Tiende Sondag van Konikrykstyd

Sections

Oorsig

Waar Jesus se bediening in Lukas 4:14-9:50 hoofsaaklik afgespeel het in die platteland  van Galilea is Jesus in hoofstuk 9:51-19:44 “op pad na Jerusalem”.  Telkens gaan sy vasbeslotenheid om daar uit te kom ook herhaal word (9:51; 10:38; 13:22; 17:11; 18:31).

Jesus versamel dus steeds dissipels om Hom, Hy daag steeds almal uit met sy onderrig, en Hy staan spesifiek die Fariseërs se Godsbeeld teë – en word natuurlik verwerp as gevolg daarvan – maar die hoofmotief van hierdie gedeelte is dat Hy op pad is om Sy roeping te vervul om versoening tussen God en mens te bewerk.  En dit kan Hy net in Jerusalem doen.

Lukas 9:51-11:54 – Gefokus op God en die naaste
Jesus se vasbeslotenheid is treffend. Hy weet wat Hy moet doen.  En Hy weet wat die einde van daardie pad is.  Tog fokus Hy met passie op hierdie roeping, al beteken dit dat Hy soos Johannes die Doper met sy lewe daarvoor sal moet boet.

Let op hoe Hy hindernisse op sy weg hanteer. Hy verteer nie met vuur dié wat Hom nie wil ondersteun op sy pad nie (9:52-56 -Samaritane), soos Hy die dissipels ook gekeer het om ander te verhinder wat ook goed doen, maar nie die pad saam met hulle loop nie (9:50). Hy laat dit Hom nie afsit nie, en bly op die pad wat Hy ingeslaan het.

Tog roep Hy ook steeds mense om Hom te volg, en spreek hulle aan as hulle die roepstem probeer ontduik. Hy doen dus wat Hy moet doen, nooi mense saam op dié pad, maar dwing hulle nie saam nie (9:57-62).

In die proses stuur Hy nou die 72 twee-twee uit om op die pad na Jerusalem – elke plek waarheen Hy van plan was om te gaan – die evangelie te verkondig. Daarmee gee Hy aan die kerk ’n model van bediening wat, hoewel nie noodwendig op presies dieselfde wyse nie, nagevolg kan word.

Hier kom ‘n mens nou ook agter waarom Hy nie sterker reageer op die weerstande of huiweringe nie. Afrekening kom aan die einde van die tyd, net soos die heerlikheid ook dan wag vir dié wat gehoorsaam is. Dit motiveer Hom, en vorm die rasionaal agter sy bedieningstyl.

En wat vir Jesus geld, geld ook vir sy dissipels: wie na hulle luister, luister na Jesus, en wie nie luister na hulle nie, luister nie na Hom nie.

Die blydskap van Jesus oor die sukses van sy uitstuur-opdrag is roerend (10:21-22).  Wat begin het met ’n alleen-pad wat Hy geloop het, opgevolg is deur die kern-groep van 12 dissipels uit te stuur, is nou ook suksesvol met 72.  God se plan, soos dit begin ontvou, werk inderdaad.

Let op hoe Jesus dan drie groot lesse vir die dissipels leer:

  • Die feit dat hulle grense moet oorsteek soos die barmhartige Samaritaan (in kontras met dorpie wat Hom verwerp het) en hulle liefde vir God moet demonstreer in hoe hulle vir ander ’n naaste is (10:25-37).  Let op hoe dit ook ’n eksplisiete korreksie op die Farisese idee is, wat gedink het jy kan met God ’n verhouding via die wet hê, sonder om aandag te gee aan die wyse waarop hulle ander mense insluit.
  • Die feit dat Jesus en sy woorde die fokus van hulle lewe moet wees, en nie net om reg te staan en bedrywig te wees nie  – verhaal van Marta en Maria (10:38-42).
  • Die feit dat alles in ’n gebedsafhanklikheid van God gedoen moet word (11:1-13) waarby God se oorvloedige gewilligheid om te antwoord met ’n pragtige gelykenis uitgedruk word.

Dan skuif Jesus se aandag na die skare mense, waaronder ’n klomp Fariseërs, en gee lering oor die impak van die koninkryk wat Hy verkondig, en spel dit uit in terme van:

  • die effek op die koninkryk van die duiwel, waarmee Hy duidelik die kloof tussen die twee uitwys – jy kan nie in altwee kampe wees nie (11:14-23);
  • die noodsaak van toewyding aan God as teenvoeter vir ’n terugval in die mag van die duiwel (11:24-26 en 27-28) – “hoor en onderhou”;
  • die noodsaak om die tekens te kan onderskei – Jesus is hier, maar mense weier om in sy lig te wandel (11:29-32 en 33-36);
  • die dwaasheid van die godsdienstige Fariseërs en wetgeleerdes wat hulle oor uitwendige goed bekommer, maar nie oor wat binne in hulle harte aangaan nie, en nie na Jesus kyk om sy boodskap te begryp nie, maar hoe om Hom uit te vang in ’n strik van een of ander aard – vir hulle, sê Jesus, wag daar net ellende (11:37-53)

Ander tekste

Hosea 1:2-10; Psalm 85; Kolossense 2:6-15, (16-19)

Fokusteks

Lukas 11:1-13
Onderrig oor die gebed

(Matt 6:9–15; 7:7–11)
11 Jesus was êrens op ’n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”
2En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan:
Vader, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom.
3Gee ons elke dag
ons daaglikse brood;
4en vergeef ons ons sondes,
want ons vergewe ook elkeen
wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie.”

5Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het ’n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, 6want ’n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’7En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie … ’8Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie.

9“Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 11Is daar ’n pa onder julle wat as sy seun vir hom ’n vis vra, vir hom ’n slang sal gee in plaas van die vis?  12Of as hy ’n eier vra, vir hom ’n skerpioen sal gee? 13As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 267 “Ons Vader op die hemeltroon”
Vonkk 112 “Ons Vader in die hemel”
Flam 95 “Onse Vader”

Votum
So sal ek kom
Met my stukkie lof
Met my bietjie bid
Met my sinne van stof
Wil ek voor U kom sit
Met vandag se leef
En môre se dood
Met my reguit en skeef
Met my honger en brood
So sal ek kom
As ek kom om te juig
Dankbaar en dom
Sal ek nederig kom buig
(Uit:  Optelwoorde – Koos van der Merwe, aangehaal in 2001.  Handleiding vir die Erediens, Bybelmedia)

Lofsang
Lied 428 “Loof Christus, roem sy wonderdade”

Wet: Kolossense 6:2-10

Skuldbelydenis
Genadige God,
Ons bely dat ons teen U gesondig het,
Deur gedagte, woord en daad,
Deur wat ons gedoen het,
En deur wat ons nie gedoen het nie.
Ons het U nie met ons hele hart liefgehad
En ons naaste soos onsself nie.
In u groot genade, Here, vergewe ons,
Help ons op die regte pad,
Sodat ons u wil sal soek
En op u paaie sal stap,
Tot eer van u Naam.
(Uit Wepener, Cas 2001.  Soos ’n Blom na die son draai, Bybelmedia)
OF
Flam 170 “Here Open Ons Harte (Soos In Die Hemel)”

Genadeverkondiging
(Liturg staan by doopvont) 
Kolossense 2:11-15

Apostoliese Geloofsbelydenis

Liedere

F95. “Onse Vader”
(RUBRIEK: Flam – Gebed)
Teks en musiek: Marina du Toit
© Urial Publishing

Ons Vader wat daar in die hemel woon
heilig is u Naam, heilig is u Naam.
Laat ook nou u koninkryk hier kom.
Laat u wil geskied by ons,
net soos in die heem’le.

Gee vandag ons daagse brood,
vergewe ons ons skuld,
net soos ons ook dié vergeef
wat skuldig is teen ons.

En red ons van versoekings, Heer.
Hou u hand oor ons.
Verlos ons van die Bose,
dat U kinders sterk kan staan!

Want aan ons Koning behoort die mag en majesteit
en aan ons Koning behoort die krag en heerlikheid.
Vir ewig! Vir ewig! (tweede keer x2)
Amen!

F170. “Here Open Ons Harte (Soos In Die Hemel)” 
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Toewyding)
Teks en musiek: Retief Burger
Kopiereg: © 2008 Urial Publishing
(Opgeneem op Oorgegee)

1. Here, open ons harte, open ons oë,
Here wys ons die ewigheid, dat ons kan glo.
Daar is meer, daar’s soveel meer
om ons lewens voor te gee.

2. Here, leer my van liefde, dat liefde altyd wen.
Here, leer my gehoorsaamheid dat ek kan sien.
Daar is meer, daar’s soveel meer
as ek my lewe weg sal gee.

Pre-refrein:
Here, hier is ek, ek gee myself.
Alles vir u eer, alles vir u Naam, alles lê ek neer.

Refrein:
Soos in die hemel, soos in u hart
so ook op die aarde, in elke tree wat ek stap.
Laat u wil geskied, in ’n hart wat brand vir U.
Soos in die hemel, soos in u hart
so ook in my lewe, in elke keuse wat ek maak.
Laat u Koninkryk kom, in ’n hart wat brand vir U,
alles vir u eer, alles vir u Naam, alles lê ek neer.

Brug:
Doen met my lewe, net wat U wil.
Want U is my Here, doen wat U wil.
Alles wat ek het gee ek vir U.

VONKK 112 “Ons Vader In Die Hemel (Matteus 6)”
Matteus 6:9 – 13 (effens gewysig)
Teks: Karien Pretorius 2009 (nav Matt 6:9-13)
Melodie: KAMEELDRIFT – Karien Pretorius 2009 © (gewysig)
Orrelbegeleiding: Daleen Kruger 2010 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Albert Troskie 2010 (Pro Deo)
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Gebed

Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word.
Laat u wil geskied in die hemel so ook op aarde.
Gee ons vandag ons dag se brood en vergeef ons ons skulde.
Lei ons nie in versoeking, maar verlos ons van die bose.
Want aan U behoort die koninkryk, die krag en die heerlikheid,
vir ewig en ewig.
Amen.

VONKK 118 “Mayenziwe / U Wil Geskied (Matteus 6:10)”
Matteus 6 : 10
Teks: Mayenziwe ‘ntando yakho –tradisioneel isiXhosa; Afrikaanse weergawe: Cassie Carstens 2010 (Pro Deo)
Melodie: MAYENZIWE – tradisioneel Suid-Afrika, opgeteken deur George Mxadana.
Orrelbegeleiding: Colin Campbell 2010 (Pro Deo): © isiXhosa,  Engelse teks en melodie: Openbare besit
© Afrikaanse teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Multikultureel – Gebed

isiXhosa
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.

Afrikaans
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.

Engels
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Lukas 11:1-13

Familie-oomblik

Daar is so baie maniere om met families oor gebed te praat!  Woord en fees se eksegetiese riglyne gebruik die voorbeeld van ‘n verkeerslig, wat jy ook goed hier kan inspan:  God antwoord altyd gebed!  Soms is die antwoord “ja” – soos die groen van ‘n verkeerslig.  Soms is dit “nee” – rooi.  Ander kere is dit “wag” – soos ‘n oranje lig.

‘n Mens kan kinders ook leer bid met behulp van jou vingers.  Die metode wat verskillende vingers aan verskillende mense verbind, is goed bekend.  Jy kan egter ook vir kinders die verskillende aspekte van gebed leer :

Duim = loof (“thumbs up)
Wysvinger = jammer
Middelvinger = dankie (die langste vinger, daarom die ding wat jy die meeste doen)
Ringvinger = voorbidding (swakste vinger, kan nie op eie regop bly)
Pinkie = bid vir eie behoeftes (kleinste vinger)

Hier is ‘n volledig uitgewerkte gesinsbyeenkoms gebasseer op hierdie model.  Daar is ook ‘n skakel na ‘n boekmerk wat kinders kan inkleur.

Preekriglyn

Waarom sou ons wou leer bid? In ‘n Youtube-uittreksel uit een van sy preke maak David Platt ‘n insiggewende opmerking. Ons het dikwels nie ‘n behoefte aan gebed nie, omdat ons nie besig is met dinge wat gebed nodig het nie. Mens het nie gebed nodig as jy lê en TV kyk nie. Jy het ook nie nodig om te bid as jy doelloos op die internet rondswerf nie. Jy het nie gebed nodig wanneer jy geen risiko’s vir Christus neem nie, wanneer daar niks in jou verbintenis aan God op die spel is nie. Daarom lei ons lewens wat eintlik getuig dat gebed nie regtig nodig is nie. Niemand dink daaraan om te leer bid as jou geloof bloot roetine is nie. Dit hanteer jy sommer op jou eie stoom.

Maar wanneer jy alles op die spel plaas vir Christus, wanneer jy alles verlaat en Hom volg, dan moet jy leer bid. Wanneer jy jou drome, besittings, hoop en loopbaan opoffer, dan moet jy leer bid. As jy jou reputasie aan Christus verbind, en desperaat is om met jou lewe uitdrukking aan Christus se missie te gee, dan het jy gebed nodig.

Volgens Platt kan mens ‘n lewe lei wat prakties gesproke eintlik sê – sonder dat jy woorde gebruik – jy het nie gebed nodig nie. Of jy kan, soos Jesus se eerste dissipels, alles agterlaat en Jesus volg. Dan het jy nodig om te vra: “Here, leer ons bid!”

“Here, leer ons bid”

In ons teksgedeelte word Jesus deur een van sy dissipels gevra om hulle te leer bid (11:1). Jesus antwoord op drie maniere:

  • Hy gee ‘n kort voorbeeldgebed met gebedsriglyne wat sy dissipels altyd kan gebruik (11:2-4);
  • Jesus vertel ‘n gelykenis oor die waarde van gebed (11:5-8); en
  • Hy moedig die dissipels aan om te bid (11:9-13).

Eerstens: ‘n Voorbeeldgebed
Jesus se doel is om sy dissipels te leer bid. Hulle mag tot God bid omdat Hy hulle Vader in die hemel is. Om dit prakties te demonstreer, leer Jesus hulle ’n model- of voorbeeldgebed. Die woorde in Lukas 11:2-4 is ’n verkorte weergawe van die gebed in Matteus 6:9-13.

Jesus se voorbeeldgebed bestaan uit twee hoofdele wat albei handel met versoeke wat die dissipels het. Met die eerste twee versoeke fokus hulle op God se eer en heiligheid; met die volgende drie versoeke fokus hulle op hulle eie behoeftes. Hierin is Jesus se eie gebedslewe vir hulle dié voorbeeld, waar Hy altyd eers op God fokus en dan op Homself.

Vader

Ons word geleer om God as Vader in ons gebede aan te spreek. Gebed is ‘n gesprek tussen die gelowige en God as ons Vader, binne die ruimte van geloof, vertroue en versorging. Jesus anker gebed in die intieme, persoonlike ruimte van ons verhouding met God. Die aanspreekvorm “Vader” getuig hiervan. Op hierdie wyse verseker Jesus die bidder dat hy of sy die voorreg het om sy of haar verhouding met God op dieselfde vlak te beleef as wat Hyself dit beleef het (Luk 10:22; 22:42). So bevestig Jesus die dissipels se status as kinders van God – dit is ook sy status!

Ons gebed

In Matteus se weergawe van die gebed word God as “ons” Vader aangespreek. Wanneer Lukas Jesus se voorbeeldgebed in verkorte vorm weergee, gebruik hy deur die gebed self konsekwent ook die woordjie “ons.” Dit beteken dat gebed nie bloot net ‘n binnekamer-aangeleentheid is, of iets wat ek op my eie beoefen nie. Gebed is ook beslis ‘n “ons” aangeleentheid. Gelowiges bid saam. Gebed is vir publieke ruimtes en publieke behoeftes bedoel.

Die inhoud van ons gebed

Die kern van die eerste twee bedes (trouens van die hele gebed) is die koningskap van God. Om te bid dat God se Naam geheilig word, en dat God se koninkryk kom, is parallelle versoeke (Marshall).

Die term “koninkryk” moet eerder as werkwoord vertaal word. Ons dink aan “koninkryk” gewoonlik as ‘n geografiese area. Hier word gebid dat die regering van God ‘n werklikheid sal word. Ons bid dat die heerlike, bevrydende regering van God, wat vrede, genesing, geregtigheid, lewensruimte en blydskap bring, ‘n werklikheid sal word.

Wanneer ons bid dat God se Naam geheilig word, bid ons dat God as Koning herken, geëer en gedien sal word.

Ook die res van die gebed, wat handel oor ons daaglikse brood, vergifnis, en bewaring in versoeking, het met die heiligheid van God se Naam en die koms van God se regering te doen. Iemand skryf: “Waar om brood gebid en vir brood gedank word, daar kom die koninkryk. Waar God mense hul oortredings vergewe en mense mekaar s’n, daar kom die koninkryk. Waar versoeking weerstaan en mense van die Bose verlos word, daar kom die koninkryk.”

Om vir God te vra:

  • om in my daaglikse behoeftes te voorsien, is om my afhanklikheid van sy sorg te bely. So erken ek dat Hy die gewer is van alles wat ek elke dag nodig het. Dit laat ons besef dat daar ’n verskil is tussen wat “ek wil hê” en wat “ek moet hê”. Die bede herinner ons aan die talle voorbeelde van God se sorg in Israel se geskiedenis, vir dit wat elke dag nodig is, soos die voorsiening van die manna en die kwartels. So besef ons, veral in die moderne lewe van groot oorvloed en lewensbedreigende armoede: hier word die koninkryk van God sigbaar.
  • Om my / ons sondes te vergewe, is om te erken dat sonde deel van my se lewe is en dat die resultaat van sonde stukkende verhoudinge is, maar ook dat God dit op grond van sy groot genade vergewe. Waar dit gebeur, moet ek ook ander hulle sonde vergewe. So kry God se koninkryk gestalte. Vergifnis dus ’n primêre geestelike behoefte.
  • Om my as bidder te help om die talle versoekings wat my pad daagliks kruis, die hoof te bied. Daarom fokus hierdie bede nie net op beskerming nie, maar ook op die krag tot oorwinning (1 Kor 10:13).

Die koms van God se regering (God se koninkryk) en die eer en verheerliking van God (die heiliging van God se Naam) deursuur die gebed. Wanneer ons gevoed word, vanuit vergifnis lewe en self ook vergewe, en versoeking om ander konings te dien, weerstaan, breek die heerlikheid van God in ons lewens en ons wêreld deur.

Tweedens: Die waarde van gebed
In ‘n tweede rondte vertel Jesus ‘n kort gelykenis oor ‘n man wat in die middel van die nag brood by sy buurman gaan soek. Die man gaan soek nie brood ter wille van homself nie, maar omdat hy volgens die destydse gasvryheidsreëls kos vir ‘n ontydige reisiger moet voorsit. In hierdie vertelling lê Jesus klem op twee aspekte:

  • Die onmoontlike uur van die versoek (11:7). Die buurman en sy hele huis is reeds aan die slaap. Nou word nie net hy verontrief nie, maar ook sy huisgesin. Hy is straks nie baie ingenome hiermee nie.
  • Maar, en dit is die tweede fokuspunt, die man sal tog opstaan ten spyte van die ongerief en sy buurman uit die moeilikheid help. Hoekom? Omdat sy buurman nie skaam is om aan te hou met vra nie. Hiermee kom plaas Jesus die vraer se moed en vrymoedigheid om te bly klop totdat die buurman oopmaak in perspektief. Uiteindelik is hierdie optrede die rede waarom die buurman hom help.

Met hierdie verhaal verduidelik Jesus aan die dissipels dat hulle met vrymoedigheid tot God as Vader kan bid en ook moet bid. As iemand bereid is om in die middel van die nag op te staan om sy buurman te help, hoeveel te meer sal God bereid wees om tydig en ontydig as ’t ware op te staan, die deur oop te maak en te help. Gebed het groot waarde vir ‘n lewe in diens van God en vir gehoorsaamheid aan God. God se regering word ‘n werklikheid wanneer ons ons behoeftes in diens van God na sy Vadertroon neem.

Drie: Aanmoediging om te bid
In die derde gedeelte van die perikoop (11:9-13) tref Jesus ’n vergelyking tussen ’n aardse pa en die hemelse Vader. Jesus moedig eers die dissipels aan om te volhard in gebed (11:9-10); daarvoor gebruik Hy drie sinonieme vir gebed, naamlik: vra, soek en klop. Hierna gebruik Hy die woord “sal” om aan hulle die bevestiging te gee dat God die gebede sal beantwoord.

Hierin lê ons versekering dat ons met vrymoedigheid kan bid. Ons hoef nie te huiwer of bang te wees nie. As ’n aardse pa dan weet om goed te doen aan sy kinders, dan sal die hemelse Vader dit tog baie meer doen, nie waar nie!

Om hierdie gedagte konkreet te maak, praat Jesus van ’n pa wat vir sy kind ’n eier en nie ’n skerpioen sal gee nie (11:12). In beide Lukas en Matteus (Matt 7:9-10) word die beelde gebruik van ’n brood gee in plaas van ’n klip, of ’n vis pleks van ’n slang. Eier, brood en vis – alles items wat van groot belang is om die bidder se aardse behoeftes te stil. God gee dit graag. Hiervan kan Jesus self met groot vrymoedigheid getuig.

God gee egter selfs nog meer as dit. Matteus praat van die “goeie dinge”, terwyl Lukas praat van die Heilige Gees. Hiermee verseker Jesus die dissipels dat God nie net gee wat gevra word nie. Hy gee selfs meer as dit. Hy gee die uitnemendste gawe, die Heilige Gees, vir sy kinders. Die Heilige Gees sal in elke bidder se hart die begeerte wek om in ’n verhouding met God te staan (Rom 8:15) en sal ook die bidder help om reg te bid (Rom 8:26).

Gebed gaan oor die koninkryk van God

Uit Jesus se onderrig is dit duidelik dat gebed fokus op die koms van God se koninkryk in hierdie wêreld. Vir Westerlinge is dit moeilik, omdat ons opgevoed word om ‘n hoë selfbewussyn te hê. Prakties beteken dit ons leer die wêreld wentel rondom onsself en ons behoeftes. Dit kry selfs in ons geloof neerslag. Die erediens handel om my geloofsbelewenisse. Die vraag is of ek “voedsel vir my siel” kry – of nie? Word my behoeftes bevredig – of nie? Het ek ‘n ontmoeting met my Jesus in my hart? Raak ek emosioneel beweeg deur ‘n aanraking van die Heilige Gees in my siel?

Westerlinge korrupteer die evangelie deur uiterste selfgerigtheid.

Daarom moet ons die onderrig oor gebed helder en duidelik hoor. Jesus leer ons dat God die fokus van ons lewe en ons gebede is. Kry God die eer wat God toekom deur ons lewens? Lei ons lewens in diens van God se regering? Gebruik ons die daaglikse brood wat God skenk om God se regering na te jaag?

Iemand skryf:
Die deursnee moderne mens, ook die geloofsmens en die bidder, is deel van ’n lewenswyse wat gerig is op die vervulling van die “eie ek” se begeertes. Dit sluit nie net die begeertes na brood en botter, vergifnis en versoeking in nie, maar ook die vervulling van sy of haar geestelike behoeftes. Indien dit nie gebeur nie, of op ’n manier anders as wat verwag word, dan is die bidder kwaad en word God verwyt dat Hy nie hoor nie, of dat Hy net na sy witbroodjies luister.

Dié gebedsuitkyk is egter nie vreemd aan die mens se lewens- en wêreldbeskouing of Godsbeskouing nie. Selfs die Griekse wysgeer Cicero het gesê: “Ons bid nie tot Jupiter om ons goeie mense te maak nie, maar sodat hy vir ons materiële voordele kan gee.”

Kom ons kies vir roekelose gehoorsaamheid. Gehoorsaam wat gebed nodig maak. En dan bid ons soos Jesus ons leer bid het.

God stuur ons om te leef

Gebed
Gemeente bid saam hardop die Ons Vader gebed

Dankoffer

Slotsang
Lied 266 “Ons Vader”

Seëngebed
O Here, dink aan u beloftes en vervul dit in ons lewens:
Waar ons swak is, gee krag;
Waar ons verward is, gee leiding;
Waar ons ontsteld is, gee troos;
Waar ons dood was, bring lewe.
Weg van U af, o Here, is ons niks.
In en met U, kan ons alle dinge doen.
Amen
(United Church of Canada, aangehaal in 2001. Gebedeboek met liturgiese voorstelle, Lux Verbi.BM)

Respons
Vonkk 118 “U wil geskied” [As die gemeente dit nie ken nie, sal dit beslis die moeite loon om dit aan te leer – dit is ‘n kort, eenvoudige lied met baie liturgiese moontlikehede.]

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.