Tiende Sondag in Koninkrykstyd – Barmhartigheid 1

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Eksodus 16:2-4, 9-15
Ander tekste:  Psalm78:23-29; Efesiërs 4:1-16; Johannes 6:24-35

Inleiding

Drie van die vier teksgedeeltes laat die lig op God se sorg val. God se sorg is altyd genoeg. Ons kan daarop reken. Daar is ook ’n waarskuwing in die psalm dat ons te vrede moet wees met wat God voorsien (30-31), anders kan dit geweldige nagevolge hê. Hoe vergenoegd is ons? Die antwoord hierop bepaal ons dankbaarheid. Die Efesiërs-teks plaas die klem op die gemeente as Jesus se sigbare liggaam in en vir die wêreld. Hoe is ons dit? Vier ons God se sorg priesterlik met ander wat in nood is? Fokus in die skuldbelydenis op hoe ons dikwels ondankbaar leef. God se sorg vir ons kan weer in antwoord op sy genadeverkondiging met dankbaarheid  gevier word.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Sien voorstelle by die basisliturgie.

Skuldbelydenis
Voorganger: Here, al ons tyd, krag, verstand en dikwels ook ons hart, is ingestel om voedsel wat vergaan, bymekaar te maak. U spoor ons egter aan om te soek na die brood van die lewe.
Gemeente: Sing Lied 303

Voorganger: Soos Israel van ouds kla en murmureer ons oor wat ons nie het nie, sonder om U dankbaar te dien vir wat U ons gee.
Gemeente: Sing Lied 303

Voorganger: Ons kla oor die skewe snytjie brood in ons eie bord wat liefde is, maar sien nie die leë bord raak van hulle wat finansieel swaarkry en verontreg word nie; wat werkloos, hartseer en alleen is nie.
Gemeente: Sing Lied 303

Voorganger: Wees U vir ons die brood van die lewe.
Laat ons eet, meer as genoeg.
Gemeente: Sing Lied 303

Diens van die Woord

Gemeente sing Lied 253 as gebed om die opening Woord.

Diens van die tafel

Gebed
Voorganger: U is Heilig, God van liefde, en geseëndis Jesus Christus, u vreugde, ons hoop. As Seun van heerlikheid en genade het Hy gekies om na ons te kom, werksaam in die akker van wanhoop. Met die aanhoor van ons klagtes het Hy gepraat van die drome wat U vir ons het. As eersgebore van die hele skepping het Hy gekom om die laaste vyand, die dood, te vernietig. Terwyl ons sy lewe en dood onthou, en kom na die tafel wat Hy voorberei het, sing ons van die misterie wat geloof genoem word.

Gemeente: Sing 302:1-4

Voorganger: Stort u Gees uit oor u kinders wat hier vergader is, en oor die brood en beker wat U aan ons gee. Oorstroom ons, terwyl U ons voed, met liefde sodat ons almal wat verlore en stukkend is, sal dien. Mag ons, terwyl U ons harte open met die beker van genade, gevul word met uhoop sodat ons sal uitgaan om die wat verlore is huis toe te bring na ukoninkryk waar hulle eerste sal wees in u vreugde. En wanneer tyd tot ’n einde kom en die hele familie van God versamel is rondom u tafel, sal ons U met een stem prys vir ewig: God die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Amen.

Uitsending

Sien by “Voorstel” hier onder.

Musiek en sang

Intreelied: Lied 112 (Ps 112)
Loflied: Lied 214 “Here, ons sal U loof”
Voor die Skriflesing: Lied 253 “U het die brood gebreek”
As deel van die Skuldbelydenis: Lied 303 “Eet die brood”
Na die Skuldbelydenis: Lied 235 “Voor u wet, Heer”
As deel van die nagmaalgebed: Lied 302 “Ons is genooide gaste”
Na die nagmaal: Lied 308 “Neem my lewe, laat dit, Heer”
Slotlied: Lied 523 “Goddelike liefdebande”
Gebruik Lied 284 elke Sondag as intreelied.

Voorstel

Uitsending
Voorganger: Ek druk dit julle op die hart: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.
Gemeente: Lied 533

Voorganger: Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig en verdra mekaar in liefde.
Gemeente: Lied 533

Voorganger: Bewaar die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het deur in vrede met mekaar te leef.
Gemeente: Lied 533

Voorganger: Daar is net een liggaam, een Gees, een hoop waartoe God julle geroep het.
Gemeente: Lied 533

Voorganger: Daar is net een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal.
Gemeente: Lied 533

Voorganger: Aan elkeen is ’n genadegawe gee. Elkeen vervul sy funksie om die liggaam waarvan Christus die Hoof is, op te bou in liefde.
Gemeente: Lied 533

Voorganger: Spreek die seën uit.
Gemeente: Lied 312 – 315 “Amen”

Preekstudie: Eksodus 16:2-4, 9-15

Teks

Die teks van die verhaal van Eksodus 16 bevat baie uitdagings wat sentreer rondom die vraag hoe die verskillende bronne van die Pentateug en tradisies daarbinne in hierdie verhaal funksioneer en deur ’n redakteur gerangskik is. Brevard Childs het ’n uitstekende samevatting van die literêre probleme en kan geraadpleeg word.

Vers 2 en 3: Die volk is op weg na die beloofde land toe. Navorsing toon dat daar basies vier groot vergaderplekke vir die volk van die Here tydens die woestyntyd was, naamlik die Rietsee, Kades-Barnea, Sinai of Horeb en ’n oorgang van die Jordaanrivier net noord van die Dooie See (Durham). Waarskynlik was hulle hier in die omgewing van Kades-Barnea. Kades word as ’n plek in die Sinwoestyn aangedui (Num 27:14; 33:36). Die Sinwoestyn was waarskynlik die hele gebied noord van Kades-Barnea tot ver in die suide. Eksodus maak duidelik dat die volk deur die Here op hierdie pad gelei is: “Nadat die hele volk Israel uit die Sinwoestyn vertrek het, het hulle op bevel van die Here van plek tot plek gegaan” (Eks 17:1).

Die volk is nou ongeveer ’n maand en ’n half uit Egipte. By Mara het hulle oor water gekla. Nou kla hulle oor kos. Daar is egter een groot verskil met die klagtes in 15:22 en 17:1. In daardie gedeeltes is hulle klag op ernstige tekort gebaseer. Om dood te gaan van honger in die woestyn was een van die ergste vloeke wat ’n mens in die Ou Nabye Ooste kon tref (Fensham). Hier is egter nie sprake van so ’n dringende tekort aan kos nie. Wat is dan die probleem? Hier is honger beslis nie die rede vir hulle murmurering nie. Die motief van murmurering word dus onmiddellik in ’n negatiewe lig gestel. Hulle het reeds voorheen gekla dat hulle dalk in die woestyn sou sterf (14:11, 12). Toe het hulle gekla dat Moses en die leierskap hulle in die woestyn wou laat sterf, terwyl daar genoeg grafte in Egipte was. Immers, hulle was daar gevestig. Nou kla hulle weer. Klaarblyklik het hulle ’n baie “gevestigde” lewe in slawerny gehad (Num 11:18). In Egipte, so beweer hulle, was daar oorgenoeg vleis en brood. Vleis was nie ’n algemene deel van die dieet van mense in die Ou Nabye Ooste nie (Fensham en Childs). Durham wys daarop dat hierdie uitdrukkings “vleispotte” en “oorgenoeg kos” ietwat van ’n oordrywing is om ’n punt te maak. Die volk sal liewer slawerny as leiding deur die Here se hand verkies. Die geklaery van die volk is duidelik – ’n bevraagtekening van die Here se leiding. Childs skryf: “If God had made himself known in the deliverance from Egypt, then Israel’s repudiation of this deliverance obviously struck at the heart of the relationship . . . In short, the people’s complaint is not a casual ‘gripe’ but unbelief which has called into question God’s very election of a people.” (Sien ook Neh 8:17). Die ironie is dat dit wat die Here nou gaan doen, presies in hierdie “behoeftes” voldoen – vleis en brood tot hulle nie meer kan eet nie! Alles berei die leser egter voor vir ’n spesiale vertoning van God se teenwoordigheid in die lewe van sy volk wat later in Eksodus gaan plaasvind. Durham skryf: “As such, all these complaints anticipate not only Yahweh’s miraculous and Presence-proving reactions to them, but also Israel’s tendency toward the incredible denial that culminates in the orgy of the golden calf.”

Vers 4: Al hulle gekla word nou deur die Here beant-woord. Die voorsiening van brood (Heb lechem) vir elke dag is betekenisvol. Hierdie kos verwys na die manna wat die Here sal voorsien. Die volk mag nie meer optel as wat vir daardie dag nodig is nie. Daarin sal hulle gehoorsaamheid aan die Here getoets word (Fensham). Die dubbele porsie op die sesde dag sal ook hulle gehoorsaamheid toets, naamlik of hulle die Sabbat sal nakom (5).

Vers 5-8: Aangesien hierdie verse nie deel van hierdie studie vorm nie, word daar nie in detail daarop ingegaan nie. Ter wille van die kontinuïteit van die verhaal kan ons slegs die volgende opmerkings maak. Die mag en teenwoordigheid van die Here sal vertoon word wanneer Hy in hulle behoeftes sal voorsien. Iets anders sal egter ook deur hierdie wonderdaad van die Here ontbloot word, naamlik hulle verset teen die Here. Hulle verset is dus nie teen die leiers nie, maar ten diepste teen die Here. Die alomvattendheid van die Here se sorg sal ook duidelik word: “Toe sê Moses en Aäron vir al die Israeliete: Vanaand sal julle besef dat dit die Here is wat julle uit Egipte bevry het en môreoggend sal julle sien hoe magtig die Here is. Hy het gehoor dat julle julle teen Hom verset” (verse 6, 7).

Vers 9-10: Hulle verset het die Here bereik. Die volk word opgeroep om “voor die Here se aangesig” te kom staan. Hulle moet Hom “nader”. Dit is ’n tegniese term wat verband hou met ’n ontmoeting in die heiligdom. Die begrip het dus baie sterk kultiese (erediens/ aanbidding) konnotasies. Die volk nader die Here as sondaars, omdat hulle in verset teen Hom gekom het (Fensham). Nou verskyn die magtige teenwoordigheid (Heb kavod) van die Here aan hulle. Die wolk is die teken daarvan. Die wolk is nie dieselfde as die wolkkolom wat leiding in die woestyn verskaf het nie, maar dui op ’n teofanie of Godsverskyning  (Fensham). Die nadruk is hier op ’n skielike of onverwagse goddelike openbaring.

Vers 11,12: Die verskyning van die Here is ’n teken dat Hy die verset van die volk opgemerk het. Die Here het gesien wat aangaan. God word aangekla. Nou ontvang Moses ’n boodskap van die Here wat aan die volk oorgedra moet word. Wat gaan gebeur sal aan die volk ’n “experiential knowledge that Yahweh is their God” gee (Durham). Hierdie ervaringskennis word saamgevat in die selfverkondigingsformule: “sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.” Elke besondere gebeur-tenis in die geskiedenis van Israel, die bevryding uit Egipte, die deurtog deur die see, die leiding deur die woestyn en hierdie gebeurtenis het een doel: dat Israel deur eerstehandse ervaring sal ervaar dat die Here, God is (Durham). Die erkenning van die Here impliseer egter meer as net ervaringskennis. Dit vereis absolute gehoorsaamheid (Fensham).

Vers 13-15: Sy teenwoordigheid is nie net sigbaar in die wolk nie, maar ook in die voorsiening. Die fokus in die res van die verhaal is baie meer op die manna as op die kwartels. In die lig van 16:4 moet ons aanvaar dat die gehoorsaamheid aan die Here ’n belangrike motief in hierdie gedeelte is. Sal die volk nou doen wat die Here hulle in 16:4-5 beveel? Die oorwegende motief is egter dat die Here ten spyte van hulle ongehoorsaamheid in hulle behoeftes voorsien. Dit is opmerklik dat die verset van Israel vyf maal in hierdie eerste vyftien verse genoem word. Hierdie verskyning van die Here in die wolk en die voorsiening deur die wonderkos is, soos reeds genoem, duidelik ’n voorbereiding vir die groot verskyning van die Here later by Sinai. Durham merk op: “Israel’s grumbling thus becomes occasion for a response of Yahweh that gives further proof of his Presence. But the report of the grumbling and the anticipation of Yahweh’s response points both to and beyond the provision of food to the provision of Yahweh’s supreme revelation of himself in the entire OT.”

Die Here se voorsiening is nie net genoeg nie maar ook omvattend. Daar is kos in die oggend en aand. Hoewel pogings aangewend is om die manna en kwartels as natuurlike verskynsels te verklaar, is die doel van hierdie vertelling om aan te dui dat dit die Here is wat in elke behoefte van die volk voorsien het (sien ook Ps 78:23-29; Num 11). Fensham wys daarop dat daar vandag nog iets is wat in Arabies as “man” bekendstaan. In die Sinaïwoestyn is daar ’n struik wat klein korreltjies produseer wanneer plantluise dit aanval. Dit word hard gedurende die nag en moet vroegoggend geoes word. Die skrywer verwys duidelik nie hierna nie. Hier is ’n paar redes: Volgens hierdie verhaal het die manna uit die hemel gereën. Op die Sabbat sal dit nie daar wees nie. Dit het die woestyn oortrek. Hierdie kos kon ook gekook word (16:23).

Hierdie voorsiening het uiteindelik gedurende die hele woestyntyd geduur. Uit die verhaal word egter ook ’n ander motief baie duidelik, naamlik dat die Sabbatdag ’n dag van rus sal wees. Die Sabbat is ’n dag vir aanbidding, ’n dag van herinnering aan God se skeppingsdade en dade van bevryding uit Egipte (Eks 20; Deut 5). Durham merk tereg op: “He provides for more than the barest needs of subsistence, and he is tolerant of laxity and carelessness concerning his instructions.” Die volk weet nie wat hierdie kos is nie, ten spyte daarvan dat die Here dit belowe het. Hulle vraag: “Wat is dit?” is in Hebreeus letterlik mān hū? (Manna). Moses moet hulle fokus weer instel: Dit is die Here se kos vir vandag. Die Here voorsien aan julle lechem (Heb) – brood, kos! Elkeen moes net genoeg vir sy gesin optel: “Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander ’n bietjie, en toe hulle dit met ’n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met ’n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak” (16:17,18).

Konteks

1. Gedurende Koninkrykstyd kan ons meer oor “algemene” dinge van ons Christelike reis gesels. Ons gebruik die woord “reis” omdat die woestyntyd van Israel ons juis herinner dat dit ten diepste is waaroor geloof gaan; om op weg te wees. Coenie Burger (Vergesel van die Almagtige) maak baie waardevolle opmerkings oor die plek wat die woestyn in die Bybel inneem. Dis ’n tyd van skaarste, ’n tyd waarin mense bewus word van hulle broosheid en afhanklikheid, ’n tyd van wisseling tussen wanhoop en hoop. Dit is egter ook ’n tyd van voorsiening (water, manna, kwartels), omdat God daar is. Omdat die Here self in die woestyn teenwoordig was, het hulle eerstehands geleer en gesien hoe hierdie Heer beheer neem. Dit het hulle geleer om die Here op ’n nuwe, dieper manier te leer ken: “Die woestyn is die plek waar jou oë weer kan oopgaan om die wonder van gewone dinge in die lewe te waardeer. Die woestyn kan ’n plek vol verrassings wees” (Burger).

Die sanger, Michael Card, verwys na hierdie verrassingselement van die woestyn in sy lied, “The Wilderness”: “In the wilderness . . . He calls his sons and daughters to the wilderness; And he gives grace sufficient to survive any test. And that’s the painful purpose of the wilderness. In the wilderness we wander, in the wilderness we weep. The wasteland of our wanting, where the darkness seems so deep. We search for the beginning, for an exodus to hold; we find that those who follow him, must often walk alone. In the wilderness we’re wandering for a way to understand . . . But wandering in the wilderness is the best way to be found. Groaning and growing amidst the desert days, the windy winter wilderness can blow the self away . . . In the wilderness, . . . He calls his sons and daughters to the wilderness; And he gives grace sufficient to survive any test. And that’s the painful promise of the wilderness.”

2. Die roeping na die woestynlewe, die “in transito” lewe, is iets wat Henri Nouwen gefassineer het. Sy boek oor die woestynvaders is baie bekend. Hy skryf egter ook baie oor wat dit beteken om ontwortel te wees. In ’n artikel oor medelye skryf hy: “The call to community as we hear it from our Lord is the call to move away from the ordinary and proper places. Leave your father and mother. Let the dead bury the dead. Keep your hand on the plow and do not look back. Sell what you own, give the money to the poor, and come and follow me (Luk 14:26; 9:60, 62; 18:22). The Gospels confront us with this persistent voice inviting us to move from where it is comfortable, from where we want to stay, from where we feel at home . . . Voluntary displacement as a way of life rather than as a unique event is the mark of discipleship.”

Die volk van die Here wou bevryding hê, maar wou ook gou weer gevestig wees. Dit was egter nie God se plan nie. Uiteraard word die Nuwe-Testamentiese idee van Christene as vreemdelinge en bywoners dadelik aan die orde gestel (1 Pet 2:11; Heb 11:13; Ef 2:19; Fil 3:20). Die Hebreërskrywer maak sommer behoorlik gebruik van die metafore van op weg wees en vreemdelinge in sy brief. Die nuwe volk van die Here is op pad uit die slawerny van sonde en op weg na die beloofde land. As gelowiges het ons nie paspoorte om in die woestyn te “settle” nie! Een van die basiese behoeftes van mense is gevestig en gemaklik te wees. Die pad saam met die Here, is duidelik nie dít nie. As mense wat op weg is, leef ons in tente. Phil Robinson skryf: “Dit alles gee aan die gemeente ’n sterk eskatologiese gerigtheid. Hulle lewe met ’n belofte en soek na die toekomstige stad. Wat hulle dus nou is, word vanuit hulle eindbestemming medebepaal . . . Geloofsvertroue, gehoorsaamheid en volharding vorm die geestelike mondering waarmee die geloofsreisigers toegerus moet wees.”

3. Uiteindelik was die woestyntog van Israel daarom meer as net ’n tyd van swaarkry. Dit was ’n tyd van groei en verandering. Iets hiervan word in Deutero-nomium 8:2,3 uitgedruk: “Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.” Die woestyntyd was dus uiters nodig. Deel van hierdie proses was om te leer om uit God se hand te leef, om te ontdek dat sy genade groter as hulle mislukkings en sonde is, om sy leiding in alle opsigte te respekteer en te volg, en om ’n nuwe gehoorsaamheid aan te leer. Hierdie verhaal funksioneer daarom binne die groter geheel van die Eksodusverhaal as ’n aanloop tot die grootste Godsverskyning in die geskiedenis van die Ou-Testamentiese volk van God, naamlik toe die wet aan hulle gegee is. Daar kom bevryding en opdrag by uitnemendheid bymekaar: Ek is die Here wat julle bevry het . . . doen my wil (Eks 20).

4. God se voorsiening vir sy volk in die woestyn is die sentrale idee in hierdie verse – soos in die parallelle gedeelte in Numeri 11. Die een verhaal veronderstel die ander (Durham). Durham is van mening dat die struktuur van hierdie gedeelte deur die doel daarvan bepaal word, naamlik dat die leser voorberei sal word op die “more important Presence-demonstrating provision to follow”. Dit skep dus ’n verwagting van wat nog sal gebeur. Hierdie voorsiening van die Here moet egter verder omskryf word. Die woorde “onverdiende voorsiening” is ’n beter beskrywing van hierdie verhaal. Die Here voorsien aan ’n hardkoppige en opstandige volk. Sommige Joodse geleerdes sien Abraham se gasvryheid deur sy kos met vreemdelinge te deel (Gen 18) as die rede hoekom die Here die kinders van Abraham met brood uit die hemel geseën het (Van Uchelen). Dit is beslis nie die geval nie. Immers, wat ons hier aantref is eerder verset teen Moses en die res van die leierskap. In die laaste instansie is hierdie verset egter nie teen die leierskap self nie, maar teen die leiding van die Here. Die motief van ontevredenheid met die leiding van die Here neem in hierdie verhaal duidelik ’n ander dimensie aan.

Uiteindelik, sê Meyer, is dit duidelik dat Jahwe weer die toets deurstaan het. Hulle wou die Here toets, maar nou toets Hy hulle. Uiteraard is die klaery van die volk deel van hulle verset van ongehoorsaamheid teen die Here, maar die genadige ingrype van die Here in hierdie omstandighede sal ook ’n toets vir hulle wees: Sal hulle aan die Here gehoorsaam wees of nie? (4). Deel van hierdie gehoorsaamheid sal wees of hulle die Sabbat sal nakom (5) en die gesag van Moses en Aaron sal aanvaar (7-8) (Durham). Gaan hulle sy leiding vertrou? Gaan hulle doen wat Hy sê? (4). Durham skryf treffend: “Thus the pattern is set, and it is increasingly and repeatedly demonstrated. Yahweh is present—powerfully, effectively, beneficently, and convincingly present. But the people of Israel, the recipients of so much of Yahweh’s care and the people to whom Yahweh even gives himself are unaccountably insensitive, indifferent, disobedient, and finally overtly rebellious. Exodus is a history of theological relationship written with an incredible tension hovering, the tension of a loving provident God giving himself to a chosen people whose ways reject him. The narratives of Israel in the wilderness are thus a part of an accumulating preparation for the quite unbelievable story of Israel at Sinai.” Hiermee stem Childs saam. Dat die Here in die mens se behoeftes sal voorsien hoef nie bevraagteken te word nie. Wat wel bevraagteken sal word, is of die mens die Here sal gehoorsaam. Childs sê treffend: “God gee sy gawe op sy eie inisiatief en dit gaan gepaard met voorwaardes wat daaraan gekoppel is.” Van Uchelen skryf: “Dors kan geles en honger kan gestil word, maar die toets van die Here is om te weet wat daar in jou hart is.”

5. Brevard Childs wy ’n uitvoerige bespreking aan die wyse waarop die mannaverhale in die Joodse Rabbynse eksegese hanteer is. Childs benadruk dat die Nuwe-Testamentiese hantering van dieselfde verhale teen hierdie agtergrond verstaan moet word. Dit is interessante leesstof en kan gerus geraadpleeg word. In die Nuwe Testament word manna ’n “geestelike voedsel” genoem (1 Kor 10:3). Weereens word die ongehoorsaamheid van die volk, ten spyte van die geestelike voedsel wat hulle ontvang het, benadruk
(1 Kor 10:5-9). Die beloning vir hulle wat nie kompromieë met die wêreld aangaan nie, is dat hulle manna uit die hand van die Here sal ontvang (Op 2:17). Die Bybelskrywers gebruik die mannaverhale dus om mense te inspireer, oortuig en vermaan. Jesus verwys na Homself as die ware manna wat uit die hemel sal kom (Joh 6:58). Hyself het vir veertig dae in die woestyn deurgebring en is deur God versorg (Matt 4). Hy is die absolute vervulling dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom. Wie hierdie manna eet, ontvang die beloofde land.

Preekvoorstel

1. Baie mense woon hulle hele lewe lank op een plek. Hulle hele wêreld draai rondom daardie plek. Vir baie mense in Israel was dit ook die geval. Hulle het in Egipte grootgeword. Dis al wat hulle geken het. Die lewe was voorspelbaar – al was dit onder vreemde heerskappy. Die nuwe hoofstuk in Israel se lewe het aangebreek. Tot ongeveer 2 maande gelede was hulle slawe in Egipte. Die volk is deur die magtige daad van bevryding uit Egipte gered. Intussen het hulle deur ’n groot wonderwerk deur die Rietsee gegaan. Die bevryding uit Egipte was ’n wonderlike gebeurtenis, maar die opgewondenheid het nou afgeneem. Hulle moes by die daaglikse roetine van die trekpad aanpas.

Dis tog interessant hoe ons gou-gou vergeet wat die Here in ons lewe gedoen het, of dat Hy ons lei. Hoeveel maal gebeur dit nie dat ons Hom prys en dank vir wat hy gedoen het en ons daartoe verbind om sy leiding onvoorwaardelik te volg,  maar na ’n kort tydjie dan nie meer so voel nie? Die bewondering is weg. Wanneer die roetine van elke dag terugkeer, word ons maar weer deur ons eie gedagtes, wense en vrede beheer.

2. Dis wat hier gebeur.  Hulle eie behoeftes en vrede kry die oorhand. In die proses gee die volk toe aan twee ernstige versoekings. Eerstens kla hulle oor die leiding van die mense wat deur die Here daarvoor aangestel is. Meyer noem twee redes waarom hulle klagtes hierdie keer erger is. Eerstens sou mens verwag dat hulle reeds uit die vorige episodes van die Here se kragtige voorsiening en redding sou leer. Tweedens is daar ook geen aanduiding dat hulle hier in ’n absolute hopelose situasie met betrekking tot kos was nie. Durham se gedagte dat Israel, die ontvangers van die Here se sorg, onberekenbaar onsensitief, traak-my-nie-agtig, onge-hoorsaam en openlik opstandig is, kan ook hier gebruik word. Die prediker kan benadruk dat ons hierdie geweldige spanning tussen ’n liefdevolle, sorgende en voorsienende God en mense wat Hom verwerp, gedurig in die Eksodusverhaal aantref. Ook hier in Eksodus 16 is die volk dalk in opstand teen mense, maar ten diepste is dit opstand teen die Here self. Wanneer ’n mens ontevrede is met die hede, gee ons dikwels ook toe aan ’n tweede versoeking. Ons idealiseer die verlede. Meyer skryf dat hierdie herinnering aan die omstandighede in Egipte nie heeltemal korrek is nie. Die volk idealiseer die verlede. Immers, in die Ou Nabye Ooste sou slawe nie noodwendig baie vleis gehad het nie. Die mense verlang na die goeie ou dae. Skynbaar het ons die vermoë om die slegte tye te vergeet en net die goeies te onthou. Die volk beweer dat hulle in Egipte baie kos gehad het. Dit was duidelik oordrywing (sien opmerkings onder “Teks en Konteks”).

3. ’n Mens het simpatie met Israel. Dit kon nie maklik gewees het nie. Hierdie versoekings is lewensgroot as ’n mens ontwortel word. Ontworteling is iets wat baie mense nie verstaan nie. Ek onthou goed hoe moeilik dit vir my was, wat my hele lewe as kind en student in die Kaap deurgebring het, om skielik meer as aghonderd kilometer weg van my gemaksone te begin werk. Later was dit dubbeld so ver en nou is dit in ’n ander kultuur en taal duisende kilometers weg van waar ek grootgeword het. Dis wat met baie mense gebeur. Soos bankamptenare soms sonder waarskuwing van een plek na ’n ander verplaas word, word die volk verplaas na ’n nuwe plek en ’n nuwe lewenstyl. Vir Israel en ons almal is die nuwe lewe saam met die Here, die “lewe in transito” nie so gemaklik soos die lewe in Egipte nie.

4. Tog was hierdie verplasing na die woestyntyd uiters noodsaaklik vir die volk. Die gedagtes van Henri Nouwen (sien konteks) oor die uitdaging wat ons dikwels in die evangelies aantref kan hier gebruik word. Die evangelies, sê hy, konfronteer ons met die aanhou-dende stem waardeur ons uitgenooi word om weg te beweeg van waar ons gemaklik is, van waar ons graag wil bly, van waar ons tuisvoel. Dis wat met Israel gebeur het. In gehoorsaamheid en onder die leiding van die Here moes hulle die bekende verlaat. Nou, so klink dit, sal hulle egter liewer slawerny as gehoorsaamheid aan die leiding deur die Here se hand verkies.

5. Hoekom was hierdie woestyntyd vir Israel so belangrik? Waarmee is die Here besig? Die oorheersende indruk wat ons in Eksodus van die volk van God in die woestyn kry, is dat hulle “wild” is. Die beeld van iemand wat ’n wilde perd moet inbreek, kan hier gebruik word. Dis ’n moeisame proses. Wanneer die perd uiteindelik ingebreek is, kan die perderuiter haar beheer. S/hy het geleer om gehoorsaam te wees. Israel is min of meer soos hierdie wilde perd. Volgens Deuteronomium 8 het die Here die woestyntyd gebruik om sy volk dissipline aan te leer (8:2, 3). Miskien kan die woorde van Michael Card se liedjie (onder konteks) hier help. Iets hiervan is deel van hierdie trekpad saam met die Here.

6. Twee “dissiplines” van die woestyntyd waartoe die volk “ingebreek” moes word kan hier uitgespel word.

Die eerste is om die Here self beter te leer ken. Twee aksente kan hier belig word, naamlik die Here se geduld en sy omvattende voorsiening. Sy geduld is oneindig, skryf Sadhu Sundar Singh: “Mense, soos klein keteltjies, kook vinnig met woede oor vir die kleinste oortreding. God is nie so nie. As God so gou kwaad geword het, sou die wêreld lankal ’n puinhoop gewees het.” Daar kan verwys word na die verklarings in die Rabbynse tradisie wat beweer het dat die Here se spesiale sorg in die woestyn gebou was op Abraham se gasvryheid toe hy sy kos met vreemdelinge gedeel het (Gen 18). Dit is die rede hoekom die Here die kinders van Abraham met brood uit die hemel geseën het. Dit is beslis nie die geval nie. Die volk verdien niks nie. Inteendeel. Hulle verset teen die leiers en die Here het nou duidelik geword. Dit is die wonderlike boodskap van hierdie gedeelte. Die Here voorsien, ten spyte van hulle sonde, in hulle behoeftes. Sy plan vir hulle word nie deur hulle ongehoorsaamheid aan bande gelê nie. Hulle dink hulle toets die Here in hulle omstandighede. Wat die Here egter doen, is om hulle deur sy openbaring te verras. Elke besondere gebeurtenis in die geskiedenis van Israel, die bevryding uit Egipte, die deurtog deur die see, die leiding deur die woestyn en hierdie gebeurtenis het een doel: dat Israel deur eerstehandse ervaring een ding sal ervaar “sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is”. Hierdie klaende volk word deur Moses opgeroep om as sondaars te “nader” en “voor die Here se aangesig” te kom staan. Die volk moes ontdek wie hulle regtig is. Hulle moes gestroop word van hulle hunkering na die ou lewe en moes leer wat dit beteken om onder sy leiding te lewe. Op hierdie oomblik ontdek hulle dat Hy tussen hulle in die woestyn is. Hy is nie afwesig nie en het hulle ook nie as ’n verlore saak afgeskryf nie.

Die ander manier waarop hulle die Here leer ken het, is deur sy omvattende voorsiening. Hierdie gedeelte herinner die volk dat die Here in die oggend en in die aand in hulle behoeftes sal voorsien. Hulle sal hulle “daaglikse brood” uit die Here se hand ontvang – ook vir die Sabbatdae wanneer hulle fokus op sy trou en sorg moet wees. Die Here weet wat hulle elke dag nodig het. Dit is wat Jesus sy mense leer bid het.

Die tweede dissipline is om aan Hom gehoorsaam te bly en op sy leiding te wag. Wat doen ons ervarings van God se voorsiening ten spyte van ons sonde aan ons? Hoe verander hierdie ervaringskennis van God ons? Om te besef dat Hy die Here ons God is, loop uit op gehoorsaamheid. God se liefde vir ons word uitgestort sodat ons kan verander. Uiteindelik is die toets nie of God in ons behoeftes sal voorsien nie, of Hy dit sal maak nie. Die voorsiening van die Here, sy openbaring aan hulle, is ten nouste gekoppel met die aanleer van absolute gehoorsaamheid aan Hom. Hulle moet net genoeg kos vir daardie dag en vir hulle gesin optel. Met sy voorsiening aan hulle, sou Hy toets of hulle Hom alleen vir die toekoms vertrou. Die uiteindelike toets is nie of die Here dit sal maak nie, maar: sal ons dit maak?

7. As volk op reis na die beloofde land, worstel die Christelike kerk en individuele Christene gedurig hiermee. Ons juig omdat die ware manna, die Brood uit die hemel, Jesus Christus gekom het (Joh 6:58). Ons ontvang hierdie geestelike manna gereeld met nagmaal. As vreemdelinge en bywoners, trekarbeiders, leef ons ook met ’n belofte: Hulle wat oorwin, sal die verborge manna aan die einde van die tyd ontvang – die ewige gemeenskap met die Brood uit die hemel, Jesus Christus (Op 2:17). Paulus benadruk dat Christene nie dieselfde foute moet maak as die ou volk van God nie. Gaan ons, ten spyte van hierdie geestelike voedsel wat ons ontvang het,dieselfde sonde herhaal? (1 Kor 10:3-9).

Op hierdie trekpad tussen wat ons ontvang het en waarheen ons op pad is, is die Here besig met die inbreekproses in ons lewe. Hier word ons getroos en aangespoor deur die spesiale openbaring van Jesus Christus op ons trekpad. Immers, Hy het ons lewe volledig gedeel. Toe Hy honger geword het in die woestyn en die versoekings van mag, populariteit en indrukwekkendheid (Matt 4) Hom aangebied is, het Hy besef dat ons nie van brood alleen kan lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van die Here kom. In Hom sien ons wat werklik belangrik is. Op ons woestynpad sal brood nie altyd genoeg wees nie. Soms sal ons honger en dors wees. Sy beloftes, teenwoordigheid en genade, ten spyte van ons mislukkings, sal egter meer as genoeg wees. Omdat Hy Homself so aan Israel en deur Jesus aan ons geopenbaar het, pak ons die woestyntog aan met die wete: Die Een wat medelye met ons swakhede het, het dieselfde pad geloop!

Dis egter ook op hierdie trekpad waar ons ’n inoefening nodig het om getrouer aan die Here te wees, om Hom beter te leer, om sy plan vir ons lewe te vertrou, om gehoorsaam te bly, selfs al moet ons die Here in die woestyn met sy baie ompaaie vertrou. Ons Heer is uit die hemel ontwortel. Sy lewe was nie gemaklik nie, maar Hy was tot die uiterste toe gehoorsaam aan die leiding van sy Vader. Nouwen skryf: “Hulle wat die ontwortelde Heer volg, vorm die Christelike geloofsgemeenskap.”

Bibliografie

Burger, C. Vergesel van die Almagtige. Lux Verbi; Childs, BS. Exodus (OTL); Durham, John I., Volume 3: Exodus, Word Biblical Commentary. Word Books, Publisher; Fensham, FC. Exodus (POT). Meyer, LThe message of Exodus. Augsburg.

© Missio 2024 | All rights reserved.