Tiende Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Preekstudie – Efesiërs 4:1-16

Teks en konteks

Predikers is hopelik reeds goed vertroud met die agtergrond en makrostruktuur van die Efesiërbrief, waarbinne 4:1-16 ’n strukturele eenheid vorm.

Dit is belangrik om inleidend daarop te let dat die tweede hoofdeel van die brief juis hier (met die aanvang van hfst 4) begin. Hierdie hele vermanende gedeelte (4:1-6:20) – gerig aan die kerk – is op die eerste hoofdeel gegrond (1:3-3:21). Dié eerste deel is hoofsaaklik ’n uiteensetting van die geloofswerklikheid waarin gelowiges staan (Roberts).

Die noue inhoudelike verband tussen die indikatief van 2:13-22 en die imperatief van 4:1-16, word in meer as een kommentaar beklemtoon. So byvoorbeeld kan die eenheid waartoe gelowiges opgeroep word om na te streef (4:3, 13), nie van die eenheid as gegewe in Christus losgemaak word nie (2:12, 15-16). Die vrede wat gelowiges teenoor mekaar moet uitleef (4:2-3), berus op die versoeningswerk van Christus en die boodskap van vrede wat Hy gebring het (2:14-17). Die opbou en groei van die liggaam (4:12-13,15b-16) is net moontlik op grond van die versoening tot een liggaam in Christus (2:16).

Woord teen die Lig III/1 bied ’n goeie oorsig oor die fokusteks in geheel. Wessels fokus hierin sy eksegese en preekvoorstel op die eenheid van die kerk as gegewe van God en strewe van die kerk. Naude, in WTL III/5, maak ’n enger hermeneutiese keuse ooreenkomstig die teksafbakening (Ef 4:1-6) en ’n tematiese fokus (“daar is maar één doop”). Sowel Naudé as Wessels bied waardevolle perspektiewe rondom die verhouding tussen die indikatief en imperatief van die Efesiërbrief. Dit is ’n belangrike kwessie wat in die prediking beklemtoon behoort te word, sodat die boodskap nie in ’n oppervlakkige sedeles verval nie. Van Zyl bied myns insiens ook ’n interessante invalshoek op Efesiërs 4:1-16 as wegspringplek vir nadenke en prediking oor die teks. Op grond van die eenheid van die kerk as gegewe, pleit hy naamlik vir die “organiese integrering” van “funksionele minderheidsgroepe” in gemeentes – vir die effektiewe insluiting en deelname van marginale persone en groepe in die funksionering van die plaaslike gemeente. Hy verwys spesifiek na vroue as leiers in die bediening.

My eie hermeneutiese keuse maak ek in die lig van die onmiddellike konteks van hierdie preekstudie, te wete die Covid-19-pandemie. As kerk het ons ervaar hoedat gemeentes finansieel deur die pandemie geraak word, hoedat ons tegnologie moes inspan om virtuele aanbiddingsbyeenkomste van geloofsgemeenskappe te skep en hoedat ons onderling en na buite probeer uitreik het te midde van streng beperkings. Hoe lééf ons in so ’n konteks missionaal, eerder as om na binne gekeer slegs te probeer óórleef?

Uit die Efesiërbrief is dit duidelik dat die liggaam van Christus ’n aantal unieke gawes het wat baie vir die wêreld kan beteken. Die Gees se gawes stel iets ten toon van die hoop wat Christus se roeping inhou, van die geweldige opstandingskrag wat Hy in ons uitoefen en van die feit dat alles en almal aan Hom, die hoof van die kerk, onderwerp is (vgl Ef 1:18-23).

Heil se nuttige struktuuranalise van die perikoop dui iets van die teologiese snypunt van die perikoop aan: Jesus Christus is die triomferende gewer van gawes wat onderlinge liefde en eenheid in die liggaam moontlik maak.

A Bearing with one another in love (4:1-2)
B Unity of the Spirit; one faith; measure of the gift of Christ (4:3-7)
C When He ascended; He ascended; He also descended (4:8-9)
C’ The one who descended; the one who ascended (4:10)
B’ Unity of the faith; to the measure of the stature … of Christ (4:11-14)
A’ Truthful in love; building of itself in love (4:15-16)

Die hoofwerkwoord waarmee die perikoop begin, is parakaleō – “to ask for something earnestly and with propriety – ‘to ask for (earnestly), to request, to plead for, to appeal to, earnest request, appeal’” (Louw & Nida). Barth sê oor parakaleō: “… the word preferred by Paul signifies a will of the writer that is at the same time warm, personal, and urgent.”

In die 1953-vertaling is parakaleō pedanties met “ek vermaan” vertaal. In die 2020-vertaling is “ek spoor … aan” die taal van ’n afrigter op die sportveld. Die 1983-vertaling stel dit egter sagter, dog ewe dringend, in die idioom van ’n pastor: “Ek druk (julle) dit op die hart” – myns insiens die beste vertaling. Parakaleō is nie net die inleidende werkwoord vir Efesiërs 4:1-16 nie, maar vir die hele tweede hoofdeel van die brief. Dalk kan ’n mens waag om te sê al die imperatiewe – meer as een keer in die infinitiewe modus – hoorbaar is in die dringende omgeestem van ’n pastor wat tussen haar mense leef, met hulle mééleef, by hulle pléít, eerder as om bevele van bo (of voor) af te gee.

Peterson skryf breedvoerig en oortuigend oor dié betekenisvolle woord waarmee Paulus gelowiges uitdaag om te leef in ooreenstemming met die roeping waarmee hulle geroep is. Hy praat daarvan as “parakletiese taal” (“the language of paraclesis”). Hy skryf: “This verb, ‘I beg you’, in contrast to the bold kerygmatic vigour of Paul’s language that we have been immersed in, introduces a quieter, more conversational tone, something in the order of ‘I’m here at your side, let’s talk this over, let’s together consider how we can get in on everything that God is doing’. At the conclusion of Ephesians, Paul will use the same verb again, translated this time ‘to encourage your hearts’ (6:22). The language style that develops out of this verb is sometimes referred to as paracletic. Like church (ekklesia), which has the verb ‘call’ (kaleo) at its root, ‘I beg you’ or ‘encourage you’ (parakaleo) also has ‘call’ (kaleo) embedded in it. ‘Paracletic’ names the style of language used in the church as we discern and embody the calling to which Christians have been called … Paraclesis is a language that permeates Isaiah, one of our leading guides into a mature life of faith: ‘Comfort, oh comfort my people … speak tenderly to Jerusalem’ (Isa. 40:1-2). It is the language of Psalm 23 that has guided many a confused soul through a wilderness: ‘your rod and your staff – they comfort me’ (Ps. 23:4). This is the language that Jesus used in the second beatitude, blessing those who mourn: ‘for they will be comforted’ (Matt. 5:4). In each of these representative passages the lead-off verb is parakaleo: ‘comfort’ … ’be encouraged’ … ‘you are not alone in this’ … ‘I am with you always’.”

Voortaan gebruik ek parakaleō – as aanvangswoord en hoofwerkwoord – soos ’n vergrootglas om op sekere elemente in die teks te fokus.

Die eerste pastorale aanmoediging tot die gemeente is “om te leef” (peripatēsai) – ’n voltooiende infinitief wat sintakties as indirekte rede op parakaleō volg en semanties dus ’n imperatief verteenwoordig. Peripateō word dikwels in Engelse vertalings met walk” vertaal. Ongelukkig het “wandel” van die 1953-vertaling verlore gegaan. Peripateō is ’n prominente temawoord in Efesiërs (agt keer, ses keer daarvan in die tweede hoofdeel – 2:2; 2:10; 4:1; twee keer in 4:17; 5:2; 5:8; 5:15). Dit is meer keer as in enige ander Pauliniese geskrif.

Dit is asof die hele gedeelte vanaf 4:1-6:9 op die begrip “wandel” gebaseer is. Dié gedeelte se beskrywing van die onderlinge Christelike leefwyse kan “‘middelpuntsoekende praktyke” (“centripetal practices”) genoem word. In 6:10-22 gaan dit weer om Christelike praktyke wat “na buite gerig is (“centrifugal practices”) waardeur die evangelie na die wêreld toe uitgedra word (Gorman). Let op die herhalende voorkoms van die woord “mekaar”.

Hoe moet ons teenoor mekaar leef?

’n Bywoord vergesel vers 1 se peripateō. Die belang daarvan kan in die Efesiërbrief nouliks oorskat word: “At the centre of Epehesians there is a single Greek word, axios, on which the entire letter pivots” (Peterson). Hier is reeds vroeër gewaarsku teen die gevaar van moralistiese prediking oor die gedeelte. Die bywoord axios balanseer ons wandel (peripateō) met God se roeping (parakaleō) en sorg dat ons lewenswandel “waardig” (1953-vertaling), “in ooreenstemming” (1983-vertaling) of “gelykgewigtig” met die roeping (nw klēsis en ww kaleō) is waarin ons reeds deur God gevestig is (Naudé). Anders gestel: Ons vestig nie die heil nie, maar handhaaf dit. Ons bewerk dit nie, maar deur ons leefwyse bewaar ons dit.

Die styl- en taalverskynsels (voorsetselfrases en deelwoordsinne) wat verder konkrete inhoud gee aan die leefwyse waartoe gelowiges opgeroep word, is opvallend. Byvoorbeeld: “met alle nederigheid en sagmoedigheid”; “met lankmoedigheid en geduld in liefde”; “terwyl julle ernstig streef om die eenheid van die Gees deur die band van vrede te bewaar”. Die genadegawe van God, te wete die eenheid van die Gees, word gehandhaaf deurdat gelowiges doelgerig met ’n bepaalde ingesteldheid teenoor mekaar optree: nederig, vriendelik, geduldig, liefdevol en in vrede.

Wat vrede aanbetref, is dit interessant dat Paulus die “gevangene” (desmios – 4:1) praat van die “band” (sundesmos – 4:3) van vrede. Doelbewuste woordspeling? Wou Paulus sê: “So min as wat ek vry is om te doen wat ek wil, so min is gelowiges vry om in onvrede te leef. Ons is gebonde, gevangenes van vrede!”

Vers 4-6 bied sewe gronde vir eenheid: één liggaam, één Gees, één hoop, één Here, één geloof, één doop en één God. Gegewe die spesifieke invalshoek vir hierdie preekstudie, wil ek één van die sewe gronde van nader bekyk, naamlik die “één hoop waartoe God julle geroep het”.

Die begrip hoop (elpis) het reeds drie keer vantevore in die brief ter sprake gekom (1:12, 2:12 en 1:15-21). Die preekvoorstel gaan verder hierop in. Barth beklemtoon die verband tussen die “roeping” van 4:1 en die “hoop” in 4:4. Laasgenoemde vers knoop in ’n voorsetselfrase die “hoop” met ’n dubbele knoop aan die “roeping” vas: “One hope (rather than diverse hopes to be relied on, or several ways to be followed) is the scope of the call extended to all saints … In repeating the appeal to the vocation of the saints in Ephesians 4:4, Paul reassures the saints of the exaltation to a high ‘hope.’”

Die uitleg van vers 7-10 is minder voor die hand liggend. Kommentators is dit eens dat Psalm 68:19 hier aangehaal word. Die bedoeling is om volgens die midrash-metode die redenasie te versterk aangaande gawes wat Christus self aan sy kerk uitdeel: “Christ, who in his death is the ultimate gift-giver, offering himself in love, continues to give to the church, now in the form of gifts” (Gorman). Midde-in die pleitrede vir onderlinge liefde en eenheid van die kerk, val die klem op die een Gewer, eerder as op die diversiteit van gawes binne die liggaam.

Vers 11 noem ’n verskeidenheid gawes aan die kerk by die naam, met klem op die rede waarom Christus hierdie gawes gegee het, naamlik vir die toerusting van gelowiges vir hulle dienswerk (v 12). Die 1953- sowel as die 1983-vertaling vertaal die naamwoord katartismos met “om toe te rus”.

’n Nuttige metafoor vir prediking word ontsluit wanneer ’n alternatiewe vertaling en betekenismoontlikheid by vers 12 oorweeg word. Matteus 4:21 gebruik die werkwoord katartizō om Jakobus en Johannes se werk in hulle pa se visserskuit te beskryf waar hulle besig was om die visnette “heel te maak” (1953-vertaling) of “reg te maak” (1983-vertaling). Stukkende nette deug nie vir die visvangtaak nie, maar hoef ook nie weggegooi te word nie — hulle kan reggemaak word. Die gedagte is dié van ’n herstellende aktiwiteit waardeur die nette gereed gekry word om te doen waarvoor hulle gemaak is, naamlik om vis mee te vang. Insgelyks is die gawes van Christus aan die kerk bedoel om gemeentes te herstel of gereed te kry vir die dienswerk (ergon diakonias) waartoe hulle geroep is.

Hier in vers 13-16 kry ons weer eens die middelpuntsoekende kragte wat nodig is sodat almal tot geloofseenheid en kennis van die Seun van God sal kom, naamlik volwassenheid, standvastigheid in Christus en eenheid as een gesonde liggaam van onderlinge liefde. Die uitdaging vir gemeentes – in besonder die leierskap wat begaafd is om die gemeente vir hulle dienswerk toe te rus – is om in hierdie tye fyn te onderskei waar en hoe die nette herstel vir dienswerk moet word, terwyl ons voortdurend mekaar bemoedig deur te fokus op die hoop wat sy roeping inhou!

Preekvoorstel

Vra die gemeente inleidend om ’n kort verbeeldingsvlug mee te maak van ’n wêreld waar die kerkklokke nie meer op Sondae lui nie, gemeentes nie meer saam in ’n kerkgebou kan vergader om te aanbid nie en maatreëls geld wat die samesyn van gelowiges erg beperk of selfs verbied, op so ’n manier dat ons as geloofsgemeenskap voel ons dryf al verder uitmekaar, waar ons voel elkeen leef op sy eie eilandjie met tanende liefde tussen ons. Voor Covind-19 het so ’n situasie vergesog geklink. Kan die kerk daarná oorleef?

Probleme wat lank reeds deel was van die Suid-Afrikaanse werklikheid, het sedert verlede jaar ál meer op die voorgrond getree: maatskaplike ongelykheid, armoede, honger, huisnood, werkloosheid, korrupsie, politieke onsekerheid, noem maar op. Probleme soos hierdie het die destruktiewe potensiaal dat ons bloot tot oorlewingsmodus oorgaan: almal probeer so goed as moontlik net vir hulleself en hulle eie sorg – elkeen in sy klein hoekie.

Hoe bemoedig Efesiërs 4:1-16 ons te midde van sulke onsekerheid en potensiële selfgerigtheid? Die Efesiërbrief daag gelowiges en geloofsgemeenskappe uit tot veel méér as net oorlewing. Ons hoor in hierdie brief die stem van ’n besorgde bemoediger wat navolgers van Jesus aanspoor en by hulle pleit om te ooreenkomstig die roeping van Jesus Christus te leef.

Wat is hierdie roeping? Dit is die verlossing van God in en deur Christus, sowel as die hoop wat daaruit spruit – ons gelowige reaksie op die heil – om “die hoop op Christus te vestig” (1:12) en om “tot geloof te kom”. Tom Wright stel dit só”: “(Paul) is referring to the basic calling of the gospel itself, summoning people to believe in Jesus as the risen Lord and king and to give him complete and undivided allegiance for the rest of their lives. A key part of this calling is the Christian hope …” (my kursivering).

In ons teksgedeelte, soos ook in res van die brief, is hoop ’n belangrike woord. In 1:12 praat Paulus van Joodse bekeerlinge wat hulle “hoop op Christus gevestig” het. Hulle hoop is dus nie vasgemaak aan hulle herkoms nie, maar aan Christus.

Vroeëre heidene word in 2:12 beskryf as mense “sonder Christus … sonder hoop en sonder God”, wat uiteindelik mense mét hoop word deur hulle geloof in Christus. Die danksegging en voorbidding vir bekeerlinge uit die heidendom (1:15-21) bid onder meer dat die bekeerlinge sal “verstaan wat die hoop is wat sy roeping bied”.

Hiér in hoofstuk 4 word die roeping (v 1) en die hoop (v 4) aan mekaar geknoop. Christusnavolgers leef met ’n hoop wat stewig in Christus se opstanding gevestig is, naamlik sy oorwinning oor die mees hooplose werklikheid, naamlik die dood self. Weer Wright: “Because King Jesus has conquered death itself, all who give him their faithful allegiance are assured that the same victory will be theirs as well. This is the ‘calling’ to which they must ‘live up’.” Vir gelowiges is hoop méér as om te midde van uitdagende omstandighede positief te bly. Hoop is ’n Goddelike gawe én ’n lewensroeping wat iets van Christus se verlossingswerk en -krag ten toon stel.

In ons teksgedeelte is hoop een van sewe gronde vir gelowiges se eenheid. Wat dus ook al die redes waarom ons in die gewone lewe van mekaar geskei word, hoop is die grond van ons doelbewuste vergestalting van eenheid en onderlinge uitreik na mekaar.

Die fokus in Efesiërs 4 handel nog grootliks oor praktyke wat na binne gerig in soverre dit met die onderlinge verhoudings in die gemeente te doen het. Die dienswerk waarvan vers 12 praat waardeur ons lewenswandel in ooreenstemming met God se roeping verder vergestalt word, is egter ’n praktyk wat na buite gerig is en waardeur die evangelie na die wêreld daarbuite uitdra word (6:10-22). Christus self het die nodige gawes aan die kerk gegee om aan sy roeping tot hierdie dienswerk gehoor te gee.

Ten slotte kan die metafoor oor die nette wat herstel word (in die laaste paragraaf onder “Teks en Konteks”) as ’n finale stuk bemoediging te midde van uitdagende omstandighede gebruik word.

Bibliografie

Barth, M 1974. Ephesians Vol 2 – Translation & Commentary on Chapters 4-6. Doubleday & Company; Barth, M 1959 The Broken Wall – a Study on the Epistle to the Ephesians. Regent College Publishing; Bratcher, RG & Nida, EA 1993. A handbook on Paul’s letter to the Ephesians UBS; Bruce, FF 1961. The Epistle to the Ephesians. Pickering & Inglis; Heil, JP 2007. Ephesians: Empowerment to Walk in Love for the Unity of All in Christ. SBL; Naudé, PJ 1997. WTdL III/5: Riglyne vir prediking oor die eenheid van die kerk. Lux Verbi; Peterson, E 2010. Practise Resurrection: a conversation on growing up in Christ. Hodder; Roberts, JH 1990. Efesiërs. NG Kerk-uitgewers; Van Zyl, D 1999. Preekstudies met liturgiese voorstelle. Buvton; Wessels, GF 1990. WTdL III/1: Riglyne vir prediking oor vrede. Lux Verbi; Wright, NT 2002. Paul for Everyone: The Prison Letters. SPCK.

© Missio 2024 | All rights reserved.