Sondag van Christus die Koning

Sections

Oorsig

Inleiding

Die laaste Sondag van Koninkrykstyd is ook die einde van die kerklike jaar en staan bekend as Sondag van Christus die Koning. Dit is ook die oorgang na Adventstyd en herinner ons daaraan dat Christus die Koning ook die Here is wat weer in heerlikheid sal kom.

Die liturgiese kleure vir hierdie Sondag is wit en goud wat ook aangevul kan word met die koningsblou/pers van Advent. Simbole van koningskap soos ’n kroon en ’n septer kan die kanselkleed of banier in die aanbiddingsruimte versier. Dit is verkieslik om hierdie simbole met ’n kruismotief te kombineer om te verseker dat die viering nie te triomfantalisties verloop nie. Die fokusteks staan juis stil by Jesus as die gekruisigde Koning.

Indien die responsoriese gedeeltes om een of ander rede moeilik uitvoerbaar in ’n gemeente is, kan ’n tweede voorganger gebruik word om die response namens die gemeente te behartig.

Fokusteks

Lukas

Ander RCL tekste

Jeremia 23:1-6;
Lukas 1:68-79;
Kolossense 1:11-20.

Lukas 23:33-43
Jesus word gekruisig

(Matt 27:31–44; Mark 15:21–32; Joh 19:17–27)
26Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle ’n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.

27’n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. 28Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, 29want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit ’n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’

30“Dan sal hulle vir die berge sê:
Val op ons!’
en vir die heuwels:
‘Bedek ons!’

31As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?”
32Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.

33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Hulle het sy klere verdeel deur te loot.

35Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”

36Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied 37en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”

38Daar was ook ’n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.”

39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”

40Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Eksegeties en hermeneuties

Die kruisopskrif “Dit is die koning van die Jode” (23:38) dui daarop dat Jesus aan ’n crux immissa (Latynse kruis): † gely en gesterf het. (Die ander kruisvorme in die antieke wêreld was: die crux decussate (Andreaskruis): χ, en crux commissa (Antoniuskruis): Τ.) Dit was die gebruik om die hoofinhoud  van die vonnis op ’n bordjie aan te bring wat aan die kruis vasgespyker is (sien Mulder se bespreking).

Lukas berig dat die Joodse leiers Jesus na Pilatus, die Romeinse goewerneur, neem om verder verhoor te word. Jesus word van drie dinge aangekla (23:2): Jesus mislei die volk deur aanhitsing; Jesus belet die volk om belasting te betaal; en Jesus beweer dat Hy wel die koning van die Jode is.

Die Joodse leiers was uitgeslape deur hul godsdienstige aanklag na ’n politieke aanklag om te swaai. (Dis vandag steeds nie vreemd om godsdienstige vooroordele polities in te kleur, of andersom nie.) Hulle het Jesus as ’n bedreiging vir die Romeinse gesag voorgehou om hulle sin te kry. Pilatus vra Jesus toe: “Is jy die koning van die Jode?” Waarop Jesus antwoord: “Dis soos u sê” (v 3). Die evangelis Johannes skryf dat Jesus antwoord: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie . . .” En na Pilatus die tweede keer vra, antwoord Jesus: “Dit is soos u sê: Ek is ’n koning” (Joh 18:36).

Pilatus was oortuig dat Jesus nie ’n bedreiging vir die keiser is nie; dat Jesus nie van plan was om teen die mag van die Romeinse ryk in opstand te kom nie. Daarom verklaar hy Jesus ’n paar keer onskuldig. Maar hy gee tog later in. Barclay reken hy is deur die Joodse leiers afgepers. Sy pos kon in die gedrang kom. Die massaprotes was dalk ook net sterk genoeg om hom verbouereerd te maak.

Pilatus straf die Joodse fanatici wanneer hy teen hulle sin bepaal die kruisopskrif moet lees “Dit is die koning van die Jode” (vgl Joh 19:21; Mulder). Dié aanwysende voornaamwoord word slegs by Lukas gebruik (Liefeld). Pilatus het die laaste sê. So word die koningstitel gehandhaaf, nie as ’n pretensie van Jesus nie, maar as amptelike proklamasie van Pilatus (Vos). Die kruis-opskrif was volgens Johannes in Hebreeus, Grieks en Latyn. Dit was vir almal, die hele wêreld, om te lees en te verstaan.

Die kruisopskrif word gekenmerk deur ironie: Koning Jesus hang magteloos aan die kruis vasgespyker terwyl die soldate sy laaste stuk waardigheid van Hom afskeur en sy klere verdeel, so asof hulle ’n koning “ontmantel”. Jesus word deur die Joodse leiers en die soldate verneder, verag, uitgelag en bespot. “Hy word van alles ontneem, die aarde verwerp Hom en die hemel neem Hom nie aan nie” (Greijdanus). Die soldate daag Jesus uit: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.” Lukas verwys in die volgende vers na die kruisopskrif: “Dit is die koning van die Jode” (23:37-38). Dit was asof die opskrif die soldate juis op die gedagte gebring het om Jesus uit te daag.

Jesus is tussen twee misdadigers gekruisig, die een aan sy linkerkant, en die ander een aan sy regterkant. Dit impliseer dat Jesus in die middel as die grootste misdadiger gereken was. Maar hy word van geen misdaad aangekla nie (v 38) (Greijdanus). Jakobus en Johannes se versoek aan Jesus (Mark 10:35-45) dat wanneer Hy as koning heers, hulle links en regs van Hom wil sit, herinner aan die misdadigers wat weerskante  van Jesus aan die kruis hang. Die broers vra vir ’n ereplek in die koninkryk van God. “Omdat hulle die (toekomstige) lyding en kruisgebeure van Christus glad nie verstaan het nie, kon hulle dit waag om hierdie selfsugtige, selfvererende versoek tot Jesus te rig” (Jones, 2000). Die een sterwende misdadiger langs Jesus het onder die indruk van Jesus se koningskap gekom en Hom op sy kruisweg gevolg.

Dis merkwaardig dat dié misdadiger Jesus se koningskap kon begryp. Na alles wat gebeur het, het Jesus se dissipels nog nie verstaan nie, want hulle het ’n politieke Messias verwag. König skryf in Die helfte is my nooit oor Jesus vertel nie. ’n Nuwe kyk op die een wat jou lewe verander: “Die fout wat mense soos ons egter maak, is om hierdie politieke Messiasbegrip af te maak as ’n verkeerde verwagting, terwyl dit die siening van die Ou Testament is.” König behandel in hoofstuk 4 “Die koning wat incognito wou bly”, die titel Messias (= Christus, Gesalfde, Koning, Seun van Dawid), Dienaar en Seun van God. König verduidelik na aanleiding van Jesus se doop die buitengewone betekenis van die Messias, die koning van Israel. Dit is heeltemal anders as die Ou-Testamentiese verwagting en hoe Jesus se tydgenote hulle die Messias voorgestel het. Met Jesus se doop vereenselwig Hy Hom met sondaars. Omdat Hy dit doen, daal die Gees op Hom neer (om Hom juis hiervoor te salf) en kom die stem uit die Hemel: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug ek my” (Luk 3:21-22). “Dit is my geliefde Seun” kom uit Psalm 2:7. Hier word ’n nuwe koning gekroon en met groot mag beklee, en word hy “die seun van God” genoem. “Oor Hom verheug Ek my,” kry ons in Jesaja 42:1. Hier ontvang die lydende dienaar van die Here, wat verwerp sal word, die belofte dat die Gees oor Hom sal kom. Die twee aanhalings verbind dus die Messiaskoning met die lydende dienaar. Jesus is die koning wat nie in heerlikheid kom en die volk met mag van sy vyande bevry nie, maar die Koning wat as Dienaar kom om te dien en te ly. Jesus gee ’n ander betekenis aan koningskap. Hy oorweldig nie met mag nie, maar oorwin met liefde en deernis.

Dis aangrypend dat die sterwende misdadiger se geloof in Jesus hom gered het. Hy ontvang ’n Verlosser. Jesus verseker hom: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” “Die paradys dui op ’n plek waar God is, waar daar geen sonde of die merke van die sonde (lyding, eensaamheid, haat) is nie . . .” (Lategan). Jesus neem hom onder sy beskerming en bied hom vaste veiligheid en ewige heil, en dit nie eendag nie, maar op dié dag (Mulder). Jesus begin sy ryk met sy eerste werklike onderdaan; ’n moordenaar (Janson).

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied
Lied 176 “Halleluja! U is Koning”
Lied 168 “Heilige Jesus”
Lied 264 “Hoe heerlik is die Jesusnaam”

Aanvangswoord: Lukas 1:68-70

Seëngroet 

Loflied
Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer”
Lied 177  “Jesus, groot bo almal”

Aankondiging van die Koningskap van Christus
Voorganger:
Kyk, die Koning kom. Halleluja!
Gemeente: Laat ons neerbuig en Hom dien. Halleluja!

Voorganger: Juig en wees bly, want Christus is jou Koning.
Gemeente: Aan Hom behoort die eer en die heerlikheid en die aanbidding.

Voorganger: Lofwaardig is U, Here, Koning van die konings, want U het ons van sonde en die dood verlos.
Gemeente: Deur u bloed het U mense deel gemaak van u koninkryk.

Voorganger: Daarom het God Hom tot die hoogste eer verhef,
Gemeente: Hom die Naam gegee wat bo elke naam is

Voorganger: sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig
Gemeente: en elke tong sal erken: Jesus Christus is Here!

Voorganger: Kyk, die Koning kom. Halleluja!

Aanbidding
Lied  215 “Besing die lof van Jesus saam”
Lied 384 “Jesus, o dink aan my”

Liedere

F52. “Laat Almal Weet”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Diens / Getuienis)
Teks en Musiek: Deon Roberts
© 2000  MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Laat almal weet dat Jesus waarlik liefde is.
Laat almal weet dat Jesus die Koning is.

Ons kan so gou vergeet dat daar ‘n God is wat van alles weet,
Wat almal elke dag van liefde leer, sy vrede gee,
die wêreld in sy hande hou
En soms vergeet ons weer
dat ons ‘n ander van ons God moet leer,
sy wonderliefde wat geen grense ken en harte vir Hom wen.

God praat met ons en ons luister

Tema:  Aanskou die Koning

Familie-oomblik

Jesus regeer met ’n kruis, nie met ’n swaard nie.

Gebruik ’n swaard wat ’n redelike lang dwarsstuk het, sodat as jy dit met die lem-kant na onder op hou, dit soos ’n kruis kan lyk.

Vertel dan in jou eie woorde die storie van Jesus se kruisiging en maak die punt dat Jesus die swaard kon gebruik het om mense te straf.  Maar Hy doen nie dit nie, verduur die lyding van die kruis, sodat Hy vir almal wat in Hom glo, die lewe kan gee.  Selfs die een moordenaar aan die kruis, wat ook met die swaard gelewe het, kan saam met Jesus in die Paradys wees, omdat Jesus hier aan hom genade bewys.  Dit beteken dat Jesus bereid is om te ly sodat ander kan lewe.  Ons moet ook bereid wees om, soos Hy, genade aan ander te bewys.

Preekriglyn

“Ek kan ook doen wat daardie een moordenaar gedoen het, want ek is net soos hy,” sê die jong seun vir Marelise Bekker, jeugwerker in die Oos-Kaapse dorp Queenstown.  “Ek kan ook na Jesus draai.”

Marelise vertel hoe sy geworstel het om met die boodskap van die kruis na die jongmense van ’n nywerheidskool op Queenstown deur te breek.  Die meeste van hierdie jongmense het reeds ’n misdaad­geskiedenis.  Hulle is sinies oor die lewe, wantrou mense, meen jy moet maar uit die lewe haal wat die beste is vir jou, al is dit met geweld en ten koste van ander.  Op aarde lei ons ’n dog eat dog life waar die sterkste oorwin, al is dit met brutale geweld.

Vir hierdie jongmense is Jesus eintlik te goed om waar te wees.  Hoe rym Jesus boodskap se boodskap met ’n wêreld van misdaad, dwelms, geweld, seks waarin jy voortdurend uit die hede haal wat jy nodig het – sonder om jou hoegenaamd aan ander te steur?

In hierdie wêreld trek die daad van die veroordeelde misdadiger aan die kruis die aandag.  Wanneer hy Jesus onskuldig die wreedste dood denkbaar sien sterf, gebeur iets in homself.  Na so ’n Here kan hy met sy lewe en sy misdaadgeskiedenis draai: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

Die moordenaar aan die kruis het Jesus vir die Queenstownse seun ontsluit.  “Soos die moordenaar kan ek ook na Jesus draai.”  Deur die misdadiger se oë kon hy die Koning aan die kruis sien, liefkry en vertrou.  Marelise vertel hoedat sy daarna die kruisverhaal uit die misdadiger se perspektief begin oordra het, en hoe talle jongmense op grond daarvan hul vertroue in Jesus kon stel.  Hulle kon Jesus só sien vir wie Hy is.

Kyk sonder om regtig te sien?

Die kruisigingsverhaal is vol mense wat na Jesus kyk sonder om Hom werklik te sien vir wie Hy is.

Een: Die Jode sien ’n uitklophou
Die volk staan en kyk na die gekruisigde Jesus saam met hulle raadslede (vers 35).  Hulle lag Jesus uit, bespot Hom en daag Hom uit: “Ander het Hy gered, as Hy deur God uitverkies is, laat Hy Homself dan red.”  Hulle hoonlag is die selftevrede lag van mense wat ’n moeilikheidmaker aan die pen laat ry het.  Jesus het hulle uitgedaag, maar met hulle geslepenheid het hulle Hom uitoorlê.

Die kern van hul probleem was dat Jesus Homself as die Seun van God bestempel het.  Hulle het die klag voor Pilatus egter polities ingekleur.  Jesus word as ’n bedreiging vir die Romeinse gesag uitgebeeld, omdat Hy Homself as ‘n koning sien.  Pilatus is oortuig dat Jesus nie ’n bedreiging vir Rome is nie, maar die Jode dreig hom af.  Hulle kan met ’n opstand en politieke onrus begin, wat maklik oor die paastyd in Jerusalem sal losbars.  Dan is Pilatus in die warm water by die keiser en sal sy kop rol.  Pilatus word gedwing om ’n onskuldige te martel en na sy dood te stuur om sy eie bas te red.

Die Jode sien ’n politieke en godsdienstige spel waarin hulle die opponent uitoorlê het.   Die uitklophou is geplant.

Twee:  Pilatus sien weerwraak en ironie
Pilatus was duidelik oortuig dat Jesus nie ’n bedreiging vir die keiser is nie.  Hy oordeel dat Jesus nie van plan was om teen die mag van die Romeinse Ryk in opstand te kom nie.  Die Joodse leiers uitoorlê hom in die politieke spel om van Jesus ontslae te raak.  Tydens die paasfees is daar baie Jode van buite Jerusalem in die stad.  Die atmosfeer is polities gespanne en opstand of geweld breek maklik uit.  Dit kan Pilatus nie bekostig nie.  Daarom word hy geforseer om Jesus uit te lewer.

Pilatus se soete weerwraak is om te bepaal dat die kruisopskrif moet lees: “Dit is die Koning van die Jode.”  Daarmee verneder hy die Jode, maar kondig terselfdertyd Jesus se koningskap in die publiek aan.  Volgens Johannes was die kruisopskrif in Hebreeus, Grieks en Latyn.  Dit was vir almal, vir die hel wêreld, om te lees en te verstaan.

Ironies en profeties: Jesus hang ontmagtig en gestroop aan die kruis.  Maar so word sy koningskap bevestig.  Sy kruis is die plek waar Hy die oorwinning behaal.

Drie:  Die soldate sien buit en bespotting
Die kruisopskrif bring die soldate op die gedagte om Jesus te bespot.  Hulle daag hom uit: “As jy die Koning van die Jode is, red jouself!” Hulle stroop sy laaste stuk waardigheid van hom af en verdeel sy klere.  Hy word verneder, verag, uitgelag en bespot.

Vier: Die eerste misdadiger spot saam
Aan die hand van die Joodse leiers, Pilatus en die soldate word Jesus in sy diepste mens-wees verkrag.  Die Nederlandse teoloog Greijdanus merk op: “Hy word van alles ontneem, die aarde verwerp Hom en die hemel neem Hom nie aan nie.”

Die eerste misdadiger laster saam: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”  Selfs in sy laaste ure sien hy in sy Buurman geen hoop nie, bloot ’n gestroopte, veragte, bespotte, mislukte “koning”.

Vyf: Die tweede misdadiger sien ’n Verlosser
Die tweede misdadiger kyk en sien Jesus vir wie Hy werklik is: die Koning, die Verlosser.  Die eenvoudigste versoek, “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom,” dui op sy vertroue in Jesus, sy karige geloof.  Jesus verseker hom: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”  Paradys verwys hier na ’n plek waar God is, waar daar geen sonde of die merke van die sonde (lyding, eensaamheid, haat) is nie. Jesus neem hom onder sy beskerming en bied hom vaste veiligheid en ewige heil, en dit nie eendag nie, maar op dié dag. Jesus begin sy ryk met sy eerste werklike onderdaan; ’n moordenaar.

Kyk is nog nie sien nie

Verskeie mense en groepe kyk na Jesus aan die kruis.  Net een, die misdadiger, sien ’n Verlosser.

Moderne mense gee hoog op oor wat werklik is.  Ons wil realisties wees, en ons lewe op feite bou.  Die hoogste realiteit is inderdaad die lewende God se betrokkenheid by God se wêreld, en die pad wat Jesus deur die kruis en die leë graf na gemeenskap met God en God se mense oopgebreek het.

Hoe kry ’n mens dit reg om in die veiligheidsnet van hierdie feitelike werklikheid te val en getroos te lewe en te sterwe – soos die tweede misdadiger aan die kruis?

Dit gebeur net wanneer mens Jesus ernstig neem.  Hy is die Seun van God wat op hierdie aarde aangekom het, as ’n mens gebore is, vir ons gelewe, en namens ons gesterf en opgestaan het.

Ons glo nie aan ’n ideaal, of kosbare leringe nie.  Ons plaas ons vertroue in die betroubare getuienis oor die historiese Jesus.  Die feit van sy geboorte, die feit van sy sterwe en die feit van die leë graf is die rasionele bron van die oortuiging wat die Gees in ons skep, naamlik dat Jesus die Here is.

Op grond van hierdie feite moet ons weer hoor wat die jong, misdadige seun vir Marelise Bekker gesê het: “Ek kan doen wat daardie een moordenaar gedoen het, ek kan na Jesus draai.”

Hierdie gedeelte nooi ons uit om Jesus as Koning te sien en na Hom te draai.  Daar is ’n paar kante aan die uitnodiging: die teks…

– Nooi ons om die Koning se hart te sien
Dit is merkwaardig dat die lydende Jesus nog die krag het om deernis met die moordenaar aan sy sy te hê.  Sy sintuie en sy mens-wees word nié volledig in beslag geneem deur sy moegheid na ’n slapelose nag, die marteling en pyn, die verwerping, bespotting en blootstelling aan die elemente nie. Hy reageer sowaar nog op die woorde van die arme, sterwende uitvaagsel aan sy sy.

Ja, Hy reageer op die misdadiger se woorde.

Daarmee span Jesus se opemerking die kroon op ’n lewe van omgee, op talle uitreike na armes, ellendiges, verdruktes, veroordeeldes en magteloses.  Hy het inderdaad gekom om die genadejaar van die Here aan te kondig vir blindes, lammes, gevangenes en sterwendes (Lukas 4).  Tot in sy sterwensoomblikke bly Hy getrou aan sy roeping.

Vir almal wat oë het om te kyk, is presies hierdie feite dit wat Jesus so aantreklik maak.

Wanneer ons die hoonlag en bespotting by die kruis hoor, moet ons bid: “Here, Koning, verander ons om te wees soos U en te reageer soos U.”

– Nooi ons om die nood rondom ons te sien
Ons teks open ons geestesoë om ’n slag weer die kruistoneel te sien en ons Koning te aanskou.

Maar die teks doen veel meer.  Die teks gee vir ons ’n bril aan waarmee ons skerp kan fokus op ons eie omstandighede en die wêreld waarin ons leef.  Waar is daar vandag uitbuiting, ellende, bespotting, geringskatting van menselewens?  Waar sien ons vandag brutaliteit, politiekery, roof en prosesse wat mense van lewensmiddele stroop?  Waar word die armes verdruk, die regverdiges gekruisig, waar misbruik die magtiges hulle mag om die regverdiges aan die pen te laat ry?

Wat verwag die Koning in sulke omstandighede van ons?  Wat is die prys wat ons moet betaal om die vaandel op te neem vir geregtigheid en gehoorsaam aan God – soos Jesus gedoen het?

– Nooi ons om die Here se koningskap met ons lewe uit te lê vir ander
Jesus het sy boodskap beliggaam.  Hy het sy lering gedoen.  Hy was getrou aan God en dit het Hom sy lewe gekos.

Op die ou end is dit nie ons woorde, ons vermaning en ons moraliteit wat die deurslag gee nie.  Dit is veral ons lewenswyse wat ander help om Jesus raak te sien.

Ons moet ons lyf op die spel plaas.  Ons moet die Koning navolg en nadoen.  Lesslie Newbigin sê dat die lewe van die gemeente die uitlegger van die evangelie vir ander is.  Wanneer ander na ons kyk, moet hulle die evangelie in aksie sien.

Marelise Bekker en haar span doen dit deur uit te reik na misdadige jongmense, hulle te bevriend, liefdesbande te doen, saam met hulle te speel en oor Jesus te praat.  Hulle beliggaam Jesus se deernis met misdadigers.  En die vrug op hulle liefde bly nie uit nie.

Daar is duisende dade van gehoorsaamheid aan Jesus moontlik.  Daar is miljoene kontekste en ’n duisternis omstandighede waarin ons die liefde en deernis van die Here kan beliggaam.

Mag ons die Koning aan die kruis vandag so helder sien, dat ons nie anders kan as om ’n Christus vir die mense rondom ons te word nie.

God stuur ons om te leef

Slotsang

Lied 223 “Aan Jesus, Koning, al die eer”
Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors”;
Lied 175 “Majesteit”

Seën 

Sang
Lied 315 “Amen” (gesing deur die gemeente)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.