Tiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In die sleutelteks loop Jesus op water en red Petrus toe hy bang word. Josef word in Genesis 37 as slaaf verkoop. Psalm 105:17 verwys weer na Josef wat voor die volk uitgestuur is om te voorsien tydens die hongersnood. Romeine 10 bevestig: Niemand wat in Hom glo sal teleurgesteld staan nie.

Ander tekste

Genesis 37:1-4, 12-28
Josef en sy drome
37 Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het. 2Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob.

Josef was nog jonk, sewentien, toe hy kleinvee opgepas het saam met sy broers, die seuns van Bilha en Silpa, sy pa se vrouens. Josef het slegte stories oor sy broers by hulle pa aangedra.

3Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak. 4Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle ’n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie.

5Op ’n keer het Josef gedroom en dit vir sy broers vertel. Daarna was hulle afkeer van hom nog groter. 6Hy het vir hulle gesê: “Luister na die droom wat ek gehad het. Ons was op die land besig om gerwe te bind 7en skielik gaan staan my gerf regop en julle gerwe gaan staan daar rondom en hulle buig voor myne.”

8Toe sê sy broers vir hom: “Jy verbeel jou jy sal oor ons koning word. Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?”

Oor sy drome en sy praatjies het hulle ’n nog groter afkeer van hom gekry.

9Hy het ook nog ’n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.”

10Toe hy dit vir sy pa en sy broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir ’n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?”

11Sy broers was afgunstig op hom, en sy pa het aan die droom bly dink.
Josef word ’n slaaf
12Josef se broers het hulle pa se kleinvee gaan oppas in Sigem. 13Toe sê Israel vir Josef: “Kyk, jou broers pas die kleinvee op in Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.”

Josef het geantwoord: “Goed, Pa!”

14Toe sê Israel vir hom: “Gaan kyk of alles nog reg is by jou broers en met die kleinvee en kom vertel my alles.”

Israel het hom van die laagte by Hebron af gestuur na Sigem toe. 15Hy het daar in die veld rondgesoek, en toe kom ’n man by hom en dié vra vir hom: “Wat soek jy?”

16Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. Kan jy my dalk sê waar hulle die kleinvee oppas?”

17Toe sê die man: “Hulle het van hier af versit. Ek het gehoor hulle sê hulle wil na Dotan toe gaan.”

Josef is toe agter sy broers aan en hy het hulle by Dotan gekry.

18Hulle het hom al van ver af gesien en voor hy by hulle gekom het, het hulle ooreengekom om hom dood te maak. 19Hulle het naamlik vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom die ou dromer aan. 20Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n put. Ons kan sê ’n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.”

21Ruben het hulle hoor praat en omdat hy vir Josef wou red, het Ruben gesê: “Nee, ons moet hom nie doodmaak nie. 22Moenie moord pleeg nie. Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld. Moenie sy lewe neem nie.” Ruben het dit gesê sodat hy vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon terugstuur.

23Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, 24en vat hom en gooi hom in die put. Dit was ’n droë put, sonder water. 25Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar ’n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai.

26Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou? 27Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.”

Juda se broers het na hom geluister, 28en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat.

Psalm 105: 1-6, 16-22, 45b
Die Here hou sy verbond altyd in stand
105 Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.
7Hy, die Here, is ons God; 
sy reddingsdade strek oor die hele aarde. 
8Hy hou sy verbond altyd in stand, 
die belofte wat Hy 
aan duisende geslagte toegesê het, 
9die verbond wat Hy 
met Abraham gesluit het, 
sy eed aan Isak. 
10Hy het dit vir Jakob bevestig 
as ’n vaste toesegging, 
vir Israel as verbond 
wat altyd sal bestaan. 
11Hy het gesê: 
“Ek gee Kanaän vir jou 
as grondgebied en eiendom.” 
12Toe hulle nog maar min was, 
net ’n paar mense, 
en vreemdelinge in die land, 
13toe hulle van volk na volk 
geswerf het, 
van die gebied van die een volk 
na dié van ’n ander, 
14het Hy niemand toegelaat 
om hulle te verdruk nie, 
en het Hy selfs konings 
ter wille van hulle gewaarsku:
15“Moenie aan my gesalfdes raak nie, 
moenie my profete kwaad aandoen nie!”

16Toe Hy hongersnood
oor die land gebring het
en al hulle kos laat opraak het,
17het Hy iemand voor hulle uit gestuur:
Josef is as slaaf verkoop.
18Hulle het sy voete geboei
en hom in die gevangenis gehou
19totdat sy woorde bewaarheid is,
nadat hy die toets deurstaan het
met wat die Here aan hom
bekend gemaak het.

20Toe het die koning hom
uit die gevangenis laat uitkom;
die heerser oor baie volke
het hom vrygelaat
21en hom aangestel as hoof
van die koninklike huishouding,
met gesag oor al sy besittings.
22Josef kon
die amptenare van die koning
na goeddunke beveel
en selfs aan hoë amptenare leiding gee.

Prys die Here!
Romeine 10:5-15
Die verlossing is vir elkeen wat glo
5Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe. 6Maar van die vryspraak deur die geloof sê hy: “Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,” dit is, om Christus af te bring, 7“Of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring. 8Nee, die Skrif sê:
“Naby jou is die woord,

in jou mond en in jou hart.”
En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog:
“Niemand wat in Hom glo,

sal teleurgestel word nie.”
12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

14Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

Fokusteks

Matteus 14:22-33
Jesus loop op die see
(Mark 6:45–52; Joh 6:15–21)
22Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. 23Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.

24Die skuit was reeds ‘n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. 25Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. 26Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis ‘n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.

27Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê. “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”
28Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”
29“Kom!” sê Hy.

Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. 30Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”

31Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

32Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. 33Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”

Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret
(Mark 6:53–56)
34Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 35Net toe die mense van daardie plek agterkom wie Hy is, het hulle boodskappers deur daardie hele omgewing gestuur, en die mense het almal wat ongesteld was, na Hom toe gebring. 36Hulle het Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.

Ekstra stof

Jesus sowel as Petrus loop op die water – 14:22-33
Jesus kry dit uiteindelik reg om alleen te wees om in afsondering te kan bid teen die berg op, nadat Hy die skare weggestuur en die dissipels in die skuit na die oorkant toe te laat vaar.  Êrens tussen drie-uur en ses-uur in die oggend, die vierde nagwaak (“Teen dagbreek” in die N.A.V. vertaal), het Jesus hulle ingehaal met hulle gesukkel teen die wind terwyl Hy op die see loop.  Jesus stel die dissipels gerus in hulle angs en beveel Petrus om na Hom toe op die water te loop.  Terwyl hy Jesus in die oog gehou het, kon hy dit doen, maar toe sy fokus skuif het die twyfel hom laat sink.

Die wonder dien as sterk getuienis dat Jesus inderdaad die Seun van God is, soos die dissipels inderdaad van Hom bely.  Dit sou ‘n ongelooflike belangrike bindende faktor in die ontwikkeling van die Christelike kerk verskaf.  Jesus kan nie net voorsien nie – die wonder van brood.  Hy het ook beheer oor die Skepping, soos die Gees van God dit aanvanklik met die eerste Skeppingswonder gehad het (Gen. 1) – die wonder van die waterloop.

In die verlengde hiervan sou die dissipels Jesus ook kon vertrou vir die tipiese storms wat hulle in die werklike lewe ook ervaar het, met die versekering dat God groter is as enige storm en dat Hy kan voorsien in enige behoefte.

Jesus genees die mense in Gennesaret – 14:34-36
Die hoofstuk word afgesluit met die verdere berigte van Jeus se genesingswonders in Gennesaret waarin die aanraking van die soom van sy bokleed ook ‘n rol gespeel het, soos tevore met die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.

Ons lees later van soortgelyke gebeurtenisse in die vroeë kerk in Jerusalem (Hand. 5:15: “Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val.”).

Liturgie

Aanvangslied: Lied 214 “Here ons sal U loof vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 105

Seëngroet: Romeine 1

Lied 105 “Loof God se naam 1,  2”

Wet: Romeine 12

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak: Romeine 10

Geloofsbelydenis: (Maretha Maartens)

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs  2”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 14:22-33

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 214 “Here ons sal U loof vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 105
Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.

Seëngroet: Romeine 1
7Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 105 “Loof God se naam 1, 2”

Wet: Romeine 12
9Die liefde moet opreg wees.
Verafsku wat sleg is
en hou vas aan wat goed is.
10Betoon hartlike broederliefde
teenoor mekaar;
bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11Moenie in julle toewyding
verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
12Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.
13Help die medegelowiges
in hulle nood
en lê julle toe op gasvryheid.
14Seën julle vervolgers,
ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.
15Wees bly saam met dié wat bly is
en treur saam met dié wat treur.
16Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie,
maar skaar julle by die nederiges.
Moenie eiewys wees nie.
17Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.
18As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense.
19Moenie self wraak neem nie,
geliefdes,
maar laat dit oor aan die oordeel
van God.
Daar staan immers geskrywe:
“Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.
20“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink;
want deur dit te doen,
maak jy hom vuurrooi
van skaamte
21Moet jou nie deur die kwaad
laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
deur die goeie.

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak 
9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.
“Niemand wat in Hom glo,
sal teleurgestel word nie.”
12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

14Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” i

Geloofsbelydenis: (Maretha Maartens)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
en in U , Jesus Christus, sy eniggebore Seun, my Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees en gebore is uit die jong meisie, Maria. Ek glo dat u, Jesus, gely het onder Pontius Pilatus;
dat U onskuldig gekruisig is en gesterf het
omdat U dit wóú doen, vir sondaars, vir my ook.
God het U op die derde dag tussen die dooies uit laat opstaan.
U het aan meer as 500 mense verskyn en nog baie met hulle gepraat. Daarna het God U, wat sy Seun is, van die Olyfberg af
opgeneem in die hemel en die apostels het dit gesien.
Ek glo U is nou by God, wat alles gemaak het en alles kan doen.
Ek glo U praat elke dag met God oor my. U pleit vir my en vir al my maats.
Ek glo U kom terug as Koning. Die Bybel sê U gaan die Regter wees
voor wie almal wat ooit geleef het, gaan verskyn.
Maar dat ons wat in U glo, niks het om voor bang te wees nie.
U het klaar ons straf gedra.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo ek kan net geestelik groei in ‘n gemeente waar mens hoor
wat in die Bybel staan; waar U, Jesus altyd in die middel is.
Ek glo dat U my gered het toe die Heilige Gees my oortuig het
dat ek moet begin sê U is my enigste Redder.
Ek weet ek sal op die aarde doodgaan, maar nooit dood wees nie.
Ek sal vir altyd en altyd by U wees.
Ek wil vir U iets sê, Jesus van Nasaret, één met die Vader.
Ek wil vir U sê… U is my lewe.

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs  2”

Liedere

F202. “Hoe Groot Is Ons God”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Oorspronklike titel: How Great Is Our God
Teks en Musiek: Chis Tomlin, Jesse Reeves & Ed Cash
Afrikaanse vertaling: 2007  Stass van Veuren
© 2004 worshiptogether.com songs / sixsteps Music / Alletrop Music

1. Die weelde van die Heer, geklee in majesteit
Die hele aarde juig, die hele aarde juig
Hy klee homself met lig en duisternis moet vlug
Begin en die einde, begin en die einde

Refrein:
Hoe groot is ons God
Ons sing:  Hoe groot is ons God!
Almal sal sien hoe groot is ons God

2. Eeue kom en gaan
Tyd is in sy hand
Begin en die einde, begin en die einde
Die Godheid drie-in-een
Vader, Gees en Seun
Die Leeu en die Lam, die Leeu en die Lam

Brug:
Naam bo elke Naam
Waardig is die Lam
My hart sal sing
Hoe groot is ons God

Refrein:

F217. “Jesus, U Naam”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: Jezus, uw Naam
Musiek en teks: Elisa Krijgsman
Afrikaanse teks: Faani Engelbrecht 2007
© Unisong Music Publishers t/a Reli Music Productions

Refrein:
Jesus, U Naam is die allerhoogste Naam
Jesus, U Naam vul ons hart waar ons ook gaan

1. In U Naam is seën en mag
ons oorwinning, liefde en krag
Heer, U Naam is Lig in die duisternis
Jesus!

Refrein:

2. In u Naam is redding en hoop
ons troos in elke nood
Heer, U Naam herstel wat gebroke is
Jesus!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, skenk aan my uit u genade

  • lig waar ek net donker sien
  • moed waar ek vrees
  • hoop waar ek wanhoop
  • vrede waar my gemoed storm
  • vreugde waar ek hartseer is
  • krag waar ek swak is
  • wysheid waar ek verward is
  • sagtheid waar ek bitter is
  • liefde waar ek haat
  • vergifnis vir my sonde
  • Úself in die plek van mýself

Here, Here, skenk aan my Úself!
Amen.

Howard Thurman
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: Matteus 14:22-33.

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Gesels as inleiding tot die teksgedeelte oor wat als op die water kan loop.

Hier is inligting en videos van 8 verskillende diere/ insekte/ voëls wat op water kan loop.

Gebruik ’n glasbak met water om voorwerpe te toets. ’n Veer, ’n stuk gras, ’n Lego-mannetjie en ander voorwerpe kan getoets word.

Vra die kinders of hulle dink ’n mens kan op die water loop.

Lees dele van die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

24 Die dissipels* het met hulle boot oor die See van Galilea gevaar. Hulle was ’n hele ent weg toe daar skielik ’n groot storm op die water losbreek. Groot golwe en ’n sterk wind van voor af het dit vir die dissipels* baie moeilik gemaak om te roei.

25–27 Net voordat die son opkom, besluit Jesus om op die water na sy dissipels* toe te stap. Toe hulle Hom sien, het hulle baie groot geskrik. “Help, ’n spook!” skree hulle kliphard.

“Nee, dis net Ek,” sê Jesus dadelik. “Moenie bang wees nie.”

Preekriglyn

“Ek het net gebid en gebid en gebid!” Só beskryf Andane Bobi (24), ‘n visserman, sy stryd om oorlewing nadat ‘n tjokkaboot op 16 Julie 2017 by Thyspunt naby Kaap St Francis omgeslaan het. Hy is uit die ysige stormsee gered waarin hy drie ure om oorlewing gespartel het.

Andane was die jongste bemanningslid op die splinternuwe boot, die Maredon, wat tydens haar nooiensvaart omgeslaan het. Hy het om 1:30 die nag saam met ander op die dek diens gedoen toe die woeste stormwind en onstuimige see die boot skerp laat kantel het. “Die boot het gekantel tot op ‘n punt dat jy net weet dit gaan nie regdraai nie,” het hy later gesê. Andane het ‘n reddingsbaadjie gegryp en oorboord gespring – net betyds.

Andane kon die ligte van ‘n ander boot ‘n ent weg sien, maar het geweet hy gaan nie die krag hê om tot daar te swem nie. Hy kon net probeer om aan die lewe te bly en te wag tot hy gered word. ‘n Ander vissersboot het hom ‘n paar ure later gesien en opgepik. Hy het erg aan verkluiming gely en moes gehospitaliseer word.

Die Maredon het uiteindelik op die rotse uitgespoel. Een persoon wat in die romp vasgekeer was, kon hier aan die dood ontkom. Nog vyf ander het ook vroeër ontvlug. Nege van die vissers is in die ramp oorlede.

Reddingwerkers het die gedoemde skip uit alle oorde bygestaan. Die NSRI, ander vissersbote, die polisie en ambulansdienste het hand bygesit. In wind van tot 100 km per uur en golwe van tot 6 meter hoog het mense hul lewens gewaag om na oorlewende te soek en slagoffers by te staan.

Die see is nie speletjies nie

Jode het geweet die see is nie speletjies nie. Vir die Jode was die see ‘n ruimte van bedreiging en onsekerheid, die tuiste van gevaarlike magte.

Dalk is dit een van die redes waarom ons teks sê Jesus moes die dissipels “verplig”, selfs “gedwing” het (anagkadzoo) om sonder Hom in die skuit te klim en na die oorkant te vaar. Die dissipels was nie gelukkig met die idee nie. Waarskynlik het hulle opgesien het teen die gevaar om met die skuit in die nag na die oorkant te vaar.

Hoewel die See van Galilea ‘n binnelandse meer is, is die area bekend vir sy hoë windsnelheid en vir die groot storms wat op hierdie uitgestrekte meer kon voorkom.

As mens na Andane Bobi en die verhaal van die gedoemde Maredon luister, kan jy die dissipels nie juis kwalik neem nie.

Jesus is haastig

Die boeiende verhaal wat in ons Skrifgedeelte ontvou, begin met Jesus se haastige en dringende optrede om sy dissipels terug te stuur. Ons moet egter onthou wat net vooraf gebeur het. Johannes die Doper is onthoof en Jesus wou Hom na ‘n eensame plek onttrek. Die skares het Hom egter gevolg en Hy het vir hulle brood gegee.

Die wonderlike vermeerdering van die vyf brode en die twee visse om ‘n skare van meer as vyfduisend mense te laat eet, voordat die lang staptogte na hulle onderskeie dorpies en woonplekke begin, het behoorlik beroering veroorsaak. Almal was stom verbaas oor wat voor hulle oë gebeur het. Die gevolg was dat die mense nie wou vertrek nie. Die skare was so beïndruk met Jesus dat allerlei gedagtes oor Hom met groot erns bespreek is. Baie het gedink Hy is die Groot Profeet wat sou kom om Israel uit die verdrukking te lei. Volgens Johannes se weergawe het andere gedink dit sou ‘n goeie roep wees om Hom sommer nou met geweld te gryp en Hom koning te maak.

Ten einde so ‘n rampspoedige verloop van die saamtrek te vermy, het Jesus sy dissipels gevra om onmiddellik in die skuit te klim en voor Hom uit na die oorkant van die meer van Galilea te vaar. Die mense sou moes sien dat hulle sonder Hom vertrek het en dat daar nie planne gemaak kon word om almal daarheen te vertrek nie.

Die dissipels was nie juis geneë met die plan nie. Die gevolg was dat Jesus hulle ernstig aangespreek en “gedwing” (verplig) het om in die skuit te klim. Na hulle vertrek, het Hy begin om die skare in groepe weg te stuur. Toe almal weg is, het Hy teen die berg uitgegaan om te gaan bid. “Toe dit aand geword het, was Hy daar alleen” (23).

Sterk wind

Die skuit was reeds ‘n hele aantal stadioi, omgereken na ons afstandmeting, ongeveer 8 km weg van die land. Intussen het daar ‘n sterk wind skuins van voor die pas van die skuit vertraag en bemoeilik. Die golwe wat so ontstaan het, het al groter geword en het “die skuit heen en weer geslinger” (24). Ten spyte van hulle vaardigheid as roeiers, is die skuit ook van rigting gedwing.

Mens kan jou die situasie op die skuit moeilik indink. Dié afstand van die land plus die feit dat hulle nie kon koers hou nie, het die vlakke van hulle angs begin verhoog. Terwyl die roeiers verbete veg teen die wind en golwe, was hulle vrees vir ‘n seedood aan die styg. Die mitiese verhale van die see wat op sy slagoffers toeslaan en hulle na die dieptes intrek, het hulle byna desperaat van angs gemaak. Tog hoor ons geen woord oor Jesus tussen hulle nie. Niemand vra hoe hulle sy opdrag om oor te vaar, nou moet verstaan nie. Al wat hulle weet en met uiterste kraginspanning doen, is om vir al wat hulle kan teen die seemonster te veg.

Vierde nagwaak

In die vierde nagwaak (dit is van drie uur tot ses uur in die more) het Jesus na hulle aangeloop gekom op die see. In die sterk skemerlig voor dagbreek – hulle het van die oostekant na die westekant gevaar – word die dissipels bewus van ‘n mensfiguur wat op die see na hulle aangeloop kom. Moontlik het die deinings wat so ‘n figuur op en neer laat beweeg het, hulle waarneming erg belemmer. Vreesbevange het hulle uitgeskree: “Dit is ‘n spook!” Steeds dink nie een van hulle vir ‘n oomblik aan Jesus nie, terwyl Hy juis op pad is na hulle toe! Al wat hulle weet, is dat ‘n mens van vleis en bloed nie op water kan loop nie. Die enigste moontlikheid is dat dit net ‘n “gees”, ‘n “spook” (Phantasma) kan wees en van totale angs begin hulle skree!

En dan die grootste verrassing in die krisis, Jesus se stem! Uit die halflig roep Hy hulle toe: “Hou (skep) moed, dit is Ek, moenie langer bang wees nie” (27). Maar, kan hulle dit glo? Is dit nie ‘n “gees” wat hulle wil mislei nie?

“Beveel my!”

Dit laat Petrus Jesus se versekering wantrouig toets met die versoek: “Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom” (28). Jesus antwoord met ‘n uitnodiging: “Kom!” Sonder om twee maal te dink, het Petrus uit die skuit geklim en op die waters geloop en na Jesus begin gaan.

Iets van ‘n kleutertjie wat die eerste treë begin gee en die ogies vasgenael op die ouer hou, is hier waar van Petrus. Toe Petrus egter sien “hoe sterk die wind was”, het hy bang geword. Toe hy begin sink, skreeu hy: “Here, red my” (30). Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” Petrus was dus ongeveer ‘n armlengte van Jesus af. Wat ‘n tragiese teenstrydigheid! Petrus, die segsman van die dissipelgroep, begin sink ‘n armlengte van Jesus af! In ‘n oomblik het sy geloofsvertroue verbrokkel in twyfel.

Toe hulle in die skuit klim, het die wind gaan lê. Almal in die skuit wat kort tevore nog buite weste van angs geskreeu het: “Dit is ‘n spook!” het voor Jesus neergeval en bely: “Waarlik, U is die Seun van God”. Wat ‘n aangrypende oomblik en belydenis! Hulle het in ‘n dobberende skuit die fondament (hoeksteen) van die Christelike geloofsgemeenskap onthul.

Boodskap

Hierdie is ‘n geweldige ryk gedeelte:

  • Ons sien – saam met die dissipels – die (vanselfsprekende) Goddelike mag waaroor Jesus beskik. Nie alleen vermeerder hy die vorige middag brood op wonderbaarlike wyse nie, maar nou stap Hy oor die water en beheer Hy die wind. Hy gee ‘n bevel en ‘n mens stap op water. Hiermee demonstreer Jesus dat alles inderdaad in en deur Hom ontstaan het, en dat Hy die hele wêreld in sy hande hou. Hy is ook die Een wat die laaste woord oor ons lewens sê. Jesus is veel meer as net ‘n morele voorbeeld en Leermeester: Jesus is die Here. Hy is die Seun van God.
  • Ons leer ook die wyse waarop Jesus se mag deur diensbaarheid begelei word. Jesus doen nie magstoertjies nie, Jesus se mag word nie as ‘n doel opsigself gedemonstreer nie. Hy gee brood wanneer mense honger en sonder heenkome is; Hy skep geloof by Petrus en die dissipels en bewaar hulle van golf en wind. Dit vind sonder vertoon plaas. Trouens, as die skare (volgens Johannes se weergawe) Jesus tot Koning wil uitroep omdat Hy brood gee, stuur Jesus die dissipels en die skare weg. Dit is in die stille binnekring van die dissipels dat Jesus op water loop of op die berg verheerlik word. Jesus is nie met sy eie mag betower nie, en Hy betower ons ook nie. Jesus dien met sy mag, Hy ontledig Homself ter wille van ander (Fil 2).
  • Jesus se mag word nie net deur diensbaarheid begelei nie. Ons sien in Jesus se lewe ‘n sterk fokus op gebed. Wanneer Jesus onder druk kom, of opnuut helderheid oor sy roeping en lyding moet verkry, maak Hy tyd vir stilte in gebed. Beide wanneer Johannes se dood ‘n voorspel tot sy eie lyding word, of wanneer die skare Hom tot broodkoning wil verhef, vermy Jesus die definisies wat ander aan Hom opdring. Jesus gaan soek sy selfdefinisie in gebed by die Vader. Die wil van die Vader begelei Jesus. Daarmee wys Jesus vir ons die weg.
  • Wanneer ons oor hierdie teks praat, spandeer ons gewoonlik baie aandag aan Petrus se gebrek aan geloof in Jesus, en sy vrees. Dit is vanselfsprekend reg so, hoewel ons natuurlik Petrus se waagmoed en vertroue gerus ook kan beklemtoon. Hy waag dit immers met Jesus, en leer in die proses om te vertrou.
  • Hierdie gedeelte gaan egter ook oor die kerk. Dit is die klein, brose dissipelkring, die kerk wat aan die ontkiem is, in die bootjie op die stormsee. Dit is die kerk se Here wat hulle tegemoetstap en die kalmte en vrede bring. In die geskiedenis doen Jesus dit telkens weer. Die kerk gaan deur woeste golwe, maar die Here bly getrou.
  • Dit is op hierdie Here dat ons kan vertrou. Vir sommige eindig dit – deur die geskiedenis – soos vir Johannes die Doper. Gelowiges se lewe bly in die slag. Ook nie al die Maredon se vissers se gebede word verhoor nie. Ander oorleef en word veilig in die bootjie teruggeplaas, soos Petrus. Hoe dit ook al sy, ons lewe in die hande van die almagtige Here. Daar is ons veilig, wat ook al gebeur. Hy is immers die Seun van God.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof vs 1,2,3”

Seën
Julle is die liggaam van Christus.
Julle is sy hande en voete, sy arms wat vashou.
Julle is sy omgee vir ander.
Die genade van ons Here Jesus Christus,
die liefde van God en
die gemeenskap van die Heilige Gees
sal met julle wees en deur julle na ander kom.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.