Sondag van die Verheerliking

Sections

Oorsig

Sondag van Verheerliking het volgens oorlewering sy ontstaan aan Sint Gregorius (257-331 nC) te danke. Gregorius was die hoof van die Armeense Kerk en het Armenië in 301 nC vanuit die heidendom tot die Christelike geloof gelei. Armenië was ook die eerste nasie wat die Christelike geloof as hulle amptelike geloof erken het. Gregorius het, volgens oorlewering, die heidense fees, Vartavarh (roosvlam) vervang met die Fees van Verheerliking en probeer om iets van die oorspronklike betekenis te herinterpreteer: Christus se heerlikheid is op die berg van verheerliking geopen soos ’n pragtige roos. Jesus se doop en hemelvaart verteenwoordig onderskeidelik die begin en einde van sy openbare bediening, terwyl die verheerliking op die berg die draaipunt van sy openbare bediening verteenwoordig. In die Markusevangelie vind die verheerliking op die berg tussen Jesus se eerste en tweede lydensaankondigings plaas. Die gewilde fase van Jesus se bediening kom nou tot ’n einde en van hier af reis Jesus na Jerusalem waar Hy gekruisig sou word. Jesus se verheerliking laat ons terugkyk én vorentoe kyk: God se stem uit die hemel herinner aan Jesus se doop, terwyl sy glinsterende teenwoordigheid vooruit kyk na sy opstanding en heerlikheid.

Ander tekste

2 Konings 2:1-12
Elia word in die hemel opgeneem
2 Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in ’n stormwind in die hemel sou opneem.
Elia en Elisa het uit Gilgal vertrek, 2en Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”
Elisa se antwoord was: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle is toe na Bet-El toe. 3Die profete wat in Bet-El was, het na Elisa toe gegaan en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
4Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle het saam in Jerigo aangekom. 5Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
6Elia sê toe vir hom: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle twee is toe saam verder.
7’n Vyftigtal van die profete is agterna en het op ’n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het.8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is. 9Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?”
Elisa het geantwoord: “Mag daar tog ’n dubbele deel van u gees op my kom!”
10Toe sê Elia: “Dis ’n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”
11Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ’n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in ’n stormwind op, die hemel in. 12Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”

Psalm 50:1-6
Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red
50 ’n Psalm van Asaf.
Die Here is God, Hy alleen is God.
Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,
van waar die son opkom
tot waar hy ondergaan.
2Uit Sion, stad van volmaakte prag,
verskyn God in glans.
3Ons God kom,
Hy bly nie stil nie.
Voor Hom uit brand ’n vuur,
rondom Hom woed ’n storm.
4Hy roep die hemel en die aarde op
vir die saak teen sy volk:
5“Maak bymekaar
dié wat aan My getrou is
en met ’n offer
’n verbond met My gesluit het.”
6Die hemel getuig: “God is regverdig,
en Hy is die regter.”

2 Korintiërs 4:3-6
Die apostels verkondig Jesus Christus, die Here
4 God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie. 2Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God ’n eerlike gewete het.

3As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met ’n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. 4Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is. 5Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. 6God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” bhet ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.

Fokusteks

Markus 9:2-9
9 Verder het Hy vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sal sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie.”

Die verheerliking op die berg
(Matt 17:1–8; Luk 9:28–36)
2Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op ’n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, 3en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. 4Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat.
5Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”
6Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.
7Daar het toe ’n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar ’n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”
8En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle.

Jesus se dood is naby
(Matt 17:9–13)
9Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle opdrag gegee om wat hulle gesien het, vir niemand te vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie.
10Hulle het hulle toe aan hierdie opdrag gehou, maar onder mekaar geredeneer oor wat dit beteken as Hy sê dat die Seun van die mens uit die dood sal opstaan.
11Hulle vra Hom toe: “Waarom sê die skrifgeleerdes dat Elia eers moet kom?”
12“Elia kom wel eers om alles weer reg te maak,” antwoord Hy hulle. “En hoe staan daar ook oor die Seun van die mens geskrywe? Hy moet baie ly en verag word. 13Maar Ek sê vir julle: Elia het reeds gekom, en die mense het met hom gemaak wat hulle wou, net soos daar oor hom geskrywe staan.”

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 167 of Vonkk 34 of F184.

Votum: (nav Psalm 50)

Lofsang: Lied 223 of VONKK 124 of  F143.

Toewyding: Lied 238:1 of VONKK 10

Skriflesing: 2 Korintiërs 4:3-6

Vryspraak: Lied 215 of F247

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed: Lied 176 en 177

Skriflesing: Markus 9:2-9

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer
Gebed

Slotsang
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser” of
F246. “Lig Van Die Wêreld”

Seën

Respons
Lied 215 Refrein “Christus is dié Heer!”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde” of
Vonkk 34 “O Christus, Here Jesus”
F184. “Ons Is Almal Hier Tesaam”

Votum: (nav Psalm 50)
Voorganger (V):  Die Here is God, Hy alleen is God.  Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op, van
waar die son opkom tot waar hy ondergaan.
Gemeente (G): Uit Sion, stad van volmaakte prag, verskyn God in glans.

V: Ons God kom, Hy bly nie stil nie. Voor Hom uit brand ’n vuur, rondom Hom woed ’n storm. Hy roep die hemel en die aarde op as getuies van sy glansryke heerlikheid.
G: Die hemel getuig: “Die Here is regverdig en Hy is ons God.”
Amen.
(Uit 2010 Handleiding vir die Erediens, Bybel-Media)

Lofsang
Lied 223 “Aan Jesus, Koning, al die eer”
VONKK 124 ‘Jesus Bring Vreugde”
F143. “Leeu Van Juda”

Toewyding
Deur die Heilige Gees staan ons soos die dissipels destyds op die berg in Jesus se hemelse lig. Hier kan ons elke oorblywende las op ons gemoed, aflê.

Gemeentesang
Lied 238:1 “God enkel lig, voor u gesig”
VONKK 10 ‘Jesus, Wees My, Sondaar, Genadig”
’n Paar oomblikke stilte.  [Dit is ’n goeie idee om voor stiltes ouers met klein kinders gerus te stel:  ons weet kinders is kriewelrig, hulle kan maar ontspan daaroor.]

Skriflesing: 2 Korintiërs 4:3-6

Vryspraak
Voorganger: God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo.
Gemeente: Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Rom 5:1).
(Vanaf toewyding uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2014-2015)

Gemeentesang
Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam” of
F247. “Jesus Ons Aanbid U”

Geloofsbelydenis
V: Saam met Markus bely ons ons geloof in Jesus Christus. Saam met Johannes die Doper …
G: Die Een wat ná my kom, is my meerdere.

V: Saam met die stem uit die hemel …
G: Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My!

V: Saam met Simon Petrus …
G: U is die Christus!

V: Saam met die stem uit die wolk …
G: Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom!

V: Saam met die Romeinse offisier …
G: Hierdie man was werklik die Seun van God.

V: En jy, wat glo jy?
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees, en ’n ewige lewe.

A: Amen.
(uit:  Wepener, Cas.  2011.  Soos ’n blom na die son draai.  Wellington, BybelMedia.)

Liedere

F247. “Jesus Ons Aanbid U”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklik: Jesus, We Enthrone You Teks en musiek: Paul Kyle
Afrikaanse vertaling: 2008 Johan Engelbrecht © 1980 Thankyou! Music

Jesus, ons aanbid U,
U ons Koning en Heer.
Neem nou ons loflied aan,
ons verheerlik u Naam.
En soos ons buig hier voor u troon, (x3)
Here Jesus, kom bind ons saam.

F246. “Lig Van Die Wêreld”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklik: Here I Am To Worship (Light of the World) Teks en musiek: Tim Hughes
Afrikaanse vertaling: 2008 Johan Engelbrecht © 2000 Thankyou! Music

1. Lig van die wêreld, U skyn in my duisternis;
nou kan ek sien wie U is.
Liefde wat maak dat ek U wil ken, Heer,
by U elke oomblik wil wees.

Refrein:
Voor U wil ek my neerbuig,
U wil ek aanbid en
U wil ek verheerlik as my Heer.
Want U alleen is waardig,
heilig en regverdig,
U is so genadig, so goed vir my.

2. Hemelse Heer, wat hoog en verhewe is,
Koning vol glorie en mag,
U’t na die wêreld as Kind gekom en
u heerlikheid afgelê.

Refrein:

Brug:
En nooit besef hoe U gely het,
daar aan die kruis was als vir my.

Refrein:

F184. “Ons Is Almal Hier Tesaam”
(RUBRIEK: Flam – Toetrede)Oorspronklik: We Have Come Into His House  Teks en musiek: Bruce T Ballinger
Afrikaanse teks: Attie van der Colf; Verwerking en alternatiewe teks: F Esterhuizen en Retief Burger, 2004
Kopiereg: © 1976 Universal Music

Ons is almal hier tesaam,
vergader in sy Naam,
verheerlik Hom.
Tot die dood was Hy getrou
en daardeur is ons nou sy eiendom.
Laat ons maak soos Hy ons sê,
mekaar steeds lief te hê
en Hom bo alles eer.

Loof Hom, Christus die Heer. (x2)
Halleluja! Ek kan nie sonder U nie.
Halleluja! Ek sal nie stilbly nie!
Halleluja! Daar is geen ander Naam nie
as Jesus Christus, die Heer,
as Jesus Christus, die Heer.

F143. “Leeu Van Juda”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof) Teks en musiek: Retief Burger  2005 Urial Publishing
(Op 5:3-7, Rom 8:31-39, Kol 2:14-15, 1 Kor 15:54-58, Ps 115:1)

Jesus, die sterke leeu van Juda,
Jesus, die vlekkelose lam,
Jesus, Oorwinnaar oor die dood,
Jesus, U is oneindig groot.
U’s vir ewig, U’s vir altyd
en ek weet U’s ook vir my.

Word verheerlik, word verhoog
deur al die lof wat juig in my.
Kom verander, kom vernuwe
weer die passie binne my.
Jesus, dit gaan alles net oor U.

Vonkk 34 “O Christus, Here Jesus”
Teks: O Christe Domine Jesu – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe VONKK-werkgroep 2008
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

O Christus, Here Jesus,
o Christus, Here Jesus!
O Christe Domine Jesu,
o Christe Domine Jesu!

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010 © Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit  RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1.  Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
“Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2.  Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3.  Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

VONKK 10 “Jesus, Wees My, Sondaar, Genadig (Tollenaarsgebed)”
Lukas 18:13 Teks: Jannie Hougaard 2003 © Melodie: TOLLENAAR — Jannie Hougaard  © en Francé Ludik  © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief — Skuldbelydenis

Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!
Jesus, wees my, sondaar, genadig,
wees my, sondaar, genadig!

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 176 “Halleluja! U is Koning” en 177 J”esus, gróót bo almal”

Skriflesing: Markus 9:2-9

Familie-oomblik

’n Mens moet versigtig wees om nie ’n “morele lessie” uit elke skrifgedeelte te probeer haal vir kinders nie.  Dit is belangriker dat hulle die Woord hoor en leer ken.  Vertel gewoon die verhaal op gevoelvolle wyse of lees dit (weereens met gevoel!) uit ’n kindervriendelike vertaling soos Joubert, S. 1999. Die Nuwe Testament vir kinders in ‘n taal wat hulle verstaan. Carpe Diem: Vanderbijlpark

2–4 Ses dae later vat Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n hoë berg op. Niemand anders was saam met hulle nie. Toe verander Jesus skielik. Sy gesig het so helder soos die son begin skyn. En sy klere het spierwit geword. Moses en Elia het ook met Jesus kom praat.

5–6 Petrus sê toe: “Here, dit is lekker om hier te wees. Laat ons drie huisies bou, een vir U en een vir Moses en Elia.” Petrus het deurmekaar gepraat, want hy was baie bang.

7 ’n Groot wolk se skaduwee val skielik op hulle. ’n Stem praat toe uit die wolk: “Hierdie is my Seun vir wie Ek baie lief is. Luister na wat Hy sê.”

8 Toe hulle weer kyk, was hulle heeltemal alleen. Net Jesus was by hulle

————————-

Kies dan ’n aktiwiteit wat die verhaal vaslê.  (Oefen vooraf!)

As jy dapper is, kan jy almal beïndruk met jou origami- vaardigheid en ’n huisie vou.  Leer hoe hier of
Werk met die gedagte van verdwyn en verskyn.  Skryf vooraf met ’n wattestokkie en lemoensap op ’n skoon wit papier: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” Laat dit droog word. Jy kan ’n baie, baie koel strykyster gebruik om die papier weer gelyk te maak.
Wys tydens die erediens die papier en sê dat dit ’n baie belangrike boodskap op het. Gebruik dan ’n warm strykyster (of ander hittebron) om die papier warm te maak. Die boodskap sal skielik “verskyn”.  Laat iemand die boodskap lees.  Julle kan dan bid dat die Gees jul oë sal oopmaak om altyd te sien dat Jesus God se seun is en dat ons na hom moet luister of
Lê die gedagte van voorkoms wat verander vas.  Kry ’n paar vrywilligers. Laat hulle voor staan en nooi almal om hulle goed te bestudeer.  Laat hulle dan uitgaan en een ding aan een persoon se voorkoms verander (soos bv. om ’n horlosie aan ’n ander arm te sit). Laat hulle terugkom en kyk of mense agterkom wat verander het of 
kyk by hier vir wonderlike idees en riglyne om die verhaal te vertel. Daar is ook die mooiste inkleurprent.  As julle ’n vriendelike koster het, kan jy blinkertjies uitdeel om die prent mee te versier.  Of dalk eerder ’n “glitter pen” of twee, as jy wil hê die koster moet weer eendag met jou praat.

Preekriglyn

[Nota: Hierdie preekskets benut die groter verbande waarin die verheerliking op die berg afspeel. Dit word aanbeveel dat 9:1-13 liewer as teksindeling gebruik word.]

Dit was ‘n tyd van godsdienstige konflik aan die Kaap. Sendingwerk onder die Moslems is met weerstand uit Moslemgeledere begroet. Sendingwerk is gesien as ‘n gebrek aan respek vir die Islamgeloof en die aanhangers daarvan. Om Islam hierteen te verdedig, stig Ahmed Deedat in 1958 die bekende Islamic Propagation Centre aan die Suidkus van KwaZulu-Natal.

Nadat die Anglikaanse kerk ‘n negatiewe berig oor Islam publiseer, trek Deedat in Kaapstad groot skares met sy aanslag teen die Christelike geloof. Hy rig ‘n uitdaging dat die waarheid van Islam in die publiek gedebatteer moet word. Die Anglikane wys dit van die hand, maar ‘n sendeling uit NG Kerk-geledere, Dawie Pypers, neem die uitnodiging aan.

In Pypers se sendingbediening het Moslems hom toenemend gevra hoe hy kan bewys dat Jesus lewe. Pypers het dus besluit om tot ‘n openbare gesprek toe te tree. ‘n Ouderling van die NG Kerk het die koste betaal om die Groenpuntstadion te huur.

Vanweë die groot publisiteit het 30,000 mense die byeenkoms bygewoon. Deedat het eerste gepraat, met sy konfronterende styl. Hy het vertel hoe Jesus die kruis oorleef en na Egipte gegaan het waar Hy baie goeie werke as profeet verrig het. Dis ‘n leuen dat Jesus aan die kruis gesterf en begrawe is, en anderkant die dood opgestaan het. Hy het moeite gedoen om die Christelike geloof bespotlik te maak.

Pypers het gereageer met Skrifverwysings en geargumenteer dat Jesus inderdaad die Seun van God is wat mens geword het. Hy het egter ook besef dit is alles net woorde. Om die waarheid te demonstreer, sou Jesus Homself nou moes openbaar.

Gevolglik het Pypers verklaar dat Jesus lewe en in die stadion teenwoordig is. Jesus kon hier en nou die dinge doen wat Hy destyds tydens sy bediening in Israel gedoen het. Hy het gevra of daar iemand in die stadion is wat aan ‘n ongeneeslike siekte ly. “Onthou, dit moet ongeneeslik wees. En as jy bereid is om na die verhoog te kom, en my toe te laat om vir jou te bid, sal Jesus jou genees,” het hy gesê.

Wanneer mens vandag die verhaal hoor, klink Pypers vol bravade. Volgens oorvertelling het dit nie maklik gekom nie, en was hy werklik diep gespanne.

‘n Bykans verlamde vrou, in mediese stutte en met krukke, is na vore gebring. Pypers het gevra of daar enige dokters is wat die vrou kan ondersoek. Verskeie, insluitend die vrou se eie dokter, het haar toestand as ongeneeslik bevestig. Pypers, wat op hierdie stadium byna flou geword het van spanning, het na haar gestap, haar die hande opgelê en na ‘n kort gebed gesê: “In die Naam van Jesus, word genees.”

Die vrou het haar krukke neergesit, en begin beweeg. Sy het sommige van haar stutte afgehaal, en verder beweeg. Nadat mense met hul jasse ‘n muur om haar gevorm het, kon sy al haar stutte verwyder. Sy het op en af op die verhoog geloop. Sy was gesond. Die mediese dokters het haar genesing bevestig.

Die skare het mal gegaan, daar was uitroepe, applous en gelag. “Die oorwinning behoort aan die Here,” is gesê.

Pypers het die geneesde vrou ‘n paar dae later deur vyf dokters laat ondersoek, wat ook die genesing bevestig het.

Waar het Pypers die moed vandaan gekry om aan hierdie publieke konfrontasie deel te neem? Hy het hom vooraf lank in die Bolandse berge met God afgesonder. Daar, tydens sy bergtop-ervarings, het hy die moed ontvang om die skares in die Naam van die Here in die oë te kyk.

Die berg het Pypers voorberei vir die meule waarin sy geloof in die openbaar getoets is.

Op die berg

Ses dae na Jesus se lydingsaankondiging neem Jesus die binnekring van sy dissipels, Petrus, Jakobus en Johannes, teen ‘n hoë berg op waar hulle heeltemal alleen was. Sy voorkoms verander heeltemal, en sy klere word spierwit. Elia en Moses verskyn toe aan hulle, en staan en gesels met Jesus.

Die dissipels is verskrik. Petrus, so verskrik dat hy nie weet wat hy sê nie, wil drie hutte bou: een vir Jesus, een vir Moses, en een vir Elia.

Daar kom ‘n wolk wat sy skaduwee oor hulle laat val. Uit die wolk kom die stem van die Vader: “Dit is my geliefde Seun, luister na Hom.”

Meteens is hulle weer alleen. Daar is niemand by die dissipels nie, net Jesus.

Hierdie gebeure gee vir ons perspektief op wie Jesus is. Jesus is die Seun van God wat glinster van heerlikheid. Aan die begin van sy lydingspad, wat nou volg, word hy bekragtig vir sy taak. Sy dissipels word geleer om na Hom te luister.

Lydingsaankondiging

Markus vertel drie keer dat Jesus sy lyding, dood en opstanding aankondig. Die verheerliking op die berg volg direk op Jesus se eerste aankondiging van sy lyding en sterwe (8:31-38). In die gedeelte word Jesus se lyding en ons dissipelskap sterk op mekaar betrek. Jesus se dissipels moet weet dat wie Hom volg, sy / haar kruis moet opneem, want wie sy lewe vir Hom en die evangelie verloor, sal dit behou.

Vir Jesus is die bewussyn van sy lyding wat voorlê deel van sy roeping en identiteit. Dit kom tot uitdrukking in die wyse waarop Jesus volgens Markus deurgaans na Homself as die “Seun van die Mens” verwys. Ook in die eerste lydingsaankondiging gebruik Jesus hierdie titel:

Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly, dat Hy deur die familiehoofde en die priesterhoofde en die skrifgeleerdes verwerp moet word en doodgemaak moet word, en drie dae later moet opstaan. (Markus 8:31)

Petrus hou nie hiervan nie. Vir hom is Jesus die “Christus” (8:29). Hy neem Jesus opsy en berispe Hom oor sy lydingsaankondiging (8:32). Die titel “Christus” ken vir Petrus ’n soort statuur aan Jesus toe waarby lyding ondenkbaar is. Só sterk voel hy hieroor dat hy Jesus eenkant neem en reghelp.  Jesus se reaksie hierop is skerp afwysend en veroordelend. Petrus se reaksie is vir Hom niks anders as ’n sataniese teenkanting nie. Jesus wil nie Christus genoem word as dit lyding uitsluit nie.

Die benaming “Seun van die mens” is vir Markus met lyding verbind en die enigste benaming wat sonder kwalifikasie volgens hom ’n korrekte perspektief op Jesus se identiteit gee. Daarom is dit die titel in die lig waarvan alle ander titels vir Jesus verstaan moet word. Dit is opvallend dat Markus elke keer wanneer iemand ’n ander titel vir Jesus gebruik sonder om sy lydensweg in ag te neem, dit korrigeer met die titel “Seun van die mens”.

Die verheerliking op die berg, aan die begin van Jesus se lydingsweg, het alles te doen met die geweldige uitdaging wat voor Jesus lê. Jesus word voorberei vir die meule. So ook sy dissipels.

“Laat ons hutte bou”

Vir Petrus, en die Jode van sy tyd, was die gedagte aan ‘n lydende Messias totaal vreemd. Hy berispe Jesus nie alleen by sy eerste lydingsaankondiging nie. Wanneer hy Jesus se hemelse heerlikheid op die berg sien, wil hy dit vasvang deur drie hutte te bou. Petrus se behoefte is om in die heerlikheid te bly.

Petrus se optrede dui op die mislukking, onvermoë en onbeholpenheid van die dissipels om te verstaan waaroor dit regtig in Jesus se lewe gaan. Hy hou nie van lydingspraatjies nie. Wat hy hier op die berg beleef, maak hom diep gelukkig. Hy voel goed daaroor. Met só ’n blink en Goddelike Jesus op die berg, saam met Elia en Moses, wil hy graag bly. Dit motiveer sy voorstel om hutte te bou. “Hy wil direk die Sabbatsrus van die eindtyd ingaan: hemel op aarde, Galilea sonder Jerusalem” (Dirkie Smit).

Petrus se aanbod verwys waarskynlik na die loofhuttefees. Tydens hierdie Joodse fees is hutte gebou, en het die volk God se nuwe bedeling verwag. Petrus wil nou – in hierdie oomblikke van heerlikheid – die nuwe bedeling laat begin.

Ons teks wys hierdie verstaan en vashou van Jesus in ’n Goddelike en boaardse gestalte bo-op ’n bergtop af. Jesus se weg is die weg na die wêreld toe. Hy bring die hemel aarde toe – ten minste in die eerste plek. Die verheerliking op die berg wil sê: Jesus is onteenseglik God. Die kortstondigheid daarvan en wat daarna gebeur maak dit egter onmiskenbaar dat sy weg en gestalte dié is van lyding en selfontlediging.

Petrus sou later weer hiermee gekonfronteer word as Jesus met die skottel water voor hom sit om sy voete te was. Sy weiering is toe deur Jesus begroet met die volgende woorde: “As ek jou voete nie was nie, het jy geen deel aan my nie.” Die hoogte en dieptepunt van Markus se Jesusverhaal is immers die volkome ontlediging van Jesus aan die kruis. Daarom sou die kerk later juis oor sy selfopofferende vernedering sing as die uitstaande kenmerk van sy lewe (Fil 2:6-8).

Koningskap met krag

Die verheerliking op die berg moet ook verstaan word teen die agtergrond van Jesus se toekomsperspektief in 8:38 wanneer Hy praat van die Seun van die mens wat eendag sal kom saam met die heilige engele, beklee met dieselfde heerlikheid as sy Vader.

Daarby moet ons Jesus se woorde in 9:1 voeg:

Verder het Hy vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sal sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie.”

Hiermee (die koningskap van God wat met krag kom) verwys Jesus na die oorwinning waarop sy lyding en sterwe sal uitloop. Sy voorkeurterm wanneer Hy na sy lyding verwys, Seun van die mens, roep ook Daniël 7 in herinnering. Hier ontvang een soos die Seun van die mens in Daniël se visioen eer en heerlikheid by God ontvang (Daniël 7:13,14).

Met hierdie verwagting gaan die binnekring van Jesus se dissipels met Hom die berg op, waar sy heerlikheid duidelik blyk. Maar wanneer hulle die berg afkom, sê Jesus hulle moet niemand daarvan vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie. Later, wanneer die dissipels Hom uitvra, sê Jesus: “En hoe staan daar oor die Seun van die mens geskrywe? Hy moet baie ly en verag word” (12)

Die betekenis is duidelik. Die kragtige koms van die koninkryk kom deur lyding en dood, selfopoffering en selfontlediging. Elke poging wat die regering van God sonder diens en opoffering, sonder lyding en ontlediging wil vestig, verstaan nie die wyse waarop God se koningskap gevestig word nie. Die krag van God se koninkryk is die krag van selfverloëning en broosheid.

“Luister na Hom”

In vers 7 speel die wolk en die stem uit die wolk ’n belangrike rol. Dit het Ou-Testamentiese konnotasies. Dit herinner veral aan die eksodus uit Egipte en God se teenwoordigheid in die wolkkolom tydens Israel se woestynlewe. God se woorde uit die wolk roep Jesus se doop in herinnering. Weereens bevestig die woorde Jesus se identiteit as geliefde Seun van God, maar bevat ook die aanmoediging en opdrag aan die dissipels om na Hom te luister.

Die aanduiding van Jesus as Seun van God is ’n sentrale tema in Markus se Jesusverhaal. Die stem uit die wolk bevestig hierdie waarheid en dit sal uiteindelik deur die ongelowige Romeinse offisier aan die voet van Jesus se kruis vir die eerste en enigste keer deur ’n mens bely word.

Die tweede deel van die woorde uit die wolk vloei logies uit die eerste voort. Omdat Jesus die geliefde Seun van God is, moet die dissipels na Hom luister. Dit verwys na die Ou-Testamentiese belofte in Deuteronomium 18:15. Dit toon aan dat Jesus die profeet is wat in die plek van Moses belowe word, en sê: “Vir hom moet jy gehoorsaam” (Deut. 18:15).

Waarna moet die dissipels luister? Veral na Jesus se lydingsaankondiginge: luister na Hom en volg Hom nougeset op sy lydensweg! Kon God meer gedoen het om hierdie groepie dissipels tegemoet te kom om hulle te help om te weet wie Jesus is en wat hulle te doen staan? Kwalik!

Dan is die verheerliking verby. Die wolk en die stem en Elia en Moses is weg. Niemand anders is by die dissipels oor behalwe Jesus nie en Hy blink ook glad nie meer so skitterwit nie. Al wat oorbly is Hy wat deurgaans Homself die Seun van die mens noem, met die lyding wat vir Hom wag. Ook die lydenspad vir elkeen wat hom/haar sy dissipel noem, en met Hom identifiseer. Só gaan die seisoen van Epifanie oor in Lydenstyd: die tyd van aflegging (selfondersoek, skuldbelydenis, vas, berou, bekering, sterwe).

Swyggebod

Nog ’n kenmerk van Markus se vertelling is die sogenaamde swyggebod van Jesus. Die drie ingewydes wat so pas die verheerliking beleef het, word verbied om enigiets daarvan aan die ander dissipels te vertel. Eers na die opstanding uit die dood – weereens van die Seun van die mens – mag hulle daaroor praat.

Die Seun van die mens keer daarmee dat ernstige misverstand mag ontstaan oor die aard en betekenis van sy bediening. Sy lewe kan net terugskouend reg verstaan word vanuit sy kruisiging en opstanding. Wag vir die slottoneel voordat julle oor die verheerliking op die berg praat. Sonder die belewenis van Jesus se lyding, kruisdood en opstanding gaan hulle die belewenis op die berg verkeerd verstaan en oorvertel. Jesus wil dit verhoed.

Worsteling met lyding

Tot vandag toe sukkel ons om hierdie opdrag van die Vader te gehoorsaam. Vanjaar kan ons gerus erns maak met die pad wat Jesus wys, en groei in die kwaliteit van ons dienende dissipelskap.

In die geskiedenis van die kerk is daar dikwels eerder gekies vir mag en heerlikheid eerder as swakheid en lyding. Niemand van ons kan anders verwyt nie: ook in ons individuele lewens vir ons eerder voorspoed, erkenning en verheerliking, seën en vooruitgang beleef as lyding en opoffering. Daarom is ‘n voorspoed-evangelie wat goddelike beloftes van rykdom en welvaart veronderstel, so gewild.

Beteken dit dat Christene lyding moet verheerlik? Nee, lyding is nie opsigself heerlik nie. Wat dit wel beteken, is dat Christene die gawes wat God gee, in diens van ander moet gebruik. Ons word oorlaai deur God se goedheid, en ons word geroep om dit in diens van God, mekaar en mense daarbuite te gebruik. Die weg van Christus is ‘n wegkyk van die self, en ‘n gee van die self in diens van ander. Soos Jesus.

Ons word in Lydenstyd genooi om fyn na Jesus te kyk en goed na Hom te luister. ‘n Verbintenis aan Jesus, en die praktiese navolging van Jesus sal ons na plekke neem van opoffering. Dit is die normale weg van ‘n dissipel deur die lewe. Vir Dawie Pypers het dit na die Groenpuntstadion geneem waar hy in die Here se Naam moes waag. Vir ander neem dit na duisende dade en woorde van opoffering, liefde en diens.

Ons verbind ons aan Jesus, omdat ons weet Hy wys die ware weg aan. Hy is die Seun van God. Hy het die woorde wat lewe gee. Wie Jesus so volg, sal die kragtige openbaring van die koninkryk van God sien.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser” of
F246. “g Van Die Wêreld”

Seën

Respons
Lied 215 Refrein “Christus is dié Heer!”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.