Sondag van Verheerliking – Feesdiens

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Eksodus 24:12-18
Ander tekste: Psalm 2; 2 Petrus 1:16-21; Matteus 17:1-9

Inleiding 

Sondag van Verheerliking – ook bekend as Transfigurasiesondag – is die laaste Sondag van die tyd ná Epifanie en merk ook die oorgang na Lydenstyd. Dit is die Sondag waarop ons die verheerliking – die Godheid – van Jesus Christus vier. Tradisioneel vier ons op hierdie dag Jesus se verheerliking op die berg, wat in al drie die Sinoptiese Evangelies oorvertel word. Vanjaar lees ons Matteus se weergawe daarvan. Tog is die sleutelteks vir hierdie Sondag nié die verhaal van Jesus se verheerliking nie, maar van Moses wat Sinaiberg uitklim om die wette en gebooie van God te ontvang. Albei vertellings wys enersyds op die krag en misterie van God, maar andersyds ook dat die almagtige God kies om met mense in ’n verhouding te staan en tussen mense te kom woon. Dit sal goed wees om die twee tekste in verband met mekaar te bring op hierdie feesdag. Sheila Cussons se gedig “Verheerliking” spreek ook van Jesus die Here wat “naatloos een is met sy heelal” en pas goed in by die liturgie.

In 2 Petrus 1 bevestig en bekragtig Petrus die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg en herhaal die woorde wat ons in Matteus 17 lees: “Dit is my geliefde Seun, oor oor Wie ek My verheug.” Psalm 2 handel oor ’n ander gebeurtenis op die berg Sion, naamlik dat die koning gesalf word en die Here aankondig: “Ek het self my koning gesalf op Sion, my heilige berg.”

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Lied 175 “Majesteit”

Aanvangswoord
Voorganger: Die krag van ons Here Jesus Christus
is aan die dissipels geopenbaar.
Hulle het Hom met hul eie oë
in al sy majesteit gesien.
Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander:
Sy gesig het begin straal soos die son
en sy klere het wit geword soos die lig.
Gemeente: Ons wil in sy lig bly.

Voorganger: Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang.
’n Helderligte wolk het skielik sy skaduwee oor hulle gegooi,
en uit die wolk het die stem van die Allerhoogste Majesteit gesê:
Gemeente: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”

Voorganger: Dit het die boodskap van die profete nog meer bevestig.
Hierdie boodskap is soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn.
Gemeente: Ons wil in sy lig bly.

Voorganger: Amen.

Seëngroet
Geliefdes, ek groet julle in die Naam van die Here ons God, die allerhoogste Majesteit;
Jesus Christus, die verheerlikte Here;
en die Heilige Gees, die magtige teenwoordigheid van God met ons.

Verootmoediging
Lied 231:1-2 “Heilig, heilig, heilig, Here”

Genadeverkondiging
Voorganger: Op die bergtoppe en in die valleie; in oomblikke van duisternis, en wanneer Christus se lig deur ons skyn, is God by ons en verklaar die Here dat ons sy geliefde kinders is. Mag ons, in hierdie oomblik en in elke oomblik, die genade van God sien wat kom en ons lewe transformeer/transfigureer.
Gemeente: Dankie, Here, dat ons u geliefde kinders is! Amen.

Geloofsbelydenis
Geloofsbelydenis van Nicea

Lofprysing
Lied 450 “Vader, Seun, Heil’ge Gees”

Diens van die Woord

Epiklese
Gentle me,
Holy One,
into an unclenched moment,
a deep breath
a letting go
of heavy expectancies,
of shriveling anxieties,
of dead certainties,
that, softened by silence,
surrounded by the light,
and open to the mystery,
I may be found by wholeness,
upheld by the unfathomable,
entranced by the simple,
and filled with the joy
that is You.
(“Guide me into an unclenched moment”, uit: Gorillas of Grace van Ted Loder, Minneapolis: Augsburg, bl 23).

Versag my,
heilige Here,
in ’n onbeklemde oomblik,
’n diep asem
’n loslaat
van swaar verwagtinge,
van bekommernisse,
van absolute sekerhede,
dat ek, versag deur stilte,
omring deur die lig,
en oop vir die misterie,
gevind mag word deur heelheid,
gehou word in die onbegryplike,
betower deur die eenvoudige,
en gevul met die vreugde
wat U is.
(vry vertaling van “Guide me into an unclenched moment”)

Skriflesing

Kindertyd
Roep die kinders na vore en help hulle om die teks dramaties uit te beeld terwyl dit gelees word. ’n Berg kan bestaan uit ’n stoel (dalk selfs ’n stoel op ’n tafel) met ’n laken oor. Gebruik ou klere en lappe vir Moses en Josua. Kliptafels kan uit karton gesny en met spuitverf geverf word. Maak ’n wolk uit karton en watte of gebruik ’n wit of blou laken en laat iemand dit om die “berg” vashou.

Só word die kinders betrek en sal hulle die storie beter onthou. Jy sou selfs vooraf spesifieke kinders of jongmense kon kies om die teks te lees, en so meer.

Hier is ’n alternatiewe kindertyd by Eksodus 24.

Boodskap

Gebed
Here God,
wat in die hoogte troon,
ek slaan my oë op na U.
Ek soek U nie bokant die wolke nie,
ek soek U hier naby my.
Maar U is die Heilige, Magtige, Verhewene,
daarom slaan ek my oë op.
Daarom roep ek U aan uit my diepte.
Uit die diepte waarin ek leef, roep ek U aan.
In die diepte wag ek op u Gees
wat uit die hoogte na my kom.
Ek kan nie roep
as U my nie self die woorde gee nie.
Stuur u Gees uit die hoogte
dat ek kan glo, dat ek U kan liefhê,
dat ek ’n woord kan vind wat U eer.
In die diepte soek ek U,
in al die klein dingetjies,
in al die ellende
wat ons mense gevange hou,
in al die donker ondervindinge.
U is die Lig
wat van bo af skyn,
die Lewe wat van bo kom,
die Gees wat van bo met ons praat.
Stuur u Gees uit die hoogte
sodat ek nie met myself praat
wanneer ek bid nie, maar met U.
Dat ek nie myself hoor
as ek luister nie, maar vir U.
Dat ek in U lewe
en nie in myself nie.
Dat U in my kan wees
en nie net bo my nie.
Nabye God.
Op hierdie aarde wag ek op U.
(uit: Jörg Zink, Pad na die gebed, Tafelberg, bl 30).

Diens van die Tafel

Nagmaal
Ons deelname aan die nagmaal is deel van ons voortgaande transformasie om al meer aan die heerlikheid van Christus gelykvormig te word. Sy heerlikheid word weerspieël deur sy liggaam op die tafel (nagmaal) en sy liggaam om die tafel (die gemeente).

Toewyding
Lees “Na die heilige Mis” van Sheila Cussons.

God stuur ons uit

Slotlied
Lied 168 “Heilige Jesus”

Seën
Die Here sal jou seën en jou behoed;
die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

Seën (alternatief)
Die Here,
die Magtige,
Oorsprong en Voleinder
van alle dinge,
seën jou,
gee jou groeikrag en rypwording,
welslae in jou hoop,
vrug op jou moeite,
en behoed jou
van alle kwaad,
en beskerm jou in gevaar
en is vir jou ’n toevlug in benoudheid.
Die Here laat sy aangesig oor jou skyn,
soos die son oor die aarde
warmte gee aan die verstarde
en vreugde gee aan die lewendes,
en is jou genadig
as die skuld jou omring;
verlos jou van die Bose
en maak jou vry.
Die Here verhef sy aangesig oor jou,
sien jou swaarkry
en hoor jou stem;
maak jou gesond en vertroos jou,
en gee aan jou vrede,
welsyn na die liggaam
en welsyn na die siel,
liefde en geluk.
Amen.
(uit: Jörg Zink, Die pad na die gebed, Tafelberg, bl 235).

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 336 “Dit is die dag deur God geskenk”; Lied 169:1, 3 “Heilig, heilig, heilig”
Lofprysing: Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam”; Vonkk 9 “Halleluja”; Lied 211 “Ons bring lof aan U, Jesus Heer”
Kinderlied: Lied 542 “Jesus ons loof U”
Genadeverkondiging: Lied 411:1-2 “Kom, almal, laat jul stem verrys”
Uitstuurlied: Flam 113 “Here, Jesus, U skyn oor almal”; Lied 488: 1, 4, 5 “Helder skyn u lig vir die nasies”

Kuns en visueel

Die kleure vir hierdie Sondag is goud en wit.

Kunswerke
Moses breaking the tablets of the law , skildery deur Rembrandt; Moses the leader, skildery deur Nicholas Roerich; Moses and the fire of Sinai, skildery deur Darius Gilmont; Moses beholds all the work , skildery deur Marc Chagall

Gedig
“Verheerliking” van Sheila Cussons

Preekstudie – Eksodus 24:12-18

Teks

Eksodus, soos die naam reeds beskryf, is die uittogboek, die woestynboek. Terence Fretheim beskryf die bewegings in die Eksodusverhaal as ‘n beweging van slawerny tot aanbidding, van ‘n Israel wat deur Farao vasgebind was tot waar hulle hulleself aan God gebind het, van waar hulle onder dwang vir Farao bouwerk doen tot waar hulle kies om ‘n woonplek vir God op te rig en hulle hande en harte daarvoor oopmaak.

Hierdie Sondag se perikoop is enkele verse uit ‘n langer hoofstuk en moet daarom ook in die konteks van die groter narratief bestudeer word. Scarlata, beaam deur ander kommentare, sien die teks as ‘n saamgestelde teks wat nie baie vloeiend in sy finale vorm bymekaargebring is nie. Childs praat van die gebrek aan eenheid van ‘n tipies saamgestelde teks, soos wat ‘n mens op baie plekke in die Pentateug vind. Durham skryf: “Exodus 24 is too complicated a composite, with too few characteristic signature-phrases, to permit anything more than a general speculation about its sources.” Tog hanteer ons die gedeelte vir die prediking as ‘n eenheid en plaas dit binne die groter verhaal van die Eksodusboek.

Die eerste agt verse vertel hoe Moses, Aäron, Nadab, Abihu en 70 ander leiers die berg opgeklim het waar ‘n ritueel van verbondsbeseëling tussen God en die volk plaasgevind het. In vers 9-11 is dit weer dieselfde leiers wat merkwaardig vir God “sien” en in sy teenwoordigheid eet en drink. Dit is ‘n intiemer prentjie as vers 12-18, met tipiese teofaniebeskrywings van wolk en vuur (wat herinner aan Eks 19). In vers 12 is Moses saam met Josua, maar later is hy alleen in die teenwoordigheid van die Here.

Kommentare sien hoofstuk 24 as ‘n tipe oorgang tussen twee hoofgedeeltes in Eksodus, naamlik die verhaal van die uittog en die verhaal van verbondsbeseëling. Vanaf hoofstuk 25 is die fokus op die opdragte rondom die bou van die tabernakel en die uitvoering daarvan. Houtman praat van hoofstuk 24 se eerste verse as ‘n voorlopige klimaks met die verbondsritueel en die binding van Israel aan Jahwe. Ook Fretheim beskou Eksodus 24 as ‘n hoofstuk wat ‘n oorgang binne die groter Eksodusverhaal bied.

Houtman skryf dat Moses se opgang teen die berg ‘n dubbele doel het: om die kliptafels te ontvang, sowel as die riglyne rondom die bou van die tabernakel. Eksodus 24 skets die situasie van harmonie tussen Jahwe en Israel ná die ontmoeting met Israel se verteenwoordigers. Durham sê dat die tema van Goddelike teenwoordigheid Eksodus 24 saambind.

Vers 12-18 bied ‘n parallel tot vers 1-11: die beklemtoning van die goddelike gesag agter die riglyne wat aan die volk gegee word, asook die konteks waarbinne die riglyne vir die tabernakel aangebied word.

Vers 12-14. Die tema van vers 2 word weer opgeneem in die verwysing na Moses, maar dié keer met die onverwagse teenwoordigheid van Josua daarmee saam. Die “further instructions to guide people to make a bridge to connect instructions for building tabernacle”. Die NRSV vertaal vers 12 soos volg: “I will give you the tablets of stone, with the law and the commandment, which I have written for their instruction.”

Vers 15-18 vertoon ‘n duidelike gebruik van priesterlike beelde (P-bron) vir die uitbeelding van die teenwoordigheid van die heerlikheid van die Here. Ons vind die wolk asook die gloeiende (“devouring”) vuur. Dit is beelde soos dié in Eksodus 19. Die P-tradisie maak ook die verbinding met die skeppingsverhaal (herinner aan God se skeppingsdaad) deurdat dit gebruik maak van die ses dae wat Moses gewag het, en God wat op die sewende dag met hom praat.

Durham beskryf die kerntema in die perikoop as die magtige teenwoordigheid of heerlikheid van die Here (OAV). Teofanie dui juis op die sigbare teenwoordigheid van God, uitgebeeld deur natuurelemente.

Verskeie elemente kan geïdentifiseer word. In die Ou Nabye Ooste en in ander godsdienste is die tempel met die kosmiese berg geassosieer. Die sogenaamde “kosmiese berg” is die ontmoetingsplek tussen hemel en aarde. Gode het op die berge gebly. Volgens Dozemann word die afstand tussen God en mens in Eksodus oorbrug deur die openbaring van die wet, die bevestiging van die verbond, die bou van die heiligdom (tabernakel) en die skep van kultiese rituele. Die bou van die tabernakel (heiligdom) sal die heilige God tussen Israel laat woon.

Die “magtige teenwoordigheid” (v 16) — in Hebreeus “kebod Yahweh” — is so ‘n sentrale konsep dat Dozemann voel die Hebreeus hoef nie eers vertaal te word nie. Die werkwoord wat met “op Sinaiberg gebly” vertaal word, is sakan (“settled”, ook te vertaal met “dwell”). “The glory of the Lord settled on Mount Sinai” (NRSV). Dit is die woord wat die basis vorm van miskan (tabernakel). Sakan word ook in die Nuwe Testament in Johannes 1:14 opgevang met betrekking tot die Woord wat onder ons kom “woon” het.

In Eksodus is die wolk die simbool van “goddelike leiding, kommunikasie en teenwoordigheid”. Israel beleef kontinuïteit met die gebeure in hoofstuk 19 en 20 waar die simboliek van ses dae en die simboliese 40 dae en 40 nagte ingeweef is. Eksodus 24, soos Eksodus 19, het te make met die “awesome, disruptive coming of the Holy One”.

Konteks

Hierdie perikoop word gepreek op die Sondag van Verheerliking, wat herinner aan God se openbaring van Homself aan ons in Jesus Christus. Vanaf die vroegste oomblikke in die geskiedenis van Israel, leer ons God ken as die Een wat kies om tussen sy volk te bly. Die groot gebeurtenisse van teofanie en die tabernakel in Eksodus onderstreep dit. God se nabyheid word duidelik in die bou van die tabernakel sowel as in die gawe van die Woord en wet waardeur Hy sy daaglikse teenwoordigheid in die lewe van mense vaslê.

Brueggemann maak die verbinding tussen die Torah en die teenwoordigheid van die Here: “The reality of Yahweh’s sovereignity is coded into the Written Torah”. Hy beskryf die moment van ontmoeting as “an extraordinary narrative report that defies decoding”. In hierdie ontmoeting gee God Homself aan die volk deur in die vorm van wet en riglyne.

Christof Barth skryf ook oor hierdie selfopenbaring van God en sê dat ons dit nooit as vanselfsprekend mag aanvaar nie, anders sal ons die misterie daarvan nie raaksien nie. Hy skryf na aanleiding van die ontmoeting op die berg: “The first main event in the covenant liturgy is God’s selfrevelation”, en: “Throughout all ages Israel would know God as the one who draws near to his people but who also remains distant, foreign, terrible and holy”. Een van die kernartikels van Israel se geloof was “… that the Lord himself was present on his mountain in the wilderness and that he shaped an unique and everlasting relation between himself and his people. On Mt Sinai (Horeb) God concluded a covenant with Israel, revealed his law, and established Israel’s worship as a way of forgiveness of sins. He did so through Moses as an intermediary.”

Terrien hanteer die konsep van die “heerlikheid van die Here” binne die raamwerk van die ontwikkelende tradisies in Israel. Twee tradisies het mettertyd ontstaan. Die eerste het op die Naam van God gefokus, en die tweede op die heerlikheid van God. Terrein identifiseer baie raakpunte tussen Eksodus 19 en 24 en die Markusteks waar die verheerliking van Jesus beskryf word.

Terrien noem juis sy boek The elusive Presence of God . Die realiteit van God se teenwoordigheid staan sentraal in die Bybelse tradisie, maar dit is nie moontlik om God vas te vang nie. In die Skrif is daar ‘n spanning tussen “divine self-disclosure and divine self-concealment”. Terrien skryf: “The proximity of God creates a memory and an anticipation of certitude, but it always defies human appropriation.” God wat homself openbaar, is God wat die mens nie kan vasvang nie. Dit maak die lees van Eksodus 24 boeiend. In vers 11 het hulle Hom gesien en saam met Hom geëet, maar net daarna is daar die wolk waarbinne selfs Moses vanuit hulle gesig verdwyn.

Die beeld van Moses in die wolk op die berg, is een wat baie binne die konteks van die kontemplatiewe spiritualiteit gebruik word. Dit is nie altyd ewe maklik om so oor hierdie teks te preek nie, maar dit is tog nodig dat die prediker bewus is van hoe hierdie simboliek in die kerk hanteer is.

Anderson skryf dat Eksodus 24 die geliefde hoofstuk was van Gregorius van Nissa in sy “Life of Moses”. Gregorius het Moses se opgang op die berg as “paradigm for the call of every person to approach the divine throne and become like God” beskryf. Hy skryf dat Moses alles tersyde moes stel waarvan hy geweet het sodat God hom opnuut binne die wolk van donkerte kon leer.

Anderson haal Abraham Malherbe aan: “What does it mean that Moses entered the darkness (24:18) and then saw God in it? What is now recounted seems somehow to be contradictory to the first theophany (24:9-11), for the Divine was beheld in light but now he is in darkness. Let us not think that this is at variance with the sequence of things we have contemplated spiritually. Scripture teaches by this that religious knowledge comes at first to those who receive it as light. Therefore what is perceived to be contrary to religion is darkness, and the escape from darkness comes about when one participates in light. But as the mind progresses and, through an ever greater and more perfect dilligence, comes to apprehend reality, as it approaches more nearly to contemplation, it sees more clearly what of the divine nature is uncontemplated.”

Op die 14de-eeuse anonieme geskrif The cloud of unknowing staan: “The first time you practise contemplation, you’ll only experience darkness, like a cloud of Unknowing.” Die hele geskrif handel oor die wolk as die plek waar God ontmoet word, maar dit is juis dáár waar ons ons vaste idees en sekerhede loslaat en net verlang. Hierdie is deel van die sogenaamde apofatiese mistieke tradisie wat ons daaraan herinner dat God anderkant ons taal, beeld, woorde en verbeelding gevind word. Dit nooi ons uit om verby ons gevestigde Godsbeelde te beweeg. In The cloud of unknowing ” lees ons: “Take the good, gracious God, just as he is, without qualification, and bind him, as you would a poultice, to your sick self, just as you are.”

Anderson vermeld ook dat Eksodus 24 halfpad is tussen die aankoms by Sinai en die “complete condescension of God to dwell with his people”. Ek wonder of die woord “condescension” nie te negatief klink nie. Ons kry tog vanaf Genesis tot met die Evangelies die goeie nuus dat God juis kies om tussen ons te kom bly. Dit is die misterie van die inkarnasie, waarvan ons reeds ‘n blik in Eksodus kry: God tussen ons.

Belden Lane skryf: “In the Western monotheistic tradition, cloud-covered Sinai is where all graven images – all attempts to contain God’s mystery (either in stone or speech) – are ultimately declared inadequate. The mountain becomes a sign of contradiction, proclaiming all similes to be false. God is ‘like’ nothing else. No single image can encompass the divine glory.”

Fretheim maak baie van die simboliek van die skeppingsverhaal van Genesis 1 in Eksodus. Ook baie Joodse bronne herken in die tabernakel die vervulling van die skepping. Anderson verwys na Joodse bronne wat skryf die skepping van die wêreld bly in “an inchoate state until Israel’s arrival at Sinai”.

Childs het juis die hart van Eksodus 24 as “God’s mercy and gracious condescension” beskryf. “It is the theme that lies at the heart of the witness of the Sinai Covenant” — die teenwoordigheid van God in die woestyn en in die hele geskiedenis van Israel (en die kerk). G’n wonder nie die teoloog Hans von Balthasar het sewe volumes oor “The glory of the Lord” geskryf nie!

Die ander RCL-tekste is Psalm 2, 2 Petrus 1:16-21 en Matteus 17:1-9. Hulle bind ook Eksodus aan die Sondag van Verheerliking. 2 Petrus 1 verwys na die Berg van Verheerliking, die sien van die Seun en die hoor van God se stem. Die Leesrooster kies Matteus 17 se weergawe van die verheerliking met die verwysing na die “helderligte” wolk wat sy skaduwee oor hulle gegooi het. Sondag van Verheerliking help ons in ons nadenke daaroor dat God Hom in sy heerlikheid net vir ‘n moment openbaar, maar dat die dissipels, soos Moses en Israel, genooi word om verder in die herinnering hieraan te leef.

Preekstudie

So baie van ons debatte en konflikte in die kerk rondom die Skrif en lewenssake gaan van die voorveronderstelling uit dat God lewend en by ons teenwoordig is, sonder om twee keer daaroor te dink. Soms is ons so voor op die wa om selfs te dink ons weet wie Hy in wese is, dat ons Hom verstaan en namens Hom kan praat – ons praat nie eers van baklei nie.

Miskien is dit goed as gelowiges net soms stil word en die aanname van God se teenwoordigheid bedink, die grootheid daarvan. Hoe die Bybel ons stappie vir stappie inlei in die kennis van God die Skepper wat kies om tussen sy skepsels en skepping te wees. Die Eksodusboek is ‘n belangrike moment in dié verhaal met sy klimaks van God wat in Christus vlees word en sy tent onder ons kom opslaan.

In die Eksodusverhaal word die volk die woestyn ingelei. Hier word hulle geleer wie God is wat hulle gered het. Hulle leer dat Hy sorg, toets en teenwoordig is, te midde van baie kere waar hulle juis die teenoorgestelde ervaar. Met die gebeure by Horeb/Sinai in hoofstuk 19 en 24, word ‘n verbond met hulle gesluit. Moses is die tussenganger wat God se teenwoordigheid bemiddel, en hulle ontvang die wet sowel as ‘n opdrag oor die tabernakel.

Met sigbare tekens en simboliek verduidelik hoofstuk 24 God se ontmoeting, eers met die leiers en dan met Moses alleen. Van die verkeerde vrae aan die teks sou wees: Hoe het God met Moses gepraat? Hoe het die wet op die klippe gekom? Watter wet was dit nou spesifiek uit alles wat ons in die Pentateug vind? Die gedeelte gaan nie oor wat nie, maar dat .

God kies om Moses te ontmoet. God kies om reëlings te tref oor hoe Hy tussen die volk in die tabernakel gaan woon. God kom naby. Geen wonder nie dat die idee van die wolk en die berg deur die eeue heen simbolies geword het van ‘n ontmoeting met God. Hier gaan dit egter nie daaroor om antwoorde te kry nie, maar om weer voor die misterie van God se keuse stil te word. Eeue lank het die wolk as simbool van die ontmoeting met God wat nie vasgegryp kan word nie gelowiges aangegryp en tot kontemplasie gelei.

Dit is die laaste Sondag na Epifanie, Sondag van Verheerliking waar die dissipels in ‘n oomblik Jesus in sy heerlikheid beleef het. Ons hoef dit nie te verduidelik nie. Soos gesê: Dit gaan nie oor wat hier gebeur nie, maar dat iets gebeur. Alle verskynings van God aan ons, is tekens van sy toegeneentheid, sy liefde, sy genade en keuse wat ons in ons ronddra, veral op dae wat dit voel ons kan Hom nie sien of hoor nie.

Miskien benodig ons rasioneel-georiënteerde Westerse kultuur, wat alles wil verduidelik en met soveel teorieë en standpunte verklaar, méér momente van nie-weet nie. In ‘n wêreld waar Christene dink hulle moet oor alles doodseker wees, moet ons miskien meer kere “in die wolk gaan sit”, soos Moses — leeg en met ‘n oop gemoed, oop vir God en sy genadige teenwoordigheid. Dan kan ons instrumente van sy wil en Woord word.

Bibliografie

Anderson, GA in The Lectionary Commentary. Theological exegesis for Sundays texts (ed RA van Harn), Eerdmans; Brueggemann, W 1997. Theology of the Old Testament. Testimony, dispute, advocacy. Minneapolis: Fortress Press; Childs, BS 1974. Exodus in The Old Testament Library, SCM Press; Dozemann, TB 2009. Exodus. Grand Rapids: Eerdmans; Durham, JI 1987. Exodus, in Word Biblical Commentary. Texas: Waco; Fensham, FC 1977. Exodus. Callenbach; Fretheim, TE 1991. Exodus in Interpretation. Commentary for Preaching and Teaching. Louisville: John Knox Press; Hamilton, VP 2011. Exodus. An exegetical commentary. Grand Rapids: Baker Academic; Houtman, C Exodus, in Historical Commentary of the Old Testament. Leuven: Peeters; Lane, BC 1998. The Solace of Fierce Landscapes. Exploring desert and mountain spirituality. Oxford University Press; Terrien, S 2000. The Elusive Presence: Toward a New Biblical Theology. Wipf & Stock Publishers; The Cloud of Unknowing (vertaal deur CA Butcher). Shambhala Publications.

© Missio 2024 | All rights reserved.