Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Nagmaal as sakramentele deelname aan die lewe in Christus is wesenlik deel van die Christendom-verhaal. Aan die hand van Johannes 6 sal die gemeente vir twee Sondae verder deur hierdie geheimenis gevorm word.

Vandag se liturgie speel uit teen die agtergrond van die gemeente se ervaring van die sorg van God (Joh 6 en Ps 111). Die liturgie vra na die gemeente se verstandigheid (1 Kon 2-3; Ef 5) en roep almal opnuut op tot eerbetoon en danksegging (Ps 111; Ef 5). Die erediens sal die gees adem van mense wat aan die heilige geheimenis van God deelneem (Joh 6).

Ander tekste

1 Konings 2:10-12, 3:3-14
10Dawid is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad. 11Die duur van sy regering oor Israel was veertig jaar. In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem drie en dertig jaar. 12Salomo het sy pa se troon bestyg en ’n stewige houvas op sy koningskap gekry.

13Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: rykdom en aansien, sodat daar onder die konings niemand soos jy sal wees solank jy leef nie. 14As jy jou in jou optrede hou aan my voorskrifte en gebooie soos jou vader Dawid gedoen het, sal Ek jou ook nog ’n lang lewe gee.”

Psalm 111
111 Prys die Here!
Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes,
in die gemeente.
2Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind,
dink daaroor na.
3Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
4Hy sorg dat sy magtige dade
nie vergeet word nie.
Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.
6Hy het sy volk die krag van sy dade
laat ervaar,
Hy het aan hulle die land
van ander nasies gegee.
7Wat Hy doen, getuig van trou en reg,
al sy voorskrifte staan vas,
8hulle is vir altyd geldig,
hulle is gegee in trou en regverdigheid.
9Hy het vryheid vir sy volk bewerk,
sy verbond vir altyd ingestel.
Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.
10Wysheid begin
met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd
stand.

Efesiërs 5:15-20
15Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. 17Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

18Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. 20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

Fokusteks

Johannes 6:51-58
Die Jode verstaan nie Jesus se woorde nie
41Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”

43Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie. 44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 45By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ‘n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie.

51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

52Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”

53Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 55My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. 58Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.”

59Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.

Ekstra stof

Johannes 6:1–71 – God gee geloof wat vir altyd hou
‘n Mens sien in hoofstuk 6-7 hoe ‘n digte verhaal Johannes vir ons vertel – alles het met alles te make. Die verhaallyn is as volg:

  • Jesus doen die broodwonder wat Sy gestuurdheid en goddelikheid bevestig – 6:1-15.
  • Jesus loop op die see wat ‘n opening skep om verder met die skare oor die betekenis van die broodwonder te kan gesels – 6:16-21.
  • Jesus verduidelik dat Hy die brood van die lewe is en dat mense op Hom moet fokus – 6:22-40.
  • Die Jode verstaan nie Jesus se woord nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê – 6:41-59.
  • Selfs onder Jesus se dissipels is daar mense wat nie glo nie – 6:60-71.
  • Jesus se broers vind dit ook moeilik om in Hom te glo 7:1-9.
  • Jesus leer die mense by die huttefees dat Hy die Christus is, dat Hy moet ly, maar die Gees sal gee vir elkeen wat in Hom glo – 7:10-39.
  • Dit lei tot verdere meningsverskil oor Jesus en ongeloof by die Joodse leiers – 7:40-52.

6:1-15: Die verhaal van die broodvermeerdering word in al die evangelies vertel, wat aandui dat dit ‘n belangrike perspektief op Jesus se bediening gee (Matt 14:13–21; Mark 6:30–44; Luk 9:10–17), soos Jesus inderdaad die volgende dag uitspel. Dit vind plaas net voor ‘n Paasfees aan die oorkant van die See van Galilea (by Tiberias – die dorpie is in 22 nC gebou en het mettertyd die naam geword waarmee die meer benoem is: See van Tiberias).

Die groot gevolg wat agter Jesus aankom, is veral daar omdat hulle die wondertekens gesien het. Onthou egter wat in 2:23-25 al gesê is: Jesus “verlaat” Hom nie op mense wat in Hom glo, omdat hulle die wondertekens gesien het nie. In vers 66 sien ‘n mens dat hierdie selfde volgelinge Hom verlaat omdat volgelingskap te veel van hulle vra. Jesus verlaat Hom dus nie op hulle nie, want Hy weet dat hulle ‘n geloof het wat uit hulleself kom, iets wat altyd die potensiaal het om tot niet te gaan. Dit is net die geloof wat God gee, wat vir altyd hou, soos reeds in die gesprek met Nikodemus aangeroer is.

Let op die verskillende reaksies van die dissipels op Jesus se versoek dat hulle die menigte kos gee. Filippus gooi hande in die lug, maar Andreas bring wat daar is, hoewel hyself nie regtig weet hoe dit so baie mense kos gaan gee nie. Maar dit is presies waarmee Jesus dan werk, met daardie seuntjie se 5 garsbroodjies en 2 vissies om die wonder van die broodvermeerdering te laat gebeur.

Jesus voorsien hier aan die menigte kos, soos wat God dit in die woestyn gedoen het met die manna (Eks 16:4; Ps 78:24; 105:40 – vgl vers 30 vv) en die kwartels (Eks 16:13), wat sy goddelikheid bewys – die skare weet nou dat Hy die Profeet is, die Een wat na die wêreld toe moes kom (:14). Daarom word dit ook ‘n wonderteken genoem. Daar bly ook 12 mandjies oor wat die oorvloed waarmee God mense seën simboliseer.

Die skare se aandrang om Hom direk daar en dan met geweld koning te maak, laat Hom verder op met die berg klim, om hulle wondergeloof te laat afkoel, en moontlik die gebeure te deurdink – alleen.

6:16-21: Die dissipels keer terug na Kapernaum en beleef ‘n verdere wonder dat hulle in die onstuimige see vir Jesus na hulle toe sien aangeloop kom op die water. Hulle vrees word deur Hom besweer en hulle kom saam aan die oorkant aan. Dié wonder word as een van die sewe gereken, hoewel die woord wonderteken nie hier voorkom nie.

6:22-40: Dit word egter duidelik deur die skare as ‘n wonder ervaar – om die waarheid te sê, dit is waarskynlik presies ter wille van hulle wat die wonderteken gedoen is, sodat Jesus met hulle verder kon gesels oor die betekenis van die wonder van die broodvermeerdering, soos Hy dan inderdaad ook doen.

Jesus wys hulle dan daarop dat hulle die gevaar loop om HOM te mis deurdat hulle fokus op die brood wat hulle honger gestil het, dws die wonderteken as sodanig en nie dit waarna die wonderteken verwys nie. Hulle moet eerder fokus op die Wonderdoener, Jesus, en in Hom glo, want Hy kan vir hulle ewige lewe gee, Hy is die Brood wat lewe gee. Daardeur bekom hulle die ewige lewe met die laaste dag se opstanding.

6:41-59: Let op hoe die Jode (op die sabbatdag in die sinagoge in Kapernaum – vers 59) nie die verband getrek kry tussen Jesus se aardse en sy hemelse afkoms nie, soos Nikodemus vroeër. Jesus haal dan uit Jesaja 54:13 aan dat hulle dit net sal kan begryp as hulle dit deur God geleer word.

Die Jode wys hulle weerstand teen God se lering deur konsekwent Jesus se lering mis te verstaan. Dit terwyl Jesus hier eintlik oop kaarte met hulle speel en van sy naderende dood in terme van sy liggaam en sy bloed te praat, die tekens van die nagmaal (onthou, Johannes vertel nie vir ons van die “laaste avondmaal” nie, net van die voetewas-episode in Joh 13).

Dit is dié wat die betekenis daarvan begryp en omhels, wat inderdaad in God is en ervaar dat God in hulle bly (dinge waaroor Jesus verder sal uitbrei in sy onderrig aan sy dissipels in hoofstukke 14-17).

6:60-71: Die Jode is egter nie die enigste wat moeite het met hierdie woorde van Jesus nie. ‘n Hele paar van sy dissipels het hieroor gemor. Interessant dat Jesus reageer deur van nog dieper dinge te gesels, sy Hemelvaart en per implikasie van die uitstorting van die Heilige Gees. Die punt wat Hy maak is egter steeds, jy sal dié dinge nie verstaan as Godself dit nie vir jou duidelik maak nie.

Die gevolg is dat ‘n hele paar van die dissipels Hom op hierdie punt verlaat – behalwe die twaalf , waarvan Jesus geweet het dat een Hom nog sou verraai, Judas, die seun van Somon Iskariot. Geloof is inderdaad ‘n geskenk wat God gee!

Toepassing

  • Die vraag is seker vir vandag: hoe weet ek dat ek ‘n geloof het wat God gegee het? ‘n Baie belangrike vraag!
  • Die antwoord lê in die paradoks van vers 35 en 65: “Wie na My toe kom … niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”
  • Geloof lê aan die een kant in die keuse wat ek vir Jesus maak … EN aan die ander kant getuig my keuse van die geloof wat God vir my gegee het. Ek glo, omdat God geloof vir my gegee het.
  • Albei kante van die paradoks is nodig, maar God se kant van die paradoks is die primêre oorsaak van die geloof wat ek in myself ervaar. Daarom kan ek God net dank vir geloof, en nie daarop roem nie, asof ek beter is as hierdie Jode of dissipels nie.
  • Geloof is om vas te gryp aan God, al kan jy niks daarmee verdien en niks daarmee regkry nie … maar vertrou dat God dit kan gebruik, God dit waar kan maak. Soos ‘n Petrus: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”
  • Ek dank die Here dat Hy my keuse vir Hom aanvaar het, en ek daaruit kon agterkom, dit is al die tyd HÝ wat my na Hom toe getrek het.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 448 of VONKK 145

Votum: Psalm 111:1-4

Seëngroet

Lofsang: Lied 406

Wet: Efesiërs 5:15-20

Genadeverkondiging / Toewyding: Lied 448

Geloofsbelydenis: Flam 20

HOOR

Gebed: Lied 253

Skriflesing: Johannes 6:51-58

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 484 of Flam 70

Seën

Respons: Lied 406 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 448 “O God, ons wil U altyddeur” of
VONKK 145 “Laat Almal Wat Dors Het, Kom”

Votum: Psalm 111:1-4
Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes,
in die gemeente.
2Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind,
dink daaroor na.
3Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
4Hy sorg dat sy magtige dade
nie vergeet word nie.
Genadig en barmhartig is die Here.

Seëngroet

Lofsang
Lied 406 “Ons loof U, Vader, op die troon!”

Wet: Efesiërs 5:15-20
15Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. 17Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

18Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. 20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

Genadeverkondiging / Toewyding
Lied 448 “Halleluja! Ons loof U, Heer”

Geloofsbelydenis
Flam 20 “U Is Die Lig”

Liedere

Flam 20 “U Is Die Lig”
(RUBRIEK: Flam / Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Toewyding) Teks en musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. U is die Lig, U laat my sien;
U is die brood vir my lewe;
U is die water wat binne my vloei;
U laat my leef, U laat my groei.

Refrein:
Ek loof U Heer vir als wat U is.
Ek loof U Heer, U’s my Vader.
Ek loof U Heer vir als wat U gee.
Meer as wat ek kan verstaan,
daarvoor kom prys ek U Naam!

2. U is die Woord, U wil my rig;
U wys my U wil vir my lewe;
U skenk my vrede en U gee my rus;
U het my lief net soos ek is.

Refrein:

Flam 70 “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid) Teks en musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk.
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk.
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop.
Week ons met waarheid breek ons bekers oop.

Lig vir die wêreld, kom skyn deur ons.
Skyn in die donker met liefde wat verlos.
Stuur ons met lewe vol van helder hoop.
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees.

Lig vir die wêreld kom skyn deur ons.
Heer, ontmoet ons hier, woon in ons lofgesang.
U is die rykdom waarna ons verlang.
As u lig ons lei, ons na die wêreld stuur.
Seën ons met volheid vul ons met u Vuur.

Kom Jesus skyn laat donker verdwyn,
skyn in die nag, laat breek die dag.
Vader salf ons oë raak ons met deernis aan.
Ons wil u hart vir verlorenes verstaan.

Laat ons u wyn en melk neem vir dié sonder geld
en lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop.
Lig vir die wêreld
kom skyn deur ons!

VONKK 145 “Laat Almal Wat Dors Het, Kom”
Nav Jesaja 55:1 Teks: Let all who are thirsty come – Taizé 2010; Afrikaanse weergawe: Jacques Louw 2010 ©
Musiek: Taizé Ateliers et Pressez de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik.
© 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Nagmaal

Laat almal wat dors het, kom,
laat almal kom ontvang die water van lewe vrylik.
Amen, kom, Heer Jesus.
Amen, kom, Heer Jesus.

Let all who are thirsty come.
Let all who wish receive the water of life freely.
Amen, come, Lord Jesus.
Amen, come, Lord Jesus.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 253 “U het die brood gebreek”

Skriflesing: Johannes 6:51-58

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

(Die foto van die voedsel piramide is Caroline by flickr.com, creative commons)
As jy dit betyds in die hande kan kry, kan jy die storie Sun Bread deur Elisa Kleven lees (dis hier beskikbaar). Tydens die kouer, triestige, donker dae van winter bak ‘n bakster ‘n brood wat mense herinner aan die son. Terwyl hulle die brood eet, word hulle gevul met die son se lig en warmte. Net so word ons deur Jesus, die Brood van die Lewe, gevul deur lig en lewe. Kinders kan dalk nog nie die presiese lyn trek nie, maar hulle kan moontlik aan Nagmaalsbrood as sonbrood begin dink – brood wat God se lig deel.

Jy kan ook aansluit by die gesegde (in die preek) “jy is wat jy eet”. Gesels oor sportsterre se dieet – hulle eet spesiale goed, sodat hulle vinnig of sterk ken wees of stamina kan hê. Wys dan iets soos skoolboeke – wanneer ons dit lees, word ons vol van kennis. Dit is wat Jesus bedoel wanneer hy sê dat hy die brood van die lewe is. Ons kan ons lewe vul met kennis en ervaring van Jesus – dan leef ons soos Jesus van ons vra.

Of wys ’n prent van die outydse kos-piramide. Verduidelik die beginsel daaragter. Op dieselfde manier is Jesus die fondament van ons lewe.

Hier is die volgende riglyne – saam met ’n brood-vormige boekie wat jy kan druk en uitdeel sodat kinders dit kan inkleur.

Kos voorsien aan ons fisieke behoeftes, laat ons groei, gee ons energie en maak ons sterk. Jesus se liefde hou ons veilig, sy Woord help ons groei en sy dood gee ons lewe.

Preekriglyn

Ons teks is deel van ‘n besondere, dramatiese, volgepakte, aksiebelaaide hoofstuk in die Johannes-evangelie.

Johannes 6 begin waar Jesus aan die oorkant van die See van Galilea vir mens brood gee. Hy neem ‘n seuntjie se vyf garsbrode en twee vissies en voed daarmee ‘n hele skare. Toe hulle klaar was, laat Jesus alles bymekaarmaak, sodat niks verlore gaan nie. Die dissipels maak twaalf mandjies vol brood bymekaar.

Daarna vaar hulle terug na Kapernaum, oor die See van Galilea, met Jesus wat op die water loop en onderweg by die dissipels aansluit.

Op soek na nog brood

Na aanleiding van die broodwonder soek mense die volgende dag na Jesus. Jesus sê hulle soek Hom nie omdat hulle wondertekens gesien het nie, maar omdat hulle nog brood wil hê om te eet (26). Jesus fokus hulle aandag op die voedsel wat die ewige lewe gee: daarna moet hulle soek (27). Wat God van hulle verlang, is om te glo in Hom wat God gestuur het (29).

Die skare vra dan ‘n wonderteken. Hulle herinner Jesus aan die wonderbaarlike brood wat God aan Moses en die volk in die woestyn gegee het. Waarop Jesus sê: “Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee” (33).

“Ek is”

Die gesprek oor die brood gaan voort met Jesus wat een van sy bekende “Ek is”-uitsprake maak:
Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. (37)

Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” (40)

Nou mor die Jode omdat Jesus Homself brood uit die hemel noem. Hy is tog net Josef en Maria se seun. Watse se stories is dit van uit die hemel kom?

Jesus gebruik die gemor as geleentheid om verder oor Homself as die lewegewende brood te praat:

Ek is die brood wat lewe gee. Wie in My glo, het die ewige lewe.
Hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ‘n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie (47-50).

Jesus verduidelik hoe mens ware lewe kry.

“Dit is die lewe”

“Dit is die lewe!” is tot vandag toe gewilde woorde. Mens hoor dit baie. Maar dit is woorde wat uiteenlopende betekenisse vir baie mense het.

Sien in jou geestesoog ‘n rotsklimmer op die hoogste bergspits, sy vuis in die lug en uitroep op sy lippe: “Dit is die lewe!” Of iemand êrens in die bosveld rustig met ‘n glasie wyn in die hand voor sy kampvuur, wat selftevrede die bloedrooi sonsondergang bekyk en sê: “Dit is die lewe.” Die voorbeelde kan opgestapel word. Vir elkeen iets anders – “Dit is die lewe!”

Vir die dissipels in Jesus se tyd, op soek na die Messias, was Jesus waarskynlik die Een wat hulle aangespreek en laat besef het: “Dit is die Een!” Dié man is die regte Een! Hom kan ons volg!

En toe Jesus die brood vermeerder – die teken van sy goddelike krag – kon sy volgelinge reken Hy is die ware Messias! Hy is die Een vir wie ons kan koning maak. Hom kan ons volg en dien. Hy kan vir ons en ander sorg! Toe Jesus op die water loop en hulle daardeur verder van sy bomenslike krag en vermoë oortuig is, kon hulle ook sê: “Dis die lewe!” Saam met so ‘n man kan ons loop en die wêreld oorwin!

Selfs toe Jesus sê dat Hy die “Brood van die lewe is”, kon hulle saam juig en sê dat hulle saamstem! Hy is die lewe! Hy sal ons waarlik laat leef! Saam met Hom sal ons oor die wêreld regeer! “Dit is die lewe!”

Maar dan gaan Jesus dieper in op die beeld van brood, en eet en drink. Vir baie van sy gespreksgenote raak dit op hierdie punt nogal erg.

Eet en drink

Jesus begin nou meer konkreet oor Homself as die brood uit die hemel te praat.

  • In vers 51 sê Hy: “Die brood wat Ek gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”
  • Vers 52: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.”

Hulle moet sy liggaam opeet. Die oorspronklike Grieks stel dit sterk: Hulle moet sy liggaam verorber, opeet!. En meer as dit; hulle moet sy bloed drink!

Bloed is nooit deur Jode geëet nie. Die lewe was in die bloed. Om iemand se bloed te drink, was as’t ware om die essensie van daardie persoon se lewe oor te neem! En daardie persoon moet sterwe voordat dit kan gebeur!

Dit kan nie werk nie! “Dis nie die lewe nie!” “Dis die dood!”

Wat bedoel Jesus?

Die vroeë Christene is dikwels deur hulle Romeinse vervolgers van kannibalisme beskuldig, omdat hulle die nagmaal gevier het as die eet van Jesus se liggaam en die drink van sy bloed. Natuurlik weet ons ons teks gaan nie oor kannibalisme nie. Maar wat beteken Jesus se woorde?

Om Jesus se liggaam te eet is ‘n treffende beeld om te sê dat die lewe wat God in Jesus gee, is soos die lewe wat ons deur brood verkry. Ons kry hierdie lewe in Jesus deur Jesus in die geloof as ons Verlosser toe te eien (vers 47). Ons maak Jesus deel van ons diepste wese, en leef uit die lewe en krag wat Hy gee.

Ons is waarskynlik meer bekend met hierdie “eet-beeld” as wat ons besef. Luister na ons taalgebruik: ons verslind boeke, drink ‘n goeie spreker se toespraak in, ons sluk stories, ons herkou aan ‘n moeilike besluit, en ons eet soms ons eie woorde. Oumas en oupas wil selfs hulle kleinkinders van liefde opvreet.

Jesus se woorde verwys na hierdie diep-diep indrink en eet van die lewe wat Hy bied. Hierdie taal beskryf geloof en die toeëiening van Jesus helder.

Sommige Skrifuitleggers meen dat hierdie teks ook na die nagmaal verwys. Hoewel Johannes nie die instelling van die nagmaal in sy Evangelie rapporteer nie, gebruik hy hiermee ook taal wat vir ons die viering van die nagmaal verhelder. By die nagmaal bevestig ons ons diepste verbintenis aan Jesus. Op ‘n baie konkrete manier is die lewende Jesus vir die gelowige teenwoordig in die brood en wyn, die tekens en seëls van sy genade.

Die ewige lewe

Jesus pas die eet van sy liggaam en die drink van sy bloed dan op twee maniere prakties toe.

In die eerste plek gee dit die ewige lewe:
Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank (54-55)

Om die ewige lewe te verkry, is dit noodsaaklik om die liggaam en bloed van Christus deur die geloof vir onsself toe te eien. Die tydsvorm waarin die werkwoorde “eet” en “drink” hier gegiet word (Aoristus), dui op ‘n eenmalige toeëiening van Jesus. Dit is ‘n keuse wat uitgeoefen moet word.

In hierdie woorde doem die kruis op. By terugskoue sien ons in hierdie teks alreeds Jesus se gebreekte liggaam aan die kruis, en sy bloed wat vir ons vloei. Dit is Jesus se offer wat vir ons die lewe oopsluit. Ons eien dit deur geloof vir onsself toe.

“Bly in My”

Die toeëiening van Jesus se liggaam en bloed skep tweedens ook ‘n intieme eenheid tussen ons en Jesus:
Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe (56-57).

“Bly in” is ‘n tipiese uitdrukking van Johannes om die intiemste gemeenskapsverhouding tussen Jesus en die gelowige aan te dui (Dit kom veral in 1 Johannes voor). Die beeld van die wingerdstok en die lote (Joh. 15:4) verduidelik wat met hierdie uitdrukking bedoel word. Dit gaan nie net oor ‘n soort mistieke vereniging nie, maar moet ook prakties verstaan word. Dit gaan daaroor dat Jesus se invloed en alles wat Hy gedoen en geleer het, op daardie persoon oorgaan. Daardie persoon kry die nuwe lewe of nuwe bestaanswyse saam met Jesus en die Vader (Joh. 6:57). Hy of sy moet gevolglik in ooreenstemming met hierdie nuwe status leef.

Dit is wat “bly in mekaar” beteken: ‘n nuwe lewe begin. Die eet en drink van Christus se vlees en bloed loop uit op die gemeenskaplike “bly in” van die gelowige en Christus.

‘n Teoloog met die naam Schlatter vat dit alles mooi saam:
What we have to do with his flesh and blood is not chew and swallow, but that we recognize in his crucified body and poured out blood the ground of our life, that we hang our faith and hope on that body and blood and draw from there our thinking and our willing.

Net Jesus gee die lewe

Jesus is die Ware Brood wat die regte lewe gee; wat die diepste nood aanspreek, in die grootste behoefte voorsien. Daarvoor offer Jesus Homself; gee Hy sy lewe prys. Dit, sodat die wêreld kan lewe. Nie net die Jode nie; nie net Israel nie. Almal wat die brood eet, sal lewe! Werklik lewe.

Almal wat die brood eet en die bloed drink sal doen en leef soos wat God dit wil hê. Hulle sal “in Christus wees.” Soos Hy wees; doen wat Hy doen en gee wat Hy gee.

Die lewe wat Jesus gee is nie opsioneel nie. Daar is nie nog ‘n lewe anders of buiten hierdie lewe nie. Sonder hierdie lewe wat Jesus gee, is ons dood! Ons besef nie altyd die erns van die saak nie. Sonder Jesus is daar niks nie! Geen lewe nie. Net dood. Eet en drink het te doen met die deel van lewe; die wedersydse inwoon en deel hê aan en van mekaar.

Om in Jesus Christus te glo, in Hom te wees en om Hom in jou te hê, “Dit is die lewe!” Daar is geen ander nie.

“Mens is wat jy eet”

Filosoof Ludwig Feuerbach (1804-1872) was uiters krities oor die Christelike geloof. Sy bekende spitsvondige opmerking, “Mann ist was er isst” (“die mens is wat hy eet”, ‘n sinspeling op die Duitse “is” en “eet” wat dieselfde klink) was bedoel om te sê mense is maar net ‘n paar molekules, gewone materie. Niks meer nie. Mens eet biologiese verbindings en jy is maar net ‘n paar biologiese verbindings.

Jesus sê ook ‘n mens is wat jy eet. Maar die bron van die ware lewe is ‘n verbinding met Jesus. Dit is om Jesus aan te neem, in ‘n geloofsverhouding met Jesus te leef, en die ewige lewe te ontvang. Die verbintenis met Jesus is soos ‘n fontein wat in jou opspring en lewe en gemeenskap skep.

Deur ons verbintenis met Jesus, word ons opgeneem in gemeenskap met Jesus, en met die Vader en die Heilige Gees. Ons leef in groot geselskap. Ons het ‘n nuwe verankering. Ons het ‘n nuwe toekoms.

Kern van die kern

Daar is baie mense wat nie hierdie hart van die Christelike geloof raaksien nie. Ons maak dikwels van ons geloof iets meer hanteerbaar en beheerbaar. Dan verloor ons die kern daarvan.

Vir sommige is die Christelike geloof ‘n stel behoudende waardes. Ander wil daarvan absolute aanvaarding van die medemens maak, ongeag wie hy of sy is. Vir nog ander is dit ‘n emosionele belewenis. Dit word ook voorgestel as ‘n rasionele denksisteem, ‘n gevoel van geborgenheid, of ‘n troos in nood. Dis alles maniere om ons geloof “mak” te maak, menslik hanteerbaar en bruikbaar vir ons eie doelwitte te maak.

Hierdie dinge mag kante van die Christelike geloof wees. Maar ten diepste is die Waarheid van ons geloof Jesus Christus. Net geloof wat groei uit die eet van Jesus se liggaam en die drink van sy bloed het waarde.

Hierdie Jesus is die lewende en teenwoordige Here wat elke dag met ons op reis is. Dit is die Koning voor wie ons buig, en wie ons dien. Dit is Hy wat ons die ritmes en roetes van God se koningskap leer. Hy is ons lewe.

Hieroor moet ons met ander praat en hiervan moet ons lewens getuig

God stuur ons om te leef

Gebed
V: Here Jesus, U is die brood wat lewe gee.
U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat moeg en afgemat is.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat genesing vir stukkende verhoudings soek.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat sukkel met spanning in hulle lewe.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen vir wie geloof ’n moeilike stryd is.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat hulle dag ná dag met moeisame werk afsloof.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat heling soek vir ’n stukkende verlede.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat liggaamlik siek is.
V: Here Jesus, U is die brood wat lewe gee. Neem, seën, breek en deel Uself aan ons uit.

G: Neem, seën, breek en deel ook vir ons uit.
V: Gee wat U vra en vra dan wat U wil.

A: Amen.
(uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington, BybelMedia.)

Dankoffer

Slotsang
Lied 484 “Almal wat dors het, om geniet”
Flam 70 “Lig Vir Die Wêreld”

Seën
Soos jy vanoggend die Brood van die Lewe ontvang het, gaan uit en voed dié wat honger is.
Soos jy vrygelaat is, bevry die gevangenes.
Soos jy ontvang het, gee.
Soos jy gehoor het, verkondig.
Die seën van die Vader, die Seun en die Heilige Gees sal altyd by jou wees.
Amen
(aangepas uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington, BybelMedia.)

Respons: Lied 406 refrein