Tiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die verhaal van Eksodus
Die verhaal van Eksodus (Griekse titel beteken Uittog) word aaneenlopend vertel tot by hoofstuk 20, die gawe van die wet, met die fokus op die drie plekke waar die verhaal afspeel: Egipte, woestyn, Sinai.

Daarna word die verhaal onderbreek met verdere wette (21-24) en die instruksies vir (25-31) en uiteindelike konstruksie van die tabernakel (35-40) met tussenin die verhaal van die goue kalf (32-34).

Die boek eindig met die beskrywing van God se heerlikheid wat in ‘n wolk neerdaal in die tabernakel, alles nog by Sinai. Hierdie laaste beskrywing antisipeer beide Levitikus (God se rigtinggewende teenwoordigheid in die tabernakel) en Numeri (God se begeleidende teenwoordigheid in die wolk).

Belangrik: hoekom is die boek só saamgestel?

Die boek Eksodus sentreer om die hoop van verlossing wat ’n werklikheid word vir die volk van God. Om dit te beskryf, is die fokus op drie beslissende invloede in Israel se verstaan van hulleself as God se volk (Vgl. die Hebreeuse titel וְאֵלֶּה שְׁמוֹת: “ En dit is die name”):

  • In die eerste plek fokus die boek op die verwondering oor die verlossing wat God bewerk het uit die vernederende afgryse van die tyd van slawerny van ongeveer 400 jaar. Die fokus is dus op die Trek (Eksodus).
  • In die tweede plek fokus die boek op die uitverkiesende en verbondsluitende openbaring van God se wil op die berg Sinai. Die inhoud daarvan is die Tora.
  • In die derde plek fokus die boek op die herstel van God se dinamiese teenwoordigheid by sy mense. Dit word ’n werklikheid in die Tabernakel.

Die gedeelte wat ons lees fokus op die wyse waarop God vir sy volk voorsien met die manna, midde in hulle stryd met sy wil vir hulle, die pad wat Hy vir hulle uitgekies het, sowel as met die leiers wat Hy voorsien het.

Ander tekste

Psalms 78:23-29 ()
23Hy het die wolke daarbo gebied
en die deure van die hemel
oopgemaak:
24Hy het manna op hulle laat reën,
uit die hemel kos aan hulle gegee
om te eet.
25Van hierdie brood uit die hemel
het elkeen geëet.
God het vir hulle oorgenoeg kos
gestuur.
26Hy het die oostewind laat opsteek
en deur sy krag die suidewind
laat waai.
27Soos sandkorrels, so baie voëls
het Hy op hulle laat reën,
voëls so volop soos die sand van die see.
28Hy het dit in die kamp
rondom hulle tente laat val.
29Hulle het geëet, meer as genoeg,
Hy het vir hulle gegee
wat hulle gevra het.

Efesiërs 4:1-16 ()
Die eenheid van die kerk
4 Ek druk julle dit op die hart, ek wat ’n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

4Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. 5Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.

7Aan elkeen van ons is ’n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. 8Daarom sê die Skrif:
“Toe Hy na die hoogte
opgevaar het,
het Hy krygsgevangenes
saamgeneem en gawes aan die
mense gegee.”

9Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. 10Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. 11En dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. 14Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. 15Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

Johannes 6:24-35 ()
Die brood uit die hemel
22Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag 23kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het. 

24Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. 25En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”

26Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. 27Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

28Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”
29En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

30Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? 31Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.”

32Jesus het hulle geantwoord: “Dit verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. 33Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

34Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”
35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

36Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.
37“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. 38Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

Fokusteks

Eksodus 16:2-15
Kos uit die hemel
16 Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het.

2In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset 3en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”

4Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie.

5As hulle op die sesde dag voorberei wat hulle ingebring het, moet dit dubbel soveel wees as wat hulle elke dag optel.”

6Toe sê Moses en Aäron vir al die Israeliete: “Vanaand sal julle besef dat dit die Here is wat julle uit Egipte bevry het, 7en môreoggend sal julle sien hoe magtig die Here is. Hy het gehoor dat julle julle teen Hóm verset. Dat julle julle teen óns verset, is niks nie.”

8Verder het Moses gesê: “As die Here vanaand vir julle vleis gee en môreoggend oorgenoeg kos om te eet, sal julle besef Hy het julle verset teen Hom opgemerk. Dit was nie teen ons nie, maar teen die Here dat julle julle verset het.”

9Moses het toe vir Aäron gesê: “Beveel die hele gemeente van Israel om voor die Here te kom staan, want Hy het hulle verset opgemerk.”

10Nadat Aäron dit vir hulle gesê het, kyk die Israeliete na die woestyn se kant toe om, en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk.

11Die Here sê toe vir Moses: 12“Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.”

13Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit.

Die volgende oggend was daar ’n wolk rondom die kamp, 14en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. 15Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet.

16Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.”

17Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander ’n bietjie, 18en toe hulle dit met ’n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met ’n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak.

19Moses het toe vir hulle gesê: “Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot môreoggend nie.”

20Maar hulle het nie vir Moses geluister nie. Party het daarvan tot die volgende oggend laat oorstaan, maar daar het miet in gekom en dit het gestink. Moses was woedend oor wat hulle gedoen het. 21Hulle het dit vroeg elke oggend bymekaargemaak, volgens elkeen se behoefte, maar net as die son begin bak, het dit weggesmelt.

Liturgie

Die bedoeling van ’n Seisoen van Barmhartigheid is om dit wat in die erediens gebeur doelbewus in verband met die nood van die wêreld te bring. Op die manier word ontdek dat die erediens nie ’n doel op sig self is nie, maar bedoel is om ons in te lei na ’n lewe wat God op elke terrein van die lewe vereer.

’n Sogenaamde hongerdoek wat in die liturgiese ruimte gedrapeer word en waarop lidmate die geleentheid kry om items soos koerantknipsels vas te maak tydens die erediens en wat die onmiddellike konteks van nood van die gemeente reflekteer. (Die hongerdoek pas tradisioneel liturgies binne die Lydenstyd en nie in Koninkrykstyd nie. Hierdie voorstel kan moontlik gesien word as ’n loslaat van daardie mooi verband, of dalk juis ’n verruiming van die gebruik van die hongerdoek).

Bring kos in natura na die erediens, veral die nagmaalviering, om dit te gebruik om die sakrament mee te vier en dit wat oorskiet na hulpbehoewendes of spesifieke projekte te neem. Die verband tussen die nagmaal en barmhartigheid kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie. Soos wat ons hierdie gawes, die produkte van ons arbeid, insamel, aandra en neerlê op die tafel, so lê ons ook ons lewe daar neer. Hierdie produkte van ons arbeid is nooit genoeg nie, maar op die tafel van ons Here word dit op ’n wonderbaarlike wyse vermenigvuldig sodat daar genoeg is vir iedereen. Op die tafel lê jou lewe.

Voorbidding kan in hierdie seisoen ’n besondere klem kry, weer eens en spesifiek soos geïnspireer deur die leesroostertekste en die gemeente se bepaalde konteks. Dieselfde geld vir die prediking vir hierdie seisoen.

Erediensgangers word uitgedaag om elke week tydens die Seisoen van Barmhartigheid een ete gedurende die week prys te gee en die waarde van daardie ete in die vorm van droë produkte na die erediens te bring wat gebruik sal word in ’n projek. Die produkte word nie sommer net in ’n mandjie by die deur geplaas nie, maar word tydens die derde beweging van die erediens (tafeldiens) fisiek vorentoe gebring en op die tafel geplaas. Dit kommunikeer ook baie ten opsigte van God se omgee en solidariteit in Jesus met mense in nood.

Hierdie seisoen is uiteraard ook ’n ideale geleentheid om projekte waar lidmate by kan betrokke raak, bekend te stel of dalk opnuut bekend te stel met verhale en getuienisse oor die projekte.

(Uit die basisliturgie vir die Seisoen van Barmhartigheid in die leesrooster van 2010-11.)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 284 “Laat Heer, u vrede deur my vloei”

Aanvangswoord
Gemeente: U is die begin van alle dinge, die lewe van alles wat lewe, U het ons geken nog voor ons geboorte.
Voorganger: U, o God, het ons uit die donker waters van die dood gepluk, deur u Gees is ons gedoop en het U ons nuwe lewe gegee.

Gemeente: Oor U verbly ons ons. In U is ons lewe.
Voorganger: Liefdevolle God, U is hier en orals, rondom ons en binne-in ons; U ken ons diepste gedagtes.

Gemeente: In U is ons Hoop. In U is ons lewe.
Voorganger: U is die bron van rus wat aan ons vrede gee bo ons begrip.

Gemeente: In U vind ons rus. In U is ons lewe.
Voorganger: Liefdevolle God, ons lewe is in U; ons aanbid U.

Gemeente: Liefdevolle God, U woon in ons; ons aanbid U. Amen.

Seëngroet
“Genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader en Christus Jesus ons Here” (2 Tim 1:2).
(Bogenoemde elemente uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12, basisliturgie vir die seisoen van Barmhartigheid)

Lofprysing
Lied 530 “Praat ek mense engle tale 1,2,3”

Verootmoediging
Die aanleiding tot die voorsiening van manna (en kwartels) was eintlik die ongehoorsaamheid van die volk Israel pás nadat hulle op wonderbaarlike wyse uit Egipte gelei en van die Egiptiese leër bevry is. Enkele skrifgedeeltes uit Eksodus wil op hierdie ondankbare en liefdelose houding van Israel fokus waarin ons baie maklik onsself kan herken.

Na skuldbelydenis en vryspraak word een van vandag se ander tekste gebruik as riglyn tot toewyding.

Eksodus 14
Die Here het vir Moses gesê: 4Ek sal die farao weer koppig maak, sodat hy julle agtervolg, en Ek sal my mag laat geld teen hom en sy leër. Dan sal Egipte besef dat Ek die Here is.”
Die Israeliete het die bevele uitgevoer.

6Die farao het sy strydwa laat inspan en sy leër saam met hom gevat. 7Hy het sy ses honderd beste strydwaens gevat, asook al die ander Egiptiese strydwaens, elkeen met ’n bemanning van drie.

10Toe die farao nader kom, sien die Israeliete skielik die Egiptenaars sit hulle agterna. Hulle het baie bang geword en benoud na die Here geroep.

11Hulle het vir Moses gesê: “Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het? 12Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir die Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom.”

13Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. 14Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”

21Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met ’n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is. 22Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos ’n muur gestaan.

Eksodus 15
23Toe hulle by Mara aankom, kon hulle nie die water drink nie, omdat dit bitter was. Daarom het hulle die plek Mara genoem.
24Die volk het by Moses gekla: “Wat moet ons drink?”

25Moses het die Here aangeroep, en die Here het hom ’n stuk hout gewys. Hy het dit toe in die water gegooi, en die water het soet geword.
Daar het die Here die volk op die proef gestel en daar het Hy vir hulle ’n vaste reël neergelê. 26Hy het gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf. Dan sal Ek geeneen van die siektes waarmee Ek Egipte getref het, oor julle bring nie, want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou.”

Eksodus 16
2In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset 3en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”

Skuldbelydenis

Lied 231 “Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,3”

Vryspraak: 1 Johannes 1:8-9 ()
8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Riglyn vir toegewyde lewe: Efesiërs 4
Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

Liedere

F70. “Lig Vir Die Wêreld”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis / Diensbaarheid)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Maak ons oë oop as ons die nag in kyk
Wys ons die hoop wat duisternis laat wyk
Gee ons woorde, Heer, waarmee ons wyd kan loop
Week ons met waarheid breek ons bekers oop
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons
Skyn in die donker met liefde wat verlos
Stuur ons met lewe vol van helder hoop
Kom vul ons o Gees om sout te kan wees
Lig vir die wêreld kom skyn deur ons

Heer ontmoet ons hier woon in ons lofgesang
U is die rykdom waarna ons verlang
As U lig ons lei ons na die wêreld stuur
Seën ons met volheid vul ons met U vuur

Kom Jesus skyn laat donker verdwyn
Skyn in die nag laat breek die dag

Vader salf ons oë raak ons met deernis aan
Ons wil U hart vir verlorenes verstaan
Laat ons U wyn en melk neem vir dié sonder geld
En lewensbrood vir hul wat dit nie kan koop

Lig vir die wêreld
Kom skyn deur ons!

F281. “Hier Is Ek”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toetrede)
Teks en Musiek: Carli Lessing
© 2007 Broken Records

1. Hier is ek nou met my vissies en my brood
En ek bring dit voor U soos ‘n kind
Ek weet dis te min om ‘n skare te voed,
Maar in U hand is dit genoeg

Refrein:
Hier is ek, Here gebruik my
Hier is ek, kom lei my
Hier is ek, Here gebruik my
Waar U nou reeds werk

2. Kan ek maar nou dit alles vir U gee
En leer te vertrou soos ’n kind?
Van die golwe vergeet, my oë op U hou
Want deur u krag, sal U my daar hou

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese Lied 254 “Spreek Heer, spreek Heer 1”

Skriflesing Eksodus 16:2-15

Prediking

Familie-oomblik

Eksodus 16 se verhaal leen hom tot ‘n dramatiese vertelling waarin op die detail en verrassings in die verhaal gefokus kan word. Kinders is minder geïnteresseerd in die voorsiening van die verhaal, dinge waaroor grootmense opgewonde kan raak, omdat daar gewoonlik vir hulle voorsien word. Met ouer kinders kan dit egter ook aangeraak word.

‘n Baie eenvoudige inkleurprent veral geskik vir kleiner kinders.

Preekriglyn

Personeel by die Bridger Wildernisgebied in Wyoming, VSA, het in 2005 ‘n opsomming gemaak van kommentaar wat stappers op terugvoerkaarte gelewer het. Die volgende terugvoer is onder andere gegee:

  • Die wandelroetes moet wyer gemaak word sodat mense hande kan vashou terwyl hulle stap;
  • Roetes moet herontwerp word. Vermy asb. paadjies teen steiltes uit.
  • Daar is te veel goggas, veral spinnekoppe en spinnewebbe. Roei asb. hierdie peste uit.
  • Plavei asb. die wandelroetes sodat mense makliker kan stap en sneeu in die winter met sneeuploeë verwyder kan word.
  • Installeer sitbankies op hyskrane op strategiese punte, sodat mense die wonderlike uitsig kan geniet sonder om soontoe te moet loop.
  • Jakkalse het laasnag te veel geraas gemaak en my wakker gehou. Raak asb. van dié aanstootlike diere ontslae.
  • ‘n Klein diertjie het laas nag by my kampplek ingesluip en my suuruitjies gesteel. Waar doen ek aansoek, sodat julle my vergoed?
  • Weerkaatsers moet asb. elke 15 meter aan bome aangebring word sodat mense snags met flitse kan stap.
  • Roltrappe moet op die steil gedeeltes van die wandelroetes geïnstalleer word.
  • ‘n McDonald’s aan die einde van die langer staproetes sal wonderlik wees.
  • Die plekke waar wandelroetes nie beskikbaar is nie, is nie goed gemerk nie.
  • Daar is te veel rotse in die berge. Maak dit asb. minder.
Gemaksones

Mense verkies gemaklikheid, gemaksones en bekende ruimtes. Wat vir jou bekend is, word ‘n veilige huis waarin jy, figuurlik gesproke, woon.

Wanneer jy van die bekende gestroop word, verlang jy terug daarna. Jy kan nie die nuwe omgewing na waarde skat nie. In die Bridger Wildernisgebied hierbo kon mense selfs nie die wonderlike natuurskoon, plante, diere en goggas geniet nie. ‘n Bietjie oefening in die vars lug word te veel moeite. Hulle wil die ou bekende saamneem wildernis toe.

Selfs wanneer jy reis, verkies jy om ‘n veilige ruimte rondom jou met jou saam te dra.
Meeste mense is in ‘n groef – ‘n gemaksone – en hou daarvan.

Geestelike waarde van ontwrigting

Die Bybel beklemtoon op baie plekke dat ontwrigting, die losbreek uit jou gemaksone, goed en heilsaam is vir jou geestelike reis met God. Een van die bekendste verhale hieroor is Israel se reis met God deur die woestyn. Die woestyn, of wildernis, is in Bybelse taal die plek waar die Here sy mense vorm. Só het God ‘n klomp slawe uit Egipte verlos en hulle in die woestyn, oor ‘n lang tydperk, tot sy volk gevorm.

Coenie Burger (in sy boek Vergesel van die Almagtige) maak baie waardevolle opmerkings oor die plek wat die woestyn in die Bybel inneem. Dis ‘n:

  • tyd van skaarste, ’n tyd waarin mense bewus word van hulle broosheid en afhanklikheid,
  • ’n tyd van wisseling tussen wanhoop en hoop,
  • ook ’n tyd van voorsiening (water, manna, kwartels), omdat God daar is.

Omdat die Here self in die woestyn teenwoordig was, sê Burger, het Israel eerstehands geleer en gesien hoe hierdie Heer beheer neem. Dit het hulle geleer om die Here op ’n nuwe, dieper manier te leer ken: “Die woestyn is die plek waar jou oë weer kan oopgaan om die wonder van gewone dinge in die lewe te waardeer. Die woestyn kan ’n plek vol verrassings wees.”

Woestyntye

Ons ervaar almal woestyntye. Soms gaan mens individueel deur ‘n moeilike oorgangstyd, ‘n tussen-in tyd, waar die ou bekende verby is en die nuwe gestalte van jou lewe nog nie uitgesorteer is nie. Soms gaan families deur woestyntye. Dieselfde gebeur met woonbuurte, stede, en ook met gemeentes.

Soms is dit sonde, misdaad, of onverantwoordelikheid wat jou in ‘n woestyntyd dompel. Dit kan ook – soos in Israel se geval – verlossing wees. Die Here se genade plaas jou in die woestyn. Die Here maak jou vry van dinge, en dit plaas jou in ‘n oorgangstyd. Hoe sleg of ontwrigtend dit ook al is, is ‘n woestyntyd gewoonlik ‘n heilsame ervaring in ‘n mens se lewe.

Kom ons fokus op die geestelike waarde van die woestyntyd op reis met God:

Een: die woestyn as tyd van toetsing
Nog minder as twee maande uit Egipte, begin die Israeliete hulle in Eksodus 16 nogmaals teen Moses en Aäron verset. Hulle kla oor ‘n gebrek aan kos en verlang terug na die vleispotte van Egipte (2). Hierdie is inderwaarheid verset teen die Here self, sê Moses (6,7). God het hulle uit Egipte gelei, maar die volk is nie tevrede nie. Hulle verset hulle nou teen die genadige, verlossende handelinge van God.

Die gekla is dus verset teen die Here se leiding. Die volk sal liewer slawerny as die Here se leiding verkies. Dit is ‘n bevraagtekening van die wysheid om God te volg. God het God self openbaar in die bevryding uit Egipte, en dit vorm die basis van Israel se identiteit as God se volk. Die verset slaan ‘n dodelike hou in die rigting van die verhouding tussen God en God se volk.

Teen hierdie agtergrond word die daaglikse gawe van manna en kwartels uit die hand van God aangekondig. Dié gawe is ‘n teken dat die Here die verset teen sy handelinge in hulle lewe raakgesien het. Hulle word nou uitgenooi om vanuit die Here se hand te lewe.

Die daaglikse voedsel is ‘n toets: sal die volk kies om vanuit God se beloftes van trou te lewe? Of sal hulle teen God kies, en hulle eie pad inslaan?

Die erns van hierdie toetsing word beklemtoon deur die verskyning van die magtige teenwoordigheid van die Here wat in ‘n wolk sigbaar word. Dit gebeur toe die volk “voor die Here kom staan” (9), wat dui op ‘n erediens-ontmoeting, ‘n egte tabernakel-ervaring. In hierdie gewigtige ontmoeting met die Here word God se sorg duidelik, en word die volk genooi om daaruit te lewe.

Die woestyn sou vir lank Israel se tuiste wees. Hulle sou dikwels getoets word, en dikwels die toets druip. Dink maar net aan die maak van die goue kalf, die verwerping van die verspieders se verslag, e.s.m. Tog het die toetsing voortdurend die effek gehad dat dit Israel aan die Here gebind het.

Dikwels is die woestyntye in ons eie lewens sulke tye van toetsing. Die vraag is of ons aan die Here alleen vashou en aan Hom getrou is.

Twee: die woestyn as tyd van groei en verandering
Deur al die ervaring van God se teenwoordigheid, deur ongehoorsaamheid, ontrou en toetsing heen, was die woestyn die ruimte waar die volk se nuwe identiteit as Gód se volk gevorm is. Die woestyn het ‘n ruimte vir bekering, groei, en verandering na ‘n slawevolk na God se volk geword.

Deuteronomium 8:2, 3 verwys hierna:
Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.

Die woestyntyd was dus uiters nodig. Deel van hierdie proses was om te leer om uit God se hand te leef, om te ontdek dat sy genade groter as hulle mislukkings en sonde is, om sy leiding in alle opsigte te respekteer en te volg, en om ’n nuwe gehoorsaamheid aan te leer.

Hierdie verhaal vind plaas in die aanloop tot die grootste Godsverskyning in die Ou Testament, naamlik toe die Here die wet aan hulle gegee het. Daar kom bevryding, nuwe identiteit, toetsing en opdrag bymekaar: Ek is die Here wat julle bevry het . . . doen my wil (Eks 20).

In hierdie tye van groei leer ons ook vandag steeds hoe broos ons eie lewe is en hoe afhanklik ons van die Here is. Ons leer die regte, lewegewende water drink, en leef vanuit die regte voedsel, die doen van die wil van God.

Drie: die woestyn as ruimte om uit God se voorsiening te leer leef
Die volk leer die Here self beter in die woestyn ken. Hulle leer die Here se geduld en sy omvattende voorsiening ken. God se geduld is oneindig, skryf Sadhu Sundar Singh: “Mense, soos klein keteltjies, kook vinnig met woede oor vir die kleinste oortreding. God is nie so nie. As God so gou kwaad geword het, sou die wêreld lankal ’n puinhoop gewees het.”

Hulle verset teen die leiers en die Here het nou duidelik geword. Tog is die wonderlike boodskap van hierdie gedeelte. Die Here voorsien, ten spyte van hulle sonde, in hulle behoeftes. Sy plan vir hulle word nie deur hulle ongehoorsaamheid aan bande gelê nie. Hulle dink hulle toets die Here in hulle omstandighede. Wat die Here egter doen, is om hulle deur sy openbaring te verras. Elke besondere gebeurtenis in die geskiedenis van Israel, die bevryding uit Egipte, die deurtog deur die see, die leiding deur die woestyn en hierdie gebeurtenis het een doel: dat Israel deur eerstehandse ervaring een ding sal ervaar “sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.”

Hierdie klaende volk word deur Moses opgeroep om as sondaars te “nader” en “voor die Here se aangesig” te kom staan. Die volk moes ontdek wie hulle regtig is. Hulle moes gestroop word van hulle hunkering na die ou lewe en moes leer wat dit beteken om onder sy leiding te lewe. Op hierdie oomblik ontdek hulle dat Hy met hulle in die woestyn is. Hy is nie afwesig nie en het hulle ook nie as ’n verlore saak afgeskryf nie.

Israel leer die Here al klaend deur sy omvattende voorsiening ken. Hierdie gedeelte herinner die volk dat die Here in die oggend en in die aand in hulle behoeftes sal voorsien. Hulle sal hulle “daaglikse brood” uit die Here se hand ontvang – ook vir die Sabbatdae wanneer hulle fokus op sy trou en sorg moet wees. Die Here weet wat hulle elke dag nodig het. Dit is wat Jesus sy mense leer bid het.

Tot vandag toe moet ons leer waar ons brood werklik gebotter is. Is ons versorg in die ou groewe waarin ons ons bevind? Is dit die gemak en die bekendheid van ons omstandighede, die patrone waarin ons ons veilig voel, waarin ons versorging geleë is?

Vier: die woestyn as skool van gehoorsaamheid
Toetsing, groei en verandering en ruimte om uit God se voorsiening te leer leef, loop uit op die woestyn as leerskool vir gehoorsaamheid.

Ons leer die dissipline om aan die Here gehoorsaam te bly en op sy leiding te wag. Wat doen ons ervarings van God se voorsiening ten spyte van ons sonde aan ons? Hoe verander hierdie ervaringskennis van God ons? Om te besef dat Hy die Here ons God is, loop uit op gehoorsaamheid. God se liefde vir ons word uitgestort sodat ons kan verander. Uiteindelik is die toets nie of God in ons behoeftes sal voorsien nie, of Hy dit sal maak nie. Die voorsiening van die Here, sy openbaring aan hulle, is ten nouste gekoppel met die aanleer van absolute gehoorsaamheid aan Hom. Hulle moet net genoeg kos vir daardie dag en vir hulle gesin optel. Met sy voorsiening aan hulle, sou Hy toets of hulle Hom alleen vir die toekoms vertrou. Die uiteindelike toets is nie of die Here dit sal maak nie, maar: sal ons dit maak?

Toepassing

As Nuwe Testamentiese volk van God op reis na die beloofde land, worstel die Christelike kerk en individuele Christene gedurig met gehoorsaamheid aan die Here. Ons juig omdat die ware manna, die Brood uit die hemel, Jesus Christus gekom het (Joh 6:58). Ons ontvang hierdie geestelike manna gereeld met nagmaal. As vreemdelinge en bywoners, trekarbeiders, leef ons ook met ’n belofte: Hulle wat oorwin, sal die verborge manna aan die einde van die tyd ontvang – die ewige gemeenskap met die Brood uit die hemel, Jesus Christus (Op 2:17).

Paulus benadruk dat Christene nie dieselfde foute moet maak as die ou volk van God nie. Gaan ons, ten spyte van hierdie geestelike voedsel wat ons ontvang het, dieselfde sonde herhaal? (1 Kor 10:3-9).

Op hierdie trekpad tussen wat ons ontvang het en waarheen ons op pad is, is die Here besig met die inbreekproses in ons lewe. Hier word ons getroos en aangespoor deur die spesiale openbaring van Jesus Christus op ons trekpad. Immers, Hy het ons lewe volledig gedeel. Toe Hy honger geword het in die woestyn en die versoekings van mag, populariteit en indrukwekkendheid (Matt 4) Hom aangebied is, het Hy besef dat ons nie van brood alleen kan lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van die Here kom.

In Hom sien ons wat werklik belangrik is. Op ons woestynpad sal brood nie altyd genoeg wees nie. Soms sal ons honger en dors wees. S y beloftes, teenwoordigheid en genade, ten spyte van ons mislukkings, sal egter meer as genoeg wees. Omdat Hy Homself so aan Israel en deur Jesus aan ons geopenbaar het, pak ons die woestyntog aan met die wete: Die Een wat medelye met ons swakhede het, het dieselfde pad geloop!

Dis egter ook op hierdie trekpad waar ons ’n inoefening nodig het om getrouer aan die Here te wees, om Hom beter te leer, om sy plan vir ons lewe te vertrou, om gehoorsaam te bly, selfs al moet ons die Here in die woestyn met sy baie ompaaie vertrou. Ons Heer is uit die hemel ontwortel. Sy lewe was nie gemaklik nie, maar Hy was tot die uiterste toe gehoorsaam aan die leiding van sy Vader. Nouwen skryf: “Hulle wat die ontwortelde Heer volg, vorm die Christelike geloofsgemeenskap.”

Slot

Mens kan die wildernis, die woestyn, misverstaan. Dan kla jy, soos stappers in die Bridger wildernisgebied, dat daar te veel rotse, klein diertjies en goggas is. Of jy kan die woestyn omhels. En nuut daaruit te voorskyn kom.

Vorige riglyn

Eksodus 16:2-15 (Jan Woest)
[Hierdie preek is oorspronklik geskryf vir 19 September 1999 – die Sestiende Sondag in Koninkrykstyd]

Tema: God se sorg en trou maak mense bly. Blydskap en lof verdwyn wanneer ons meer wil hê as wat God uit genade vir ons gee.

1 Teks
Die toonaard of tendens van hierdie teksdeel word op ’n manier uitgespel in die werkwoord van die eerste sin daarvan. Die hebreeuse begrippe kehtib en qere, word met “ mor”, “ verset”, en “ kla” vertaal en kom in variante vorme 7 maal in die teksdeel voor. Deur en deur is dit ’n vertelling oor mense se verset en kla en God se ongelooflike reaksie daarop. Die inhoud van die klag en die rede tot verset van die volk, is klaarblyklik dat Moses en Aäron as verteenwoordigers van Jahwe hulle mislei en benadeel het, deur hulle uit Egipte weg te lei op weg na die beloofde land. In ‘n situasie van skaarsste en swaarkry word die lof en blydskap oor die aanvanklike verlossing uit die oorspronklike ellende en verdrukking in Egipte al gou vergeet en is die grondliggende ingesteldheid een van protes en klagte. Egipte se toestand word selfs in positiewe terme van vleispotte en oorgenoeg kos onthou. Daarenteen word die woestyn beleef as die plek van skaarsste en sekere dood as gevolg van verhongering.

Opmerklik in vers 4 is dat Jahwe self reageer sonder dat Moses en Aäron vir Hom kan meedeel wat die klag is. Dis duidelik dat Jahwe sensitief is wat vir die omstandighede, gemoed en gesindheid van sy volk wat Hy uit Egipte bevry het. Ten spyte van hierdie direkte en sensitiewe waarneming van Jahwe is dit egter ook opmerklik dat die teks in vers 4 en vers 11 net vermeld dat Jahwe met Moses praat. Die Here praat nie met die volk nie, maar met Moses oor sy ervaring van die volk se gesindheid en woorde en sy reaksie daarop. Die teks se struktuur word dan ook saamgestel deur hierdie onderlinge gespreksmededelings. Eers is die volk aan die woord met hulle klag, toe praat die Here met Moses oor wat Hy hoor, daarna is dit Moses en Aäron wat eers met die volk praat en toe Moses wat vir Aäron ‘n opdrag gee om aan die volk oor te dra en dan praat die Here weer met Moses oor wat gaan gebeur en laastens verduidelik Moses vir die volk wat plaasgevind het. Tussenin is daar net die kort agtergrond beriggies in verse 10 en 12b tot 14 om die afloop van die gesprek weer te gee.

2 Konteks
Dit wil voorkom asof hierdie teksdeel daarop sinspeel dat Israel se besef en begrip van wie die Here God is, ten nouste saamhang met sy konkrete voorsiening vir hulle. Op ‘n manier kan dit gelees word as ‘n toetssaak na beide kante toe. Knap na die bitter water (15:22-26) episode waar die volk kon agterkom dat Jahwe ernstig is met hulle, kom die vleis en brood kwessie op die tafel. Die woestyn begin die volk druk en die volk se klagte stel Jahwe voor die opsie om daarop te reageer. Breedweg beoordeel, kan ‘n mens sê dat die volk hulle toets druip, veral as die versekering van vers 26 onthou word, terwyl Jahwe sy toets met vlieënde vaandels slaag. Sy reaksie is immers heeltemal nie wat ‘n mens gedink het Hy sou kon doen nie, naamlik om die volk streng tereg te wys en selfs ‘n paar “ oorkonkels” te gee om hulle te laat besef met Wie hulle nou eintlik op weg is.

Na my mening is ‘n baie belangrike aspek van hierdie teks die mededeling in vers 7. In ‘n sin kan dit as die spilpunt van die hele berig gelees word. Hier blyk dit duidelik dat die volk se verset en gemor oor die toestand waarin hulle hul bevind, die leierskap van Moses, die moeilike omstandighede in die woestyn en die uittog as geheel, vertolk en aangebied word as in wese ‘n direkte protes en verset teen Jahwe self. Jahwe is die een wat hierdie pad met hulle begin loop het en dit nog steeds loop. Daarom is daar ‘n aspek van die uittog wat hulle onbehaaglik vind en waarteen hulle in opstand kom, is dit eintlik in wese ‘n protesaksie teen Jahwe self. Om oor die leiers en kos te kla is eintlik om Jahwe aan te kla as ‘n swak voorsiener en misleier.

Wanneer hierdie aspek besef word, is die geduld en verdraagsaamheid van Jahwe ten opsigte van hierdie blatante ondankbaarheid en negatiwiteit baie opvallend. Wanneer die atmosfeer dan na hierdie arrogansie van die volk in vers 10 geteken word dat hulle na die woestyn gekyk het en die magtige (ook geweldige) teenwoordigheid van Jahwe sien, verwag mens half met opgehoue asem dat Jahwe kras op die mosie van wantroue en verset gaan reageer. Daarom is dit so verrassend en oorbluffend dat in vers 12 Jahwe letterlik sê dat Hy sien en weet die volk is in opstand teen Hom en die pad waarop Hy hulle lei, maar dat Hy hulle nie daaroor verkwalik nie, maar hulle eerder gaan tegemoetkom en vir hulle gaan sorg op ‘n manier wat hulle nooit sou kon dink nie. Hy gaan vir hulle “oorgenoeg kos” (sinspeling op die volk se selektiewe geheue oor Egipte) gee sodat hulle kan weet en glo Hy is die Here hulle God. Die Here het vir sy volk vleis (kwartels) en brood (manna) in oorvloed en deurlopend voorsien sodat hulle sy sorg en begrip daagliks kon ondervind en hopelik kan besef dat Hy werklik die Here is wat sy onderneming gestand doen en wat hulle nie in die nood sal laat vasval nie.

3 Preekvoorstel
Elkeen van die volgende punte kan breedvoerig in eie idioom en met voorbeelde uitgebrei en toegepas word.

  • Mense reageer gewoonlik tweeledig, negatief op die dikwels moeilike situasie en toestande waarbinne hulle bevind. Soms uiterlik en luidrugtig gee hulle hul ervaring van en siening op hulle omstandighede weer. (Kla, mor, protesteer, ens.) Baie maal reageer hulle egter ook innerlik en stilswyend op hulle situasie (wonder, verwens, krop op en kners op tande, ens.)
  • Die punt is, uiterlik of innerlik maak nie soveel saak nie. negatiewe reaksie, hoorbaar of in stilte, kom feitlik altyd op uit die hart van die sak, naamlik ons mense se siening van die Here se vermoë, beheer en hantering van ons lewens, omstandighede en sy koninkryk in hierdie wêreld.
  • In hierdie teksberig het Israel hoorbaar gekla oor die moeilike toestande wat hulle ondervind het. Tog wys vers 7 uit wat eintlik die ding is waaroor dit gaan. Hulle klagte was ‘n mosie van wantroue en dus ‘n belediging van die integriteit van Jahwe self. Al skrum hulle met Moses en Aäron, hulle onbehae en trappery is op Jahwe gerig. Hulle kom Hom by.
  • Wat die teks oor mense sê, is nie vreemd of nuut nie. Ons ken dit, want ons is ook so, veral deesdae in die nuwe en uitdagende omstandighede waarin God met ons as koninkryksmense op weg is in hierdie land. Alteveel is ons geneig tot die negatiewe, klaende en verwytende ingesteldheid ten opsigte van alles wat rondom ons aan die gebeur is.
  •  Wat die teks oor die Here leer, is opwindend en verblydend. Twee goed staan voorop.
    • Die Here is sensitief vir die reaksies van sy mense. Hy voel dadelik aan waaroor dit gaan wanneer sy volk begin kla en kreun.
    • Hy ignoreer en negeer nie sy mense se negatiewe reaksies nie. Hy bestraf dit nie eers nie. Hy tree verrassend positief op. Hy gee brood en vleis in oorvloed.
  • Met so ‘n God kan ‘n mens alleen en in groepsverband regtig aanhou om ‘n pad te loop. Tog is dit vorentoe net baie beter om in moeilike omstandighede sy sensitiwiteit en betroubaarheid ernstig te neem en veel minder negatief te reageer en liewer te weet Hy is in beheer, selfs al lyk dit nie vir ons swak ogies so nie.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus, wat uit niks die hemel en die aarde en alles daarin en daarop geskep het en wat nog steeds alles onderhou en oor alles heers, deur sy ewige besluit en voorsienigheid my God en Vader is op grond van Jesus Christus.

Ek vertrou so vas opHom dat ek geen twyfel het nie dat Hy aan my sal voorsien wat ek nodig het vir liggaam en siel. Hy sal alle teenspoed wat ek in hierdie hartseer wêreld mag beleef my ten goede laat gebeur.

Ons kan geduldig wees wanneer dinge teen ons draai en dankbaar wanneer dit goed gaan. Wat die toekoms betref, kan ons opreg vertrou op ons getroue God en Vader dat niks ons van sy liefde sal skei nie.

Hy kan dit doen want Hy is die Almagtige God en Hy begeer om dit te doen, want Hy is ’n getroue Vader (H K Vrg en Antw 26, 28).
Dit kan hardop deur die gemeente gedoen word of deur die voorganger voorgedra word.
(Uit Basisliturgie vir die seisoen van Barmhartigheid in Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Offergawes

Wegsending: Lied 253 “U het die brood gebreek vs 1,2”

Seën
Voorganger: Gaan hiervandaan met vreugde. Dans, lag, sing en skep.
Gemeente: Ons gaan met die versekering van die Here se seën.

Voorganger: Gaan hiervandaan met die vertroue om te waag en lief te hê.
Gemeente: Ons gaan – verseker van die Here se seën.

Voorganger: Gaan hiervandaan met die geloof om te glo, te hoop, te stry en te onthou.
Gemeente: Ons gaan met die versekering van God se liefde. Alle dank kom God toe.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.