Tiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Die kern hier is die verhouding tussen die beoefening van godsdiens en die handhawing van sosiale reg. Godsdiens sonder geregtigheid word deur God veroordeel, maar die geleentheid word ook gebied om die saak reg te stel. Hierdie erediens wil in lyn hiermee die pad stap om dié saak op die tafel te sit, skuldbelydenis te doen en erediensgangers begelei om ook weer “bruikbaar” te raak vir die sosiale geregtigheid wat God wil.

Fokusteks

Jesaja 1:1,10-20

Ander tekste

Psalm 50:1-8, 22-23 (Hy wat reg lewe, hom sal Ek red);
Hebreërs 11:1-3 (Wat geloof is);
Lukas 12:32-40 (Die sorge van die lewe)

Jesaja 1:1, 10-20
Net Sion het oorgebly
1 Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het aangaande Juda en Jerusalem.

Dit was in die regeringstyd van Ussia,
Jotam,
Agas en
Hiskia,
konings van Juda.

Jesaja 1:10-20 ()
Leer om weer goed te doen
10Luister na die woord van die Here,
julle Sodomsleiers!
Gee ag op wat ons God julle leer,
julle Gomorrasvolk!

11Wat het Ek aan julle baie offers?
vra die Here.
Ek is sat van die brandoffers van ramme
en die vet van voerbeeste;
die bloed van bulle en lammers en bokke
staan My nie aan nie.
12As julle kom om voor My te verskyn,
wie het julle gevra om my voorhowe
te kom vertrap?
13Moenie langer julle
nuttelose offergawes bring nie:
Ek het ’n afsku van julle wierookoffers.
Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings,
die uitroep van feesdae:
Ek verdra nie feesviering
met onreg saam nie.
14Julle nuwemaansfeeste en feesgetye
haat Ek.
Hulle is vir My ’n las,
Ek is moeg daarvoor.
15As julle julle hande in gebed uitstrek,
sal Ek my oë vir julle toemaak.
Selfs al bid julle hoe baie,
sal Ek nie luister nie,
want julle hande is met bloed bevlek.

16Was julle, reinig julle.
Moenie voor My verskyn
as julle verkeerd doen nie.
Hou op met kwaad doen.
17Leer om weer goed te doen,
sorg dat daar reg geskied,
gaan die verdrukker teë.
Laat reg geskied aan die weeskinders,
behartig die regsake van die weduwees.
18Kom tog, laat ons die saak
met mekaar uitmaak, sê die Here:
Al was julle skarlakenrooi van sonde,
julle sal wit word soos sneeu.
Al was julle purperrooi,
julle sal wit word soos wol.

19As julle gehoorsaam wil wees,
sal julle die goeie van die land eet,

20maar as julle weier en opstandig bly,
sal die swaard júlle eet,
want dit is die Here wat dit gesê het.

Eksegeties en Hermeneuties

Algemene inleiding tot Jesaja
Jesaja 1–39 handel oor die tyd van Jesaja (740–690 v.C.) toe Juda en Israel gevaar geloop het om deur die Assiriërs ingeneem en in ballingskap weggevoer te word.

Jesaja 40–66 handel oor die tyd toe Juda in ballingskap was, ongeveer een en ’n half eeu ná die tyd van die profeet Jesaja.

Jesaja 1–39

Inleiding
In die reeks profetiese boeke in ons Bybel beklee dié van Jesaja die eerste plek. Dit is opvallend. Jesaja was nie die oudste van hierdie groep profete nie. Amos het byna twintig jaar vóór hom as profeet opgetree. Tog het die Jode om allerlei redes gemeen dat Jesaja die eerste plek moet inneem. Dit, altans, was die standpunt van die Jode wat verantwoordelik was vir die versorging en oordrag van die teks van die Ou Testament, die sogenoemde Masorete. Een van die oorwegings was die omvang van die boek, maar ons weet dat Jeremia, en selfs Esegiël, meer bladsye as Jesaja bevat.

Afgesien van die rede(s) waarom Jesaja eerste geplaas is, is daar seker niemand wat dit anders sou wou gehad het nie. Sonder om die een profeet teen ’n ander af te speel, kan ons net daarop wys dat Jesaja meer as al die ander profete in die Nuwe Testament aangehaal word.

Van die persoon van Jesaja en van die omstandighede rondom sy lewe is min bekend. In die Bybel gaan dit meer om die boodskap as om die persone wat dit bring. Die getuienis van Johannes die Doper oor Jesus: “Hy moet meer word en ek minder” was ook op hulle van toepassing.

Jesaja se naam beteken: “die Here bewerk redding”. Hy word die seun van Amos genoem, vermoedelik om hom te onderskei van ander persone met dieselfde naam (vgl. 1 Kron. 3:21; 25:3,15). In teenstelling met Amos die boerprofeet was Jesaja ’n stedeling. Terloops, die naam van Jesaja se pa word in Hebreeus anders geskryf as die naam van die profeet Amos! Jesaja het in Jerusalem gewoon en as profeet opgetree (vgl. 7:3; 22:15; 37:2; 38:1; 39:3). Hy was getroud (8:3) en het waarskynlik drie kinders gehad (7:3,14; 8:3,18). Die gedagte dat Jesaja van hoë afkoms was, kan nie met sekerheid bewys word nie, maar ontvang geringe steun weens die feit dat hy deur die konings Agas en Hiskia met onderskeiding behandel is (7; 36–39).

Jesaja se profetiese werksaamhede strek oor ’n tyd van meer as veertig jaar. Hy is as profeet geroep in die sterfjaar van koning Ussia (6:1,8), sowat 740 v.C., en toe die Assiriese koning Sanherib in 701 v.C. die land binneval en Jerusalem beleër, was Jesaja nog steeds op sy pos (37:5). Ons weet nie hoe lank daarna hy nog opgetree het nie. Volgens ’n Joodse oorlewering het hy onder Manasse (696–642 v.C.) die marteldood gesterf.

Die tyd waarin Jesaja as profeet opgetree het, was in alle opsigte moeilik. 1–39 handel oor die tyd toe die Assiriërs, as wêreldmoondheid, vir die verbondsvolk ’n geweldige bedreiging geword het. Selfs net die name van die Assiriese konings, Tiglat-Pileser III (745–727 v.C.), Salmanassar V (727–722 v.C.), wat onder meer met die beleg van Samaria begin het, Sargon II (722–705 v.C.) en Sanherib (705–681 v.C.), het by Israel vrees ingeboesem. Die gevolg van Assirië se optrede in die weste was dat die kleiner volkies aan die oostekant van die Middellandse See hulle in bondgenootskappe verenig het in ’n wanhopige poging om “die magtige vloedwaters van die Eufraat” (8:5–8) te keer. Baie van Jesaja se profesieë het hierdie koalisievorming, onder meer met die “geknakte riet”, dit is Egipte, as agtergrond. Omdat Juda deels onder Jotam (737–734 v.C.), maar veral onder Agas (734–727 v.C.), ’n pro-Assiriese politiek gevolg het, is hulle deur Resin van Damaskus en Peka van Noord-Israel in die sogenaamde Aramees-Efraimitiese oorlog (735–734 v.C.) aangeval. Jesaja se optrede in hierdie omstandighede word treffend in 7 beskryf. Jesaja waarsku die verbondsvolk om net op die Here te vertrou. ’n Paar van sy uitsprake in hierdie en latere omstandighede behoort tot die juweeltjies in sy boek. Aan Agas en Juda sê hy: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie” (7:9). Wanneer Juda later met Egipte ’n verbond wil aangaan, verkondig Jesaja die woord van die Here sy God: “Ek gaan in Sion ’n klip neersit, ’n uitgesoekte klip, ’n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie” (28:16). Beskerming deur Egipte sal nie baat nie. Hulle krag lê in stil wees. Jesaja stel dit soos volg: “As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê” (30:15).

Wat die binnelandse omstandighede betref, blyk dit dat dit met die verbondsvolk nie goed gegaan het nie. Jesaja lê veral nadruk daarop dat die Here ’n heilige God is en dat Hy die sonde van vormgodsdiens en onreg genadeloos gaan straf. Tog is Jesaja nie net ’n verkondiger van die oordeel oor die sondes van die volk nie. Sy naam is nie verniet Jesaja: “die Here bewerk redding”, nie. God sal sy volk laat wees soos ’n afgekapte stomp waaruit ’n nuwe lootjie uitloop. Die gedagte aan die oorblyfsel wat behou word, is een van die kenmerkendste bestanddele van Jesaja se prediking. God handhaaf sy verbondsverhouding met sy volk en sal hulle red, onder meer deur ’n persoon wat op ’n besondere manier daarvoor toegerus is: ’n koning uit die stam van Dawid (7:14–16; 9:1–6; 11:1–10). Ook die ander nasies sal deel hê aan hierdie diens van die Here in sy vrederyk (2:1–4; 11:1–10).

Jesaja word tereg die koning onder die profete genoem. Sy prediking openbaar ’n majestueuse hoogheid van gedagte en diepte van inhoud. Soos geen ander profeet nie het hy die soewereine heerskappy van die Heilige van Israel verkondig, die vernedering van die hoogmoediges in die vooruitsig gestel, en die sondaars onder die volk na die wet en die getuienis van die Here teruggeroep. Op grond van sy verkondiging van die komende Messias, is hy ook die evangelis van die ou verbond genoem.

Die hooftrekke van dié boek word in die 1983-AV aangegee.

1:1-9. Net Sion het oorgebly.
1: Hierdie opskrif vertel van die openbaring wat die profeet in ’n periode van ongeveer veertig jaar aangaande Juda en Jerusalem ontvang het. Die feit dat die profesie veral vir die staat en hoofstad van die Suidryk bedoel was, sluit nie uit dat sy prediking ook op die Noordryk en heidense nasies betrekking het nie.

1:10–31. Leer om weer goed te doen. In sy reaksie op Saul se voorbarige offers het Samuel die wese van die ware godsdiens vir alle tye uitgespel: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel?” (1 Sam. 15:22). In die tyd van Jesaja en van ander profete (Hos. 6:4–8; Am. 5:21–24; Miga 6:6–8) het die verbondsvolk hierdie les nog nie geleer nie.

10: In aangrypende taal word die leiers en die volk daaraan herinner dat die Here nié uiterlike vormgodsdiens vra nie. Leiers en volk openbaar ’n gesindheid wat met dié van die mense van Sodom en Gomorra ooreenkom, en dan meen hulle dat die Here hulle godsdienstige aktiwiteite sal aanneem!

11: Die Here het daar niks aan nie. Hy is sat van hulle offers, al is dit die beste wat hulle kan aanbied.

12-13: Hulle tempelbesoek, offergawes en godsdienstige feesdae word deur die Here verafsku. Hy verdra nie feesviering met onreg saam nie.

14: Elke eerste dag van die kalendermaand wat bereken is volgens die omloop van die maan, was, soos die sabbat, ’n godsdienstige feesdag (Num. 10:10; 28:11–15). Die feesgetye verwys na die gereelde feeste wat in die wet voorgeskryf is (Lev. 23).

15: Die Here haat al die elemente van Israel se liturgie – selfs die belangrike element, naamlik die gebed, verafsku Hy as dit gepaard gaan met onreg, en dit nogal in die vorm van die vergieting van bloed. Dít is die geheim van Jesaja en die ander profete se uitspraak: die amptelike godsdiens as sodanig word nie verwerp nie, maar wel as dit gepaard gaan met ’n onbekeerlike hart.

16–20: Wat die Here van sy volk vra, word nou uitgespel: Hy eis ’n totale lewensvernuwing: hou op met kwaad doen, met as positiewe kant, doen wat goed en reg is. Sosiale geregtigheid ten opsigte van die minderbevoorregtes sluit twee optredes in: die verdrukker moet teëgegaan word, en die regsake van die weeskinders en weduwees moet behartig word. Die beginsel van die verhouding teenoor God en die verhouding teenoor die naaste word
(Die Bybel Verklaar se kort kommentaar)

Woord teen die Lig 2 (Lydensprediking) het op p58 deeglike eksegese en preekriglyne oor Jes 1:18.

Hiermee enkele punte:
Die wyer konteks (1:2-20) toon dat dit hier gaan oor ‘n verbondsregstryd wat dikwels by profete voorkom. In die naam van sy Sender kla die profeet die ontroue volk aan vir verbondsbreuk- met ‘n oproep tot kragdadige inkeer of oordeel. Die formaat is ‘n hofgeding met ‘n aanklag waar die hemel en aarde getuies is (vs 2).

Wat die klag in ‘n erger lig plaas is die feit dat dit juis verbondskinders is wat teen die Here rebelleer. Daarom gaan die aanklag mettertyd oor in ‘n klaaglied. Die uitverkore volk leef in ‘n gebroke verhouding met God en onderling.

Verse 5-9 beskrywe die worsteling van die Vebondsgod met Sy volk waarin Hy Sy volk tot besinning roep.

Omdat die Here se volk op geestelike vlak min verskil met Sodom en Gomorra begin vers 10 dan met so ‘n verwysing (Sodomsleiers en Gomorrasvolk).

Israel se reaksie op die klag/ klaaglied het met “maar “ te doen: Maar ons bring dan offers/ vier feestye/ offer gebede… Die volk is egter by “dooiemansdeur”- die Here kyk nie eers na hulle uitgestrekte en smekende hande nie. Die hele Israelitiese diens van versoening het sy effektiwiteit verloor- meer nog, dit is nou heeltemal verwerplik.

Die klagstaat dus: Verbondsverbreking en hartsverharding ten spyte van goddelike tugtiging.

Dít bring mee dat vs 18 totale onverwagse klanke meebring! ‘n Nuwe genade aanbod om skarlakenrooi om te sit in sneeuwit- dws radikale reiniging. Die aanbod is eintlik in stryd met die konteks van ‘n regsgeding met beskuldiginge en verontskuldiginge.

Feit bly staan- slegs as daar grondige hartsverandering en bekering is met gewillige luister sal hierdie sondige volk sy land en God se seën behou.

Die preekriglyne hanteer oa

  • Die ironie dat ywerige godsdiensbeoefening saamgaan daarmee dat die volk die Here minag en geringskat.
  • Terwyl die vok dan daar staan met vuil hande (besmet, met rooi ink onderstreep) kom die haas onmoontlike aanbod van vernuwing en vergifnis.

Ferdinand Deist in “Hemelpastei en Navolging” onder die titel “Glo jy in genade?” hanteer oa ook Jes 1:10-17.

Enkele opmerkings:
Ons praat soms van vrye genade- asof genade ooit iets anders kan wees as “vry” oftewel altyd onverdiend.

Ons kyk ook dikwels na godsdiens asof dit daaroor gaan dat ons God tevrede moet hou: deur al die godsdienstige dinge in ons lewens en roetine. En dan werk dit byna soos ‘n polispremie wat ‘n weeklikse/ maandelikse verpligting is.  Jesaja 1 kom nav hierdie misverstand dat my godsdienstige gebare God tevrede moet hou. Die Here sê egter: “Ek is moeg daarvoor, dit is vir My ‘n las!”

Dié soort godsdiens is blote selfdiens en selfsug.

Die Ou Testament met sy voorskrifte oor offers en besnydenis en sabbat en tiendes was nie bedoel om “wetties” te wees nie. Mettertyd het mense egter op die idee gekom dat godsdienstige instellings wette is wat God behaag.

Enkele homiletiese opmerkings uit ‘n Preekbundel wat deur die Kommissie vir die destydse Ampsbediening en Evangelisasie in die Wes Kaap uitgegee is (Ds AC Goliath) in 1990:

In die prediking sal die hoofklem moet val op die feit dat die breuk wat tussen God en Sy gemeente kan ontstaan nie deur die goeie werke van die mens herstel kan word nie – herstel kom alleen deur God se vrye genade.

Mens kán ondanks oorvloedige godsdiens koud staan teenoor die nood en lyding van andere.

Maar eintlik kan ‘n gemeente mos nie in vroomheid voor God staan en níe in sy bediening aan God se besorgdheid oor die weerlose gestalte gee nie.

Kortom, God laat Hom nie bedrieg deur rituele manipulasie nie.

Eie opmerkings:

  • Kousaliteit
  • Klink na laaste kans dreigement

Ander bronne:

Hemelpastei en navolging: Deist 37
Preekstudies 2009 2010 dieprooi iii-vi
Preekskets vir ‘n hele jaar:
Komm vir Ampsbed & Evang: Wes-Kaap
WTL2

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangswoord
Voorganger:
Die mens wat My eer, is die een wat lof as ’n offer bring.
Gemeente: Sy wat reg lewe, vir haar sal Ek red.

Skuldbelydenis
“Here, ons God, U het ons deel van u kerk op aarde gemaak. U weet dat ons regtig nie geskik is vir dié doel nie. As dit nie vir u leiding was nie, sou ons al lankal ’n groot gemors gemaak het van alles wat ons aanpak. Here, ons gee nou weer ons harte – en ons monde, alles wat ons sê – vir U om te gebruik. Ons wil graag u mense van U leer, maar eers moet U u wil vir ons leer. Gebruik ons as u werksmense, Here, moet ons nooit verlaat nie; want sonder U is ons niks en kan ons niks doen nie (Martin Luther).”  Amen.

Gebed om die opening van die Woord
Here, U verdra nie feesviering en onreg saam nie. Daarom is ons nie werd om vanoggend tot U te nader en na u Woord te luister nie. Maar ons kom tog, sodat U die saak met ons kan uitmaak. Kom maak nou die saak deur u Woord en Gees met ons uit (uit Jes 1).
Amen.

Lied

Toetrede: Lied 526 “Waar daar liefde is”
Verootmoediging: Lied 232 “Diep, o God, diep neergeboë”

Familie-oomblik

Kinders sal Jesaja se boodskap kan verstaan: God word nie geflous deur mense wat kerk toe kom, maar Hom nie gehoorsaam nie.  Die detail oor die feeste sal verduideliking nodig hê.  Een manier is om te verwys na gebruike wat ons vandag in die kerk het, bv. Paasfees en Kersfees.

Die vers wat hulle die maklikste sal verstaan, is vers 18, waar die klem lê op vergifnis.  Gebruik ’n  calculator om die beginsel van vergifnis te illustreer.  Gee een of meer calculators vir die kinders en gee vir hulle optelsomme.  Vergelyk hulle antwoorde met jou eie.  Maak dan doelbewus ’n fout, en maak dit dan reg met die clear knoppie.

Brei dan uit oor die waarde van die clear knoppie.  Dit help jou om weer oor te begin sodat jy by die regte antwoord kan uitkom.

Lees dan Jes 1:18 en brei uit oor God se genade wat Sy clear knoppie druk, ons sondes vergewe, sodat ons oor kan begin om Hom te gehoorsaam.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Sonder ʼn onderwyser was die graad 10 klas reeds ʼn rigtinglose bondel energie met die die potensiaal vir baie onverwagte uikomste. Al wat nog nodig is, is ʼn vyftienjarige seun met ʼn lighter, veral ʼn verveelde seun wat nie gewoond is aan ʼn lighter nie. So sit Johan en speel met een en versondig almal rondom hom. Linda stap onwetend en onskuldig na haar bank toe wat reg voor Johan is. Volgens die skoolreëls moes die meisies se hare in boksterte gebind word wanneer dit hul skouers raak. Linda se hare was op die grens van bokstert maak, so die voorbeeldige jong dame het boksterte gehad,al het dit beteken dit staan weg van haar kop en lyk soos ʼn verfkwas wat sleg skoongemaak is. Daar was tientalle puntjies wat in alle rigtings gestaan het en die glimlag  wat oor Johan se gesig versprei het, het aangekondig dat hier dalk binnekort geskiedenis gemaak gaan word. Hy het die lighter so paar keer getrek dat net die vonke spat en gemaak of hy Linda se hare aan die brand steek. Die wat gesien het wat aangaan, het versteen.  Linda was onbewus van die potensiele plofbare situasie wat agter haar aan die afspeel was. Toe Johan weer trek, skiet een van die vonke in een van die boksterte in, die digtheid van die bokstert was net reg om die vonk in  ʼn vlam te laat omsit. Johan skrik so groot dat hy met twee treë heel agter in die klas staan en die lighter in iemand anders se baadjiesak laat val.

Gelukkig hou Paul kop en met drie goedgemikte klappe, smoor hy die vlamme voordat dit te veel skade aanrig. Linda was steeds onbewus van alles totdat die eerste klap haar tref. Toe sy omvlieg staan net Paul voor haar en hulle twee het nie eintlik te veel vriendelike woorde op mekaar gemors nie. Toe sy verward rondkyk sien sy die hele klas kyk vir haar en al wat sy op daardie stadium weet is dat Paul haar sonder enige rede geklap het. Toe is dit haar beurt om ʼn paar kleurvolle, onvroulike woorde na Paul te blits, maar dit was duidelik dat sy nie hierdie keer by praat gaan bly nie. Terwyl sy om haar bank storm om Paul te lyf te gaan, keer ander haar en vertel dat Paul haar eintlik gered het.

Johan besef hy beter uitkom met die waarheid en op ʼn veilige afstand, agter in die klas vertel hy die storie. Paul was tot op hede onnatuurlik stil en skielik was al die aandag weer op hom en Linda. Linda bloos ʼn ongewone diep, amper deurskynende rooi, want sy weet sy het nou goed gesê wat nie teruggetrek kan word nie. Daar daal ʼn stilte oor die klas, want almal weet Paul sal nie maklik hierdie kans laat verby gaan om Linda ongenadiglik skerp op haar plek te sit nie. Toe gebeur die ongelooflike, Paul sien Linda se verleentheid en besef dat sy eintlik die slagoffer in hierdie situasie is. Hy stap om die bank, vou sy lang arms om haar en sê dat sy nie sleg moet voel nie, hy is jammer dat dit met haar gebeur het, als is oraait. Die hele klas was verstom en van daardie dag af het Paul en Linda vriende geword wat mekaar teenoor ander verdedig het en as  groot maats deur die skool gegaan het.

Soms is dit nodig dat radikaal ingegryp word om ʼn groter tragedie te voorkom. In die gedeelte wat ons gelees het, is dit duidelik dat hier ook radikaal ingegryp moet word om ʼn groter tragedie te voorkom. Die volk was so vas in hul gewoontes dat hul eenvoudig blind was vir die gevaar waarin hulle verkeer het. Hulle sou tot hul eie verderf maar net voortgaan asof niks verkeerd is nie. Die profeet moet ʼn paar, eintlik verskeie goedgemikte klappe na hulle uitdeel sodat hulle uit hul slaap kon wakker skrik. Daar was eintlik nie meer tyd vir speel nie.

Dit is asof ons baie keer in ons eie geestelike lewens net blindekolle ontwikkel en nie meer sien wat ander sien as hulle na ons kyk nie. Ons raak so opgeslurp met ons gewone daaglikse lewe dat ons nie meer aandag gee aan die dinge wat regtig vir God belangrik is nie. Ons doen nog meganies  sekere goed omdat ons glo dat dit die regte ding is om te doen. As ons fyn oplet sal ons sien dat hierdie dinge  nie werklik ons lewens óf die lewens van mense rondom ons verander nie. Ons christenskap  het nie net vir die wereld rondom ons irrelevant geword nie, maar ook vir onssself. Ons neem besluite asof God nie bestaan nie,ons praat oor ander asof God nie bestaan nie. Ons behandel ander asof God nie bestaan nie. Ons maak aanspraak op ons eie lewens asof onsself die skepper daarvan is.

Wanneer ons rituele ons nie meer werklik kan help om God se aanspraak en liefde te sien en ervaar nie, verblind dit ons vir die werklike toestand van ons lewens. Wanneer rituele ons nie meer uitruk uit ons alledaagse lewe en ons help om die Goddelike perspektief op onsself en die wêreld rondom ons te kry nie, begin onsself die middelpunt van belangstelling raak. Dit is dan wanneer eerlike gesprekke oor doop en nagmaal skielik ongemaklik raak. Ons het die “reg” om ons kinders te laat doop en niemand mag ʼn woord rep oor ons geestelike lewens of die voorbeeld wat ons vir ons kinders stel nie. Ons vergeet vinnig dat die doop ons uitnooi om in die teenwoordigheid van God te leef en om Sy liefde aan ons kinders oor te dra en hulle te leer om ook ook op Sy teenwoordigheid te reageer deur ʼn toegewyde lewe.

Wanneer ek kan Bybellees en kerk toe gaan, selfs kan bid sonder dat ek werklik ook God se stem en perspektief op my lewe kan hoor en voel, het ek God reeds op die agtergrond geskuif. Linda se hare het gebrand, al was sy nog onbewus van die krisis. Ons lewens kan stagneer en daar kan ʼn doodsheid in ons wees, al is ons soms nog onbewus daarvan. Die ontnugterende aard van ʼn profesie is nie om mense seer te maak of te verneder nie, maar om hulle te red. Wanneer hierdie volk as te ware voor die hof gedaag word, is die bedoeling om vir hulle te laat verstaan dat alle ander opsies nou uitgeput is, hierdie saak gaan nou tot ʼn beslissing gevoer word word.

Die probleem met geestelike blindheid is dat ons al hoe verder wegstrompel van die waarheid af en selfs al hoe meer selfversekerd kan raak in die foute en onverskilligheid waarmee ons besig is. Toe Linda daar omgevlieg het en Paul sien, was sy baie seker van haarself en nog sekerder wat sy in hierdie situasie gaan doen. Alleen die dringende oproepe van ander het haar teenhaarself beskerm.  Ons kan nie God en al die “profete” wat hy oor ons pad stuur ignoreer nie en dink ons gaan nie in die proses seerkry nie.

Ons eerste reaksie op mense wat ons waarsku is baie keer woede, ʼn onvergenoegde frustrasie omdat hulle die “vrede” en “gemak” waarmee ons leef versteur. Ons dring aan op ʼn lewe sonder ander se aansprake daarop. Ons sal self besluit hoe ons ons lewens wil lei en ons werk ons eie skemas uit om ons imuun teen die wereld en sy donker pyne te maak. Ons versteek ons eie gevoelloosheid met woorde soos my werk, my geld, my arbeid daarom verdien ek alles wat ek rondom my vergader. Niemand anders mag aanspraak maak daarop nie. Die kokon van argumente waarmee ons onsself toespin, laat ons vir ʼn ruk veilig voel, maar buite bly die gevaar dreig.

Ons het ʼn skrikwekkende voorbeeld hiervan gehad gedurende die apartheidsjare. Baie van ons het geglo en met allerlei argumente onsself veilig probeer maak met woorde soos selfbeskikking, parallelle ontwikkeling, ens.  Ons het geglo elkeen is verantwoordelik vir sy eie bestemming. Daar was van die begin af “profete” wat gewaarsku het dat dit nie net ʼn onvolhoubare sisteem is nie, maar ook ʼn onregverdige sisteem. Dit is ʼn soort agrument wat net dié pas wat reeds al die mag en middele het om dit te verwesentlik. Die wat nie toegang tot behoorlike onderwys, ekonomiese middele, vaardighede ens. het nie, se bestemmings sal deur ander bepaal word, hulle lot sal altyd gedienstig bly aan die ander se bestemmings. Niemand kan maar net sy eie bestemming in die lewe najaag sonder om rondom hom te kyk na die ander nie.

Op ʼn manier verbind God ons aanmekaar en verwag Hy van ons om so teenwoordig in hierdie wêreld te wees dat sy vrede en geregtigheid sal seevier. God verwag van ons om ʼn interaktiewe Koninkryk te bou. Dit beteken ʼn koninkryk waarin daar interaksie tussen ons en God en tussen ons en ons naaste sal wees. Die bestemmings wat ons najaag kan nooit net MY bestemming wees nie, maar is God se bestemming vir al sy kinders. Ons kan nie ons eie klein apartheid skep waar ons ander uitsluit nie en ons nie steur aan hulle seerkry, armoede en verlorenheid nie.

In die verhaal aan die begin, kon Paul seker  ʼn saak daarvoor uitmaak om onbetrokke te bly. Hy het eintlik nie van Linda gehou nie, hy het nie die krisis veroorsaak nie, hy gaan niks persoonlik baat deur betrokke te raak nie, niemand sou ooit ʼn vinger na hom kon wys as die tragedie hom klaar afgespeel het nie. Hy is reg, vir hom persoonlik sou nie veel verander het nie, maar aan Linda se lewe sou dit ʼn groot verskil maak. Hy kom haar red van  ʼn groot verleentheid en waarskynlik ook van ernstige brandwonde. Hy het egter besluit om nog verder te gaan en haar van verdere verleentheid te red deur haar onvoorwaardelik te vergewe, haar menswaardigheid was skielik in sy hande en hy het dit beskerm en weer vir haar terug te gee.

Hierdie gesindheid is ingebou in ons geestelike gene – Goddelike  gene. Vergiffenis, getrouheid, liefde en omgee is alles eienskappe van God. Dit is die eienskappe wat Hy by sy verbondsvolk verwag. Verbondsbestemming beteken om mekaar te beskerm en om vir mekaar verantwoordelikheid te aanvaar. Dit is nie moontlik om ʼn bestemming saam met God te bereik as dit nie ook ʼn verbondsbestemming is nie. In Israel was elkeen op sy eie koers, blind vir die gevare wat letterlik voor die hekke gelê het. As hulle hul eie koers wou kies, sou hul lot in die hande van hul vyande wees. God se dringende waarskuwing is eintlik ook ʼn oproep dat hulle weer hul lewenspad saam met Hom verder sal stap.

Ons moet nie blind wees vir ons onverskilligheid teenoor God, veral soos dit in ons houding teenoor ons naaste na vore tree nie. Ons moet nie dink dat ons ons kinders ʼn guns doen deur hulle te leer om selfsugtig en eiegeregtig op te tree nie. Ons kan nie maak of ons saam met Christus aan die nagmaalstafel sit, terwyl ons harte verhard is teenoor die nood en onreg in ons land nie. Ek kan nie sing oor die nuwe hemel en die nuwe aarde, terwyl ek nou die lewe vir ander hel maak nie. Ons kan nie verwag dat God se seën oor ons uitgespreek word, terwyl ons ons seën van ander terughou nie.

Tog is daar ʼn alternatief volgens  Jes 1:16-18: Was julle, reinig julle. Moenie voor My verskyn as julle verkeerd doen nie. Hou op met kwaad doen. Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë. Laat reg geskied aan die weeskinders, behartig die regsake van die weduwees. Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.

Elkeen van ons moet ons eie lewensfilosofie ondersoek – maak dit ruimte vir God, sy liefde en omgee, óf is daar slegs plek vir myself en my planne? Is daar ʼn sagte hart teenoor my naaste óf slegs die onwrikbare ysterwil om myself te laat geld? Die merkwaardige van God is dat Hy deur sy profete nie slegs die hande is wat klap nie, maar ook die arms wat nader trek. Hy wil aan ons ʼn waardige bestaan skenk. ʼn Bestaan wat gevul is met vergiffenis, omgee en ʼn nuwe begin. ʼn Interaktiewe toekoms waarin daar gehelp en gesing kan word, waarin toekomste geskep word, hoop gedra word en mense weer leer om mense te wees. Ja,waar ook ek en jy weer leer om regtig mens te wees.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

Uitsending
Lees Lukas 12:32-40 as oproep tot ’n lewe van dankbaarheid.

Seën
Gelukkig is elkeen vir wie Jesus met sy koms wakker kry. Hy sal hulle aan die tafel laat sit, self ’n voorskoot aansit en hulle kom bedien.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.