Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Josua 24:1-3a, 14-25; Psalm 78:1-7; Matteus 25:1-13

Fokusteks

1 Tessalonisense 4:13-18
13 Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie.

14 Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

15 Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie.

16 Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan;

17 daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.

18 Troos mekaar dan met hierdie woorde.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die Here gaan ons inlei in geheimenisse uit die verre verlede.
Wat ons gehoor het en wat ons weet,
wat ons vaders ons vertel het,
sal ons vir ons kinders nie verswyg nie (uit Ps 78:2b-4a).

Seëngroet
Christus is ons vrede. Hy het ons met God versoen.
Deur die kruis is ons een liggaam.
Ons vergader in sy naam, en deel in sy vrede.

Liedere

Lof: Liedboek 475

God praat met ons en ons luister

Verootmoediging
“As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh 1:8-9).

Lied: Liedboek 509: 1 en 14

Familie-oomblik

‘n Kaartjie om te vlieg

Teks: 1 Tessalonisense 4:15-18; Matteus 24:31; 1 Korintiërs 15:51-53

Hulpmiddel/rekwisiet: ‘n Vliegkaartjie.

Wanneer Jesus weer kom, sê die Bybel, sal al die mense wat in Hom glo, Hom in die lug ontmoet.
Kyk wat ek vandag saamgebring het. Dit is ‘n vliegkaartjie. Wie van julle het al in ‘n vliegtuig gevlieg? Om in ‘n vliegtuig te ry moet ‘n mens eers ‘n kaartjie koop. Nadat die vliegtuig opgestyg het, klim dit al hoër en hoër totdat dit deur die wolke gaan. Dan vlieg ‘n mens bokant die wolke. As ‘n mens op ‘n bewolkte dag – wanneer daar geen son skyn nie – deur die wolke vlieg, sien jy skielik die son wat helder bokant die wolke skyn. Wanneer jy bokant die wolke vlieg en by die vliegtuig se venster uitkyk, sien jy die wolke onder jou. Dit lyk soos ‘n see met sagte malvalekkers (“marsh mallows”). Dit is baie mooi om dit te sien.

Nou ons is nie arende nie en ons het ook nie vlerke om te vlieg nie. Ons kan nie deur die lug vlieg soos Peter Pan/Harry Potter/liewe Heksie/Superman/ nie. Maar het julle geweet dat die Bybel sê dat ons vir Jesus gaan ontmoet, en dat dit net so wonderlik sal wees soos om vanuit die vliegtuig die wolke te sien (lees 1 Tessalonisense 4:15-17)?. Die Bybel sê dat elkeen wat reeds doodgegaan het en Jesus as hulle Saligmaker aangeneem het, sal eerste weer lewend gemaak word, en dan sal almal wat nog lewe en in Jesus glo, vir Jesus ontmoet!

Jesus self het gepraat van die dag wanneer Hy sal terugkom van die hemel af om ons te kom haal. Hy het hieroor in Matteus 24:31 gepraat: “… en Hy sal sy engele uitstuur om sy verkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.” Maar dit is nie al nie. Die Bybel sê dat wanneer dit gebeur, sal ons ‘n nuwe liggaam/lyf kry. Dit sal nie van vleis en bloed wees nie, maar ‘n geestelike liggaam wat vir altyd en altyd sal wees (lees 1 Korintiërs 15:51-53).

Kan julle julle oë vinnig knip? Maar rêrig vinnig? Kom ons probeer. (Laat die kinders hulle oë so vinnig as wat hulle kan knip). Ek dink dit sal nog vinniger as ‘n oomblik wees. Dit gaan net so wees (klap jou vingers), so vinnig gaan Jesus ons liggame verander. Ons nuwe liggaam sal nie oud word of doodgaan nie.

Wanneer gaan dit alles gebeur?
Ek weet nie. Dit kan enige oomblik wees. Net die Here weet wanneer, op watter uur en minuut Hy Jesus sal stuur om ons te ontmoet. Dit gaan sekerlik gebeur. Al wat jy nodig het, is ‘n vliegkaartjie vir die beste rit/vlug van jou lewe.

En hoe kry ‘n mens dié kaartjie?
Vra vir Jesus om jou vriend te wees. Hy het reeds vir die vliegkaartjie betaal. Hy het aan die kruis gesterf en drie dae later het Hy opgestaan. Hy is die Seun van God en Hy leef vir altyd. Eendag kom Hy terug. Maak seker Jesus is jou Vriend! Dan is jy verseker dat jy ‘n kaartjie het om Jesus te ontmoet!

Preekriglyn

Die bekende Hollandse teoloog Arnold van Ruler het oor die aangrypende hoofstuk in 1 Korintiërs wat ook oor die dood gaan (1 Kor 15), gesê dat die dood ‘n saak is waaroor mense nie graag dink of praat nie. Wanneer jy so ongeveer 40 jaar oud is, begin jy aan die einde dink. Vóór dit, in jou jong jare, moet jy eers die lewe bemeester. Daarná kom jy voor die vraag te staan hoe jy die dood sal aanvaar.

Volgens Van Ruler is dit nou eenmaal ‘n vreemde ding dat ons ‘n begin en ‘n einde het. Daar was ‘n tyd toe ons nog nie bestaan het nie. Daar sal ook weer ‘n tyd wees dat ons nie meer sal bestaan nie.
Met die eerste het ons gewoonlik nie so baie moeite nie.

Dit is met die tweede, die feit dat ons ‘n einde het, wat die meeste van ons probleme het. Dit is veral die vreemde eindigheid en tydelikheid van ons bestaan wat ons pynlik beleef, wanneer ons aan die einde dink en besef dat ons eenmaal moet sterf, dat ons lewe tóg uiteindelik sal ophou. Wat is nou die sin dáárvan?

Van Ruler is reg. Dit ís mos so dat ‘n mens in sekere fases van jou lewe méér dikwels aan die dood dink, wanneer jou kragte ál hoe minder word en die besoeke aan die dokter en die hospitaal ál meer. Wanneer jy ‘n begrafnisdiens bywoon en afskeid neem van ‘n familielid of vriend wat die grens na “die anderkant” oorgesteek het. Sulke dinge herinner jou daaraan dat jou lewe ook êrens ‘n grens het. Wat jou betref, sal daar ook eenmaal ‘n streep getrek word. Soos die miljarde mense vóór jou, sal jy “die laaste vyand”, soos die Bybel dit noem, moet aandurf.

Hierdie bewuswording van jou eie tydelikheid is nie die uitsluitlike ervaring van die 40-plussers nie. Dit is ‘n universele bewuswording. Dit kom onder alle mense voor, van alle range, stande en ouderdomme. Ook kinders kom met hierdie vrae: “Mamma, sal ons ook eendag doodgaan? Sal Mamma ook eendag doodgaan?” En dan die onvermydelike vraag: “Mamma, wáárom moet mense doodgaan?” Daar is die kindergebed wat een outjie gebid het: “Here, in plaas daarvan om die ou mense te laat doodgaan en elke keer weer nuwes te maak, waarom hou U nie maar sommer net die oues nie?”

Waarom moet mense doodgaan?
Hierdie vraag kan ‘n mens nie omseil nie, en móét ons ook nie omseil nie. Die digter van Psalm 90 bid dat ons tog geleer sal word om reg hieroor te dink, dat ons ons dae wat getel is, só sal gebruik dat ons wys mag word, dat ons getroos mag lewe en uiteindelik sterwe …

In die Tessalonisense-brief tref ons hierdie onseker en troostelose groepie nuwe Christene aan. Dit is ironies, want hulle is nou juis mense wat nie onseker en ongetroos hóéf te wees nie. Hulle is ‘n gemeente wat op Paulus se tweede sendingreis tot stand gekom het, aan wie die evangelie van Jesus Christus en sy opstanding uit die dood verkondig is, en wat “volgelinge van die Here geword het.” Hierdie nuwe Christene het in baie moeilike omstandighede “die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom” (1 Tess 1:6). Daarná het Timoteus hulle gaan besoek. Hierdie brief van Paulus aan hulle is die direkte gevolg van Timoteus se verslag oor hulle.

Die dood was deel van die gewone lewe van hierdie groepie Christene in Tessalonika. Hulle het ook geliefdes aan die dood afgestaan en begrafnis gehou. Dit was alles deel van menswees. Maar toe kom Paulus in hulle lewe en verkondig aan hulle ‘n evangelie wat hulle lewe verander. Hulle word gelowig en volgelinge van Jesus Christus wat uit die dood opgewek is. Sáám met hierdie evangelie van die gestorwe en opgestane Jesus, ontvang hulle ook ‘n nuwe perspektief op die dood.

Hulle het nou die perspektief dat die dood nie meer die laaste vyand is wat oorwin moet word nie, die dood ís reeds oorwin. Jesus se opstanding uit die dood is die waarborg dat God sterker is as die dood, dat Hy reeds die dood se angel getrek het. God het reeds die eerste skuif gemaak wat die dood in ‘n skaakmatposisie plaas. Jesus se opstanding het aan hierdie Tessalonisense ‘n opstandingsgeloof gegee. (Vergelyk LIG Augustus 2011 vir ‘n aangrypende artikel oor die effek van die dood op die opstandingsgeloof van ‘n gemeenskap.)

Maar ongelukkig het daar ‘n kortsluiting in hulle verstaan van die dood en die opstanding gekom. Iewers het ‘n denkfout by hulle posgevat. Die een denkfout het tot die volgende gelei.

Die Tessalonisense het verkeerdelik gedink dat Jesus se terugkeer baie gou sou plaasvind. Toe van die gelowiges begin doodgaan, was dit vir hulle ‘n probleem. Hulle het gewonder of hierdie dooies die terugkeer van Jesus gevolglik gaan misloop.

Die manier waarop die Tessalonisense oor hulle dooies getreur het, wys dat hulle ook gedink het dat die dood ‘n finale skeiding bring. Skielik het die dood vir hulle méér as normaalweg ‘n saak geword om oor na te dink.

Kenners wys daarop dat die wederkoms van Christus sentraal gestaan het in die eerste-eeuse Christene se gedagtes. Dit was vir dié Tessalonisense moeilik om aan die spanning van die botsing tussen geloof van die wederkoms en die werklikheid van vervolging, alledaagse versoekings en die vyandigheid van die omliggende kultuur vas te hou. Twyfel en verwarring oor die Christelike geloof het die gemeentes begin binnegedring, veral onder die jonger bekeerlinge.

Dit is duidelik dat hierdie Christene wou weet hoe Jesus se wederkoms diegene wat reeds gesterf het, sou raak. Sou hulle dood hulle op die een of ander manier tot ‘n hindernis of nadeel wees? Sou hulle wat nog lewe, ‘n voordeel hê bokant diegene wat reeds gesterf het?

Daarom Paulus se opmerking dat hy nie wil hê dat hulle onkundig moet wees nie. Hy wil hulle inlig oor die posisie van die afgestorwenes, sodat hulle wat nog in die lewe is nie dalk verkeerd treur nie – asof hulle geen hoop en toekomsverwagting het nie.

In Korinte het ‘n soortgelyke dilemma by Christene oor die dood ontstaan.
Die Korintiese Christene het begin reken dat daar geen verband tussen Jesus se opstanding en hulle eie opstanding was nie. Hulle het begin dink dat Jesus se opstanding geen implikasies, geen nut en geen vrug vir hulle eie opstanding as mense het nie.

“Ja, Jesus het opgestaan. Maar wat daarvandaan?” het hulle geredeneer – “ons moet immers nog steeds sterf!”

Gevolglik was dit nie vreemd dat sommige Christene in Korinte hulle troos begin soek het in dít wat die lewe vóór die dood bied nie. Van hulle het begin sê: Laat ons dan maar die beste maak van elke oomblik van ons kort tydspan hier op aarde; laat ons na die plesier van elke uur gryp. “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons!” (1 Kor 15:32).

Hier in Tessalonika, in teenstelling met Korinte se plesiersoekery, het ‘n weemoed en ‘n hartseer die nuwe Christene oorval. Hulle het ook nie die volle implikasies van Jesus se opstanding begryp en in hulle lewe toegepas nie. Hulle het nog nie die opstandingsgeloof reg verstaan nie. Daarom het hulle het soos die ander nie-gelowiges óm hulle geword. Hulle het getreur soos mense sonder hoop. Hulle het begin glo medegelowiges wat reeds intussen gesterf het, het géén deel aan die wederkoms en opstanding nie.

Die kennis wat Paulus vir dié nuwe Christene aanbied, is die geloof dat Jesus gesterf en opgestaan het. Dít is die grond van hulle troos, hoop en toekomsverwagting. Dít is die grond waarin die opstanding van alle gelowiges anker.

Daarmee saam gaan ‘n tweede belangrike element, spesifiek met betrekking tot die mense wat gesterf het terwyl hulle in Jesus Christus geglo het: God sal sáám met Jesus die ontslapenes na Hom toe neem. Die gelowige Tessalonisense wat gesterf het, is veilig en geborge in Jesus. Hulle het ‘n vaste bestemming ná hierdie lewe.

Paulus wys hulle daarop dat geen onderskeid gemaak sal word tussen hulle wat reeds gesterf het en hulle wat nog lewe nie. Albei groepe, gestorwenes en lewendes, het dieselfde eindbestemming en status by God. Diegene wat nog lewe wanneer die “trompet van God weerklink”, sal geen voordeel of voorrang hê bo diegene wat reeds gesterf het nie.

In vers 16 en 17 beskryf Paulus hoe hy die gebeure aan die einde van die tyd voorsien. Sy beskrywing van die eindtyd stem ooreen met die aankoms van ‘n vooraanstaande heerser of aanvoerder in ‘n Grieks-Romeinse dorp of stad.

Die aankondiging van die oomblik van Jesus se wederkoms sal gepaard gaan met ‘n bevel, die stem van die aartsengel en die trompet van God wat weerklink. Dit is ‘n verbeeldingryke, apokaliptiese taal om ‘n gebeurtenis te beskrywe wat ons verstand te bowe gaan. Wanneer dít gebeur, sal diegene wat in Christus gesterf het eerste uit die dood opstaan. Daarná sal dié wat lewe met hulle verenig en “saam op die wolke” weggevoer word – ‘n blye “reünie in die wolke”, kan ‘n mens maar sê.

Hier is ‘n pastorale valstrik in die openingsvers van die gedeelte wat ons gelees het. As ‘n mens dit verkeerd lees of hoor, kan dit jou aanmoedig om skuldig te voel wanneer jy treur. Dit kan klink asof Paulus van mening is: “Mense met hoop, treur nie.”

Regtig? Die teks praat egter daarvan om in staat te wees om te treur – met hoop en nie met ‘n hooploosheid nie. Hoop beteken nie dat ons nie onder verlies ly nie, dat ons nie ons geliefdes verskriklik mis nie, dat ons nie ook deur dele van Getsemane gaan of soms selfs soos Job op die ashoop sit nie.

Dit is belangrik om hierdie pastorale strik te hanteer, want baie Christene sit gereed om hulleself te verkwalik dat hulle hoegenaamd oor hulle verliese treur. Ander het al baie gely onder die naïewe prentjie van “vrolike” Christene. Dit is noodsaaklik dat ons hartseer en pyn in die oë kyk, ons eie en die wêreld s’n. Ons beteken nie veel óf vir onsself óf vir die wêreld as ons in ‘n kunsmatig-opgesmukte ontkenning leef nie. Laat ons treur wanneer ons moet treur!

Paulus se lewe het gewys dat hy nie maar asem opgehou het om die pyn van die lewe te ontsnap nie. Inteendeel – hy hom geïdentifiseer met dié Een wat volledig in die pyn van die lewe ingetree en sy lewe gegee het – en wat sy lewe gevind het – tot die voordeel van almal.

Hoe treur mense wat hoop het?
Nicholas Wolterstorff se boek Lament for a son is waardevolle leesstof. Ná sy seun se dood het hy gedink dat hy vir die res van sy lewe deur trane na die wêreld sal kyk.

“Miskien sal ek dinge sien wat ek met droë oë nie kon sien nie,” het hy geoordeel. “Jesus het gesê: Geseënd is dié wat treur,” skryf Wolterstorff. Vir hom is diegene wat treur mense wat iets van God se nuwe dag raaksien, wat met hulle hele wese daarna hunker dat dit moet kom – en wat in trane uitbars wanneer dit nog nie gebeur het … Diegene wat treur, is hunkerende vérsiendes.

Jesus se boodskap weerklink vandag nog: Wees oop vir die wonde van die wêreld. Treur omdat die mensdom treur, huil omdat die mensdom huil, word self verwond deur die wonde van die wêreld. Beleef ‘n doodsangs omdat die wêreld in ‘n doodsangs is. Maar … doen dit met ‘n opgeruimdheid dat ‘n dag van vrede sal aanbreek!

Wat doen diegene wat met hoop treur terwyl hulle wag dat die dag van vrede aanbreek? Hulle treur – en wanneer hulle treur, kom hulle nader aan God wat óók treur. Deur trane heen verstaan hulle die bufferplakker wat ‘n mens soms sien: “Jesus is coming – look busy.”

Die wederkoms onthef ons nie van ons verantwoordelikheid hier op die vaste grond nie. Ons hoor van oorloë en gerugte van oorloë. In plaas daarvan om saam met fanatiese wederkomsvoorspellers die dag en datum haarfyn aan te wys, bid ons, protesteer ons teen onreg en beywer ons ons vir vrede.

Ons hoor van armoede en ‘n vigspandemie – maar ongelukkig skeel dit ons min.

Volgelinge van Jesus sê nie: “Ag, moenie moeite doen nie, Jesus kom binnekort.”

Volgelinge van Jesus sê wel: “Jesus kom weer, laat ons daarom armoede uitwis, laat ons die vigspandemie omkeer, laat ons die wonde en doodsangs van die wêreld heel.”

Ons treur soos diegene met hoop.
Om te treur, ontlok ‘n heldhaftige en hoopvolle betrokkenheid by die wêreld en omgewing waarin ons leef. Ons treur nie soos die ander in Tessalonika wat geen hoop gehad het nie.

Ja, Jesus kom weer!
Moenie besig lyk nie, wéés besig – besig om te treur en besig om te werk – innerlik opgewonde dat die opgestane Jesus ons en hulle wat ons reeds vooruit gegaan het, sáám met Hom na ‘n reünie sal neem, die Here tegemoet!
“Troos mekaar dan met hierdie woorde” (vers 18).
Amen.

Gebed
Here, God van lewe!
Dankie dat U
uit die troosteloosste plek van almal, die graf,
die gróótste troos van almal, die lewe,
kom skep het.
Here Jesus,
U is my lewe,U is my troos,
U alleen!

God stuur ons om te leef

Lied: Liedboek 492

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.