Stuur-vreugde – Inhoudsopgawe

This content is only available to members.

Sections

Oorsig

Week 1 – ’n Dienskneg-leier (Hand 11:19-30)

Week 2 – ’n Onselfsugtige gewer (Hand 4:32-37)

Week 3 – ’n Bemagtigende mentor (Hand 13:1-12)

Week 4 – ’n Medeleier en spanlid (Hand 13:13; 15:36-41)

Week 5 – ’n Omgee-reus (Hand 15:37-38; Kol 4:10; Fil 1:24; 2 Tim 4:11)

Week 6 – ’n Gestuurde wat lig gereis het (Hand 15:1-12)

Week 7 – ’n Onstuitbare doener van geloof (Gal 2:1-10)

Agtergrond

Wie was Barnabas?

Barnabas het op die eiland Siprus in die Middellandse See grootgeword. Hy was deel van die Joodse diaspora (die Jode wat oor die wêreld heen versprei het) en ’n Levitiese priester in wording (Hand 4:36). Hy het op ’n jong ouderdom in Jerusalem met die goeie nuus van Jesus kennis gemaak. Hy was in Jerusalem vir studies in die Joodse wet toe Jesus se wonderwerke ’n diep indruk op hom gemaak het. Dit het hom so meegesleur dat hy in sowat 33 nC tot bekering gekom en in Jesus begin glo het.

Dit het sy lewe verander en hy het ’n passievolle volgeling van Jesus geword. Sy naam was eers Josef en daar word soms na hom as Josef Barnabas verwys. Aangesien hy graag mense bemoedig het, het die apostels hom Barnabas begin noem, want Barnabas beteken “iemand wat mense moed inpraat” (Hand 4:36). Dit skep egter onsekerheid, want die woord Barnabas kom van die Aramese woorde bar nawie wat eintlik “seun van profeet” beteken. Nietemin, Barnabas was bekend vir sy uitnemende omgee vir en versorging van mense.

Barnabas se graf is in 477 nC naby Salamis (sy geboorte- en grootwordplek) op die eiland Siprus ontdek. Hy is deur Siriese Jode met klippe doodgegooi. Dit klink dalk na betekenislose inligting, maar vir oplettendes sal sy klippedood sy vasberadenheid en onverbreekbare verbintenis aan Jesus Christus laat uitstaan bo alle ander lewenswaarhede oor hom.

Daar is ’n interessante brokkie geskiedenis rondom die sekerheid dat dit wel Barnabas se graf is wat ontdek is. Sy neef, Johannes Markus, (Kol 4:10) het volgens oorlewering ’n kopie van die Matteusevangelie op sy bors saam met hom begrawe. Jare later het biskop Antemois van Salamis ’n droom gehad oor die ligging van Barnabas se graf (waaroor niemand seker was nie). Ná sy droom het die biskop opdrag gegee dat dié spesifieke graf opgegrawe moes word. Die liggaam in die graf is as Barnabas s’n geïdentifiseer op grond van die Matteusevangelie wat op sy bors gerus het. 

Volgens talle bronne klink dit of Barnabas ’n sprankelende persoonlikheid gehad het. Robin Branch skryf: “Acts loads him with accolades.” En Christoph Stenschke meen: “He was by no means a weak man.” Alexander Monachus, die sesde-eeuse monnik van Siprus, het hom uit oorgelewerde stories soos volg opgesom: “His face was like that of an angel … and he had sparkling eyes.” Dit lyk ook of Barnabas ’n begaafde kerkleier was. Lukas beskryf hom as “’n goeie man, vol van die Heilige Gees en met ’n vaste geloof” (Hand 11:24).

Barnabas se verhaal inspireer baie gelowiges. Sy voorbeeld is ’n nimmereindigende inspirasie van kosbare geloofswaardes, soos om te glo én te doen, om met opregtheid te gee, selfloosheid, gestuurdheid, bemagtigende mentorskap en diensgerigte leierskap.

Sy einde het, soos Jesus, Stefanus, Petrus, Paulus en baie ander getroue martelare s’n, moorddadig aangebreek. Die troos is dat hulle beloning groot bly: “Toe het ek ’n stem uit die hemel hoor sê: ‘Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.’ ‘Ja,’ sê die Gees, ‘hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle’” (Op 14:13).

’n Deel van Barnabas se verhaal wat verwarring kan veroorsaak, is die feit dat daar destyds talle stede met die naam Antiogië was – twee van hulle word in Handelinge genoem. Barnabas-hulle het met al twee te doen gehad. Die een was die gemeente in Sirië, wat hulle basisgemeente was. Die ander een was in Klein-Asië in die provinsie Pisidië; dit was ’n gemeente wat tydens hulle eerste sendingreis gestig is.

Die twee Antiogië-gemeentes en nog ander bekende bestemmings uit Barnabas en Paulus se tyd

Antiogië in Sirië is in 300 vC deur Seleukus I gevestig. Hy was een van Aleksander die Grote se opvolgers. Hy het graag stede gebou en hulle na sy pa, Antiochus, vernoem. Dit het daartoe gelei dat daar omtrent 15 dorpe en stede met die naam Antiogië was. In die eerste eeu was daar sowat ’n miljoen inwoners in die Siriese Antiogië. Volgens David Guzik “Antioch was all about business and immorality”. Barnabas het dus duidelik nie agter die luuksheid van ’n gevestigde, wellewende en goed georganiseerde gemeente aan die roeping na Antiogië aanvaar nie.

Hierdie boek wil lesers aan die hand van verskillende geloofstemas uit Barnabas se arsenaal van koninkrykseienskappe inspireer. Gevolglik gebeur dit dat van Barnabas se karaktereienskappe meer as een tema toelig en dus meermale genoem word. Moenie daardeur ontstig word nie.

Wat bied hierdie boek?

Barnabas was ’n besonderse leiersfiguur in die vroeë kerk. Dit sou ’n lewensveranderende ervaring wees om saam met hom te kon sit en koffie drink en vir ure aaneen te kon gesels. Ek sou vir hom wou vra: Wat beteken Jesus Christus regtig vir jou? En: Wat maak dat jy so opreg lief is vir Hom?

Baie kontekste en kontoere oor Barnabas en heelwat van sy agtergrond en lering is nie in die Bybel vervat nie en is ongelukkig skraps opgeteken. Dit onderstreep juis een van sy treffendste karaktertrekke: Hy het nie vir die glans van voorblaaie geleef of vir die skare op die paviljoen aan die wedloop deelgeneem nie.

Hierdie studie probeer om op ’n verantwoordelike manier ’n paar insiggewende buitebybelse insigte oor Barnabas soos legkaartstukke by die bekende Bybelfeite oor hom in te pas om ’n vollediger geheelbeeld van sy aansteeklike stuur-vreugde te beleef.

Die Bybelinsigte oor hom word aangebied onder die temas van (a) dienskneg-leierskap, (b) om onselfsugtig te gee, (c) bemagtigende mentorskap, (d) om ’n spanlid te wees, (e) omgee-leierskap, (f) om as gestuurde lig te reis en (g) oor geloof wat aktief meeleef en doen.

’n Potensiële groeipunt uit dié studie is om soos Barnabas ’n onversigtige oorgawe – amper ’n onvoorwaardelike naïwiteit – te ontwikkel vir wanneer die Here mense roep en stuur. Barnabas het nie veel somme gemaak, koste bereken en voor- of nadele opgeweeg wanneer hy opdragte in die Bybel gehoorsaam het nie. Sy verhaal beklemtoon veral twee duidelike opdragte: Eerstens om dissipels te maak tot in die uithoeke van die wêreld, en tweedens om ’n “skaapwagter” te wees en mense liefdevol te versorg.

’n Tweede groeipunt kan wees om te ontdek dat Barnabas se buitengewoon indrukwekkende geloofsrekord nie die produk was van die een of ander spectacular magic wat myle buitekant die werklikheid gelê het, bomenslike kennis vereis het of ’n geheime kode behels het nie. Barnabas was ’n doodgewone mens wie se oorgawe aan Jesus Christus eg aards en eg menslik gebeur en uitgekring het.

’n Derde groeipunt is om by Barnabas te leer hoe om ten spyte van ontwrigte verhoudings, lewensgevaarlike situasies en ’n klomp moeilike persoonlikhede sy roeping te geniet en momentum te laat kry. Barnabas het beslis sy kwota spanning en uitdagings gehad, maar hy het daarin geslaag om alles meesterlik, soos sy Meester, in koninkryksmomentum om te swaai.

Mag jy ook groei in jou onversigtigheid om sonder skerp remme die Here Jesus se koninkryk te laat kom, sy wil te laat geskied en sy Naam al verder en verder uit te dra. Mag jy al makliker die struikelblokke en inhiberende uitdagings miskyk wanneer die Here jou roep en stuur. Mag jy ander mense se giere en grille nie in die pad van Jesus se ryk laat staan nie. En mag jy Hom al meer vertrou en sy onbeskryflike groot liefde geniet, maar dit ook maklik uitdeel.

Hoe om hierdie boek te gebruik

Die boek kan vir groepe en individue ’n waardevolle kursus oor die tema van gestuurdheid wees. Groepe kan dit oor sewe weke (of minder) gekoördineerd deurwerk, maar dit kan ook soos essays rondom temas gelees word. Elk van die sewe hoofstukke sluit die volgende in:

  • Dag 1: Bybelgesprek: ’n teksgedeelte en deduktiewe gesprek rondom die temas uit Barnabas se lewe, volgens die boek Handelinge, wat aspekte van Jesus se voorbeeld beklemtoon en lesers aanmoedig om dit na te streef
  • Dag 2: Gedig: ’n eenvoudige gedig uit die pen van ’n nie-digter wat die temas probeer besing en herhaal
  • Dag 3: Unieke skets: ’n amateurskets wat met ’n rekenaarmuis gedoen is om die tema uit te beeld, met geleentheid vir die lesers om daaroor na te dink en hulle eie sketse te maak
  • Dag 4: Inspirasiestories: inspirerende geloofstories uit die kerk in die Midde-Ooste en Noord-Afrika (MENA), waarmee ds Eric Swanepoel gehelp het
  • Dag 5: Van kennis na wysheid: induktiewe gesprekke wat probeer om die kennis (geloofstemas) in wysheid (geloofsgewoontes) te laat oorgaan, en dit meer permanent en instinktief as gedragspatrone te laat wortelskiet en vas te lê
  • gesprekstemas en -vrae vir ’n groepbyeenkoms, met kunswerke wat by die tema aansluit
  • riglyne vir ’n kindertyd oor elke week se tema, waarmee Susan Mostert gehelp het
  • genoeg preekstof vir leraars in elke week se verskillende afdelings om Sondae (vooraf of daaropvolgend) oor die temas te kan preek – aanvullende stof kan met vrug bygewerk word

Vir dié wat verder wil lees

Aanlyn bronne

Abbajay, M 2019. Mentoring Matters: Three Essential Elements Of Success. https://www.forbes.com/sites/maryabbajay/2019/01/20/mentoring-matters-three-essential-element-of-success/#295fb8c745a9
Bloom, J 2018. Five Marks of a Servant Leader: Desiring God. https://www.desiringgod.org/articles/five-marks-of-a-servant-leader
Collins, MG 1999. Barnabas: Son of Encouragement and Consolation. https://www.cgg.org/index.cfm/fuseaction/Library.sr/CT/ARTB/k/158/Barnabas-Son-of-Encouragement-Consolation.htm
Guess, JB 2015. DOC/UCC Leadership Pilgrimage to the Middle East Blog, Global Ministries. https://www.globalministries.org/global_ministries_leadership_middle_east_trip_blog
Guzik, D 2006. The Blue Letter Bible (UK). Study Guide for Acts 11. Sowing Circle, BLB Institute, California. https://www.blueletterbible.org/Comm/archives/guzik_david/StudyGuide_Act/Act_11.cfm
Halloran, K 2015. Ten Things to Know About the Bible’s Barnabas. https://www.leadershipresources.org/who-is-barnabas-in-the-bible-10-things-to-know
Hardin, G 2014. Sermon: How Giving Makes You Joyful – Philippians 4. https://www.lifeway.com/en/articles/sermon-giving-joy-generosity-philippians-4
Sims, G 2016. What’s Essential to a Good Ministry Team. Fresh Expressions. https://freshexpressionsus.org/2016/11/28/whats-essential-good-ministry-team
Van Wyk, C 2010. Bybelskool: Die Woord is ’n huis om in te woon. 2 Korintiërs 8–9 – Vrygewigheid is regverdig. https://bybelskool.com/2-korintiers-8-9-vrygewigheid-is-regverdig
www.whatson-northcyprus.com/interest/famagusta/salamis/barnabas.htm

Artikels

Barbuto, JE & Wheeler, DW 2006. Scale Development and Construct Clarification of Servant Leadership. Group & Organization Management 31(3).
Branch, RG 2007. Barnabas: Early Church Leader and Model of Encouragement. Skriflig 41(2):1-28.
Sarayrah, YK 2004. Servant Leadership in the Bedouin-Arab Culture The Bedouin-Arab Context. Global Virtue Ethics Review Vol 5.
Steinmann, N 2006. Kyk na die diere en word wys. Beeld 9 Maart 2006. Stenschke, CW 2010. When the Second Man Takes the Lead: Reflections on Joseph Barnabas and Paul of Tarsus and Their Relationship in the New Testament. Koers 75(3):503-525.
Zauderer, DG 2006. Leadership Lessons from World-Class Coaches. The Public Manager 35:3.

Boeke

Barret, CK 1994. A Critical and Exegetical Commentary on Acts of the Apostles. Vol 1: Preliminary Introduction and Commentary on Acts 1-14. Edinburgh: Clark.
Brand, C, Draper, C, England, A, Bond, S, Clendenen, ER & Butler, TC (reds) 2003. Holman Illustrated Bible Dictionary. Nashville: Holman Bible Publishers.
Downie, WN 2013. Mentorship in Ministry: Passing the Torch. Lynchburg, Virginia: Liberty University.
Elicott, CJ 1897. Elicott’s Commentary for English Readers. London: Cassel & Company.
Howell, DN 2003. Servants of the Servant: A Biblical Theology of Leadership. Eugene: Wipf & Stock.
Kollman, B 1998. Joseph Barnabas: Leben und Wirkungsgeschichte. Stuttgart: Katolisches Bibelwerk.
Smith, M 2015. Lewensbegeleiding tot hoopvolle aftrede: ’n Pastorale studie. Noordwes Universiteit, Potchefstroom.
Sweet, L 2008. 11 Indispensable Relationships You Can’t Be Without. Colorado Springs: David C Cook.
Van Wyk C, Simpson, N & Marais, F 2011. Barnabas. Die Christelike lewenstyl – ’n nuwe manier van leef. Wellington: Bybel-Media.

Kopiereg

Kopiereg © Bybelkor 2021
Bybelkor is ’n afdeling van Bybel-Media
Bybel-Media, Privaatsak X5, Wellington 7654
Bestellings: 0860 26 33 42
Bybel-Media

Alle regte voorbehou.

Skrifaanhalings geneem uit die Bybel in Afrikaans 1983-vertaling met herformulerings tot en met 1992 © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Omslag ontwerp deur Out of the Blue Creative Communication Solutions.
ISBN 978 1 77616 081 5