Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie erediens vind plaas tydens die seisoen van die skepping. Predikers wat die teks by die seisoen van die skepping wil laat aansluit, kan gerus Ernst Conradie se oorsig in die Riglyne vir prediking volgens die kerklike jaar 2011, uitgegee deur Bybelmedia, lees en benut.

Ander tekste

Genesis 2:4b-22 (’n Ander kykie op die skepping: mens en natuur in verhouding met mekaar gebring)

Die mens in die tuin
Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, 5was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie ’n mens om die grond te bewerk nie. 6Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. 7Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ’n lewende wese geword het.

8Die Here God het toe ’n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. 9Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.

10Daar het ’n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword. 11Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. 12Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. 13Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus. 14Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.

15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. 16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

18Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

19Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.

20Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ’n helper, ’n gelyke, gekry nie. 21Toe het die Here God ’n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ’n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, 22en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ’n vrou en bring haar na die mens toe.

Psalm 139:13-16 (Die mens se lof-antwoord, verwondering, op sy skepping deur God)
13U het my gevorm,
my aanmekaargeweef
in die skoot van my moeder.
14Ek wil U loof,
want U het my
op ’n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering.
Dit weet ek seker:
15geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is
waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is
diep in die moederskoot.
16U het my al gesien
toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in u boek
opgeskrywe
nog voordat ek gebore is.

Handelinge 17:22-28 (God gee aan almal lewe en asem en alles).
22Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ’n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ’n onbekende god.’

“Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’

Fokusteks

Johannes 3:1-16
Jesus en Nikodemus
3 Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”

3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”

5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

9Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”

10En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. 14Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

RUS

Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

God versamel ons voor Hom

Litanie oor die begin
Voorganger: Die Here God het stof van die aarde geneem en die mens gevorm.
Hy het asem wat lewe gee in sy neus geblaas,
en die mens het begin lewe.

Gemeente: Loof die Here wat lewe gee
en nuut met die aarde en die mens begin.

Voorganger: Die Here God het gesê:
Dis nie goed dat die mens alleen is nie.
Ek sal vir hom iemand maak
wat hom kan help, sy gelyke.
Hy het stof van die aarde geneem en al die wilde diere en voëls gevorm.
Onder al die diere en voëls het die mens nie ’n maat, sy gelyke, gekry nie.
Die Here God het toe ’n vrou gemaak wat by die man pas, sy gelyke (uit Gen 2:4b-22).

Gemeente: Loof die Here:
Hy skep dier, mens en plant
uit dieselfde stof –
die stof van die aarde.
Loof die Here: wat natuur, God en mens
so aanmekaar verbind. (Uit Preekstudies 2010 en 2011 p256)

Loflied 464 “O Heer my God 1,2”

Verootmoediging
In aansluiting by die seisoen van die skepping kan ons weer blaai deur die Genesis weergawe van die oorsprong van alle dinge, naamlik deur die hand van die lewende God (al weet ons nie altyd presies hoe nie).

Genesis 2:4b-22 (’n Ander kykie op die skepping: mens en natuur in verhouding met mekaar gebring)

Die mens in die tuin
Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, 5was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie ’n mens om die grond te bewerk nie. 6Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. 7Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ’n lewende wese geword het.

8Die Here God het toe ’n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. 9Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.

10Daar het ’n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword. 11Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. 12Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. 13Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus. 14Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.

15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. 16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

18Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

19Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.

20Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ’n helper, ’n gelyke, gekry nie. 21Toe het die Here God ’n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ’n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, 22en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ’n vrou en bring haar na die mens toe.

Belydenis van God se sorg: Lied 509 “Op berge en in dale vs 1,2,3,4”

Aan die ander kant het hierdie volmaakte skepping ernstige gebreke deur die uitbuiting en misbruik van die mensdom. Die hele skepping is immers deur die sonde aan verydeling onderworpe. Hieroor skryf Paulus soos volg:

Romeine 8:18-25
Die heerlikheid wat kom

18Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

Skuldbelydenis: Lied 231 “Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,2,3,4”

HOOR

Epiklese

Skriflesing: Johannes 3:1-16

Preek

LEEF

Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader,
die Skepper van die hemel en die aarde,
en van alle sienlike en onsienlike dinge;
en in een Here, Jesus Christus, die eniggebore
Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;
(God uit God) Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige
God, verwek, nie gemaak nie, een in wese
met die Vader;
deur wie alle dinge ontstaan het;
wat ter wille van ons, die mense, en ter wille
van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel,
vlees geword het deur die Heilige Gees uit die
maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir
ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely en
begrawe is; en op die derde dag opgestaan het
volgens die Skrifte;
wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die
regterhand van die Vader;
wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel
dié wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, wie
se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;
en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker,
wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam
met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik
moet word, wat gespreek het deur die heilige
profete.
Ons glo aan een heilige, algemene kerk, gegrond
op die leer van die apostels.
ons bely een doop tot vergifnis van sondes;
ons verwag die opstanding van die ontslapenes,
en die lewe van die toekomstige eeu. Amen.

Wegsending

Lied 510 “Genade onbeskryflik groot vs 1,2,3,4”

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Dié God wat nuut begin met natuur, mens en dier.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

F5. “Daar Is Geen Grens” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklike titel: The Steadfast Love
Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling 2005 Faani Engelbrecht
© 1974, 1975 Celebration
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Klaagliedere 3:22,23)

1. Daar is geen grens aan U guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is U trou, o Heer, my God;
groot is U trou, o Heer.

F144. “God Is Liefde”  
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Kersfees / Epifanie, lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: AP van der Colf (c) NGKU
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21; Rom 5:1-11; Joh 3:16)

God is liefde
Juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Die verhaal van die kandelaar (menora)
a. (Die doel van die vertelling is om aan die hand van die simboliek van die kandelaar die skeppingsverhaal te vertel.)

Volgens ’n bepaalde Joodse oorlewering vertel en verbeeld die kandelaar met sy sewe arms (lugters) die verhaal van die skepping.

Volgens die Arabiese leeswyse, van regs na links, word die kerse ook van regs na links aangesteek. Telkens op die Sabbat word vir elke dag van die week ’n kers aangesteek. As die eerste drie kerse brand volg daar ’n kort stilte om na te dink oor die dae en dade van God. Die middelste kers word oorgeslaan, omdat dié kers die sewende dag of te wel die Sabbat uitbeeld. Hierna word die drie kerse (weer van regs na links) vir die volgende drie dae van die skepping, aangesteek. Hierna volg daar weer ’n kort stilte. Dit is asof alles en almal asem ophou om die sewende dag, die dag van die Here, te vier: die dag waarop alles en almal weer, na ses werksdae, asem kan skep. Nou eers word die sewende kers, die een in die middel, aangesteek. Dit verbeeld die Sabbat, maar ook die verbondenheid van die aarde met God.

Grafika van menora.
Foto geneem deur nozoomii (This photo was taken on June 2, 2007 in Berlin, Berlin, DE, using a Panasonic DMC-FZ50.)
Creative Commons Licensed: You are free:
to Share — to copy, distribute and transmit the work
to Remix — to adapt the work
Under the following conditions:
Attribution — You must attribute the work in the manner specified by the author or licensor (but not in any way that suggests that they endorse you or your use of the work). 
Noncommercial — You may not use this work for commercial purposes.

b. (Die doel van dié beeld is om die verbondenheid tussen God – mens, dier en natuur in te skerp.)
Kyk ons na die getalstruktuur van die kandelaar 3 – 1 – 3 sien ons ook die beeld van ’n weegskaal. Wanneer ons die dae heilig, word die weegskaal van die skepping, die verbondenheid tussen God – mens, dier en natuur in balans gehou totdat God uiteindelik alles en in almal sal wees.

Preekriglyn

‘n Kategeet wou vir die sesjariges in sy groep verduidelik wat met mens moet gebeur om die ewige lewe te beërwe. Om uit te vind wat die kinders oor dié onderwerp weet, vra hy toe ‘n paar vrae: “Sê nou ek verkoop my huis en my motor, hou ‘n groot straatverkoping, en ek gee al my geld vir die kerk, sal dit vir my die ewige lewe gee?”
“Nee,” sê die kinders uit een mond. Die kategeet skep moed.
“Sê nou ek maak die kerkgebou elke dag skoon, sny die gras, en hou alles skoon en netjies. Sal dit my in die ewige lewe kry?”
“Nee,” kom die antwoord weer.
“Sê nou ek gee baie om vir diere, gee elke dag lekkers vir kindertjies, en is baie lief vir my vrou. Sal dit my in die ewige lewe kry?”
“Nee,” skree die klas.
“Wel, hoe kry ek dan die ewige lewe?”
‘n Seuntjie in die agterste ry staan op en roep: “Jy beter doodgaan!”
Klein soos hy is, het dié outjie verstaan: Ons kan nie die ewige lewe verwerf nie – die ewige lewe word van Bo af aan ons geskenk. Dit kom soos ‘n nuwe geboorte, ‘n oor-geboorte. Mens kies nie om gebore te word nie. Jy ontvang jou geboorte. Dieselfde met die wedergeboorte. Jy genereer dit nie self nie. Dit kom van God, en dit word aan ons geskenk, aan ons gedoen. Kortom: ons bewerk dit nie, ons ontvang dit van Bo af.

Nikodemus in die nag by Jesus

Die toneel vir die aangrypende gesprek oor wedergeboorte is ‘n nagtelike besoek van Nikodemus aan Jesus.

Van Nikodemus weet ons ‘n paar dinge. Hy was ‘n Fariseër en ‘n lid van die Joodse Raad (3:1). Wanneer die Fariseërs en die priesterhoofde Jesus later gevange wil neem, tree Nikodemus vir Jesus in die bresse (Joh. 7:50v). Hy bring ook middele om Jesus se liggaam te versorg tydens sy begrafnis (Joh. 19:39). Mens kan aanneem dat Nikodemus teenwoordig was toe die Joodse Raad Jesus verhoor het. Hoewel hy duidelik respek vir Jesus gehad het, en Hom as leermeester hoog geag het, tree Nikodemus egter nie tydens sy verhoor vir Jesus in nie.

Die nagtelike besoek aan Jesus is uit diepe respek en bewondering gebore: “Rabbi, ons weet dat u ‘n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens wat u doen, as god nie by hom is nie” (3:2).

Moontlik kom Nikodemus in die nag om nie gesien te word nie. Die ander moontlikheid is dat hy kom om die moontlikhede van ‘n strategiese bondgenootskap met Jesus te ondersoek. Onder die Fariseërs was daar groepe wat die Fariseërs as godsdienstige beweging wou vernuwe. Nikodemus kon een wees. Hy kom om moontlike inisiatiewe te ondersoek. Jesus lyk na ‘n natuurlike bondgenoot.

Jesus se agenda

Jesus verstaan sy eie identiteit en taak. Hy is helder oor wie Hy is en waarvoor Hy gekom het.

Nikodemus soek ‘n aanknopingspunt en wil heimlik samewerking tussen sy agenda en Jesus se missie bevorder. Dit is vir hom duidelik dat Jesus van God kom, en ‘n belangrike leermeester is. Jesus kan die agenda van die Fariseërs, selfverbetering, wetsonderhouding, ‘n kragtige hupstoot gee.

Jesus onderbreek hom as’t ware dadelik. Die agenda is ‘n nuwe geboorte uit die Gees van God wat hoop bring vir die wêreld. Dit is die voorwaarde vir deelname aan die werk wat God doen. Menslike pogings om teen ‘n leer op te klim na God toe, gaan nie werk nie. Die nuwe lewe kom van bo af, deur die kragtige werk van die Gees van God.

God maak ‘n radikale nuwe begin

Ons naeltjie is ‘n teken van ons geboorte. Daar het die lewegewende naelstring ons gevoed toe ons in die baarmoeder gevorm is. God neem mense en maak ‘n nuwe begin met hulle deur ‘n tweede geboorte, ‘n wedergeboorte, van Bo af, deur die kragtige werk van God.

Ons kry ‘n nuwe, tweede naeltjie. (Grafika van 2 naeltjies se bron onbekend)

Jesus sê: “As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (3:3) Dit verstom Nikodemus, wat wonder hoe mens ‘n tweede naeltjie kan kry. Jy kan tog nie weer ‘n draai in die moederskoot maak nie?

Jesus verduidelik dan dat weergebore beteken om “van bo af” gebore te word. Van bo af gebore geskied deur die werk van die Gees wat van bo af die nuwe lewe in mense skep.

Jesus se eie geboorte

NT Wright, Nuwe Testamentiese geleerde, wys daarop dat Johannes 1 en 3 saamgelees moet word. Die nuwe geboorte, van bo af, wat Jesus in hoofstuk 3 vir Nikodemus uitspel, hang saam met Johannes 1. Daar word vertel dat die Woord vlees geword het. Die Woord, wat van ewigheid daar was:

… het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. (1:14)

Hierdie Woord, wat as mens gebore is, maak dit vir mense moontlik om as kinders van God – van bo af – gebore te word:

Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore. (1:12-13)

Jesus word uit ‘n maagd, Maria, gebore. Die maagdelike geboorte is wesenlik vir ons verstaan van die geboorte van bo af. Dat Jesus nie uit ‘n man se tussenkoms verwek is nie, maar uit die Gees, is die prototipe van ons eie geboorte van bo af, deur die werk van die Gees.

God maak ‘n nuwe begin

Baie moderne gelowiges wil nie – spreekwoordelik – met ‘n tang aan die maagdelike geboorte vat nie. Volgens hulle gebeur maagdelike geboortes nie. Ons beskik tog oor die moderne wetenskap.

Mense was nie 2,000 jaar gelede onkundig oor die feite van die lewe nie. CS Lewis skryf die rede waarom Josef bekommerd was oor Maria se swangerskap was nié omdat hy onkundig was oor waar babatjies vandaan kom nie. Hy was bekommerd want hy het geweet waar babas vandaan kom.

NT Wright sê: Die vreemde verhaal dat Jesus verwek is sonder ‘n menslike vader is regtig vreemd, spesifiek binne die Joodse tradisie. Die verhaal van die maagdelike geboorte is reeds 2,000 jaar gelede só blootgestel aan beskuldigings dat Christene heidense mites naboots, dat dit hoogs onwaarskynlik is dat Matteus en Lukas dit so vroeg in die Christelike tradisie sou fabriseer.

Steeds Wright:

The virginal conception speaks powerfully of new creation, something fresh happening within the old world, beyond the reach and dreams of the possibilities we currently know. And if we believe that the God we’re talking about is the creator of the world, who longs to rescue the world from its corruption and decay, then an act of real new creation, anticipating in fact the great moment of Easter itself, might just be what we should expect, however tremblingly, if and when this God decides to act to bring this new creation about.

Jesus se wonderbaarlike geboorte is ‘n kragtige teken van God se nuwe begin in ons wêreld: “In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense” (1:4).

Besware teen die maagdelike geboorte is nie regtig ten diepste wetenskaplike besware nie. Dit strek veel dieper. Indien Jesus uit ‘n maagd gebore is, begin ‘n totale nuwe wêreld met Jesus se geboorte en Jesus se werk. Hierdie nuwe wêreld, wat die geboorte van bo af van die ou wêreld insluit, het alles met ons keuse vir of teen Jesus te doen. Dit het met ‘n keuse vir geboorte of vir dood te doen, wat met Jesus saamhang. Om Jesus se maagdelike geboorte te ontken, is om te probeer ontsnap aan die absolute betekenis van ons eie nuwe geboorte waarvan Jesus in Johannes 3 praat.

God maak ‘n nuwe begin … in ons

In die menslike geboorte van die Woord maak God ‘n nuwe begin in sy ou wêreld. Daar kom lewe, lig en hoop deur die geboorte van die Woord.

In Johannes 3 verduidelik Jesus wat dit vir mense beteken. Op grond van ons eerste geboorte het ons deel gekry aan die wêreld. Die krisis van hierdie vleeslike bestaan is dat ons oë toegegaan het vir die werklikheid van God en vir die kragtige werke van God, die regering van God, die koninkryk van God.

Die geboorte van bo af, wat deur die werk van die Gees aan ons geskenk word, maak dit vir ons moontlik om die koninkryk van God te sien (3). Ons moet weer gebore word om in die koninkryk van God te kom (5).

Daar is hoop vir hierdie wêreld. Die nuwe skepping word ingelui met Jesus se koms na die aarde. ‘n Maagd word swanger deur die Gees. Hierdie nuwe skepping word in ons voltrek wanneer ons deur die Gees nuut gebore word op grond van die werk van Jesus.

God maak ‘n nuwe begin … deur ons

Eers as ons so “nuut begin” is – van buite af – kan ons regtig beplan, dink en doen, want dan sien ons met nuwe oë. Ons “sien” God se koninkryk, al is dit net veraf, in onsself en ons wêreld en ons is nie meer gevangenes van ons selfsug, hebsug en trots nie. In hierdie nuwe lewenssfeer leer ons God se liefde ken en uitleef (soos dikwels in Johannes gesê word), hierdie liefde wat die wortel van die hele skepping is en dit steeds onderhou. Ons staan nie skielik buite die wêreld nie, maar ons werk soos God se Gees en deur die Gees in die wêreld.

Sonder hierdie radikale nuwe begin, pootjie ons tekortkoming ons telkens, selfs as ons dit baie goed bedoel. Omdat mense menslik bly, kan ons onsself nie help nie. Trouens, selfs wedergebore christene moet, soos Efesiërs 4 ons herinner, telkens weer “ons nuwe mens aantrek”: Ons moet terugkeer na die beginpunt, waar ons hulpeloos is en bekragtig word deur die Heilige Gees. Anders word ons, wat meen dat ons leermeesters vir ander kan wees, soos Nikodemus ontmasker as kinders wat nog nie die ABC ken nie.

Wat moet ons doen?

Ons kan onsself nie red nie. Ons het nodig om daagliks ons leë hande uit te steek na God en vir God se vernuwende werk in ons lewens te vra. So leer Jesus ons. Aan diegene wat Jesus se getuienis aangeneem het, “het Hy mag gegee om kinders van God te word” (Joh 1:12).

Kinders word tog geleidelik groot en volg in hulle Vader se voetspore. Stelselmatig kry hulle ook meer verantwoordelikhede in hulle Vader se onderneming. Dan kan ons enersyds ophou om deel van die probleem in ons wêreld te wees. Andersyds kan ons ons toewy aan God se wêreld, God se koninkryk, waarvan ons deel is. Dit is dan geen opoffering meer nie en ook geen poging tot selfverbetering nie, want wat ons doen, doen ons in die vertroue dat dit God is wat in ons werk en dat God dit met ons en die ganse skepping goed bedoel.

God maak inderdaad ‘n nuwe begin … met ons en met ons wêreld.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.