Tiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die tekste vir hierdie Sondag bied ryk liturgiese moontlikhede. ‘n Mens sou die eerste beweging met 2 Samuel 11:26–12:13a kon begin, met Psalm 51 as reaksie. Met die Woordverkondiging kom die Efesiërs-teks aan die beurt, en die Johannes-teks roep om gelees te word met die viering van die Tafel.

Die sleutelteks uit Efesiërs fokus op hierdie Sondag op die eenheid van die kerk met Christus as die hoof. Die simbool vir hierdie week (sien basisliturgie) is die menslike senuweestelsel wat aan die brein verbind is.

Ander tekste

2 Samuel 11:26-12:13a
26Urija se vrou het gehoor dat haar man dood is en sy het oor hom getreur. 27Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword en vir hom ’n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.

Natan kondig Dawid se straf aan
12 Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm. 2Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. 3Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos ’n eie dogter. 4Daar het ’n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.”

5–6Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef, ’n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.”

7“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. 8Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee. 9Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so ’n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.

10“Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het.

11“So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot, 12want jy het ’n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen.”

13Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.”

En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie. 14Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.”

Psalm 51:1-12
Neem tog my sonde weg!
51 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid,
na aanleiding daarvan 2dat die profeet
Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel
met Batseba.
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.

Johannes 6:24-35
Die brood uit die hemel
22Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag 23kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het. 

24Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. 25En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”

26Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. 27Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

28Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”

29En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

30Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? 31Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.” e

32Jesus het hulle geantwoord: “Dit verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. 33Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

34Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”

35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

36Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

37“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. 38Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

Sleutelteks

Efesiërs 4:1-16
Eenheid van die kerk
1 Daarom spoor ek julle aan, ek, wat ter wille van die Here ‘n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is: 2 deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra, 3 en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede – 4 een liggaam en een Gees, soos julle ook deur julle roeping tot een hoop geroep is: 5 een Here, een geloof, een doop, 6 een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in almal is. 7 Maar aan elkeen van ons is ‘n genadegawe geskenk, soos Christus dit uitgedeel het. 8 Daarom staan daar: “Toe Hy opgevaar het na bo, het Hy krygsgevangenes weggevoer; Hy het gawes aan die mense gegee.”

9 “Hy het opgevaar” – waarop anders dui dit as dat Hy eers neergedaal het na die laer dele, die aarde? 10 Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele, f sodat Hy alle dinge kon vul. 11 En Hy het sommige as apostels , ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee. 12 om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, 13 totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die Seun van God , en tot ‘n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. 14 Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; 15 maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof 16 uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde. (2020-vertaling)

Ekstra stof

Paulus begin hierdie hoofstuk met ‘n frase wat baie herinner aan Filippense 1:27: “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.”

In Filippense praat Paulus van ‘n ooreenstemming met die evangelie van Jesus Christus, hier van ‘n ooreenstemming met die roeping wat hulle van God ontvang het. Die roeping het dus te make met die wyse waarop die evangelie in die wêreld tot sy reg kom.

En Paulus spel dié lewenswandel waarnatoe hulle geroep is uit in 5 aspekte:

  • beskeie,
  • vriendelik,
  • geduldig,
  • verdraagsaam en die
  • handhawing van eenheid.

Dit is die dinge waarop gefokus moet word in die proses om aan God gehoorsaam te wees.

Let op dat die eenheid vir Paulus belangriker is as die ander aspekte, en dat hy in vers 4-6 die motivering vir eenheid gee deur 7 manifestasies van die eenheid te beskrywe: daar is

  • één liggaam,
  • Gees,
  • hoop,
  • Here,
  • geloof,
  • doop,
  • God en Vader.

Daarmee gee hy ‘n Trinitariese (Gees, Here [Jesus], God [Vader]) sowel as ‘n gemeentelike begronding van eenheid (liggaam, hoop, geloof, doop).

God is een wese, al is Hy drie persone. En die geloofsgemeenskap is een, al is hulle verskillende mense en het hulle selfs verskillende rolle.

Paulus motiveer God se genadegawes met die Messiaanse interpretasie van Psalm 68:19. Dié Psalm praat van God as die oorwinnaar wat na Sion toe terugkeer en geskenke ontvang van dié wat verslaan is. Paulus praat van Christus wat neergedaal het uit die hemel na die aarde en die magte verslaan het. As verhoogde en verheerlikte Here vul Hy alles met sy teenwoordigheid en gee aan alle gelowiges genadegawes.

En let op dat die genadegawes aan almal gegee is, omdat alle gelowiges één is. Sommige gelowiges is selfs gawes – die begin van ons ampsbeskouing – in terme van hulle rolle:

  • apostels,
  • profete,
  • evangeliste,
  • herders en
  • leraars.

Die eerste 3 kategorieë van gawes was mense wat baie keer gereis het om die evangelie te bring (hoewel sommige evangeliste hulleself ook gevestig het [Hand. 21:8]), en die laaste 2 was baie keer meer gevestig in ‘n spesifieke werkkring.

Maar, hulle almal het net een doel, en dit is om die liggaam van gelowiges toe te rus vir die gebruik van hulle gawes, sodat die kerk in sy doel kan slaag, om in alle opsigte te groei na Christus toe.

Soos elkeen sy funksie vervul, bou die liggaam homself op in liefde, ‘n liefde wat hom verheug in die waarheid.

Boodskap en betekenis
Eenheid in die waarheid is die kenmerk van ‘n gesonde geloof en ‘n gesonde gemeenskap van gelowiges. Elke woord in hierdie 16 verse is belangrik. Elke funksie wat elke lid van die liggaam van Christus vervul, is belangrik. En die begronding daarvan in die Drie-enige God is die fondament van hierdie groeiproses waar ons volwasse word in Christus soos ons in liefde een in die waarheid bly.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalms 57:3-4 ()

Seëngroet: Efesiërs 1

Lied 220 Met ons harte sing ons Here (219) 1,2,3

Wet: 2 Samuel 12

Skuldbelydenis: 2 Samuel 12
Psalm 51

Vryspraak: Johannes 6

Geloofsbelydenis: ahv Efesiërs 1 en 4

Loflied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Epiklese gebed: ahv Psalm 19

Skriflesing: Efesiërs 4:1-16

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën – uit Efesiërs 1:13-14; 6:23-24

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied:Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalms 57:3-4 ()
4Hy sal uit die hemel antwoord
en my red,
Hy sal dié wat my jaag,
die stryd laat verloor.
God sal antwoord in sy liefde en trou.
5Ek is hier tussen leeus,
tussen mense wat my wil verskeur.
Hulle tande is spiese en pyle,
hulle tonge is skerp swaarde.

Seëngroet: Efesiërs 1
Aan die heiliges wat in (die naam van die gemeente se dorp/stad/gebied) woon, die gelowiges in Christus Jesus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus

Lied 220 “Met ons harte sing ons Here (219) 1,2,3”

Wet
Dawid ontdek via die profeet Nathan dat hy God se Wet summier oortree het- so erg dat hy dit nie eers agterkom nie.

2 Samuel 12
“So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. 8Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee. 9Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so ’n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.

10“Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het.

11“So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot, 12want jy het ’n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen.”

Skuldbelydenis: 2 Samuel 12
13Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.”

Psalm 51
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.

Vryspraak: Johannes 6
35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

Geloofsbelydenis: ahv Efesiërs 1 en 4
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
soos Hy dit vooruit al bestem het.
So het Hy Hom dit voorgeneem- Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.
Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
toe ons die waarheid wat aan ons verkondig is,
die evangelie van ons verlossing, gehoor het
en tot geloof gekom het.

In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, ons as die eiendom van God beseël.

Daar is net één liggaam en net één Gees,
soos daar net één hoop is waartoe God ons geroep het.
Daar is net één Here, één geloof, één doop,
één God en Vader van almal:
Hy wat oor almal is,
deur almal werk
en in almal woon.

Loflied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Liedere

F15. “Kom Ons Loof En Dank Nou Die Heer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: Onbekend
Teks en musiek: Onbekend
Afrikaanse vertaling: 2005  Greta Delport-Benade
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Kom ons loof en dank nou die Heer
vir al sy liefde ons bewys, ons lewens deur.
Hy bewaar ons, Hy maak ons vry.
Hy sal vir ewig, altyd by ons bly.
Loof die Heer!
Kom ons loof die Heer,
daagliks meer en meer,
vir goedheid, vir die voorreg om vandag sy kind te wees.
Kom ons sing nou saam.
Kom ons prys sy Naam.
Gee jou hart aan Hom en Hy sal ware vrede gee.
Gee jou hart aan Hom en Hy sal ware vrede gee.

F201. “U Is Die Ewige, O Heer  (Ewige God)”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: Everlasting God
Teks en Musiek: Brenton Brown & Ken Riley
Afrikaanse vertaling: 2007 Stass van Veuren
© 2005 Thankyou Music

1. Ons krag word meer
as ons wag op die Heer
Ons krag word meer
as ons wag op die Heer
as ons wag op die Heer
as ons wag op die Heer
Ons God
U heers verewig
Ons Hoop
Ons sterke redder

Refrein:
U is die Ewige, o Heer
Die Ewige, o Heer
U sluimer nie
U word nooit moeg nie
U red die swakkes, die wat vrees
Vertroos hul met U Gees
U laat hul sweef soos arende

God praat met ons en ons luister

Epiklese gebed: ahv Psalm 19
Here,
U wet is volmaak- dit gee nuwe lewenskrag;
U bepalings is betroubaar- dit gee wysheid aan die eenvoudige.
U opdragte, Here, is reg- dit maak die hart bly;
U gebod, Here, is suiwer- dit verhelder die oë.
Verbly dan nou my hart en gee my nuwe lewenskrag;
verhelder my oë en gee my wysheid Here,
deur die werk van U Gees en
in die oordenking van U Woord.
Amen
(Psalm 19:8-9  BDV)

Skriflesing: Efesiërs 4:1-16

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Kry vir hierdie Sondag ‘n groot voorstelling van die menslike senuweestelsel met die brein, of wys ‘n prent daarvan op die skerm. Vra vir die kinders of hulle weet wat dit is.

Verduidelik vir die kinders dat die senuweepunte in jou liggaam met jou brein praat. Sonder jou brein, sal jy nie weet wat jy voel nie. Jy sal nie voel of jy warm of koud kry nie; jy sal nie weet of jy seerkry of lekkerkry nie. Jou senuwees voel dit alles, maar jy weet eers wat hulle voel (en wat om daaraan te doen) wanneer jou brein hoor wat die senuweepunte sê. Dan sê jou brein vir jou om ‘n warm baadjie aan te trek of die doring uit jou voet te haal.

Die kerk werk ook so. Ons almal is soos die verskillende senuweepunte in ons liggaam, maar wat ons doen, maak net ‘n verskil in die wêreld wanneer die kerk se “brein” – Jesus – vir ons sê wat om te doen en ons na Hom luister. Ons sien dalk iemand wat hartseer of honger is en Jesus sê vir ons om vir hulle te sorg en vir hulle om te gee.

Soos die senuweepunte in ons liggaam het ons die kop of brein – Jesus – in die kerk nodig om ons te lei en vir ons te wys wat om te doen aan wat ons in die wêreld sien en ervaar.

Preekriglyn

Paulus skryf aan die gemeente in Efese in die vroeë sestigerjare uit die tronk in Rome. Hy het begin agterkom dat daar valse leringe versprei word in Efese en wil hulle help om die waarheid in Christus te omarm, sodat hulle gewortel en gegrondves kan wees in sy liefde.

Hy het hulle ongeveer vyf jaar tevore gewaarsku dat daar wrede wolwe sal kom wat die gemeente onder druk sal plaas met vreemde en verkeerde leringe, Hy het toe gesê:

28Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ‘n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. 29Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. 30Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. 31Wees waaksaam.” (Handelinge 20).

Hy skryf dus nou vir hulle in die eerste deel van hoofstuk 4 oor die eenheid wat die Gees bewerk, ‘n eenheid wat hulle deur die samebindende krag van die vrede moet bewaar:

1 Daarom spoor ek julle aan, ek wat ter wille van die Here ‘n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is: 2 met volkome nederigheid en saggeaardheid en met geduld, terwyl julle mekaar in liefde verdra. 3 Lê julle daarop toe om die eenheid (of eensgesindheid) wat die Gees bewerk, te bewaar deur die samebindende krag van die vrede. 4 Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook deur julle roeping tot een hoop geroep is: 5 een Here, een geloof, een doop, 6 een God en Vader van almal, Hy wat oor almal en deur almal en in almal is.

Dit is ook die uitdaging vir ons as gemeente en as kerk, om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, te bewaar.

Bewaar die eenheid van die Gees

Paulus sê ons bewaar die eenheid van die Gees deur die samebindende krag van die vrede, die vrede wat daar in Christus is. Ons word geroep om die vrede wat die Gees bring, te soek, dit te ontdek en dan doelbewus te bewaar. Dit sluit in, sê Paulus, dat ons nederig en saggeaard teenoor mekaar sal optree. Dit sluit in, sê hy, dat ons met geduld teenoor mekaar sal optree en mekaar in liefde sal verdra.

Peterson vertaal vers 3 dinamies: “alert at noticing differences and quick at mending fences.” Die idee is dat die geloofsgemeenskap saam onderskei totdat die vrede wat die Gees gee, opdaag, en dan dié band waarmee dit ons dan in eensgesindheid bind, te bewaar en beskerm, “mending fences“.

En dan gaan Paulus aan. ‘n Belangrike verdere manier waarop ons die eenheid kan bewaar, is deur elkeen die rol te speel wat die Here Jesus aan ons toegedeel het deur die gawes wat Hy vir elkeen van ons gegee het. Dit is waarom dit so belangrik is om bewus te wees van die gawes wat die Here vir ons gegee het, en om dit te beoefen.

7 Maar aan elkeen van ons is ‘n genadegawe geskenk soos Christus dit uitgedeel het. 8 Daarom staan daar: “Toe Hy opgevaar het na bo, het Hy krygsgevangenes weggevoer (verwysing na Satan en sy trawante); Hy het gawes aan die mense gegee.” 9 “Hy het opgevaar,” waarop anders dui dit as dat Hy eers neergedaal het na die laer dele, die aarde? 10 Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele sodat Hy alle dinge tot vervulling kon bring. 11 En as gawes het Hy sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee 12 om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk en om die liggaam van Christus op te bou. 13 So sal ons almal tot geloofseenheid, tot kennis van die Seun van God en tot volwassenheid kom, en die volgroeide gestalte van die volheid van Christus bereik.

Dit is wanneer ons weet wat ons gawe is, wanneer ons mekaar se gawes erken en toelaat dat dit ontwikkel, dat ons dit regkry om die eenheid tussen ons – die eenheid wat die Gees bewerk wanneer ons sy vrede ervaar, onder andere deur die gawes – te bewaar. Elkeen van ons moet sy rol speel. Elkeen is belangrik. Elkeen se bydrae maak saak.

Integrasie

Paulus het die eenheid wat die Gees bewerk, beskryf aan die hand van die samebindende krag van vrede wat ons help om nederig en saggeaard teenoor mekaar op te tree, deur mekaar met geduld en liefde te verdra, asook deurdat ons ons gawes benut tot voordeel van die liggaam.

Dan spel Paulus verder uit wat die doel van hierdie eenheid van die Gees in die liggaam van Christus is:

14 Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat ronddobber en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; 15 maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom sal groei. Hy, Christus, is die Hoof 16 uit wie die hele liggaam harmonieus met die hulp van elke gewrig saamgevoeg en verenig word en sy eie groei bewerk deur die aandeel van elke lid. So bou die liggaam homself op in liefde.

Tydmors?

Baie mense sê teoloë mors tyd en energie met hulle ivoortoring debatte. Daarmee bedoel mense dat hulle moeg raak vir die oënskynlik sinlose teologiese debatte en die eindelose worstelinge met perspektiewe wat vir baie nie regtig met die werklike lewe te make het nie.

Is sulke debatte nie net tydmors nie? Daar sal in elk geval nooit ‘n einde aan kom nie, nie waar nie?

‘n Mens sou vir Athanasius, die aartsbiskop van Alexandrië in die 4de eeu n.C. daarvan kon beskuldig, dat sy debatte met die kerk en met die vier keisers van sy tyd tydmors was. Hy het vir vyf dekades lank hom beywer nie net vir ‘n frase of ‘n woord in die geloofsbelydenis van Nicea nie, maar om een letter daaruit te hou. Een enkele letter.

Geen wonder dat die mense van hom gepraat het as “Athanasius Contra Mundum” – Athanasius teen die wêreld.

Die ding is net, as Athanasius ingegee het, as hy opgehou worstel het, as hy tou opgegooi het, was ons almal vandag in die moeilikheid.

Athanasius was ‘n biskop in die Koptiese kerk in Alexandrië en het as jong man van 27 die Konsilie van Nicea in 325 n.C. bygewoon waar die geloofsbelydenis van Nicea goedgekeur is. Daarin was ‘n baie belangrike teologiese formulering oor die Here Jesus, een wat berus het op ‘n voorstel van Athanasius:

Ons glo in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.” (Geloofsbelydenis van Nicea).

Een in wese” met die Vader.

Waaroor het die stryd van Athanasius gegaan?

Athanasius het by Nicea voorgestel dat Jesus homo-ousios met die Vader is – d.w.s. “een in wese” met die Vader, van dieselfde substansie of wese met die Vader. Dit is wat die Griekse homo beteken. D.w.s., Athanasius het gesê dat Jesus God is, net soos die Vader, een in wese met Hom, van dieselfde substansie.

Sy groot teenstander Arius daarenteen het egter gesê dat Jesus nie een wese met die Vader is nie, maar soortgelyk is aan Hom. Jesus is meer as ‘n mens, maar minder as God. Hy het die frase homoi-ousios gebruik om dit uit te druk – d.w.s. “soortgelyk” aan die Vader, maar nie van dieselfde substansie of wese met die Vader nie. Dit is wat die woord homoi beteken.

Dit het dus oor net een letter in een woord gegaan, die letter i. Arius wou dit inhê. Hy wou sê homoi-ousios, teen die formulering van die geloofsbelydenis van Nicea. Athanasius het met sy lewe geveg dat die letter i uitgesluit word. Hy wou sê homo-ousios, soos die geloofsbelydenis van Nicea dit verwoord het

En dié stryd was absoluut nodig, want hoewel die homo-ousios van die geloofsbelydenis van Nicea met ‘n klein meerderheid in 325 n.C. aanvaar is – sonder die letter i – was dié woord vir ses dekades onder druk, want die Ariërs wou hê dat homo in homoi verander moes word, d.w.s. dat daar ‘n i bygevoeg word.

Van die begin van Athanasius se openbare lewe, regdeur die tyd toe hy aartsbiskop geword het op 8 Junie 328 n.C. op die jeugdige ouderdom van dertig, regdeur elkeen van die vyf keer wat hy uit Alexandrië verban is, tot met sy dood in 2 Mei 373 n.C. het Athanasius hom beywer vir die regte belydenis oor Jesus Christus as God self.

Hy het onwrikbaar gestaan vir die waarheid, totdat die Konsilie van Konstantinopel in 381 n.C., 8 jaar ná Athanasius se dood, die seël gesit het op Athanasius se onvermoeide ywer vir die uitlaat van die letter i in die frase “een in wese” met die Vader. Die Konsilie van Konstantinopel het steeds homo-ousios bely, nie homoi-ousios nie. En só is dit tot vandag toe nog regoor die wêreld.

Hoekom is dit so belangrik?

Dit het alles te make – nie net met wie Christus in sy wese is nie – maar wat Christus se Godheid vir ons beteken. Want, dieselfde geloofsbelydenis van Nicea sê: “Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword.” (Geloofsbelydenis van Nicea).

Die punt is, as Jesus nie God is nie, as Hy nie een in wese met die Vader is nie, as Hy net ‘n skepsel is soos elkeen van ons, selfs al is Hy soos God, maar Hy is nie God nie, dan het ons geen sekerheid dat Hy ons kan red nie. Dan is ons hoop vir ‘n lewe saam met God op dryfsand gebou.

Die waarheid oor Jesus – dat Hy een wese is met die Vader – is van lewensbelang vir ons saligheid. Ons hele verwagting van wat Jesus as Middelaar tussen God en mens vir ons kan doen, word daarmee op vaste grond geplaas. Ons kan voluit vertrou daarop dat Jesus as God in ons belang optree, omdat Hy inderdaad God is, homo-ousios, een in wese met die Vader.

Hou in liefde vas aan die waarheid

As Paulus dan nou hier skryf in vers 15 dat ons in liefde aan die waarheid sal vashou, staan dit nie teenoor sy aandrang daarop dat ons die eenheid onderling sal bewaar nie, staan dit nie teenoor ons nederigheid en saggeaardheid teenoor mekaar nie, staan dit nie teenoor ons geduld met mekaar en ons verdraagsaamheid in die liefde nie.

Nee, dit is juis lewensbelangrik vir ons eenheid, vir ons vrede, vir ons groei na Christus toe. Sonder die waarheid oor Christus – selfs tot op die rol wat die letter i speel in ons belydenis oor Hom – loop ons die gevaar dat ons ten gronde gaan in die warboel van vreemde leringe wat nie net in die wêreld oorheers nie, maar ook baie keer in die kerk.

Dít is ook waarom ons geloofsbelydenisse vir ons so kosbaar is, waarom elke predikant dit onderteken by sy of haar legitimasie, en elke lidmaat voor die kansel bely dat hulle die leer van die kerk van harte aanvaar, en met alles in hulle sal vashou daaraan, en nie ‘n aks daarvan sal afwyk nie.

Die harmonie van die liggaam van Christus is afhanklik van ons vashou aan die waarheid. Die samebindende krag van die vrede wat die Gees in die liggaam van Christus bewerk, is afhanklik van ons vashou aan die waarheid.

Dit is alleen wanneer ons saam vashou aan die waarheid – in liefde – dat die hele liggaam harmonieus kan groei, en die hulp van elke gewrig in die liggaam kan dien om die onderskeie lede nie net saam te voeg nie, maar elkeen op sy eie kan bydra dat die liggaam as ‘n geheel verenig en die groei van die liggaam bewerk kan word deur die aandeel wat elke lid dra.

Dit is hoe die liggaam van Christus homself opbou in liefde, deur vas te hou aan die waarheid.

Van watter liefde praat Paulus hier?

Die liefde (agapê) waarvan Paulus hier praat, het niks met gevoel te make nie. Dit het niks te make met styl of liefdevolheid of enige ander betekenis wat ons aan die liefde vanuit ons verstaan daarvan kan of wil heg nie.

Nee, die liefde waarvan Paulus hier praat, het verband met die vorige vers. Dáár in vers 14 het Paulus die gemeente gewaarsku teen die dwaalleraars, spesifiek teen: “mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan.

In direkte kontras sê hy nou in vers 15 dat die gemeente in liefde by die waarheid sal bly, daaraan sal vashou. Die liefde is dus die direkte teenoorgestelde van die slinksheid en gekonkel waarmee dwalinge beplan word. Paulus waarsku met sy beskrywing van die liefde dat hulle nie op ‘n strategiese wyse mense sal probeer manipuleer in ‘n rigting in, om hulle te forseer op ‘n dwaalweg nie. ‘n Slinkse gekonkel is immers altyd gevaarlik, verduister die waarheid, verander die waarheid, kan nooit die waarheid na vore bring, en nooit die waarheid dien nie.

Dit is nogal ‘n belangrike eksegetiese punt, want Paulus spel liefde hier dus uit as openheid, opregtheid en eerlikheid, om die waarheid nie op ‘n agter af manier of op ‘n manier wat ander mense probeer mislei of uitvang, te bring nie, maar om die waarheid met integriteit te verkondig, ter wille van die geloofsgemeenskap, ter wille van die Here. Dit is om lojaal aan die waarheid te bly deur inderdaad ook lojaal aan die geloofsgemeenskap te bly en hulle nie te mislei en op ‘n dwaalweg te lei nie.

‘n Mens kan dus nooit vir die waarheid staan op ‘n slinkse en manipulerende manier nie. Dan is dit nie meer in die liefde nie. Die doel heilig nooit die middele nie. Anders word die waarheid nie in liefde gedeel nie.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën: – uit Efesiërs 1:13-14; 6:23-24
V: In Hom is julle, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees wat belowe is.
G: Ons wil leef tot lof van God se heerlikheid!

V: Die Gees is die waarborg van ons erfdeel vir die bevryding van God se eiendomsvolk.
G: Ons wil leef tot lof van God se heerlikheid!

V: Vrede vir julle, en liefde en geloof van God die Vader en van die Here, Jesus Christus. Wie se genade onverganklik bly saam met almal wat ons Here Jesus Christus liefhet.
G: Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.