Sondag van die Verheerliking – Feesdiens

Sections

Oorsig

Sondag van verheerliking merk die oorgang van Epifanie na Lydenstyd en is die viering van die verheerlikte Christus aan die begin van sy lydensweg.

Hierdie jaar is die evangelielesing, wat die verhaal van die verheerliking is, juis die sleutelteks. Die preekstudie lig 3 moontlike preektemas uit, naamlik:

  • Identiteit van Jesus
  • Belang van gebed
  • Menswaardigheid

In die lig van die seisoen van menswaardigheid wat tans op die NG Kerk se agenda is, sluit hierdie liturgie by laasgenoemde tema, naamlik die van menswaardigheid, aan. Nie net die sleutelteks nie, maar ook die ander drie tekste ondersteun die tema van menswaardigheid. In Eksodus 34 ag God Moses waardig om voor God te verskyn en word hy deur God se teenwoordigheid verander. 2 Korintiërs 3 neem hierdie gedagtegang ‘n stappie verder en beklemtoon die waardigheid van die mens as beelddraers van die verheerlikte Here. Psalm 99 besing God as die Heilige wat reg en geregtigheid – belangrike hoekstene van menswaardigheid – liefhet. Die liturgie fokus op die kruispunt tussen God se heiligheid en spesifiek die heerlikheid van Christus die Here en die waardigheid van die mens as beelddraer van God

Die kleure vir Sondag van verheerliking is wit en goud.

Ander tekste

Eksodus 34:29-35
28Moses was veertig dae en nagte by die Here. In dié tyd het Moses geen kos geëet of water gedrink nie. Hy het die verbondsbepalings, die tien gebooie, op die plat klippe geskryf. 29Toe hy van Sinaiberg af gaan met die twee plat klippe in sy hand, die klippe waarop die getuienis was, was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie. 30Toe Aäron en die Israeliete opmerk dat sy gesig blink, was hulle bang om naby hom te kom. 31Eers toe Moses hulle nader roep, het Aäron en al die leiers van die volk na hom toe gekom, en hy het met hulle gepraat. 32Daarna het al die Israeliete nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here vir hom op Sinaiberg gesê het. 33Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy sy gesig met ’n doek toegemaak. 34Wanneer Moses na die Here toe gaan om met Hom te praat, verwyder hy die doek tot na sy terugkoms. Wanneer hy van die Here af terugkom, sê hy vir die Israeliete wat die Here hom beveel het. 35Wanneer die Israeliete sy gesig sien blink, trek Moses die doek oor sy gesig totdat hy weer met die Here gaan praat.

Psalm 99
Die Here ons God is heilig
99 Die Here regeer:
die volke erken bewend sy gesag.
Hy troon oor die gerubs:
die aarde sidder van ontsag.
2Groot is die Here,
Hy wat in Sion is,
hoog verhewe bo al die volke.
3Hulle moet u groot en gevreesde Naam
prys:
“U is heilig!”
4U is die magtige Koning,
U het die reg lief;
wat reg is,
het U tot stand gebring.
U het reg en geregtigheid
in Jakob gevestig.
5Prys die Here ons God.
Kom buig in aanbidding voor Hom:
Hy is heilig!
6Moses en Aäron was onder sy priesters,
Samuel onder dié
wat sy Naam aangeroep het.
Hulle het die Here aangeroep
en Hy het hulle gebed verhoor.
7In ’n wolkkolom het God
met hulle gepraat,
en hulle het sy voorskrifte gehoorsaam,
die opdragte wat Hy hulle gegee het.
8Here ons God,
U het hulle gebede verhoor.
U was vir hulle ’n vergewende God,
maar Een wat ook hulle sondes
gestraf het.
9Prys die Here ons God,
buig voor Hom op sy heilige berg,
want die Here ons God is heilig.

2 Korintiërs 3:12-4:2
12Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op. 13Ons is nie soos Moses wat sy gesig met ’n sluier toegemaak het nie. Dit moes hy doen om te verhinder dat die volk van Israel sou sien dat die ligglans aan die verdwyn was. 14Hulle verstand was ook toe, en vandag nog bly hulle verstand met dieselfde sluier toegemaak as hulle die Ou Testament lees, maar die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo. 15Maar vandag nog, elke keer as die wet van Moses voorgelees word, is daar ’n sluier oor hulle verstand. 16Van Moses sê die Skrif egter: “Elke keer as hy hom na die Here wend, word die sluier weggeneem.” a17“Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. 18Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

Die apostels verkondig Jesus Christus, die Here
4 God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie. 2Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God ’n eerlike gewete het.

Fokusteks

Die verheerliking op die berg
(Matt 17:1–8; Mark 9:2–8)
28Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om te gaan bid. 29Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit. 30Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia. 31Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi.

32Petrus en die ander het intussen vas aan die slaap geraak, en toe hulle wakker word, sien hulle die hemelse glans van Jesus en ook die twee manne wat by Hom staan. 33Toe die manne aanstaltes maak om van Hom af weg te gaan, sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

Hy het nie geweet wat hy sê nie.

34Terwyl hy nog praat, kom daar ’n wolk en gooi sy skaduwee oor hulle, en toe die wolk hulle insluit, het die dissipels bang geword. 35Daar kom toe ’n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.”

36Toe die stem praat, merk hulle dat Jesus alleen daar is.

Hulle het hieroor stilgebly en in daardie tyd vir niemand anders enigiets vertel van wat hulle gesien het nie.

Jesus maak ’n seun gesond
(Matt 17:14–18; Mark 9:14–27)
37Die volgende dag, toe hulle die berg afkom, het ’n groot klomp mense Jesus tegemoet gekom. 38Meteens roep daar ’n man uit die skare: “Meneer, ek smeek U, kyk bietjie na my seun. Hy is my enigste kind. 39’n Gees pak hom onverwags beet, dan gaan hy skielik aan die skreeu en hy kry stuiptrekkings en ook skuim om die mond. Die gees hou aan om hom te verniel en laat hom nie maklik weer los nie. 40Ek het u dissipels gesmeek om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.”

41Toe antwoord Jesus: “Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.”

42Terwyl die seun nog aankom, gooi die bose gees hom op die grond neer en laat hom hewige stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onrein gees skerp aangespreek, die kind gesond gemaak en hom aan sy pa teruggegee. 43Almal was verslae oor die grootheid van God.

Jesus kondig die tweede keer sy dood en opstanding aan
(Matt 17:22–23; Mark 9:30–32)
44Terwyl almal verbaas was oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: “Wat julle betref, hou hierdie woorde goed in gedagte: Die Seun van die mens gaan in die hande van mense oorgelewer word.”

45Maar hulle het hierdie uitspraak nie verstaan nie. Die betekenis daarvan was vir hulle bedek sodat hulle dit nie kon begryp nie, maar hulle was te bang om Jesus daaroor uit te vra.

Ekstra stof

Lukas 9:1-50 – God is getrou om ons alles te gee wat ons in die bediening nodig het 
Jesus begin al hoe meer op die 12 fokus. En soos Hyself in hoofstuk 8 die koninkryk gaan verkondig het van een dorp en stad na die ander, stuur Hy hulle nou om met Sy gesag dieselfde te doen, siekes gesond te maak, bose geeste uit te dryf en so die koninkryk te verkondig.  Die opdrag sal in hoofstuk 10 verder uitgebrei word na ‘n verdere 72 dissipels wat uitgestuur word op Sy pad na Jerusalem.  Na Sy Opstanding sal die opdrag na alle dissipels uitgebrei word wat oor die hele wêreld die koninkryk van God moet gaan verkondig.

Let op dat Jesus hulle opdrag gee om niks vir die reis saam te vat nie, nie eers brood nie. Hierdie opdrag dwing hulle dus om op twee goed te vertrou: 1) die gasvryheid van die mense en 2) God se getrouheid.

Dit plaas die wonder van die vermeerdering van die brood en vissies in ‘n heel ander lig (9:12-17). Die gawe van brood en visse wat hulle vir Jesus aanbied, ten spyte van hulle eie perspektief dat dit te min is, is in die eerste plek ‘n getuienis van die gasvryheid van die mense.  En in die tweede plek is dié min in God se hand genoeg.  Die oorvloedige vermeerdering van die voedsel is op ‘n ongelooflike beslissende manier ‘n getuienis van God se getrouheid.  En let op dat daar ‘n hele 12 mandjies oorbly, baie meer as waarmee hulle begin het, as’t ware een vir elke dissipel (!), met die implisiete boodskap: God sal voorsien op hulle pad met die evangelie.  Hulle kan Hom vertrou.

Die verhaaltjie tussen die uitstuur en broodvermeerdering, dié oor Herodes se onsekerheid is opvallend.  Aan die een kant eggo dit die twyfel van Johannes die Doper in hoofstuk 7, net van ‘n ander ongelowige kant af.  Aan die ander kant staan dit in sterk kontras met die sekerheid van Jesus in sy optrede en die gesag waarmee Hy dit doen, en boonop die gesag wat Hy aan sy dissipels gee. Herodes, die sogenaamde heerser, is onseker.  Jesus, die ware heerser, is seker van wat Hy doen!

Daarmee het die tyd dan ook vir Jesus aangebreek om sy dissipels in te lei in die ware doel van Sy koms na die aarde.  Waarskynlik het Jesus besef met die sukses van die uitgebreide bediening deur die 12, en veral die belydenis van Petrus dat Hy die Gesalfde (Messias) van God is, dat die tyd ryp is vir hulle (en Hom) dat Hy Hom kan gee vir sy verwerping, kruisdood, en opstanding.  Daarom begin Hy met hulle daaroor gesels (9:18-22 en 44-45).

Let op hoe Jesus tussen dié twee aankondigings oor sy naderende dood hulle:

  • inlig oor die eise van dissipelskap (9:23-27),
  • blootstel aan die heerlikheid wat wag, geïllustreer deur Sy eie verheerliking op die berg (9:28-36),
  • ‘n seun gesond maak waarmee hulle gesukkel het (9:37-43).

Daardeur beklemtoon Hy die noodsaak om te volhard, maar nie só dat hulle eintlik maar op hulle eie vermoëns moet staatmaak nie, maar op sy grootheid moet vertrou in hulle werk.  Moeilike genesings word hanteer deur ‘n vaste geloof in die grootheid van God, nie deur ‘n vertroue op jouself nie.

Jesus vervolg met ‘n les in nederigheid (oor wie belangrik is – 9:46-48) en hoe diversiteit hanteer moet word (mense wat nie saam met die 12 is nie, maar tog die Here dien – 9:49-50), voordat ‘n wending in die evangelie intree en Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin.

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 122 of enige van die “Halleluja” – liedere:  Lied 189, 206, 218, 228 of Flam 83

Votum: Ps 99 in Vonkk 122, soos aangedui.

Seëngroet

Respons: (sonder aankondiging) Lied 170 of Flam 124 of VONKK 69

Skriflesing: (sonder aankondiging) Eksodus 34:29-35

Lofsang: Lied 201 of Flam 143 of VONKK 264

Wet: (Responsories n.a.v.Eksodus 20:2–17)

Toewyding VONKK 195 of Flam 225 of  Lied 273

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 9:28-36

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 113 of Lied 589

Seën

Respons: “Halleluja”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 122 Halleluja! (1) of
enige van die “Halleluja” – liedere:  Lied 189, 206, 218, 228 of
gebruik Flam 83 Hallelu, Hallelu op soorgelyke wyse

Votum
Lees Ps 99 in die middel van Vonkk 122, soos aangedui. Of reageer na Ps 99 met enige van bg “Halleluja”- liedboek liedere

Seëngroet

Respons: (sonder aankondiging)
Lied 170 “Heilig, heilig, heilig” of
Flam 124 Agnus Dei of
VONKK 69 Heilig, Heilig, Heilig Is Die Heer

Skriflesing (sonder aankondiging)
Eksodus 34:29-35

Lofsang
Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer” of
Flam 143 Leeu Van Juda of
VONKK 264 “Kom ons prys sy Naam”

Wet  
(N.a.v.Eksodus 20:2–17)
Liturg: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
Gemeente: Dankie dat ons U kan erken as die enigste ware God.

L: Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie.  Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.
G: Dankie dat ons U kan leer ken uit u Woord en sakramente.

L: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.
G: Dankie dat ons u heilige Naam mag aanroep.

L: Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.
G: Dankie dat U vir ons sorg en vir tye van rus.

L: Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
G: Dankie vir ons ouers en ander mense wat vir ons omgee.

L: Jy mag nie moord pleeg nie.
G: Dankie dat U vir ons die lewe as ‘n wonderlike geskenk gee.

L: Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
G: Dankie dat U dit vir ons moontlik maak om aan mekaar getrou te wees.

L: Jy mag nie steel nie.
G: Dankie dat U vir ons die vermoë gee om te kan werk.

L: Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
G: Danke dat U ons in die waarheid lei.

L: Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.
G: Dankie vir wat ons uit u hand ontvang.
(Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2010)

Toewyding
VONKK 195 Loof, Loof Die Heer of
Flam 225 Heer Ek wil U Aanbid of
Lied 273 “Laat my met U verenig lewe”

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 122 “Halleluja!” (1)
Teks: VONKK Werkgroep 2010
Musiek: Alleluia 73 – Jacques Berthier (1923-1994) (met toestemming Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk)
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Lofprysing

Voorsanger: Halleluja!
Gemeente: Halleluja! Halleluja! Halleluja!

(Psalmvoorlesing)
Voorsanger: Halleluja

F83. “Hallelu, Hallelu”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof)
Teks en musiek: Jan de Wet
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Jan de Wet en die lofkleuters, My eerste loflied)

Hallelu, hallelu, hallelu
halleluja, ons loof die Heer.
Hallelu, hallelu, hallelu
halleluja, ons loof die Heer!

Kom loof die Heer! Halleluja!
Kom loof die Heer! Halleluja!
Kom loof die Heer! Halleluja!
Ons loof die Heer!

F124. “Agnus Dei”
(RUBRIEK: Flam – lof en verwondering)
Teks en musiek: Michael W Smith
© 1990 Milene Music (met toestemming gebruik deur FMU)

Halleluja, halleluja
want die Heer God almagtig regeer.
Halleluja, halleluja
want die Heer God almagtig regeer.

Halleluja.
Heilig, heilig
is U Heer God almagtig
waardig is die Lam,
waardig is die Lam,
U is heilig, heilig.
Is U Heer God almagtig
waardig is die Lam,
waardig is die Lam.
Amen.

VONKK 69 “Heilig, Heilig, Heilig Is Die Heer”
Teks: Annalise Wiid 2004 © (met toestemming Annie’s Song); Engelse teks: Jacques Louw 2009
Melodie: ANNELISE – Annalise Wiid 2004 ©  uit EK KYK OP (met toestemming Annie’s Song)
Orrelbegeleiding: Jacques Louw 2005 ©
Kantoryverwerking: Jacques Louw 2005 ©
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

Heilig, heilig, heilig is die Here.
Heilig, heilig, heilig is die Heer.
Holy, holy, holy is the Lord.
Holy, holy, holy is the Lord.

F143. “Leeu Van Juda”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en musiek: Retief Burger
© 2005 Urial Publishing
(Op 5:3-7, Rom 8:31-39, Kol 2:14-15, 1 Kor 15:54-58, Ps 115:1)

Jesus, die sterke leeu van Juda,
Jesus, die vlekkelose lam,
Jesus, Oorwinnaar oor die dood,
Jesus, U is oneindig groot.

U’s vir ewig, U’s vir altyd
en ek weet U’s ook vir my.
Word verheerlik, word verhoog
deur al die lof wat juig in my.
Kom verander, kom vernuwe
weer die passie binne my.
Jesus, dit gaan alles net oor U.

VONKK 264 “Kom ons prys sy Naam”
Teks: Heri ni jina – tradisioneel Oos-Afrika, oorgelewer deur Deogratias Mahamba; Afrikaanse weergawe: Breda Ludik 2013
Melodie: HERI NI JINA – tradisioneel Oos-Afrika
Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2012 ©
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2012 ©
© Teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Multikultureel – Lofprysing / Liefde, Dankbaarheid en Diens

Kom ons prys sy Naam.
Kom ons prys sy Naam.
Kom verheerlik Jesus se Naam.
Kom ons prys sy Naam.
Kom ons prys sy Naam.
Kom verheerlik Jesus se Naam. (Ons prys Hom)
Halleluja! Halleluja!
Kom verheerlik Jesus se Naam. (Ons prys Hom)
Halleluja! Halleluja!
Kom verheerlik Jesus se Naam.
Kom ons volg ons Heer.
Kom ons volg ons Heer.
Kom ons volg vir Jesus alleen.
Kom ons volg ons Heer.
Kom ons volg ons Heer.
Kom ons volg vir Jesus alleen. (Ons volg Hom)
Halleluja! Halleluja!
Kom ons volg vir Jesus alleen. (Ons volg Hom.
Halleluja! Halleluja!
Kom ons volg vir Jesus alleen.

VONKK 195 “Loof, Loof Die Heer”
Nav Psalm 103 (strofe 1)
Teks: Jacques Louw 2012 ©
Musiek: SAGINA – Thomas Campbell (1825-1876)
Orrelbegeleiding en diskant (strofe 3): Colin Campbell 2012 ©
Kantoryverwerking: Thomas Campbell (1835-1876)
© Teks, orrelbegeleiding en diskant (:3): 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek en kantoryverwerking: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Lofprysing / Nagmaal

Loof, loof die Heer met alles binne my!
Ek wil die Here loof en sy Naam besing.
Hy is die Heer wat my skuld vergeef;
met liefde en goedheid wil Hy my kroon.
Hy is barmhartig, geduldig en genadig;
sy liefde sal my lewe lank vir altyd by my bly.
Hy is die Heer wat Hom ontferm
en soos ’n vader ook my beskerm.

Loof, loof die Heer, want Hy vergeet ons nooit.
Hy red ons van die dood en genees ons seer.
Hy neem ons sonde en wis dit uit;
uit liefde kom gee Hy vir ons sy Seun.
Hy kom versoen al ons sonde en oortredinge.
Hy gee vir ons die Heil’ge Gees om ons altyd te lei.
Verlosser, Heer, aan U die eer
vir goedheid so onbeskryflik groot.

Sing vir die Heer ’n danklied almal saam.
Verheerlik nou die Heer, kom en prys sy Naam.
Hy heers as Koning in ewigheid –
die Alfa, Omega, vol majesteit.
Kom al wat lewe, kom prys Hom in verwondering
tot elke tong sy Naam bely, sy lof en eer besing.
Drie-enig’ God, ons loof nou saam
u Wondernaam so oneindig groot.

F225. “Heer Ek wil U Aanbid”
(RUBRIEK: Flammikidz – Gebed)
Oorspronklike titel: Heer, ik wil U aanbidden
Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht
© 2001 Celmar Music

Refrein:
Heer, ek wil U aanbid in
alles wat ek doen
nie alleen met woorde
of deur te sing, maar U te dien.
Heer, ek wil U verheerlik
eerlik en opreg
diep vanuit my hart
want my hart is wat U sien.

1. Mense sien die buitekant
maar U kyk regdeur my.
U sien waarom ek dinge doen
en of ek anders bedoel daarby.

Refrein:

2. Leer my om deur alles heen,
deur blydskap, pyn en vrees,
te lewe soos wat U dit wil
om (so) ’n kind na u hart te wees.

Refrein:

F113. “Here Jesus, U Skyn Oor Almal” 
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis)
Oorspronklike titel: Shine, Jesus, shine
Teks en musiek: Graham Kendrick
Afrikaanse vertaling: Breda Ludik
© 1987 Make Way Music
(Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Here Jesus, U skyn oor almal,
met die glans van u liefde skyn U.
Skyn op ons tot ons oë oopgaan.
Maak ons vry om te lewe voor U.
Skyn oor my, skyn oor my.

Refrein:
Soos lig wat skyn in die donker van hierdie wêreld,
soos lig wat skyn, skyn die Heer in ons.
Kom, Jesus, kom en verdryf al die donker in ons.
Kom laat u liefde die wêreld oorwin.

2. Here, maak my ’n lig wat helder
skyn om liefde te dra, al verder.
Skyn deur my tot die hele wêreld,
weet dat U vir ons almal gesterf het.
Skyn deur my, skyn deur my.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 9:28-36

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Die Engelse woord vir vandag, “transfiguration” is eintlik ‘n baie lekker woord om met die kinders mee te speel. In die Harry Potter films is een van die klasse wat die kinders moet neem, “transfiguration”. In Harry Potter and the Philosopher’s Stone verander die professor ‘n kraai in ‘n beker. Hier is ‘n skakel met meer inligting.

In die verhaal wat ons vandag gelees het word Jesus ook verander, maar anders as die kraai wat in ‘n beker verander het, word Jesus nie iets anders as wat Hy is nie, Hy word meer wat Hy is. Sy Goddelikheid word meer gemaak. Op dieselfde manier werk God, deur die Gees in ons, om ons ook meer dit te maak wat ons reeds is. (Uit Bybelmedia se Woord en Fees)

God verheerlik Jesus nie ter wille van Jesus self nie, maar ter wille van die dissipels wat by hom is. Carolyn Brown stel voor dat hier verskillende skilderye van die verheerliking gewys word en dan op die dissipels se gesigsuitdrukking van verbasing/verwondering gefokus word.
Wanneer God ons meer na sy beeld maak, is dit ook ter wille van die mense om ons.
Of teken verskillende gesigsuitdrukkings op papierborde, elk met ‘n ander emosie:  moeg, bang, verras, hartseer, bly, opgewonde, verward, ens.  Lees die verhaal en laat die kinders die emosies ophou wat hulle dink die dissipels gevoel het.
Of gebruik suurlemoensap, watte stokkies en ‘n strykyster om die verheerliking te verduidelik.  Kry na die volledige (baie oulike) idee hier.

Preekriglyn

Een van sendeling Hudson Taylor se bekende spreuke is: “Vertrou daarop: God se werk, gedoen op God se manier, sal nooit gebrek lei aan God se voorsiening nie.” (“Depend upon it, GOD’S work done in GOD’S way will never lack GOD’S supplies.”)

Hudson Taylor was in 1865 die stigter van die China Inland Mission (CIM), ‘n sendingaksie wat deur ongelooflike swaarkry en opoffering ‘n enorme impak op die bring van die evangelie na China gemaak het. Hy vertel hoe hy op ‘n Sondag op Brightonstrand in Engeland gaan stap het, al worstelende met God oor die geestelike lot van miljoene Chinese. Hy het gevoel ‘n sendingorganisasie was nodig, maar het getwyfel of hy in staat is om dit te lei. God het hom egter vrede hieroor gegee, en hy het CIM gestig.

Na die stigting van CIM het Hudson en sy medewerkers aan die werk gespring. Die taak was groot, moeilik omdat daar nie beproefde weë was om die werk te doen nie, met enorme persoonlike uitdagings vir elkeen. Hudson het vertel hoeveel versoekings hy beleef het, hoe hy met verhoudinge gesukkel het, en hoe sleg hy dikwels oor sy eie ingesteldheid en gedagtes gevoel het.

Daar is twee redes waarom daar – ten spyte van baie stryd en mislukking – vrug op die werk was. Die eerste rede was die helder besef dat God self aan die werk is, en dat hulle instrumente in God se hande was. “As die Here my nie besonder genadig was, en as my gemoed nie versterk is deur die oortuiging dat ons God se werk doen en dat Hy by ons is nie, sou ek gebreek het, “skryf Hudson later. “Die stryd behoort aan die Here, en Hy sal oorwin.”

Die tweede rede was ‘n lewe van gebed, die opsoek van God se teenwoordigheid en die rus in gebed by God. Hudson Taylor se lewe is radikaal vernuwe deur ‘n ervaring waarin Johannes 4:14, Jesus se woorde aan die vrou by die put, vir hom die lewende teenwoordigheid van Christus in gebed werklik laat word het: “Wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.”

Vandaar Taylor se bekende gesegde: “Vertrou daarop: God se werk, gedoen op God se manier, sal nooit gebrek lei aan God se voorsiening nie.”
Grafika

Teen die berg op

In ons teks neem Jesus drie dissipels saam met Hom teen die berg op om te gaan bid. Hierdie gebeure verteenwoordig ‘n sleutelmoment in Jesus se bediening. Net in die voorafgaande gedeelte het Jesus aangekondig “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word” (8:21).

Jesus is op die punt om deur die meule te gaan. Sy dissipels ook. Daarom het Jesus pas verduidelik dat elkeen wat sy lewe vir Hom aflê, dit sal behou. Elkeen wat hom skaam vir Jesus, en sy lewe probeer behou, sal dit verloor (8:23-26).

Jesus se antwoord op hierdie beproewing is om gemeenskap met God op te soek deur gebed. Hy betrek ook sy dissipelkring. Gebed word die manier waarop Jesus in hierdie oomblikke ingebed bly in sy identiteit as lydende kneg van die Here, Seun van God.

Gebed word ook die manier waarop die dissipelgemeenskap, via Petrus, Johannes en Jakobus, gedefinieer word as volgelinge van die Seun van God.

Wat gebed is

Dit is duidelik dat gebed baie meer is as bloot om versoeke aan God in oomblikke van nood te rig. Jesus self leer sy dissipels in die “Onse Vader” bid, wat bestaan uit:

  • Konneksie met God, ons Vader
  • ‘n Soeke na God se regering, die geskied van sy wil, en die heiliging van God se Naam
  • Voorbidding vir ons daaglikse behoeftes, waaronder bewaring van versoeking en die bose, en geneesde verhoudinge met God en die mense rondom ons (vergifnis).

Hierdie soort gebed is rus in die teenwoordigheid van God, fokus op God, luister na God, herdefiniëring van ons lewenspad deur gemeenskap met God, en volkome afhanklikheid van God.

Gebed kan daarom nie afgejaag word nie. In ons teks bring Jesus en sy drie dissipels waarskynlik die nag in gebed deur. Gebed is meer as ‘n klompie woorde, dit is ‘n lewensstyl en ‘n oop kommunikasiekanaal wat ons help om God se hart te leer ken en God se wil te doen.

Daarom bid Jesus op soveel beslissende oomblikke in sy lewe, waaronder hierdie nag, en die nag in Getsemane.

Identiteit van Jesus

In die dae voor die besoek aan die berg, vra Jesus vir sy dissipels wie die mense sê Hy is (9:18). Hulle noem verskeie moontlikhede. Dan vra Jesus wie die dissipels self sê Hy is. Waarop Petrus antwoord: “Die Gesalfde van God” (9:20). Sy identiteit is ter sprake.

Wanneer hulle die berg besoek, en Jesus op die berg verheerlik word, word die identiteit van Jesus vir die biddende gemeenskap sigbaar. Hy word inderdaad aan die dissipels as die Gesalfde van God openbaar:

  • Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit (9:29)
  • Moses en Elia verskyn by Hom, in hemelse glans.

Die verandering in Jesus se voorkoms is ‘n aanduiding van God se teenwoordigheid, en dui op Jesus se hemelse heerlikheid wat in sy menswording verberg is.

Moses, die wetgewer van die Ou Testament, en Elia, die profeet van die Ou Testament, dui daarop dat die Wet en die Profete in Jesus in vervulling gaan. Jesus is nie Moses en Elia nie, Hy is ook nie Johannes die Doper of ‘n opgestane profeet nie (soos die mense Jesus in 9:19 beskryf nie). Jesus se identiteit oortref Moses en Elia en ander gestuurdes van God uit die Ou Testament.

Drie hutte?

Die dissipels het aan die slaap geraak, maar die heerlike glans van Jesus, en die hemelse glans waarmee Moses en Elia uit die hemel verskyn, maak hulle wakker.

Jesus se verheerlikte identiteit word aan die dissipels openbaar. Hulle sou hierdie gesig moes onthou toe Jesus later gevange geneem en verneder gekruisig word.

Petrus is so beïndruk met die ervaring dat hy drie hutte wil bou, een elk vir Jesus, Moses en Elia. Lukas vertel Petrus het nie geweet wat hy sê nie. Waarskynlik wil Petrus die moment vasvang. Hy wil nie van die berg af weer die lewe betree nie. Duidelik meen hy Jesus. Moses en Elia is op dieselfde vlak – daarom kry elkeen ‘n hut.

Dan kom daar ‘n wolk – weer ‘n teken van God se teenwoordigheid en trek hulle aandag deur sy skaduwee oor hulle te gooi. Daar kom ook ‘n stem , die stem van God, uit die wolk en sê: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.”

Die stem beklemtoon Jesus se identiteit. God het sy Seun uitgekies vir sy bediening en taak. Hy is daarvoor gesalf. Dit maak Hom anders as en onderskei Hom van Moses en Elia. As die Uitverkorene sal Jesus deur sy lyding God se heerskappy uitoefen. Hy is die een na wie geluister moet word.

Die boodskap korrigeer Petrus se drie-hutte-inisiatief. Jesus is die verhewe Seun van God. Hy is die Een wat God se wil nuut en volkome interpreteer. Daarom moet die dissipels na Hom luister.

Identiteit en lyding

Opvallend genoeg gaan Jesus op die berg om te bid nadat Hy vir die eerste keer sy lyding en dood aangekondig het. Wanneer Moses en Elia verskyn, praat hulle met Jesus oor “sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi” (31).

Jesus se “uittog in Jerusalem” is ‘n verwysing na sy dood, maar ook sy opstanding en sy hemelvaart. Die gesprek met Jesus gaan oor die lyding en die vrug daarop. Jesus se uittog herinner ook aan die Israeliete se uittog uit Egipte. Die uittog het die Israeliete van slawerny in Egipte bevry. Jesus sal daarom met sy uittog sy mense van ‘n swaarder slawerny bevry. Dit is alles deel van God se verlossingsplan.

Dit beteken ook dat lyding ‘n integrale deel van Jesus se identiteit is. Dit is wie die Seun van God kies om te wees: die lydende dienskneg-koning wat vir ons verlossing bring.

Die verheerliking op die berg is nie net ‘n bevestiging vir ons dat Jesus werklik die Here is nie. Dit versterk ook vir Jesus op sy lydingspad, en bevestig vir Hom dat sy koers God die Vader se goedkeuring wegdra. Daarom word ons as dissipels ook opgeroep om na Jesus te luister.

Aanbidding

Waartoe beweeg hierdie teks ons vandag as volgelinge van Jesus?

Die eerste beweging moet sekerlik een van aanbidding wees. Waar ons as kerk Jesus oor die volgende weke in lydenstyd op sy lydingspad gaan volg, kan ons die verheerlikte Seun van God wat gekies het om vir ons te ly alleen maar aanbid.

Verstommend genoeg het God die projek om vir ons verlossing te bring op God se inisiatief aangepak. Jesus het gekies om ons te dien, terwyl ons nog ver van God was, vyande van God. Ons het nie deur die wil of keuse van ‘n mens kinders van God geword nie. Die werk is God s’n, die inisiatief tot redding syne alleen. Daarom pas aanbidding.

‘n Lewe van gebed

Ons leer uit die voorbeeld van Jesus die krag van gebed. Jesus het elke keer weer sy identiteit voor God in gebed gevind. Hudson Taylor het in sy bediening ook hierdie waarheid ontdek.

Die passie vir gehoorsaamheid en kies teen sonde, die krag om te dien en op te offer, word gebore uit gemeenskap met God wat voortspruit uit gebed. Gebed is nie altyd praat nie, maar rus in God se teenwoordigheid en luister na die influistering van God se Gees deur God se Woord.

Versterking

God se teenwoordigheid in die lewe van Jesus, God se bevestiging van Jesus, en die bystand van Moses en Elia onderstreep dat ons nooit alleen is nie. God verskaf die krag, energie en gemeenskap wat nodig is om ons deur te dra tot die einde toe.

Aan die kruis het Jesus die bitter smart beleef dat God Hom verlaat het, maar – sê die Heidelbergse Kategismus – dit is sodat ons kan weet ons sal nooit deur God verlaat word nie.

Dienende leierskap

Ons leef in ‘n wêreld waar leierskap merendeels oorheersing en die versameling van mag en invloed is. Jesus leer ons die teenoorgestelde weg. Leierskap is om jouself te ontledig en te dien. Leierskap is om nie die aandag op jou heerlikheid te vestig nie, maar te fokus op diens.

Dit is wat Hudson Taylor bedoel deur te sê God se werk, gedoen op God se manier (nederig diens) sal altyd deur God versterk en bemagtig word.

Ja, gelowiges wat Jesus op die berg van verheerliking aanskou, kan lewe en dien.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here Jesus Christus, help ons om u sagte geur te versprei oral waar ons gaan.
Laat u lewe, u Gees, so deur ons vloei dat ons boordensvol word van u liefde.
Beheers ons lewe, deurdrenk ons so volkome dat ons klein lewe iets sal weerkaats van die skittering van u wese.
Laat u Lig deur ons straal, sodat ons lewe sal skyn soos u s’n,
en sodat elke mens met wie ons te doen kry,
iets van u teenwoordigheid sal ervaar.
Laat hulle na ons kyk, en niks anders sien nie as vir U, Jesus, alleen.
Bly by ons sodat u warm liefde deur ons kan uitstraal na ander.
Dit sal nie ons wees nie, Here, maar u liefde, u lig,
u warm hart wat in ons begin klop het.
So wil ons U dien, terwyl U deur ons dien,
so wil ons U prys, sonder om te preek. Amen.
(Moeder Teresa soos aangehaal in Gebedeboek vir die lewe 2007, bl 329)

Dankoffer

Slotsang
Flam 113 Here Jesus, U Skyn Oor Almal of
Lied 589 “Verheerlik aan Gods regterhand”

Seën

Respons
Singe enige van die “Halleluja” liedere wat julle nog nie in die diens gebruik het nie.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.