclaimed and redeemed; never throw out anyone.
Remember, if you ever need a helping hand, you’ll find one at the end of each of your arms. As you grow older, you will discover that you have two hands, one for helping yourself, the other for helping others.
The beauty of a woman is not in the clothes she wears, the figure that she carries, or the way she combs her hair. The beauty of a woman must be seen from in her eyes, because that is the doorway to her heart, the place where love resides.
The beauty of a woman is not in a facial mode, but the true beauty in a woman is reflected in her soul.
It is the caring that she lovingly gives the passion that she shows.
The beauty of a woman grows with the passing years.
If you share this with another woman, something good will happen — you will boost another woman’s self esteem, and she will know that you care about her.” 

Na jare in die kollig en as een van die vroue wat wêreldwyd bewonder is vir haar skoonheid en later ook wyd erkenning geniet het vir haar liefdadigheidswerk,  het sy verstaan dat fisiese skoonheid letterlik net so diep soos die heel boonste laag van jou vel lê. ‘n Lewe wat ‘n verskil maak en een wat ander raaksien en omgee, is ‘n mooi lewe.

God kies Israel…

Deuteronomium 7 7“Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.”

God het Israel ook nie gekies vir hul fisiese voorkoms en gelaatstrekke nie. Hy het hulle gekies om tot seën vir die wêreld te wees op grond van sy liefde en vrye genade, geen ander rede nie. Hulle moes die lig van God se teenwoordigheid weer laat skyn, nadat dit feitlik uitgedoof is met die arrogansie van die mensdom by die Toring van Babel. Hul uniekheid sou lê in hul verhouding met God, hul verhouding met mekaar en hul gehoorsaamheid aan God se bevele.

In Deut gee Moses uitvoerig opdragte aan Israel wat hulle getrou moet nakom. In Deut 10:16-19 kom die volgende voor: “Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie. Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie. “Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte.”

Later in Deut 15 gaan dit oor die afskryf van skuld elke 7de jaar en in  vers 4-5 staan daar: “As jy maar net luister na die Here jou God en gehoorsaam is aan al hierdie gebooie wat ek jou vandag gee en daarvolgens lewe, sal daar nie ’n arme onder jou wees nie, want die Here sal jou baie voorspoedig maak in die land wat Hy jou gee om as jou eie te besit.”  In vers 11 sluit hierdie gedeete af met: “Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor jou mede-Israeliet wat in nood is en arm is.”

Vrygewigheid, reg en geregtigheid was eienskappe van God wat Hy in sy volk gedupliseer wou sien. Hierdie was nooit suggesties nie, maar direkte opdragte van God. As jy in die teenwoordigheid van hierdie God wil leef, moet jy sy bevele gehoorsaam. God gee nie sy gesag prys nie en Israel moet dit baie duidelik hoor. As hulle in sy teenwoordigheid wil leef en aanspraak maak op sy beloftes, moet hulle hulself onderwerp aan sy beslissings en oordeel en hul lewens daarby aanpas. Toewyding aan God moet dieper as voorgee gaan, moet meer inhoud as die regte sinne en woorde op sekere tye hê en die dade kan nie vassteek in vas alleen nie.

Femur

http://www.flickr.com/photos/farmdog/490732871/

Iemand het eendag vir die antropoloog Margaret Mead gevra wat die vroegste teken van beskawing in enige kultuur sou wees. Hy het gemeen die antwoord sou iets wees in die lyn van ’n kleipot of ’n vishoek of ’n maalsteen. Haar antwoord was dat dit ’n femur, dybeen, sou wees wat genees het. Sy het verduidelik dat ’n femur wat genees het, in die “surival of the fittest”-reël van die oerwoud, beteken dat een persoon ’n ander, wie se dybeen gebreek was, se jag- en versorgingstaak oorgeneem het totdat die ander een se femur kon aangroei en genees. Die bewys van “compassion” is die eerste teken van beskawing.

Hierdie opmerking van Mead laat ʼn mens nogal dink oor die samelewing waarin ons woon. God se probleem met Israel was juis dat hulle weer die “Survival of the fittest”-reël wou terugbring. Die omgee-beginsel wat in die grondwet van God se volk vasgebou is, was vir hulle nie meer van toepassing nie. In Deuteronomium  herinner God hulle voortdurend dat hulle die swak klein volkie is wat alleenlik op grond van sy genade kan oorleef. Hulle het nie ʼn kans teen die groter volke gestaan as God nie as hul beskermer opgetree het nie. God gebruik sy mag en soewereiniteit om hulle te laat oorleef, as dit om Survival of the fittest gegaan het, was hulle nie eers meer op die aardbol nie.

Ons vergeet makllik dat dit net genade is wat ons gered het. God het toegetree tot ons situasie juis omdat Hy ons lief het en daarom verwag Hy van ons om ander wat swak of arm is te help, slegs op grond van liefde. Die Koninkryksreël is om jou naaste lief te hê soos jouself. Volgens die Bybel staan hierdie gebod gelyk daaraan dat jy God bo alles moet lief hê. Kerkmense kan maklik moraliseer en ander se ongeluk aan hul eie toedoen of sonde toedig, sonder om werklik die persoon en sy omstandighede te probeer verstaan. Ons kan maklik met Bybel in die hand vir ons forte bou, sodat ons nie regtig meer saam met ander kan treur en ʼn helpende hand kan uitsteek  nie.

Die Burger

Amanda Gouws skryf in ʼn artikel in Die Burger van 26 Julie 2010 oor ʼn foto op die voorblad van  ʼn koerant van ʼn dooie pasgbore baba wat deur haar ma verbrand is, en vra dan, “Wat maak ʼn ma so desperaat om ʼn hulpelose kind aan die brand te steek?” As ʼn ma van twee dogters, weet sy hoe sterk die beskermingsdrang in haar was met haar kinders se geboorte. Iewers was iets drasties verkeerd.

Ons kan die ma veroordeel en aandring dat sy vir ewig toegesluit moet word en ons sal seker genoeg morele gronde daarvoor kan aanvoer en in ons eie gemoed die saak daarmee afhandel.

Amanda Gouws gaan egter verder en vra, “Waar is die pa van hierdie kind – die afwesige pa? Hoe kan ons mans toelaat om kinders te verwek en dan geen verantwoordelikheid vir hulle aanvaar nie?  Hoeveel kinders word nie deur verkragting in hierdie land met sy afskuwlike verkragtingsyfer verwek nie?

Kan ons iets soos verskrikliks soos hierdie isoleer van die sosiaal-ekonomies omstandighede van sekere vroue se beperkte omstandighede om keuses rondom hul seksualiteit uit te oefen? Selfs iets soos aborsie kan nie in isolasie van hierdie en ander dringende vrae bespreek word nie. Wat sal die situsie wees as daar genoegsame voorgeboorte-, moeder-, babasorg is? Geslagsvoorligting en universele gesondheidsorg, moet deel van die bespreking wees. In plaas van veroordelend op ʼn afstand staan, moet die kerk ook deel van praktiese oplossing wees vir probleme soos hierdie. Hoekom was hierdie vrou alleen in haar desperaatheid? Wat van honderde ander soos sy, wie is daar vir hulle?

Armoede, ongeletterheid, misdaad, vigs, ens. hou almal met mekaar verband. Wil ons werklik elke misdaad isoleer van die breër prentjie en die skuldiges veroordeel, sonder om ook betrokke te raak by grondverskuiwende denke en oplossings in ons samelewing? Wil ons die gevangenes van armoede, wat nie gekies het om daar te wees nie, verder in hul hulpeloosheid en hooploosheid veroordeel en hulle ook isoleer van die liefde wat God aan hulle wil gee? Die opdrag in vers 7 is dat ons “elke juk wat op mense druk sal afhaal, om verdruktes vry te maak en om elke jul te breek.”

Die Wet van die Koninkryk

As ons dink die situasie is te erg, die nood te groot en ons te swak, reageer die Here weer met die belofte dat as ons werk maak van die nood, die dakloses, die wat honger is, die wat nie klere het nie kan ons op sy hulp en leiding staat maak. Ons mag nie ons medemens eenvoudig aan sy lot oorlaat nie sê vers 7. Die wet van die Koninkryk is nie “survival of the fittest” nie, maar dit is om prakties jou naaste, die een in nood, lief te hê, om te gee en prakties betrokke te raak.

Audrey Heburn sê hierbo: “People, even more than things, have to be restored, renewed, revived, reclaimed and redeemed; never throw out anyone.” Die opbou van ons land sal nie in die eerste plek geskied deur net die herstel van infrastruktuur en ander groot bouprojekte nie,  dit sal alleenlik die moeite werd wees om al daardie biljoene rande te spandeer as ons in die eerste plek by die mense begin. Dan sal die mense weer die puinhope herbou, die fondamente herstel, die afgebreekte mure herbou en die strate herstel sodat daar weer mense kan woon (vers 12).

Die kerk kan nie veel aan die sekondêre werk van infrastruktuur-herstel doen, dis nie ons spesialisveld nie, maar op die primêre vlak van mens-herstel behoort ons die kundiges te wees. Ons is dié wat deur God bemagtig is om ʼn verskil te maak. Die vaardighede vir mens-herstel word deur die Gees in ons gestort, daarom kan ons nie meer ons eie gang gaan nie, maar moet ons volg waar Hy ons lei.

Israel se Sabbat

http://www.flickr.com/photos/johnwilliamsphd/3296890420/

Die Sabbat was bedoel om mense van hul gewone gang van elke dag te stop, hulle te laat dink oor hul eie doen en late. Die dag was bedoel om almal weer in lyn met die wet van die Here te bring en om mense kans te gee om weer hul verhouding met die Here te herstel. Ons het dringend nodig om ook ʼn slag te stop en terug te staan en ons lewens te ondersoek. Ons kan baie maklik immuun teen die oorweldigende nood in ons land raak. Ons het nodig om ons harte oop te maak, sodat die Gees ook daarin herstelwerk kan kom doen. Elkeen weet dat dit nogal gevaarlik kan wees, want God mag dalk vir my ʼn nuwe sensitiwiteit vir ander gee.

Die Here seën die land deur die hande van sy kinders, lig word in donker situasies ingedra deur die voete van gehoorsame gelowiges en daar verskyn weer glimlagte op mense se gesigte wanneer die Christene werklik hul vreugde in die doen van die wil van die Here vind!

  1. God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

Dankbaarheid
Voorganger: Ek wil die Here loof
Gemeente: met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.

Voorganger: Ek wil die Here loof
Gemeente: en nie een van sy weldade vergeet nie.

Voorganger: Dit is Hy wat my sonde vergewe,
Gemeente: wat al my siekte genees,

Voorganger: wat my red van die graf
Gemeente: en my met liefde en ontferming kroon.

Voorganger: Wat my die goeie in oorvloed laat geniet,
Gemeente: my die jeugdige krag van die arend skenk.

Voorganger: Wat my die goeie in oorvloed laat geniet,
Gemeente: Die Here laat geregtigheid en reg geskied aan almal wat verdruk word.

Voorganger: Ek wil die Here loof (Ps 103).

God stuur ons om te leef

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.