Triniteitsondag

Sections

Oorsig

Inleiding

Die aard en fokus van die fees
Na voltooiing van die siklus van seisoene waarin die kerk die Here Jesus se aardse lewensloop en die uitstorting van die Heilige Gees herleef het, lei dit bykans onvermydelik daartoe dat die gemeente sy lof en dank aan God betuig vir die volle openbaring van Hom as Vader, Seun en Heilige Gees.

Met die fees van die Drie-eenheid word dus ’n historiese landmerk van ons Christelike geloof in herinnering geroep. Dit is niks anders as die werk van die Gees nie – Hy wat ons “in die hele waarheid lei” (Joh. 16:13). Die historiese en verrassende “ontdekking” oor God wat in die eerste eeue van die Christendom gemaak is en wat neerslag gevind het in die ekumeniese belydenisse, sou sedert Advent opnuut met die gemeenteverhaal verweef geraak het. Die hedendaagse gemeente word sodoende in die belydenis dat God Vader is, maar ook Seun en Heilige Gees, met die kerk oor die eeue herverbind.

Die fees het nie primêr ’n onderrig en lerende doel nie – alhoewel daar ruimte daarvoor gemaak kan word. Die gawe aan die kerk is immers niks anders nie as kennis van die ware God deur wie ons gered word. Blydskap en dankbaarheid hiervoor word vandag aan Hom betuig. Die erediens verwoord die onverwoordbare geloof dat die volle waarheid oor God, ja, die volheid van God self, daarom ook die volheid van ons redding, reeds aan sy kerk gegee is sodat ons nou daarin en daaruit kan leef.

Die voorganger (en diensorde) se rol is om ruimte te skep vir dankbare lof aan God. Die feestelike aard van die erediens word gedra deur hernude verwondering oor die Openbaring van God.

Tydseie kenmerke
Feestelike kleure: wit en goud
Simbole: fleur-de-lis, drie oorvleuelende sirkels, driehoek, tetragram Fleur-de-lis

’n Ekumeniese gebruik is om die belydenis van Athanasius op hierdie Sondag voor te lees.

Fokusteks

Johannes 16:12-15

Ander RCL tekste

Spreuke 8:1-4, 22-31 (Die roep van die goddelike Wysheid: mense word genooi om wysheid te soek);
Psalm 8 (Dankbaarheid vir die mens se uitsonderlike plek in God se skepping bring waardering vir God);
Romeine 5:1-5 (Deur sy vryspraak skenk God Drie-enig geloof, hoop en liefde wat ons versterk om in alles te volhard)

Johannes 16:12-15
Die werk van die Heilige Gees
5“Nou gaan ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie. 6Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid. 7Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. 9Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; 10die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; 11die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.

12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Eksegeties

“This brief four-verse text is the shortest Gospel lection in the Year C lectionary. It is part of the Johannine Farewell Discourse (chapters 13-17) in which Jesus is preparing the community for life, fellowship, and mission in the time following his return to the Father” (R P Carlson). In die 1983 Afrikaanse Vertaling is die afgebakende Skrifdeel slegs ’n onderdeel van ’n groter eenheid (v 5-15), onder die opskrif, “Die werk van die Heilige Gees”. Die res van Johannes 16 word in die NAV onder drie opskrifte aangebied: “Julle moet nie van My afvallig word nie” (v 1-4); “Julle droefheid sal in blydskap verander” (v 16-24); en “Ek het die wêreld oorwin” (v 25-33).

Die opskrifte roep twee vrae op: Wie is hier aan die woord? (“My” en “Ek” in die opskrifte [v 1-4 en v 25-33]) en; Wie is die geïmpliseerde eerste hoorders van hierdie boodskap? (“julle” in die opskrifte? [v 1-4 en v 16-24]). Howard C Kee wys op die inhoud van vers  5-11, waar Jesus die dissipels inlig dat Hy aan hulle nuwe insigte en instruksies sal gee ter voorbereiding van sy nabye vertrek, wanneer Hy terugkeer na die een wat Hom gestuur het. Carlson tipeer die inhoud van vers 7-11 as die negatiewe beskrywing van die funksie van die Gees met betrekking tot die wêreld, terwyl die dissipels in vers 12-15 “are told of the more positive role the Spirit will have within and for the community of faith” (vgl S M Ngewa). Jesus stel dit dat die geloofsgemeenskap voordele wat voorheen nie vir hulle toeganklik was nie, sal ontvang wanneer Hy vertrek. “The divine method of conveying this understanding of God’s plan for human renewal through Jesus is further explained in the next paragraph of John 16 (vv 12-15)” (Kee).

In vers 12 is Jesus aan die woord. Hy praat met sy dissipels en plaas twee sake op die tafel: (i) daar is nog baie dinge om te sê; en (ii) die ontvangers van die boodskap sal nie nou alles begryp nie. Hierdie uitspraak wek die leser se aandag vir die feit dat die woorde deel vorm van ’n boodskap wat die groter raamwerk vorm. Daar is reeds iets gesê waarvan die dissipels (lesers) kennis moet neem. Wat is die groter prentjie wat verreken moet word? Die uitspraak in vers 12 wek ook die indruk dat dit wat nog gesê moet (kan) word, nie sonder  meer binne die dissipels se verstaanshorison val nie. Hulle beskik óf nie oor die nodige insig of kennis nie, óf hulle is nog nie gereed om die inligting te kan begryp nie. Dit wek belangstelling by die leser vandag. Brown wys daarop dat sommige geleerdes wel gedink het hier is sprake van ’n nuwe openbaring, en “a certain mystique has been built on the basis of this statement”. Hy meen egter dat vers 12 eerder beteken “that only after Jesus’ resurrection will there be full understanding of what happened and was said during the ministry . . .”

D Guthrie bring ons teks in verband met Johannes 13:36 en 14:5, waar Petrus en Tomas ook gevra het waarheen Jesus gaan. Hier fokus Jesus op die voltooiing van sy sending. Voorheen het nie Petrus of Tomas die volle betekenis van hul vraag begryp nie. Nou word die dissipels in selfs groter verwarring gedompel deur Jesus se verdere openbaring. “What the community cannot fully fathom on the eve of Jesus’ death will be made clearer to them when he sends the Spirit to them” (Carlson). “Behalwe hul gebrek aan insig in wat Jesus reeds aan hulle gesê het, was daar ook nuwe dinge wat op die punt gestaan het om te gebeur: Jesus se kruisiging, opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. Eers nadat dit alles gebeur het, sou hulle werklik die betekenis daarvan kon begryp” (Odendaal). Guthrie skryf: “It is preferable to see here an allusion to the fuller revelation which would follow the outpouring of the Spirit.”

Vers 13 gee die antwoord op die vraag na die voorwaarde om wel te kan verstaan wat nog gesê kan (moet) word. Jesus stel die Gees van die waarheid hier bekend. Dit is die vyfde Parakleetuitspraak (tweede in Joh 16) en fokus op die Gees se openbaringswerk (Guthrie; vgl Brown se bespreking van die eksegetiese probleem – impliseer dit ’n nuwe openbaring?). Soos in Johannes 14:26 handel hierdie uitspraak ook oor die rol van die Parakleet as leermeester vir die dissipels  (R E Brown). “In vv. 7-11 the disciples heard about the Spirit’s role vis-à-vis the world (i.e. the realm of unbelief, darkness, and rejection)” (Carlson). Jesus gee nog inligting oor die Gees: (i) Hy kom; en (ii) Hy het ’n bepaalde funksie. Die tydstip van die Gees se koms, word met die woord “wanneer” beskryf. Dit is klaarblyklik seker dát Hy kom, maar dit is nog nie seker presies op watter datum (tydstip) dit sal gebeur nie.

Die Gees se funksie word beskryf as leiding van die “julle” (dissipels) met wie hier gepraat word. Die leiding hou spesifiek verband met die waarheid. Die dissipels (lesers) sal “in die waarheid” gelei word. Die wyse waarop die Gees die waarheid leidend sal bemiddel, is deur spreke en woorde (sê en verkondig). Oor die inhoud van wat gesê en verkondig sal word, is hier ook aanduidings. Hy is nie self die bron van die boodskap nie. Hy is ’n mondstuk, spreekbuis, kanaal van iemand anders wat praat. Hy gee deur wat gehoor word en praat oor die toekoms – oor dinge wat nog kom (vgl Kee). “Thus the Spirit’s role is not to give a new divine revelation but to help make the ongoing divine revelation in Jesus Christ comprehensible in new times and for new situations” (Carlson). Ngewa skryf: “The Holy Spirit’s guidance stretches from the very first things that happened after Jesus’ departure to include everything that will happen at the end of time.”

In vers 14 word die sluier verder gelig en word die verband tussen Jesus (die “My” en die “Ek” van die opskrifte) en die Gees aangedui, asook ’n nadere beskrywing van die funksie van die Gees wat komende is in verhouding tot Jesus. Die Gees sal Jesus (die spreker) verheerlik en dit wat Hy aan die dissipels (“julle”) gaan meedeel, sal Hy van Jesus (die spreker) ontvang. Die verhouding tussen die Gees en Jesus (die spreker) word deur die woordjie “want” beskryf. Die Gees ontvang dus sy roeping en opdrag vanuit die noue verhouding met Jesus (die spreker).

In vers 15 word die verhouding tussen Jesus, die Vader en die Gees beskryf. Vanuit die eenheid tussen die Vader, Jesus en die Gees, word die verband dan ook na die dissipels (“julle”) gelê. Die Gees verkondig Jesus se boodskap aan diegene wat aan die Vader behoort. Ngewa skryf: “What the Father does, Jesus is doing, and whatever Jesus does, the Father is doing. This oneness in purpose is a theme that runs throughout the Gospel of John.” Brown skryf oor die dispuut tussen teoloë oor die Trinitariese teologie van die Ooste en die Weste “whether the Spirit proceeds from the Father alone or from the Father and the Son. In Johannine thought it would be unintelligible that the Paraclete have anything from Jesus that is not from the Father, but all that he has (for men) is from Jesus.”

Hermeneuties

In die lig van die kerklike seisoen en die fokus van Drie-eenheidsondag op die volle openbaring van die drie-enige God, is dit verstaanbaar waarom die RCL ons teks vir hierdie spesifieke Sondag in die kerkjaar gekies het (vgl Carlson). Rebecca Kruger Gaudino skryf dat hierdie dag op die viering van God as Heilige Drie-eenheid fokus. Sy oordeel dat predikers dalk graag die misterie van die dogma oor die Drie-eenheid aan die gemeente sal wil verkondig. Maar, skryf sy: “It seems to me that what this Sunday and its biblical texts are really about is not the mystery of a doctrine but the mystery of God.” Sy wys op die verskillende maniere waarop die RCL-tekste vir hierdie Sondag oor die misterie van God praat en sê ons teks “. . . speak(s) of the intimate, comforting familiarity of the Divine – Jesus and the Spirit – but in strange and elusive terms.”

Andries Odendaal wys op die misterie van die werk van die Heilige Gees en dat Jesus gedurende sy openbare optrede belangrike uitsprake hieroor gemaak het, maar dat dit sporadies was. In sy laaste onderrig aan die oorblywende elf dissipels het Jesus meer breedvoerig oor die Heilige Gees gepraat (Joh 14-16). Jesus was toe op pad na Getsemane en dit was die laaste keer dat Hy en sy dissipels voor sy kruisiging saam was. Hy beskou dit as noodsaaklik om hulle by hierdie geleentheid meer van die Heilige Gees te leer en lig die sluier oor die Gees se werk ná sy kruisiging. Odendaal wys op die vertroostende karakter van Jesus se eerste uitspraak oor die Heilige Gees (Joh 14:15-17) en noem vyf aspekte in die uitspraak: (i) die Sender van die Gees; (ii) die twee Name van die Gees; (iii) die Heilige Gees en die wêreld; (iv) die Heilige Gees en gelowiges; en (v) die Gees en Jesus se opdragte. In ons teks is die klem hoofsaaklik op die laaste twee sake.

Die fokus op die funksie van die Heilige Gees in die lewe van Jesus se volgelinge, roep die viering van Pinksterfees die vorige Sondag op, asook Johannes 14:15-31 waar Jesus die Heilige Gees aan sy volgelinge belowe. Die funksie van die Heilige Gees met betrekking tot die verkondiging van Jesus se boodskap aan sy volgelinge, rig ons verder vooruit op die komende seisoen van Koninkrykstyd in die kerkjaar, asook die breër konteks van Jesus se afskeidsgesprekke (Joh 13-17) en sy naderende kruisdood. “Part of the function of the Farewell Discourse is to inform the community of that which is to come” (Carlson). Kruger Gaudino maak ’n insiggewende opmerking ten opsigte van die perspektief van ons teks: “We return once again to Holy Week, not in church time, but certainly in this lesson. Jesus has yet to endure the great rejection of all that he has done and claimed. From this context of sorrow that will deepen before it is answered with joy, Jesus seeks to prepare his disciples for the end of their close human companionship.”

Kruger Gaudino beklemtoon verder die waarde van die groter perikoop (v 5-15) in terme van die epistomologiese (kennis/verstaan) uitdagings waarmee die dissipels gekonfronteer word in hul navolging van ’n afwesige Jesus. In vers 8-11 stel Jesus dat die komende Voorspraak (Advokaat) en Gees van waarheid “bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, die reg aan my kant is en die oordeel al gekom het” (v 8). Die wêreld het Jesus verwerp as die een wat deur God gestuur is om die wêreld te red. Kee beskryf dit as “the primary ‘sin’ of the human race”. As gevolg van hierdie verwerping, is die owerste van hierdie wêreld klaar veroordeel (v 11). Hierdie owerste verteenwoordig die wêreld se kennis en mag. Carlson skryf: “That Spirit will expose that realm for what it is, one of sin and rejection, bringing forth God’s judgment on the world and its satanic overlord.”

In hierdie lig plaas Kruger Gaudino die waarheidsvraag op die tafel. “What, then, is truth?” Volgens Jesus kom die waarheid van God alleen en sal aan die dissipels verkondig word deur die Gees van die waarheid (v 13). Die waarheid is in ooreenstemming met wat Jesus reeds geleer het, maar moet ook verder openbaar word met verloop van tyd (v 15). Die benaming “Gees van die waarheid” (Gr aletheia) roep Jesus se selfidentifikasie in Johannes 14:6 op, waar Hy na Homself verwys as die weg (Gr hodos), die waarheid (Gr aletheia) en die lewe, deur wie gelowiges na God kom. Johannes skryf ook dat die waarheid deur Jesus Christus gekom het (1:17). “Here, however, the direction and access are switched.  Instead of focussing on humanity approaching God via Jesus, we are told that God approaches us through the Spirit who will speak the true, divine message of the Word incarnate” (Carlson). “The all truth of v 13 is the total revelation which comes through Jesus Christ” (Guthrie).

Die Christengemeenskap sal die Goddelike waarheid kan hanteer, “because the Spirit dwells within the community and guides it along the way of truth” (Carlson). “Al die werke van die Gees word deur die waarheid gekenmerk. Die waarheid is eie aan Hom. Die Gees bring die waarheid, handhaaf die waarheid, is die bron van die waarheid, tree op in belang van die waarheid en lei gelowiges in die waarheid” (Odendaal). Gelowiges wat aan Jesus se woorde getrou bly, sal die waarheid ken en die waarheid sal hulle vry maak (Joh 8:32). Net soos die Heilige Gees Jesus sal verheerlik (16:14), moet die gelowiges dit ook doen. “As getuies van Jesus moet hulle getuienis steeds dien tot verheerliking van Christus en nooit tot selfverheerliking nie” (Odendaal).

Kruger Gaudino plaas nog ’n tema uit die teks op die tafel, naamlik die vraag na die natuur van die Voorspraak. “But is this new Advocate a flesh-and-blood Advocate, as Jesus was?” Volgens Johannes se beskrywing verskil die natuur van die komende Advokaat van Jesus se natuur. Hy is Gees. Die vraag is dan hoe ’n onsigbare Gees teenwoordig kan wees. Guthrie praat van die waarheid as die “own nature” van die Gees, en dat Hy slegs in harmonie met sy “natuur” kan optree. Carlson wys op Johannes se benaming “Parakleet” vir die Gees (16:7; 14:16; 15:26), as “a title describing the role of the Spirit as one who advocates, guides, and gives comfort and counsel.”

Die vraag na die teenwoordigheid van ’n onsigbare Gees in ons lewe, hang saam met die vraag na die afwesigheid van God. Kruger Gaudino stel die probleem so: “For us Christians today, living in an era in which what you can see, measure, and duplicate is defined as truth, the problem of absence continues.” Jesus leer sy dissipels egter dat afwesigheid nie “nothingness and aloneness” beteken nie. Kruger Gaudino skryf: “Jesus’ absence is his presence in a way that is even more powerful and enduring, so much so that he tells the disciples that ‘it is to your advantage that I go’ (v. 7). There is something about the Advocate – despite its seeming nothingness – that is the continuing presence of Jesus as well as the presence of the Father, all three available, present to the disciples. Absence becomes an experience of incredible fullness of presence.”

Carlson sê dat die Gees die teenwoordigheid en aktiwiteit van God in Jesus Christus voortsit, beide in die wêreld en in die geloofsgemeenskap. “The Spirit holds the world accountable to God, its Lord and creator, even if the world refuses to acknowledge God’s lordship. The Spirit brings God’s presence into the community and helps guide the community in Christ’s way so that the community can faithfully live out its Christ-given mission in the world.” Brown praat ook van ’n element van gerealiseerde eskatologie met betrekking tot die verheerliking, “for John there is already glory in Jesus’ presence in and through the Paraclete.”

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus 

Tema: Die Waarheid wat in God gevind word

Rus

Lied

F127. “Vader,  U Is Goed”  
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering / Geloofsbelydenis / Drie-Eenheid)
Oorspronklike titel: Vader, U bent goed
Teks en Musiek: Elisa Krijgsman
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© Unisong Music Publishers B.V. t/a Reli Music

Elke oomblik van my lewe, in voor- of teëspoed
aanbid ek U, Heer Jesus,  en dank U vir u bloed
Ek vind krag in U, my Vader, as ek naby aan U bly
My hart en my gedagtes word warm as ek bely:

Refrein:
Vader, U is goed, U is heilig, U is liefde
Jesus, U is groot, U is sterker as die dood
Trooster, hierdie dag gee ek myself aan U
en ek sing met heel my hart: ‘k behoort aan U

Elke oomblik van my lewe, in die dag of in die nag,
wil ek u Woorde lees en dit dra diep in my hart
In die storms van my lewe, in die reën en in die kou’
vind ek skuilplek in u vrede, vind ek rusplek in u trou

Familie-oomblik

Gebruik die voorbeeld van ’n kompas om die werk van die Heilige Gees wat ons in die hele waarheid lei, te verduidelik:
’n Kompas is ’n baie handige instrument.  Dit help jou om nie te verdwaal nie. Om die waarheid te sê, as jy wel verdwaal, help die kompas jou om die pad terug te vind.

’n Kompas het vier hoofrigtings, Noord, Suid, Oos en Wes.  Die naald van die kompas wys altyd Noord.  As jy dus Suid wil gaan, gaan jy in die teenoorgestelde rigting van die naald.  As jy Oos wil gaan, gaan jy Oos (wys op die kompas).  En as jy Wes wil gaan?  (Laat die kinders antwoord)

Wat sou gebeur as die naald van die kompas nou Noord wys en dan weer Suid?  ’n Mens sou heeltemal verdwaal en nie weet waar jy is nie!  Die kompas moet altyd in dieselfde rigting wys, as dit jou moet help om jou rigting te kry.

Die Here het vir ons ’n betroubare kompas gegee, ’n geestelike kompas.  Ons geestelike kompas is die Heilige Gees.  Waarheen wys die Heilige Gees altyd.  Hy wys altyd na die Bybel.  Dit is die geestelike Noord.  Die Heilige Gees help ons om te weet wat God wil hê, hoe Jesus wil hê dat ons moet lewe.

Sommige mense wil vertrou op hulle gevoelens.  Maar dit help nie.  Ons gevoelens kan verander.  En as ons goed voel oor iets, beteken dit mos nog nie dat iets goed is nie, of hoe?

Sommige mense kyk weer wat ander mense doen.  Dit help ook nie.  Net omdat almal iets doen, beteken dit nog nie dit is reg nie, of hoe?  Môre doen hulle weer iets anders.

Die Heilige Gees lei ons deur die Bybel om God se wil te verstaan.  Meer nog.  Hy help ons om God se wil te doen.  Hoe doen Hy dit?  Hy is binne ons en oortuig ons van wat reg is.  En Hy gee vir ons die krag om God se pad te kies.  Om in die Bybelse pad te loop.

Elke keer as jy nie weet hoe verder nie, kan jy die Bybel oopmaak en die Heilige Gees vertrou dat Hy vir jou die regte woorde sal gee, sodat jy kan weet in watter rigting jy moet gaan.

Kom ons dank die Here dat Hy sy Gees vir ons gegee het, sodat ons sy wil in die Bybel kan verstaan en dit kan doen.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

“In ’n dorpie in La Mancha, waarvan ek nie kan waag om die naam te herhaal nie, het daar nie lank gelede nie ’n ware heer gewoon, wat ’n lans op die lans-rak, ’n antieke skild, ’n uitgeteerde perd, en ’n vinnige jaghond aangehou het.”

Só begin Miguel Cervantes sy fiktiewe verhaal van ene Alonso Quixano, wat op die La Mancha-vlakte in sentrale Spanje woon.  Volgens die bure lees hy te veel boeke oor heldedade en glo elke woord daarvan, ten spyte van die feit dat die stories duidelik uit die skrywers se duim gesuig is.  Hy lees te veel, slaap te min en eet swak, sê die gemeenskap, wat verklaar hoekom hy kontak met die werklikheid verloor het.

Alonso eet die stories wat aan hom opgedis word vir soetkoek op en besluit om avontuur as ’n ridder te gaan soek.  Hy noem homself nou Don Quixote de la Mancha en herdoop sy uitgeteerde ou perd met ’n aristokratiese naam: Rocinante.  ’n Naburige plaasmeisie Aldonza Lorenzo word nou sy edele beminde, al weet sy self niks daarvan nie.  Haar gesofistikeerde nuwe naam is Dulcine adel Toboso,

Vroegmôre vertrek onse Don, geklee in sy verweerde borswering, en eindig by ’n herberg, wat hy vir ’n kasteel aansien.  Die bestuurder, vir Don Quixote die edelman in bevel van die kasteel, word versoek om Don tot ridder te slaan.  Daardie nag waak Don oor sy borswering en raak in ’n geveg betrokke met mense wat dit uit die trog wil verwyder sodat hulle muile water kan drink.  Ter wille van selfbehoud, om van die konsternasie ontslae te raak, slaan die bestuurder hom tot ridder, waarna Don nog ’n paar skreeusnaakse “reddingsaksies” uitvoer.  Hy takel ’n handelaar wat sy geliefde Dulcinea na bewering beledig en eindig op die manier voos geslaan in ’n hopie langs die pad.

Gou vertrek ons manhaftige ridder Don op sy tweede soektog na roem en heldedade.  ’n Buurman, Sancho Panza, word sy assistent, met die belofte dat hy goewerneur van ’n eiland sal word.  Nou vind Don Quixote se beroemdste avonture plaas, beginnende met sy aanval op windmeulens wat hy aansien vir geweldadige reuse.

Ja, windmeulens word aangesien as reuse.  Die edelvrou Dulcinea is eintlik ’n plaasmeisie.  Die hings Rocinante is eintlik ’n brandmaer gedierte.  Sancho Panza, die goewerneur, is eintlik spreekwoordelik een van die stomper messe in die laai…

Wat is waarheid?

Is dit moontlik dat dissipels van Jesus dalk uit hulle verbeelding leef, en dinge sien wat nie bestaan nie?  Berus ons geloof dalk op lugkastele?  Glo ons weens te veel lees, te veel verbeel, te min kontak met die werklikheid?

Jesus plaas die waarheidsvraag in hierdie gedeelte sentraal: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (16:13).  Die Gees is die Een wat ons meer leer oor Jesus, wie die weg en die waarheid en die lewe is.

Wat leer ons uit hierdie gedeelte oor waarheid?

Een:  Waarheid word geopenbaar
Volgens moderne opvattings is waarheid iets wat mens sintuiglik en met jou verstand bepaal.  Jy ondersoek iets, jy neem dit waar, jy meet en toets dit, jy formuleer teorieë en bepaal die waarheid daarvan.  In die soeke na waarheid moet mens skepties wees.  Jy kom by waarheid net uit wanneer jy dinge nie vir soetkoek opeet nie, en deurdring na die diepste kern van daarvan.

Geen wonder ons dink naderhand iets wat ons nie kan waarneem of meet nie, bestaan in werklikheid nie.  Op hierdie manier word geloof eintlik onmoontlik.  Niemand kan God in die fokus van ’n mikroskoop kry nie.  Ons kan God nie optel, vermenigvuldig, deel of aftrek nie.  Bestaan God dan nog?  Vandaar dat sommige mense kies vir ateïsme (“God bestaan nie”) of agnostisisme (“Ons kan nie met sekerheid sê of God is of nie”).

As ons enigste waarheid die kennis is wat ons self verwerf, is ons spoedig diep in die moeilikheid.  Die lewe het geen groter doel meer nie.  Waar kom die wêreld vandaan?  Waar gaan die wêreld heen?  Wat is die groot waarheid oor die doel en betekenis van ons bestaan?

Die wêreld het begin voor ons lewe begin het.  En waarskynlik gaan die wêreld na ons dood nog voortbestaan.  Ons is iewers in die middel van die wêreld se geskiedenis gebore en in onsself het ons geen idee wat die plot van ons werklikheid is nie.  Waarom bestaan ons?  Waarvoor leef ons?

Daar is baie teorieë oor wat die diepste waarheid is.

  • Sommige mense dis ’n storie op wat sê ons bestaan om handel te dryf, ons vir onsself ’n lewe te skep.  Die diepste werklikheid is die finansiële waarde en potensiaal van die dinge rondom ons.
  • Nog ’n teorie is dat ons volksverband die hoogste werklikheid is – ons lewe vir ons genetiese of etniese groep.
  • Ander sê weer ons lewe om die beste daarvan te maak sodat ons in ’n volgende lewe in ’n beter gestalte kan terugkeer. Uiteindelik, na ’n proses van selfverbetering in verskillende lewens, sal ons weer met die godheid verenig word.
  • Of ons lewe omdat ons DNA ten alle koste wil voortplant en voortleef.  Ons staan in diens van ons genetiese kode.
  • Nog ’n moontlikheid: ons lewe omdat ons uit oerchaos ontstaan het, en dinge bloot toevallig so uitgewerk het.  Ontwikkeling en toeval is die skepper.

Jesus verduidelik dat ons nodig het om waarheidskennis van buite onsself te ontvang.  Ons kry die Gees van waarheid as geskenk, en die Gees lei ons in die volle waarheid.  Daar is dinge wat mens nooit sal weet, tensy jy die inligting as openbaringsgeskenk kry nie.  Voorbeelde van hierdie soort inligting is:

  • Kennis van wie God is, en wat God se bedoelinge is;
  • Waar kom die wêreld vandaan en waarheen is die wêreld op pad?
  • Waarom die wêreld in ’n gebroke toestand is en hoe God dit hanteer;
  • Wie is ek en wat is die doel van my lewe?

Deur die eeue het God mense betroubaar hieroor onderrig.  Die onderrig het ’n hoogtepunt in die voorbeeld lewenswandel, dade en lering van Jesus Christus van Nasaret, die Seun van God, bereik.  Jesus is die waarheid.  Die waarheid is nie ’n beginsel, ’n feit, ’n genoom of ’n formule nie, maar ’n Persoon.  In Hom was God persoonlik aanwesig op aangesig van hierdie wêreld.  Die Heilige Gees word aan ons gegee om Jesus se lering en voorbeeld by ons in te skerp.  Trouens, deur die werk van die Gees is Jesus, en die Vader wat Hom gestuur het, steeds by ons teenwoordig.

Die Gees herinner ons aan wat Jesus geleer het.  Vandaar die belydenis dat die Gees die kandelaar is by die Boek wat getuig oor Jesus.  Die Gees staan ons by om die Skrifte vanuit die lewe en werke van die lewende Here te lees, te verstaan en toe te pas.

Die Gees veranker ons lewe in die openbaring wat ons van God ontvang, en bou ’n lewenswandel in ons wat by hierdie kennis pas.  Só oriënteer die Gees ons, veranker ons, skep ’n Christelike identiteit in ons, vestig roepingsbesef by ons, gee ons ’n etiek wat by die karakter van God pas, en draai ons gesigte na die heerlike toekoms toe wat God vir ons weggelê het.  Hy lei ons “in die hele waarheid” (16:13).

Twee:  Vader, Seun en Heilige Gees as diepste waarheid en hoogste realiteit
Jesus kwalifiseer die volle waarheid in ons teks met verwysing na die lewe en werk van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.  Die Gees neem die dinge van Jesus, en  dra dit aan ons oor.  Die dinge van Jesus het Hy weer by die Vader gehoor.  Die dissipelkring, met wie Jesus praat, bestaan op grond van die werk van die Goddelike Gemeenskap, Vader, Seun en Heilige Gees.

In die voorafgaande verse, én in die volgende hoofstuk, word duidelik dat die Gees deur die dissipels by die wêreld wil uitkom. Die Goddelike Gemeenskap werk deur die dissipels om meer en meer mense in gemeenskap met God in te trek.  Die Gees leer die dissipels, sodat die vrug van Jesus se werk meer en meer mense kan bereik, en meer en meer mense in nuwe gemeenskap met die Goddelike Gemeenskap ingetrek kan word.

Die belydenis dat ons ’n God aanbid wat een in die verhouding van Vader, Seun en Heilige Gees is, beskryf die diepste waarheid en hoogste, finale realiteit.  Daarom kan Eugene Peterson sê:

Early on the Christian community realized that everything about us – our worshipping and learning, conversing and listening, teaching and preaching, obeying and deciding, working and playing, eating and sleeping – takes place in the ‘country’ of the Trinity, that is, in the presence and among the operations of God the Father, God the Son, and God the Holy Spirit.  If God’s presence and work are not understood to define who we are and what we are doing, nothing we come up with will be understood and lived properly. (Christ plays in ten thousand places).

Vir ons is die konsep van die Drie-eenheid dikwels ’n dogma wat ons probeer verduidelik, nie regtig verstaan nie, en waaroor ons wonder wat die werklike waarde daarvan kan wees.  Die laaste ding wat mens met die Drie-eenheid moet probeer doen, sê Calvyn, is om dit te probeer verduidelik.  Mens kan nie, en enige poging doen afbreek aan die diepe geheimenis van wie God is.

Die punt is:  die lewende, liefdevolle verhouding tussen God die Vader, Seun en Heilige Gees, is die goddelike geselskap van waaruit die wêreld in aansyn geroep is.  En hierdie Goddelike Geselskap reik uit na ons, tree met ons in ’n verhouding, leer ons en staan ons by.  Op ’n menslik-verstaanbare vlak word die diepste geheime van die Goddelike Gemeenskap se gedagtes oor ons, werk met ons, en uiteindelike bedoelinge met ons aan ons gekommunikeer.

Ons leef in die landskap van die Drie-eenheid.  Die eerste en laaste feit waarmee ons rekening moet hou, is die werklikheid van God.  Die eerste en laaste feit wat ons lewe en ons reaksies op dinge moet verreken, is die bestaan van God.  ’n God wat vir ons lewe gee, met ons praat, en in wie se gemeenskap ons ons altyd bevind.

Daaroor kan ons die Here loof en prys.  In hierdie lof kan ons elke dag lewe.  En oor hierdie lewe van lof kan ons ons laat leer deur die Heilige Gees.

Drie:  Waarheid het met verhoudinge te doen
Op grond van die Bybel bely die Christelike kerk dus dat die hoogste waarheid persoonlikis.  Waarheid setel in die persoon van God, waarvan die Heilige Gees ons deur die Woord leer.

Hierdie persoonlike Waarheid is boonop verhoudingsmatig, want die drie-enige God bestaan in die verhoudinge van Vader, Seun en Heilige Gees.

Die leer van die Drie-eenheid is daarom nie ’n poging om God te verklaar nie, maar ’n getuienis dat God God-self as persoonlik en in verhoudinge openbaar.  God leef in gemeenskap met mans, vroue en kinders wat geroep word om met God in gemeenskap van liefde te leef.  Hierdie lewe met God is persoonlik – ons beleef onsself as persoonlik geliefd, mense wat vergewe is, met ’n persoonlike hoop en ’n persoonlike behoefte om God te dien en te prys.  Ons ken God nie omdat ons God kan definieer nie, maar omdat God ons persoonlik liefhet en ons leer om God lief te hê.

Weer Eugene Peterson:

The consequences of this are personally revelatory: another does not know me, nor do I know another, by defining or explaining, by categorizing or psychologizing, but only relationally, by accepting and loving, by giving and receiving.  The personal and interpersonal provide the primary images (Father, Son and Holy Spirit) for both knowing God and being known by God.  This is living, not thinking about living, living with, not performing for.

Vier: Toepassing
Wat beteken dit dat die diepste waarheid met God Drie-enig te doen het, en persoonlik en verhoudingsmatig is?  Wat beteken dit dat die Heilige Gees spesifiek gegee word om ons in hierdie Waarheid te lei?

  • Enige poging om ons wêreld los van God te bedink of te verstaan, kan nooit betroubare waarheid aan ons verskaf nie.  Ons het God en God se openbaring nodig.
  • Die diepste waarheid is die persoon van God, en die verhoudingmatige karakter van God.  Waarheid kan daarop nie in ’n slagspreuk vasgevang word nie.  Geen mens beskik oor die volkome waarheid nie.  Ook nie die kerk kan in die naam van Waarheid optree asof dit mag gee, of die reg om ander te veroordeel nie.  Mens kan waarheid nie op ’n kanonloop verf nie.  Jy kan dit in ’n politieke beleid vasvang, waarmee jy dan ander platskiet nie.  Jy kan die waarheid nie beheer en diensbaar maak aan jou eie motiewe nie.  Die waarheid is persoonlik en relasioneel.  Die waarheid kom in die Persoon van God na ons toe.
  • Wanneer Christene die waarheid probeer gebruik om verdeeldheid te saai, ander te veroordeel en te verdoem, het ons die waarheid verloor.  Die Waarheid eer altyd verhoudinge, wil die kwaad oorwin deur die goeie, wil verskeurdheid vervang met genesing, wil die leeu en die lam saam laat wei.  Die Waarheid is liefdevol en geduldig, en ly dikwels onder die leuen.  Die reg om te oordeel en wraak te neem kom aan God alleen toe.  Ons kennis en insig is te beperk om onsself as finale regters oor ander aan te stel.  Ons is die lammers wat die vrede van herstelde verhoudinge met ander deel.
  • Aangesien die Gees ons lei in die volle waarheid, kan ons die boodskap van die waarheid versprei.  Ons kan dit doen op ’n manier wat ander intrek in verhouding met die hoogste Waarheid.  Ons kan die geur van die evangelie versprei, en die evangelie toelaat om mense te vernuwe.  Hierdie waarheid wys die onreg uit, vernuwe lewens, skep wedergeboorte en bekering, oorwin die kwaad, vernietig die leuen.  Die waarheid doen dit, omdat dit die waarheid van God is.  Die Gees gebruik die waarheid vir hierdie doel : om te oortuig van sonde, om mense na God te laat gryp, om mense tuis te laat kom in die lewensvernuwende waarheid van ’n verhouding met God
  • Die waarheid van God is publieke waarheid.  Dit beteken dat waarheid nie net geestelik is nie, dit is waarheid vir die volle lewe van die hele wêreld.  Die waarheid is nooit net indiwiduele opinie nie, of net waar vir diegene wat dit erken nie.  Die waarheid is publiek, geldend vir die hele wêreld.  Daarom word ons geroep om te getuig oor die waarheid waarin die Gees ons lei.  Die wêreld moet hoor van die werklikheid van God.

Ons kan met oortuiging sê ons jaag nie windmeulens nie.  Ons leef uit die betroubare waarheid van God.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

Herinnering: Matteus 28:18-20
Die fees van die Drie-enige God is ons lof aan God wat Homself vir ons gegee het, sodat ons ons aan Hom kan gee. Onthou hoe Jesus sy bediening aan ons, sy kerk, opgedra het . . .

“Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou . . .”

Seën
“Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Antwoord
Gemeente antwoord met sing van “Amen”.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.