Tiende Sondag in Koninkrykstyd (Seisoen van Barmhartigheid)

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalm 124 (As die Here ons nie gehelp het nie)
As die Here ons nie gehelp het nie
124 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
As die Here ons nie gehelp het nie,
dit moet Israel bely,
2as die Here ons nie gehelp het
toe mense ons aangeval het nie,
3dan het hulle ons lewendig verslind
toe hulle woede teen ons ontvlam het;
4dan het die waters ons weggespoel
en die vloed ons oorweldig;
5dan het die skuimende waters
ons oorweldig.
6Aan die Here kom die lof toe:
Hy het nie toegelaat
dat ons hulle prooi word nie.
7Ons is bevry soos ’n voël
uit die wip van ’n voëlvanger;
die wip het gebreek en ons was vry!
8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Romeine 12:1-8 (Gee julleself as lewende en heilige offers)
Die nuwe lewe in Christus
12 En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

3Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. 4Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. 5Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. 6Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. 7As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. 8As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.

Matteus 16:13-20 (Die belydenis van Petrus: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”)

Die belydenis van Petrus
(Mark 8:27–30; Luk 9:18–21)
13Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”
14Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”
15“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”
16Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

17“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

20Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

Fokusteks

Jesaja 51:1-6
Die redding wat Ek bring, sal altyd bly
51 Luister na My, julle wat wil reg doen, julle wat na die wil van die Here vra:
Dink aan die rots waaruit julle gekap is,
aan die klipgroef
waaruit julle gegrawe is.
2Dink aan Abraham, julle voorvader,
aan Sara wat vir julle
in die wêreld gebring het.
Ek het Abraham geroep
toe hy kinderloos was
en Ek het hom geseën
en hom ’n groot nageslag gegee.
3Nou gaan die Here Hom
oor Sion ontferm,
Hy gaan Hom oor al die puinhope daar
ontferm.
Hy gaan die woestyngedeeltes
maak soos Eden,
die barre wêreld
soos die tuin van die Here.
Daar sal vreugde en blydskap
in Sion wees,
daar sal gedank en gesing word.
4Luister na My, my volk,
my volk, gee aandag aan wat Ek sê:
My onderrig sal uitgaan na die volke toe,
my wil sal vir die nasies
die koers aanwys.
5Die redding wat Ek bring,
kom baie gou,
die verlossing wat Ek bewerk, is op pad,
Ek self regeer oor die nasies.
Die eilande wag op My,
hulle wag dat Ek My laat geld.
6Kyk op na die hemel,
kyk na die aarde hier onder:
die hemel sal soos rook verdwyn,
die aarde sal word soos ou klere,
en almal wat daarop woon,
sal doodgaan soos muggies,
maar die verlossing wat Ek bewerk,
sal vir altyd wees,
die redding wat Ek bring,
sal altyd bly.

Liturgie

RUS

Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord: (Ps 124)
8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het. Amen

Groet: (Rom 1)
7Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader vs 1, 3”

Verootmoediging

Wet: (Matt 22 OAV)
35En een van hulle, ’n wetgeleerde, het ’n vraag gestel om Hom te versoek en gesê:
36Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38Dit is die eerste en groot gebod.
39En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Skuldbelydenis:
Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Riglyn om te lewe: (Rom 12)
Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

4Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. 5Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. 6Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. 7As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. 8As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 2”

HOOR

Epiklese
Here,
as ons dink aan U trou in die lewe van Abraham en Sara;
as ons dink aan U troue verbintenis met die volk Israel-
hoedat U U oor Sion ontferm het
en uit die puinhope van ballingskap weer vreugde en blydskap gegee het,
dan wil ons aandag gee aan wat U wil sê
en wil ons ontvanklik wees vir U onderrig.
Ons wil na U luister Here, ons wil na U wil vra.
Spreek Here U diensknegte luister. Amen
(Gebed ahv die fokusteks uit Jes 51, W Wait)

Skriflesing: Jesaja 51:1-6

LEEF

Gebed

Geloofbelydenis oor Jesus (Gebruik oa Matt 16 een v/d ander tekste vir vandag.)
Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is
en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek bely my geloof in hierdie Jesus…
saam met Marta: “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” (Joh 11);
saam met Tomas: “My Here en my God!” (Joh 20);
saam met Maria Magdalena: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester (Joh 20);
saam met die offisier: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” (Matt 27);
saam met die blinde man: “Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek- As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.” (Joh 9);
saam met die Samaritane: “Ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is” (Joh 4);
saam met die twaalf: “… ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.” (Joh 6);
saam met party van die mense: “Hy is die Christus” (Joh 7);
saam met die Emmausgangers: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!” (Luk 24) en
saam met Petrus: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Matt 16).
(Wicus Wait, Maart 2011)

Wegsending: Lied 499 “Die Heer is God en niemand meer vs 1,2”

Seën (met 2 Kor 13)
Die Here wat redding bring en verlossing bewerk wil U seën: 13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. Amen

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

F19. “Heer, Hoe Lank”
(RUBRIEK: Kersvlam – Klag)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

Heer, hoe lank gaan U vergeet?
t’Voel of U nie van my weet nie.
Hoor my smeek, Heer, antwoord my.
Maak my van my onrus vry.

Refrein:
Here, hoor U wat ek sê? Sien U hoe ek ly?
Luister wat u kinders vra.
Here, gee weer hoop; gee weer hoop in my.

Daar’s iets in my wat stadig kwyn,
soos die dag in nag verdwyn.
Help my op, Heer, sien my raak.
Sal U my weer méns kom maak?

Refrein:

3. Ek kan maar net na U toe kom.
Niemand anders gee meer om nie.
In my nood roep ek U aan.
Smekend kom ek voor u staan, want . . .

4. U is liefde, U’s getrou.
Ek weet U sal my bly onthou.
Ek wil van my geloof getuig.
Ek wil oor U verlossing juig.

Refrein:
Here, U hoor wat ek sê! U sien hoe ek ly!
U luister wat u kinders vra.
Heer, U gee weer hoop; U gee weer hoop in my.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Die volgende verhaal kan vertel word om God se teenwoordigheid in ons lewe te illustreer (uit die 2002 preekriglyn):

Daar was ’n baie besonderse aap wat koning oor al die diere geword het omdat hy so ver kon spring. Maar die aap was nie hiermee tevrede nie. Hy wou graag koning oor die hele aarde wees. Hy gaan toe na die Here en vra Hom of hy koning kan word oor die hele aarde. Die Here sê vir die aap: “Kom staan hier in my hand. As jy uit my hand kan spring, kan jy koning oor die hele aarde word.”

Die aap het hom nie twee keer laat nooi nie en binne ’n oogwink het hy so ver gespring soos hy kan. Toe hy grond vat, sien hy dat hy aan die einde van die aarde gekom het en dat daar vyf pilare staan. Hy stap toe na die middelste van die vyf pilare en maak ’n merk daarop om aan te dui hoe ver hy gespring het. Toe draai hy om en binne ’n oogwink was hy weer waar hy aanvanklik gestaan het.

“Wanneer spring jy dan?” vra die Here hom.

“Ek het klaar gespring tot aan die einde van die aarde. As U my nie wil glo nie, kan U op my rug klim, dan gaan wys ek U die merk wat ek op een van die pilare aan die einde van die aarde gemaak het.”

Toe maak die Here sy hand stadig oop. Aan sy middelvinger wys Hy vir die aap die merk wat hy daar gemaak het.

“Sien jy nou, Aap,” sê die Here, “jy was nog altyd in my hand. Selfs toe jy tot aan die einde van die aarde gespring het, was my hand steeds onder jou, het Ek jou stewig in my hand gehou. Jy kan nooit uit my hand spring nie, want Ek hou alles, ook vir jou, veilig in my hand.”

Maats, ons is mos nie dommer as hierdie aap nie. Ons weet die Here sorg vir ons en Hy hou ons veilig in sy hand.

OF

Vertel die verhaal van The Lion King. Simba lei ‘n erge verlies – sy pa gaan dood. Nie alleen moet hy met die hartseer daarvan saamleef nie, maar ook met die skuldgevoel. Hy is oortuig dit is sy skuld dat sy pa dood is. Dan, op ‘n dag, help Rafiki (die aap) hom om te onthou wie hy is. Hy is sy pa se kind – ‘n koningskind. Nada thy dit onthou, kon hy terugkeer en die taak waarvoor hy gebore is, uitvoer.

Gebruik ‘n gratis FLV Converter-program (soek met Google) om die video van Simba se “onthou” af te laai. As die video te lank is, kan jy dit wys van een van die volgende punte af: 1:24; 1:50; 3:30; 3:56 tot by 5:05.

Preekriglyn

Drie susters, die een 92, die tweede 94 en die derde 96 jaar oud, woon saam. Een aand tap die 96-jarige vir haar ’n lekker warm bad. Sy sit een voet in die bad, en steek toe vas. “Was ek besig om in die bad of uit die bad te klim?” roep sy.

Die 94-jarige skree terug: “Ek weet nie, ek sal kom kyk.” Sy begin die trappe badkamer toe te klim, maar vries op die eerste trap. Sy roep: “Was ek besig om op te gaan of af te kom?”

Die 92-jarige suster sit op daardie oomblik by die kombuistafel, besig om tee te geniet. Sy luister na haar susters, skud haar kop en sê: “Ek hoop nie ek raak ooit so vergeetagtig nie.” Sy tik op die tafel om haar punt te maak. Toe roep sy: “Ek kom nou om julle twee te help, laat ek net eers kyk wie klop aan die deur.”

God help sy volk onthou

Ons teks handel oor die nuwe dinge wat God die lewe van sy volk aan doen. Die Here weet hulle sal net gereed wees vir die toekoms as hulle die verlede onthou. Daarom is daar soveel herinnering in die teks:

  • “Dink aan…” (vers 1);
  • “Dink aan” (vers 2)

Israel word herinner aan hulle oorsprong, die rots waaruit hulle gekap is, die rotsgroef waaruit hulle gegrawe is (1). Hulle word ook herinner aan Abraham en Sara uit wie hulle voortgekom het. Abraham en Sara is geroep met die belofte van ’n groot nageslag, hoewel hulle kinderloos was. Die Here het vir hulle ’n nageslag gegee. God se seën is duidelik aan te toon in die lewe van Israel (2).

Israel het sy bestaan te danke aan ’n nuwe skepping deur God.

Onthou in die donkerste uur

God se oproep om te onthou kom in Israel se donkerste uur. Die boek Jesaja getuig van God se liefde-haat verhouding met Israel (Brueggemann). Die boek loop oor van God se woede oor die hardnekkige sonde van sy volk. Hulle het van God vergeet, hulle vertroue in heidense nasies en hulle politieke maneuvers gestel, eerder as om te doen wat reg is en God te vertrou. Hulle het nie voorspoed in getrouheid aan God se wil gesoek nie, maar kortpaaie gevat, soos om die armes te verdruk en ’n toekoms te probeer skep deur die uitbuiting van diegene wat hulleself nie kon handhaaf nie. Só is mense beroof en het die elite in Israel vooruitgegaan.

As gevolg van hulle sonde verloor die volk Jerusalem, die plek waar hulle God kon ontmoet. Jesaja gaan dus oor hierdie verlies weens God se oordele. Die volk gaan in ballingskap. Die verlies het intense rou tot gevolg. Wanneer ons Israel in Jesaja 51 ontmoet, het van die ballinge reeds teruggekeer na Jerusalem, maar van die hoop en die pogings om die stad te herbou het nog niks gekom nie. Ons het dus ’n volk vasgevang in verlies en rou (Brueggemann).

Verlies en rou sit ’n donkerbril vir jou geloofsoë op. Jy kan later net die slegte onthou en die ergste verwag. Jou swartgallige gemoedstoestand veroorsaak hooploosheid.

Binne hierdie konteks maak die Here ’n nuwe begin met die volk. In ons teks leer Hy hulle onthou. Hulle word spesifiek uitgedaag om God se werk in hulle verlede te onthou. God het hulle geskep. Hulle word geleer dat God hulle uit ’n situasie van hooploosheid geskep het. Abraham en Sara was te oud om ’n nageslag te verwek. God het teen alle verwagting in vir hulle ’n toekoms, ’n nageslag gegee. Hierdie selfde God beloof nou weer ’n toekoms.

Dit is die eerste slaggat waarvan die teks ons wil red: om vasgeknoop te wees in verlies en rou oor die verlede. Ook vir moderne Christene is dit ’n gevaar. Ons kan so bewus wees van die veranderde situasie in ons land, oor wat ons as bedreigende verwikkelinge vir ons geloof beskou, dat ons God en God se toekoms nie meer raaksien nie. Onthou, God skep ’n toekoms.

God, nie Israel nie, is die outeur van die nuwe toekoms

Ons teks beloof ’n nuwe toekoms vir Israel. Belangrik om raak te sien dat God hierdie toekoms skep. Destyds het God ’n nageslag vir Abraham gegee. Nóú gaan die Here (vers 3):

  • Hom oor Sion en die puinhope van Jerusalem ontferm;
  • Die woestyn en die barre dele van die land herskep in die tuin van Eden;
  • Hartseer vervang met vreugde, blydskap, danksegging en sang.

Die Here se liefde oorwin uiteindelik sy woede oor die volk se sonde. Daarom maak Hý ’n nuwe begin.

Die versoeking vir gelowiges is om hierdie nuwe begin aan menslike inisiatiewe toe te dig. Indien ons dit doen, begin ons oor die Here se werk moraliseer. Dan sê ons: “As ons getrou is aan die Here, dan sal die Here….” Of ons sê: “As ons net kan onthou hoe die Here in ons verlede teenwoordig was, sal ons ’n toekoms hê.”

In ons teks is die Here die handelende Agent. Kyk na die grammatika. Die Here is die onderwerp van die werkwoorde: die Here handel. Israel ontvang. Moralisering keer altyd hierdie orde om. Dit maak ons die onderwerp van die werkwoorde. As ons – dan sal God.

Die gevaar van moralisering is enersyds dat dit ons gevange hou in ons gevoelens van verlies en rou. Moralisering is swartgallig en beskou die ellende waarin ons ons verkeer as onoplosbaar. Ons moet dit of dat. Maar aangesien ons nie kan nie, is daar nooit uitkoms nie.

Die groter gevaar van moralisering is andersyds dat dit ons blind maak vir die werk van die Here en die nuwer toekoms wat God skep. Moralisering fokus so op wat mense (nie) doen (nie, dat dit die nuwe begin wat God maak nie kan raaksien nie. Dit verwag God nie, dit hou nie rekening met nuwe dinge wat God doen, ondanks die sonde, verliese en uitsigloosheid waarin mense vasgevang is nie.

Ons teks daag ons uit om in alle omstandighede met God rekening te hou. Om God te bly verwag.

Otto von Bismarck, befaamde Duitse kanselier van die 19e eeu, het gesê: “Mens kan jouself niks skep nie. Mens kan slegs wag tot jy die voetstappe van God deur die gebeure van die geskiedenis hoor, en dan vorentoe spring, die soom van sy mantel vasgryp en jou laat voortsleep…. Dit is al.”

Dit is die tweede slaggat waarvan die teks ons wil bewaar. Ons kan dink ons moet die nuwe toekoms skep. Ons kan meen ons pogings is nodig om iets aan die gang te kry wat Christelikheid betref. Ons taak is om God raak te sien en God te volg. Onthou, God werk.

Uitkringende rimpels

Die nuwe begin wat die Here bring, herstel Sion / Jerusalem. Die doel van God se werke is egter nie bloot die herstel en bevestiging van Jerusalem of Israel se uitverkore posisie nie. Hierdie nuwe hoop beteken dat Jerusalem herstel word om ’n bruikbare instrument vir God te wees.

Soos ’n refrein word dit vanaf vers 4 uitgespel:

  • “My onderrig sal uitgaan na die volke toe. My wil sal vir die nasies die koers aanwys” (4);
  • “Ek self regeer oor die nasies, die eilande wag op my, hulle wag dat Ek My laat geld”(5)

Die nuwe toekoms beteken nie ’n bevoorregte toekoms vir Israel ten koste, ter uitsluiting van ander nie. Die feit dat Israel uit die nasies gekies is, beteken nie hulle is soos ’n opgaardam wat al die genade ontvang en vir hulleself kan hou nie. Israel is gekies om draers te wees van God se seën. God beoog om by die nasies te kom, en wel deur Israel.

Dit het God inderdaad gedoen. God het ook by ons uitgekom, duisende jare en duisende kilometer ver. Deur Israel. God het by ons uitgekom, sodat ons by ander kan uitkom. Ook vir ons geld dieselfde beginsel. God seën ons, sodat ons tot ’n seën kan wees.

Dit is die derde slaggat waarvan die teks ons wil bewaar. Ons kan ’n hoë self-bewussyn hê. Ons kan dink God se genade plaas ons in die sentrum. Ons kan God as ons Ondersteuner en ons Hulpbron sien. Dan draai die wêreld om ons. Baie Westerse Christene val in hierdie slaggat. Onthou, God gebruik ons.

Koers

Mens kan weens verskeie redes vasgeval voel, nie weet of jy vorentoe of agtertoe gaan nie. Klim jy in, of uit, is jy op pad boontoe of ondertoe?
Ons teks stel God aan die woord. God help deur ons te herinner waar ons vandaan kom, deur ons aandag op sy werk te fokus, en deur ons aan ons roeping te herinner.
Dit beteken dat ons vorentoe kan gaan as bruikbare instrumente vir God.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.