Tiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks vir hierdie Sondag gaan hand aan hand met verlede week s’n waar ons sien waaroor Dawid berou het: owerspel met Batseba en die moord van haar man, Urija, en om dit toe te smeer. Psalm 51 as  skuldbelydenis hou sterk verband hiermee en die roepe om God se vergifnis en genade.

Efesiërs 4:1-16 gaan oor ons as die kerk wat reeds die liggaam van Christus is. In Johannes 6:24-35 vind ons die eerste van Jesus se “Ek is”-stellings: “Ek is die brood wat lewe gee.”

Ander tekste

Psalm 51:1-12
Neem tog my sonde weg!
51 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid,
na aanleiding daarvan 2dat die profeet
Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel
met Batseba.
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.
13Moet my tog nie van U af wegdryf
en u Heilige Gees
van my af wegneem nie!
14Laat my weer die blydskap ervaar
van iemand wat deur U verlos is,
laat my U weer met toewyding dien.
15Dan sal ek oortreders leer
wat U van ’n mens verwag;
dat die sondaars hulle tot U sal bekeer.
16Red my van ondergang,
o God, my Redder,
dat ek kan jubel oor u verlossingsdaad.
17Here, gee my die woorde
om u lof te verkondig.
18’n Offer vra U nie,
anders sou ek dit bring;
’n brandoffer wil U nie hê nie.
19Die offer wat U wil hê, o God,
is verootmoediging:
U sal ’n hart vol ootmoed en berou
nie gering ag nie, o God.
20Laat Sion u liefde
en u goedheid ondervind:
herbou tog die mure van Jerusalem.
21Dan sal die offers wat voorgeskryf is,
weer vir U aanneemlik wees:
offerdiere wat heeltemal
verbrand word.
Dan sal hulle weer bulle
op u altare offer.

Efesiërs 4:1-16
Die eenheid van die kerk
4 Ek druk julle dit op die hart, ek wat ’n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

4Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. 5Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.

7Aan elkeen van ons is ’n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. 8Daarom sê die Skrif:
“Toe Hy na die hoogte
opgevaar het,
het Hy krygsgevangenes
saamgeneem en gawes aan die
mense gegee.”
9Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. 10Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. 11En dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. 14Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. 15Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

Johannes 6:24-35
Die brood uit die hemel
22Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag 23kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het. 

24Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. 25En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”

26Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. 27Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

28Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”
29En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

30Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? 31Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.” e

32Jesus het hulle geantwoord: “Dit verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. 33Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

34Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”
35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

36Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.
37“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. 38Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

Fokusteks

2 Samuel 11:26-12:13a
26Urija se vrou het gehoor dat haar man dood is en sy het oor hom getreur. 27Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword en vir hom ‘n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.

Natan kondig Dawid se straf aan
12 Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm. 2Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. 3Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos ‘n eie dogter. 4Daar het ‘n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.”

5–6Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef, ‘n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.”

7“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. 8Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee. 9Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so ‘n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.

10“Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het.

11“So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot, 12want jy het ‘n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen.”

13Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.”
En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie. 14Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.”

15Natan het huis toe gegaan, en die Here het die kind wat Urija se vrou vir Dawid in die wêreld gebring het, getref. Die kind het ernstig siek geword. 16Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê. 17Die hoofde van sy huishouding het hom probeer oorreed om van die grond af op te staan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle aan tafel verskyn nie. 18Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is.

Hulle het gesê: “En nou? Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, en hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy sal ‘n onbesonne ding aanvang.”

19Dawid het agtergekom dat sy amptenare onder mekaar fluister en hy het afgelei dat die kind dood is. “Is die kind dood?” het hy gevra. “Hy is dood,” was hulle antwoord.

20Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom ‘n ete voorgesit en hy het geëet.

21Sy amptenare vra hom toe: “Wat doen u nou? Toe die kind nog gelewe het, het u gevas en gehuil. Nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?”

22Sy antwoord was: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe. 23Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”

24Daarna het Dawid sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar slaapkamer ingegaan en by haar geslaap. Sy het ‘n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad 25en het hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”.

Dawid onderwerp die Ammoniete
(Vgl 1 Kron 20:1–3)
26Joab het Rabba, die hoofstad van die Ammoniete, aangeval. Nadat hy die koninklike woonbuurt beset het, 27het hy ‘n boodskap na Dawid toe gestuur: “Ek het Rabba aangeval en ek het reeds die ommuurde waterbron verower. 28Roep tog nou die res van die burgers op en kom beleër die stad. Neem ú dit in sodat ek nie self die stad verower en dit dus my eiendom word nie.”

29Dawid het al die burgers opgeroep en teen Rabba gaan veg en dit ingeneem. 30Hy het die kroon van hulle koning se kop afgehaal. Die kroon was van goud, sowat vier en dertig kilogram, en het ‘n kosbare steen bevat. Dit het nou op Dawid se kop gekom, en hy het ook ‘n groot buit uit Rabba saamgevat.

31Hy het die burgers van Rabba weggevoer en hulle aan die werk gesit met saag, ysterbeitel en byl; party het hy by die steenoonde laat werk. So het hy teenoor al die Ammonitiese stede opgetree. Daarna het hy en al die burgers na Jerusalem toe teruggegaan.

Ekstra stof

1 en 2 Samuel handel oor die oorgang van die laaste rigter, Samuel, na die eerste koning, Saul en die opkoms en heerskappy van Dawid, in die elfde eeu v.C.  Hulle drie is dan ook die vernaamste karakters.  Die boeke van 1 & 2 Konings voltooi die verhaal van die konings tot en met die ballingskap in 586 v.C.

Hierdie boeke vorm deel van die Vroeë profete, vertel vanuit God se perspektief op die geskiedenis van sy volk .  Profete speel deurgaans ‘n belangrike rol, spesifiek Samuel en Natan.

Histories gesproke was dit ‘n tyd toe geen supermoondheid ‘n rol in Israel gespeel het nie.  Dit het dit moontlik gemaak vir plaaslike rolspelers om na vore te tree.  Die vernaamste teenstanders waarmee Israel te doen gekry het, was nie meer die Kanaäniete nie, maar die Filistyne (soos alreeds in die verhale van Samgar en Simson in Rigters).  Die Filistyne was van die kusstreek aan die Middellandse See met stede soos Gasa, Asdod, Askelon, Gad en Ekron.

Hierdie bedreiging was een van die redes vir die vereniging van die stamme van Israel en vorm ‘n belangrike agtergrond vir die ontvouende verhaal van die boek van Samuel tot by 2 Sam 8, waar vertel word dat Dawid “die mag uit hulle hande geneem het.” (:1)

Daar is talle ooreenkomste, maar ook beduidende verskille tussen 2 Samuel en 1 Kronieke.  Die verhaal van Dawid en sy ryk word in beide vertel, maar met verskillende perspektiewe.  Waar 2 Samuel – en die verdere verloop (en verval) van Israel se verhaal in 1 en 2 Konings – uiteindelik ‘n belangrike motivering verskaf hoekom ‘n ballingskap nodig was, wil 1 Kronieke, geskrywe ná die ballingskap, die volk juis moed laat skep uit die helde van die verlede.

Betekenisvolle momente in die boek Samuel
1. OORGANGE – Die verhaal is een van oorgange:

  • Van ‘n periodieke, gedeeltelike teokrasie van die rigterstyd,  na ‘n geïnstitusionaliseerde afkoms-gebaseerde monargie;
  • Van ‘n koning, Saul, wat soos die tipiese Midde-Oosterse konings optree na ‘n koning, Dawid, wat aan God gehoorsaam is;
  • Van veelvuldige aanbiddingsplekke na die nuwe sentrum in Jerusalem as woonplek van God se Naam.

Hierdie oorgange het natuurlik met baie spanning gepaard gegaan.  Dit sien ‘n mens onder andere in:

  • die konflik tussen koningskap en die verbond – vgl. bv. die kontrasterende sentimente tussen Samuel en die volk oor die behoefte aan ‘n koning in 1 Sam 8-12, en Saul wat eerder sy eie kop volg as om lojaal te bly aan God.  Vgl. ook Dawid se verhaal, wie se verbondslojaliteit juis ‘n nuwe belofte aan hom en ‘n verbond met God tot gevolg het (2 Sam 7 – let ook op die messiaanse ondertone), waarin koningskap en die verbond geïntegreer word.
  • die konflik tussen Saul en Dawid (1 Sam 16-31) – waar dit uiteindelik nie gaan óf Israel ‘n koning moet hê nie, maar watter tipe koning Israel gaan hê.  Die sleutelperspektief hier is of die koning lojaal aan God gaan wees en God se karakter gaan vertoon of nie, omdat die koning God se verteenwoordiger op aarde gaan wees.  Saul word verwerp omdat hy dink soos elke ander koning, en dat hy verhewe is bo die wet en onafhanklik van God kan optree.  Dit is juis wat die profetiese tradisie telkens onder die volk se aandag gebring het, dat die konings nie outonoom was nie, en dat sy hooftaak was om die mense in gehoorsaamheid aan God te begelei.
  • Die konflik in Dawid se koningskap (2 Sam 1-24) – vgl. hoe kort Dawid se oorwinnings as koning vertel word (2 Sam 8) teenoor hoe lank en vol detail die verhaal van sy sonde en die tragiese gevolge daarvan vertel word (2 Sam 10-20).  Dawid se twee grootse gedigte van toewyding en lof aan God word daarom in die laaste deel (2 Sam 22-23) van die boek geplaas, as ‘n belangrike deel van die samevatting van sy lewe.  Dit gee ‘n gebalanseerde prentjie van hierdie man van geloof, wat wel aan swakhede toegegee het,  maar wanneer daarmee hy gekonfronteer is, deur gebed en offers berou en verootmoediging getoon het.

2. AANBIDDING – ‘n Sentrale fokus in die boek is die ware aanbidding van God.  Dit begin met die profesie teen Eli (2:29), wat God se voorskrifte verag het.  Dan fokus dit op die verlies van die Ark van die verbond (hfst. 4-7), waarmee die glorie of eer van Israel weggevat is (4:22).  Aan die begin van Dawid se heerskappy, is dit dus ‘n sentrale tema om die Ark weer terug te bring na Jerusalem (2 Sam 6), waarna Dawid ‘n tempel vir God (en die Ark) wil bou, wat hom verbied word.  En die boek eindig met die altaar wat gebou word op die dorsvloer van Arauna (2 Sam 24) waar lesers sou weet, die tempel uiteindelik gebou sou word (2 Kron 3:1).

3. KONINGSKAP – Nog ‘n sentrale perspektief om in gedagte te hou, is hoe dié verhaal in die Ou Midde-Oosterse konteks inpas.  In die Ou Midde-Ooste was ‘n koning beide ‘n verteenwoordiger van die volk by God as ‘n verteenwoordiger van God by die volk.

Israel se storie in die Vroeë Profete het raakpunte hiermee.  Die storie van die konings is die storie van die volk.  Wat met hom gebeur, het ‘n direkte impak op die volk.  Hy kan selfs namens die volk met God praat, soos bv. in die Psalms gebeur. En die koning kan aanspraak maak op die volk se lojaliteit, natuurlik in dié mate wat hyself gehoorsaam is aan God.

Dit loop die Nuwe Testament verhaal van Jesus vooruit, waar die Seun van Dawid gehoorsaam is aan God, as verteenwoordiger van die volk (mensdom).  En Hy as koning die volk (Sy liggaam) in die regte verhouding met God kan bring.

4. LEIERSKAP – ‘n Belangrike perspektief in hierdie verhaal is dat God soewerein is en altyd aan die werk is, meesal “behind the scenes”.  Dit het ‘n belangrike betekenis vir hoe ons na leierskap kyk.  Die boek Samuel wys dat daar maar net een manier is om leierskap te beoefen (Saul, Dawid), of net maar jou lewe effektief te leef (Nabal, Abigajil), en dit is om met God rekening te hou en in afhanklikheid van Hom te lewe.

Die karakters in die boek is soos spieëls waarin ons ons eie lewens afgespieël sien, en in wie se lewens ons lewenslesse leer.

  • Eli se reaktiewe leierskap in sy huis, kos nie net vir hom en sy huis hulle lewens nie, maar veroorsaak baie pyn en donkerte vir die volk van Israel.  Hy kon wel vir Samuel aan die Here wy, maar sy blindekol in terme van sy eie seuns, het gekeer dat hy hulle dissiplineer voordat dit te laat was.
  • Samuel weer was ‘n man van integriteit, wat met moed en wysheid die Israeliete gelei het van die Rigtertyd af tot en met die oorgang na die koningstyd.  Hy salf beide vir Saul as Dawid as koning, terwyl hy steeds waarsku daarteen dat God nie as die eintlike koning geeër word nie.  En hy nooi Israel uit om sy integriteit as leier te toets.  Daarbenewens tree hy op as leier van die eerste profeteskool.
  • Saul illustreer baie van die gevare van leierskap.  Sy mislukking as leier is ‘n klassieke verhaal van ‘n leier wat opgehou het om te lei, en sy magsposisie begin misbruik het vir sy eie belange.
  • Dawid wys vir ons hoe God iemand wat growwe foute gehad het, se hart raaksien, en hom toerus en gebruik om die volk in ‘n nuwe era in te lei.  En in die tweede boek sien ons hoe Dawid se lewe blom weens sy gehoorsaamheid en dit ‘n ongelooflike bate vir die volk is.  Maar na sy ongehoorsaamheid in hoofstuk 10, staan die res van sy koningskap in die teken van dissipline, met konflikte en bedreigings en teleurstellings wat ‘n harde leerskool vorm.  Die een reddende eienskap van sy karakter, is dat hy telkens terugkeer na God in berou en boetedoening.

5.  ANDER – Let ook op hoe temas wat in die Pentateug ‘n rol gespeel het, ook hier voorkom.  Bv. die motief van die kinderlose vrou (Sara, Rebekka, Ragel – Hanna) en die keuse vir die mindere (Jakob – Dawid).

Die twee-deling van die boek dateer eintlik uit die 16de eeu.  Dit was aanvanklik een boek, soos ook 1 en 2 Konings.  Dele van die boek kom moontlik van die onbekende geskrifte van Samuel en die profete Natan en Dan (1 Kron. 29:29).

Verskeie tradisies kan in die teks onderskei word, soos die Ark narratief in 1 Sam 4-7 en 2 Sam 6, die Opkoms van Dawid in 1 Sam 16 – 2 Sam 5, en die Opvolgingsverhaal van 2 Sam 9-20 wat in 1 Konings 1-2 voortgesit word.  Dit kan verband hou met die wyse waarop hierdie verhale by die onderskeie heiligdomme Gilgal, Mispa,  en Silo bewaar is.  Die finale redaktor het dit egter as een verhaal saamgestel.

2 Samuel 12
Die gebreke in Dawid se karakter word in die vorige twee hoofstukke in groot detail vertel.  Hoofstuk 10 beskryf van die veldtogte wat deel van die normale verpligtinge van die konings was.  Hoofstuk 11 vertel dat Dawid op ‘n keer agtergebly het in Jerusalem wat die tafel dek vir die sonde teen Batseba en Urija.  Let op vir die ironieë in die hoofstuk: 1) die getroue uitlander Urija eer die ontroue Israelitiese koning; 2) die uitlander bly seksueel rein gedurende die oorlog terwyl die koning owerspel pleeg met sy vrou; 3) die koning veg nie self in die oorlog nie, maar stuur die getroue soldaat na sy dood.

Let nou op hoe belangrik hoofstuk 12 vir Israel se perspektief op koningskap is – die koning word teenoor God verantwoordelik gehou deur die profeet Natan.

Let ook op hoe Dawid se sonde ernstige gevolge het, eers vir sy eie huis, en later vir die koninkryk self, selfs al kom hy tot bekering.  Die einde van hoofstuk 12 vind hom egter weer op die oorlogspad, soos dit van hom verwag is.

2 Samuel 11-12 – die diepste ellende van die sonde lê in die minagting van die Here
Dit is só ‘n bekende verhaal, dat ‘n mens verras is met die emosionele impak daarvan op jou.  Dit is met ‘n sinkende gevoel van afgryse wat jy lees hoe Dawid al dieper sak, van owerspel tot moord en die gevolglike leuens om die ware toedrag van sake te verdoesel.  En dit net omdat hy in die oorlog teen die Ammoniete nie sy verpligtinge nagekom het nie, en gevolglik aan versoeking blootgestel is.

Attah ha-ish – Jy is die man – weerklink nog steeds in my ore soos toe my Hebreeuse dosent dit jare terug in die klas gelees het.  Die probleem met die sonde is reeds erg in terme van die effek van die mense wat daardeur geraak word, Batseba, Urija, en die ander wat ingespan word om die leuens in stand te hou, bv. Joab.  Vier seuns sou sterf as straf vir hierdie onbesonne daad, Batseba se kind, Amnon, Absalom en Adonia –  Dawid betaal dus viervoudig, soos hy self voorstel!  Selfs Agitofel word daardeur geraak, want Batseba was sy kleindogter (Eliam, Batseba se pa, was sy seun – 2 Sam 23:34), en verklaar moontlik sy ondersteuning van Absalom later in die verhaal.

Maar die diepste ellende van sonde lê in die minagting van die Here, waarmee sy sorg, beskerming en voorsiening in die wind geslaan word om jou eie, gewoonlik korttermyn, belang te dien.

Ons dink baie keer aan Psalm 51 en die vergifnis wat Dawid ontvang het na hy van harte belydenis van sy skuld gedoen het.  Maar die tragiese gevolge van sy dade, en die oordeel van die Here wat hom tref, gooi ‘n groot skaduwee oor die hele loopbaan van Dawid hierna.  Die ligpunt is die intense hertoewyding van Dawid en die geboorte van Salomo, “man van vrede”, of Jedidja, “die Here het hom lief”, soos Dawid hom genoem het.

Dawid kom ook uiteindelik sy verpligtinge in die oorlog teen die Ammoniete na, en verower só die hoofstad Rabba.

Liturgie

Aanvangswoord

Aanvangslied: Lied 470 “U Here is ons Koning vs 1,2,3,4”

Seëngroet
Lied 198 “God is my lied 1,2,3”

Wet: (Efesiërs 4)

Skuldbelydenis

Lied 231 “Heilig, heilig, heilig Here” (U is heilig sonder perk) 1,3

Vryspraak: (Johannes 6)

Geloofsbelydenis

Lofliedere
Lied 209 “Heer met my hele hart 1” en/of
Lied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: 2 Samuel 11:26-12-13a

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
God nooi ons uit en ons kom tot rus

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangswoord
Voorganger: Uit die dieptes roep ek na U, Here.
Gemeente: Luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.
Almal: Amen (Ps 130:1-2).
(Uit Basisliturgie vir 2 Samuel in Bybelmedia se Woord en Fees 2014/15)

Aanvangslied: Lied 470 “U Here is ons Koning vs 1,2,3,4”

Seëngroet
Aan almal in ……………………….. wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Amen
(Efesiërs 1)

Lied 198 “God is my lied 1,2,3”

Wet:  (Efesiërs 4)
Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

Skuldbelydenis
Voorganger: Wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!
Gemeente: Wees my genadig, o God, in u troue liefde.

Voorganger: Was my skoon van my skuld, reinig my van sonde!
Gemeente: Wees my genadig, o God, in u troue liefde.

Voorganger: Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.
Gemeente: Wees my genadig, o God, in u troue liefde.

Voorganger: Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
Gemeente: Wees my genadig, o God, in u troue liefde.

Voorganger: Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.
Gemeente: Wees my genadig, o God, in u troue liefde (uit Ps 51:1-12).
(Uit die Preekstudie vir 2 Augustus uit Bybelmedia se Woord en Fees 2014/15)

Lied 231 “Heilig, heilig, heilig Here (U is heilig sonder perk) 1,3″

Vryspraak: (Johannes 6)
35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

Geloofsbelydenis
Die Here is ons God.
Hy is die Here van die heersers.
Hy is die Vader van sy volk wat op pad is.
Hy is die Skepper van die hemel en die aarde.
Hy sorg vir ons.
Sy koninkryk het naby gekom in Jesus van Nasaret,
die Messias, ons Here.
Hy het uit die dood opgestaan en roep ons om Hom te volg.
Die Gees bewerk die nuwe lewe in ons.
Hy lei ons in die waarheid.
Hy wys vir ons dat ons ons stukkende wêreld mooi moet maak.
Hy gaan saam met ons die toekoms in.
Outeur onbekend
(van der Merwe, J (red) 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Wellington: Lux Verbi, bl 39.)
(Uit Basisliturgie vir 2 Samuel in Bybelmedia se Woord en Fees 2014/15)

Lofliedere
Lied 209 “Heer met my hele hart 1” en/of
Lied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3

Liedere

F144.” God Is Liefde”  
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Kersfees / Epifanie,  lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: AP van der Colf  (c) NGKU
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21;  Rom 5:1-11;  Joh 3:16)

God is liefde
Juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef

F175. “Vry” 
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Vergifnis / Lof / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Elsche van Wyk
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Refrein:
Vry ons is vry
Deur sy bloed en sy genade is ons vry
Ons is vry. Van die pyn
En smart het Jesus ons bevry

Heer, elke dag is ‘n belofte
Elke oomblik net geleen
Die ganse heelal bring U ere
Deur U Seun is ons vergeef
Verlos van sonde en die dood
Aan die kruis het U gely
En Here, ons sê dankie
Dankie Here ons is vry

Heer, U verlos ons deur genade
U vergewe en vergeet
Die kruis van Golgota bring lewe
En reddingskrag is hier vir my
Deur Jesus Christus is daar lewe
Elke knie sal voor Hom buig
U’t ons vrygemaak van sonde
En die vyand is oorwin.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here
Laat U woord my nou dring…

10Ek wil aan U gehoorsaam wees
met my hele hart,

11Aan u beloftes hou ek vas,
dit weerhou my van sonde teen U.

leer my u voorskrifte.
13Al u bepalings
wil ek een vir een opnoem.

14Om volgens u verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom
van die wêreld.

15U bevele bly my altyd by.
Ek gee ag op die pad wat U aanwys.
16Ek verlustig my in u voorskrifte,
u woord vergeet ek nie.

Laat U woord my nou dring…
Amen
(Uit Psalm 119)

Skriflesing: 2Samuel 11:26-12:13a

Prediking

Familie-oomblik

Lees die onderstaande, geredigeerde weergawe van Die Boodskap oor die fokustuks dramaties vir die kinders. Dit is onvermydelik om die lyn van die vorige week nie te herhaal nie.

In die lente van daardie jaar, in die tyd wanneer die konings gewoonlik gaan oorlog maak, het Dawid al die manskappe van Israel gestuur om teen die Ammoniete te veg. Hulle het die Ammoniete in Rabba, hulle hoofstad vasgekeer. 

Dawid was nie by nie; hy het in Jerusalem agtergebly. Laat een middag het hy op die dakstoep van die paleis rondgestap. Hy sien toe van die dak af ’n vrou wat besig is om te bad. Sy was ’n baie mooi vrou. Dawid het toe iemand gestuur om te gaan uitvind wie sy is en verneem toe haar naam is Batseba, die vrou van ‘n man met die naam Urija. Dawid het haar laat haal en by haar geslaap. 

Later het die vrou toe Dawid se baba verwag en vir hom laat weet: “Ek verwag jou kind.”
Dawid het Urija (Batseba se man) van die slagveld laat haal met die idee dat hy dan by sy vrou Batseba sal slaap. Dan sou niemand weet Dawid is eintlik die kind se pa nie. Maar Urija het nie huis toe gegaan nie. Hy het by die koning se wagte by die paleis se deur gaan slaap. 

Dawid het gehoor Urija het nie by sy huis gaan slaap nie. “Jy was dan so lank weg, hoekom het jy nie huis toe gegaan nie?” vra Dawid hom die volgende môre. Urija het geantwoord: “Hoe kan ek huis toe gaan om te gaan eet en drink en by my vrou te slaap as die ark van God en al die manne van Israel en Juda in tente bly, en Joab en die koning se eie soldate in die oop veld moet kamp? Ek sal dit so waar as u leef, nooit doen nie!” 

Die volgende môre het Dawid vir die hoof van die leërmag ’n brief geskryf wat hy saam met Urija gestuur het. In die brief het daar gestaan: “Sit vir Urija heel voor in die kwaaiste geveg. Los hom dan alleen sodat hulle hom kan bykom en hom doodmaak.”

So het Dawid Urija laat doodmaak om sy vrou in die hande te kry…
Toe Batseba hoor haar man is dood, het sy ’n week lank by die huis gebly en onophoudelik gehuil. 
Hierna het Dawid haar na die paleis toe laat bring. Hy is toe met haar getroud en ’n seun is toe vir hulle gebore. Maar die Here het niks gehou van wat Dawid gedoen het nie. 

Die Here het toe ‘n profeet Natan na Dawid toe gestuur. Natan vertel toe vir Dawid die volgende gelykenis (storie):
 “Daar was twee mense in ’n dorp; die een was ryk en die ander een arm. Die ryk man het baie skape en beeste gehad, en die arm man net een ou ooilammetjie. Sy het by hom en sy kinders in die huis grootgeword en van hulle paar stukkies brood geëet en uit dieselfde beker as hulle gedrink. Sy het baie keer op sy skoot gelê. Sy was soos ’n kind in die huis. 

“Op ’n dag kom daar toe iemand by die ryk man kuier. Die ryk man was te suinig om een van sy eie skape te slag en ’n ete vir die kuiergas te kook. Hy vat toe die enigste ooilam van die arm man, wat soos een van sy kinders in hulle huis was, en maak die lam dood (slag die lam) en maak die vleis gaar vir sy kuiergas.” 

Dawid was briesend kwaad toe hy dit hoor- “hoe kon die ryk man so iets kon doen? So waar as die Here leef, die man wat dít gedoen het, moet die doodstraf kry! En daar moet vier van sy lammers gegee word in die plek van daardie een ooilam. Hoe kon die man so iets doen en nie eers jammer voel vir die arm man nie!” 

“Jý is daardie man!” sê Natan vir hom. 
Die Here sê: “Jy (Dawid) het Urija in die oorlog laat doodmaak en sy enigste vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor. Daarom gaan ek jou straf!”
Dawid het toe erken: “Ek het ’n vreeslike verkeerde ding teen die Here gedoen!” 

‘n Inkleurprent van Koning Dawid en Batseba met die babaseuntjie is hier beskikbaar.

Preekriglyn

John McCain (1936 – ) is die senator vir Arizona in die VSA. Hy was ook die Republikeinse presidentskandidaat in 2008, toe hy teen Barack Obama verloor het. McCain het ‘n loopbaan as vlieënier in die Amerikaanse weermag gehad. Gedurende die Viëtnam-oorlog is hy byna dood toe die Amerikaanse vliegdekskip USS Forrestal op 29 Julie 1967 aan die brand geraak het. In Oktober 1967 is sy vliegtuig tydens bombardering oor Hanoi afgeskiet. McCain is ernstig beseer en deur die Noord-Viëtnamese gevange geneem. Hy was tot 1973 ‘n krygsgevangene, en is in hierdie tyd gemartel. Sy oorlogswonde het hom met lewenslange fisieke beperkinge gelaat.

Na sy uittrede uit die weermag in 1981 het McCain die politiek betree. Hy is in 1982 tot die Huis van Verteenwoordigers verkies, en het in 1986 senator geword. Hy is sedertdien vier maal tot die senaat herkies.

As senator het hy bygedra om die finansiering van politieke veldtogte te hervorm. Hy het ook hard gewerk om politieke verhoudinge met Viëtnam te herstel.

McCain sien moed, dapperheid en durf as belangrike elemente van leierskap, trouens van die lewe self. Hy skryf by geleentheid:

Moed en durf is soos ‘n spier. Hoe meer ons die spier van moed oefen, hoe sterker word dit.

Ek is soms bekommerd dat ons gemeenskaplike moed swakker en swakker word weens ‘n gebrek aan oefening. Ons vereis nie moed van ons leiers nie, en ons leiers dring weer nie by ons aan om durf aan die dag te lê nie. Die tekort aan moed is beide ons probleem en ons skuld.

Gevolglik het te veel leiers in die publieke en private sektor glad nie die moed om hulle beloftes na te kom nie. Daar is ook te min moed om die wesenlike waardes van leierskap te handhaaf.

Die koning se sonde

Ons het verlede week stilgestaan by Dawid se owerspel met Batseba, Urija se vrou. Ons moet liewer van Dawid se verkragting van Batseba te praat, want sy was ‘n weerlose vrou wat laat haal is en wat die koning nie kon weerstaan nie.

Batseba word swanger deur Dawid se toedoen. Daarna het Dawid op geslepe maniere planne beraam om Urija terug van die slagveld te kry en by Batseba te laat slaap. Urija weier want sy kamerade is op die slagveld. Hy verkies om in die slawe se slaapplek te oornag. Die volgende dag maak Dawid Urija besope, maar dit werk ook nie om hom in die bed saam met Batseba te kry nie. Daarop stuur Dawid instruksies na die bevelvoerder, Joab, om Urija in die voorste linie op ‘n gevaarlike plek te laat veg, waar hy verseker sou sterf. Dit is ook wat gebeur.

Die sober vertelling van hierdie  verskriklike gebeure sluit af met ‘n bondige opmerking: “Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here” (2 Sam 11:27).

Konfronteer die koning

Die profeet Natan is onverskrokke. Sy optrede in ons teks is ‘n goeie voorbeeld van John McCain se moed en durf. Konings was nie maklike mense nie, en die lemme het vinnig geflits. Natan neem egter die Here se boodskap eerlik en reguit na Dawid toe.

Natan vertel ‘n gelykenis oor ‘n ryk en ‘n arm man. Die ryk man het troppe vee gehad. Toe hy ‘n besoeker kry, sien hy nie kans om een van sy eie diere te slag nie. Hy vat die arm man se enigste hanslammetjie, wat eintlik soos ‘n kind in die huis was, en slag dié vir sy besoeker.

By die aanhoor hiervan vererg die vurige Dawid hom bloedig. Hy beveel dat die ryk man doodgemaak moet word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.

Hierop volg Natan se reguit woorde aan Dawid: “Jy is die man!” Onverdund en reguit word die Here se klagstaat en die oordeel en straf aan Dawid uitgespel:

  • Hy word herinner aan alles wat die Here vir hom gegee het: beskerming teen Saul, by Saul se dood sy vrouens, asook die koningskap – eers van Juda en toe van die hele Israel. As dit te min was, sê die Here, sou hy Dawid nog enigiets bygee (7-8).
  • Dawid het die woord van die Here geminag deur Urija met die Ammoniete se swaard te laat doodmaak, en toe het hy Urija se vrou vir hom gevat: “Jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het” (9-10).
  • Die swaard het Urija se lewe geneem, en nou sal die swaard ook in Dawid se huis vaardig raak. Daar sal ellende uit Dawid se eie huis oor hom kom (10-11).
Diepste ellende van sonde

Die probleem met die sonde is reeds erg in terme van die effek van die mense wat daardeur geraak word. Dink aan Batseba, Urija, en die ander wat ingespan word om die leuens in stand te hou, bv. Joab.  2 Samuel wys uit dat vier seuns sou sterf as straf vir hierdie onbesonne daad, Batseba se kind, Amnon, Absalom en Adonia. Dawid betaal dus viervoudig, soos hy self voorstel die “ryk man” moet betaal!

Maar die diepste ellende van sonde lê in die minagting van die Here, waarmee sy sorg, beskerming en voorsiening in die wind geslaan word om jou eie, gewoonlik korttermyn, belang te dien. Daaroor is Natan se klagstaat duidelik.

Ons dink baie keer aan Psalm 51 en die vergifnis wat Dawid ontvang het na hy van harte belydenis van sy skuld gedoen het. Maar die tragiese gevolge van sy dade, en die oordeel van die Here wat hom tref, werp ‘n groot skaduwee oor sy hele loopbaan hierna.  Die ligpunt is die intense hertoewyding van Dawid en die geboorte van Salomo, “man van vrede”, of Jedidja, “die Here het hom lief”, soos Dawid hom genoem het.

“Truth to power”

Natan se optrede is ‘n goeie voorbeeld van die spreek van God se waarheid teenoor diegene in gesagsposisies. Gesag en invloed het maniere om die waarheid te begin verdoesel en draai. Daarom is dit so belangrik om waarheid aan mag te bedien.

Ou Testamentikus Walter Brueggemann het ‘n boek geskryf, getiteld: “Truth speaks to power.” In ‘n onderhoud met bekende godsdiensjoernalis Jonathan Merritt laat hy hom as volg uit oor die verhouding tussen waarheid en mag:

Legitieme mag is altyd sensitief vir geregtigheid. Wanneer mag nie aandag gee aan geregtigheid nie, is dit nie volhoubaar nie. Dit is ‘n oproep aan ons om die agenda van geregtigheid teenoor die kwesbares lewendig te hou, en altyd krities en ondersoekend teenoor gesag ingestel te wees.

Merritt vra hom wat die verhouding tussen waarheid en mag is, soos ons dit in die Bybel vind. Brueggemann reageer:

Mag is die kapasiteit om sosiale goedere en sosiale toegang te organiseer en te administreer. Waarheid is die struktuur van die werklikheid, vasgelê in die wese van dinge, wat nie aangetas en vernietig kan word deur ons vermoë om dit te administreer nie. Mag kan soms uitgeoefen word in ooreenstemming met hierdie waarheid. Dikwels word mag verlei om die waarheid geweld aan te doen. Waarheid in die Bybel is nie ‘n klompie stellings nie, maar ‘n netwerk van verhoudings. Dit is verhoudings van waardigheid, welsyn, sekuriteit en respek. Wanneer mag dit aantas, leer diegene wat daardie mag aanwend dat hulle die krag van waarheid nie kan bly weerstaan nie. Dus is die waarheid van God se verbintenis aan goeie, ware verhoudings nie iets wat ooit op die langtermyn ingee nie.

Mag – met hoeveel krag dit ook al kom – sal hom altyd te pletter loop teen God se waarheid. God se waarheid lê in die vesel van die skepping ingebed, en hoe mag ook al misbruik word, sal die wese van die dinge self dit op die ou einde tot ‘n val bring.

Presies Brueggemann se punt word in die twintigste eeu geïllustreer met die val van kommunisme, Nazisme en apartheid – dinge wat die vesel van God se waarheid aantas.

Dieselfde sal ook gebeur met al die leuens oor Nkandla, die verkragting en toesmeer van die waarheid deur die ANC, en die koelbloedige volksmoordenaars in Darfur en ander plekke.

Kies vir die waarheid

Die beste ding wat met mag kan gebeur, is om helder en duidelik aan die waarheid blootgestel te word. Die profeet Natan doen dit vreesloos. Hy is nie ‘n marionet van die koning nie. Hy praat met moed en durf, want die reg is aan sy kant.

Daarmee word ons almal uitgedaag om op elke area van ons lewe die waarheid van God te kies. Ons is geroep om mekaar se laste te dra, mekaar se belange voorop te stel, te dien eerder as om gedien te word, om onsself te ontledig soos Jesus in nederige diens aan ons gedoen het.

Ons het almal mag, ons neem almal besluite wat ander raak. Mag is nie net iets wat die werklike magtiges van die wêreld het nie.

Batseba se moed

Batseba word na die paleis ontbied en deur Dawid se wellus en magsmisbruik ingetrek in ‘n swangerskap waarvoor sy nie gevra het nie. Sy verloor haar man aan die dood. Haar hele lewe verander wanneer sy na die paleis gebring en in die koning se harem opgeneem word.

Dit is maklik om Batseba mis te kyk in die verhaal. Op plekke word sy nie eers by haar naam genoem nie, maar net “Urija se vrou” genoem. Daarby is kerkmense soms geneig om die skuld vir Dawid se verkragting op haar te pak, asof sy iets gedoen het om hom uit te lok. Opvallend blameer die Bybel haar nêrens nie. Net Dawid word aangespreek oor sy skuld.

Tog speel sy ‘n belangrike rol in die ontknoping van die verdere verhaal. Opvallend genoeg lê sy ook baie moed aan die dag.

Wat weet ons van Batseba?

Dalaina May skryf aangrypend op die webblad van The Junia Project oor Batseba. Hier is ‘n opsomming van wat ons oor haar weet:

Hoewel die Bybel nie eksplisiet sê dat Batseba Dawid persoonlik geken het voor sy aanval op haar nie, moes sy iets meer van hom geweet het. Haar pa, Eliam, was een van Dawid se magtige en dapper manne (2 Sam 23:34), net soos haar eggenoot Urija. Urija het trouens saam met Dawid geveg lank voordat Dawid koning was en in ‘n paleis gebly het (2 Sam 23:39).

Dawid was nie die laaste president wat ‘n vriend se dogter swanger gemaak het nie.

Batseba se oupa, Agitofel, was Dawid se hoofraadgewer. Uiteindelik – na hierdie gebeure – het Agitofel Dawid verraai en probeer om sy koningskap omver te gooi deur Dawid se rebelse seun, Absalom, te ondersteun. Hy moedig Absalom aan om die koning se harem (al sy vroue) te vat – waarskynlik omdat hy woedend was oor wat met sy kleindogter, Batseba, en haar man gebeur het.

Hoe goed Batseba Dawid ook al geken het, wanneer sy na die paleis ontbied word, het sy weinig keuse. Sy moet gaan. Sy kon nie weet met watter motief die koning haar laat haal nie. Sy verloor egter haar reg op haar liggaam en haar privaatheid, sy verloor haar man en eventueel ook die kind wat Dawid by haar verwek (2 Sam 12:15-18). Sy is uitgelewer aan die mans in haar lewe. Haar ma kan haar lewe neem as hy van haar swangerskap hoor, en die feit dat dit die koning is wat haar eer aangetas het, maak haar kwesbaar vir sy besluite.

Urija se trou en lojaliteit kos hom sy lewe, omdat hy nie met Dawid se plan saamspeel en by Batseba gaan slaap nie. Batseba het ook nie veel opsies nie. Die enigste woorde uit Batseba se mond in 2 Samuel 11 is “Ek is swanger” (5). Haar belangrikste daad is om oor haar man te treur (26). Sy word na die routyd na die paleis gebring om haar plek in te neem as nog een van Dawid se vroue. Uiteindelik verloor sy ook haar kind wat deur Dawid verwek is.

Batseba se bydrae

Tog is dit op hierdie punt as’t ware of Batseba se bydrae eers werklik begin. God het ook ‘n doel met haar lewe. Sy word weer swanger en gee geboorte aan Salomo, een van Israel se grootste konings. Salomo word die troon na Dawid belowe, maar sy posisie word bedreig deur die interne twis in Dawid se familie soos sy kinders mag probeer inpalm.

Batseba lê die moed aan die dag om met Dawid te gaan praat, en om hom aan sy beloftes te herinner. Haar woorde word deur die profeet Natan bevestig (1 Kon 1:15vv). So verseker Batseba dat haar seun op die troon beland.

Moeder van Salomo

As moeder van koning Salomo sou Batseba ‘n enorme bydrae tot die ongekende voorspoed onder sy bewind lewer. Sy het hom gekroon op sy troudag (Hooglied 3:11), en het ‘n ereposisie in sy troonkamer gekry terwyl hy na haar advies oor sy koninkryk geluister het (1 Kon 2:13-21). Batseba se invloed as moeder, opvoeder en raadgewer het beslag gekry in Salomo se wysheid, soos vasgelê in baie van die Spreuke en ander wysheidsboeke van die Ou Testament.

Een van die merkwaardige tekste in die Ou Testament is Spreuke 31. Hier gee ene koning Lemuel die voorskrifte van sy moeder weer. Indien “koning Lemuel” die skuilnaam van Salomo is, soos sommige meen, het ons Batseba se direkte woorde in Spreuke 31 opgeteken.

Batseba kon gekies het om ‘n slagoffer te wees, en haar lewe in bitterheid en verwyt deur te bring. Sy kon sinies raak en oud voor haar tyd wees. Daarenteen het sy die moed aan die dag gelê om ‘n leier te wees wat vir waarheid kies, te midde van die moeilikste omstandighede.

Batseba het tragedie beleef: verkragting, die moord op haar man, die kind wat sterf, en verlies aan haar huis en familie. Alles vanweë die koning se lus en geslepe optrede. Tog lê sy die moed aan die dag om God te eer, volgens die waarheid te leef en haar wêreld te verander. Sy leer ons dat God nooit beperk word deur die beperkinge wat die samelewing en die magtiges op die geringstes plaas nie.

Moed aan die dag gelê

So verstaan is Dawid se magsmisbruik die toneel waarin ‘n verhaal van moed afspeel:

  • Natan se moed om die koning te konfronteer met God se waarheid
  • Batseba se moed om vir lewe, wysheid en vir haar seun, Salomo, te kies
  • Uiteindelik ook Dawid se moed om sy skuld te bely en die slagoffer van sy misbruik te versorg.
Oor mag nagedink

Ons teks help ons om na te dink oor hoe mag in die wêreld aangewend word, op ons kontinent en ook in ons land. Suid-Afrika en sy mense is die slagoffers van kolonialisme, van ekonomiese ontworteling (dink aan trekarbeid), van verwoestende oorloë (dink aan 1899-1902), van verarming, van twee Westerse wêreldoorloë wat ons land nie verbygegaan het nie, van apartheid en van die huidige ondermyning van demokratiese instellings en die regbank, asook plundering van staatsbronne wat oënskynlik oral rondom ons gebeur.

Ons moet ook aan die seksuele misbruik van vroue, kinders en ook mans, aandag gee. Dink aan mensehandel, dikwels juis met die oog op geldmaak uit seksualiteit. Dink aan die feit dat die meeste vroue verkrag word deur mense wat hulle ken, soos in ons teks. Wat kan ons, en ons gemeente, hieraan doen?

Wat sê ons teks oor hierdie magsmisbruik? Waartoe word ons geroep?

Ons teks daag ons ook uit om diep na te dink oor ons eie aanwending van mag. Hoe hanteer ons die mense wat in ons teenwoordigheid weerloos is? Dink aan ons kinders, ons werkers, ons maats by die skool, kollegas by die werk, ons eggenotes. Hoe hanteer ons die wat minder mag as ons het? En die wat meer mag as ons het?

Wat sê ons teks oor mense wat sondig, en dan alles moontlik doen om dit weg te steek. Selfs moord pleeg? Hoe dink God hieroor, en wat roep God ons om daaraan te doen?

Hierdie verhaal vertel ‘n baie ou geskiedenis. Dawid het meer as 3,000 jaar gelede geleef. En tog is die verhaal so vars soos vanoggend se koerant.

Hoe meer ons die onreg rondom ons raaksien, hoe meer daag ons teks ons uit om God raak te sien, en volgens God se waarheid te bly leef.
Hoeveel moed het ons?

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Seën
18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. (Efesiërs 3)
of
Die Here sal julle seën en julle oppas.
Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.
Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.
(Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.