Sondag na Kersfees

Sections

Oorsig

Sleutelteks

Galasiërs 4:4-7
Slawe en seuns
21Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God?

Beslis nie! As ’n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou ’n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. 22Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

4 Hierby wil ek nog dít sê: Solank ’n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van ’n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom. 2Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer.

3En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls.

4Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. 6En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! 7Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

Ander tekste

Jesaja 61:10-62:3
10Ek is baie bly oor die Here,
ek juig oor my God,
want Hy het my gered,
vir my oorwinnaarsklere aangetrek.
Ek is soos ’n bruidegom
met ’n priesterkroon op,
soos ’n bruid met haar juwele aan.
11Soos die grond plante laat uitspruit,
soos die plante in ’n tuin vrugte gee,
so gee die Here my God die oorwinning
en laat Hy al die nasies luister
na die loflied tot sy eer.

Die Here het jou lief
62 Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie,
ter wille van Jerusalem
sal ek nie stilbly nie
totdat daar vir hom redding
deurgebreek het soos ’n nuwe dag,
soos die lig van ’n brandende fakkel.
2Die nasies sal sien dat jy gered is,
Jerusalem,
al die konings sal sien dat jy mag het.
Jy sal ’n nuwe naam kry,
’n naam wat die Here self
vir jou gekies het.
3Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon
in sy hand hou,
jou God sal jou
soos ’n koninklike tulband vashou.

Psalm 148
Sy Naam alleen is hoog verhewe
148 Prys die Here!
Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
2Prys Hom, alle engele,
prys Hom, alle hemelwesens!
3Prys Hom, son en maan,
prys Hom, alle sterre!
4Prys Hom, hoogste hemele,
en waters in die hoë hemelruim!
5Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want Hy het beveel
en hulle is geskep;
6Hy het hulle vir altyd
hulle vaste plek gegee,
vir hulle ’n orde neergelê
waarbuite hulle nie kan
beweeg nie.
7Prys die Here van die aarde af,
seediere en al die oseane,
8weerlig en hael, sneeu en miswolke,
stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
9berge, al die heuwels,
vrugtebome, al die seders,
10wilde diere, al die vee,
al wat kruip of vlieg,
11konings van die aarde, alle volke,
vorste, alle regeerders van die aarde,
12jong manne en meisies,
grysaards saam met seuns!
13Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want sý Naam alleen is hoog verhewe,
sy majesteit strek oor die aarde
en oor die hemel.
14Hy het aan sy volk mag gegee.
Dit is die roem
van al sy troue dienaars,
die Israeliete,
die volk naby wie Hy is.
Prys die Here!

Lukas 2:22-40
Besnydenis, afsondering, reiniging
21Ag dae later, toe dit tyd was om die Kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is.

22Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. 23In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.” a24Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.” b

Simeon en Anna by die tempel
25Daar het destyds ’n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon 26en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. 27Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, 28het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê:
29“Here, laat u dienaar nou
in vrede gaan volgens u woord,
30omdat my oë u verlossing
gesien het
31wat U gereed gemaak het
voor die oë van al die volke:
32’n lig tot verligting van die nasies
en tot eer van u volk Israel.”
33Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is.

34Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word. 35So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan.”

36Daar was ook ’n profetes, Anna, ’n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood 37het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. 38Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.

39Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret. 40Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

Inleiding
Albei tekste uit die Nuwe Testament het te doen met die wet en die werking van die Gees. Die Lukasteks handel onder andere oor hoe Jesus binne die konteks van wetsgehoorsaamheid gebore is en Simeon sy  missio van verlossing vir alle volke en nasies (30-32) besing, maar ook profeties sy lydenspad aandui. Die Galasiërteks wys hoe Jesus se verlossing die wet vervul en vernuwe het. Die psalmteks is ’n lofpsalm tot God en die Jesajateks loof die Here vir die nuwe na-ballingskapse hoop wat God vir Jerusalem gebring het.

Galasiërs 3:1-4:20 – dié wat glo, is kinders van Abraham
Met die preek aan Petrus (2:14) en die boodskap van SolusChristus in 2:15-21 as vertrekpunt, struktureer Paulus nou op vernuftige wyse sy praktiese lering aan hulle in drie siklusse in die res van die brief.  Hy gesels agtereenvolgens oor:

  1. die vryspraak wat God gee deur geloof ipv deur die wet (3:1-4:20);
  2. die verbondsgemeenskap wat God sluit op grond van die vashou aan sy belofte (Sara) ipv op grond van die gehoorsaamheid aan die wet (Hagar) (4:21-5:12);
  3. die vryheid van ’n  lewe beheer deur die Gees ipv  deur sondige begeertes (5:13-6:17).  Telkens leer hy hulle met  ‘n begronding,  ‘n toepassing en ’n appèl:
Begronding Toepassing Appèl
VRYSPRAAK 3:1-4:7 –in geloof ipv die wet  4:8-11 – wil julle weer slawe wees van die wet? 4:12-20 – ons het die pad tog saam geloop!
VERBONDSGEMEENSKAP 4:21-27 – in die belofte (Sara) ipv die wet (Hagar) 4:28-5:1 – julle is kinders van God kragtens die belofte 5:2-12 – julle moenie die band met Christus verbreek nie!
VRYHEID 5:13-24 – deur die Gees ipv die sondige natuur 5:25-6:10 – laat die Gees julle gedrag bepaal 6:11-17 – julle is nuwe mense!

Vryspraak deur geloof – 3:1-20
Paulus begin met ’n skoot sarkasme om die Galasiërs te ruk uit hulle onbegrip.  God se werk in hulle het ’n werklikheid geword deur die geloof en die krag van die Heilige Gees, nie deur die wet of hulle eie krag nie.

Paulus verduidelik dit met ’n verwysing na Abraham en die betekenis wat dit vir die gelowiges uit die heidennasies het om te glo soos Abraham (3:6-9), in dieselfde seën  as Abraham te deel (3:14) en sy nakomelinge te wees.

Dit doen hy om twee redes.
1. Omdat God se beloftes aan Abraham gemaak is en deur hom in geloof aanvaar is.  Die vryspraak is daarom ’n geloofswerklikheid.  Elkeen wat glo soos Abraham deel in die belofte en die verbond aan Abraham (3:9,16).
2. Omdat sy teenstanders – heel moontlik op grond van Gen 17:13 – daarteenoor geleer het dat dit nie net om die geloof gaan nie, maar ook en veral oor die besnydenis; dat die besnydenis ’n “blywende verbond” is wat ook deur die heidene nagekom moet word.

Daarom haal Paulus in 3:6 ook uit Genesis aan, maar uit hoofstuk 15:6, waar Abraham se geloof vóór sy besnydenis aangehaal word.  Die gebeurtenis gaan na sy mening die verhaal van hoofstuk 17 oor die besnydenis vooraf en is daarom van meer deurslaggewende betekenis!  Hy sou later in Romeine 4:13 vv verder hieroor skrywe.

Paulus beklemtoon dus dat geloof ’n belangriker respons is as die nakoming van die besnydenis, geïllustreer in die lewe van Abraham.   “dié wat glo, (is) kinders van Abraham” (3:6).  Dit geld ook die wet wat ook eers na die Uittog uit Egipte aan die volk gegee is, meer as 400 jaar later (3:17).

Boonop was dit bedoel as ’n tydelike maatreël (3:19) totdat dié nakomeling, Christus, die vryspraak van die vloek van die wet sou bring, en almal dit deur die geloof kon ontvang. Om die waarheid te sê: “die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.” (3:22).  Solus Christus, en Sola fide.

Vir die gelowiges uit die Joodse volk was dit natuurlik geen klein saak nie, want hulle identiteit as die Godsvolk was letterlik op die spel, in terme van die unieke kenmerke wat hulle gemeenskapslewe gekenmerk het: die besnydenis, die reinheidswette veral rondom hulle dieet, en die nakoming van feeste veral die Sabbat.

Paulus weet egter dat sulke argumente die dood in die pot is vir geloof in God onder die heidennasies.  As jy eers ’n Jood moet word voor jy regtig ’n Christen kan wees, word die sentrale betekenis van die Christus-evangelie versaak en word nie net ’n kulturele kenmerk ’n voorwaarde vir geloof  gemaak nie, maar word wetsgehoorsaamheid beklemtoon bo die genade wat deur die geloof werk.

En dit kan nie.  Dit rand die betekenis van die vryheid wat Christus gebring het van die wet in sy wese aan.  En dit maak van die Christelike geloof ’n eksklusiewe Joodse beweging wat nie universele impak kan hê nie, omdat dit nie die heidennasies kan insluit nie.  Gelukkig dat Paulus se interpretasie van die evangelie die deurslag gegee het.  Anders het ons, almal vanuit heidennasies, Christus nie vandag geken nie!

In Christus Jesus is julle almal één – 3:21-4:7
Die praktiese implikasie hiervan is geweldig.
Dit is nie meer die besnydenis wat die onderskeidende teken van die Godsvolk is nie.  Daardie rol word nou deur geloof vervul.  Elkeen wat glo, behoort aan Christus en is daarom nakomelinge (let op hoe Paulus regdeur die gedeelte wissel tussen die enkelvoud en die meervoud, afhangende of hy oor Christus of oor die gelowiges wil praat) van Abraham en deel van die verbondsbeloftes van God.

Dit beteken ook dat in Christus is almal één (3:28).  Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie.  In Christus Jesus is almal nou één.  Die oomblik as jy in die vryspraak deur die geloof gedeel het, is jy ook deel van elke ander mens wat in die vryspraak van die geloof gedeel het.  En daar is geen onderskeid nie.  Ras of etnisiteit of taal of sosiale status of geslagtelikheid of gender is nie meer bepalende elemente in ons Christelike identiteit nie, net die geloof in Christus Jesus.  ’n Mens kan dit nie sterk genoeg sê nie: In Christus Jesus is almal één!

Paulus pas dit nog verder toe in 4:1-7 om te keer dat hulle weer slawe van die wettiese reëls sou word, omdat hulle immers nou vry mense is.

Onthou die vreugde van ons gesamentlike geloof – 4:8-20
Dan gaan hy aan om ’n appèl tot hulle te rig in 4:8-20 op die basis van hulle gedeelde pad.  Dit is deur die bediening van Paulus dat die Galasiërs God leer ken het – “of liewer, noudat Hy julle ken”! (4:9) – en hy vrees dat sy harde werk verniet sou kon wees.

Daarom smeek hy hulle om nie van die (sy) evangelie afvallig te raak nie; om terug te dink aan hoe hulle die evangelie die eerste keer ontvang het; om sy insette, al was hy siek, te onthou; om die vreugde te herroep van hulle eerste bewussyn van Christus, waarin hulle Paulus ervaar het “asof ek Christus Jesus self was”.  “Daardie mense” moet hulle dus nie van hulle eerste vreugde ontroof nie.  Daarvoor pleit Paulus (’n mens hoor hierin die soortgelyke oproep van Johannes aan die gemeente van Efese in Openbaring 2:1-7).

Liturgie

Aanvangslied: Lied 335 “Die Heiland is gebôre vs 1,2”

Aanvangswoord: (Psalm 148)

Seëngroet 

Lofsang: Lied 340 “Kom ons loof die Jesus kind vs 1,2,3”

Verootmoediging
Litanie

Lied 367i

Aangrypende gedig

Geloofsbelydenis: ahv Kolossense 1

Epiklese

Gebed: (Ahv Ps 104)

Skriflesing: Galasiërs 4:4-7

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 355 “Al was ek nie daar nie vs 1,2”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
VONKK 38  (Melodie Lied 582)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 335 “Die Heiland is gebôre vs 1,2”

Aanvangswoord 
Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
2Prys Hom, alle engele,
prys Hom, alle hemelwesens!
3Prys Hom, son en maan,
prys Hom, alle sterre!
4Prys Hom, hoogste hemele,
en waters in die hoë hemelruim!
5Laat hulle die Naam van die Here
prys… (Psalm 148)

Seëngroet 
Liewe gemeente, genade en vrede van God de Vader wat op die eerste dag gesê het:  “Laat daar lig wees.”
Genade en vrede van Jesus die Seun wat as Lig mens op aarde geword het.
En genade en vrede van die Heilige Gees wat ook ons hart en verstand verlig.
Amen
(Uit:  Wepener, Cas 2011.  Soos ’n Blom na die Son Draai.  Bybel-Media, Wellington.)

Lofsang: Lied 340 “Kom ons loof die Jesus kind vs 1,2,3”

Verootmoediging

Litanie
Voorganger: Laat ons tot die Here bid
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons op grond van die geheimenis van die Woord wat mens geword het, tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons op grond van die nederige geboorte van die Koning van lig in die stal van Betlehem, tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons op grond van die heerlike verskyning van die Koning van heerlikheid aan die herders en sterrekykers tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons tot die Here bid vir die vrede en verlossing wat sy geboorte bring.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons tot die Here bid vir eenheid onder alle mense in wie hy ’n welbehae het.
G: Sing Lied 247 Heer, wees ons genadig of
Flam 69 “Was My Skoon” of
VONKK 11 ‘Here, Wees Ons Genadig”
V:  Help ons, red ons, troos ons, bewaar ons, Woord wat mens geword en onder ons kom woon het.
G:  Amen
(Uit:  2010 Handleiding vir die Erediens.  Bybel-Media, Wellington)

Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Aangrypende gedig
‘n Jong moeder tot die dood toe moeg
op die rug van ‘n donkie
soekend na ‘n herberg
haar lyf seer en geboe
so smekend haar oe
“My tyd is so naby.’

Teer buig sy oor die kindjie
Met trane druppend van liefde
Streel sy saggies oor die sagte hofie,

Daar, waar die doringkroon
ongenadig
Sy bloed laat drup soos trane

Die dag breek oor die horison,
sy besoekers bring vir hom geskenke
Goud en wierook en mirre.

Op Golgota sou Hy
net asyn gemeng met gal kry…

Dan neem sy die ou kleine handjies
Tel die vingertjies een vir een
Soen die klein pienk voetsooltjie

Daar vasgespyker aan die kruishout
Deur die palm
Van Sy hand
Hang Hy
Sy voete oorkruis
En met
‘n enkel spyker deurboor.

Sy soen saggies die holtetjie in die rug
En tel die fris klein beentjies in die lug
Haar seun
Met bebloede rug en bene wat wankel
Sleep HY SY KRUIS
NA GOLGOTA
En by Hom op die grond sit sy
Sy moeder

Op kersdag as u Sy geboortedag vier,
Dink ook aan Hom in sy laaste
sterwensuur,
Aan sy moeder wat dit alles moes aanskou,
En onthou – HY HET GESTERF – net vir My en Jou!

Jimi Breitenbach

Geloofsbelydenis

Geloofsbelydenis: ahv Kolossense 1
Ek glo in God die Vader-
God wat self nie gesien
kan word nie,
God wat deur die Seun alles geskep het
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
God het besluit
om met sy volle wese in die Seun te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen.

Ek glo in die Seun, Jesus Christus-
Die Seun is die beeld van God,
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.

Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Liedere

F6. “HeerJesus, My Redder”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Oorspronklike titel: Shout To The Lord
Teks en Musiek: Darlene Zschech
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1993  Hillsong Publishing

Heer Jesus, my Redder,
Heer, daar is niemand soos U.
Laat elke dag, als wat ek doen,
volwees van U liefde, Heer.

My skuilplek, my trooster,
veilige vesting van krag.
Met hart en stem, als wat ek het,
bring ek aan U ewig eer.

Refrein:
Kom laat ons juig, kom ons sing voor die Here.
Sing van sy mag, van sy grootheid en krag.
Berge buig neer en die see ruis saam
by die aanhoor van sy Naam.

Ek wil U prys, want U is my Skepper.
Ek wil U loof en my lewe lank eer.
Niks vergelyk met u liefde 
en sorg vir my.

F185. “Heer Almagtig (Niemand Soos U)”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Belydenis)
Teks en Musiek: Carmen de Carvalho
Kopiereg: © Mastermax Distribution
(Opgeneem op Luidkidz)

Heer Almagtig.  (x2)
Ek sal sing van U.
Ek sal nooit stilbly nie.
En sê my wie is soos die Here
wat in majesteit regeer?
En sê my wie is soos die Here
wat alles bly beheer?
En as ek dink aan al u liefde
is daar een ding wat ek weet…

Daar is nie- nie- nie- nie- nie- niemand soos U  (x3)
Daar is niemand, daar is niemand soos U
Niemand soos U

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Gebed (Ahv Ps 104)
31Mag daar aan die roem van die Here
geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here
Hom vreugde verskaf,
33 Ons wil tot eer van die Here sing
so lank ons lewe,
ons wil die lof van ons God besing
so lank ons daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge
vir U aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.

Skriflesing: Galasiërs 4:4-7

Prediking

Familie-oomblik

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Jesus maak ons God se kinders.
6 Omdat ons God se kinders is, het Hy die Gees van Christus* na ons toe gestuur. Die Heilige Gees* maak dat ons sommer baie lief vir God is. Hy roep hier binne-in ons hart uit: “Vader, ons het U baie lief!”

7Ons is nie meer sondaars*in God se oë nie. Nee, ons is God se eie kinders. Ons het ’n plek in die hemel omdat ons in Jesus glo*.

Gebruik onderstaande tabel om die woorde (wat almal in bogenoemde teks voorkom) te voltooi en so die status te onderstreek wat Jesus aan ons gedoen het.

Oplossing

Preekriglyn

Hierdie aanhaling trek my aandag:
Sommige mense vra “Wie is ek?”, en verwag die antwoord moet uit hulle prestasies voortspruit. Ander mense vra “Wie is ek?”, en verwag die antwoord moet kom uit wat ander mense van hulle dink.

Mense met die moed om beloftes te maak en te hou, ontdek wie hulle is deur die beloftes wat hulle aan ander gemaak het, en toe gehou het.
(A Chorus of Witnesses, red.Thomas G Long en Cornelius Plantinga, 1994 Eerdmans,)

Ons worstel dikwels met ons identiteit. Wie is ons? Vir Christene is dit ‘n wesenlike vraag, want bekering en heiligmaking het met die skep van ‘n nuwe identiteit in ons te doen. Die reis van dissipelskap is niks anders as ‘n reis van identiteitsvorming nie.

Waaraan knoop ons ons identiteit vas? Vir die Galasiërbrief (eintlik die hele Nuwe Testament) is ons identiteit iets wat aan ons geskenk word. Wie ons is, is iets wat ons van God ontvang, en wat ons voor God se aangesig ontdek.

Merkwaardig genoeg, het ons Christelike identiteit nie net met ons herkoms te doen nie. Dit het veral met ons toekoms te doen. Natuurlik is ons identiteit veranker in die verlede (in die kruis, in die feit dat ons losgekoop is uit die mag van sonde), maar veral ook in die toekoms wat ons as erfgename van God verwag.

Tye, planne en beloftes

Ons identiteit, skryf Paulus in die Galasiërsbrief, is vasgeknoop aan die tye, planne en beloftes van God wat oor eeue in vervulling gaan. Die aksie van God, die inisiatiewe van God, en die ontplooiing van God se beloftes oor tyd stempel wie ons is. Ons kan Christene wees danksy wat God gedoen het, en God hou ons op koers deur God se beloftes wat ons vorentoe trek, in God se heerlike toekoms in.

Om te verstaan wie ons is, help Paulus om iets van God se tye, planne, beloftes en aksies te verstaan. Dit alles is daarop gerig dat Christus in ons gestalte kry, en dat ons identiteit dus gevorm word ooreenkomstig God se bedoelinge. Van die kragtigste woorde in die Nuwe Testament, is Paulus se begeerte vir die Galasiërs: “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry.” (4:19).

Om ons identiteit te verstaan, soos dit vasgeknoop is aan God se dade en beloftes, help dit om die groter prentjie van die Galasiërbrief raak te sien. (Hiervoor maak ons gebruik van die insigte van die befaamde Nuwe Testamentikus, NT Wright.)

Wie is God?

Indien God ons identiteit volgens die Galasiërbrief bepaal, is dit belangrik om te weet wie hierdie God is. Paulus is helder daaroor dat God die God van Israel is, die God van Abraham, Isak en Jakob. Dit is ‘n God wat begeer om in verhouding met mense te staan, wat ‘n gemeenskap skep wat Hom as Koning dien, en wat sy goddelike identiteit selfs uitspel in verhouding tot mense – die God van Abraham, Isak en Jakob.

Hierdie God, sê Galasiërs, is die Skepper van die hemel en die aarde. Afgode is drogbeelde, valse voorstellings, of selfs gemaskerde bose magte en demone. Afgodery is heidens. Die dien van valse gode, wat dit ook al is, moet verwerp word. Dit verwring ons identiteit.

God se doel

Galasiërs beklemtoon dat God ‘n doel het met God se geskape wêreld. Hierdie bedoeling word verdraai en verduister deur die dien van afgode. Paulus is egter oortuig dat die huidige bose tyd op God se tyd plek sal maak vir die toekomstige tyd waarin God se volk en die wêreld verlos sal word van die mag van valse afgode.

Ons leef dus in ‘n gespanne tyd. Daar is boosheid en afgodery wat ‘n impak op ons maak, en ons identiteit stempel. Dis egter nie al nie. God is aan die werk. God is besig om die stukkende wêreld reg te maak. God verlaat nie die wêreld nie, maar spreek ‘n belofte van herstel daaroor uit.

Vir Paulus is die wêreld goed geskape. Dit is die werk van God se hande. Maar die wêreld is binnegeval deur boosheid, dit is oorgeneem, gebreek, en mislei deur magte van boosheid en vernietiging.

Gelukkig is daar meer te sê. Dit is: God werk in die wêreld. Hoe weet ons dit? God is in die Persoon van Jesus van Nasaret, en deur die krag van die Gees van Jesus, aktief in die wêreld. God bring deur Jesus en die Heilige Gees die nuwe, lank-verwagte bedeling in die wêreld tot stand. Só verlos God Israel en die wêreld.

Hoe God geken word

Hoe weet ons al hierdie dinge? God word geopenbaar en geken deur die Skrif, wat getuig van God se dade in die geskiedenis waardeur die beloftes van die Skrifte vervul word, en waarvan die koms van die Messias, Jesus van Nasaret, die hoogtepunt is. God se intervensie in die wêreld vee alles weg wat in die pad van God se nuwe toekoms met die wêreld staan.

Vir Paulus is hierdie intervensie van God die vervulling van God se beloftes aan Abraham, Isak en Jakob. Galasiërs vertel dat Paulus daarom weier om die era van die wet, soos aan Israel gegee, as sleg of minderwaardig te beskou. Daarom verdedig hy die Ou Testamentiese wet, maar verduidelik ook dat die wet in ‘n nuwe era vervang is deur God se handelinge in Christus. Ons moet nou aan die wet van Christus onderdanig wees.

In Christus is ons losgekoop van die wet (4:5), wat beteken die era en funksie van die wet is verby. Die wet het gegeld vir ‘n periode wat afgehandel is. Hoewel ons God dus nog ken deur die getuienis van die Ou Testament, ken ons hierdie God nou deur die bril van die Nuwe Testament.

Ons identiteit word dus nie langer deur ons gehoorsaamheid aan die uiterlike wet van die Ou Testament gestempel nie, maar – op grond van God se handelinge – deur die tyd van God waarin ons nóú leef. Ons identiteit word bepaal deur ons verbondenheid aan Christus, en deur die getuienis en werk van die Heilige Gees van Christus in ons.

Wie Jesus is

Vir Paulus is Jesus die unieke Seun van God, deur God gestuur om God se doelwitte te kom realiseer. God se doel is om die wêreld te red van verwoestende demoniese, bose kragte. Die God wat Christene aanbid, is die Joodse God, die God van Abraham, Isak en Jakob, die God wat sy volk uit slawerny gered het, die God wat sy mense wysheid leer. Hierdie God word nou geken as die God wat sy Seun stuur, en wat die Gees van sy Seun uitstort.

Aan hierdie God, sê Paulus, moet gelowiges vashou en hulle identiteit aan Hom vasknoop, anders val ons terug in afgodery en boosheid.

Om terug te val

Mens kan in jou identiteit terugval na ‘n vorige identiteit. Dit is die worsteling van die Galasiërbrief.

Die Christelike gemeentes in die streek Galasië het deur Paulus se sendingwerk tot stand gekom. Op ‘n later stadium verneem hy die nuus dat dwaalleraars besig was om ‘n valse leer in die gemeente van Galasië te verkondig. Die dwaalleraars was Joodse Christene wat wel in Jesus geglo het, maar daarby gemeen het geloof in Jesus is nie genoeg om deel van God se volk te word nie. Om by God se kerk ingesluit te word, moes mens – naas geloof – nog ander dinge ook doen. Die bykomende vereistes het dinge soos die besnydenis en die onderhouding van die Ou Testamentiese, Joodse feeste ingesluit. Mens moes dus ‘n Jood word om deel te wees van die kerk.

Paulus skryf sy brief om die Galasiërs te oortuig dat hy die ware evangelie verkondig het, en dat die identiteit van gelowiges en die kerk verstaan moet word uit die nuwe dinge wat God in Christus en deur die Heilige Gees doen.

Ons teks

Ons het nou na die groot kontoere van die Galasiërbrief gekyk. Die oorweldigende punt wat Paulus in ons teks maak, is dat hierdie gebeurtenis in die geskiedenis van die wêreld implikasies vir jou en my persoonlik het.

Teen hierdie agtergrond kan mens ook die jubeling van ons teks verstaan. Paulus sê ons is bevoorreg om God op ‘n wonderlike manier in aksie te sien:

  • Op die regte tyd het God sy Seun gestuur (4)
  • Hy is uit ‘n vrou gebore, en is volledig mens, net soos ons (4)
  • Hy koop ons los, sodat ons deur Hom tot kinders van God aangeneem kan word (5)
  • As kinders van God ontvang ons die Heilige Gees wat ons kinders van God maak en ons na ons Vader laat roep (6)
  • As kinders van God, is ons erfgename van God (7).
Op die regte tyd

God het sy Seun op die regte tyd (4) gestuur. Jesus is uit ‘n vrou gebore, en het deel geword van die menslike situasie, deel van mens-wees in die wêreld.

Tot en met Jesus se koms, was ons nog geestelike onmondig en die slawe van wettiese godsdienstige reëls. Dit beteken die mensdom was uitgelewer aan allerhande vorme van godsdiens waar mense self hulle saak met God wou regmaak. Mense wou die brug na God bou.

Jesus is as ware mens as deel van hierdie menslike kondisie gebore. Hy was ‘n Jood en dus ook aan die wet onderworpe. Hy het ons egter vrygemaak van ons sinnelose strewe om self ons redding te bewerkstellig. Dit doen hy deur sy dood, waarmee Hy ons losgekoop het, net soos slawe destyds losgekoop kon word (5).

Jesus se geboorte en sterwe het ‘n nuwe era in die wêreldgeskiedenis laat aanbreek. Alles wat voor Jesus gebeur het, wat al die reëls waarvolgens godsdienstigheid gewerk het insluit, is deur Jesus radikaal verander. Niks is nou meer dieselfde nie.

Daarom is ook ons godsdienstigheid nie meer dieselfde nie. Selfs al het die wet van God – as voorloper van God se werk deur Jesus – positiewe betekenis, het Jesus dit ook radikaal verander.

Nou word ons identiteit nie langer deur ons toewyding aan die wet, ons godsdienstige handelinge en ons hou van gebruike bepaal nie, maar deur Jesus Christus self.

Die karakter en aard van die tyd self is deur Jesus verander. Die vroeëre dinge hoort by ‘n vroeëre era. Nou is Jesus die weg tot God en die Hoof van die nuwe gemeenskap wat sy Naam dra.

Hunker na vroeëre dinge?

Paulus staan in die Galasiërbrief telkens verstom oor mense se terughunker na ‘n vroeëre godsdienstige tyd. Dit was asof Christus nie genoeg was nie. Mense wou hulle Joodse wortels in die wet weer gaan oopgrawe en – naas Christus – ook hulle ou identiteit in stand hou.

Na al die eeue is dit vandag ook nog so. Ook in Suid-Afrika. Oral spring groepe en inisiatiewe op wat weer Joods wil word. Mense laat hulle besny, en begin weer die Joodse feeste hou. Dit is asof mense weer Jode wil word, om beter Christene te kan wees.

Dit gaan beslis teen die grein van die Galasiërbrief in. Paulus se worsteling – “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry.” (4:19) – is die teenoorgestelde van ver-Joodsing. Paulus streef daarna dat Christus die wêreld en harte van die Galasiërs sal deursuur, sodat hulle toegewyde volgelinge van Christus in Galasië sal word.

Dit is goed dat mens die Ou Testament ken, en die Ou Testamentiese agtergrond sodat jy die nuwe dinge wat God in Christus doen ten volle kan begryp. Vir Paulus is dit die God van Israel wat in en deur Jesus – die Jood – nuwe dinge doen. Ons is ook as Nuwe Testamentiese kerk die wilde olyf wat op die mak olyf – Israel – ingeënt is. Ons verstaan die inhoud van ons geloof, en die radikale dinge wat Jesus gedoen en geleer het, soveel beter as ons die regte agtergrond ken.

Die versoeking is om toelating tot die volk van God aan iets anders vas te bind as geloof in Christus. Vir die Galasiërs, soos sommige moderne Christene, is dit ‘n teruggryp na die Ou Testament. Vir ander kan die “plus” wat ons by Christus voeg dinge wees soos status, klas, ras, en taal. Suider-Afrikaanse Christene moet waak teen ‘n nuwe oplewing in nasionalisme en rassisme in ons lande.

Ons moet versigtig wees vir elemente van ons identiteit wat ons nuwe identiteit in Christus kan kelder.

Aangeneem as kinders van God

Op grond van Jesus se werk, waardeur ons vrygekoop is, is ons nou as kinders van God aangeneem (5). Net soos vandag, is aangenome kinders destyds as ‘n ouer se kinders in die volste sin van die woord beskou.

Hierdie aanneming geskied bloot deur ons verbintenis aan Christus. Dit beteken dat ons ingesluit is in die nuwe gemeenskap wat God skep en waardeur God God se bedoelinge met die wêreld bekendmaak. Hierdie is ook die gemeenskap wat deel in die vrug van die vernuwingswerk wat God deur Christus doen.

Erfgename

Daarom word ons erfgename van God genoem. Kinders van God is erfgename van God (7).

Aan die begin van hierdie preek het ons gewys op die groot kontoere in die Galasiërbrief. Daar is ‘n kosmiese worsteling aan die gang. Die goeie wêreld van God is deur boosheid ingeval, maar God maak deur Christus ‘n einde daaraan. Nogtans worstel boosheid en ellende – alhoewel reeds in Christus oorwin – om die beheer uit God se hande te neem. Dit is dikwels moeilik om na die wêreld te kyk en te glo die oorwinning in reeds behaal.

Dat ons erfgename is, beteken dat God se beloftes waar en seker staan: ons is ingesluit in die oorwinning wat God in die wêreldgeskiedenis bewerk. Ons persoonlike geskiedenis, en die kerk se geskiedenis, sal net soos ons wêreld se geskiedenis voor die regterstoel van God eindig waar ons die volle oorwinning sal smaak.

‘n Erfgenaam se identiteit word onherroeplik gestempel deur die heerlike erfporsie wat wag.

Gees van Jesus in ons harte

Een van die wonderlike voorregte wat ons as aangenome kinders van God smaak, is dat God die Gees van sy Seun (die Heilige Gees) in ons harte stuur (6). Dit is nie iets spesiaals wat net met sekere gelowiges gebeur nie. God gee die Heilige Gees aan elke gelowige.

Wat is die taak van die Heilige Gees? Die Heilige Gees roep in ons uit: “Abba!” “Vader!” Die Heilige Gees skryf ons nuwe identiteit diep in die vesel van ons weefsel vas: ons is God se kinders. Die Gees help ons ook om te bid, na God te roep, en spesifiek na God as ons Vader te roep.

Jesus word in die Nuwe Testament as die groot Voorbidder geteken. Jesus bid vir ons. Die Gees van Jesus, wat in ons harte woon, internaliseer hierdie kreet na die Vader in ons. Jesus roep deur sy Gees vanuit ons harte na God, maak ons gebedslewe moontlik, en pleit met sugtinge wat menslike woorde en begrippe ver oorstyg, namens ons en deur ons voor God die Vader.

Hoe kan mens hierdie ervaring van diepe kontak met jou Vader verruil vir wettiese godsdienstige reëls?

Bevestiging

Kom ons sluit met ‘n aanhaling uit Woord en fees se bespreking van hierdie teks:

Paulus skryf hierdie aangrypende woorde aan ’n gemeente wat op die punt gestaan het om die suiwer evangelie te verloor. Met hierdie wonderlike uitsprake roep hy hulle terug van die afgrond. Onthou wie jy is, roep Paulus, jy is kind van God, erfgenaam van God, gesalf deur die Heilige Gees. Jy het tuisgekom by God as jou Vader. Onthou dit en leef dit!

Laat hierdie bevestiging van God se genade oor jou lewe vandag jou gedagtes en emosies vul. Neem dit, glo dit, en gaan vier nog fees, gaan leef dit, gaan daarmee die toekoms in, want Kersfees (die fees van Christus se koms na ons wêreld) is beslis nog nie klaar nie. Juis dit sluit vir ons die toekoms oop.

Ons ontdek ons nuwe identiteit deur te leef uit die beloftes wat God in Christus oor die toekoms maak.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 355 “Al was ek nie daar nie vs 1,2”

Seën
3Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon
in sy hand hou,
jou God sal jou
soos ’n koninklike tulband vashou. (Jesaja 62)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
VONKK 38  (Melodie Lied 582)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.