Sondag van die verheerliking

Sections

Oorsig

Sondag van die verheerliking is die afsluiting van die Kerssiklus en tegelyk die oorgang na Lydenstyd. Op hierdie Sondag word gefokus op Jesus se verheerliking op die berg. Die verhaal van die verheerliking word in die evangelielesing (Matt 17:1-9) weergegee. Jesus se Godheid en koningskap het daar sigbaar geword. Tog het dit ook Jesus se lydensweg ingelei. Die verheerliking is ’n feesviering oor wie Jesus is.

In Eksodus 24 gaan Moses, Nadab, Abihu en sewentig leiers van Israel die berg op. Moses en Josua klim die berg verder uit. Hierna bevind Moses hom alleen in die magtige teenwoordigheid van die Here – eers vir sewe dae en daarna vir veertig dae en nagte.

Psalm 2 was in die vroeë eeue een van die klassieke tekste wat uitdrukking gegee het aan die intieme verbintenis tussen God die Vader en Jesus as die Seun van God in die woorde: “Jy is my seun, vandag het Ek jou Vader geword” (7).

Petrus, as getuie van die verheerliking op die berg, herinner in 2 Petrus 1:16-21 aan die verhaal en gebruik ’n ligbeeld om die gebeure se boodskap te beskryf – hierdie boodskap is soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn.

Die fokusteks, Psalm 99, besing die heiligheid van God wat as magtige Koning regeer en voor Wie in aanbidding gebuig word. Die liturgie besing die heiligheid van Jesus Christus as die Seun van God.

Ander tekste

Eksodus 24:12-18; Psalm 2; Matteus 17:1-9; 2 Petrus 1:16-21

Fokusteks

Psalm 99
Die Here ons God is heilig
99 Die Here regeer:
die volke erken bewend sy gesag.
Hy troon oor die gerubs:
die aarde sidder van ontsag.
2Groot is die Here,
Hy wat in Sion is,
hoog verhewe bo al die volke.
3Hulle moet u groot en gevreesde Naam
prys:
“U is heilig!”
4U is die magtige Koning,
U het die reg lief;
wat reg is,
het U tot stand gebring.
U het reg en geregtigheid
in Jakob gevestig.
5Prys die Here ons God.
Kom buig in aanbidding voor Hom:
Hy is heilig!
6Moses en Aäron was onder sy priesters,
Samuel onder dié
wat sy Naam aangeroep het.
Hulle het die Here aangeroep
en Hy het hulle gebed verhoor.
7In ’n wolkkolom het God
met hulle gepraat,
en hulle het sy voorskrifte gehoorsaam,
die opdragte wat Hy hulle gegee het.
8Here ons God,
U het hulle gebede verhoor.
U was vir hulle ’n vergewende God,
maar Een wat ook hulle sondes
gestraf het.
9Prys die Here ons God,
buig voor Hom op sy heilige berg,
want die Here ons God is heilig.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Vooraf:  Wys ‘n video van natuurtonele.  Gebruik ‘n gratis FLV-Converter om een van die volgende video’s van You Tube af te laai:
Vir gemeentes met ‘n meer klassieke styl – beelde van die ruimte met Handel se “Glory to God”.
Vir gemeentes met ‘n ligter styl – foto’s van die ruimte met ligte klassieke begeleiding.
Vir gemeentes met ‘n moderne aanslag – natuurfoto’s met Michael W. Smith se “Awesome God”.

Toetrede: VONKK 122 Halleluja! (1)

Votum: Lees Ps 99 in die middel van Vonkk 122, soos aangedui.

Lofsang: Gebruik ruim tyd om God se lof te besing – meer as gewoonlik.
Vonkk 76
Vonkk 103
Flam 1
Flam 8

Liedere

VONKK 122 “Halleluja! (1)”
Teks: VONKK Werkgroep 2010
Musiek: Alleluia 73 – Jacques Berthier (1923-1994) (met toestemming Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk)
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Lofprysing

Voorsanger
Halleluja!

Gemeente
Halleluja! Halleluja! Halleluja!
(Psalmvoorlesing)

Voorsanger
Halleluja

VONKK 76 “Onsterflik, Onsienlik, Almagtig En Wys”
Teks: Immortal, invisible – Walter Chalmers Smith (1824-1908); Jacques Louw 2008 ©
Melodie: ST DENIO – tradisionele Walliese melodie (Canradau y Cyssegr)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Skepping en Onderhouding

1. Onsterflik, onsienlik, almagtig en wys,
o God, so verhewe, u Naam wil ons prys.
Ons eer en aanbid U, o God van die tyd.
U heers as oorwinnaar vir nou en altyd.

2. Die skepping, o Vader, getuig van u krag.
Ons kan U nie sien nie, tog heers U met mag.
U goedheid en liefde is tekens van seën.
Ons weet U’s teenwoordig hier rondom ons heen.

3. O God, U gee lewe aan klein en aan groot.
U sorg vir u skepsels, tot selfs in die dood.
Van alles op aarde bly U steeds die bron.
Al sterf ons, U bly daar – die ewige Son!

4. O Vader, die heerlikheid straal van u troon,
met hemelse luister tot hier waar ons woon.
U glansryke glorie maak duisternis lig –
selfs engele steier, verberg hul gesig.

5. Onsterflik, onsienlik, almagtig en wys,
o God so verhewe, u naam wil ons prys.
Ons eer en aanbid U, o God van die tyd.
U heers as oorwinnaar vir nou en altyd.

VONKK 103 “Maak Oop Die Poorte Vir Die Koning  (Psalm 24)”
Teks: Jubel, o nasies – Louwrens Strydom & Emma Badenhorst 1993; Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Melodie: PROMISED ONE – Israelse volksmelodie
Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en klavierbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Toetrede en Aanroeping / Lofprysing

Refrein
Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.

Vers:
Alles wat asem het behoort aan die Here.
Skepper van land en see en alles wat lewe.

Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.
Wie mag Gods woning sien – so heilig verhewe?
Net dié wat suiwer en opreg voor Hom lewe.

Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.
Dié wat Hom soek sal seën ontvang van die Here –
dié wat Hom dien en ook wil leef tot sy ere.

Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.

Flam 1. “Die Hemel Juig”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: All heaven declares
Teks en Musiek: Noel & Tricia Richards
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht; Jacques Louw
© 1987,1997  Thankyou Music

1. Die hemel juig, getuig van al u grootheid, Heer.
Die skepping buig in aanbidding voor U neer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

2. Ons wil verklaar:
U is die opgestane Heer;
U is die Lam
wat vir ewig sal regeer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

Flam 8. “Al Die Lof, Aanbidding En Ere”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering)
Oorspronklike titel: Be Unto Your Name
Teks en Musiek: Lynn de Shazo & Gary Sadler
Afrikaanse vertaling: Jan de Wet
© 1998 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op Worship Him)

Ons is ‘n oomblik;
U is vir altyd,
God van die eeue,
God voor die tyd.
Ons is ‘n asem;
U is vir ewig –
U wat ons liefhet,
altyd getrou.

Refrein:
Heilig, heilig, Heer God, Almagtig!
Waardig is die Lam wat regeer!
Al die lof, aanbidding en ere
Kom U toe, o Heer,
Kom U toe, o Heer!

Ons is gebroke;
U die Geneser,

Jesus, Verlosser,
Redder en Vriend.
Ons vra die vrae,
U is die Antwoord;
Ons die verdwaaldes,
U is die Weg.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Vertoon ’n skildery of ikoon van die verheerlikte Christus met ’n stralekrans of “halo” (Textweek webtuiste het onder Art Concordance ’n afdeling vir “Transfiguration” onder “Jesus
Creative Commons-licensed content

Vra vir die kinders of hulle dink dat Jesus so gelyk het. Hy het nie regtig ’n stralekrans op sy kop gehad nie, maar dit was ’n manier waarop kunstenaars wou voorstel dat Jesus nie net ’n gewone mens was nie. Hy was mens en die Seun van God. Vertel die verhaal van die verheerliking van Jesus op die berg (Matt 17:1-9). Dit was een van die kere toe God gewys het dat Jesus baie spesiaal is.

Preekriglyn

Op 24 Oktober 1946 het ’n groep soldate en wetenskaplikes vir die eerste keer iets wonderlik gesien: die eerste foto’s van die aarde, soos van buite die atmosfeer gesien.  Die greinerige, swart-en-wit foto’s is deur ’n kamera geneem wat in die VSA deur ’n V-2 missiel tot ’n hoogte van 100 km gelanseer is.  Die kamera het elke 1,5 sekondes ’n foto geneem, en hom minute later in die woestyn te pletter geval.  Die film was ongeskonde in ’n staalhouer bewaar en kon ontwikkel word.

Fred Rulli was op daardie stadium ’n 19-jarige dienspligtige.  Toe die wetenskaplikes die film behoue in die woestyn vind, het hulle soos kindertjies op en af gespring, vertel hy.  Toe die film later ontwikkel is en die beelde geprojekteer word, “the scientists just went nuts.”

Die verwondering om die aarde uit die ruimte te sien, was geweldig.

Tydens die Apollo-maanprogram is die eerste hoë kwaliteit foto’s van die aarde, soos gesien uit die ruimte, gepubliseer.  Met verwondering kon mense sien hoe die aarde soos ’n kleurvolle albaster in die swart ruimte sweef.  Vir die eerste keer kon ons sien hoe die aarde oor die maan opkom.  Sedertdien het foto’s uit die hemelruim algemeen geword.

Verwondering oor die skoonheid en die prag van die skepping wat ons as moeder aarde ken, was aan die orde van die dag.

Verwondering was nie die enigste emosie nie.  Yuri Gagarin het op 12 April 1961 die eerste man geword om ’n ruimtevlug tye onderneem.  Die Russiese president in hierdie tyd, Nikita Khrushchev, het gesê: “Gagarin het tot in die hemel gevlieg, maar God nie gesien nie.”  Sy woorde word dikwels verkeerdelik aan Gagarin self toegedig.  Gagarin se eerste woorde aan vlugkontrole was:  “Die aarde is blou.  Hoe wonderlik!  Dit is verrassend.”

Ook uit die Westerse wêreld is die ruimteprogram gebruik om God se bestaan te bevraagteken.  Mense het nou die hemel betree, en God nêrens gesien nie.  Die moontlike spasie waar een of ander God kan skuilhou (met eerbied gesê), word vir mense kleiner.  Hoe dieper ons in die ruimte inkyk, en uit die ruimte na ons planeet en sonnestelsel kyk, hoe meer raak mense oortuig dat alles wetenskaplik en deur waarneming verklaar kan word.

Moderne mense het hulle verwondering verloor.  Ons werk hard aan teorieë wat die bestaan van die skepping volledig kan verklaar uit die materie en die vloei van energie.

Die Duitse sosioloog Max Weber (1864-1920) het al vroeër gesê Westerlinge het ’n “disenchanted” siening van die wêreld.  Volgens prof Jaap Durand, in sy onlangse boek “Ontluisterde wêreld” gebeur dit ook met Afrikaners.

Die wêreld het sy luister verloor.  Mense het hul verwondering verloor: oor God en oor die skepping van God.

Die heerlikheid van God

Psalm 99 is vervul met verwondering oor die grootheid en heerlikheid van God.  Daarom sal hierdie perspektief vir baie mense klink of dit van ’n ander planeet af kom.

Psalm 99 bestaan uit drie strofes wat elkeen eindig met ’n verwysing na die heiligheid van die Here: “U is heilig”; “Hy is heilig”; “Die Here ons God is heilig.”  Hieruit blyk duidelik dat die digter die klem juis wil laat val op die heiligheid van die Here.  Dit word op ’n besondere wyse belig.  In die eerste twee strofes (1-3 en 4-5) val die klem op die heerskappy van God, en in die derde strofe (6-9) op die verhouding tussen die Here en gelowiges.

In die eerste strofe (1-3) erken die volke bewend die gesag van die Here en sidder die aarde van ontsag vir God.  God “troon oor die gerubs”.  Dit verwys na die Ou Testamentiese verbondsark waarop die beeld van twee engele met gespreide vlerke gestaan het.  Die ark is as die voetstoel van die Here gesien, wat dui op die vestiging van sy koninkryk op aarde.  God se volk erken God se koningskap, daarom moet hulle die nasies lei in lof aan God: God is heilig!

In die tweede strofe (4-5) word die wyse waarop die heilige Koning regeer, beskryf.  Sy regering vloei uit sy heilige karakter voort.  Hy het die reg lief, Hy is regverdig in sy oordeel en verlossing.  Aangesien Hy is wie Hy is, het God reg en geregtigheid onder sy volk gevestig.  Daarom moet die volk in aanbidding voor Hom buig.

In die derde strofe (6-9) word uitgebrei oor die wyse waarop God sy reg gevestig het.  Hy het dit gedoen deur met sy diensknegte (Moses, Aäron en Samuel) te praat.  God het sy heerlikheid aan hulle openbaar.  Hulle het gereageer deur gehoorsaamheid en aanbidding.  ’n Tweegesprek en ’n vennootskap het tussen die heilige God en die priesters, die verteenwoordigers van die volk, en die volk self ontstaan.  Natuurlik het hulle ook fouteer, maar God straf nie net nie, Hy is ook ’n vergewende God (8).

Die openbaring van God se heerlikheid

Psalm 99 beklemtoon dat God sy heilige heerlikheid, sy koningskap en sy regering openbaar:

  • Volke en die aarde herken of besef sy regering en het ontsag vir Hom (1);
  • Hy verhoor gebede (6, 8);
  • God het met die leiers deur ’n wolkkolom gepraat (7);
  • Hy gee opdragte (7);
  • Hy wys sonde uit, maar vergewe ook (8).

Die heilige heerlikheid van God is dus bekend onder mense en op aarde, want God openbaar dit.

“Heilig” beklemtoon die afstand tussen mens en God.  Dit gaan oor veel meer as ’n morele afstand (in die sin van rein en onrein).  Dit gaan hier oor die afstand tussen geskapene en ewigheid, die afstand tussen die heerlike lig van God en die werk van sy hande.  Psalm 99 is oortuig dat hierdie afstand oorbrug is, maar nie van ons kant af, met ons vuurpyle, projektiele en kameras nie.  Dis van God se kant af oorbrug, Hy het sy heerlikheid en heiligheid aan ons geopenbaar.  Ons reageer daarop met aanbidding.

Die manier hoe ons God leer ken, is nie deur Hom met ons oë te aanskou nie, maar deur sy heerlike openbaring te hoor en in gehoorsaamheid daarop te reageer.

Die nabyheid van God se heerlikheid

Die heiligheid van God beklemtoon nie net die afstand tussen God en mens nie.  Psalm 99 toon ook aan dat die heilige God naby ons gekom het.  Hoewel groots en hoog verhewe (2), buig God Hom neer en raak aktief werksaam op aarde:

  • God het die reg lief, en vestig reg en geregtigheid op aarde (4) – altyddeur, dikwels in die stilte, maar ook wanneer diktators tot ’n val kom en diegene wat onreg liefhet in duie stort en moet vlug;
  • Hy verhoor sy kinders se gebede; Hy luister na mense (6)
  • Hy straf en vergewe – Hy is die een wat ons opvoed om wat verkeerd is te herken en te kies vir wat reg is (8)

Op hierdie praktiese manier is God se heiligheid en verhewendheid tot ons nut en ons voordeel.  Hy is by ons, versorg ons, selfs wanneer ons Hom nie kan herken nie.  Selfs wanneer ons ruimtekameras Hom nie in fokus kan kry nie en ruimtereisigers Hom miskyk.  Dit is nie nodig om tussen die sterre na Hom te gaan soek nie, Hy is by ons.

Herwin die besef van God se heerlikheid

Max Weber sê ons leef in ’n ontluisterde wêreld.  Mens herken sommer dadelik die waarheid hiervan.  Vir moderne, wetenskaplike mense is God inderdaad ver, doer iewers.  God is selfs vir baie gelowiges nie ’n integrale deel van die daaglikse prentjie waaruit ons lewe nie.  God is vir baie meer ’n intellektuele waarheid, eerder as ’n heilige, dog persoonlike, nabye Werklikheid.

Psalm 99 help ons om die wonderlike karakter van ons wêreld te herontdek.  Ons wêreld is gevul met die heerlike, heilige teenwoordigheid van God!

Hoe herwin ons die besef van die heerlike, heilige teenwoordigheid van God?

Een: Herwin ’n Godsbesef deur gebed (6-8)
Moses, Aäron en Samuel het die Naam van God aangeroep.  En God het hulle gebed verhoor.  Hy het met hulle gepraat.

Gebed is nie in die eerste plek om met God te praat nie.  Gebed is om stil voor God te raak, sodat God met ons kan praat.  Gebed is nie eerstens ’n poging om God se aandag te trek nie.  Gebed is God se wyse om ons aandag te trek.

Ruimtereise is nie die manier om die verborge God te ontdek nie.  In stil word en luister lê die ontdekking van die heerlikheid van God.  Maak dit ’n daaglikse gebed om vir God te vra om sy heerlikheid en skoonheid aan jou te openbaar.

Soos God Moses, Aäron en Samuel se gebede verhoor het (8), sal Hy ook jou gebede verhoor.

Twee: buig voor God (5)
Die trotse mense wat die ruimte deursoek en God nie vind nie, en dan meen God bestaan sekerlik nie, het geen kans om God te vind nie.

Vers 5 sê letterlik: “buig voor God se voetstoel.”  Voor God se heerlikheid en hoogheid, moet ons buig.  Sy grootheid vereis nederigheid en afhanklikheid van ons.  Om Hom te aanbid, en Hom  te leer ken, moet ek voor Hom neerbuig in die stof.  Die Nuwe Testament sê dieselfde van Christus.  Die verheerlikte, opgestane Christus, sit saam met God die Vader op die troon en alles is aan sy voete onderwerp (Ef 1:22).

Mens herwin nie ’n besef van die luister en heiligheid van God terwyl jy oorbewus is van jou veronderstelde grootheid nie.  Dit gebeur wanneer jy jou leë hande na god uitsteek.

Drie: Dink na oor die groot dade van God
Ons maak dikwels te min van die magtige heerskappy van die Here.  Ons maak selfs asof Hy sommer soos ons is.  Besef ons ooit werklik hoe groot God is?  Nee, ons kan dit nooit werklik besef of bedink nie.  Kyk weer mooi na die grootheid van die skepping; na die gekompliseerdheid daarvan. Dink na oor al die groot en magtige dade van God.  Dan sal sy grootheid en sy mag ons aangryp.

Saam met die volke sal ons dan bewend sy gesag erken en saam met die aarde sidder van ontsag.  Die woord “heilig” hang saam met die woord vir skynend of stralend.  Soos die son wat skyn.  Om heilig te wees, beteken dan om skitterend of stralend te wees.  Hoe dikwels word die beeld van die son of lig nie in die Bybel vir God gebruik nie?  Dis beelde wat gebruik word om die heiligheid van God te beklemtoon.

Maar soos die mens nie direk na die son kan kyk sonder om blind te word nie, kan die mens God nie sien sonder om te sterf nie.  Hy is te groot en heilig.  Ons kan maar net voor Hom bewe en sidder.  Die heiligheid van God verwys egter ook na sy regverdigheid en sy oneindige genade. Soos die son skyn oor alles en almal, lig en lewe bring vir alles en almal, so doen God ook. Hy gee aan almal lewe. Hy stort sy liefde op almal uit.

Slot

Vergeleke met die groot dade van God is ons tegnologiese prestasies maar gering.  Maar ons tegnologie help ons om die skoonheid van God dieper te ontdek.  Ons wetenskap word ’n loflied op die grootheid van God.

Ons wat op die maan geloop het, by Mars en ander planete verbygevlieg het met ons ruimtetuie, die menslike genoom gekarteer het, en tot in die diepste ruimtes staar met ons teleskope, ons het soveel meer rede om te sê: God is groot!  Die Here ons God is heilig!

God stuur ons om te leef

Flam 21 “In Die Hemel Is Die Heer”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof / Verwondering)
Teks en Musiek: Tom Hiemstra
Teks: [strofes 3,4 onbekend]
© 2001  MAR Gospel Music Publishers
(vers 1 en 2 opgeneem op Louis Brittz se CD “Ons Koning kom weer”)
LW:  Ons wil graag al vier verse vir gebruik bekendstel!!

In die hemel is die Heer
en sy glans is soos kristal.
Hy’s die Heilige van God
en Hy heers oor die heelal.

Refrein:
Daar is mag in Sy woord!
Soos die waters druis sy stem.
Soos die son op die see se blou,
so die rykdom van sy trou.
Want aan U is die mag 
en die heerlikheid en krag.
En aan U is die eer 
en die lof, want U regeer.

Miljoene in gereedheid,
is die eng’le om sy troon.
Verbysterend sy sieraad
en die weelde van sy kroon.

Refrein:

Driemaal heilig is die Heer,
Hy wat was en is en kom.
Hy’s die Alfa en Omega,
almagtig en verhewe.

Refrein:

Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
die heerlikheid en lof
van nou af en vir ewig.

Refrein:

Seën:  In stede daarvan om “amen” te sê na die seën, laat die gemeente sing:
VONKK 61 Masithi Amen / Sing Amen
Teks: Masithi Amen – Stephen Cuthbert Molefe (1917-1987) in isiXhosa, isiZulu, SeTswana , SeSotho & English; Afrikaanse weergawe: Renette Bouwer 2009 (Pro Deo)
Melodie: MASITHI AMEN – Stephen Cuthbert Molefe 1977
Orrelbegeleiding: Tradisioneel
Kantoryverwerking: Tradisioneel
© Tekste en melodie: 1977 Lumko Institute, Germantown, South Africa. Used by permission.
© Afrikaanse teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Multikultureel – Lofprysing

isiXhosa
Voorsanger: Masithi
Gemeente: Amen, siyakudumisa

Voorsanger: Masithi
Gemeente: Amen, siyakudumisa

Voorsanger: Masithi
Gemeente:  Amen, Bawo, Amen, Bawo,
Amen, siyakudumisa.

Afrikaans
Voorsanger: Sing amen!
Gemeente: Amen! Ons prys u Naam,
o Heer!

Voorsanger: Sing amen!
Gemeente: Amen! Ons prys u Naam,
o Heer!

Voorsanger: Sing amen!
Gemeente: Amen, Bawo!*Amen, Bawo!
Amen, ons prys u Naam,
o Heer!

* Bawo = vader; respekvorm vir ouer “pa”

isiZulu
Voorsanger: Masithi.
Gemeente: Amen, siyakudumisa.

Voorsanger: Masithi
Gemeente: Amen, siyakudumisa.

Voorsanger: Masithi
Gemeente: Amen, Baba! Amen, Baba!
Amen, siyakudumisa.

SeTswana
Voorsanger: Arere.
Gemeente: Amen, re a go tumina.

Voorsanger: Arere.
Gemeente: Amen, re a go tumina.

Voorsanger: Arere.
Gemeente:  – Amen, Rara! Amen, Rara!
Amen, re a go tusima.

SeSotho
Voorsanger: Arere.
Gemeente: Amen, re a u rorisa.

Voorsanger: Arere.
Gemeente: Amen, re a u rorisa.

Voorsanger: Arere.
Gemeente: Amen, Ntate! Amen, Ntate!
Amen, re a u rorisa.

English
Voorsanger: Sing amen!
Gemeente:  Amen, we praise your Name, o Lord.

Voorsanger: Sing amen!
Gemeente:  Amen, we praise your Name, o Lord.

Voorsanger: Sing amen !
Gemeente: Amen, Father! Amen, Father!

Amen, we praise your Name, o Lord.

Speel “Hallelujah” uit Handel se Messiah terwyl die mense uitstap, of wys hierdie video:
http://www.youtube.com/watch?v=qkqWbMBudR4

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.