This content is only available to members.
Bybelgesprek
-
Druk afdeling
Lees Handelinge 11:19-30.
Barnabas was ’n dienskneg-leier
As ’n mens aan die bekendste kerkleiers in die Nuwe Testament dink, kom name soos Petrus, Paulus en Johannes eerste op. Eers wanneer ’n mens dieper snuffel, word ’n minder bekende kolos in die vroeë kerk, Barnabas, raakgelees waaroor minder geskryf is en na wie geen Bybelboek vernoem is nie. Lukas het boonop nie sy preke en lering so volledig soos Paulus s’n opgeskryf nie. Barnabas was ’n verskilmaker wat nie vir die skare gespeel het nie. Kevin Halloran noem hom een van die Bybel se “hidden gems”.
Daar was lank gelede pogings om meer erkenning aan Barnabas te gee. Tertullianus (155-220 nC) het gereken Barnabas het die boek Hebreërs geskryf. Die apokriewe boek van Klemens het gemeen Barnabas is dieselfde persoon as Mattias wat in Handelinge 1 in Judas Iskariot se plek gekies is. In die tweede eeu nC was daar ’n Brief van Barnabas in omloop wat gewild was en ernstig oorweeg is om in die Bybel opgeneem te word. Daar was selfs ’n Handelinge van Barnabas en ’n Evangelie van Barnabas. Maar “all of these are most unlikely”, skryf Halloran oor die egtheid van outeurskap van dié geskrifte.
Barnabas se diensgerigtheid-rekord in Jerusalem was so onbesproke dat hy op ’n drafstap ’n opspraakwekkende en verdagte man met die naam Paulus aan die leiers kon gaan voorstel ná Paulus se Damaskus-wedervarings. Barnabas het sy welsprekendheid, inbors, waagmoed en deursigtigheid nie as deugde net vir homself gebruik nie. Hy het dit ingespan om namens Paulus te praat en vir hom in die bresse te tree in Jerusalem onder die gelowiges wat meestal niks van hom wou weet nie.
Lukas het dikwels ’n bekende frase in Handelinge gebruik wanneer hy oor inspirerende kerkleiers gepraat het, naamlik “vol van die Heilige Gees”. Paulus (Hand 13:9), Petrus (4:8), die eerste sewe diakens – Stefanus, Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus – (6:5) en Barnabas (11:24) was vol van die Heilige Gees. Van die Antiogië-gemeente in Pisidië skryf Lukas dat hulle “vol blydskap” en natuurlik “vol van die Heilige Gees” was (13:52).
Lukas maak in Handelinge twee duidelike punte oor die Heilige Gees: (a) Dit is Jesus se Gees (16:7) en (b) Hy gee sy Gees vir sy kerk om hulle met ’n duidelike diensgerigte, gestuurde roeping besig te hou (2:17-18). Om vol van die Heilige Gees te wees, was vir Lukas om pens en pootjies aan die Here te behoort en, soos Jesus, op ’n dienskneg-manier in sy koninkryk te dien (Fil 2:5-8).
Jesus se volgelinge is tydens Barnabas se eerste periode in Antiogië (Hand 11:26) vir die eerste keer deur die buitestanders “Christene” (Christianoi) genoem. Oor hierdie gemeente in Antiogië (in Sirië) lees ons dat “’n aansienlike groep mense” tot geloof gekom het (Hand 11:24). Barnabas en Paulus se selflose toewyding aan hulle roeping het duidelik hulle bediening in Antiogië laat groei en ’n merkbare impak gemaak:
- Die gelowiges in die gemeente het so uitgestaan en saamgestaan dat hulle die naam “Christene” of “die Christus-klomp” gekry het.
- Die gemeente het verstaan dat die Here Jesus hulle hoof is, die Een op wie hulle moes vertrou en aan wie hulle gehoorsaam moes wees; daarom kon hulle vir Barnabas en Paulus op uitreike stuur en vir lang tye sonder hulle regkom.
- Die gemeente het vir Barnabas en Paulus as ’n goeie span beskou en hulle genoeg vertrou sodat hulle die geld wat vir Jerusalem ingesamel is, soontoe kon neem en uitsluitsel kon gaan kry oor die kwessie van die besnydenis van heidene, al dan nie.
- Die gemeente het duidelik in Paulus en Barnabas se offervaardige voorbeeld ingekoop, anders sou hulle die ingesamelde geld vir hulleself wou hou omdat ’n hongersnood die hele wêreld sou tref (Hand 11:28).
- Paulus het onder sy mentor, Barnabas, tot ’n gesoute kerkleier gegroei, want Paulus skryf in Galasiërs 1 en 2 oor hulle besoek aan Jerusalem waartydens hy as gesprekleier en redenaar na vore getree het. Hy moes twisgesprekke met die leiers in Jerusalem voer oor “die waarheid van die evangelie” (Gal 2:5).
- Die gemeente het hulleself as ’n gestuurde én stuurdergemeente onder die Heilige Gees se leiding beskou, want ons lees in Handelinge 13:3-4: “Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan. So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees uitgestuur.”
- Die gemeente het van die begin af Jesus se fokus op diversiteit en die insluiting van almal gekoester. Ons lees in Handelinge 11:19 dat die vlugtende Jode uit Jerusalem “die woord aan niemand anders as net aan Jode verkondig [het] nie”. Hierteenoor het die Antiogië-gemeente onder aanvoering van gelowiges uit Sirene en Siprus “ook aan die Griekssprekendes die evangelie … verkondig” (11:20). Die gevolg was dat “die Here … die gelowiges gehelp [het], sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het” (11:21). Die eenstemmigheid tussen Paulus se roeping om onder die heidennasies te werk (9:15), Barnabas se gestuurdheid na almal, en die gemeente in Antiogië se evangelisasierekord (ook onder die heidene), spreek boekdele oor hulle gestuurde-dienskneg-benadering.
Dit lyk asof die selflose, diensgerigte manier waarvolgens Paulus geleef en sendingwerk gedoen het, afskrifte uit Barnabas se leierskapsboek kon wees. In 1 Korintiërs 9 reageer Paulus (omtrent sewe jaar nadat hy en Barnabas op hulle eerste sendingreis was) op die Korinte-gemeente se klagtes oor hulle apostelskap. Paulus het toe sy oudleermeester, Barnabas, se riglyn vir sy antwoord gebruik: “Of is dit net ek en Barnabas wat nie die reg het om op te hou met die handearbeid vir eie onderhoud nie?” (1 Kor 9:6). Hierdie opmerking wys duidelik dat Barnabas ’n dinamiese stempel op Paulus se voorspoedlose manier van dien en sy verstaan van hulle roeping afgedruk het.
Gedig
-
Druk afdeling
Lees hierdie gedig. Dagdroom oor wat jy dink iemand wat jou goed ken oor jou diens aan die Here en ander mense sou skryf.
Barnabas het gedien
hy kon dien
ander bo hom sien
homself min gegun
elke dag so begin
vir Paulus opgetel
oor hom goeie goed vertel
Paulus was gevrees
sy reputasie help genees
vir ander ingetree
lojaliteit bly gee
saamgestaan
saamgegaan
vir Markus terug laat gaan
by Paulus vas bly staan
toe met Markus saamgereis
vir Paulus, Silas saam laat spys
geluister na die Gees
seker bang gewees
self leeg, selfloos
dikwels tweede, dikwels broos
soos voetewas
by sy Meester pas
het hy gedy
en soos ’n helptrokkie rondgery
Inspirasiestories
-
Druk afdeling
’n Uitreikgroep na Jordanië vertel van ’n aandoenlike oomblik wat afgespeel het tydens hulle gesprekke met vlugtelinggesinne en kerkleiers uit Jordanië, Sirië en Irak. Die verhale oor die geweld, hartelose booshede, doodsangs en onmenslike vrese wat hierdie Midde-Oosterlinge beleef het, is hartverskeurend.
Een middag het een van die uitreikgroep se lede vir die vlugtelinge gevra: “As julle bid, wat vra julle vir die Here?” Die reaksie, ná ’n paar oomblikke se stilte, was so swaar gelaai met diensgerigtheid, selflose vergifnis, gestuurdheid en oorgawe dat daar min droë oë onder die uitreiklede was.
Die antwoord was: “Forgive me if there is anything wrong I have done. Help all the poor people. Help all those suffering from illness and poverty. And never let my enemy see what I saw when women and children left home in fear in the middle of the night.”
Kan jy dit glo? ’n Gebed wat niks vir hulleself vra nie, maar omsien en uitreik na ander sukkelendes, armes en siekes. ’n Gebed wat voorbidding doen vir hulle wrede vyande. ’n Gebed wat met persoonlike skuldbelydenis begin. ’n Gebed van diensbaarheid en oorgawe al leef hulle daagliks in doodsgevaar.
__________________________
Yasin Sarayrah het navorsing oor diensgerigte leierskap onder nomadiese Bedoeïenvolke in die woestyn gedoen. Sy bevindings was verstommend. Die leierskapstyle wat hy waargeneem het, lyk soos beskrywings van Barnabas se leierseienskappe. Of soos ’n verduideliking van Paulus se vrug van die Heilige Gees in Galasiërs 5.
Hy het gevind dat die volgende eienskappe die onderbou van diensgerigte leierskap onder die trekgemeenskappe in die MENA- (Midde-Ooste en Noord-Afrika) woestyne uitmaak (hy noem dit die “key attributes of a servant leader”):
- respek vir ander
- deernis
- vriendelikheid
- eerlikheid
- integriteit
- billikheid
- regverdigheid
- vrygewigheid
- nederigheid
- beskeidenheid
- geduld
- vergewensgesindheid
- dapperheid
- wysheid
- versorgend optree
’n Redelik ooreenstemmende perspektief uit die Weste onderstreep ’n paar Bybelse waardes. Donald Zauderer, ’n Amerikaanse leierskap-ghoeroe, het bevind dat die suksesvolste basketbalafrigters in die VSA almal oor die volgende vyf leierseienskappe beskik het:
- moed of dapperheid
- nederigheid
- versorging
- eerlikheid
- vrygewigheid
John Barbuto en Daniel Wheeler het uit ’n steekproef van 80 leiers en 388 aanlyn respondente in die VSA tot die gevolgtrekking gekom dat wysheid die hoeksteen van diensgerigte leierskap is.
Barnabas se leierskapstyl en sy geloofsverstaan in navolging van Jesus het baie lank voor die leierskapsteorieë wat hierbo gepubliseer is, reeds gewys dat as jy die Here liefhet dit nie anders kan wees as dat jy ander mense so lief soos jouself het nie (Matt 22:37-40).
Van kennis na wysheid
-
Druk afdeling
The Gospel can be summed up in the saying that Jesus Christ has “turned the world upside down” (Acts 17:6). According to everything He had to say on the subject, the kingdom of God is a topsy-turvy place where the first are last and the last are first (Matthew 19:30). It’s a place where the poor are rich (Luke 1:53), the foolish wise (I Corinthians 1:25), and the weak strong (II Corinthians 12:9). Little children and beggars are kings and lords in this strange new world (Luke 9:48; 16:25). Death and failure are the paths to victory(Matthew 16:25).
– Jim Ware
Barnabas se rekord van dienskneg-leierskap herinner aan Paulus se gedig oor Jesus se diensgerigte leierskap in Filippense 2:6-7: “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.”
Dienskneg-leierskap is die teenpool van die meeste ander variasies van leierskap. Dit is baie anders as magtige outokratiese of demokratiese leierskap. Dit verskil hemelsbreed van politieke leierskap, want politieke leiers moet stemme en gewildheid vir hulleself opstapel. Die hele wêreld behoort Christokratiese leiers te hê. Leierskap moenie op mag of beheer gebaseer wees nie. Jesus het ’n weersin gehad in invloedrykes wat hom en sy koninkryk met ’n emperor van ’n empire verwar het.
Toe Jesus sy dissipels van leierskap probeer leer het, het Hy soos ’n slaaf ’n handdoek geneem en hulle voete begin was. Toe sy koningskap duidelik begin deurbreek het, was daar aan sy regterhand nie ’n magtige generaal nie, maar ’n weerlose misdadiger.
Toe Jesus ná sy opstanding vir Petrus in Johannes 21 as sy hoofleier ingehuldig het, wou Hy oor een ding doodseker maak: of Petrus Hom baie liefhet. Nie of hy sterk genoeg gaan wees en of hy mense op hulle plekke kan sit in vergaderings nie. Die gesprek het ’n ander toonaard gehad – Petrus moes beheer weggee en versorgend liefhê:
- Gaan sorg vir my skape (21:16-17)
- Jy sal geneem word na waar jy nie wil wees nie (21:18)
- Volg My (21:19).
Jon Bloom gee vyf betekenisvolle riglyne wat dienskneg-leiers moet nastreef:
- Diensgerigte leiers verheerlik nie hulleself nie, maar vir Jesus (Joh 7:18).
- Diensgerigte leiers offer op ter wille van die welstand en vreugde van spanmaats en mense rondom hulle (Fil 1:25).
- Diensgerigte leiers sal voorregte en partytjies opgee ter wille van ander mense se geloof in Jesus (1 Kor 9:9).
- Diensgerigte leiers is nie begaan oor gewildheid, likes, erkenning of komplimente nie (Joh 3:27-30).
- Diensgerigte leiers aanvaar die dood gelate en blymoedig (2 Tim 4:7-8).
Om in die geloofsgewoonte van dienskneg-leierskap te probeer ingroei en dit in te oefen, kan jy die volgende vrae in jou hart rondrol:
- Wat verhinder jou om aandagtiger na mense te luister en nie vir hulle raad te gee of hulle reg te help nie?
- Hoe kan jy dit meer geniet om skottelgoed te was en bed op te maak?
- Hoe kan jy ander mense meer spesiaal laat voel in jou geselskap?
- Hoe kan jy elkeen se verstaan van sake en almal se bydraes ewe waardevol opweeg wanneer besluite geneem word?
Groot woorde
Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien.”
– Lukas 22:25-26
Vir kleingroepe om saam te gesels
-
Druk afdeling
Hierdie week se tema uit Barnabas se lewe is sy dienskneg-leierskap. Die ultimate Dienskneg-leier van alle tye is natuurlik Jesus Christus.
- Gesels saam oor die volgende vrae. Onthou om vir mekaar om te gee terwyl julle luister en gesels.
- Hoeveel verskillende soorte leierskap kan julle opnoem. Watter soort leierskap is vir jou die afskuwelikste? Watter soort leierskap is die doeltreffendste?
- Leiersaanstellings word meestal met toekennings of as prestasies vereer. Wie van julle was op skool deel van die leerlingraad, ’n kaptein van ’n sportspan of het ’n akademiese toekenning ontvang?
- Wat gaan deur jou gedagtes wanneer jy Jesus se diensrekord in Filippense 2:5-8 lees?
- Weet julle van ’n leier wat ’n versorgingsrol eerder as ’n dominerende rol ingeneem het? Wie was dit?
- Lees ’n paar keer as groep die volgende vers deur (gebruik verskillende vertalings indien moontlik):
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
– Lukas 10:27 - Maak tyd vir gebede.
Kunswaardering
-
Druk afdeling
He Qi (gebore 1951) het in China grootgeword tydens die Kulturele Revolusie vanaf 1966 tot 1976. Hy het as kind kunsklasse geneem en begin om Mao-portrette te teken, want anders moes hy handearbeid op die ryslande gaan verrig.
He Qi, “The Good Samaritan”
- Wat val julle op in He Qi se kontemporêre uitbeelding van die barmhartige Samaritaan?
- Wie dink julle is die twee karakters in die verte – die een tussen die donkie se ore en die een langs die donkie se regtervoorbeen?
__________________________
Maria Magdalena Oosthuizen skryf oor haarself: “Born in Paarl, raised mostly in Gauteng, currently residing in Mossel Bay: I believe my highest calling in life is my relationship with God, my husband, my children and with all people … I am inspired by God for He is the creator of all beautiful things. He called me for His purpose and in obedience and love of art, I paint with all I am to worship Him.”
Maria Magdalena Oosthuizen, “Servant Heart”
- Wat dink julle van Maria se meer realistiese kunswerk?
- Kan iemand die teks op die skildery uitmaak?
Kindertyd
-
Druk afdeling
Uitkoms van die aanbieding
Jesus is ons heel beste voorbeeld van omgee en liefde.
Bybelverhaal
Lukas 10:25-37 (Die barmhartige Samaritaan)
Memoriseervers
Lukas 10:27
Inleiding
As ’n mens so na die wêreld en sy mense kyk, kry jy nogal die gevoel dat die meeste mense nie regtig baie vir ander omgee nie. En op die nuus sien en hoor ’n mens dikwels hoe mense mekaar seermaak. Elkeen doen net sy eie ding en leef net vir hom- of haarself.
Maar dit is nie hoe Jesus was nie. Jesus het altyd baie vir mense omgegee. Hy het vir honger mense kos gegee. Hy het siek mense gesond gemaak en gestremde mense normaal laat beweeg. Hy het blinde mense laat sien en dowe mense laat hoor. Hy het mense se sondes vergewe en dié wat nie geglo het nie gelowig gemaak. As die grootmense gesê het die kinders moet eenkant gaan speel, het Jesus hulle nader geroep. As mense bang was, het Hy hulle rustig gemaak. Hy het selfs dooie mense weer laat leef!
Jesus was die heel beste voorbeeld van omgee en liefde. Hy kon enigiemand se lewe beter maak. Hy het enigiemand, enige tyd met enige probleem in enige omstandighede met baie deernis gehelp, gratis.
Begripspeletjie
Weet julle wat die woorde gratis en deernis beteken?
- Maak groepies van twee. Laat die groepies gesels oor wat hulle dink elke woord beteken en hoe hulle dit vir die ander spanne sou uitbeeld.
- Speel dan stomstreke met elke woord. Gee elke span ’n kans om te speel.
- Die spanne kies dan watter span die woorde die beste uitgebeeld het.
- Beloon die wenspanne met ’n prys (sommer iets kleins).
- Verduideliking van die woorde:
- Gratis: Iets is verniet, dit kos jou niks nie.
- Deernis: Liefdevol omgee vir ander.
Bybelverhaal
Kom ons kyk nou saam ’n Bybelverhaal wat Jesus gebruik het om vir die mense te wys wat dit beteken om vir ander om te gee en om dit te doen sonder om iets daarvoor terug te kry, met ander woorde, om dit gratis te doen, sonder om beloon te word.
Hier is ’n skakel na ’n treffende animasievideo oor die barmhartige Samaritaan. Jy kan die verhaal ook vir die groep voorlees (Luk 10:25-37).
Gesels saam oor die verhaal
- Jesus se vertelling oor die liefdevolle Samaritaan was sy antwoord op twee kwaadwillige vrae: (1) Hoe kry ’n mens die ewige lewe en (2) wie is ’n mens se naaste? Tussen dié twee vrae het Jesus een teenvraag gevra: Wat sê die wet daaroor?
- Dit gaan hier oor misverstande onder die Jode, wat gereken het hulle hoef net hulle eie mense lief te hê.
- ’n Wetgeleerde het vir Jesus probeer verneder deur ’n teologiese slagyster vir Hom te stel. Hy het Jesus met die wet van Moses probeer uitvang oor sy riglyn dat as jy God liefhet, jy alle ander mense ook behoort lief te hê.
- Vir die Jode was “jou naaste” nie alle ander mense nie, maar net jou medelandsburgers.
- Nadat Jesus hierdie storie van omgee en liefde teenoor ’n gehate burger van ’n buurland vertel het, was sy opdrag aan die wetgeleerde: “Gaan maak jy ook so” (Luk 10:37). Hiermee het Jesus bedoel: Gaan leef soos die man in hierdie storie, want dan sal jy Jesus beter verstaan.
Aktiwiteit
Deel die kinders in groepe van drie. Twee kinders gaan kompeteer, die een duidelik sterker as die ander een. Die derde een (die Samaritaan) gaan die swakker een te hulp snel (die kompeteerders mag dit nie vooraf weet nie). Laat die helpers iewers weggesteek wag, verkieslik van waar hulle die kompetisie kan sien.
Laat die kompeteerders aan weerskante van die toue staan met kleurmerke in die middel van elke tou en wenmerke ewe ver aan weerskante van die middelmerke af op die vloer. Laat die kompeteerders die toue optel en gereed staan. Laat sak ’n sakdoek soos ’n toutrekskeidsregter en laat die kompetisie begin.
Laat die helpers aansluit sodra die kompetisie begin. Hulle moet die swakker deelnemers luidkeels aanmoedig en sommer self inspring en hulle help wen.
Benodighede
- effens dikker toue van sowat 2,5 tot 3 m lank – een vir elke span van drie
- maskeerband en gekleurde kleefband om die wenmerke op die vloer en die middel van die toue te merk
- ’n geskikte vertrek of buitelugspasie vir die toutrek-aktiwiteit.
- ’n ander vertrek of plek waar die helpers (Samaritane) wag
Gesels saam oor die aktiwiteit
Laat die kinders vertel wat hulle beleef het.
- Wat het die sterkstes beleef toe julle verloor het?
- Wat het die swakstes beleef toe julle hulp ontvang het?
- Hoe het die helpers dit beleef om die swakkeres te gaan versterk?
- Waaraan laat hierdie aktiwiteit julle dink? Ja, aan ons storie van vandag.
- Wat wil hierdie aktiwiteit vir ons leer?
Samevatting
Jesus roep sy kinders om altyd alle mense met liefde en omgee by te staan.
Memoriseervers
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
– Lukas 10:27
- Kom ons soek die vers in ons Bybels op.
- Kom ons lees wat daar staan en kyk sommer hoe die vertalings in verskillende Bybels verskil (al verskil dit sê dit eintlik dieselfde ding).
- Merk of skryf neer watter woorde in die vers vir jou uitstaan.
- Wat wil die vers vir jou sê? (Sê dit vir mekaar in een sin.)
- Oefen nou die vers met hand- en lyfbewegings.
Bid saam
Here Jesus, help ons deur u Heilige Gees om vir alle mense om te gee en lief te wees. Amen.
Reël dat elke kind volgende week ’n gunsteling-eetding (iets spesiaals) saambring. Dit moet netjies toegedraai wees. Kom ooreen op ’n maksimum bedrag daarvoor, byvoorbeeld R30