Sondag van die verheerliking – Feesdiens

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalm 50:1-6;  2 Korintiërs 4:3-6; Markus 9:2-9.

Fokusteks

2 Konings 2:1-15
Elia word in die hemel opgeneem
2 Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in ’n stormwind in die hemel sou opneem.

Elia en Elisa het uit Gilgal vertrek, 2en Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”

Elisa se antwoord was: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”

Hulle is toe na Bet-El toe. 3Die profete wat in Bet-El was, het na Elisa toe gegaan en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”

Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”

4Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”

Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”

Hulle het saam in Jerigo aangekom. 5Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”

Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”

6Elia sê toe vir hom: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle twee is toe saam verder.

7’n Vyftigtal van die profete is agterna en het op ’n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het.

8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is. 9Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?”
Elisa het geantwoord: “Mag daar tog ’n dubbele deel van u gees op my kom!”

10Toe sê Elia: “Dis ’n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”

11Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ’n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in. 12Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”
Toe Elisa nie meer vir Elia kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee stukke geskeur. 13Hy het die mantel wat van Elia afgeval het, opgetel en weer op die wal van die Jordaan gaan staan. 14Hy het met hierdie mantel wat van Elia afgeval het, op die water geslaan en gesê: “Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy?”

Toe Elisa die water slaan, het dit na links en na regs verdeel sodat hy kon deurgaan. 15Toe die profete van Jerigo wat ’n entjie daarvandaan gestaan het, hom sien, het hulle gesê: “Die gees van Elia rus nou op Elisa.”
Hulle het hom tegemoet geloop en voor hom gebuig.

16Hulle sê toe vir hom: “Daar is vyftig dapper manne onder ons; laat hulle tog u leermeester gaan soek: dalk het die Gees van die Here hom opgelig en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergelaat.”
Elisa het geantwoord: “Moet hulle nie stuur nie.”

17Maar hulle het by hom bly aandring totdat hy nie meer kon weier nie, en toe sê hy: “Stuur hulle dan maar.”

Hulle het vyftig man gestuur, maar hoewel hulle drie dae lank gesoek het, kon hulle Elia nie kry nie. 18Toe hulle terugkom in Jerigo waar Elisa oorgebly het, het hy vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Here Jesus, U is die profesie van God se lewegewende Woord, geskryf op die tafels van ons harte.
U is die wet wat volbring word in liefde.
U is die berg waar die teenwoordigheid van God brand soos vuur.
U is die vallei waar God vir ons kyk deur die oë van die noodlydende.
U is die heerlikheid waarna ons verlang: die fluistering van ’n nuwe wêreld, die Lig wat alles met u heerlikheid verander tot nuwe lewe.
U is die Een wat ons aanbid.
(Uit ’n gebed van John van de Laar).

Seëngroet
Julle is my geliefde kinders oor wie Ek My verheug!

Liedere
Flam 21 “In die hemel is die Heer” en 22 “Ek soek U, o God”
Liedboek 163 “Soos ‘n wildsbok” en 519 “Wees stil en weet, Ek is die Heer”

Herinnering aan die verheerliking van Jesus op die berg
Laat iemand Markus 9:2-9 voorlees.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Wie van die kinders weet wat ‘n strydwa is?
‘n Strydwa was ‘n belangrike deel van die ou dae se oorlogstuig. In die tyd toe die Bybel geskryf is, het lande nog met mekaar oorlog gemaak met wapens soos pyle en boë, spiese, swaarde en skilde. Net die groot en ryk lande kon dit bekostig om ook nog strydwaens en perde te gebruik.

(Gebruik die prentjie van ‘n strydwa wat hier beskikbaar is)

Soos julle op die prentjie kan sien, was die strydwa natuurlik ‘n groot hulp in die oorlog. Dink net hoe dit sal voel as jy ‘n voetsoldaat met ‘n spies of ‘n swaard is, en hier kom ‘n ou met ‘n strydwa en perde op jou afgestorm. Jy het nie ‘n kans nie! Die perde gaan jou al omstamp – en jy gaan ook nie met jou spies maklik die soldaat op die strydwa bykom nie!

Dit is amper soos ‘n gewone voetsoldaat met ‘n geweer wat teen ‘n tenk probeer veg! Het jy as voetsoldaat ‘n kans om te wen as die tenk op die prentjie op jou afstorm?

(Daar is ‘n prentjie van ‘n tenk hier beskikbaar.)

In 2 Konings 2 lees ons die storie van hoe Elia in die hemel opgeneem is. Eers sien Elia en Elisa ‘n strydwa van vuur en perde van vuur wat hulle twee van mekaar skei. Daarna word Elia in ‘n stormwind in die lug opgeneem.

As ons gedink het ‘n gewone strydwa en perde was ‘n effektiewe wapen teen die vyand, dink net hoe vreesaanjaend sal ‘n strydwa en perde van vuur wees! Dit sal enige vyand op die vlug laat slaan. Dit sal die pad voor hom oop brand, alles wegvee wat voorkom.

As ons mooi na die verhaal kyk, sien ons dat dit eintlik vir ons ‘n prentjie van die Here wys. Die Here is soos ‘n strydwa en perde van vuur. Hy verjaag elke vyand voor ons uit. Hy jaag al die bose en slegte magte die skrik op die lyf. Die Here is soos ‘n vuur wat die pad vir ons oop brand.

Wat beteken dit vir ons?
Wel, dit beteken verseker ons moet groot respek vir die Here hê!

Tog hoef ons beslis nie vir Hom bang te wees nie. Ons kan eintlik baie veilig by Hom voel. As die Here soos ‘n strydwa en perde van vuur ons verdedig en beskerm, dan is ons regtig baie veilig!

Dis interessant om te sien hoe die storie in 2 Konings 2 eindig. Toe Elisa vir Elia in die lug sien opgaan, roep hy uit: My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters (vs 12).

Die strydwa met perde en ruiter is dus nie net ‘n prentjie van die Here nie. Dit is ook ‘n prentjie van die Here se dienaars. Elia was vir Israel so ‘n strydwa met sy ruiters. Met die Here se hulp het hy soos ‘n dapper soldaat teen elke bose vyand geveg en die volk verdedig en beskerm.

Die Here se dienaars, almal wat Hom volg, is eintlik sy strydwaens met ruiters, sy soldate.

Is julle ook Jesus se soldaatjies? Veg julle ook aan sy kant teen die Bose? (Baie kinders ken waarskynlik die liedjie Ek is Jesus se soldaatjie. Hulle kan dit moontlik hier sing – met die nodige gebare.)

Onthou net: Ons kan nie hierdie geveg op ons eie wen nie! Eintlik moet ons op God se strydwa van vuur klim – dan sal jy sien hoe hardloop die duiwel vir jou weg!

Ons kan ons voorstel dat God met ‘n groot tenk teen die bose magte (wat maar soos voetsoldate is) veg.

En waar is ons? Ons sit saam met die Here binne in daardie tenk!

Dit beteken maar net: Ons maak nie op ons eie krag staat nie. Ons vertrou op die Here – Hy sal ons help om die Bose te oorwin.

Preekriglyn

Die verheerliking op die berg

Volgens die Leesrooster fokus ons vandag op Jesus se verheerliking op die berg.

Ons sou aan die verheerliking kon dink as een van die hoogtepunte van Jesus se bediening. Ons praat ook van hierdie gebeure praat as ‘n “bergtop-ervaring” – die storie van ‘n buitengewone openbaring van God.

Jesus self ondergaan ‘n metamorfose – voor die oë van sy drie dissipels verander sy voorkoms, sy klere word blink, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie.

Elia en Moses verskyn, en staan en praat met Jesus. Petrus raak so opgewonde dat hy in sy voortvarendheid voorstel: “Kom ons bou drie hutte …”

Markus se kommentaar is: “Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander” (Mark 9:6).

Dan kom daar boonop ‘n wolk wat sy skaduwee oor hulle laat val, wat vir die Jode net één ding beteken: Dit is die teken van God se teenwoordigheid. Uit dié wolk kom daar boonop ‘n stem wat sê: Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.

Dan, meteens, toe hulle weer kyk, is alles terug na normaal.

‘n Vreemde storie, sou jy dalk sê. Wie sal dit glo? Geen wonder nie Jesus beveel sy dissipels om nie daaroor te praat nie! Waarskynlik sal die mense hulle net uitlag. Ná sy opstanding sou dit dalk meer sin maak …

Die doel van die gebeurtenis

Wat is die doel van dié storie?

Ons moet daarop let dat die Markus-evangelie dit ter sprake bring in die konteks waar Jesus reeds vasberade op pad is na Jerusalem toe om te gaan ly en gekruisig te word.

In hoofstuk 8, net ná Petrus se belydenis dat Jesus die Messias is, kondig Jesus die eerste keer aan dat Hy moet ly en sterf. Die dissipels is hewig ontsteld. Maar as Petrus sê dat hy dit gaan keer, sê Jesus vir hom hy is aan Satan se kant!

In dié konteks is die verheerliking op die berg klaarblyklik ‘n bemoediging wat op twee bene staan.

Aan die een kant is dit vir Jesus ‘n bekragtiging op die lydenspad wat Hy gekies het, ‘n versekering daarvan dat God Hom op daardie pad steun.

Aan die ander kant is dit vir die dissipels ‘n bevestiging van Jesus se status as Messias. Hulle word uitgedaag om na Jesus te luister, Hom te volg en te gehoorsaam, selfs al bring dit lyding.

Bergtop-ervarings

Dalk kom dieselfde uitdaging vandag na ons toe.

Ja, God gun ons soms bergtop-ervarings, daardie spesiale geleenthede waar ons ervaar dat ons regtig vir God ontmoet het; geleenthede waartydens ons intens bewus word van God se teenwoordigheid. Soms gebeur dit deur sang en aanbidding in ‘n erediens, tydens ‘n gebed of onder die preek. Of dit kan in ons stiltetyd of buite in die natuur gebeur of op baie ander maniere.

Bergtop-ervarings is aanrakings van die Gees van God wat ons laat glo dat Jesus werklik die Messias is. Dit is ervarings van die openbaring van Jesus se heerlikheid. Dit is aha-ervarings, wanneer die Bose se sluier gelig word sodat ons met helderheid kan weet wie Jesus regtig is en waartoe Hy in staat is.

Die werklikheid is dat sulke ervarings nie elke dag gebeur nie. Ons kry nie regtig kans om vir ons hutte op die bergtop te bou nie, al sou ons graag wou!

‘n Beker koue water op pad na die kruis

Bergtop-ervarings is dikwels maar verposings langs ‘n moeilike lydenspad. Ons kry maar net ‘n vlugtige blik op die heerlikheid – a glimpse. Die bedoeling van sulke ervarings is egter om ons toe te rus vir die uitdaging om die Lydende Kneg met gehoorsaamheid op sy kruistog deur ons stukkende wêreld te volg, om as “wounded healers” agter Hom aan te loop, soos Henry Nouwen sê.

Op die berg het die Vader vir sy geliefde Seun eintlik maar net ‘n beker koue water op pad na die kruis gegee. En vir ons sê Hy: Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom. Volg Hom tot by die kruis – en verby die leë graf!

In die Leesrooster is die fokusteks vir hierdie week 2 Konings 2:1-12 (alhoewel ons gekies het om dit uit te brei tot vs 15).

Die skakel tussen 2 Konings 2 en Jesus se verheerliking

Dit is half moeilik om te sien hoe hierdie teks inpas by die viering van Jesus se verheerliking op die berg.

Voor die hand liggend is dit natuurlik dat Elia sáám met Moses op die berg verskyn om vir Jesus te ondersteun. ‘n Mens wonder nogal waaroor hulle met Hom staan en praat het! Die teks gee nie ‘n aanduiding daarvan nie. Gewoonlik sien Bybeluitleggers Elia en Moses as simbole of verteenwoordigers van die wet en die profete. Dit beteken dus dat die hele godsdienstige sisteem van die Ou Testament hier vir Jesus as die Messias erken en tot sy verheerliking bydra.

Dit is verder ook waar dat sowel Moses en Elia hulle bedienings afsluit met wat ons vantevore bergtop-ervarings genoem het.

Moses word wel nie toegelaat om die beloofde land in te gaan nie. Tog ontmoet hy God op die bergtop – en verdwyn dan eenvoudig. Die implikasie is duidelik: God neem hom weg.

Dieselfde gebeur met Elia. Weliswaar staan hy nie op ‘n bergtop nie. Die Here neem hom deur ‘n stormwind in die hemel op. Vyftig van die profeteseuns gaan soek hom, maar kry hom nêrens nie. Hulle dink dat die Gees van die Here hom dalk opgelig en êrens op ‘n berg of in ‘n vallei gaan neersit het, maar daar is geen teken van hom nie.

In die Joodse tradisie is dit juis hierdie ervaring wat vir Elia tot ‘n besondere posisie verhef, in so ‘n mate dat die Jode uiteindelik geglo het hy sou terugkom om die pad vir die koms van die Messias voor te berei. Terwyl hulle van die berg van verheerliking afstap, is dit dan inderdaad ook waaroor die dissipels gesels. “Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elia eers moet kom?” vra hulle vir Jesus in Markus 9:11.

Die wa en perde van vuur het simboliese betekenis

Wat volgens 2 Konings 2 met Elia gebeur, skryf sommige verklaarders as ‘n legende af.

Op die ou end maak dit ook nie regtig soveel verskil aan die betekenis daarvan nie. Die beelde van ‘n wa en perde van vuur wat vir Elia en Elisa van mekaar skei en die stormwind wat vir Elia in die hemel opneem, is in elk geval almal simbole wat méér as net ‘n letterlike betekenis het. Net soos wat ons die majesteit van God op die berg van verheerliking uit Jesus sien skyn, so openbaar hierdie simbole die heerlikheid van God – net op ‘n ander manier.

Dit herinner ‘n bietjie aan Moses en die volk se ervaring van God se teenwoordigheid by die berg Sinai. Ons lees in Eksodus 19 van die donderslae en weerligte en ‘n donker wolk op die berg; van hoe die Here in vuur afkom na die volk toe, met die rook wat optrek soos die rook van ‘n oond; van die berg wat skud en die sterk helder klank van ‘n ramshoring. As Moses praat, antwoord God hom in donderslae. Die volk bewe voor hierdie verskyning van God. Dit is ontsagwekkend!

By Elia sien ons wéér die vuur en die stormwind.

Tog is daar ‘n ander element. Die strydwa en die perde is oorlogstuig. Hulle is simbole van God wat vir sy volk die stryd voer. Hulle beskerm en verdedig teen elke vyand. Hulle bring die oorwinning oor elke vorm van boosheid wat hulle bedreig.

Elia was vir Israel die strydwa met sy ruiters

Hierdie simboliese betekenis kom duidelik na vore in Elisa se weeklag toe Elia voor sy oë weggeneem word. Hy roep uit: My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters (2 Kon 2:12).

Wat beteken dit?

Waarskynlik maar net dat Elia se hele bediening as profeet ook ‘n stryd was om God se volk teen elke bedreiging te beskerm en te verdedig.

Logies kan ‘n mens dit verbind met dié verhaal se wa van vuur en perde van vuur. Elia het ‘n geweldige rol in die volk se lewe gespeel omdat hy ‘n Godsman was, omdat hy as’t ware met God se wa van vuur en perde van vuur die stryd gestry het.

Noem net een voorbeeld, en die gebeure by Karmel kom dadelik by jou op.

Agab en sy bose vrou, Isebel, verlei die volk om afgode te aanbid. Ons ken die storie van 1 Konings 18. Van die groot droogte. Van die uitdaging aan die profete van Baäl en Asjera: Hulle moet ‘n offer gereed maak en dan die vuur van hulle gode afbid. Vier honderd en vyftig Baäl-profete en 400 van Asjera s’n roep lank en aanhoudend na hulle gode – sonder enige reaksie, sonder enige sukses.

Dan is dit Elia se beurt. Hy laat ‘n groot klomp water op die altaar uitgooi. Die hout is sopnat. Hy pleit: Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is… (1 Kon 18:37). Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Die vuur lek al die water op. Die hele volk val op hulle knieë en roep uit: Die Here is God! Die Here is God! (vs 39). Al die profete van Baäl word daar en dan gegryp en doodgemaak. Dan sak daar groot reëns op die dorre land uit.

My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters, sê Elisa. Maar natuurlik het die krag en die vuur en die oorwinning van God af gekom. Dit sien ons ook in die simbole van 2 Konings 2.

Elisa vra ‘n dubbele deel van Elia se gees

Nou is belangrik om daarop te let dat die fokus in 2 Konings 2 nie regtig op Elia is nie, maar eintlik op Elisa. Ja, Elia is die een wat in die hemel opgeneem word, maar eintlik gaan dit oor Elisa wat die strydwa se leisels by Elia oorneem. Hoewel dit nie letterlik daar staan nie, praat ons van die mantel van Elia wat op Elisa se skouers val.

Elisa vra vir Elia dat daar tog ‘n “dubbele deel” van sy gees op hom moet kom (vs 9). Elia antwoord dat dit wel sal gebeur wanneer hy wat Elisa is sal toekyk hoedat Elia van hom af weggevat word (vs 10). Dit sê Elia ten spyte daarvan dat hy vroeër in die verhaal telkens voorgestel het Elisa moet agterbly terwyl hy wat Elia is alleen verder gaan. Waarskynlik was dié oënskynlike teenstrydigheid in Elia se optrede maar sy manier om Elisa se vasberadenheid en getrouheid aan sy meester te toets. Elia wou Elisa se geskiktheid toets om sy bediening oor te neem. En Elisa slaag die toets, want hy weier volstrek om van sy meester geskei te word, tot aan die einde toe.

Op hierdie punt kan ons weer die verhaal in verband bring met die gebeure op die berg van verheerliking. In die besonder kan ons nou Elisa se optrede vergelyk en met die optrede van Jesus se dissipels kontrasteer.

Ons het reeds gesien dat die dissipels daar op die berg ‘n kykie van Jesus se heerlikheid en majesteit kry. Dit was sekerlik bedoel om vir hulle te bevestig dat Hy die Messias is. Dit daag hulle uit om na Hom te luister, Hom te gehoorsaam en Hom te volg.

Aan die een kant is hulle reaksie groot opgewondenheid. Hulle wil vashou aan die oomblik. Petrus wil sommer vir almal hutte daar op die berg bou.

Aan die ander kant moes hulle nog ‘n lang pad loop voordat hulle régtig sou verstaan dat Jesus se heerlikheid uiteindelik ten volle aan ‘n kruishout geopenbaar sou word. Dalk was hulle daar op die berg nog nie heeltemal gereed om Jesus se mantel oor te neem nie.

Elia se gees rus nou op Elisa

Elisa is ook ‘n dissipel. Sy groot begeerte is om ‘n dubbele deel van die gees van sy meester te ontvang. Hy kry ook ‘n kykie, nie net in die heerlikheid van Elia nie, maar in die grootheid, die majesteit, die krag van die God wat nog altyd deur Elia gewerk het. En hy word toegerus vir die groot uitdagings wat op sy pad voorlê. Hy tel Elia se mantel op en probeer dadelik toets of die krag van God ook deur hom sal werk, soos deur Elia.

Pas tevore het Elia met die mantel op die Jordaan geslaan en hulle kon droogvoets deurgaan.

Nou doen Elisa dieselfde. In 2 Konings 2:14 klink dit amper of daar ‘n benoude oomblik op sy aksie volg. As hy die water slaan, sê hy: Waar is die Here die God van Elia? Waar is Hy? Sal God inderdaad ook deur hom werk? Maar dan antwoord God. Die waters skei. Hy stap deur. En die profete van Jerigo se gevolgtrekking is: Die gees van Elia rus nou op Elisa (vs 15).

‘n Dubbele deel van die Gees van Christus

As ons vandag vir ‘n wyle gaan stilstaan op die berg van verheerliking en ons sien hoe God sy heerlikheid in die aangesig van Jesus Christus, ons Here, openbaar, sal ons dan nie ook soos Elisa vra om ‘n dubbele deel van sy gees te ontvang nie?

Klink dit vermetel om ‘n dubbele deel te vra?`
Dié uitdrukking het klaarblyklik niks te doen met die grootheidswaan van ‘n volgeling wat groter as sy meester wil wees nie. Dit is bloot ‘n manier om te vra vir die volle erfporsie van ‘n eersgeborene.

Paulus sê ons is inderdaad erfgename van God, erfgename saam met Christus (Rom 8:17). Die Eersgeborene se mede-erfgename! Die stertjie by dié vers is weliswaar: As ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Om dus vandag ‘n dubbele porsie van Christus se gees te hê, sal beteken dat ons saam met Christus deel het aan die heerlikheid en die krag van God. Deelname aan die heerlikheid en die krag van God –dit is ons erfenis. Ons deel dit met die Eersgeborene van God wie se erfenis dit is.

‘n Visie van God se heerlikheid

Om egter aan die heerlikheid ‘n deel te kry, moet ons eers ‘n uitsig daarop hê, moet ons verstaan waarom heerlikheid gaan.

Die heerlikheid is glorieryk, majestueus, indrukwekkend. Wat ons uit Jesus daar op die berg van verheerliking sien skyn, is heerlikheid. Dit laat die dissipels verskrik staan, oorstelp, maar tog ook opgewonde.

Na regte moet ons nog terugkyk tot by Moses en Elia om die volle prentjie van God se heerlikheid te sien. Dit is ‘n heerlikheid wat ook in die stormwind geopenbaar word, in die strydwa en perde van vuur, in die donderslae en weerlig en rook op die berg. Dit is ontsagwekkend, amper vreesaanjaend.

Wanneer mense regtig die heerlikheid van God aanskou, het dit meestal ‘n dubbele effek.

Aan die een kant wek dit ontsag. Dit laat ons terugdeins. Dit laat ons bewe. Dit vul ons met diepe eerbied. Dit laat ons in aanbidding neerval.

Aan die ander kant is dit ook vertroostend en bemoedigend. Dit bemagtig ons. Dit skep vertroue. Dit verseker ons van beskerming en oorwinning. Van God se krag wat in ons en deur ons werk. Dit rus ons toe vir die besondere bediening waartoe God elkeen van ons roep.

Dit is asof Jesus met sy blink voorkoms en sy spierwit klere, en Elia met sy wa van vuur en perde van vuur, ons aanmoedig tot die stryd.

Klim af na die stukkende wêreld toe

Ja, natuurlik is ons in ‘n stryd gewikkel. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. Ons kan nie vir ons hutte op die bergtop bou nie. Ons moet afklim na die wêreld toe – die wêreld met sy stukkende mense, met sy fisiese en geestelike nood, sy siekte en dood.

Toe Jesus en sy dissipels van die berg afkom, kry hulle ‘n groep mense. ‘n Pa wat sê: … ek het my seun na U toe gebring omdat hy van ‘n gees besete is wat hom stom maak. … Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie (Mark 9:17-18). Jesus se dissipels – maar hulle is magteloos voor die aanslag van die Bose. Ongelowige geslag, sê Jesus, hoe lank moet ek julle nog verdra?

Toe Elisa terugkom in Jerigo, pas ná Elia se vertrek, sê die inwoners vir hom: U sien self hoe mooi ons stad geleë is, maar die water is giftig en die oes uit die grond veroorsaak misgeboortes (2 Kon 2:19). Kort daarna loop hy op pad na Bet-El ‘n groep seuntjies raak wat hom bespot. Die Moabiete rebelleer teen Israel en daar kom oorlog. In die volgende hoofstuk kom kla ‘n weduwee by Elisa dat sy nie haar skuldeisers kan betaal nie. Ons hoor van ‘n vrou in Sunem wat deur ‘n wonderwerk swanger raak, maar die kind was nog nie mooi groot nie, toe gaan hy sommer net dood.

Só baie uitdagings, een na die ander. Volgens 2 Konings het God so kragtig deur Elisa gewerk dat dit lyk of hy vir alles oplossings gehad het.

Magteloos – maar tog bemagtig deur die Gees

Dalk voel ons eerder magteloos soos die dissipels.

Kan ons regtig die uitdagings van ons tyd hanteer? Die groeiende armoede en werkloosheid rondom ons? Die suigkrag van materialisme? Die verwoestende gevolge van hebsug en korrupsie en magsmisbruik? Die toename in misdaad en geweld, moord en doodslag? Die skrikwekkende effek van klimaatsverandering? Die gewetenlose uitbuiting van die natuur en dierelewe vir eie gewin? Die slagting van die renosters in ons land?

En ag, sommer net al die sondes waaraan ons almal onsself skuldig maak: liefdeloosheid en selfsug; ‘n gebrek aan sensitiwiteit en getrouheid; afguns en jaloesie; ens, ens.

Maak dit jou lam in die knieë? Sal Jesus van ons ook sê dat ons ‘n ongelowige geslag is?

Dit lyk inderdaad of ons ook vandag ‘n dubbele porsie van die gees van Christus nodig het! ‘n Nuwe visie van en uitsig op die heerlikheid van Christus. ‘n Openbaring van die majesteit en krag van God. ‘n Vervulling met die Gees van Christus – die Gees met ‘n hoofletter …

  1. Liedere

Lied 509 “Op berge en in dale”; NSG 42

Slotsang

Flam 246 “Lig van die wêreld (oorspronklik: Here I am to worship…)

God stuur ons om te leef

6 Augustus: Transfigurasie (Sheila Cussons)
Midsomer nou en alles gloed. Lig oorstelp.
Vlees is swaar, gees onwillig, stom, of soek.
Niks, nie ’n vonk in staat tot hulle “Here,
dis goed dat ons hier is, laat ons hutte bou!”
Ek maak my oë toe, en sien al sien ek nie
die fyn strepie sweet in die plooi van elke ooglid.
Lomerig dink ek: geen hutte nie . . .
En skerper meteens: en natuurlik nie!
Wie bou as ons bou is God, sy dit hut of Woord
– Klein nattigheid van my vel,
jy weet nie hoe besonder jy is nie: hier, en nou,
in die Onverwoordelike: God verlore in God.