Soos ’n blom na die son draai

Picture of Liturgie-bronne

Soos ’n blom na die son draai

Inhoudsopgawe

Inleiding

Verskillende vorme van die liturgie en die vierslag-vorm

Liturgiese voorstelle vir die erediens
Inleiding
Aanvangswoord (Votum)
Seëngroet
Wet
Verootmoediging, skuldbelydenis en genadeverkondiging
Geloofsbelydenis
Epiklese (Gebed by die opening van die Woord)
Skriflesing
Toe-eiening
Getuies en getuienis
Doop
Nagmaal
Stilte
Aankondigings (Bulletin)
Litanie en voorbidding
Offergawes
Toewyding
Opdrag
Uitsending
Verbintenis
Seën

Liturgiese voorstelle vir enkele ander dienste
Adventsangdiens
Begrafnisdiens
Plasing of uitstrooi van as (“Committal service”)
Tenebrae

Bronnelys

Inleiding

Daar word vertel dat Johannes Calvyn graag sy eredienste met die Nunc dimittis, “die loflied van Simeon”, afgesluit het. Waarom? Want nadat die bejaarde Simeon die Jesuskind by die tempel in sy arms geneem het, het hy God geprys en gesê: “Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het” (Luk 2:29-30). Dit is immers die kern en doelwit van die erediens – om vir dié wat saamkom om God te aanbid ’n ontmoetingsruimte te skep waar hulle die lewende Christus kan ontmoet, en Hom dan spesifiek kan ontmoet as die verlossing wat God bewerk het.

Hierdie ontmoeting tussen God en mens in die erediens, of by ’n aanbiddingsgeleentheid, is boonop een van die mens se grootste behoeftes. Ons kry in die Bybel die opdrag om God te aanbid, maar dit help ons terselfdertyd om te fokus op ons behoefte om God te aanbid sodat ons saam met Simeon kan bely. Al het ons as mense die behoefte om God te aanbid en al voel dit soms vir ons dit is iets wat óns doen, wys die groter verhaal van die Bybel duidelik vir ons dat dit God is wat vanuit sy genade na ons toe uitreik en dat ons daarop reageer, onder meer deur Hom te aanbid. Ons besef dikwels eers veel later dat, al bestaan daar by ons ’n behoefte aan aanbidding, dit ten diepste God is wat eerste en voortdurend met ons besig is. Min gebede druk hierdie grondwaarheid oor aanbidding – en oor geloof in die algemeen – beter uit as Augustinus se mooi gebed “Te laat het ek U lief gekry” (sien die liturgiese voorstelle vir die doop). In hierdie gebed bely hy dat God hom reeds gevind het terwyl hy self nog na God gesoek het. Dit is wat in die erediens gebeur: God en mens ontmoet mekaar daar omdat God en mens voortdurend na mekaar se teenwoordigheid hunker. Die eerste woorde van hierdie boek se motto – “soos ’n blom na die son draai” – is ’n pragtige beeld wat die kernkarakter van hierdie besonderse ontmoeting tussen God en mens in aanbidding raakvat. Daarom het ek dit as die titel van hierdie boek gekies.

Op ’n soortgelyke maar tog effens ander manier wys antropoloë daarop dat ons as mense ook die behoefte het om iets te doen (om te praat, te hoor, te voel, te handel, te ruik, te proe, te sien). Ons wil in ons volle liggaamlikheid iets doen wanneer ons voor groot gebeure in die lewe staan. ’n Duidelike voorbeeld hiervan is die dood en ons behoefte om die dood van ’n geliefde op ’n manier te verwerk en deur taal en handelinge sin van hierdie verwarrende ervaring te probeer maak. Hoe pynlik en sleg die dood ook al is, is dit gewoonlik goed en helend om deur die woorde en dade van ’n ritueel soos ’n begrafnis te gaan. Wanneer die gebruiklike uitdrukkings egter nie meer voldoende of bevredigend is nie, soek mense na ander handelinge wat hulle sal help om deels sin van die gebeure te maak. ’n Bekende voorbeeld hiervan vandag is al die kruise langs ons paaie of die ander maniere waarop mense die plek waar ’n geliefde gesterf het simbolies en op ’n rituele manier merk. Hierdie nuwe rituele wat al hoe meer gebruik word, wys duidelik daar is by mense voortdurend ’n soeke na woorde en dade is om aan hulle diepste ervarings uitdrukking te gee, en dan spesifiek coram Deo. Die konteks waarin mense hulle bevind en wat voortdurend verander, beteken die ruimte van die liturgie moet hierdie voortdurende verandering in ag neem as dit betekenis na die ontmoeting tussen God en mens wil bring.

Oor die afgelope eeu of meer het grootskaalse liturgiese ontdekkings en veranderings die kerk wêreldwyd binnegekom. Daar is sprake van ’n Liturgiese Beweging wat navorsing gestimuleer en só die praktyk van aanbidding verryk het. Ook in Suid-Afrika het hierdie veranderings oor die laaste dekades ons kerke ingekom. Nuwe eredienshandleidings met bepaalde fokuspunte is sprekende uitvloeisels van hierdie veranderings. Die mees onlangse en besondere voorbeeld is die NG Kerk se handleiding Handleiding vir die erediens (2010), wat onder meer die vrug van die Liturgiese Beweging verwerk en tot beskikking van die kerk gestel het. Een van die sentrale kenmerke van hierdie liturgiese veranderings is die sogenaamde ekumeniese diensorde wat uit vier bewegings bestaan (sien hfst 2). Dit vorm dan ook die grondslag van hierdie boek met liturgiese voorstelle. Al hierdie nuwe bronne en gepaardgaande vorme van die liturgie voorsien in groot mate in die behoefte wat reeds in kerke bestaan, maar dit rig die behoefte ook op ’n liturgies goed begronde manier.

Dié boek wil spesifiek hierdie leemte vul. Dit is ’n bykomende bron met liturgiese voorstelle, maar dan op ’n spesifieke manier. Die liturgie en aanbiddingsgeleenthede van die kerk bestaan beslis nie om mense se aanbiddingsbehoeftes te bevredig nie. Inteendeel, liturgie en aanbidding het ten diepste een kerndoel wat saamval met die hoofdoel van die mens se lewe. Die Westminster-belydenis stel dit treffend: “Om God te prys en Hom vir ewig te geniet.” Soli Deo gloria – dit is die kern van alle Christelike aanbidding. Enige ander aspek moet as sekondêr tot hierdie kerndoel gesien word. Daarom gee ek in hierdie boek liturgiese voorstelle wat gelowiges hoofsaaklik kan help om deur hulle aanbidding aan die drie-enige God van die Bybel al die eer te bring – juis in ’n tydsgees waarbinne baie gelowiges op soek is na ander en nuwe uitdrukkingsvorme vir die aanbidding waartoe God ons nooi.

Die afgelope paar jaar was ek betrokke by VBO-kursusse (kursusse vir predikante van die NG Kerk wat dien as voortgesette bedieningsopleiding) oor liturgie. Daar het dit vir my baie duidelik geword dat predikante spesifiek meer voorbeelde soek van liturgiese elemente wat hulle in hulle erediensvoorbereiding kan gebruik. Die liturgiese elemente wat hulle soek, moet enersyds teologies goed gegrond wees en andersyds die veranderende konteks en aanbiddingsbehoeftes van mense in ag neem. Daar bestaan reeds ’n hele paar goeie boeke, soos die eredienshandleiding van die NG Kerk, die eredienshandleidings van ander kerke, onder meer die Diensboek van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, die Preekstudies en liturgiese voorstelle van Communitas, Woordwyser en die Gebedeboek met liturgiese voorstelle wat ongeveer ’n dekade gelede deur die Oos-Kaapse Sinode van die NG Kerk saamgestel is. Dit wil egter voorkom asof die aanvraag na liturgiese hulpmiddele, soos die aanvraag na preekhulpmiddele, steeds toeneem.

Soos ’n blom na die son draai bevat ’n versameling liturgiese elemente, gebede, aanvangswoorde, formuliere, en so meer. My hoop is dat hierdie boek ’n aanvullende hulpbron sal wees vir liturge en lidmate in hulle weeklikse erediensvoorbereiding, maar ook in die voorbereiding van ander aanbiddingsgeleenthede. Die meeste liturgiese elemente in hierdie boek is in Afrikaans, maar juis vanweë die veranderende kerklike landskap is enkele liturgiese voorstelle in ander landstale ook verwerk en opgeneem. Daar word vandag al hoe meer gesamentlike aanbiddingsgeleenthede in tradisioneel Afrikaanse gemeentes gereël. Die behoefte aan liturgiese voorstelle in ander landstale neem dus al hoe meer toe en aanvullende bronne vir hierdie soort ekumeniese en multikulturele vierings is broodnodig. Dit word nou dringend nodig om aandag hieraan te gee.

Wanneer ’n bepaalde liturgiese voorstel nie my eie is nie, gee ek sover moontlik erkenning aan die outeur daarvan of aan die betrokke bron waaruit ek dit oorgeneem het. Dit is egter nie altyd moontlik om die oorspronklike outeur van liturgiese materiaal te identifiseer nie. Een persoon wat ’n spesiale bydrae gelewer het, is dr Louis van Tongeren, die Nederlandse liturg. Ek sê vir hom dankie. Volledigheidshalwe sluit ek ook ’n beknopte bronnelys in.

My hoop is werklik dat hierdie boek gelowiges sal help om die onveranderlike God in ’n veranderende konteks te aanbid en Hom vir ewig te geniet.

Cas Wepener

Wanneer ons aan aanbidding dink, dink ons dikwels heel eerste aan die erediens. Daar is egter ook ander dienste wat ‘’n vorm van aanbidding is, soos huweliksdienste, begrafnisdienste, bidure en dienste tydens kerkkampe. Aanbidding sluit verder ook persoonlike en familieaktiwiteite in, soos stiltetyd of die viering van Kersfees en Paasfees. Dan is daar aanbidding wat buite die meer tradisionele ruimtes plaasvind en wat baie mense nie juis as aanbidding sou definieer nie. Hier kan ons byvoorbeeld dink aan hoe gewild pelgrimstogte vandag geword het, aan mense wat op verskeie maniere na stilte en meditatiewe geleenthede soek, aan die kruise wat by ongelukstonele geplant word, of aan die soeke na woorde en handelinge wat gebruik kan word wanneer ’n geliefde se as iewers geplaas of uitgestrooi word. Aanbidding sluit dus veel meer as die erediens in. Die doel van hierdie boek is juis om voorstelle vir ’n verskeidenheid aanbiddingsgeleenthede te gee. Hoofstuk 2 fokus spesifiek op die eredienste wat op Sondae gehou word. Hoofstuk 3 strek wyer en sluit ander aanbiddingsgeleenthede in. Voordat ons by die liturgiese voorstelle self kom, moet ons egter eers dieper kyk na die erediens en die keuse van ander geleenthede wat in hierdie boek opgeneem is.

Wat die erediens betref, is daar baie liturgiese vorme. In die gereformeerde tradisie is die sogenaamde klassiek-gereformeerde vorm redelik bekend. Met die moontlikheid van effense variasies, lyk die orde in eredienshandleidings tradisioneel ongeveer soos volg (sien Handleiding vir die erediens):

  • Aanvangswoord (Votum)
  • Seëngroet
  • Lofsang
  • Wet
  • Verootmoediging en skuldbelydenis
  • Genadeverkondiging
  • Sang
  • Gebed met die opening van die Woord (Epiklese)
  • Skriflesing
  • Preek
  • Danksegging, aanbidding en voorbidding
  • Geloofsbelydenis
  • Nagmaal (soms)
  • Offergawes
  • Sang
  • Seën

’n Liturgiese vorm wat vandag al hoe meer in kerke wêreldwyd voorkom, is eredienste wat begin met ’n langer lof- en aanbiddingstyd en deels deur die charismatiese kerke se aanbiddingsvorme beïnvloed is. Die Preekstudies en liturgiese voorstelle van Communitas het juis die formaat van die liturgiese voorstelle verander sodat ook gemeentes wat hierdie vorm van aanbidding verkies dit kan gebruik. Hierdie verandering behels dat daar binne die formaat van die vierslag-vorm liturgiese voorstelle gegee word wat op verskeie maniere gebruik kan word.

’n Ander vorm, wat nie so gewild is soos die vorige vorm nie, kan as ’n meer liturgiese formaat getipeer word. Hierdie vorm maak meer bewustelik gebruik van simbole, rituele en elemente soos stilte en gereelde nagmaalviering. Dan is daar natuurlik ook heelwat gemeentes wat elemente van al die voorafgaande vorme in een erediens in ’n soort konvergensie liturgie saamvoeg.

Alhoewel daar tans in gemeentes uiteenlopende vorme van die erediens bestaan, is die een deurlopende aspek wat al hoe meer in baie van hierdie eredienste aangetref word ’n waardering vir die vierslag-vorm of ekumeniese diensorde. In hierdie boek gebruik ek dan ook hierdie vierslag-vorm. Daarom wil ek kortliks iets daaroor sê.

Die eerste en die vierde beweging van die vierslag-vorm, naamlik toetrede en uitsending, is duidelik en verstaanbaar. Mense kom immers met enige samekoms, liturgies of nie, bymekaar en neem later (hopelik elke keer) van mekaar afskeid en gaan dan uitmekaar. Binne ’n liturgiese opset kry hierdie toetrede en uitsending egter besonderse teologiese betekenis. Dit is meer as net saamkom en weggaan; dit gaan oor God wat sy mense opsoek en voor Hom versamel om hulle uiteindelik weer uit te stuur.

Tussen die toetrede en die uitsending is daar dan nog twee bewegings. Tradisioneel is daar in gereformeerde kerke eintlik net een beweging tussen die toetrede en die uitsending, naamlik die Woordbediening. Met enkele ander geleenthede per jaar is daar egter ook ’n diens wat die nagmaal (tafeldiens) insluit. Deel van die ontdekkings en bydraes van die Liturgiese Beweging was juis om aan te toon dat die tafeldiens van die vroegste tye af deel van die gewone erediens was. Skrif en tafel gaan saam. Dit is nie net ’n liturgies-historiese feit uit die vroeë kerk nie, maar vorm in werklikheid deel van die gereformeerde erfenis. In die laaste jare is verskeie pleidooie gelewer vir ’n herwinning van die beginsel dat die normale Sondagerediens ’n diens is wat sowel die Woordbediening as die nagmaal insluit. Daar is min gereformeerde kerke in Suid-Afrika wat nou reeds elke week die nagmaal vier. Daar is wel enkeles, en hierdie gebruik neem al hoe meer toe. Die getal gemeentes wat tans elke maand die nagmaal vier, in plaas van een keer per kwartaal, het egter in die laaste paar jaar drasties toegeneem. Calvyn sou bly gewees het om dit te hoor! Hierdie boek bied daarom ook talle voorbeelde van liturgiese elemente vir die derde beweging van die erediens – die beweging waar God ons aan sy tafel voed.

Die vierslag-vorm lyk dalk soos ’n stomp en vervelige verloop van die erediens met min ruimte vir die ontwikkeling van ’n verhaallyn. Die teenoorgestelde is egter waar. Die beginsel “minder is meer” geld juis hier, want die minder voorskriftelike vierslag-vorm bied meer ruimte dat ’n verskeidenheid moontlikhede by die erediens ingesluit kan word. Tom Long verduidelik in sy besonderse boek Beyond the worship wars op ’n treffende manier hoe sogenaamde “vital and faithful” gemeentes se eredienste ’n inherente gevoel vir die dramatiese het, en hierdie Bybelse drama word goed deur die vierslag-vorm of vier bewegings opgesom. Die basiese teologiese verhaal of DNS van die vierslag-vorm staan redelik vas: God soek sy mense op en versamel hulle voor Hom; Hy voed hulle uit sy Woord; Hy laat hulle by sy tafel aansit om hulle ook só te voed en te versterk; laastens stuur Hy hulle as sy kinders in die wêreld uit. Hierdie liturgiese orde sal min of meer soos volg lyk:

  • Toetrede (God versamel ons voor Hom)
  • Woorddiens (God voed ons uit sy Woord)
  • Tafeldiens (Saam met God aan tafel)
  • Uitsending (God stuur ons die wêreld in)

Die besonderhede van hierdie verhaal het op grond van verskeie faktore baie moontlike invullings. Faktore wat uiteraard hier ’n rol speel, is die Bybelgedeelte(s) van die betrokke Sondag, die konteks van die gemeente, die breër sosiale en globale konteks, asook die bepaalde tradisie waarbinne die gemeente staan. Daar is nog faktore, maar hierdie paar is die belangrikste. Om byvoorbeeld die wet tydens die toetrede as ’n oproep tot skuldbelydenis te gebruik teenoor die gebruiklike lees van die wet tydens die uitsending tot dankbaarheid, het ’n unieke invloed op die besondere inkleding van die verhaallyn wat die vierslag-vorm op ’n betrokke Sondag wil kommunikeer. (Sien Johan van der Merwe se hoofstuk hieroor in Ontdekkings in die erediens, en Tom Long se hoofstuk in Beyond the worship wars.) In die laaste kort hoofstuk van hierdie boek gee ek enkele voorbeelde van ander dienste, soos ’n Adventsangdiens, ’n Tenebrae-diens en ’n Asplasingsdiens. Vir die meeste ander dienste, soos die huweliksdiens, ’n Aswoensdagdiens of ander spesiale dienste soos ’n Versoeningsdiens, bied Handleiding vir die erediens goeie voorstelle.

Liturgiese voorstelle vir die erediens

Inleiding

Wanneer en waar begin die erediens? Wanneer die liturg(e) en kerkraadslede die liturgiese ruimte betree? Dalk eers later wanneer die liturg die votum of aanvangswoord uitspreek? Of begin die erediens heelwat vroeër reeds, miskien tydens ’n gebed in die konsistorie of selfs vroegoggend voordat die pad kerk toe aangedurf word?

Waar jou keuse ook al val, om na ’n erediens te gaan is ’n liturgiese handeling wat op verskillende maniere kan geskied. Sommige mense hou van die stilte voor die erediens en wil net daar op ’n kerkbank tot rus kom om ’n geleidelike oorgang te geniet. Ander het gestoei om almal betyds reg te kry vir kerk, en hulle geduld is op teen die tyd dat hulle saam met of net ná die liturg by die kerk instorm. Vir hulle is die oorgang skielik en drasties. Hoofsaak is, dit is goed om voor die tyd oor hierdie oorgang na te dink en die oomblikke voor die erediens as deel van die aanbiddingsgeleentheid te beskou. Hiervoor is daar verskeie moontlikhede.

’n Orrelvoorspel of voorafsang is bekende moontlikhede wat wyd gebruik word. ’n Ander moontlikheid is om die erediens met ’n ope vraag te begin. Hierdie vraag kan gaan oor ’n kernsaak wat in die prediking of elders liturgies ter sprake sal kom. Só bly die gemeente nie net passiewe toehoorders nie, maar word hulle van die begin af by erediens in die algemeen en by die prediking in die besonder betrek. In baie gemeentes begin hierdie proses natuurlik vroeg in die week reeds binne die konteks van ’n erediens- en/of preekwerkgroep. Ander gemeentes neem dit selfs verder met ’n oop gesprek net ná die prediking of met ’n opvolggesprek oor die preek tydens die teetyd ná die diens. Wat vir ’n spesifieke gemeente moontlik is, word uiteraard deur verskeie faktore bepaal, soos die grootte van die gemeente en die betrokke erediens.

Die afkortings wat in die liturgiese voorstelle gebruik word, is soos volg:
V: Voorganger
G: Gemeente
A: Almal

Aanvangswoord (Votum)

Minder is meer. Vir die gemiddelde liturg is dít ’n goue reël om te onthou. Te veel woorde en ’n aanhoudende gepraat, om watter rede ook al, die liturg se ongemak met stilte, of onsekerheid oor hoe die logiese oorgang van die een liturgiese element na die volgende behoort te verloop, is gewoonlik hinderlik. Daarom is dit goed om sover moontlik deurentyd daaraan te dink dat hierdie liturgiese element die spesifieke gemeente wil help om God te aanbid. Dit is belangrik om voor die tyd te dink aan die oorgang van die een liturgiese element na die volgende, soos die oorgang vanaf ’n oop gesprek voor die tyd na die aanvangswoord. John Witvliet gee ’n treffende voorbeeld hiervan. Vry vertaal en effens aangepas klink dit min of meer soos volg:

Sommige van ons is vanoggend hier met blydskap in ons hart. Ander het trane wat hulle wegsteek. Ons aanvangswoord kom uit die boek Klaagliedere wat sowel die blydskap as die hartseer uitdruk en dit voor God bring …

Aanvangswoord
V: Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie.
G: Dit is elke môre nuut.
V: U trou is groot, Here.
G: Dit is elke môre nuut.
V: Dit is goed om geduldig op die hulp van die Here te wag.
G: Dit is elke môre nuut.
– uit Klaagliedere 3:22-26

Aanvangswoord
Soos ’n blom na die son draai;
soos riviere na die see loop;
soos ’n boom na die hemel opreik;
soos skape agter hulle herder aanloop –
so rig ons ons hart op die Here.
Rig julle hart op die opgestane Here!
– Anoniem

’n Aanvangswoord soos hierdie kan geografies en seisoenaal goed aangepas word:

Vir Pretoria in die lente
Soos ’n blom na die son draai;
soos die Vaalrivier na die see loop;
soos ’n Jakaranda sy takke na die hemel oopsprei –
so rig ons ons hart op die Here.

Vir Graaff-Reinet in die somer
Soos ’n botterblom na die son draai;
soos die Sondagsrivier na die see loop;
soos ’n populier na die hemel opreik –
so rig ons ons hart op die Here.

Aanvangswoord
Wees hier aanwesig,
Woord wat aan ons gegee is,
sodat ons U met ons hart en siel kan hoor.
– Uittreksel uit ’n liedteks, oorspronklik in Nederlands geskryf deur Huub Oosterhuis en opgeneem op die CD Nooit meer zonder reisgenoot

Aanvangswoord
V: Jy sal roep,
G: en die Here sal antwoord.
V: Jy sal om hulp roep,
G: en Hy sal sê: Hier is Ek!
V: As jy sorg dat die mense nie meer by jou verdruk word nie,
G: nie meer gedreig en vals beskuldig word nie,
V: as jy jou wy aan dié wat honger het,
G: as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is,
V: sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is,
G: sal wat vir jou nag is, word soos helder middag.
– uit Jesaja 58:9-10

Aanvangswoord
V: Hoe goed, hoe mooi is dit as mense eensgesind saam woon!
G: Dit is soos reukolie
V: wat van die kop af in die baard afloop,die baard van Aäron,af tot by die soom van sy klere.
G: Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val.
V: Waar mense so saam woon, skenk die Here sy seën, ’n lang, lang lewe.
– uit Psalm 133

Die gemeente sing Lied 178, “Dona nobis pacem”.

Aanvangswoord
V: Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van u reddingsdade vertel.
G: Oor U wil ek my verbly en vrolik wees.
V: U Naam wil ek besing, o Allerhoogste.
G: Amen.
– uit Psalm 9

Aanvangswoord
Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help
wat met hulle hele hart op Hom vertrou.
– uit 2 Kronieke 16:9a

Aanvangswoord
V: Kom luister, alle dienaars van God, ek wil vertel wat Hy vir my gedoen het:
G: Skaars het ek na Hom geroep, of daar was reeds ’n loflied op my lippe.
V: As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie.
G: Maar God hét geluister, Hy hét my gebed verhoor!
V: Die lof kom God toe wat my gebed nie afwys nie en sy trou nie van my weerhou nie.
G: Amen.
– uit Psalm 66

Aanvangswoord
V: Ewige God,U het ons geroep om lede van een liggaam te wees.
Verbind ons aan dié wat u Naam deur alle tye heen en op alle plekke geëer het,
sodat ons met een hart en een gedagte die eenheid van u kerk sal vertoon
en só u Naam sal eer, Here Jesus, ons Verlosser.
G: Amen.
– Outeur onbekend

Aanvangswoord
Al is die Here hoog verhewe, Hy gee om vir die nederige,
maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige.
Aan U liefde, Here, is daar geen einde nie.
– uit Psalm 138

Aanvangswoord
V: Die mens is soos gras, en al sy of haar prag soos ’n veldblom;
die gras verdor en die blom val af.
G: Maar die woord van die Here, dít bly vir ewig staan.
– uit 1 Petrus 1:24-25

Aanvangswoord vir Paastyd
V: Die Here het opgestaan!
G: Die Here het waarlik opgestaan!

Aanvangswoord vir Paastyd of ’n begrafnisdiens
V: Die Here het opgestaan!
G: Die Here het waarlik opgestaan!
V: Dood, waar is jou angel?
G: Doderyk, waar is jou oorwinning?
V: Die dood is ingesluk.
G: Die oorwinning is behaal!

Aanvangswoord vir Pinkstertyd
V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke wêreld.
G: Kom, Skepper-Gees, en bring nuwe lewe vir ons wêreld.
V: Kom, Skepper-Gees, en waai deur ons gebroke lewe.
G: Kom, Skepper-Gees, en bring vir ons nuwe lewe.

Aanvangswoord
Dit gaan goed met dié mense wat na die swakkes omsien.
Die Here sal hulle red op die dag van nood,
die Here sal hulle beskerm en in die lewe hou;
die hele land sal praat oor hoe goed dit met hulle gaan.
Aan die Here,die God van Israel, kom die lof toe tot in die aller verste toekoms.
Amen, ja, amen.
– uit Psalm 41:2-3, 14

Aanvangswoord
V: Uit die dieptes roep ek na U, Here.
G: Luister tog na my, Here.
V: As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?
G: By U is daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.
– uit Psalm 130

Aanvangswoord
Met wie kan jy My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige.
Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep?
Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal,
dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het.
Met sy groot krag, sy groot mag, sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie.
– uit Jesaja 40:25-26

Aanvangswoord
V: Wag in stilte op die Here. Die dag van die Here is naby.
G: Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding.
V: Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting,
G: sodat ek vas en stewig staan.
V: Wees stil voor die Here, al wat leef !
G: Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.
A: Amen.
– uit Psalm 62

Aanvangswoord
Toe het God gesê: “My reënboog het Ek in die wolke geplaas.
Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde.”
– uit Genesis 9

Seëngroet

Soos met al die ander handelinge tydens die erediens, is dit goed om ook met die seëngroet voor die tyd mooi te dink oor wat presies met woorde en handgebare gesê word. Wat is die verskil tussen: “Liewe gemeente, ek groet julle vanoggend met die woorde genade en vrede,” en: “Genade en vrede van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werking van die Heilige Gees”? Wie groet vir wie? Groet die liturg die gemeente, of is die liturg God se woordvoerder waardeur Hy self sy seën aan die gemeente toesê?

Seëngroet
V: Genade en vrede van God ons Vader,
G: die Heerser oor lewe en dood.
V: Genade en vrede van Christus wat uit die dood opgewek is,
G: Eersteling van dié van wat gesterf het.
V: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: ons Here en Lewendmaker.
A: Amen.

Seëngroet
V: Aan die uitverkorenes van God,
G: vreemdelinge in die wêreld:
V: Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies
en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees,
G: en om besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.
V: Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!
– uit 1 Petrus 1:1-2

Seëngroet
Liewe gemeente, die Vader wat sy Seun na hierdie wêreld gestuur het,
die Seun wat sy dissipels geroep het,
en die Heilige Gees wat ons elkeen roep,
groet julle vanoggend met die woorde: “Genade en vrede!”

Seëngroet vir die tyd ná Epifanie
Liewe gemeente,genade en vrede van God die Vader wat op die eerste dag gesê het:
“Laat daar lig wees.”
Genade en vrede van Jesus die Seun wat as Lig mens op aarde geword het.
En genade en vrede van die Heilige Gees wat ook ons hart en verstand verlig.
Amen.

Seëngroet vir Paastyd
Die Here groet julle vanoggend soos Jesus sy dissipels kort ná sy opstanding gegroet het:
“Vrede vir julle!”

Seëngroet vir Hemelvaart en/of Pinkster
V: Genade en vrede van een Skepper-God
G: van alle sienlike en onsienlike dinge.
V: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.

G: wat ons Here en Lewendmaker is.
A: Amen.
– uit die Geloofsbelydenis van Nicea

Seëngroet
V: In die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees,
G: een God.
V: Amen.
– uit ’n seëngroet van pous Sjenouda III van die Koptiese Kerk

Wet

Wet
Ek is die Here jou God wat jou na Kanaän,
na die land van melk en heuning, gelei het.
Jy moet net vir My as jou God aanbid.
Die een God – Vader, Seun en Heilige Gees –
moet al jou eer en diens ontvang.
Jy moet My liefhê, en Ek sal my liefde betoon
aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet
en liefde teenoor die hele skepping bewys.
Gebruik my Naam met eerbied, aan My kom al die lof toe.
Geniet die Sondag as ’n geskenk om ná ’n besige week te rus,
om die opstanding te vier en
om tyd met geliefdes deur te bring.
Jy moet eerbied hê vir jou ouers,
vir elke vorm van lewe,
vir die huwelik,
vir die dinge wat aan ander mense behoort
en vir die waarheid.
Ek is die Here jou God wat jou uit genade gered het.
Volg hierdie riglyne uit dankbaarheid.
Ek sal jou seën.
– as aanmoediging tot dankbaarheid

Wet
die ene wat weet om te hy se mond toe te maak,
die Jirre sal nou innie nag by hy se deer sit waak,
ma met dies wat altoos hille se monde gat rek,
met hille sallie Jirre laterhand ongeduldig kan raak

jy meen die pad wat jy self loop is goed,
marrie Jirre toets dieperder binne innie bloed;
lat los nou net jou werklikeit virrie Jirre
en jy sal gat sienie plan lyk nou sos hy moet

dis beterder lat jy min het, ma jy lewe reg
as lat jou se sakke knopstaan vannie sleg;
dink jy nou ma jou se eige pad ma sonnerie Jirre
loop raak jou se voetspore innie sand in weg
– uit “Spreke 13:3; 16:2-3; 16:8-9”, Hans du Plessis, Innie skylte vannie Jirre

Wet
V: Wat is ons alles aan mekaar verskuldig?
G: Net om mekaar lief te hê.
V: Watter deel van God se wet voer ons uit wanneer ons mekaar liefhet?
G: Die hele wet van God, want al die gebooie word daarin saamgevat.
V: Die samevatting van die wet van God is:
G: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
V: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
G: Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.
– uit Romeine 13

Wet as dankbaarheid
V: Die Here vra van ons om uit dankbaarheid sy gebooie te gehoorsaam.
G: Wat is die grootste en eerste gebod?
V: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.
G: En wie is ons naaste?
V: Gee ’n kort opsomming van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan en eindig met hierdie vraag: Wie van hierdie drie is volgens julle die naaste van hom wat onder die rowers verval het?
G: Die man wat aan hom medelye bewys het.
V: Gaan maak julle ook so.
– uit Lukas 10; Cas Wepener, Aan tafel met Jesus

Die wil van God
Nou doen ek ’n beroep op julle, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek aan elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.
– uit Romeine 12:1-3

Wet
Onthou, God het die Israeliete eers gered en daarna sy wil vir hulle gegee sodat hulle uit dankbaarheid oor sy redding daarvolgens kon leef. Ons lees in Eksodus 20:1-17 wat God se wil is. Vers 1-4 gaan oor ons liefde vir God, en vers 5-17 gaan oor ons liefde vir ander mense. Kom ons luister vanoggend weer na God se wil vir ons lewe …

  • Lees Eksodus 20:1-17.
  • Sing Lied 530:1-3, “Praat ek mense-, eng’letale”.

Skuldbelydenis
V: Here, ons moet vanoggend voor U bely dat ons geloof klein is.
G: Here, wees ons genadig.
V: By ons is die glas eerder half leeg as half vol.
G: Here, wees ons genadig.
V: Wanneer ons in ons lewe in ’n put beland, sien ons net die donker dieptes.
G: Here, wees ons genadig.
V: En wanneer ons kla, Here, kla ons meestal net by ander mense en nie ook by U nie.

G: Here, wees ons genadig.
V: Ag, Here, in slegte tye is dit werklik moeilik om u hand raak te sien.
– uit Psalm 105 en Genesis 37

Die gemeente sing Lied 247, “Heer, wees ons genadig”.

Skuldbelydenis
V:Here,daar is so baie mense rondom ons,
maar ons sien die meeste van hulle nie eens raak nie.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, by U is die laastes eerste, maar by ons bly hulle laaste.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, ons hou meer van belangrike mense as van onbelangrike mense.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, ons is volslae uitverkoop aan ’n samelewing waarin groter altyd beter is.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, ons is te besig om stil te staan en te luister na die sagter stemme rondom ons.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, ons hou van dinge en van mense en selfs van kerke wat blink.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, help ons om méér mense raak te sien, veral die byna onsigbares.
G: Here, wees ons genadig!

Daar bestaan verskeie weergawes van hierdie skuldbelydenis. Hierdie een is gegrond op Handelinge 9:36-43, en die volgende weergawe op Prediker 3–4. Die formaat is goed geskik om na aanleiding van die konteks en die tekste ingevul te word.

Skuldbelydenis
V: Here, ons is so besig dat daar in ons lewe nie ’n tyd vir alles is nie.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, ons leef grotendeels net vir ons eie belange.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, ons kyk die seëninge wat U vir ons gee so dikwels mis.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, ons dink groter, vinniger en meer is altyd beter.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, ons is dikwels te gejaag en te moeg om vir ander om te gee.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, ons sien dikwels die mense rondom ons nie eens raak nie
en luister nie in liefde na hulle nie.
G: Here, wees ons genadig!
V: Here, help ons dat ons nie die lewe self en vir U daarin misloop nie.
G: Here, wees ons genadig!

Genadeverkondiging
In Prediker 4 lees ons twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander een hom of haar ophelp. Maar as een wat alleen is, val, is daar niemand om hom of haar op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar sal een wat alleen is ooit warm word? Een alleen kan oorweldig word, maar twee saam kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.

God sê vanoggend opnuut sy genade aan ons toe. Hy self vleg God Drie-enig, ons naaste en onsself in ’n driedubbele tou. Sy genade is vir ons genoeg.

Skuldbelydenis en genadeverkondiging
V: As ons ons sondes bely,
God is getrou en regverdig,
Hy vergewe ons ons sondes
en reinig ons van alle ongeregtigheid.
G: Here, ek is ’n sondaar, wees my genadig.
V: Kom ons doen saam ’n gebed van skuldbelydenis.
A: Genadige God,
ons bely dat ons teen U gesondig het,
deur gedagte, woord en daad,
deur wat ons gedoen het,
en deur wat ons nie gedoen het nie.
Ons het U nie met ons hele hart liefgehad
en ons naaste soos onsself nie.
In u groot genade, Here, vergewe ons,
help ons op die regte pad,
sodat ons u wil sal soek
en op u paaie sal stap,
tot eer van u Naam.
V: Daar is nou vrede tussen jou en God deur ons Here Jesus Christus.

  • ’n Doopherinnering volg direk hierop.
  • Sing Lied 292:1-2, “My enigste troos”.

Skuldbelydenis
In Markus 2 sê Jesus mense wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar mense wat siek is. Hy sê ook Hy het gekom om sondaars te roep. Ons is sondaars; God roep ons. Al is ons almal uit genade gered en regverdig voor God, doen ons steeds sonde. Dít bely ons as gemeente vanoggend saam voor God:

  • Ons bely dat ons steeds mense met MIV en vigs stigmatiseer.
  • Ons bely dat ons te midde van die vigspandemie rondom ons nouliks daarby betrokke is.

In Markus 1 bely ’n melaatse man: “As U wil, kan U my gesond maak.” Dit is ook ons gebed vanoggend, Here.Genees ons as gemeente van ons vooroordele en traak-my-nieagtigheid teenoor mense wat deur MIV en vigs geraak word.

Verootmoediging
Sing Lied 247, “Heer, wees ons genadig”.

Genadeverkondiging
In Markus 1 antwoord Jesus die melaatse man met die woorde: “Ek wil. Word gesond!”
Dit is ook sy woorde vir ons as gemeente en ons gesindheid vanoggend.
– Skuldbelydenis, verootmoediging en genadeverkondiging uit Markus 1–2 vir ’n konteks van MIV en vigs

Skuldbelydenis
G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,
V: of ek sit en of ek opstaan.
G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,
V: en my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my,
V: of ek reis en of ek oorbly.
G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U weet wat dit gaan wees.
G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: U omsluit my van alle kante en neem my in besit.
G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Deur grond my, o God,deurgrond my hart, ondersoek my,sien tog my onrus raak.
Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!
– uit Psalm 139

Lied van verootmoediging
Lied 247, “Heer, wees ons genadig”.

Wet: Eksodus 20
Skuldbelydenis: Lied 232:1, “Diep, o God, diep neergeboë”.
Tyd van stilte: Vra jou vanoggend opnuut af of jy hierdie woorde wat jy nou gaan hoor werklik glo.
Genadeverkondiging: Onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien.
Tyd van stilte
Antwoord: Lied 245:1, 3, “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”.

Genadeverkondiging
Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde vir jou. Hy verseker jou vanoggend dat al jou sonde vergewe is. ’n Paar versreëls uit Sheila Cussons se gedig “Advent” bring die betekenis van die Adventsgebeure vir ons vergifnis bymekaar:

En was dit nie juis so dat
hy ons geskaad het nie? Maar
toe alles wat lieflik in ons was,
ewewigtig en nederig en klein,
soos ’n uitmekaargerukte blom
voor daardie verslindende blik
in bleek fyn flardes val
het ’n verskriklike Toorn
uit sy eie hart gebars
in ’n roos van vlees.
– uit Sefanja 3:17, vir gebruik in Advent; die uittreksel uit “Advent” van Sheila Cussons kom uit die bundel ’n Engel deur my kop

Genadeverkondiging
V: Die Here bring vanoggend vir ons almal die goeie boodskap dat ons gered is.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.
V: Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek;
met die mond bely ons, en ons word gered.

V: Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.

V: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

– uit Romeine 10

Die gemeente sing ’n danklied.

Genadeverkondiging en toewyding
V: Anders as die Jode van 2000 jaar gelede, weet ons Jesus is die Christus.
Aan elkeen wat glo, sê Jesus vanoggend opnuut sy genade toe.
G: U is die goeie herder, Here.
V: Julle is my skape, luister na my stem.
G: U is die goeie herder, Here.
V: Ek ken julle, volg My.
G: U is die goeie herder, Here.
V: Ek gee aan julle die ewige lewe, en julle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie.
G: U is die goeie herder, Here.
V: Niemand sal julle uit my hand ruk nie.
G: U is die goeie herder, Here.
V: Julle wat deur die Vader vir My gegee is, is die belangrikste van almal.
G: U is die goeie herder, Here.
V: En niemand kan julle uit die hand van die Vader ruk nie.
G: U is die goeie herder, Here.
V: Ek en die Vader is een.
A: Amen.
– uit Johannes 10:25-30

Genadeverkondiging
Liewe gemeente, in Jesaja 43:25 sê die Here dit is Hy wat ons opstandigheid vergewe en nie meer aan ons sondes dink nie. Daarom is die wonderlike woorde van Jesus se versekering in Markus 2 vanoggend ook vir jou bedoel. “Vriend, jou sondes is vergewe!” Glo dit.

Genadeverkondiging
In Johannes 20:23 sê Jesus: “As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe.” Daarom, in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees, gee ek vanoggend vir jou/julle die versekering dat jou/julle sondes vergewe is.
– uit Johannes 20:23

Geloofsbelydenis

Geloofsbelydenis/Gebed oor die Heilige Gees
Ek glo in ’n geheimsinnige Iemand wat naby my is,
wat binne-in my is,
wat my armsalige gespartel en gespook sien,
wat my dan stilletjies vashou
en my ongemerk van binne uit weer innerlike krag gee.
Ek het dit vele male in my lewe ervaar
as ek wegsink en meegevoer word deur die strome van die lewe
wat my na onder wil trek.
Maar ek het ook in beslissende momente in my lewe ondervind
dat ek opgetel en hoog bo die water gedra word.
Daar was oomblikke dat ek my Bybel sou oopslaan
en elke woord daarin vir my dof en vervelend geklink het.
Maar ek het ook oomblikke beleef waarin die woorde
as ’t ware op my afspring, waarin dit glinster en my lewe vul.
En altyd weer was ek oortuig dat daar Iemand in my moet wees,
Iemand wat my vashou,
Iemand wat my saggies maar ferm in die arms toevou.
Ek glo in die Heilige Gees.
– Herman Bavinck, uit Gebed van die hart van Willem Nicol

Geloofsbelydenis
V: Saam met dié wat getuies was van die gebeure van die eerste GoeieV rydag
bely ons in die geloof … Saam met Judas Iskariot …
G: dat ons soms self ’n onskuldige Man verraai.
V: Saam met Simon van Sirene …
G: dat wanneer jy Jesus volg, sy kruis ook jou kruis word.
V: Saam met die Romeinse soldaat …
G: dat ook ons afgestomp raak vir ander se nood.
V: Saam met Maria …
G: dat ons mekaar nodig het om Jesus enduit te volg.
V: Saam met die sterwende misdadiger …
G: dat ’n regverdige Man gesterf het.
V: Saam met die Romeinse offisier …
G: dat hierdie Man werklik die Seun van God is.
V: En nou bely ons ook saam met die wolk van geloofsgetuies deur die eeue heen …
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus,
gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees,
en ’n ewige lewe.
Amen.

Dit is ’n redelik bekende vorm van die geloofsbelydenis en hierdie spesifieke voorbeeld wys dat die Nuwe Testament vele kreatiewe moontlikhede bied om die besonderhede van die belydenis in te vul, veral met die betrokke Evangelie wat in die Leesrooster gebruik word.

Geloofsbelydenis op grond van die Evangelie van Markus
V: Saam met Markus bely ons ons geloof in Jesus Christus.
Saam met Johannes die Doper …
G: Die Een wat ná my kom, is my meerdere.
V: Saam met die stem uit die hemel …
G: Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My!
V: Saam met Simon Petrus …
G: U is die Christus!
V: Saam met die stem uit die wolk …
G: Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom!
V: Saam met die Romeinse offisier …
G: Hierdie man was werklik die Seun van God.
V: En jy, wat glo jy?

Geloofsbelydenis op grond van Matteus 16:13-20
V: Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?
G: Party Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.
V: Maar julle, wie sê julle is Jesus?
G: Hy is die Christus, die Seun van die lewende God.
V: Anders as die dissipels in Matteus 16 kan ons dit hardop bely en wyd verkondig.

Apostoliese Geloofsbelydenis in isiXhosa
Ndiyakholwa kuThixo, uYise uSomandla, uMdali wezulu nomhlaba;

NakuYesu Kristu, okuphela koNyana wakhe, iNkosi yethu, owakhawulwa nguMoya oyiNgcwele, wazalwa yintombi uMariya. Weva ubunzima ngoPontiyo Pilato, wabethelelwa emnqamlezweni, wafa, wangcwatywa, wehlela kwelabafileyo. Wathi ngomhla wesithathu wabuya wavuka kwabafileyo, waza wenyukela ezulwini; uhleli ngasekunene kukaThixo uYise uSomandla, apho aya kubuya evela khona, aze kugweba abahleliyo nabafileyo.

Ndiyakholwa kuMoya oyiNgcwele, nakwibandla elingcwele lezizukulwana ngezizukulwana, ubudlelane babangcwele, ukuxolelwa kwezono, ukuvuka komzimba ekufeni nakubo ubomi obungunaphakade. Amen.

Apostoliese Geloofsbelydenis (responsories)
V: Glo jy in God die Vader?

V: Glo jy in Jesus Christus, die Seun van God?
G: Ek glo in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here;

V: Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ek glo in die Heilige Gees.

Ekologiese geloofsbelydenis
Ons glo in God, die almagtige Vader, wat uit liefde die aarde vir alle mense gegee het.
Ons glo dat ons as mense ’n spesiale deel van die skepping is, en dat elke deel van die skepping ’n kosbare geskenk is om te gebruik en in liefde na om te sien.
Ons glo in Jesus Christus, wat die koninkryk laat kom, die skepping genees, en deur sy dood en opstanding die vrede van God aan mense bied.
Ons glo in die Gees van God, wat oor die waters gesweef en orde in ons wêreld gebring het.
Ons wil glo in die skoonheid van eenvoud, in liefde met oop hande.
Ons waag dit om te glo in ’n nuwe mensheid, waar geregtigheid sal floreer, respek vir die hele skepping sal gedy, en vrede ’n werklikheid is.
Ons uiter vanoggend ons oortuigings terwyl ons hier herinner word aan die liefde van God, die genade van Christus en die gemeenskap van die Gees.
Amen.
– vry vertaal uit EM Conradie en DN Field, A rainbow over the land

Geloofsbelydenis, oliesalwing en gebed
V: Here, verhoor vanoggend ons gebed.
G: God van Jakob, beskerm ons.
V: Ag, Here, gee vir ons wat ons vra.
G: Dit weet ek: Die Here sal aan sy gesalfde die oorwinning gee.
V: Uit die heilige hemel verhoor die Here ons gebed.
G: Die Here gee in sy groot mag die oorwinning.
V: Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde,
G: maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God.
V: Hulle sal struikel en val,
G: maar óns sal regop en vas bly staan.
V: Here, help ons om na dieselfde dinge te kyk as waarna U kyk.
G: Maak ons met hierdie oliesalwing opnuut instrumente in u hand.
– uit Psalm 20

Lidmate kom vorentoe en die liturg maak met olyfolie die kruisteken op elkeen se hand of voorkop.

Die gemeente sing Lied 284:1-3, “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”.

Epiklese (Gebed by opening van die Woord)

Gebed by die opening van die Woord
Here, U verdra nie feesviering en onreg saam nie. Daarom is ons nie werd om vanoggend tot U te nader en na u Woord te luister nie. Tog kom ons vanoggend sodat U die saak met ons kan uitmaak. Kom maak nou die saak deur u Woord en u Gees met ons uit. Amen.
– uit Jesaja 1

Gebed by die opening van die Woord
Here, ons wil U loof omdat U goed is. Daar is geen einde aan u liefde nie. Baie van ons is verdwaal en kan nie aldag ons pad kry nie. Daar is ook baie mense in die wêreld wat honger, dors en uitgeput is. Ons eie verdwaaldheid en die nood van die wêreld bring ons nou na U toe. Ons vra dat U ons uit die ellende sal red en op die regte pad sal bring. Ons glo u Woord praat oor ons geestelike en ons materiële nood. Praat nou met ons, Here. Amen.
– uit Psalm 107

Gebed by die opening van die Woord in Advent
Almagtige Vader, aan die begin van nog ’n somer in Suid-Afrika, tussen bome wat begin uitloop, verlang ons na u somer. Here, U self het gesê die hemel en die aarde sal vergaan, maar u woorde sal nooit vergaan nie. Versterk ons nou deur u lewendmakende Woord sodat ons kan opstaan, ons kop kan lig en in die regte rigting kan kyk. Amen.

Gebed by die opening van die Woord
Here, U noem Uself “Ek is”, en U stuur my vanoggend as prediker na hierdie gemeente. U weet dat ek, soos ek nou hier staan, in die afgelope week soos Moses gewonder het: Wat moet ek vir hulle sê? Maar, Here, U is die God van ons voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob. Dit is ewig u Naam en die Naam waarmee ons U vanoggend aanroep. Praat met ons, Here, soos U destyds met Moses vanuit die doringbos gepraat het. Amen.
– uit Eksodus 3

Skriflesing

Hugh Oliphant Old, ’n gereformeerde liturg, wys in sy besonderse bespreking van Nehemia 8 en Lukas 4 en in sy oorsig van die geskiedenis van prediking hoe die Skriflesing vanaf die tyd van die Ou Testament en deur die geskiedenis heen ’n afsonderlike liturgiese handeling was en ook behoort te wees. Liturge en predikers kan hierdie insig van Old kreatief ontgin. Wanneer die Skrifgedeelte gelees word, kan dit reeds ’n vertolking van die bepaalde teks wees, wat dan in die prediking verder gevoer word. Om dít reg te kry is goeie voorbereiding egter nodig. Die eksegetiese en homiletiese omgaan met die teks(te) voed nie net die prediking nie, maar ook die Skriflesing as volwaardige liturgiese handeling.

Wat die keuse van teks(te) betref, bestaan daar verskeie moontlikhede. Die algemeenste drie maniere waarop ’n bepaalde teks gekies word, sluit in:

  • lectio continua – om Bybelgedeeltes opeenvolgend te lees met die oog op die prediking. Dit kan hoofstuk vir hoofstuk, perikoop vir perikoop of selfs vers vir vers gebeur.
  • vrye tekskeuse – die keuse van die teks lê by die diskresie van die prediker en in sekere gevalle in samewerking met ander, soos ’n erediens- of preekwerkgroep.
  • leesroosters – die Revised Common Lectionary word algemeen gebruik in Protestantse kerke wêreldwyd en dien ook as grondslag vir publikasies soos Communitas se Preekstudies en liturgiese voorstelle.

Toe-eiening

Toe-eiening as ’n liturgiese element gaan daaroor om op verskillende maniere, getrou aan die aard van die prediking met ’n betrokke geleentheid, vir erediensgangers die geleentheid te gee om die boodskap hulle eie te maak. Reg aan die begin van die boek het ek al verwys na ’n gesprek ná die prediking as ’n moontlike vorm van toe-eiening. Die gesprek kan selfs aktief tydens die teetyd ná die formele erediens geskied. Daar is egter ook ander minder rasionele maniere waarop hierdie element ingeklee kan word. Voorbeelde van toe-eieningsmomente sluit onder meer in om kerse aan te steek, te bid, na instrumentale musiek te luister, ’n lied te sing of na ’n gedig of ’n responsoriese lesing te luister (soos die enkele voorbeelde hier onder). Andersins kan feitlik enigeen van die liturgiese voorbeelde in hierdie boek gebruik word afhangende van die aard van die preek. Die mees gepaste vorm bly egter altyd die nagmaal en ander elemente wat tradisioneel by die tafel tuishoort, soos die offergawes.

Toe-eiening
V: Here, ons gee ons vanoggend aan U oor.
G: Doen met my wat U wil.
V: Wat U ook al met ons doen, daarvoor sê ons dankie.
G: Ek is gereed vir enigiets, solank dit u wil is.
V: Ons vra vir niks meer as dit nie, Here.
G: Ek plaas my hele wese in u hande.
V: Ons gee ons vanoggend vir U, Here, en dit kom diep vanuit ons hart.
G: Omdat ons U liefhet.
V: Amen.

Toe-eiening
Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oral teenwoordige krag waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet God het alles geskep en onderhou dit steeds deur sy voorsienigheid?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ’n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.
– uit Heidelbergse Kategismus, Sondag 10, Vraag en Antwoord 27-28

Anyway
People are often unreasonable, illogical and self-centred;
forgive them anyway.
If you are kind, people may accuse you of selfish, ulterior motives;
be kind anyway.
If you are successful, you will win some false friends and some true enemies;
succeed anyway.
If you are honest and frank, people may cheat you;
be honest and frank anyway.
What you spend years building, someone could destroy overnight;
build anyway.
If you find serenity and happiness, they may be jealous;
be happy anyway.
The good you do today, people will often forget tomorrow;
do good anyway.
Give the world the best you have, and it may never be enough;
give the world the best you’ve got anyway.
You see, in the final analysis, it is between you and your God;
it was never between you and them anyway.
– Moeder Teresa

Die oorspronklike gedig waarop hierdie een moontlik gebaseer is, is geskryf deur Kent Keith, beskikbaar by www.asa3.org/ASA/education/views/ teresa.htm. Hierdie gedig is blykbaar gegraveer op ’n muur van die kinderhuis wat sy in Kolkata gestig het.

Dry bones
Ezekiel cried them dry bones.
Now hear the word of the Lord.
Ezekiel connected them dry bones.
Now hear the word of the Lord.
Your toe bone connected to your foot bone.
Your foot bone connected to your ankle bone.
Your ankle bone connected to your leg bone.
Your leg bone connected to your thigh bone.
Your thigh bone connected to your hip bone.
Your hip bone connected to your back bone.
Your back bone connected to your shoulder bone.
Your shoulder bone connected to your neck bone.
Your neck bone connected to your head bone.
Now hear the word of the Lord.
Them bones gonna walk around.
Now hear the word of the Lord.
– ’n Afro-Amerikaanse spiritual op grond van Esegiël 37

Lament (Klag)
Sometimes I feel
like a motherless child
Sometimes I feel
like a motherless child
a long way from home
true believer
a long way from home.
– ’n Afro-Amerikaanse spiritual

Getuies en getuienis

’n Ou gebruik in die kerk wat spesifiek deel van die liturgie vorm, is om die voorbeeld van gelowiges of die sogenaamde geloofsgetuies (Latyn: vitae) in die erediens te onthou. Die gedagte is geensins om die sentrale fokus van die drie-enige God weg te neem nie, maar om juis deur die lewe van hierdie geloofsgetuies die fokus opnuut op God en op ons navolging te laat val. Hier kan ons menige geloofsgetuies noem. Ons kan hulle lewensverhale bondig in herinnering roep as ’n soort getuienis tydens die erediens. Niek Schuman, die Protestantse liturg, gee agterin die boek De weg van de liturgie voorbeelde van kalenders wat gemeentes kan gebruik om hulle te help om die geloofsgetuies sistematies te onthou. Ek gee in hierdie boek net een voorbeeld van ’n geloofsgetuie – die lewensverhaal van die Suid-Afrikaanse dogtertjie, Manche Masemola (1913-1928).

Manche was waarlik ’n 20ste-eeuse Suid-Afrikaanse martelaar vir haar geloof. Sy sal onthou word vir haar dapper lewe en woorde: “In my eie bloed sal ek nog gedoop word.” Sy is in 1913 in die destydse Transvaal as ’n lid van die Pedi-groep gebore. Haar familie was ongeletterd. In 1919 het ’n Anglikaanse priester ’n sendingstasie opgerig naby aan die plek waar sy en haar familie gewoon het. Manche en haar suster het die dienste begin bywoon en kort voor lank ook die kategeseklasse. Hulle entoesiasme vir hulle nuutgevonde geloof het vinnig toegeneem.

Die standbeeld van Manche by die Westminster-katedraal

Volgens bronne het haar familie gevrees dat Manche se blootstelling aan die Christelike geloof en haar gepaardgaande opvoeding haar van hulle tradisionele kulturele waardes sou vervreem, en dat sy dalk nie sou trou met die man wat hulle vir haar gekies het nie. Haar familie het haar deurentyd mishandel weens haar geloof in die Here. Die situasie het net al hoe erger geraak. Manche se ma het selfs haar klere weggesteek sodat sy nie meer na die kategeseklasse toe kon gaan nie.

Op 4 Februarie 1928 het haar ouers haar na ’n eensame plek weggeneem, haar daar vermoor en begrawe. Buiten die graf wat gemerk is en steeds besoek word, staan Manche Masemola se standbeeld vandag in die Westminster-abdy in Londen, tussen die standbeelde van ander 20ste-eeuse martelare vir die geloof. Oor hierdie martelare het een van die priesters van Westminster-abdy geskryf:

“During this most violent of centuries thousands of men and women have paid with their lives and their convictions. Those represented here have left their testimony to the ultimate cost of Christian witness and to its enduring significance.”

Nog ’n manier waarop die geloofsgetuies in die geskiedenis van die Christelike kerk onthou word, is deur getuieniskalenders. Buiten die tradisionele kalenders het daar ook ekumeniese kalenders ontstaan. Hierdie kalenders sluit in musici, skilders, beeldhouers, skrywers, ensovoorts, asook mense uit die meer onlangse geskiedenis. Niek Schuman bied voorbeelde van sulke kalenders met mense en die datums waarop hulle onthou kan word, soos 28 Januarie – Fjeodor Dostojefski; 18 Februarie – Michelangelo Buonarotti; 4 April – Martin Luther King, en 10 Desember – Karl Barth. Die politieke en maatskaplike betrokkenheid van geloofsgetuies word ook dikwels beklemtoon.

Buiten die getuieniskalenders word die herinneringe aan ons voorgangers dikwels ook visueel uitgebeeld. Hierdie venster in die Anna-kerk in Heerlen waarop geloofsvoorgangers afgebeeld is, is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Koppenraam deur Daan Wildschut, Anna-kerk, Heerlen, Nederland
(http://www.glasmalerei-ev.de/pages/b3223/b3223.shtml)
Links: Teilhard de Jardin, Abbé Pierre, Hélder Câmera, Julius Nyerere
Middel: Anne Frank, Pous Johannes XXIII, Steve Biko, Dietrich Bonhoeffer
Regs: Martin Luther King, Teresa van Kolkata, Wilhelmus Bekkers, Dag Hammarskjöld

Doop

Herbevestiging van doopbeloftes
V: Ons doop is ’n teken en seel dat God ons gered het. Deur die geboorte, dood en opstanding van Jesus Christus is die magte wat ons bind, verbreek en het God se koninkryk ons wêreld ingekom. Deur ons doop is ons burgers van God se koninkryk gemaak en vrygemaak van alles wat ons gevange hou. Kom ons vier vanoggend opnuut hierdie vryheid deur die beloftes wat by ons doop gemaak is te herbevestig. Ons gaan ons vanoggend opnuut aan God toewy deur ons geloof te bely en die doopwater aan te raak.
V: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
G: Ja, ek glo.
V: Weet dan dat God ons Vader met jou doop al sy beloftes aan jou toegesê en jou Syne gemaak het.
Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?
G: Ja, ek glo.
V: Weet dan dat Jesus Christus vir jou gesterf het en dat jy die redding wat Hy bewerk het, besit.
Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ja, ek glo.
V: Weet dan dat die Heilige Gees in jou woon en vir jou die krag gee om ’n ware dissipel van Jesus te wees.
Jy behoort aan die Here en niks kan hierdie waarheid ooit verander nie.
G: Amen.
– sien ook Handleiding vir die erediens, bladsy 50-51

Die gedoopte lidmate kom dan vorentoe en steek hulle hande in die doopvont.

Sing byvoorbeeld Lied 290, “Dit is my troos dat ek gedoop is”.

Doopherinnering en toewyding
V: Die Here jou God vra vandag van jou om volgens sy voorskrifte en bepalings te leef en hulle te gehoorsaam. Jy moet dit doen met hart en siel.
G: Ek sal die Here liefhê en my naaste soos myself.
V: Die Here verklaar vanoggend opnuut dat jy sy eiendom is en vra dat jy Hom sal gehoorsaam.

V: Wanneer jy vanoggend hier uitstap, raak aan die water.
Weet dat God jou liefhet en gaan deel sy liefde met ander.
– uit Markus 12:28-31

Spreek die seën uit.

Terwyl die gedoopte lidmate die kerkgebou verlaat, druk hulle hulle hande in die doopvont wat by die deur staan.

Die hertoe-eiening van die doop, vir gebruik ná ’n doopdiens
Augustinus se lewe vertel vir ons baie oor die doop. Hy was jare lank met die dinge van die wêreld besig voordat hy ontdek het God het hom reeds gevind. Hy is toe deur Ambrosius gedoop. Ons het dit vandag weer in die sakrament van die doop gesien: Soos God vandag sy belofte vir hierdie kindjie/man/vrou gegee het, so is ons elkeen reeds deur God gevind. Dit is iets wat ons (gereeld) moet (her)ontdek. Bid saam met my …
Te laat het ek U liefgekry, skoonheid, so oud en tog so nuut;
te laat het ek U liefgekry!
U was in my binneste en ek was buite besig om U te soek,
maar op die verkeerde plekke.
Ek het my liefde uitgestort op die skoonheid en pragtige dinge wat U gemaak het.
U was by my, maar ek was nie by U nie.
Dinge wat nie sou bestaan het as dit nie vir U was nie, het my vasgehou.
U het geroep en geskreeu en deur my doofheid gebreek;
U het geskitter en my blindheid verdryf;
U het ’n aangename geur versprei en ek kon dit inasem, en nou snak ek na U:
Ek het U geproe en nou honger en dors ek na U.
U het my aangeraak en nou is ek aan die brand met ’n vurige verlange na u vrede.
– Augustinus

Nagmaal

Litanie met die nagmaal
V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die brood wat lewe gee.”
G: Voed ons vanoggend sodat ons nooit weer honger en nooit weer dors sal kry nie.
V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die lig vir die wêreld.”
G: Skyn in elke duister hoekie van ons lewe en gee vir ons die lig wat lewe gee.
V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die ingang vir die skape.”
G: Laat ons deur U in- en uitgaan en gee vir ons weiding.
V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die goeie herder.”
G: Dankie dat U u lewe vir ons afgelê het.
V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe.”
G: Ons glo in U, Here Jesus, en sal leef al sterf ons ook.
V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”
G: Ons gaan deur U na die Vader.
V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die ware wingerdstok en julle die lote.”
G: Help ons om in U te bly sodat ons baie vrugte sal dra.
– uit Jesus se sewe “Ek is”-uitsprake in die Evangelie volgens Johannes

Kies ’n gepaste lied wat almal saam kan sing.

Nagmaalgebed
Genadige Here, ons waag dit om u tafel in vertroue te nader, nie op grond van ons geregtigheid nie, maar op grond van u groot en menigvuldige barmhartigheid. Ons is nie eens waardig om die krummels onder u tafel op te tel nie. Maar U, Here, bly onderveranderlik, die Here wat van nature altyd genade betoon. Skenk ons, genadige Here, om so te eet van die liggaam en te drink van die bloed van u geliefde Seun, Jesus Christus, dat ons voortaan altyd in Hom sal bly en Hy in ons.
– uit die Anglikaanse liturgie

Nagmaalformulier in ’n gesprek met ’n kind
Uitnodiging: Ons gaan nou die nagmaal vier. Elkeen word uitgenooi om dit saam te vier. Jesus het gesê: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” Ek nooi nou vir NN (’n kind uit die gemeente) om my te help met die nagmaalformulier.

Ons gaan die nagmaal vandag vier soos die Jode dit duisende jare lank al doen.

Die diakens deel die brood en wyn uit.
Die kind vra telkens die vraag en die liturg antwoord.

Vraag: Hoekom sê ons by hierdie tafel vir God dankie en loof Hom?
Antwoord: Ons sê vir God dankie dat Hy die wêreld en ook vir ons geskep het. Ons sê vir Hom dankie dat Hy die wêreld deur die dood en opstanding van sy Seun, Jesus Christus, verlos het. Ons sê vir Hom dankie omdat hierdie verlossing aan ons elkeen behoort. Daarom sê ons vanoggend vir God dankie en loof Hom.

Vraag: Hoekom eet ons brood by hierdie tafel?
Antwoord: In die nag voordat Jesus dood is, het Hy die brood geneem. Nadat Hy vir sy Vader daarvoor dankie gesê het, het Hy dit geneem en vir sy dissipels daarvan gegee terwyl Hy gesê het: “Neem, eet. Dit is my liggaam, dit is vir julle. Doen dit tot my gedagtenis.”

Vraag: En hoekom drink ons wyn by hierdie tafel?
Antwoord: In dieselfde nag het Jesus ook die wyn geneem. Nadat Hy vir God daarvoor dankie gesê het, het Hy die wyn geneem en vir sy dissipels daarvan gegee terwyl Hy gesê het: “Dit is die nuwe verbond wat met my bloed beseël is, my bloed wat uitgegiet is vir die vergifnis van sonde. Doen dit tot my gedagtenis.”

Vraag: Wat onthou ons dan by hierdie tafel?
Antwoord: Ons onthou hier dat God ons elkeen ongelooflik baie liefhet. Ons onthou dat Jesus Christus vir ons gesterf en uit die dood opgestaan het. En ons onthou dat die Heilige Gees vir ons omgee en sorg.

Instelling van die brood: Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Neem, eet, en glo dat sy liggaam gebreek is tot ’n volkome versoening vir ons elkeen.

Instelling van die wyn: Die beker van danksegging is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Neem, drink, en vertrou opnuut op die waarheid dat sy kosbare bloed vergiet is tot ’n volkome versoening vir ons elkeen.
– sien ook die bylae “Gereelde nagmaalviering. Agtergrond en voorbeelde” in die boek Ontdekkings in die erediens

Stilte

In ’n raserige, gejaagde wêreld raak die behoefte aan stil oomblikke by God al hoe groter. Stilte in die liturgie is juis een van die elemente wat indruis teen die heersende raserige kultuur waarin ons leef. Stilte in die liturgie kan ’n letterlike stilte wees of dit kan ’n meer meditatiewe tyd wees wat met instrumentale musiek gevul word. Hier kan die wonderlike skat van Afrikaanse poësie ook benut word, al kan dit ook tydens die toe-eiening en die tyd van voorbidding gedoen word. Dink byvoorbeeld aan Sheila Cussons se skat van godsdienstige gedigte. Dikwels kan selfs gedigte wat nie ’n eksplisiet godsdienstige strekking het nie juis ook goed in ’n bepaalde liturgiese moment gebruik word.

Die luistergebed

  • Sit gemaklik en maak jou oë toe. (Stilte.)
  • Bring jouself tot rus deur bewustelik asem te haal: Haal diep asem; blaas jou asem stadig uit en trek die lug stadig in; kan jy jou asem hoor en voel? (Stilte.)
  • Fokus op jouself deur byvoorbeeld op een van jou sintuie, soos gehoor, te konsentreer. Konsentreer op wat jy alles hoor. (Daar is stilte totdat die liturg die volgende stap aandui.)
  • Fokus nou op God en sê vir Hom wat jy op die hart het – om in Hom te bly? Dat Hy in jou moet bly? Dalk iets oor ’n vriendskap? (Stilte.)

– hierdie gebed word dikwels by kampe of retraites gebruik, maar kan ook as ’n liturgiese element goed benut word (sien Kruisgewys, 5/3:37)

Die gemeente bly sit en sing sag Lied 526, “Waar daar liefde is” (Afrikaans, Latyn, Afrikaans).

Die sewe kruiswoorde van Jesus – vir Goeie Vrydag
V: Jesus het gesê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Stille nadenke.

V: Jesus het gesê: “Ek verseker jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Stille nadenke.

V: Jesus het vir sy moeder gesê: “Daar is u seun.” Daarna het Hy vir die dissipel gesê: “Daar is jou moeder.”

Stille nadenke.

V: Jesus het hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Stille nadenke.

V: Hierna het Jesus gesê: “Ek is dors.”

Stille nadenke.

V: Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Stille nadenke.

V: Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee ek my gees oor.”

Stille nadenke.
– sien ook Handleiding vir die erediens

Die gemeente sing Lied 384, “Jesus, o dink aan my” (Afrikaans, Engels, Afrikaans).

De stilte
Refrein
Niets is sterker dan de stilte
Niets heeft zoveel kracht
Als het zwijgen van de nacht
Niets is sterker dan de stilte
Niets is sterker dan het woord
Dat niemand hoort

Er is vandaag weer zoveel gesegd
Zoveel mensen op de wereld
Hebben zoveel uitgelegd
Gekanker op een ander
Door die beterweters
Maar die beterweters zouden beter moeten weten
En vergeten wat ze weten, want …

Refrein

Neem een voorschot op de dood
Voel de stilte om je heen
Wie de zwijgsaamheid verdragen kan
Voelt zich nooit alleen
Kom hier bij me, hou me vast
En vraag niet wat ik voel
Woorden zeggen veel te vaak
Wat ik niet bedoel

Refrein
– Stef Bos (www.stefbos.nl/page/Liedteksten/detail/1226/De_Stilte)

Oor gebed en stilte
Namate my gebed bewusteliker en dieper geword het,
het ek al hoe minder gehad om te sê;
uiteindelik het ek heeltemal stil geraak.
Ek het toe begin luister,
wat selfs nog verder verwyderd is van praat.
Toe het ek geleer gebed is om te luister,
nie net stilbly nie.
Dit is soos dit is,
om te bid beteken nie om na jou eie gepraat te luister nie.
Gebed gaan oor stil word,
en oor stil wees,
en om te wag totdat God gehoor word.
– Søren Kierkegaard, uit: God praat, leef luisterryk

What is grace?
“What is grace?” I asked God.

And He said,

“All that happens.”

Then He added, when I looked perplexed,

“Could not lovers
say that every moment in their Beloved’s arms
was grace?
Existence is my arms,
though I well understand how one can turn
away from
me

until the heart has
wisdom.”
– Johannes van die Kruis, uit For lovers of God everywhere, www.onegodsite.net/Mystics/stjohnofthecross.html

Aankondigings (Bulletin)

Menings verskil sterk oor wat die ideaalste plek vir die aankondigings, bulletin of mededelings is. Sommige pleit dat dit net voor die aanvang van die diens gedoen moet word, dus vóór die aanvangswoord, sodat die goeie en ononderbroke vloei van die diens behou kan word. Ander, weer, pleit vir ’n sterker koppeling van die aankondigings met die tafeldiens (die nagmaal) om só klem te laat val op God se solidariteit met die nood van die wêreld, asook vir koppeling met die offergawes waardeur gelowiges hulle as lewende offers gee, wat dan sterker gekoppel word aan die aktuele plekke waar hulle in die gemeente, in die gemeenskap en in die wêreld diens kan lewer. Gevolglik sal voorbidding ’n logiese liturgiese element wees om net ná die aankondigings te plaas. Hoe dit ook al sy, met goeie beplanning behoort die aankondigings ’n volwaardige deel van die liturgie self te wees. Dit is ’n liturgiese element wat die res van die liturgie sterk kan koppel aan die sosiale konteks en nood van die wêreld. Die gee en opneem van die offergawes is self ook volledige liturgiese rituele waardeur God aanbid word.

Litanie en voorbidding

’n Litanie is ’n smeekgebed in ’n bepaalde vorm. Dit bestaan uit ’n aantal kere wat God aangeroep word. Telkens word daar responsories hierop geantwoord. Hier onder volg eers enkele voorbeelde van litanieë en daarna ’n paar ander gebede.

Kerslitanie
V: In ons wêreld, soos in die skoot van Maria …
G: Kom, Here Jesus.
V: Op al die vergete plekke, soos in die stal van Betlehem …
G: Kom, Here Jesus.
V: Bring hoop in die lewe van armes;
bring omsigtigheid in die lewe van magtiges;
bring rus in die lewe van vermoeides;
bring onrus in die lewe van oorgerustes.
In ons lewe en in ons verlange, wie ons ook al is …
G: Kom, Here Jesus.
V: Dit is die goeie nuus: Christus is gebore.
Christus kom weer.
Geseënd is elkeen wat bid en werk totdat Hy weer kom.
G: Kom, Here Jesus! Kom gou! Amen.
– Anoniem

Litanie vir gebruik in Pinkstertyd
V: Veni Creator Spiritus. Kom, Skepper-Gees! Kom en hoor ons gebede en herskep ons.
Kom herskep u kerk oor die wêreld heen …
G: met waagmoed vir geregtigheid.
V: Kom herskep u kerk in Suid-Afrika …
G: met deernis en medelye vir die nood rondom ons.
V: Kom herskep die NG Kerk en die VGK …
G: om nuwe moontlikhede vir kerkeenheid te soek.
V: Kom herskep ons in NN (naam van julle gemeente) …
G: sodat ons uit dankbaarheid u wil sal soek.

Kom herskep individue in die wêreld …
G: dat hulle onrustig sal bly totdat hulle rus vind in U.
V: Kom herskep mense wat onseker is oor hulle identiteit …
G: tot ’n lewe van selfaanvaarding.
V: Kom herskep mense wat ander veroordeel …
G: tot ’n lewe van selfondersoek.
V: Kom herskep mense wat sukkel om kinders te kry …
G: met die troos van u nabyheid.
V: Kom herskep die seer van kinders wat mishandel en gemolesteer word …
G: met u genesende liefde.
V: Kom herskep misdadigers en geweldplegers …
G: met ’n hartsverandering en onderskeidingsvermoë.

Buiten vir die kerk en vir individue, vra ons uitkoms vir ons wêreld …
Vir die oorloë …
G: in Afganistan, Irak, Soedan en oral waar daar oorlog is.
V: Vir die vigspandemie …
G: in Suid-Afrika, Zambië, die res van Afrika en oral waar mense ly.
V: Vir hongersnood en armoede …
G: in Indië, Malawi, Amerika en oral in die wêreld.
V: Vir die mishandeling van vroue …
G: in Bangladesj, Suid-Afrika, Tsjad en oral in die wêreld.

Kom herskep ook vir my …
G: haal my kliphart uit, en gee vir my ’n hart van vleis.
V: Saam met die kerk wêreldwyd en die wolk van getuies wat oor die eeue heen strek,
bid ons …
G: Kom, Skepper-Gees!
V: Amen!

Litanie in Koninkrykstyd
V: Here Jesus, laat u koninkryk kom. Hoor ons gebede.
Vanoggend vra ons vergifnis …
G: omdat ons nie van die kruis hou nie.
V: Ons vra vergifnis …
G: omdat ons nie kans sien om onsself te verloën nie.
V: Ons vra vergifnis …
G: omdat ons tot elke prys ons lewe wil behou.

Gee vir my die vertroue …
G: om my kruis op te neem.
V: Gee vir my die vertroue …
G: om myself te verloën.
V: Gee vir my die vertroue …
G: sodat ek my lewe terug sal kry.
V: Here Jesus, laat u koninkryk kom. Hoor ons gebed …
G: en kom met u engele!
V: Maranatha! Kom, Here Jesus!
G: Amen.
– uit Matteus 16

Litanie vir rus en heling
V: Here Jesus, U is die brood wat lewe gee.
U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …
G: elkeen wat moeg en afgemat is.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …
G: elkeen wat genesing vir stukkende verhoudings soek.

G: elkeen wat sukkel met spanning in hulle lewe.

G: elkeen vir wie geloof ’n moeilike stryd is.

G: elkeen wat hulle dag ná dag met moeisame werk afsloof.

G: elkeen wat heling soek vir ’n stukkende verlede.

G: elkeen wat liggaamlik siek is.
V: Here Jesus,U is die brood wat lewe gee.
Neem, seën, breek en deel Uself aan ons uit.
G: Neem, seën, breek en deel ook vir ons uit.
V: Gee wat U vra en vra dan wat U wil.
A: Amen.

Litanie vir die skepping
V: O Skepper-God! Hoor ons gebed en herskep ons.
Kom en lei ons op die regte pad …
G: ’n pad van omgee vir u aarde.
V: Herskep ons ekonomieë wat die omgewing verwoes …
G: in Suid-Afrika, China, Amerika en oral in die wêreld.
V: Herskep regerings wat nie die bekamping van besoedeling as prioriteit sien nie …

V: Herskep individue wat vertrap eerder as heers …

Kom herskep ook my gesindheid teenoor die aarde …
G: haal my kliphart uit en gee vir my ’n hart van vleis.
V:Saam met die kerk wêreldwyd en die wolk van getuies wat oor die eeue heen strek, bid ons …
V: Amen!

Gij eeuwige,
Die U barmhartig getoond hebt,
wees nabij.

Van kindsbeen af
heb ik op U vertrouwd;
Gij die mij kent bij name,
wees nabij.

In vertwijfeling en angst,
bij vreugde en verdriet,
wees nabij.

Wanneer ik dreig te vallen,
als het donker wordt om mij heen,
wees nabij.

Als ik mij afvraag: hoe verder?
Als de dageraad gloort,
wees nabij.

In wie mij lief zijn,
in mijn ontmoetingen met mensen,
wees nabij.

Draag mij en behoed mij,
beschut mij onder uw vleugels,
dat uw naam tot zegen zij:
wees nabij.
– Louis van Tongeren

In a personal crisis
God of life,
there are days when the burdens we carry
are heavy on our shoulders and weigh us down,
when the road seems dreary and endless,
the skies gray and threatening,
when our lives have no music in them,
and our hearts are lonely,
and our souls have lost their courage.
Flood the path with light,
turn our eyes to where the skies are full of promise,
tune our hearts to brave music;
give us the sense of comradeship
with heroes and saints of every age;
and so quicken our spirits
that we may be able to encourage
the souls of all who journey with us on the road of life,
to your honour and glory.
Amen.
– Theresa van Liseaux, vry vertaal uit Book of common worship

Gebed vir vrede tussen rasse
Grote God van ons almal,
neem alle vooroordeel weg wat mense teen mekaar laat draai.
Leer ons dat ons almal kinders van u liefde is,
of ons nou swart, bruin of wit is, of van watter ras of kultuur ook.
Moedig ons aan om saam te leef en mekaar in vrede lief te hê.
Here, leer ons om in alles van U alleen afhanklik te bly
en bewaar ons van die illusie dat ons onafhanklik van U kan bestaan.
Amen.
– vry vertaal uit Book of common worship

Dan ook die gedig Praying van Mary Oliver. Beskikbaar by rickshawdiaries.wordpress.com/2007/12/17/poetry-monday-mary-oliver/

Gebed van Emmaus vir Paastyd
V: Liewe gemeente, wanneer ons nou in hierdie Paastyd uitmekaargaan,
bid ons saam met die mense van Emmaus en die kerk van alle eeue …
G: Bly by ons, Here.
– uit Lukas 24

Offergawes

Gebed by die offergawes
V: Here Jesus, ons bring nie hierdie dankoffers na U om gesien te word nie. Nie deur U nie, en nie deur mense nie. Help ons dat ons linkerhand nie weet wat ons regterhand doen nie. Ook hierdie gebed en al ons gesing en gepraat in die erediens is nie om deur mense gehoor te word nie, maar alleen deur U. U erediens is ons binnekamer, en wanneer ons in hierdie Koninkrykstyd bid of vas of armes help, is dit alleen uit dankbaarheid vir die liefde wat U aan ons bewys. Daarom wil ons vanoggend as gemeente saam ons hart kom leeg maak voor U deur u eenvoudige gebed te bid:
A: Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons oortredings
soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie

maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.
Amen.

Toewyding

Toewyding
V: Wanneer ons ná hierdie erediens uitmekaargaan, betree ons die erediens van die lewe …
Gaan die wêreld tegemoet: dans, lag, sing en skep.
G: Ons gaan met die versekering van God se seën.
V: Gaan die wêreld tegemoet: neem risiko’s, verken, ontdek en wees lief.
G: Ons gaan met die versekering van God se genade.
V: Gaan die wêreld tegemoet: glo, hoop, stry en onthou.
G: Ons gaan met die versekering van God se liefde.
V: Gaan nou, onthou wie jy is en aan Wie jy behoort!
– uit The Worship Sourcebook

Die gemeente sing Lied 509:1, 2 en 4, “Op berge en in dale”.

Toewyding
V: Die Here is my lig en my redder.
G: Vir wie sou ek bang wees?
V: Die Here is my toevlug.
G: Vir wie sou ek vrees?
V: Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag:
G: Dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon.
V: As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie …!
G: Wees sterk en hou goeie moed!
V: Ja, vertrou op die Here!
G: Amen.
– uit Psalm 27

Opdrag

Matteus 28
Gaan dan nou na al die nasies toe
en maak die mense dissipels van Jesus Christus.
Doop hulle in die Naam van die Vader,
die Seun en die Heilige Gees.
Leer hulle om alles te onderhou
wat Hy ons beveel het.
En onthou: Hy is by julle al die dae
tot die voleinding van die wêreld.

Psalm 9
V: Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ’n toevlug, ’n skuilplek in tye van nood.
G: Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U,
V: want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie.
G: Sing tot eer van die Here wat op Sion woon, vertel die volke van sy dade!
V: Hy dink aan die onskuldiges en wreek hulle dood,
G: Hy verontagsaam nie die geroep van dié wat in nood verkeer nie.
V: Gryp tog in, Here, sodat die mens hom nie verhef nie.
G: Vervul hulle so met vrees, Here, dat hulle erken dat hulle net mense is.
V: Sela!

Uitsending

Gebed van Franciskus van Assisi
Here, maak my ’n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde saai;
waar daar onreg is, vergifnis;
waar daar twyfel is, geloof;
waar daar wanhoop is, hoop;
waar daar duisternis is, lig;
waar daar droefheid is, vreugde.
O goddelike Meester, gee dat ek nie soseer sal soek
om getroos te word nie as om te troos;
om verstaan te word nie as om te verstaan;
om liefgehê te word nie as om lief te hê.
Want dit is deur te gee dat ons ontvang;
dit is deur te vergewe dat ons vergewe word;
dit is deur te sterf dat ons tot die ewige lewe gebore word.

Uitsending en toewyding
V: Dit gaan goed met mense wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie,
G: maar wat in die woord van die Here hulle vreugde vind, dit dag en nag oordink.

Uitsending
Lees Lukas 12:32-40 as ’n oproep tot ’n lewe van dankbaarheid.

Verbintenis

Verbintenis
V: Gaan en leef nou die lewe van die nuwe mens wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van ons Skepper
G: en tot die volle kennis van God.
V: Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie.
G: Hier is Christus alles en in almal.
– uit Kolossense 3

Die gemeente sing Lied 523, “Goddelike liefdebande”.

Verbintenis en roeping
V: Here, maak my ’n instrument van u vrede.
G: Gee wat U vra en vra dan wat U wil.
V: Waar daar haat is, laat my liefde saai.
G: Gee wat U vra en vra dan wat U wil.
V: Waar daar onreg is, vergifnis.
G: Gee wat U vra en vra dan wat U wil.
V: Waar daar twyfel is, geloof.
G: Gee wat U vra en vra dan wat U wil.
V: Waar daar wanhoop is, hoop.
G: Gee wat U vra en vra dan wat U wil.
V: Waar daar duisternis is, lig.
G: Gee wat U vra en vra dan wat U wil.
V: Waar daar droefheid is, vreugde.
G: Gee wat U vra en vra dan wat U wil.
V: O goddelike Meester, gee dat ek nie soseer sal soek

– uit die bekende gebede van Augustinus en Franciskus van Assisi.

Die gemeente sing Lied 284, “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”.

Seën

Toe ons vroeër in hierdie boek oor die seëngroet gepraat het, het ek reeds gesê ons handgebare is baie belangrik. Veral met die seën tydens die uitsending kommunikeer ons handgebare baie. Die tradisionele gebaar van die hande wat opgehef word, pas byvoorbeeld goed by die Aäronitiese seën. Hande wat met ’n hoek van ongeveer 45 grade teenoor die liggaam na onder uitgestrek word, dra weer iets oor van die opdrag: “Laat my lammers wei.”

Kersfeesseën
V: Mag die God van die engele wat Jesus se geboorte aangekondig het,
vreugde in julle hart bring op hierdie dag en vir altyd.
G: Amen.
V: Mag die God van liefde wat sy enigste Seun vir ons gegee het,
julle lewe met liefde en vrede vul.
G: Amen.
V: Mag Immanuel,God met ons,met julle wees in alles wat julle doen,
totdat julle eendag aan sy tafel gaan aansit.
G: Amen.
V: Die almagtige God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees,
seën julle elkeen op hierdie Kersoggend.

Seën vir Goeie Vrydag
V: Dit is volbring!
G: Amen.
V: Ons gaan hiervandaan in stilte huis toe.

Seën vir Paastyd
Ontvang die Heilige Gees en God se seën vir julle opdrag:
“Ek gee vir julle die ewige lewe, en julle sal nooit ooit verlore gaan nie. Niemand sal julle uit my hand ruk nie.”

’n Ou-Ierse seën
May the road rise to meet you.
May the wind be always at your back.
May the sun shine warm upon your face.
May the rains fall soft upon your fields.
And until we meet again
may God hold you in the palm of his hand.

Seën
V: Gaan uit die wêreld in met God se vrede om Hom en jou naaste lief te hê.
G: Met my hele hart en met my hele siel en met my hele verstand.
V: Gaan soos Saggeus en maak reg waar jy verbrou het.
G: Ek sal.
V: Stap soos Ananias in Reguitsraat af na jou vyande toe.
G: Ek sal.
V: Neem soos Barnabas mense se hande op die pad.
G: Ek sal.
V: Ontvang die Here seën hiervoor … die genade van ons …
– uit Klippies Kritzinger se preek oor Handelinge 9 en Lukas 18 met die titel “Drie fasette van versoening”

Uit die lied “Moya”
Mag dit goed gaan met jou, Moya,
mag God vrede vir jou gee,
mag jy nooit bang hoef te wees nie,
mag jy liefde om jou hê,
mag jou hart vir almal oopgaan,
mag jou drome ver paaie streel,
mag jy leer om die wind onder jou vlerke
met alle mense om jou te deel.
– Anton Goosen, van die album 33 A-sides

Seën
Liewe gemeente,
die Here seën vanoggend dié wat op Hom vertrou met hierdie belofte:
“Julle sal vlieg met arendsvlerke,
julle sal hardloop en nie moeg word nie,
julle sal loop en nie afgemat raak nie” ( Jes 40:31).

Seën
Gelukkig is elkeen vir wie Jesus met sy weerkoms wakker kry.
Hy sal hulle aan die tafel laat sit,
’n voorskoot aansit en hulle bedien.

Seën vir ’n nagmaaldiens
Soos jy vanoggend by die tafel gevoed is, gaan uit en voed dié wat honger is.
Soos jy vrygelaat is, bevry die gevangenes.
Soos jy ontvang het, gee.
Soos jy gehoor het, verkondig.
Die seën van die Vader, die Seun en die Heilige Gees sal altyd met jou wees.
– uit The Worship Sourcebook

Seën in die tale van die wêreld vir Pinkstersondag
(Erediensgangers herhaal die woorde agter die voorganger aan in enige ander taal wat hulle ken.)

V: Die genade van ons Here Jesus Christus …
G:
V: Die liefde van God ons Vader …
G:
V: En die teenwoordigheid van die Heilige Gees …
G:
V: Sal met ons wees …
G:

Seën
Mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak. So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen.
– uit 1 Tessalonisense 3:12-13

’n Erediens met woord en musiek op grond van die Evangelie volgens Lukas – met insluiting van die Magnificat, Benedictus, Gloria in Excelsis Deo en Nunc dimittis.

Verwelkoming
Lukas 1:1-4

Gemeentesang
Lied 345, “Kom, alle getroues”

Musiek
Sang of instrumente.

Lukas 1:26-38
Die geboorte van Jesus word aangekondig.

Gemeentesang
Lied 344, “O die goeie tyding, o die blye tyding”

Gedig
“Besoeking” van Sheila Cussons.

Musiek
Sang of instrumente.

Gemeentesang
Lied 355, “Al was ek nie daar nie”

Lukas 1:46-56
Die loflied van Maria (Magnificat).

Die Latynse woorde wat in hierdie diens gebruik word, is die name van die spesifieke Lukastekste in die Ou-Latynse vertaling van die Bybel, die Vulgaat. Die naam van die lied wat Maria hier sing, die Magnificat, kom van die Latynse woord waarin ons die woord magnify hoor eggo. In die teks staan daar letterlik: “My siel wil die grootheid van die Here besing.” Dit is waar ons vanoggend begin … In ons geringheid het Hy na ons omgesien en vir ons ’n Verlosser gestuur. Dáárom wil ons vanoggend God se grootheid besing.

Musiek
Sang of instrumente.

Lukas 1:57, 67-80
Die loflied van Sagaria (Benedictus).

Benedictus is die Latynse naam vir Sagaria se loflied. Sagaria sing hier omdat die volk se hoop op ’n Verlosser nou waar geword het. Sy lied gaan ook oor die implikasies van hierdie verlossing vir gelowiges. Dit het dus ’n impak op hoe ons leef en dit rig ons voetstappe “op die pad van vrede”.

Gemeentesang
Lied 349, “Kom, kinders, besing met ’n vrolike stem”

Lukas 2:1-7
Die geboorte van Jesus.

Gemeentesang
Lied 348, “Stille nag, heilige nag”

Lukas 2:8-20
Die skaapwagters en die engele (Gloria in Excelsis Deo). (Vers 14 begin met die woorde: “Eer aan God in die hoogste hemel”. In Latyn is dit Gloria in Excelsis Deo. Die engele erken en besing hier die heerlikheid van God met ’n lofsang. Die Westminster-belydenis sê tereg: “Die belangrikste doelwit van die mens is om God te prys en Hom vir ewig te geniet.”)

Gemeentesang
Lied 364, “Herders op die ope velde”

Musiek
Sang of instrumente.

Gedig
Elisabeth Eybers lees self haar gedig “Maria” (beskikbaar op die CD Klinkklaar).

Musiek
Sang of instrumente.

Lukas 2:25-32
Die loflied van Simeon (Nunc dimittis).

Nunc dimittis is die Latynse naam vir Simeon se loflied in Lukas 2. Dit beklemtoon die woorde: “Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het.” Magnificat, Benedictus, Gloria in Excelsis Deo, Nunc dimittis … Kersfees verander die manier waarop ons leef én sterf radikaal.

Musiek
Sang of instrumente.

Gemeentesang
Lied 358, “Welkom, o stille nag van vrede”

Seën
God wat vrede gee, sal by julle wees.
Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan,
sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Amen.

Begrafnisdiens

Ritueel vir die begin van die diens
Indien die persoon wat begrawe word, gedoop is, kan die begrafnisdiens in die kerkgebou by die doopvont begin. Die voorganger steek sy of haar hand in die water, skep water op en laat dit weer in die doopvont terugdrup. Dan sê die voorganger byvoorbeeld:

“NN is baie jare gelede gedoop. Paulus sê vir ons hy (sy) het daardie dag reeds saam met Christus gesterf om vir ewig saam met Hom te leef.”

Hierna beweeg die voorganger na die plek in die liturgiese ruimte van waar hy of sy die diens verder sal lei.

Gebed vir gebruik tydens die begrafnisdiens van ’n gelowige
Here God, ons staan vandag hier diep bedroef voor U. Ons hartseer sit vlak. Dit is vir ons moeilik om te glo dat die dood van ’n geliefde u wil is, Here. Maar, Here, ons weet die dood is net ’n oorgang. Ons glo dat NN op hierdie oomblik in u arms is, net soos die man vir wie Jesus aan die kruis gesê het: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Vir hierdie versekering sê ons dankie.

Here, ons wil vandag in die besonder NN se familie aan u opdra, vir … (voeg hier die familie se name in). U is die Een wat troos, Here God. Skenk dan nou ook in hierdie oomblik en in die dae wat voorlê u troos en bystand.

Ons vra dit alles in die Naam van Jesus ons Here wat die dood oorwin het.

Verassing word vandag al hoe meer as ’n opsie gekies. Daarom het die gebruik dan ook ontstaan om die oorledene se as in ’n sekere stadium ná die verassing iewers te gaan plaas of uit te strooi. Daar is dikwels ’n behoefte om hierdie plasing of uitstrooi van die as op ’n liturgiese manier met handelinge en woorde in te klee. Ek sluit daarom hier ’n liturgiese voorstel vir so ’n geleentheid in.

Opening
Ek wil ons saamwees vandag begin met dieselfde woorde as waarmee ons NN se gedenkdiens begin het. “NN is gedoop in die dood en opstanding van Jesus Christus. Dit is ons troos.” Daarom kan ons vandag saam met Paulus sê: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Amen.

Skriflesing
Ek lees vandag … (Die voorganger kies self gepaste Bybelgedeeltes soos Ps 23; Joh 11:25-26; Rom 14:8.)

Die as word in ’n nis geplaas of uitgestrooi
In vaste hoop op die opstanding tot die ewige lewe
deur ons Here Jesus Christus,
vertrou ons NN aan ons almagtige God toe
en aan sy (haar) laaste rusplek.

Die Ons Vader-gebed
Dié wat wil, kan saam met my die gebed bid wat ons Here ons geleer het …

Herinneringe
Gee nou vir almal wat daar is en iets met die ander wil deel die kans om dit te doen.

Seën
Spreek ’n seënbede uit.

Tenebrae

Die keuses van Bybelgedeeltes hier onder is slegs voorbeelde. In die beplanning van hierdie diens kan ander gedeeltes gekies word. Elke reeks lesings is gegrond op die betrokke jaar van die Leesrooster en die sinoptiese Evangelie wat in daardie bepaalde jaar voorkeur geniet. Dit is goed om die diens te begin in ’n ruimte buite die kerkgebou, soos die saal of die konsistorie, met iets om te eet en te drink. Vir meer agtergrond en aanwysings vir hierdie diens, sien Ontdekkings in die erediens, Bylae 3, en die talle eredienshandleidings van hoofstroom- Protestantse kerke.

Matteus: Jaar A
Eerste lesing – Matteus 26:1-30
Die eerste kers word doodgeblaas.

Tweede lesing – Matteus 26:31-46
Die tweede kers word doodgeblaas.

Derde lesing – Matteus 26:47-68
Die derde kers word doodgeblaas.

Vierde lesing – Matteus 26:69–27:10
Die vierde kers word doodgeblaas.

Vyfde lesing – Matteus 27:11-44
Die vyfde kers word doodgeblaas.

Sesde lesing – Matteus 27:45-56
Die sesde kers word doodgeblaas.

Sewende lesing – Matteus 27:57-66
Die sewende kers word doodgeblaas.

Speel die Agnus Dei (die Lam van God).
Almal verlaat die kerkgebou in stilte.

Markus: Jaar B
Eerste lesing – Markus 14:17-31
Die eerste kers word doodgeblaas.

Tweede lesing – Markus 14:32-42
Die tweede kers word doodgeblaas.

Derde lesing – Markus 14:43-65
Die derde kers word doodgeblaas.

Vierde lesing – Markus 14:66-72
Die vierde kers word doodgeblaas.

Vyfde lesing – Markus 15:1-20
Die vyfde kers word doodgeblaas.

Sesde lesing – Markus 15:21-32
Die sesde kers word doodgeblaas.

Sewende lesing – Markus 15:33-39
Die sewende kers word doodgeblaas.

Speel die Agnus Dei (die Lam van God).
Almal verlaat die kerkgebou in stilte.

Lukas: Jaar C
Eerste lesing – Lukas 22:39-46
Die eerste kers word doodgeblaas.

Tweede lesing – Lukas 22:47-53
Die tweede kers word doodgeblaas.

Derde lesing – Lukas 22:54-62
Die derde kers word doodgeblaas.

Vierde lesing – Lukas 22:63-71
Die vierde kers word doodgeblaas.

Vyfde lesing – Lukas 23:1-12
Die vyfde kers word doodgeblaas.

Sesde lesing – Lukas 23:13-35
Die sesde kers word doodgeblaas.

Sewende lesing – Lukas 23:26-56a
Die sewende kers word doodgeblaas.

Speel die Agnus Dei (die Lam van God).
Almal verlaat die kerkgebou in stilte.

Bronnelys

Book of Common Worship van die Presbyterian Church USA. Louisville: Westminster John Knox.

Christian Reformed Church 2004. The worship sourcebook. Calvin Institute of Christian Worship. Grand Rapids, MI: Faith Alive Christian Resources.
Claasens, F et al 2010. Handleiding vir die erediens. Wellington: Bybel-Media.
Conradie, EM & Field, DN 2000. A rainbow over the land: A South African guide on the church and environmental justice. Cape Town: Western Cape Provincial Council of Churches.
Cussons, S 1997. ’n Engel deur my kop. ’n Keuse uit haar religieuse gedigte deur die digter Amanda Botha. Kaapstad: Tafelberg.

Dictionary of African Christian Biography. Manche Masemola 1913 to 1928 Anglican South Africa. http://www.dacb.org/ stories/southafrica/masemola_manche.html.
Du Plessis, H 2008. Innie skylte vannie Jirre. Pretoria: Lapa.

Eybers, E 2009. Klinkklaar. Bloemlesing met KS. Kaapstad: Human & Rousseau.

Housden, R 2009. For lovers of God everywhere. Poems of the Christian mystics. Carlsbad, CA: Hay House.
http://www.cprf.co.uk/languages/foreigncreedslist.htm

Long, TG 2001. Beyond the worship wars. Building vital and faithful worship. Alban Institute.

Nicol, W 2002. Gebed van die hart. Wellington: Lux Verbi.BM.

Old, HO 2002. Worship. Reformed according to Scripture. Revised and expanded edition. Louisville, KY/London: Westminster John Knox.

Schuman, N 1998. III. Een getuigenkalender, in P Oskamp & N Schuman (reds). De weg van de liturgie. Tradities, achtergronden, praktijk. Zoetermeer: Meinema, 450-453.
Shenouda III 2005. Have you seen the one I love? Contemplations on the Song of Songs. North Charleston, NC: BookSurge Publishing.
Stock, A 2001. 22B. Litanieën, in M Barnard & P Post (reds). Ritueel bestek. Antropologische kernwoorden van de liturgie. Zoetermeer: Meinema.

Van der Merwe, IJ (red) 2001. Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Wellington: Lux Verbi.BM.

Wepener, CJ 2003. Lank lewe die dooies. Oor postmortem fotografie, dodemaskers, geloofsgetuies, voorvaders en dominee portrette. Scriptura 84/3: 485-497.
Wepener, CJ 2005. Vergeet om te luister (in die liturgie). Kruisgewys 5/3: 35-37.
Wepener, CJ 2007. Doop en nagmaal – rituele waardeur God mense verander. Die betekenis van die sakramente, in C Jones (red). God praat leef luisterryk. Vir gesprekke oor sensitiewe kwessies. Wellington: Bybelkor.
Wepener, Cas 2010. Aan tafel met Jesus. Wellington: Bybel-Media.
Wepener, CJ & Van der Merwe, IJ (reds) 2009. Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi.BM.
Witvliet, J 1999. So you have to lead a worship service. Worship leader pamphlet series. Grand Rapids, MI: CRC Publications.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.