Tiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

God het ‘n wingerd geplant en alles daarvoor gedoen.
Laat u lig oor u wingerd skyn.
Voorbeelde van geloofsvolharding.
Die tekens van die tye.

Ander tekste

Jesaja 5:1-7
Wat kan ek nog vir my wingerd doen?
5 Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing
oor sy wingerd:
Hy wat ek liefhet, besit ’n wingerd
op ’n vrugbare heuwel.
2Hy het die grond omgespit
en die klippe verwyder,
dit beplant met veredelde
wingerdstokke.
Hy het ’n wagtoring daarin gebou
en ’n parskuip uitgekap.
Hy het verwag
dat dit goeie druiwe sou dra,
maar toe bring dit druiwe voort
wat suur bly.
3En nou, inwoners van Jerusalem
en manne van Juda,
beslis tog tussen My en my wingerd.
4Wat kan Ek nog vir my wingerd doen
wat Ek nie reeds gedoen het nie?
Wat is dan die rede dat dit suur druiwe
voortgebring het
terwyl ek verwag het
dat dit goeie druiwe sou dra?
5Ek maak julle nou bekend
wat Ek met my wingerd gaan doen:
Ek gaan die doringheining verwyder
en verbrand,
sy muur afbreek, sodat die wingerd
vertrap kan word.
6Ek gaan hom tot niet maak.
Hy sal nie meer gesnoei
of geskoffel word nie,
maar ingeneem word deur doringbosse
en onkruid.
Ek sal die wolke verbied
om daarop te reën.
7Die wingerd van die Here
die Almagtige,
die wingerd wat Hy geplant het
en waarin Hy Hom wou verlustig,
is die Israeliete, die volk van Juda.
Die Here het verwag
dat daar reg sou wees,
maar daar was net onreg,
dat daar geregtigheid sou wees,
maar daar was net die hulpgeroep
van veronregtes.

Psalm 80:1-2, 8-19
Verskyn tog tot ons redding

80 Vir die koorleier: op die wysie van
“Lelies”. ’n Getuienis van Asaf.

’n Psalm.
2Luister tog, Herder van Israel,
U wat die nageslag van Josef
soos ’n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon,
verskyn tog aan ons!
8Almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!
9U het ’n wingerdstok in Egipte
uitgehaal
en dit hier kom plant
nadat U die nasies
uitgedrywe het.
10U het vir hom plek reggemaak,
sy wortels het gegroei
en hy het die land ingeneem.
11Sy skaduwee het die berge oordek,
sy ranke die magtige seders.
12Hy het sy ranke uitgestoot
tot by die see,
sy lote tot by die Eufraat.
13Waarom het U die mure om hom
afgebreek?
Al die verbygangers stroop hom,
14die wildevark uit die bos verwoes hom,
gediertes uit die veld vreet hom op.
15Almagtige God,
kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer
oor hierdie wingerdstok,
neem hom weer onder u sorg.
16Hou in stand wat U
met u eie hand geplant het,
die wingerdstok
wat U vir Uself gekweek het!
17Laat dié wat hom soos onkruid
verbrand het,
deur u oordeel te gronde gaan.
18Hou u hand oor die mense
wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U
vir U grootgemaak het.
19Dan sal ons nie weer
van U af wegdraai nie.
Hou ons aan die lewe,
dan sal ons u Naam aanroep!
20Here, almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!

Lukas 12:49-56
Jesus die oorsaak van die verdeeldheid
(Matt 10:34–36)
49“Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!

50“Maar daar is ’n doop waarmee Ek gedoop moet word, en dit sal My heeltemal in beslag neem tot dit afgehandel is! 51Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, 52want van nou af sal daar vyf mense in een huis onderling verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. 53Hulle sal verdeeld wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.”

Die tekens beoordeel
(Matt 16:2–3)
54Jesus het ook vir die skare gesê: “As julle ’n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: ‘Dit gaan reën!’ en dit gebeur ook. 55En as die suidewind waai, sê julle: ‘Dit gaan warm word!’ en dit word warm. 56Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?”

Fokusteks

Hebreërs 11:29-12:2
Wat geloof is
11 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.

3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.

4Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ‘n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.

5Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. 6As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

7Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ‘n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

8Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.

11Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ‘n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12Die gevolg was dat daar van een man, ‘n man wat nie meer ‘n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.

13Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. 14Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ‘n vaderland. 15As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. 16Maar hulle het na ‘n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ‘n stad gereed gemaak.

17–18Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,”  het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

20Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.

21Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.

22Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.

23Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy ‘n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie.

24Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. 25Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. 26Die smaad ter wille van die Christus het hy ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.

27Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.

28Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.

29Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.

30Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het.

31Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.

32En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete. 33Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, 34gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag. 35Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot ‘n beter lewe deelagtig word. 36Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. 37Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. 38Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.

39En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, 40omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.

Die oog moet op Jesus gevestig wees.
12 Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Ekstra stof

Inleiding op Hebreërs
Die brief is gerig aan huisgemeentes in Italië
Die brief-boodskap aan die Hebreërs word geskrywe aan huisgemeentes in ‘n stad in Italië, waarskynlik Rome.  Dit is ‘n “Boodskap van aansporing” of ‘n “Boodskap van bemoediging” (hfst. 13:22) aan ‘n diverse groep gelowiges wat onder baie druk verkeer.

Hierdie gelowiges het tot bekering gekom deur die werk van eerstehandse getuies van die boodskap van Jesus (hfst. 2:3;13:7).  Hulle was veral Jode (vgl. die titel: “Aan die Hebreërs“, hoewel dit eers later bygevoeg is), goed bekend met die Joodse geloof en tradisies, maar het waarskynlik ook gelowiges uit die heidene in hulle geledere gehad (“dié wat van Italië is” – hfst. 13:24).

Die sestiger- of sewentigerjare van die eerste eeu is die mees waarskynlike tyd vir die brief, hoewel dit nie meer presies gedateer kan word nie.  Teen die middel negentigs haal Klemens van Rome al uit die brief aan, so dit moes voor daardie tyd geskryf gewees het.

Die gelowiges het traag geword om te luister weens teenstand
Hoewel hierdie gelowiges die verligting van die Heilige Gees en die “goeie woord van God gesmaak het” (hfst. 6:4-5), het hulle ironies genoeg “traag geword om te luister” (hfst. 5:11) en onder andere ‘n “behoefte aan melk en nie vaste kos nie” (hfst. 5:12) gehad.

Hoekom?  Dit is duidelik dat hulle baie teenstand in die gemeenskap ervaar het: ‘n “geweldige stryd van lyding“.  Hulle is nie net “deur beledigings en verdrukking openlik bespotlik gemaak” nie, maar daar is ook vroeër op hulle besittings beslag gelê (hfst. 10:32-36 – keiser Claudius het in 49 n.C. Joodse Christene uit Rome verdryf).  Baie van die gelowiges het dus die gevaar geloop om weens hierdie volgehoue druk uit die publieke gemeenskap van die geloof en die geloofsgemeenskap afvallig te raak.

Een van hulle geestelike leiers bemoedig hulle met die skrywe
Die skrywer, wat een van hulle eie leiers was (vgl. die “ons” in hfst. 13:17-19 en dat hy binnekort na hulle teruggebring wil word), kom sy pastorale en geestelike verantwoordelikheid teenoor hulle na met dié brief-boodskap, soos dit uit die slotgedeelte blyk (“aanvaar hierdie boodskap van aansporing, want ek het maar kortliks vir julle geskryf” – hfst. 13:22).  Dit is egter só goed saamgestel dat dit eintlik die karakter van ‘n goed uitgewerkte preek of selfs teologiese bydrae aanneem.

Nie dat ons weet wie dié skrywer-prediker was nie of waar hy op dié stadium was nie.  Dit kon nie Paulus gewees het nie, hoewel die skrywer wel met Paulus se werkkring bekend was.  Hy ken bv. vir Timoteus (hfst. 13:23).  Benewens die feit dat Paulus nie ‘n leier van een van die gemeentes in Rome/Italië was nie, verskil die taal, woordeskat, styl en teologiese beklemtonings van hierdie brief net te veel met dié van Paulus se ander briewe.  Dit bevat bv. van die beste Grieks in die hele NT en het 169 woorde wat nét hier in die NT voorkom (Lane, Word kommentaar). Hy haal ook meer letterlik uit die OT (LXX – Griekse vertaling) aan as wat Paulus doen.  Die skrywer het verder volgens eie getuienis nie eerstehands na die Here Jesus geluister nie (hfst. 2:3) waarvan Paulus wel getuig het (Gal. 1:11-17).

Die name van onder andere Barnabas, Apollos (Luther se voorkeur), en Silvanus (Paulus se medewerker) word deur van die ou kerkvaders en geleerdes deur die eeue voorgestel as skrywers, maar geen historiese sekerheid is daaroor moontlik nie.  Sommige stel ook Paulus se medewerker Priscilla voor (Hand 18; Rom 16:13; 1 Kor. 16:19; 2 Tim. 4:19 – in die laaste drie tekste word sy eintlik Prisca genoem; Priscilla was ‘n verkleinwoord van haar naam).  Maar, volgens hfst. 11:32 was die skrywer manlik, afgelei uit die manlike vorm van die deelwoord: “om te vertel” in Grieks wat na die skrywer verwys.

Moenie vasgevang word deur buitengewone of basiese dinge, ook nie deur Joodse gebruike nie
Hoe dit ook al sy, uit hierdie skrywer se boodskap blyk dit dat sommige van die gemeentelede hulle toevlug begin soek het in óf:

  • buitengewone ervarings, waarskynlik in hulle geval veral rondom die verering van engele – daarom die beklemtoning van Jesus se uitsonderlike posisie “hoog bo die engele verhef“. Hy is immers nie een van hulle nie, maar een met God: “U troon, o God, is vir ewig en ewig.” (hfst. 1-2);
  • die grondbeginsels van die Christelike prediking: die basiese dinge, ironies genoeg hier as “melk” beskryf – daarom die afwysing van ‘n vassteek by bv. dinge soos die doop en handoplegging, en die aanmoediging om eerder op geestelike volwassenheid in terme van leer en lewe te fokus (hfst. 6), d.w.s. “vaste kos“;
  • die Joodse gebruike van die wet – daarom die afwysing van bv. die reinigingsrites en reëls rondom kos en drank en die aanmoediging om eerder op die lewende verhouding met God te fokus (hfst. 9-10; 13:9).

Moenie afvallig word nie
Die grootste probleem was egter dat sommige van hulle doodgewoon afvallig begin word het, en in ongeloof (hfst. 3:12 – “‘n bose hart van ongeloof“), sonde (hfst. 3:13), ongasvryheid (hfst. 13:2), seksuele wanpraktyke (hfst. 13:4), geldgierigheid (hfst. 13:5), en nog allerlei vreemde leringe (hfst. 13:9) verval het.  Hierdie mense het daarom hulle leiers teengestaan (hfst. 13:7,17) en onbarmhartig teenoor die wyer gemeenskap geraak (hfst. 13:16).

Fokus op God se werk in julle lewe
Daarom lê die skrywer van Hebreërs daarop klem dat hulle weer die werk van God in hulle lewe moet erken:

  • die lewende verhouding met Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (hfst. 1:2; 2:1; 10:19-22; 12:2),
  • die dinamiese werk van die Heilige Gees (hfst. 2:4; 3:7),
  • die krag van die Woord van God (hfst. 4:12),
  • die aanmoediging van hulle onderlinge byeenkomste (hfst. 10:23-25), en
  • die inspirasie van hulle onderlinge aansporing (hfst. 3:13: “elke dag“!; 12:14-17; 13:1-6), sowel as
  • die boodskap en werk van hulle leiers (hfst. 13:7-9,17).

Dít is die dinge waarop elke gelowige in hierdie gemeente moet fokus, sê die skrywer.  Daarin lê die krag van God opgesluit.  Daardeur word sy krag in hulle lewe oopgesluit. Dit is die geloofsbeginsels waaraan hulle hul moet hou.

Luister na die Skrif en die prediking
Met talle aanhalings en voorbeelde uit die skat van die Ou Testament boodskap – ‘n boodskap waarmee hulle duidelik bekend was – begrond die skrywer sy boodskap en bemoedig hulle met die evangelie van Jesus as die Leidsman van ons verlossing sowel as die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis.  Daarmee word hulle aan die Skrif verbind soos dit deur die prediking aan hulle voorgehou word.

Hulle word opgeroep om almal saam te waak daarteen dat geeneen van hulle van die lewende God afvallig word nie.  Hulle moet styf vashou aan hulle belydenis en hulle verlossing – leer en lewe – en voortdurend met vrymoedigheid in gebed die troon van genade nader.

Fokus op geestelike volwassenheid
Hulle word dus opgeroep tot geestelike volwassenheid, om nie langer te fokus op die eerste beginsels van die geloof in Christus nie – “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (hfst. 6:1-3) – maar die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding te hardloop, hul oog gevestig op Jesus die Leidsman en Voleinder van hulle geloof (hfst. 12:1-2).  Gasvryheid, meelewendheid, mededeelsaamheid, gehoorsaamheid en onderlinge onderdanigheid moet hulle gemeentelike lewe kenmerk. God belowe immers dat Hy hulle sal toerus met alles wat goed is, sodat hulle sy wil kan doen (hfst. 13).

Hebreërs 11 – Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag
Dit is só belangrik om hoofstuk 11 in konteks te lees.

  • In die vorige hoofstuk het die skrywer die geloofsgemeenskap in Rome aangemoedig om met vrymoedigheid in God se teenwoordigheid te leef (10:19-22).
  • Hy het hulle aangespoor tot liefde en goeie dade terwyl hulle met volharding God se wil soek en doen (10:23-25, 35-36).

Nou wil hy hulle in hoofstuk 11 verder inspireer deur ‘n wye reeks van voorbeelde van geloofsvolharding, sodat hy dit as deel van sy appèl kan gebruik dat hulle die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding kan hardloop (12:1-3).  “Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is.” (11:2; vgl. ook vers 39).

Hy doen dit as volg:

  • Inleiding oor geloofsvertroue – 11:1-3
  • Geloofsvoorbeelde uit die oertyd – 11:4-7
  • Geloofsvoorbeelde uit die aartsvadertyd – 11:8-23
  • Geloofsvoorbeelde uit die Eksodus- en Intogtyd – 11:24-31
  • Geloofsvoorbeelde uit die Rigters- en Koningstyd – 11:32-38
  • Gevolgtrekking oor geloofsvolharding – 11:39-40

11:1-3 – Inleiding oor geloofsvertroue
Die definisie van geloof waarmee die skrywer begin, eintlik die enigste definisie van sy soort in die NT, is in die lig van hoofstuk 10 se boodskap nie ‘n abstrakte teoretiese beskrywing van geloof nie.  Dit beskryf heel konkreet die ingesteldheid, die aktiewe geloof en vertroue, waarmee hierdie wedloop wat vir die geloofsgemeenskap voorlê, gehardloop word.  In ‘n sekere sin is dié geloof ‘n ander manier om die vrymoedigheid te beskryf waarmee hulle teenoor God en teenoor mense kan optree, soos in die vorige hoofstuk beskryf is.

Die skrywer gebruik die Griekse woord pistis altesaam 24 keer (ook 1 keer die werkwoord van dieselfde woord in vers 6) regdeur hoofstuk 11 in hierdie aktiewe betekenis, d.w.s. in die sin van geloof of vertroue (faith of faithfulness – 11:1, 3, 4, 5, 6, 7[2x], 8, 9, 11, 13, 17, 20, 21, 22, 23, 24, 27, 28, 29, 30, 33, 39).

Hy onderskei hierdie tipe geloof dus van geloof in terme van sy inhoud (belief), ‘n betekenis wat hy wel in hfst. 12:2 sal inspan: “Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (let op die bepaalde lidwoord die), en ook op verskeie ander plekke in die NT gedoen word (vgl. bv. Gal. 2:16,20; 3:22 – “geloof in Christus Jesus” wat ook as “geloof van Christus Jesus” uitgelê kan word).

Vers 1 lui hierdie aktiewe betekenis van geloofsvertroue in wat in die res van die hoofstuk met die verdere geloofsverhale geïllustreer sal word: “Geloof is sekerheid van die dinge wat gehoop word; ‘n bewys van dinge wat nie gesien word nie.”  Let op hoe dié geloof vasgryp aan die toekomstige en onsigbare beloftes van God as ‘n realiteit.  Dit is sekerheid van die dinge wat gehoop word; dit is ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.

Dit beteken hierdie tipe geloof is die vertroue op God se beloftes as ‘n werklikheid, iets wat in en deur geloof as vas en seker geag word.  Hierdie geloof reken die beloftes van God as ‘n realiteit, al lê die verwerkliking daarvan nog in die toekoms en al kan dit nie met die sintuie waargeneem word nie.  Hierdie tipe geloof sê: God se beloftes is vas en seker.  Dit is konkreet en werklik, al kan ons dit nog nie nou al sien nie.

Die rede hoekom ‘n mens dít van God se beloftes kan glo, word dan deur die skrywer begrond in twee getuienisse uit die verlede: 1) die verhale van die geloofsgetuies (11:2) en 2) die skepping van die wêreld deur die woord van God – ex nihilo – uit niks uit nie (11:3).  Dié verhale uit die verlede gee aan geloof sy toekomsgerigte karakter.  Soos God Homself in die verlede bewys het in die geloofsgemeenskap sowel as in die skepping, só kan Hy vertrou word om ook in die toekoms op te tree en sy beloftes waar te maak.

11:4-7 – Geloofsvoorbeelde uit die oertyd
Dit is met dié tipe geloof, ‘n geloof wat die toekoms tegemoetgaan op grond van God se woord gerugsteun deur sy beloftes, dat die geloofsgemeenskap moet lewe. Hoekom?  Die skrywer is duidelik daaroor: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag: Want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié beloon wat hom soek.” (11:6).

Hy gebruik drie verhale uit die oertyd as geloofsvoorbeelde: Abel (Gen. 4), Henog (Gen. 5) en Noag (Gen. 6-9).

Hoekom Abel ‘n beter offer as Kain aan God gebring word, word nie uitgespel nie, behalwe die feit dat God oor sy gawes getuienis gelewer het deur Hom as regverdig te verklaar.  Jesus het ook van Abel se vroomheid en onskuld gepraat, maar sonder om dit aan sy offer te verbind (Matt. 23:35).  Die skrywer sal later ‘n vergelyking tref tussen Abel en Jesus.  Waar Abel se bloed om vergelding geroep het (Gen. 4:10), roep die bloed van Jesus egter om versoening vir elkeen wat daarmee besprinkel is (hfst. 12:24).

Die skrywer sluit aan by wat van Henog in die OT gesê word dat hy “naby God” geleef het (Gen. 5:22) en beskryf hom as iemand wat deur geloof “God behaag het“.  Om die waarheid te sê, sê die skrywer, “deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie“.  Hy was dus in terme van Hebreërs se uitleg van geloof in vers 1, só seker van God se beloftes dat hy die werklikheid in hierdie lewe kon belewe!  Judas, die broer van Jesus, noem Henog ook ‘n profeet wat oor die toekoms wat God bring, getuig het (Jud. 14).

Waar in Abel en Henog se geval hulle verhouding met God in die kollig was, getuig Noag se voorbeeld van die feit dat hy God se woord nie net gehoor het nie, maar daaraan gehoorsaam was: “oor dit wat nog glad nie gesien is nie“!  Hy het daarom die ark gebou wat die redding van sy huis beteken het en “‘n erfgenaam geword het van die regverdiging (of vryspraak) volgens geloof“.  Die keersy daarvan was dat dit die wêreld van daardie tyd vir hulle gebrek aan geloof en vertroue op God veroordeel het.

11:8-23 – Geloofsvoorbeelde uit die aartsvadertyd
Hy vervolg met vyf verhale uit die aartsvadertyd: Abraham en Sara (Gen. 12-25), Isak (Gen. 21-27), Jakob (Gen. 25-49), en Josef (Gen. 37-50).

Dieselfde tema van geloofsgehoorsaamheid en -vertroue wat met Noag aan die orde gestel is, word nou in die verhale van hierdie aartsvaders en –moeders nagevolg.

Abraham se geloofsgehoorsaamheid toe hy geroep is om te trek na ‘n plek wat hy as erflating sou ontvang, en sy verblyf as bywoner in dié land, word geprys.  ‘n Bietjie meer inligting word gegee oor sy motivering: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is.”  Daarmee word sy roeping verbind nie net aan die fisiese land waarheen hy getrek het nie, maar aan die toekomstige Jerusalem wat God as deel van sy koninkryk sal oprig.  Dit gee waarskynlik ook meer detail oor die “sabbatsrus” wat vir die volk van God aan die einde van die tyd voorlê, soos die skrywer in hfst. 5:9 in die vooruitsig gestel het.

Sara se geloofsvertroue op God: “aangesien sy Hom wat dit belowe het, getrou geag het,” word geprys.  Die gevolg daarvan was ‘n nageslag “in getal so veel soos die sterre van die hemel en soos die ontelbare sandkorrels op die strand by die see“.  Sy het deur geloof as’t ware lewe gegee aan Abraham “wat so te sê dood was“!

Die skrywer onderbreek sy vertelling om ‘n gevolgtrekking te maak, gebore uit die feit dat elkeen van dié geloofsgetuies gesterf het, sonder dat hulle die volle werklikheid van die beloftes ontvang het.  “Maar hulle het dit van ver afgesien en verwelkom, en bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op die aarde is.”

Die beloftes het dus ‘n hunkering in hulle wakker gemaak na ‘n beter bedeling, ‘n hemelse een.  Die land en nageslag van Israel kon nie vir Abraham of Sara volle genoegdoening gee nie.  Net God en die stad wat Hy vir hulle voorberei, kon dit doen.  Om daardie rede is God nie skaam om hulle God genoem te word nie en hulle in te nooi in die stad wat Hy vir hulle voorberei.

Die skrywer vervolg met die verhaal van Abraham waar hy bereid was om die beloofde nageslag, Isak, op te offer in sy gehoorsaamheid aan God se opdrag.  Hoekom?  “Omdat hy gereken het dat God die mag het om ook uit die dood op te wek“!

Abraham het daarom die wonder beleef dat God vir Isak as’t ware uit die dood uit vir hom teruggegee het, ‘n ervaring wat die opstanding van Jesus Christus uit die dood uit voorafgeskadu het.

In drie verdere kort verse word Isak en Jakob se seën van hulle seuns met die oog op die toekoms aangeraak, sowel as Josef wat van die Eksodus onder leiding van Moses melding gemaak het, ‘n goeie vierhonderd jaar daarvoor.  Die toekomstige en onsigbare karakter van dié dinge waaraan geloof vasgryp, word dus onomwonde geïllustreer in hulle verhale.  Hulle het die toekoms as werklikheid gereken.

11:24-31 – Geloofsvoorbeelde uit die Eksodus- en Intogtyd
Die skrywer kies vier verhale uit die Eksodus- en Intogtyd, die verhale van die ouers van die onvergelyklike leier Moses, uiteraard Moses self (Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium), die volk in Josua se tyd met die oorwinning oor Jerigo, en dan die ewe onvergelyklike vrou Ragab uit dieselfde verhaal (Josua 2 en 6).  Interessant genoeg word Josua nie genoem nie.

Moses se ouers, Amram en Jogebed (Amram se tante volgens Eks. 6:19), albei uit die stam van Levi, deel van die Kehat-groep, het Moses in vertroue op God drie maande lank weggesteek, nie net omdat hulle gesien het dat hy mooi is nie – watter ouer sou dit nou nie gedink het van sy pasgebore kind nie – maar omdat “hulle nie vir die koning se bevel bang was nie“!

Moses het op sy beurt deur geloof in God die moeiliker pad gekies om hom eerder by die volk van God te skaar as by die Egiptenare, ‘n moontlikheid wat vir hom beskore was as aangenome seun van die farao se dogter.  Hy het eerder verkies “om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef“.  Die skrywer lê dit verder retrospektief uit as die keuse vir die smaad van Christus eerder as die keuse vir die skatte van Egipte.

Daarom kon Moses Egipte: “verlaat sonder om bang te wees vir die woede van die koning, want hy het volhard soos een wat Hom, die Onsienlike, sien.” Hier is ‘n mens op heilige grond, want die skrywer reken dat Moses in geloof aan Christus vasgegryp het, sonder dat hy Hom kon sien.

Hy brei verder uit op die instelling van die Pasga – waarop die nagmaal natuurlik geskoei is – as geloofsdaad waarvan die bloed aan die deurkosyne hulle eersgeborenes van die doodsengel beskerm het, sowel as op die trek deur die Rooisee.

Laastens noem hy die geloof van die volk sowel as geloof van die prostituut Ragab met die val van die mure van Jerigo in vertroue op God.  Ragab het deur geloof nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, “omdat sy die spioene in vrede ontvang het” (vgl. ook Jak. 2:25).  Sy trou natuurlik uiteindelik met Salmon by wie sy ‘n seun Boas gehad het, wat met die Moabiet Rut getrou het uit wie Obed gebore is, die pa van Isaï, die pa van koning Dawid.  Ragab, die oumagrootjie van Dawid se pa se geloof het haar dus ingeskryf in die geslagsregister van Jesus (Matt. 1:5).  Dawid was haar agter-agter-kleinkind.

11:32-38 – Geloofsvoorbeelde uit die Rigters- en Koningstyd
Die skrywer was nou besig om deur die OT verhale te werk om nog illustrasies te gee van geloofsvertroue en gehoorsaamheid aan God.  Hy besef egter dat die tyd hom gaan ontbreek om al die stories van die helde uit die Rigtertyd (Gideon, Barak, Simson, Jefta) en uit die Koningstyd (Dawid, Samuel en die profete) te vertel.  Hy som dit daarom op deur te wys daarop dat dié ses geloofshelde eintlik net ‘n illustrasie is van ‘n hele aantal geloofshelde wat oorwinnings behaal het:

  • deur geloof koninkryke verower het“,
  • gedoen het wat reg is“,
  • beloftes verkry het“,
  • die bekke van leeus toegestop het“,
  • geweld van vuur geblus het“,
  • die skerpte van die swaard ontvlug het“,
  • krag ontvang het in swakheid“,
  • magtig geword het in oorlogvoering” en “slagordes van vreemdes afgeweer het“.
  • Ook “vroue het hulle dooies deur opstanding terugontvang“.

Hier verwys hy natuurlik na meer mense as net die ses name wat hy aanhaal, onder andere twee verwysings na Daniël en sy drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego, sowel as een na die Sunemmitiese vrou in die tyd van Elisa wat haar seun uit die dood uit terugontvang het (2 Kon. 4).

Midde-in vers 35 verander die karakter van die geloofsverhale na dié verhale waarin die geloofshelde eintlik op die oog af die onderspit gedelf het:

  • Sommige “is gemartel toe hulle nie die vrylating wou aanvaar nie, sodat hulle ‘n beter opstanding kon verkry“.
  • Nog ander “het die toets van bespotting en slae verduur, en boonop van boeie en gevangenskap“.
  • Nog ander “is gestenig, middeldeur gesaag; deur teregstelling met die swaard het hulle gesterf“.
  • Nog ander het “in skaapvelle geswerf, in bokvelle, behoeftig, verdruk, mishandel“.

Kortom: “die wêreld was hulle nie werd nie – terwyl hulle in verlate plekke en oor berge rondgeswerf het, en in grotte en in gate in die grond.

11:39-40 – Gevolgtrekking oor geloofsvolharding
Die skrywer sluit hierdie illustrasies van geloofsvertroue af met die veelseggende stelling dat al dié helde oor wie se geloof daar met soveel lof getuig kan word, tog nie ooit die belofte van God – hier moet ‘n mens veral dink aan die belofte van die ewige erfenis, die sabbatsrus van God – volledig in besit geneem het nie.  Hoekom?  “Sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.

Boodskap
Die skrywer inspireer ons met die reeks van geloofshelde wat hulle lewens aan God toevertrou het, Hom gehoorsaam het en in geloof volhard het.  Hy nooi ons uit om in geloofsvertroue ons eie pad met God te loop deur vas te gryp aan die toekomstige en onsigbare beloftes van God as ‘n realiteit.  Geloof is immers sekerheid van die dinge wat gehoop word; geloof is ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.

Hierdie tipe geloof sien God se beloftes as ‘n werklikheid, iets wat in en deur geloof as vas en seker geag kan word, al lê die verwerkliking daarvan nog in die toekoms en al kan dit nie met die sintuie waargeneem word nie.  Hierdie tipe geloof sê: God se beloftes is vas en seker.  Dit is konkreet en werklik, al kan ons dit nog nie nou al sien nie.

Die tafel is nou gedek vir die oproep van hoofstuk 12 om die wedloop wat voor ons lê met volharding te hardloop, om ons fokus volledig te stel op die ewige erfenis, die sabbatsrus van God.  Niks moet in ons pad kom om dié doelwit van ons lewens te bereik nie.

Hebreërs 12 – Hardloop die wedloop wat vir ons voorlê met volharding

Die grootste voorbeeld van geloofsvolharding is natuurlik Jesus Christus self.  Meer nog, Hy is nie net vir ons ‘n inspirerende voorbeeld in eie reg nie, maar trouens die Leidsman sowel as die Voleinder van die geloof.  Hy het die vermoë om ons nie net te inspireer nie, maar in staat te stel om die wedloop wat vir ons voorlê, te hardloop.  Hy is immers die Een wat as Hoëpriester ons verlede, hede en toekoms in sy hande hou (hfst. 8-10).

Die skrywer sluit dus sy aansporing en bemoediging van die geloofsgemeenskap af deur op die volgende aspekte van die geloofswedloop klem te lê:

  • Rig self die oog op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof – 12:1-13
  • Sien toe dat niemand anders God verontagsaam nie – 12:14-29

12:1-13 – Rig self die oog op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof
Soos die skrywer sy brief-boodskap begin het met die oproep om met ons geloofs-ore na God te luister wat met ons praat deur die Seun (hfst. 1:2), só vul hy dit aan met die oproep om ons geloofsoë op die Seun te rig, Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.

Hy is egter ook baie bewus daarvan dat hierdie oproep ‘n enorme uitdaging is wat met geweldige innerlike en uiterlike konflik en stryd gepaard sal gaan.

Daar is drie uitdagings wat ‘n mens die hoof moet bied:

  1. Nie net is daar die laste (goeie dinge wat egter persoonlike hindernisse kan wees) waarvan ontslae geraak moet word nie,
  2. ook nie net die sonde wat ons so maklik aankleef nie, waarvan ontslae geraak moet word nie,
  3. maar ook nog die dissipline (tug) wat God toepas op elkeen wat Hy aanneem as een van sy kinders.

Sommige van hierdie uitdagings kom uit jou persoonlike samestelling en lewenstyl– dinge wat vir jou laste sou kon wees, en sondes wat ‘n greep op jou lewe kan kry – en ander uitdagings kom uit die omstandighede van die gemeenskap en die wêreld om jou – dinge wat buite jou beheer oor jou pad kom – soos Jesus wat bv. ‘n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom moes verduur.

Die gedagte aan Jesus moet ‘n mens in jou stryd teen laste en sondes dra.  Aan die een kant moet ‘n mens dink aan die feit dat Hy dit gemaak het en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het.  Aan die ander kant moet ‘n mens dink aan die feit dat Hy die Leidsman en Voleinder is van die geloof.  Hy is jou Inspireerder en Instaatsteller.

Die gedagte aan die uitkoms van dissipline moet jou in die uitdaging van lewensomstandighede dra.  Aan die een kant is dit die lot van elkeen wat ‘n kind van God is.  Niemand word uitgesluit nie. Aan die ander kant lewer dissipline altyd “‘n vredevolle vrug op vir hulle wat daardeur ingeoefen is, ‘n vrug van geregtigheid.

Hierdie gedagtes moet jou inspireer om die slap hande en lam knieë op te tel en reguit paaie vir die voete te maak, by wyse van spreke, sodat wat lam is, nie dalk mag swik nie, maar eerder gesond word.  Dit herinner aan die wysheid van Spreuke 4:26-27 (vgl. hierdie bydrae daaroor: Spreuke 4:1-27 – Baken jou koers af).

12:14-29 – Sien toe dat niemand anders God verontagsaam nie
Die oproep om die oog op Jesus te hou, is egter nie net iets wat ‘n mens persoonlik kan omarm nie.  Dit bly ‘n integrale deel van die evangelie om te sorg dat die mense rondom jou nie afvallig raak nie.

‘n Mens kan dus nie net persoonlik streef na vrede met almal en na persoonlike heiligmaking nie – al is dit ook hoe belangrik.  Dit moet aangevul word met ‘n omgee vir ander om dieselfde pad saam met jou te volg.  Niemand sal God daarsonder sien nie – wat immers die einddoel van die geloofsvolharding is.

Die afvalligheid kan volgens die skrywer op drie maniere gebeur.

  1. Dit kan gebeur dat mense in onbegrip of selfs net onnadenkendheid: “die genade van God verspeel“.  Waar Jesus nie voor oë gehou word as Leidsman en Voleinder van die geloof nie, sal mense inderdaad die genade van God verspeel.
  2. Dit kan ook gebeur deur afvalligheid waar God met iets anders verplaas word.  Die geloofsgemeenskap word daarom opgeroep om te sorg dat daar “geen wortel van bitterheid opskiet en moeilikheid veroorsaak en baie daardeur besoedel word,” nie.  Die skrywer verwys hier heel waarskynlik na die beskrywing in Deuteronomium 29:18-21 van wat met ‘n geloofsgemeenskap gebeur as hulle afvalligheid van God toelaat.  Die Here waarsku dat sulke mense, “so ‘n gifwortel wat alles kan vergiftig“, tot baie ellende en swaarkry sal lei.
  3. Dit kan ook gebeur wanneer iemand sedeloos of goddeloos optree, soos Esau wat sy eersgeboortereg prysgegee het.  Dit is iets wat nie maklik ongedaan gemaak word nie, al begeer jy dit met baie trane.  Esau het tevergeefs vir Isak gesmeek vir ‘n gesindheidsverandering, maar dit nie gekry nie.  Hierdie gevaar van goddeloosheid dui op dieselfde gevaar wat die skrywer aan Hebreërs in hfst. 3:12 as “‘n bose hart van ongeloof” beskryf het.  Só iets moet die geloofsgemeenskap ten alle koste in eie geledere probeer vermy.

Die rede hiervoor is dat God nie maar beperk is tot iets tasbaars soos in die natuurtekens by die berg Sinai met die gawe van die wet ervaar is nie.  En dit was alreeds skrikwekkend groots.  Selfs Moses het daarvan gesê: “Ek is beangs en ek sidder!

Nee, die rede vir hierdie oproep om om te gee vir ander is dat hulle die doel van hulle lewe kan mis.  Hulle is op pad na die hemelse stad van die lewende God met sy tienduisende engele waar hulle deel sal raak van die “gemeente van eersgeborenes“.  Israel is in die OT as God se eersgeborene geteken (Eks. 4:22; vgl. Jer. 31:9).  Dit word nou op alle gelowiges van toepassing gemaak (vgl. ook wat hieroor geskryf is in Psalm 87 – Elke persoon wat God ken, is in Sion gebore).  In God se teenwoordigheid sal hulle as vrygespreektes vervolmaak word.  Dít kan ‘n mens nie mis nie!

Daarom: “Sien toe dat julle Hom wat praat, nie verontagsaam nie.”  Ons kan nie ons rug draai op die Een wat besig is om ‘n onwankelbare koninkryk voor te berei nie.  En ons moet toesien dat niemand van ons medegelowiges dit doen nie.  Die slotsom is: “Laat ons dankbaar wees en God daardeur op ‘n welgevallige wyse dien, met eerbied en ontsag, want ons God is inderdaad ‘n verterende vuur.

Boodskap
Ek kan aan geen ander Skrifgedeelte dink wat só onomwonde ons oproep om nie net self die Here met alles in ons te dien en in geloof te volhard nie …. maar ook tegelykertyd ons oproep om alles in ons vermoë te doen om te sorg dat die ander lede van ons geloofsgemeenskap nie agterbly en afvallig raak van die lewende God nie.

En die rede daarvoor is nie net dat dit die gesondheid van die geloofsgemeenskap bepaal nie, hoewel dit ‘n belangrike rede is.  Die belangrikste rede is dat niemand van die geloofsgemeenskap die voorreg van vervolmaking as die “gemeente van eersgeborenes” kan mis nie.  Dit kan net nie gebeur nie.  “It’s too ghastly to contemplate!

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 506 of Lied 155

Votum
Seëngroet

Lofsang: VONKK 174 [bekend – ou Halleluja lied] of Lied 156

Wet: Hebreërs 12:1-2

Verootmoediging: Lied 280

Bemoediging: Hebreërs 12:3

Geloofsbelydenis: Hebreërs 11:1-3

HOOR 

Gebed: Lied 519

Skriflesing: Hebreërs 11:29-12:2

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 118 [bekend] of Lied 527

Seën: (Kolossense 1: 11.)

Respons: VONKK 38 vers 3

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 506 Wees Stil My Hart En Luister (Soos Trane) of
Lied 155 “Verhef ons harte tot U, Heer”

Votum
Vandag se Skriflesing praat van ‘n skare geloofsgetuies, geloofshelde wat ons inspirer en bemoedig.  Mense soos Abraham, Moses, Ragab… Terwyl ons vanoggend na God nader, kom ons neem ‘n paar oomblikke om na te dink aan die geloofsgetuies wat ons gebring het tot hier. (Oomblik stilte)

U het ons omring met ‘n groot skare van geloofsgetuies, gelowiges en martelare, getroue mense in elke tyd, sodat, versterk deur hul getuienis en ondersteun deur hul gemeenskap, ons met volharding die wedloop wat voor ons gestel is mag hardloop en saam met hulle die onvervalste kroon van heerlikheid ontvang.  Amen

Seëngroet

Lofsang
VONKK 174 Strome Van Seën Uit Die Hemel  [bekend – ou Halleluja lied] of
Lied 156 “Loof, loof die Here!”

Wet
Hebreërs 12:1-2
12 Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

Verootmoediging
Hier is ons Here, mense wat hier saamgekom het met ons bekommernisse en hartseer, met ons vreugde en drome.
Hier is ons Here, mense wat druk besig is met studie en werk en meestal maar meegesleur word in die stroom van oppervlakkige gejaagdheid.
Hier is ons Here, mense wat daagliks die godsdiens van geld, mag en status inasem en meedoen aan onreg en boosheid.
Ons bid, laat ons tog nie goddeloos word en aan die realiteit om ons té gewoond raak nie.
Laat die skare van geloofsgetuies van alle tye ons bemoedig en uitdaag tot volharding in die geloof.
Amen.

Lied 280 “Here, Redder, groot en magtig”

Bemoediging
Hebreërs 12:3
3Hou [Christus Jesus] voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Geloofsbelydenis
Hebreërs 11:1-3
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.

3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.

Apostoliese Geloofsbelydenis

Liedere

F506. “Wees Stil My Hart En Luister (Soos Trane)”
(RUBRIEK: FLAM – Geloof en vertroue)   (Opgeneem op Kom Nader)

Wees stil my hart En luister
Buig neer my siel vir die een wat lewe
Ek gee myself gebroke
En elke las vir die een wat weet

Mag my lewe wees soos trane
Oor die voete van my Heer
En mag die hart in my weer heelword
Soos die balsem oor U breek

Hier binne my , Verlange
My wese roep na die Een wat hoor
Soos  vuur kom brand en reinig
Vlekkeloos vir die Een wat kom

F352. “Met My Hele Hart”
(RUBRIEK: Flam – Lof; Toewyding; Gebed) Teks en musiek: Riaan van Jaarsveld Kopiereg: Ó Flam Musiek-Uitgewers

1. Hier is ek, o Heer, doen met my soos U wil,
U wat my hart vervul.
Hier is ek, o God, neem my lewe in u hand
en laat u vlam in my brand.

Refrein:
Met my hele hart wil ek u Naam loof en prys,
U liefde is al wat ek begeer.
Vir al ons sondes het u Seun gesterf aan die kruis,
hoe wonderbaar is u Naam o Heer!

2. Laat my volhard, o Heer, met elke dag se stryd
en maak my voorbereid.
Laat my weer sien, o God, dat U alles vir my is,
moet nooit u vlam in my blus.

VONKK 174 “Strome Van Seën Uit Die Hemel”
Teks: There shall be showers of blessing – Daniel W Wittle 1882;  Strome van seën van bowe – Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2011 © Musiek: SHOWERS OF BLESSING – James McGranaham 1883 Kantoryverwerking: James McGranaham 1883
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit

1. Strome van seën uit die hemel
gee God aan ons deur sy Gees.
Hy skenk die wedergeboorte,
maak van ons lewe ‘n fees!

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

2. Strome van seën uit die hemel
kom van die Heilige Gees.
Hy wek geloof en bekering
dat ons sy kinders kan wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

3. Strome van seën uit die hemel
kom deur die werk van die Gees.
Hy kom vernuwe ons denke
om meer gehoorsaam te wees.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

4. Strome van seën uit die hemel –
dis wat die Gees ons beloof.
Hy leer ons bid met verwagting,
om te volhard in geloof.

Refrein:
Strome van seën,
gee dit in oorvloed, o Heer,
dat ons kan groei en kan vrugdra,
daagliks kan leef tot u eer.

F118. “Bly Volhard Soos Atlete” 
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Diens en Getuienis) Oorspronklike titel: Turn your eyes upon Jesus Teks en musiek: Helen H Lemmel
Afrikaanse vertaling: Attie van der Colf   Teks ©  Flam Musiek Uitgewers Musiek © 1922 New Spring (Opgeneem in Jeugsangbundel I)
(Hebr 12:1-3 en 1 Kor 9:24-27)

1. Bly volhard soos atlete –
dis God wat ons wedloop bepaal.
Daar ’n skaar’ verlostes wat wag om die baan
dat ons almal die wenstreep sal haal.

2. Elke las moet ons afgooi
– die sonde wat maklik verstrik –
dat ons God se pad met volharding kan loop;
dis die pad na die ware geluk.

3. Hou die oë op Jesus –
ons Vriend, ons Verlosser, ons Hoof.
Vir die vreug daarná het Hy smarte verdra;
Hy begin en versterk ons geloof.

VONKK 38 “Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan”
Teks: Nuwe Sionsgesange 1994; gewysig Jacques Louw 2009 © Melodie: EVENTIDE – William Monk 1861
© Teks:  2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Uitsending

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Tel ons onder u heiliges, o God,
en sluit ons in by die getroues van elke tyd,
sodat, versterk deur hul getuienis
en ondersteun deur hul gemeenskap,
ons met volharding die wedloop wat voor ons gestel is, mag hardloop,
en saam met hulle die onvervalste kroon van heerlikheid mag ontvang
wanneer ons voor u troon van genade staan.
Gee ons krag om u getrou te dien
tot die beloofde dag van opstanding,
wanneer ons saam met die verlostes van alle eeue
heerlik saam met u aan u tafel gaan feesvier.
Amen.

Lied 519 “Wees stil en weet Ek is die Heer”

Skriflesing: Hebreërs 11:29-12:2

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Bybel-Media het twee pragtige produkte wat baie mooi by vandag se “skare geloofsgetuies” pas.  Die Kleuterpret Bybelmense-inkleurboek is ‘n inkleurboek wat ietsie oor verskillende Bybelse karakters sê.  Vir R80 kan jy ‘n stel Kleuterpret Snap-kaarte kry, ‘n prettige manier om deur spel vir kleuters en kinders aan 49 belangrike mense in die Bybel bekend te spel.

Carolyn Brown sê dat die woord “getuies” vandag verwarrend kan wees.  Sy stel voor dat daar eerder met kinders gesels word oor geloofshelde en -heldinne.  Jy kan die verhaal van een of meer van hierdie held/inne vertel, dalk m.b.v. ‘n kinderbybel of een van bogenoemde Bybel-Media hulpmiddels.

Jy kan ook baie lekker aansluit by ons geloofsgetuies.  Vertel van mense wat ‘n opbouende invloed op jou geloof gehad het.  Praat oor die mense wat ‘n invloed op die gemeente en kinders se geloof het.  As julle foto’s van vorige dominees iewers in die gebou het, kan jy daarna verwys en ‘n storie of twee van die dominees vertel – jy kan selfs die kinders stuur om na die foto’s te gaan kyk (as jy dink hulle sal terugkom).  Maak egter seker dat jy nie nét van dominees praat nie, maar “gewone”gelowiges soos oumas en onderwysers insluit.

Vir ‘n aktiwiteit kan jy vir kinders raampies (karton raampies sal voldoende wees) gee en vra dat hulle ‘n prent van hul geloofshelde maak.  Of ‘n paar karton kaartjies, dat hulle hul eie geloofsheld kaarte maak.

Preekriglyn

In die Griekse mitologie word die verhaal vertel van Narsissus. Hy was ‘n jagter van formaat, maar een ding het uitgestaan: Hy was ook ‘n baie mooi man. Die probleem was egter dat hy dit geweet het. Soveel so dat hy so lief was vir homself dat hy almal wat van hom gehou het verag het, aangesien hulle iets sou wegneem van sy vermoë om homself lief te hê. (Amper soos iemand wat homself so jammer kry dat niemand anders hom kan jammer kry nie.) Nemesis, ‘n ander karakter van die mitologie, het Narsissus uitgekyk en hom eendag gelei na ‘n poel waar Narsissus sy eie beeld in die water gesien het. Hy het oombliklik op die beeld verlief geraak, sonder om ooit te besef dit was net ‘n beeld. Narsissus het dag in en dag uit net na die beeld gestaar en is uiteindelik dood terwyl hy na sy eie weerkaatsing in die water gekyk het. Vandag ken ons die verskynsel van Narsisme as beheptheid met die eie ek of eie belange.

Ons kultuur leer ons ongelukkig ook om sterk op onsself ingestel te wees. “Me first!” Selfs as kerk en geloofsgemeenskap ontsnap ons nie die versoeking van Narsissus om ons te verkyk aan ons eie weerkaatsing nie.

Die verhaal van die Bybel teken egter ‘n interessante prentjie oor presies wat dit beteken om: (1) mens te wees, en; (2) ‘n gelowige te wees. Dit blyk asof die mense aan wie Hebreërs geskryf is, dit ook nie aldag heeltemal mooi verstaan het nie. Ons kan gevolglik skouer aan skouer met hulle staan wanneer ons vandag hieroor nadink.

Agtergrond by ons teks

Aan die einde van Hebreërs 10 is daar sprake van moontlike afvalligheid onder die gelowiges wat verband kon hou met ontbering, aanvegting, openbare verleenthede en ander sake. In ‘n slotmoment in 10:39 maak die outeur ‘n appèl tot volharding in die geloof.

Hoofstuk 11 begin in vers 1 met ‘n beskrywing van die aard van geloof as (ons het verlede week uitvoerig hierby stilgestaan):

  • hupostasis (innerlike sekerheid) en
  • elenchos (uiterlike bewysstuk) wat
  • lei tot hemarturethesan (bevestiging/goedkeuring) van God.

Soos wat 11:2 aandui is hierdie geloof sigbaar in die lewe van die manne van ouds.

In die res van hoofstuk 11 word die fotoalbum van gelowiges behoorlik opgebou. Nadat daar by Abel en Kain begin is, word die verhaal al langs die historiese lyn vertel met verwysing na Henog en Noag voordat dit by die vader van die gelowiges, Abraham, uitkom. Die verhaal van die volk van die Here, oor die loop van jare, word kortliks vertel.

Dit begin deur te verwys na waar alles begin het by Abraham en volg met die aartsvaders, Moses, die uittog, deurtog deur die Rietsee en die uiteindelike intog in die beloofde land met die val van Jerigo se mure. Die res van die verhaal van die volk van die Here word opgesom met blote verwysing na die name van sommige rigters, konings en profete.

Gety draai

In 11:35 vind ‘n interessante omskakeling plaas. Teenoor die vrouens wat hulle oorlede geliefdes teruggekry het deur opstanding uit die dood, word ook verwys na dié vroue wat swaargekry het onder marteling en aanhouding.

Met vers 36-38 draai die gety. Na die aanvanklike skynbare suksesse van die gelowiges verskuif die klem na al die ontberings en terugslae wat gelowiges te beurt geval het. Op ‘n manier word hierdeur balans gebring in die gedagtegang wat maklik na ‘n suksesteologie kan lyk. En helaas, vervolg vers 39 wat sê dat in al die gevalle – beide voorspoed en rampspoed – het die lewe van die gelowiges ‘n geloofsgetuienis uitgedra.

Daar is egter ‘n voorlopige eienskap in al die lewens en verhale wat genoem word. In 11:13, 16 en 39-40 word gestel dat die gelowiges nie arriveer het nie. Daar het iets kortgekom om sake tot voleinding te bring. Met die gebruik van die woord teleiothosin (om tot volmaaktheid te bring) in 11:40, skakel die Hebreërbrief hoofstuk 12 in deur na Jesus Christus in 12:2 juis as die teleioten (Voleinder) te verwys. Hiermee word die brug tussen die Ou-Testamentiese fotoalbum en hoofstuk 12 geslaan, maar tereg sou ‘n mens kon vra wat die betekenis van dit alles is.

God is betrokke

Een van die heersende denkwyses van die eerste eeu, toe die Hebreërbrief geskryf is, is die opvatting dat God òf die gode die wêreld geskep en dit daarna aan sy eie lot oorgelaat het. Hierdie denke leer dat daar weinig indien enige kontak tussen die hemelse en die aardse realiteite is. Terwyl die God of gode met hulle dinge besig is, moet die mense maar self sien en kom klaar.

Mens kan hierdie denke ‘n dualisme noem – God en skepping het nie veel met mekaar te doen nie, die aardes en die hemelse is twee aparte werklikhede. In die moderne tyd kan ons van deïsme praat – dit beteken dat God God nie eintlik aan die aardse steur nie, God is prakties afwesig.

Die verhaal wat die Ou Testament en gevolglik die mense van God vertel het, het egter anders geklink. Hulle het vertel van die Skeppergod wat intiem betrokke by sy mense was en deur die loop van die geskiedenis betrokke gebly het. As bewys hiervan kon hulle juis hulle eie geloofssverhale vertel het, van die begin van die verhouding (Abraham) af en hoe dit ontwikkel het tot by die punt waar hulle na die uittog en deurtog ook ‘n intog in die beloofde land beleef het.

Die lewe van die helde wat in die fotoalbum opgeneem is, is van die volk van God, wat klinkklare bewys is van God se betrokkenheid en allermins van mense wat maar op hulle eie dinge moes uitwerk.

Die spieëlbeeld van hierdie verhaal is egter net so waar. Soos wat God betrokke was en is by die verhale van mense, is mense ook betrokke by die verhaal van God. Hierdie is ‘n verhaal wat terugdateer na die begin toe God alles geskep het (11:3), toe die sigbare uit die onsigbare geskep is.

Spieël met ‘n dubbele funksie

As deel van die skepping, is die mens geskep as beeld van God. Wanneer ons hierdie gedagte voorstel as spieëls teen ‘n hoek (soos in ‘n periskoop), kan ons die dubbele roeping vir die mens as beeld van God insien: enersyds om die heerlikheid en goedheid van God te weerkaats na die skepping en andersyds, om die loflied en ook gekreun van die skepping terug te kaats na die Skeppergod.

Die Nuwe Testament verwys hierna as ons identiteit as koninklike priesters. As koninklikes maak ons die goedheid en guns van die Koning bekend en as priesters bring ons die lof en kreun van die skepping voor God.

Ongelukkig het dinge aan die begin skeefgeloop. Om die beeld verder te neem: Die mens het die spieël so gedraai dat hy net na homself kon kyk.

Reeds die Ou Testament vertel dat God ‘n ander bedoeling met die mens gehad het. Mense is gemaak om God se goedheid te bedien en die skepping by God te verteenwoordig. Dink ook aan God se roeping van Abraham. Die doel van God ewas om Abraham te seën sodat hy en sy nageslag tot seën van al die nasies sou wees.

Hierdie roeping vorm die onderbou van die res van die Ou Testament. God se mense, die volk Israel, moet tot seën van die nasies wees. Dit is egter ‘n projek wat misluk omdat die volk – net soos die eerste mense – weereens die spieël so gedraai het dat alles net om hulleself gedraai het. Ons sien egter reg aan die einde van Jesaja hoe die woord van die Here weer tot die volk kom, met die belofte en oproep om lig vir die nasies te wees.

Jesus

Met die koms van Jesus bring Hy die nodige regstelling, wanneer Hy in die loop van sy bediening (sien Luk 4) in woord en daad kom demonstreer wat dit beteken om beeld van God te wees. In dié geval egter Beeld met ‘n hoofletter “B”. Sy volgelinge word opgeroep om Hom na te volg en om sy werk voort te sit. Jesus kom demonstreer nie net wat dit beteken om Beeld van God te wees nie, maar roep sy volgelinge op om dit te wees.

Die genesing wat Hy bring, is ‘n regstelling van die spieël om weer teen ‘n hoek te werk. Dit is die kern van die identiteit en roeping van die kerk korporatief, asook van ons as lidmate individueel. Dit is in wese geloof: die korrekte “re-aksie” op God se aanvanklike skeppingsaksie.

Oorwinnings en terugslae

Hierdie roeping is egter nie die spreekwoordelike “maanskyn en rose” nie. Soos wat die verhaal van die geloofshelde in hoofstuk 11 uitwys, is daar oorwinnings en terugslae. Die konstante element is egter om in die geloof te volhard.

Op wonderlike wyse bring die outeur van die Hebreërboek in 12:1-2 sake onder die leidende hand van Jesus Christus. In sy persoon het Hy die oorwinnings en terugslae beleef. Tereg kan Hy beskryf word as die Alfa en Omega, die Begin en die Voleinder van die geloof. Hy is die allervoorbeeld van hoe om gelowige na God se hart te wees. Hy is die toonbeeld van die weerkaatsing van God se goedheid en trou, terwyl Hy by uitstek die lof en gekreun van die skepping opgevang en na God teruggekaats het. Hy het die kruis gedra en uiteindelik ook die ereposisie langs die troon van God ontvang.

Vir enige gelowige toe en nou, is Jesus die Een om na te volg.

Aanmoediging

In 12:1 word opsommend na die helde van hoofstuk 11 en ander verwys as die skare wat soos ‘n wolk rondom ons is. Opvallend is dit nie ‘n skare wat toekyk nie, maar ‘n skare wat aanmoedig en inspireer. Aangesien hulle nie die uiteindelike prys verkry nie (11:13, 39, 40), moedig hulle ons aan om te volhard sodat ons – soos Jesus – die geloofwedloop met volharding hardloop en die prys kry. Uiteindelik sien ons saam met die skare in hoofstuk 11 immers uit na die hemelse stad op aarde (13:14), waar ons weer ‘n vaste woonplek sal kry. Met dit in gedagte het ons vrymoedigheid onder alle omstandighede (13:6) en kan ons volhard.

Las

Vir die geloofwedloop is daar die gevaar dat ons verstrik en teruggehou kan word deur ‘n las (12:1). Hierdie las kan bloot as meerderwaardigheid of hoogmoed beskryf word.

Hoe ‘n mens ook al daarna kyk, dit is sonde – iets wat jou daarvan weerhou om jou Godgegewe roeping as beeld van God uit te leef. Of, anders gestel, die versoeking om die spieël wat teen ‘n hoek moet funksioneer so te draai dat jy net jou eie weerkaatsing sien.

Ons wêreld is ‘n plek waar ons telkens opgeroep word om feitlik uitsluitlik net jouself in die oog te hê. Oor die wye spektrum van bemarking en die selfhelpkultuur, word die boodskap keer op keer deurgegee: “Sorg eers vir jouself; betaal eers jouself. Doen dit of koop dat; jy verdien dit!” Wanneer ons hierdie tipe boodskap genoeg kere hoor, begin ons dit glo en begin ons agter die wêreld aan loop. Soos Narsissus aan die begin, word ons verlei deur die beeld van ons eie behoeftes wat Nemesis in die water vir ons uitwys.

Dit klink dalk nie sleg nie, maar ons weet immers dit het Narsissus se einde beteken.

Die medisyne

Is ons gedoem tot dieselfde lot? Nee! God dank, nie. Daar is ‘n alternatief wat ‘n wonderlike uitkoms beloof. Soos goeie medisyne proe dit nie lekker nie, maar dit is gewaarborg om genesing te bring. Hebreërs 12 maak geen geheim daarvan dat ons Jesus Christus in die oog moet hê nie. Teenoor die kultuur van ons dag, is die woorde van Hebreërs 12 ‘n regstelling. Ons kan hiermee saam onthou dat dit nie breed met die mense in die eerste eeu gegaan het nie. Spesifiek het dit sleg gegaan met die mense aan wie Hebreërs aanvanklik geskryf is. Hoofstuk 10:32-39 vertel iets van hulle konstante lewenstryd. Te midde hiervan, word hulle opgeroep om die oog “net” op Jesus te hou.

Om ons te help, word ons herinner aan die wolk van gelowiges van die ou tyd af wat ons aanmoedig om die oog op Jesus te hou. In dié proses kan ons onthou hoe gelowiges van al die tye af soms swaar gekry het. Sommiges het wonderlike paaie geloop en hoë hoogtes bereik. Ander weer, het die wind behoorlik van voor gekry. Die groot slotwoord wat egter oor almal geskrywe is, is dat God vir hulle ‘n wonderlike toekoms gewaarborg het.

Hierdie toekoms is die onsigbare wat sigbaar word en die lewende hoop van die toekoms wat in die hede inspirasie bied (Heb 11:1). Dit is vas en seker; God Self staan vir die waarheid daarvan in.

Hoe dan gemaak by die werk, by die huis, of waar ek ontspan? Met die oog gevestig op Jesus oefen ons individueel en saam as kerk om God se beeld te wees. Ons werk met toewyding daaraan om spieëls teen ‘n hoek te wees; ons weerkaats God se goedheid en guns na die wêreld toe en weerkaats die lof en gekreun van die wêreld terug na God toe. In dit en deur dit, maak ons die lewensveranderende ontdekking: God wil ons nie net seën nie; God wil die wêreld “deur ons seën”. Daarmee is ons terug by Abraham: “. . . Ek sal jou tot seën wees sodat jy ander tot seën kan wees.”

Praktiese diens

Praktiese diens aan ander en die skepping is die beste bewys dat die spieëls reggedraai is ons lewens.

Ons omgee vir die aarde en die mense op die aarde staan in die teken van God se liefde vir sy skepping en sy groot projek om die skepping te herskep. As kerk is ons deel hiervan, aangesien God deur ons heil en redding wil bring. Of dié heil ‘n sopkombuis, kospakkies of dalk net ‘n kuierprogram behels, dit is noodsaaklik om vir ander te lewe.

Saamgevat

In ‘n neutedop dus, Jesus Christus het God se projek van redding weer op spoor gebring. Die proses wat met die skepping begin en deur die loop van die Ou Testament uitgespeel het, het in Jesus weer rigting gekry. Die volgelinge van Jesus word opgeroep om Hom na te volg in woord en daad. Dit vereis geloof: die korrekte reaksie op God se aanvanklike skeppingsaksie. Op praktiese vlak beteken dit beide oorwinnings en ook terugslae. In en deur dit alles word Jesus egter as Voorbeeld voorgehou: Hy het die terugslae en vooruitgang immers goed geken. Hy is juis daarom die Begin en Einde (“the be-all and and end-all”) van die geloof. Die skare wat van die vroegste tye af die geloofspad gehoorsaam aan God geloop het, moedig gelowiges in die huidige tyd aan om te volhard.

God stuur ons om te leef

  1. God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 118 Bly Volhard Soos Atlete [bekend] of
Lied 527 “Die werk behoort aan U, o Heer”

Seën: (Kolossense 1: 11.)
Mag God wat oor die mag en die heerlikheid beskik, julle versterk en aan julle al die krag gee om in alle omstandighede met geduld te volhard.

Respons
VONKK 38 Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan vers 3

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.