Tiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

’n Moontlike lyn wat deur die tekste loop, is die tema van insluiting en versoening van die vreemdeling. Die liturgie kan in die eerste plek vir gemeentelede laat vier dat hulle self as vreemdelinge deel gemaak is van God se verbond, en deur hierdie genade kan ’n appèl gerig word om insluitend en gasvry teenoor die vreemdeling van ons dag te leef.

Ander tekste

Genesis 45:1-15
Josef sê vir sy broers wie hy is
45 Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het. 3Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”

Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. 4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. 5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. 6Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte. 9Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie, 10kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. 11Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’12Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat. 13Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.”

14Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil. 15Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat.

16Die mense het dit in die farao se paleis gehoor en gesê: “Josef se broers het gekom.”
Die farao en sy amptenare het dit goedgevind, 17en hy het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers: So moet julle nou optree: saal julle rydiere op en gaan na Kanaän toe. 18Kry julle vader en julle gesinne en kom hier na my toe. Ek sal julle die beste deel van Egipte gee en julle sal die room van die land geniet. 19Jy moet hulle beveel: So moet julle optree: vat vir julle uit Egipte waens saam vir julle kinders en vrouens en laat julle vader op ’n wa ry en kom hierheen. 20Moenie sleg voel oor wat julle nie kan saambring nie, want julle sal hier die beste kry van wat Egipte het.”

21Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het waens vir hulle saamgegee soos die farao beveel het. Josef het ook vir hulle padkos saamgegee. 22Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy vyf stelle nuwe klere en nog drie en ’n half kilogram silwer gegee. 23Vir sy pa het hy tien donkies gestuur waarop die beste ware van Egipte gelaai was en tien donkiemerries waarop die beste koring en graan en kos gelaai was. Dit moes dien as padkos vir sy pa. 24So het Josef sy broers teruggestuur, en by hulle vertrek het hy vir hulle gesê: “Moenie langs die pad bang word en begin twyfel nie.”

25Hulle is toe uit Egipte weg en het in Kanaän by hulle pa Jakob aangekom. 26Hulle het vir hom gesê: “Josef leef nog. Hy regeer oor die hele Egipte.”
Jakob was stomgeslaan. Hy het hulle nie geglo nie. 27Toe vertel hulle vir hulle pa alles wat Josef vir hulle gesê het, en eers toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy begin belang stel. 28En hulle pa Israel het gesê: “Ek verlang niks meer nie. My seun Josef leef, en ek wil hom net sien voor ek sterf.”

Psalm 133
As broers eensgesind saam woon
133 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Hoe goed, hoe mooi is dit
as broers eensgesind saam woon!
2Dit is soos reukolie
wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aäron,
af tot by die soom van sy klere.
3Dit is soos die dou van Hermonberg
wat op die berge by Sion val.
Waar broers so saam woon,
skenk die Here sy seën:
’n lang, lang lewe.

Matteus 15: (10-20), 21-28
Wat ’n mens onrein maak

(Mark 7:14–23)
10Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan! 11Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ’n mens onrein.”

12Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?”

13Maar Jesus antwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. 14Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As ’n blinde ’n blinde lei, val altwee in die sloot.”

15Petrus sê toe vir Hom: “Verduidelik tog vir ons die beeldspraak.”

16“Verstaan ook julle dit nog nie?” antwoord Jesus. 17“Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie? 18Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dit is die dinge wat die mense onrein maak. 19Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. 20Dit is die dinge wat ’n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak ’n mens nie onrein nie.”

Die Kanaänitiese vrou
(Mark 7:24–30)
21Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 22’n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ’n bose gees, en dit gaan sleg.”

23Maar Hy het haar niks geantwoord nie.
Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.”
24Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”
25Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”
26Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”
27“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”
28“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”
Van daardie oomblik af was die dogter gesond.

Fokusteks

Romeine 11:1–2a, 29–32
Die oorblyfsel van Israel
11 “Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra.
Beslis nie! Ek is immers self ook ’n Israeliet, ’n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. 2God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie.

Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor Israel gekla het: 3“Here, hulle het u profete doodgemaak en u altare afgebreek, en net ek het oorgebly, en hulle wil my ook om die lewe bring.” 4Maar wat het God hom geantwoord? “Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie.” 5Net so is dit ook vandag: daar is ’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is. 6En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie.

7Waarop kom dit dan neer?
Hierop: wat Israel soek, het hy nie gekry nie; die uitverkorenes het dit gekry. Die ander is verhard, 8soos daar geskrywe staan:
“God het aan hulle ’n gees gegee
wat hulle bedwelm het:
oë wat nie sien nie
en ore wat nie hoor nie,
tot vandag toe nog.”
9En Dawid sê:
“Mag hulle maaltye vir hulle
’n vangstrik en ’n val word
en ’n struikelblok en ’n straf.
10Mag hulle oë verduister word
dat hulle nie sien nie;
en buig hulle rug vir altyd krom.”

Die verlossing van die heidennasies
11’n Ander vraag is: Het Israel se struikeling hulle finale val beteken?
Beslis nie! Maar deur hulle val het die redding na die heidennasies toe gekom om die Jode jaloers te maak. 12As hulle val ’n verryking vir die wêreld beteken het en hulle klein oorblyfseltjie ’n verryking vir die heidennasies, hoeveel te meer sal dit dan nie tot seën wees as die Jode se volle getal gelowig sou word nie!

13En nou praat ek met julle, gelowiges uit die heidennasies. As apostel vir die heidennasies is ek trots op my werk en strewe ek daarna 14om op een of ander manier my eie mense jaloers te maak en sommige van hulle te red. 15As hulle verwerping vir die wêreld versoening beteken het, wat sal hulle aanneming dan nie beteken nie? Niks minder nie as lewe uit die dood!

16As die eerste stuk deeg aan God gewy is, dan is ook die res van die deeg aan Hom gewy. En as die wortel van die boom aan God gewy is, dan is ook die takke aan Hom gewy.

17Party van die takke is uitgekap en jy, ’n wilde olyf, is tussen die ander takke op die mak olyf geënt. So het jy deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel. 18Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou.

19Jy sal wel sê: “Takke is uitgekap sodat ék daar geënt kon word.” 20Dis waar. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie; jy is daar geënt omdat jy glo. Moenie daaroor hoogmoedig wees nie; hou rekening met God; 21want as Hy die natuurlike takke nie ontsien het nie, sal Hy jou dalk ook nie ontsien nie.

22Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word. 23En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is in staat om hulle terug te ent. 24As God jou uit die wilde olyf, waar jy van nature hoort, kon uitkap en teen jou natuur in op die mak olyf kon ent, hoeveel te meer sal Hy die mak takke op hulle ou boom ent.

Die toekoms van Israel
25Ons staan hier voor ’n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ’n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; 26en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe:
“Uit Sion sal die Redder kom,
en Hy sal die goddeloosheid
van sy volk Jakob verwyder.
27En hierdie verbond sal Ek
met hulle sluit
wanneer Ek hulle sondes wegneem.”

28Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande van God, en dit kom julle ten goede, maar kragtens die uitverkiesing is hulle geliefdes om die aartsvaders se ontwil.

29As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. 30Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. 31Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. 32God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.

Aan God die eer
33O diepte van die rykdom en wysheid
en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
hoe onnaspeurlik sy weë!
34“Wie ken die bedoeling
van die Here?
Wie gee Hom raad?
35Wie bewys Hom ’n guns,
sodat Hy verplig is om iets
terug te doen?”
36Uit Hom en deur Hom en tot Hom
is alle dinge.
Aan Hom behoort die heerlikheid
tot in ewigheid!
Amen.

Ekstra stof

Na Paulus met soveel oorgawe in die eerste deel van die brief aan die Romeine oor die verlossing geskryf het wat vir alle mense geld, is dit heel natuurlik om te wonder oor die toekoms van die Jode. Immers, as dit so is dat die besit en kennis van die wet die Jode nie kan red nie, ten spyte van die groot voorreg daarvan, en dat die besnydenis beperkte waarde het, omdat dit gaan oor die innerlike gesindheid van die mens (hfst. 2), maar terselfdertyd dit ook so is dat God Hom onlosmaaklik verbind het aan Israel om aan hull genade te bewys, al sou sommige van hulle aan Hom ontrou wees (hfst. 3), wat is dan die toekoms van Israel?

Paulus wy in 3 hoofstukke uitvoerig hieroor uit. Uiteraard is die fokusteks net ’n klein deel hiervan. Maar dit help ons om eers oorhoofs te kyk na die antwoord wat Paulus in dié drie hoofstukke gee om die boodskap van hoofstuk 10:5–15 reg te verstaan.

Dit is opmerklik hoe Paulus regdeur die drie hoofstukke in ’n reeks vrae sy antwoord oor die toekoms van die Jode aan die orde stel, en dat die einde van hoofstuk 11 nie net die hoogtepunt van sy antwoord is nie, maar ook eintlik die beginsel is wat die hele antwoord dra. Let op die gang van sy argument in die onderskeie perikope:

  • 9:1-14 Paulus is hartseer oor baie van sy volksgenote wat – ten spyte van hulle afstamming van Israel – tog nie werklik Israel is nie. Hoekom kom die Jode nie tot bekering nie?  Die rede? God ontferm Hom oor wie Hy wil.
  • 9:15-18 – Is God dan nie onregverdig nie? Beslis nie! Hy toon sy krag daardeur.
  • 9:19-29 – Wie kan dan met God verskil? Niemand nie. God roep uit die Joodse volk sowel as uit ander nasies mense om sy kinders te wees.
  • 9:30-10:21 – Wat is ons gevolgtrekking? Die vryspraak is vir elkeen wat glo, vir die heidene sowel as vir Israel. Dié boodskap het regoor die wêreld uitgekring, onder andere om Israel jaloers te maak.
  • 11:1-10 – Het God dan sy volk verstoot? Beslis nie! Paulus is immers ’n Jood en glo. Daar is vandag nog ’n oorblyfsel van die Joodse volk wat uit genade uitverkies is.
  • 11:11-24 – Het Israel se struikeling hulle finale val beteken? Beslis nie! Die Jode se volle getal sal gelowig word.
  • 11:25-32 – Hoe sal Israel dan gered word? Daar is ’n verharding oor ’n deel van Israel totdat die volle getal van die heidense nasies in die koninkryk ingegaan het, maar die “hele Israel” sal gered word.

In hfst. 11:26 gee Paulus ’n opsommende opmerking oor die toekoms van Israel: “op hierdie manier sal die hele Israel gered word.” Wat Paulus hier bedoel, as ’n mens vers 25 ook ingedagte hou, is: dat wanneer die volle getal uit die heidene in die koninkryk ingegaan het, sal ook die hele Israel gered wees (Jonker), d.w.s. die volle getal van die Jode wat deur God uitverkies is om gelowig te word (Dunn).

Sommige het dit wel as 3 tydperke verstaan: 1) Verharding van ’n deel van die Jode, 2) Redding van ’n deel van die heidennasies, 3) Redding van die hele Israel. Maar dit wil eerder voorkom asof dit hier oor die wyse (“op hierdie manier”) waarop redding plaasvind gaan, eerder as die tydperke waarbinne dit gebeur. Dit is ook duidelik dat die “hele Israel” nie elke enkele Jood kan beteken nie, omdat dit juis die punt van Paulus se betoog is, dat net ’n deel van Israel geloof as God se vryspraak aangegryp het, ’n oorblyfsel (vgl bv. 11:5, 7-10, 12).

Ander het die “hele Israel” as ’n geestelike entiteit, saamgestel uit Jode en heidene, verstaan, soms gekoppel aan bogenoemde tydperk-interpretasie. Israel word egter konsekwent in hierdie 3 hoofstukke in die historiese betekenis van die Joodse volk gebruik, wat so ’n betekenis onwaarskynlik maak.

Die toekoms van die Jode is dus aan die een kant dieselfde as die toekoms van die heidene: die vryspraak deur die geloof maak hulle kinders van God. Aan die ander kant is dit ook verskillend, want die heidene word deur geloof ingeënt op die Joodse olyfboom (11:17-24), wat beteken dat God nie sy volk in sy geheel verwerp nie, maar net dié wat nie in Hom glo nie.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 469 of VONKK 40 of Flam 269

Votum: (Romeine 11:33-36)

Seëngroet

Lofsang :Psalm 133 of VONKK 94 of Flam 40

Wet: (Romeine 12:1-3)

Verootmoediging: Lied 497 of VONKK 146 of Flam 260

Genadeverkondiging: (Op grond van Romeine 10)

Geloofsbelydenis: (HK Son 24 vr 54)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Romeine 11:1-2, 29-32

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 58 of Flam 142

Seën: Psalm 133

Respons: Flam 142 of VONKK 90

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 469 “O diepte van die rykdom” of
VONKK 40 “Kom En Vul Ons Met Vrede”
Flam 269 ‘Hy Verwelkom My”

Votum: (Romeine 11:33-36)
33O diepte van die rykdom en wysheid
en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
hoe onnaspeurlik sy weë!
34“Wie ken die bedoeling
van die Here?
Wie gee Hom raad?
35Wie bewys Hom ’n guns,
sodat Hy verplig is om iets
terug te doen?”
36Uit Hom en deur Hom en tot Hom
is alle dinge.
Aan Hom behoort die heerlikheid
tot in ewigheid!
Amen.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 133
VONKK 94 “Ek Het Die Here Lief (Psalm 116)”
Flam 40 “Soms Wil Ek Net Jubel”

Wet: (Romeine 12:1-3)
En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Verootmoediging
Lied 497 “Ek is u kind, U roep my, Heer” of
VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”
Flam 260 “Ek Bring ’n Offerlied (As Ek Sing)”

Genadeverkondiging (Op grond van Romeine 10)
V: Die Here bring vanoggend vir ons almal die goeie boodskap dat ons gered is.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

V: Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; met die mond bely ons, en ons word gered.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

V: Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

V: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.
(uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington, BybelMedia.)

Geloofsbelydenis 
Voorganger: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?
Gemeente: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ’n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ’n lewende lid is en ewig sal bly (HK Son 24 vr 54).
(Uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2013-2014)

Liedere

F269. “Hy Verwelkom My”
(RUBRIEK: Flam – Toetrede) Teks en musiek: Elmarie Wiesner © Urial Publishing

1. Ek het toegang tot die Vader
en sy heiligdom.
Op ’n weg wat heel nuut is
voorberei deur Hom.
Vrygespreek en veilig
want Jesus het betaal.
In sy oë heilig,
deur sy liefde so bepaal.

2. Vrymoedig, vol vertroue,
nader ek tot God,
Hy dink nie aan my sonde nie.
Ons het ’n ewige verbond,
Hy het sy wet in my hart gegee
geskryf in my verstand
sy Heilige Gees getuig in my
Hy hou my in sy hand.
Hy verwelkom my,
my plek voorberei.
In genade vry
kom ek nader om te bly.

F40. “Soms Wil Ek Net Jubel”
(RUBRIEK: Flam – Lof) Teks en musiek: Braam Hanekom © 1998 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op FLAM, vol 1)

Soms wil ek net jubel in refreine wat U verstaan,
want hoe kan ek in woorde U verheerlik vir my bestaan?
Soms kom daar ’n stilte oor my lewe as ek kniel,
maar soms breek dit uit in lofsang en dit vul my moedelose siel.

Refrein:
Halle-, halleluja! Halleluja, o my Heer!
Halle-, halleluja, sing en ek innig weer en weer. (herhaal)

F260. “Ek Bring ’n Offerlied (As Ek Sing)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toenadering / Skuldbelydenis) Teks en musiek: Johan Steenkamp © 2008 Urial Publishing

1. Ek bring ’n offerlied
in harmonie gegiet
om vir U te sê
hoe diep my liefde lê.

2. My woorde uitgespel
probeer vir U vertel:
by Jesus hoort ek tuis;
my lewe is ’n kruis.

Refrein:
Sal U luister as ek sing,
sal U hoor as ek my offer bring
uit ’n hart wat U begeer
al maak ek U soms seer?

Brug:
Hoor my, sien my,
hier voor u troon.
Ek’s sondig, U’s heilig.
Vergewe my.
Ek buig voor U. (x4)

VONKK 40 “Kom En Vul Ons Met Vrede*”
Teks: Confitemini Domino – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Michiel van der Merwe 1994
Musiek: Jacques Berthier 1923-1994 Teks en musiek met toestemming van Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

Kom en vul ons met vrede.
U alleen, o Heer, is heilig.
Kom en vul ons met vrede.
Halleluja.
Come and fill us, Lord, with your peace.
You alone are holy.
Come and fill us, Lord, with your peace.
Alleluia.
* hierdie teks kan in aansluiting by Liedboek 221 gesing word.

VONKK 94 “Ek Het Die Here Lief (Psalm 116)”
Psalm 116 Teks: Jacques Louw 2009 © Melodie: INGRID – Jacques Louw 2009 © © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Geloof en Vertroue

1. Ek het die Here lief.
Dis Hy wat my verhoor.
Hy het na my geluister
toe ek bang was en benoud.

2. Ek het Hom aangeroep:
“Ag, Here, red my tog!”
Die Here is genadig.
Hy het Hom oor my ontferm.

3. My hart kan nou maar rus.
Die Heer is goed vir my.
Ek het in Hom bly glo
toe ek dag dis klaar met my.

4. Hoe sal ek Hom vergoed
vir weldade aan my?
Ek sal dan met my offers
van sy redding bly getuig.

Einde:
Ek wil met al my gawes
voor die hele volk getuig:
Die Here is my Redder.
Halleluja! Prys die Heer!

VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”
Teks: My spirit, soul and body – Mary Dagworthy James 1885; Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2010 © Musiek: Phoebe Palmer Knapp (1839-1908) © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Pinkster / Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. My gees, my siel, my liggaam
wy ek aan U, o Heer.
Ek lê myself as offer
gewillig voor U neer.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

2. My diepste wens is, Here,
– gehoorsaam aan u Gees –
dat ek met al my gawes
vir U mag diensbaar wees.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

3. U liefde vir die wêreld
het U na ons gebring.
Mag ek na ander uitreik
deur liefde wat my dring.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

4. U stuur my na die wêreld
om dáár vir U te werk,
my gees en siel en liggaam
te wy ook aan u kerk.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

F142. “Kom, Jesus, kom!” 
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed, Hoop en voleinding) Teks en musiek: Retief Burger© 2005 Urial Publishing (Op 19:6-9, Op 22:16-21, 2 Kor 5:6-9)

1. Here van die Heiliges, U wat was en U wat is,
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig staan, u liefde sal ook my kom haal
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:
Kom, Jesus, kom vir u bruid
vir hierdie mens wat voor u staan.
Kom, Heil’ge Gees, en reinig ons
vir die bruilof van die Lam.
Jesus kom, Jesus kom, Jesus kom tog gou! Kom!

2. Here van die ewigheid, oorwinnaar van die laaste stryd
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig bly, die dag sal kom, die nag verdwyn
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Romeine 11:1-2, 29-32

Familie-oomblik

Sluit aan by die gedagte van God se genade teenoor ongehoorsame mense. As jy die boek betyds in die hande kan kry, lees David Shannon se “No, David, No!” of wys die video daarvan. Dit is ’n reeks prente van ’n seuntjie wat stoute goed doen en sy ma wat die hele tyd met hom raas. Maar in die twee laaste bladsye sê die ma: “Yes David. I love you.”

God ontferm hom oor ongehoorsame mense. Wanneer ’n mens die hele Romeine 11 lees, leer ons dat ons nie ons verlossing kan verdien nie – dit is ’n geskenk van God. David moet die hele tyd “nee” hoor, maar uiteindelik het hy berou en hardloop in sy ma se arms in, waar sy hom met liefde ontvang.

Preekriglyn

Oor die afgelope weke is die wêreld geskok deur die hernude geweld tussen Israel en die Palestyne. Bomme hael oor en weer neer. Die lewensverlies is dramaties. Pogings om ‘n suksesvolle skietstilstand te bewerkstellig, ly skipbreuk.

Oor byna die afgelope 100 jaar was Israel en die Jode dikwels in die nuus. Van die skokkendste gebeure in die 20ste eeu was die wyse waarop sowat 6 miljoen Jode in strafkampe uitgemoor is. Die geboorte van die Joodse staat in 1948 was gebaai in die bloed van duisende mense.

Sedert 1948 was Israel verskeie kere in oorlog gedompel met sy bure. Naas die sesdaagse oorlog van 1967 en die Jom Kippoer-oorlog van 1973, het daar nie ‘n dekade verbygegaan sonder ernstige konflik nie. Mens dink aan die 1982-oorlog met Libanon, daarna weer in 2006; die Gasa-oorlog van 2008-9, en nou weer die hernude geweld. Wikipedia gee ‘n verstommende lys van oorloë waarin Israel sedert 1948 betrokke was.

Israel en sy bure haal gereeld die nuus. Israel en die nasies bly ‘n dramatiese, gespanne item op die wêreld-agenda.

Grafika: Foto gepubliseer in Daily Mail Online

In this Saturday, Aug. 2, 2014 photo, Sabreen el-Tartour, of the Palestinian Center for Human Rights, walks through a devastated area in Gaza City. From the first day of Israel-Hamas fighting on July 8, human rights groups operating in Gaza have been collecting detailed information about the aftermath of Israeli strikes, so far more than 4,600, according to the military, to lay the groundwork for future legal proceedings. (AP Photo/Dusan Vranic)

Lees meer hier

God se mense

Die Bybel stel die Jode as God se mense aan ons voor. Vroeg-vroeg lees ons reeds dat God Abraham roep en ‘n groot nageslag en ‘n land aan hom belowe. Uit Abraham, Isak en Jakob, deur ellende en terugslae heen, groei daar inderdaad ‘n groot nasie. Hulle is God se eiendomsvolk, gered uit al die nasies om die draer van God se heil en koningskap te wees.

Die Ou Testament gee ‘n eerlike blik op God se volk. Aan die een kant is daar wonderlike momente. Daar is egter ook sonde, hardkoppigheid en onwilligheid om God se wil te doen. Dit lei tot die grootste krisis in Israel se Ou Testamentiese bestaan: die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap van die volk in Babilonië in die sesde eeu v.C.

‘n Klein oorblyfsel van die volk kom terug na Jerusalem, herbou die stad en rig die tempel weer op. Herodes die Grote se glansryke tempel staan op Sionsberg wanneer Jesus, die Messias, gebore word. Die glorie van die tempel sou egter van korte duur wees. In 70 n.C. kom die Jode teen hulle Romeinse oorheersers in opstand. Die keiser reken eens en vir altyd met die opstandige volk af. Hy verwoes Jerusalem, slaan die tempel plat en keer die laaste opstandelinge op Masada vas, waar hulle selfmoord pleeg eerder as om hulle oor te gee.

Sedertdien is die Jode oor die hele aardbol versprei. Tot in die 20ste eeu. Vir die eerste keer in byna 2,000 jaar het dié volk weer ‘n eie staat nadat die moderne Joodse staat in 1948 gestig is.

‘n Belang by Israel

Kom ons verlaat nou eers ons eie wêreld en sy stormagtige omstandighede. Kom ons klim as’t ware in ‘n tydmasjien en reis 2,000 jaar terug in die wêreld se geskiedenis. Die toneel is Paulus wat ‘n brief aan die gemeente in Rome skryf.

Hy is ook gespanne oor die Israel van sy tyd, en hulle optrede. Terwyl die Jode baie misluk as volk van God, het God nogtans die Redder van die wêreld, die ware Jood, die getroue medewerker van God, die Messias, uit die Jode voortgebring. Deur Jesus word God se koningskap bevestig, erken en gevestig, soos God se bedoeling was dat dit deur Israel moet gebeur. Deur Jesus se getroue bediening en gehoorsaamheid, kom God se regering naby. In Jesus, gebore uit die Jodedom, kom daar verlossing en ‘n nuwe toekoms vir God se wêreld.

Die meerderheid van die Jode verwerp egter die Messias.

Vir Paulus is dit ‘n bron van intense kommer. Hy het immers ‘n direkte belang by Israel en sy toekoms:

“Ek is immers self ook ‘n Israeliet, ‘n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin.” (1)

Die Jode is Paulus se mense. Daarom is dit ontstellend om te dink dat hulle ongeloof voortkom uit die feit dat God hulle dalk verwerp het.

God verstoot nie sy volk nie

Met ‘n sterk uitroep beantwoord Paulus sy eie vraag: “Beslis nie!” (1) Só ‘n afleiding, dat God sy eie volk sal verwerp, kan nie oorweeg word nie:

“God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie.” (2)

In die Griekse teks is twee woorde hier van belang:

  • Die woord “verkies” is ’n vertaling van die Griekse woord proegnō wat kan vertaal na “Hy het voorheen geken”. “Ken” dui op ‘n baie intieme, nabye verhouding. Die 2014 Letterlike Vertaling sê: “God het nie sy volk verstoot wat Hy reeds tevore gekies het nie.”
  • Die tweede Griekse woord is apōsato, wat met “verstoot” vertaal word. Dit kan ook vertaal word met “verwerp”. God het dus die volk, wat Hy lankal reeds ken, beslis nie verwerp nie.

Hiermee maak Paulus nie soseer ‘n uitspraak oor Israel nie, maar oor God. ‘n Diep, fundamentele karaktereienskap van God is God se trou aan God se beloftes. Die Here is nie onvoorspelbaar en ‘n manteldraaier nie. God bly getrou.

Hoe dwaas Israel se optrede ook al mag wees, God se wese en identiteit bly ‘n bron van troos.

‘n Oorblyfsel

Hoewel ons teks so ingedeel is dat die opeenvolgende argument nie ingesluit is nie, troos Paulus homself in verse 2b tot 6 met die gebeure uit Elia se tyd, toe Elia gedink het hy is die enigste ware gelowige wat oorgebly het. Hy het Israel by God aangekla. Intussen was daar sewe duisend gelowiges. So is dit ook met Israel. Hoewel dit lyk of die hele volk God verwerp het, is daar tog diegene wat uit genade deur God uitverkies is (6). Dit is ook ‘n teken van God se trou aan sy volk.

Nogmaals: die ontferming van God

Ons teksindeling tel Paulus se argument weer in vers 29 op. In vers 29 praat Paulus weer oor God se karakter::

“As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.”

Paulus gebruik die Griekse woord ametamelēta, wat as “onherroeplik” vertaal kan word. God se besluite en keuses staan vas. God is genadig en getrou!

Heidene kom ook in die prentjie

In die volgende drie verse het Paulus dit oor mense wat nie Jode is nie, maar tog nou deur God ingesluit word in die genade wat Hy deur die Jode bewerk het:

  • In vers 30 rig Paulus hom tot die gemeente in Rome en hulle posisie voor God. Hulle was voorheen heidene, omdat hulle ongehoorsaam was aan God. Die Jode, Gods verbondsvolk, se ongehoorsaamheid en weerspannigheid het egter ’n deur vir die heidene oopgemaak, sodat hulle nou kan deel in God se ontfermende liefde.
  • In vers 31 verduidelik Paulus sy stelling met ’n vergelyking tussen die posisie van die Romeine en die Jode. God het voorheen sy genade vir die Jode beskikbaar gemaak. Die Jode het volgens Paulus se argument hier ongehoorsaam aan God geword, in reaksie op sy genade en ontferming aan die heidene. Die indruk word gewek dat die Jode jaloers is dat God ook ander insluit. Daarom word hulle ongehoorsaam. Die tweede deel van die argument is dat God se oopstelling vir die heidene ’n aanmoediging vir die Jode moet wees om weer na God te soek en sy ontferming te ervaar.
  • In vers 32 gee Paulus ’n samevatting oor mense se ongehoorsaamheid en God se hantering daarvan. Hier is twee aspekte ter sprake. God gee mense oor aan hulleself, aan hulle neiging tot ongehoorsaamheid aan Hom. Hy laat die mens begaan, gee hulle as ’t ware tou om hulleself op te hang. Die tweede aspek van God se handeling is sy ontferming oor almal wat verlore is vanweë hulle ongehoorsaamheid. Volgens Paulus se argument gee God mense aan hul eie drange oor sodat hulle sy ontfermende liefde en genade ten diepste kan ervaar en tot insig (inkering) kom.
‘n Deur oopgemaak vir die heidene

Vir Paulus het Israel se verharding dus die deur oopgemaak vir die nie-Jode om gered te word. God se reddingsplan verloop langs die volgende kontoere:

  • Daar vind ‘n tydelike verharding van Israel plaas, totdat;
  • die sending onder nie-Jode volvoer is wat die volle getal vanuit hulle midde tot redding begelei, sodat;
  • die hele Israel gered sal word.
Hier word oor ons gepraat

Dit is hier waar ons in die prentjie kom. Ook ons is meestal nie-Jode. Toe God die Jode uitgekies en begelei het, was ons voorgeslagte ver van die Here en sy beloftes. Tog het God die deur vir ons oopgemaak, het die evangelie ons voorouers bereik, en het ons deel gekry aan God se beloftes en sy regering.

Die misterie is dat God se bedoeling met Israel slegs in vervulling gaan as die heidene ook ingebring word en tot geloof kom. Sonder die heidene is God se genadige bedoelinge nie afgehandel nie. Daarom sou Paulus sy eie lewe dikwels op die spel plaas om die evangelie aan nie-Jode te verkondig.

Sy hoop en vaste wete is dat Israeliete ook weer in die toekoms ’n ommekeer sal maak en sal weet dat die ware Verlosser inderdaad van Sion af kom (11:26).

Israel se verwerping van Jesus dien ‘n goeie doel

Die Jode se optrede dien die verspreiding van die evangelie na die res van die wêreld. Die vervulling van God se bedoeling met Israel sou nooit voltooi wees sonder die inbring van die nasies nie. Dat baie van sy tydgenote nie die boodskap van Messias Jesus aanvaar het nie en die goeie nuus daarom na die heidene uitgedra is, was nie vir Paulus aanduiding van die finale verwerping van die Jode nie.

Paulus argumenteer dat die inbring van die heidene deur sy sendingaktiwiteite jaloesie by die Jode sal opwek sodat die “hele Israel” – omvattend en insluitend van gelowige Jode en heidene – in die verlossing sal deel.

Geen witbroodjies nie

Nie-Jode moet egter nie dink hulle is nou God se nuwe witbroodjies nie. In die verse tussen ons tekskeuse (16 tot 24) gebruik Paulus die beeld van ‘n mak olyfboom waarop die takke van ‘n wilde olyf ingeënt is. Die nie-Jode is net soos wilde olyftakke wat ingeënt is op die regte olyfboom, naamlik Israel. Die seën wat die heidene beleef, is seën wat deur Israel na hulle kom.

Die boom self (wortels, stam en party van die boom se eie takke) is die gelowiges uit die volk Israel. Die afgekapte takke is dié uit Israel wat nie glo nie, en die ingeënte takke is die gelowiges uit die nie-Joodse nasies. Gelowiges uit nie-Joodse nasies moet besef dis nie deur hulle eie toedoen dat hulle op die boom ingeënt is nie, maar deur die goedheid van God.

Nie hoogmoed nie, maar dankbaarheid

Ook ons, gelowiges wat nie oorspronklik Jode is nie, moet hierdie woorde hoor. Dit is woorde wat ons tot nederigheid en dankbaarheid moet stem:

  • Nederigheid omdat ons gered is uit God se werk deur die Jode.
  • Nederigheid omdat ons nie sou kon glo anders as dat God die inisiatief geneem het om ook die wilde olyftakke op die mak olyf in te ent nie.
  • Dankbaarheid omdat die sekerheid van ons verlossing berus op God se trou.

Wanneer die wilde olyf (ons) sy plek in die groot skema van God met dankbaarheid en nederigheid raaksien, weet ons ons kan onsself nie so maklik teenoor ander opstel nie. Nie teenoor Jode nie, en ook nie teenoor ander groepe met ander aksente oor dit wat ons bely nie.

Die verharding sal tot einde kom

Die verharding oor Israel kom tot ’n einde (11:25-32). God red uit beide Israel en die nie-Joodse volke dié wat Hy sy kinders gemaak het. Die barmhartige God wou dat Israel hulle seëninge met die nie-Joodse volke deel. Israel het dit egter nie gedoen nie. God het toe die Messias gegee om hierdie werk van Israel te doen. Nou is die bordjies in ’n sekere sin verhang: die gelowige uit die nie-Joodse volke moet nou die Jode in hulle seëninge laat deel. Só kom God se plan tot uitvoer, en Hy ontferm Hom (betoon barmhartigheid) oor almal.

Dit beteken dat daar steeds ook vir Jode plek in die kerk van die Here is. Prof Fika van Rensburg (Bybel A-Z) skryf: “Dit beteken egter nie daar is nie meer plek in die kerk vir Jode nie. Inteendeel, elke keer as ’n Jood Christus as Here erken, is daar groot vreugde.”

Oop vir God se werk

Kom ons reis met ons tydmasjien terug na ons eie tyd.

Ons sien weer die gevegte in Israel raak, Jood en Palestyn wat teen mekaar opgestel is. Ons beleef weer die ontsettende menslike lyding wat voor ons oë afspeel. Dink ook aan al die geweld wêreldwyd, oorloë, gerugte van oorloë, en onskuldige mense wat in die vuurlinie van missiele beland.

Dink aan die twintigste eeu. Een en ‘n halfmiljoen Armene uitgewis deur die Turke. Ses miljoen Jode deur die Nazi’s. Dink aan die etniese suiwering in die Balkanstate. Geboue wat platgevlieg en lande wat platgeskiet is sedert September 2001.

Hoe sou dit ons wêreld verander as ons deur God se oë na die nasies kyk. God het die verlossing deur die Jode bewerk, die olyfboom wat Hy deur die eeue voorberei het. Deur die getuienis van sy kerk is die wilde olyf, die heidennasies, die nie-Jode deur geloof in die Messias ingeplant op die mak olyf. Só het daar ook vir ons genade gekom.

Hoe sou die Tweede Wêreldoorlog anders verloop het as Christene Jode kon eien as die stam waarop hulle in die geloof geënt is?

Ons krisis is dat ons onsself in kampe teenoor mekaar opstel en dan nie langer die menslikheid van die ander raaksien nie. En ook nie verstaan dat die verharding van sommige, deure oopmaak dat die boodskap van die Here ander bereik nie. En as die boodskap ander bereik, en hulle glo, kan ons dit nie herken nie, want hulle geloof neem nie presies dieselfde vorme aan as by ons nie.

As God, die barmhartige Koning, Hom oor almal ontferm, waarom sal daar van ons verwag word om anders op te tree?

In Romeine 12 gaan Paulus hierdie argument verder voer. Hy gaan sê ons het kopskuiwe nodig oor die mense saam met wie ons in die gemeente is. As ons van mekaar verskil, moet ons mekaar nie veroordeel nie.

As ons tussen die oerwoud van verstrengelde belange en strydpunte mekaar se menslikheid, mekaar se behoefte aan verlossing, en God se ontfermende liefde vir ons almal kan raaksien, kan daar verandering in ons wêreld kom.

Wat is die toekoms van Israel?

Het hierdie woorde iets te sê vir die huidige konflik in Israel? Daar is baie gelowiges wat meen God is steeds aan die Jode se kant, dat die Jode die reg op Israel het, en dat hulle daarom die reg het om hulle bestaan hand en tand te verdedig.

Natuurlik is dit ‘n geweldige komplekse situasie, en daar is nie onskuldige engeltjies te vind by die verskillende partye in die konflik nie.

Maar die lydende Messias, die Jood deur God voorsien, uit Wie die verlossing kom, het nie geweld gekies nie. Om die waarheid te sê, Hy het geweld vir alle tye vernietigend oorwin. Hy toon dat geweld ons nêrens bring nie, behalwe in die hel wat ons deur ons geweld skep. Aan die kruis het geweld sy Moses teëgekom.

Geweld kan ons van niks verlos nie. Ook nie vir Israel nie. Ook nie die VSA, Rusland of die plofbare situasie in die Oekraïene nie. Geweld se nek is omgedraai. Dit lei tot die dood.

Die ware Jood leer en demonstreer dat wie sy lewe wil wen, homself of haarself moet gee tot in die dood vir ander. Wie sy of haar lewe verloor, sal dit verkry. Letterlik en figuurlik. Geweld is ‘n doodloopstraat.

Laat ons daarom bly getuig en bly bid dat die verharde mak olyf, en ook die werklike wilde olywe van hierdie wêreld hulle Messias sal vind, en Hom navolg.

Daar is hoop, want God bly getrou.

God stuur ons om te leef

Gebed
As jy dit nie verlede week gebruik het nie (of selfs al het jy), kan jy by by http://prayforrealpeace.blogspot.com/2014/07/dear-friends-i-wrote-attached-prayer-in.html ‘n skakel na ’n dokument met spesiale gebedsriglyne vir Israel en Palestina kry.

Dankoffer

Slotsang
Lied 58 O “God van hoop, gee ons u vrede”
Flam 142 “Kom, Jesus, kom!”

Seën: Psalm 133

Respons
Flam 142 Refrein of
VONKK 90 Maranata!
Nav I Korintiërs 16:22b Teks: Jannie Hougaard 2004 © Melodie: MARANATA – Jannie Hougaard 2004 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Hoop en Voleinding

Maranata!
Maranata!
Maranata!
Kom, Heer, kom weer!

(Alternatiewe teks;)
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer, kom weer!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.