Sondag na Kersfees

Sections

Oorsig

Dit is die Sondag na Kersfees en daarom nog deel van die Kersseisoen. Dit is ook vandag Oujaarsdag, waar mense dikwels die jaar wat was in oënskou neem en wonder oor wat die nuwe jaar inhou. Die preekstudie lig die konsep van wag, verwagting en vervulling in die teksgedeelte uit, wat help wanneer mens oor die jaarwisseling dink, terwyl ons ook die vervulling van God se belofte in Jesus se menswording vier. Jesaja 61 is ook tydens Advent gelees, maar nou kom ’n gedeelte van Jesaja 62 by, wat die fokus ietwat verskuif. Hier word die vervulling van die belofte gevier. Psalm 148 is ’n absolute lofpsalm wat die hele skepping oproep om God te prys. Galasiërs 4 gee ’n kort opsomming van die evangelie en trek dit dan deur na wat dit vir ons beteken, naamlik dat ons God se kinders is.

Beide die Jesaja- en Psalmteks het sterk lofprysingskarakter wat in die liturgie deurgetrek word. Die Lukas en Galasiërs tekste vorm weer ’n goeie basis vir nadenke rondom die doop.

’n Mooi Afrikaskildery wat gebruik kan word,  is JESUS MAFA. (“Presentation of Jesus in the temple, from Art in the Christian Tradition, a project of the Vanderbilt Divinity Library, Nashville, TN.”)

Jesaja 61:10-62:3
10Ek is baie bly oor die Here,
ek juig oor my God,
want Hy het my gered,
vir my oorwinnaarsklere aangetrek.
Ek is soos ’n bruidegom
met ’n priesterkroon op,
soos ’n bruid met haar juwele aan.
11Soos die grond plante laat uitspruit,
soos die plante in ’n tuin vrugte gee,
so gee die Here my God die oorwinning
en laat Hy al die nasies luister
na die loflied tot sy eer.

Die Here het jou lief
62 Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie,
ter wille van Jerusalem
sal ek nie stilbly nie
totdat daar vir hom redding
deurgebreek het soos ’n nuwe dag,
soos die lig van ’n brandende fakkel.
2Die nasies sal sien dat jy gered is,
Jerusalem,
al die konings sal sien dat jy mag het.
Jy sal ’n nuwe naam kry,
’n naam wat die Here self
vir jou gekies het.
3Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon
in sy hand hou,
jou God sal jou
soos ’n koninklike tulband vashou.

Psalm 148
Sy Naam alleen is hoog verhewe
148 Prys die Here!
Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
2Prys Hom, alle engele,
prys Hom, alle hemelwesens!
3Prys Hom, son en maan,
prys Hom, alle sterre!
4Prys Hom, hoogste hemele,
en waters in die hoë hemelruim!
5Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want Hy het beveel
en hulle is geskep;
6Hy het hulle vir altyd
hulle vaste plek gegee,
vir hulle ’n orde neergelê
waarbuite hulle nie kan
beweeg nie.
7Prys die Here van die aarde af,
seediere en al die oseane,
8weerlig en hael, sneeu en miswolke,
stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
9berge, al die heuwels,
vrugtebome, al die seders,
10wilde diere, al die vee,
al wat kruip of vlieg,
11konings van die aarde, alle volke,
vorste, alle regeerders van die aarde,
12jong manne en meisies,
grysaards saam met seuns!
13Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want sý Naam alleen is hoog verhewe,
sy majesteit strek oor die aarde
en oor die hemel.
14Hy het aan sy volk mag gegee.
Dit is die roem
van al sy troue dienaars,
die Israeliete,
die volk naby wie Hy is.
Prys die Here!

Galasiërs 4:4-7
4Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. 6En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! 7Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

Fokusteks

Lukas 2:22-40
Besnydenis, afsondering, reiniging
21Ag dae later, toe dit tyd was om die Kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is.

22Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. 23In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.” a24Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.” b

Simeon en Anna by die tempel
25Daar het destyds ’n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon 26en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. 27Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, 28het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê:

29“Here, laat u dienaar nou
in vrede gaan volgens u woord,
30omdat my oë u verlossing
gesien het
31wat U gereed gemaak het
voor die oë van al die volke:
32’n lig tot verligting van die nasies
en tot eer van u volk Israel.”

33Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is.

34Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word. 35So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan.”

36Daar was ook ’n profetes, Anna, ’n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood 37het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. 38Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.

39Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret. 40Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

Die Kind Jesus by die tempel
41Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. 42Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. 43En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. 44Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle ’n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. 45Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. 46Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. 48Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”
49Maar hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”
50Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.
51Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.
52En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.

Ekstra stof

Lukas 2:1-52 – Verlosser, Christus, Here
Nadat Lukas in hoofstuk 1 verhale vertel het wat nie in die ander evangelies voorkom nie – verhale wat sentreer om die aankondigings rondom Johannes en Jesus en die reaksies wat dit by Maria, Elisabet en Sagaria uitlok – sluit hy in hoofstuk 2 dieselfde verhaal as Matteus (1:18-25) oor die geboorte van Jesus in. Die res van die hoofstuk is daarna weer eie verhale, wat nie in die ander evangelies voorkom nie.

2:1-7
Lukas verbind die verhale van die Verlosser aan die gebeure op die wêreldfront ter wille van die konteks daarvan.  Hy noem keiser Augustus (regeer van 27 vC tot 14 nC) en goewerneur Sirenius van Sirië, eersgenoemde omdat Palestina deel van die Romeinse ryk was, en laasgenoemde omdat hy waarskynlik die hele Palestynse gebied se volkstelling gereël het (volgens sommige historici was Quirenius Varus toe goewerneur, met Sirenius waarskynlik ’n militêre veldheer wat Varus bygestaan het) .  Die volkstelling het ongeveer in 7-6 vC plaasgevind, wat dan ook Jesus se geboortedatum moes wees.

Hierdie volkstelling, sê Lukas, was die eerste van sy soort.  Daar was ook ‘n 2de volkstelling (Hand 5:37) toe daar ‘n volksopstand was deur Judas, die sogenaamde Galileër.

Bethlehem – 85 km van Nasaret af – is die stad van Dawid. Die naam is nogal betekenisvol.  Die naam beteken letterlik: “huis van brood” en is die plek waar Rut en Naomi (in die Rigtertyd) nie net fisiese brood gekry het nie, maar Rut, die Moabiet, ook met haar troue met Boas Jesus se voorouer geword het.

Let op dat Jesus gebore word in nederige omstandighede in ‘n krip in ‘n stal.

2:8-20
Die boodskap van Jesus kring uit na die skaapwagters – nie gerekende mense in daardie tyd nie –  wat met die boodskap – “goeie tyding” vertaal die Griekse woord “evangelie” – van die engele hulle na Maria en Josef haas.   Die engele noem Jesus met drie name wat sy hele bediening stempel:

  • Verlosser – dit is ’n sinoniem vir die naam Jesus wat ook Verlosser of Redder beteken en wat dui op die doel van sy koms,
  • Christus – Gesalfde of Messias waarmee by die verwagting van Israel soos deur die profete aangekondig, aangesluit word,
  • Herekurios – die Griekse woord wat Jode gebruik het om die Hebreeuse naam vir  God in die OT, JAHWE, te vertaal, en waarmee Jesus se Goddelike status aangedui word.

Let op dat Lukas eers Maria, die vrou, en dan eers die man, Josef, noem. Interessant dat hierdie boodskap almal verwonder, maar dan spesifiek verdere (en voortdurende)  nadenke by Maria ontlok.  Dit is hoe dit met die boodskap of visies van die Here werk.  Daar is altyd verdere en voortdurende nadenke nodig, en die Here werk ook daarin saam deur die bevestigings wat Hy gee.

2:21-40
Dit tref my hoe Jesus by die tempel aankom omdat die wet – die Woord van God – dit voorskryf, en Simeon daar aankom omdat die Heilige Gees hom daarheen gelei het. Twee primêre maniere waarop God in mense se lewens werk.  Dit geld hulle tyd sowel as ons eie tyd.

Simeon verklaar ook dat Jesus nie net van betekenis vir die Jode gaan wees nie, maar ook vir die nasies, waarmee Lukas die universele impak van Jesus se bediening aandui.  En dié Jesus sal mense voor ’n keuse stel, wat hulle val of opstaan sal beteken.

2:41-52
Dit tref my dat Jesus se verbintenis aan die Paasfees, en die feit dat Hy uiteindelik as die Paaslam op Paasfees geslag (gekruisig) sou word, begin het by sy ouers se gereelde bywoning daarvan van sy jeug af.

Tog kon sy ouers nie die kloutjie by die oor kry toe Hy agterbly in die tempel, in die huis van sy Vader, om met die geleerdes te praat nie.  Let op hoe Hy beide na die geleerdes luister en hulle uitvra, as vir hulle antwoorde met insig gee.  En let ook op dat Hy nou al God sy Vader noem, en nie sy pa, Josef nie!

Tog eer Hy hulle en gaan saam met hulle terug.  Geen wonder dat Hy in guns by God en die mense toegeneem het nie.

Liturgie

RUS

Toetrede: Steek (slegs) die eerste vier kerse van die adventkrans aan.

Respons: Lied 354 verse 1-2

Votum: n.a.v. Psalm 148

Respons: Lied 354 vers 3

Seëngroet

Lofsang: Psalm 148 of Lied 199 of Lied 472 of Flam 23 of Flam 458 of Vonnk 80

Toewyding: Galasiërs 4:4-7

Respons: Lied 354 vers 4

Stil gebed en aansteek van 5de kers

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 2:22-40

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer
Wegsending

Slotsang: Lied 372

Seën

Respons: Lied 372 vers 2 se laaste 5 reëls of Lied 310

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Op die Sondag ná Kersfees is al die Kersversierings nog op.  Herinner die gemeente aan die temas van die vier Sondae van advent:  hoop, vrede, vreugde en liefde.  Nooi almal uit om rustig in stilte na te dink oor 2017 en aan één woord te dink wat die jaar beskryf.  Terwyl mense hul woord biddend soek, steek (slegs) die eerste vier kerse van die adventkrans aan.

Sing (sonder aankondiging) Lied 354 verse 1-2 “O Christus, ons verlange”

Votum
Psalm 148
[Kry verskillende lesers om die Psalm wisselend te lees.  Jy kan die hoeveelheid lesers aanpas na gelang van omstandighede.  Dit sal mooi wees as die lesers verskillende generasies en genders en kulture verteenwoordig.]

Leser 1:  Prys die Here vanuit die hemele, prys Hom in die hoë hemel!
Leser 2:  Prys Hom, alle engele, prys Hom, alle hemelwesens!
Leser 3:  Prys Hom, son en maan, prys Hom, alle sterre!
Leser 4:  Prys Hom, hoogste hemele,  en waters in die hoë hemelruim!

Leser 1:  Prys die Here van die aarde af, seediere en al die oseane, weerlig en hael, sneeu en miswolke, stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
Leser 2: berge, al die heuwels, vrugtebome, al die seders, wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg,
Leser 3:  konings van die aarde, alle volke, vorste, alle regeerders van die aarde,  jong manne en meisies, grysaards saam met seuns!
Leser 4:  Laat hulle die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.

Sing: (sonder aankondiging) Lied 354 vers 3 Soos kinders met “hosannas”

Seëngroet

Lofsang
Psalm 148 of enige van die verwerkings daarvan, soos:
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel”
Lied 472 “Kom lofsing die Heer”
Flam 23 Prys Die Here
Flam 458 Prys Die Here Hoog Vanuit die Hemele
Of die verwerking van Jesaja 61:10
Vonnk 80 Ek Is Bly [bekend]

Toewyding
Galasiërs 4:4-7
Lied 354 vers 4 Ek magteloos gebonde
Jy het aan die begin gedink aan een woord wat 2017 beskryf.  Dink nou aan een woord wat jou gebed of hoop vir 2018 sal beskryf.
Gee geleentheid dat mense in stilte biddend aan ’n woord vir 2018 dink, terwyl die 5de kers aan die adventkrans aangesteek word.

Liedere

F23. “Prys Die Here”
(RUBRIEK: Flam – Lof)  Teks en musiek: Rhe Janse © 1994 Brettian Productions (Opgeneem op Lentereën – Willie Joubert) (Ps 148)

1. Prys die Here vanuit die hemele;
prys die Here alle engele;
prys Hom son en maan,
prys Hom alle sterre!
Prys die Here en sy grote Naam!

2. Prys die Here van die aarde af,
uit die see en van die berge af.
Prys Hom bome, diere, plante en riviere.
Prys die Here en sy grote Naam!

3. Prys die Here alle volke saam;
mans en vroue, prys die Heer se Naam.
Prys Hom konings, vorste, oud en jonk tesame.
Prys die Here en sy grote Naam!

4. U’s my Here en ek prys u Naam;
U’s verhewe, hoor my loflied aan.
Heer, U majesteit strek oor aard’ en hemel;
U’s my Here, en ek prys u Naam!
U’s my Here, en ek prys u Naam!

F458. “Prys Die Here Hoog Vanuit die Hemele (Psalm 148)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof)  Teks en musiek: Louis Brittz Kopiereg: © Urial Publishing

1. Prys die Here hoog vanuit die hemele
son en maan, buig neer in eerbied.
Sterre, roep dit uit:
hoe groot is Hy!
Selfs die berge moet getuig:
hoe groot is Hy!

Refrein:
Laat ons die Naam van die Here prys
ons dankbaarheid met ons lewens wys.
Hy’s naby aan ons, Hy’s naby aan ons.
Sy Naam alleen is hoog en verhewe,
sy majesteit strek oor aarde en hemel.
Hy’s naby aan ons, Hy’s naby aan ons.

2. Engele sing uit,
oseaan en stormwinde
luister en gehoorsaam sy bevele.
Hy alleen verdien al die lof
elke aardse wese skree,
Heilig is die Heer!

Refrein:

3. Kom, alle volke,
laat ons die Here prys.
Die hele aarde,
laat ons die Here prys.
Hy is verhewe
laat ons die Here prys
laat ons die Here prys!

Refrein: (x2)

VONKK 80 “Ek Is Bly”
Jesaja 61:10 Teks: Malan Nel 1974 Melodie: JEUG-TOT-JEUG – Awie van Wyk 1974 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

Ek is bly, ek is bly,
ek verbly my in die Heer.
Hy het my ‘n nuwe kleed gegee.
Hy het my verlos. Hy het my verlos.
Ek is bly, ek is bly
soos ‘n bruidegom en bruid.
Ek is bly!
Jesus is my blydskap.
Jesus is my blydskap.
Jesus is my blydskap. Ek is bly.
Ek is bly, ek is bly,
ek verbly my in die Heer.
Hy het my ‘n nuwe kleed gegee.
Hy het my verlos. Hy het my verlos.
Ek is bly, ek is bly
soos ‘n bruidegom en bruid.
Ek is bly!

God praat met ons en ons luister

Gebed
Gee kans dat mense in stil gebed hul 2018-woorde vir die Here noem.  Bid dan en vra dat die Gees ons sal ontmoet, hier waar ons wag om ons Heer te sien, op die vooraand van ’n nuwe jaar.

Skriflesing: Lukas 2:22-40

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Bybel-Media se Woord en Fees se voorstelle sal jou baie help:

Wys die skildery aan die begin en laat die kinders bespiegel oor wie die mense in die skildery dalk kan wees. Verduidelik wie die mense is en nooi die kinders om na die karakters in die verhaal te luister.

Alhoewel die preekstudie net fokus op Simeon in die verhaal is dit goed om die hele verhaal te lees. Gebruik verskillende lesers om die verhaal tot sy reg te laat kom.

Verteller: Lukas 2:22-24

Simeon: Lukas 2:25-35 (bejaarde man)

Anna: Lukas 2:36-38 (bejaarde vrou)

Verteller: Lukas 2:39-40

Trek die verband tussen Jesus se besnydenis en die doop. ’n Ander verband wat in die preekstudie uitgelig word, is Simeon se neem, seën en teruggee van die baba Jesus aan Maria. Vergelyk dit met ’n predikant wat die baba by die doop neem, doop en teruggee aan die ouers.

Carolyn C Brown stel voor dat al die Adventskerse vandag saam met die Christuskers vir Simeon en Anna aangesteek word. Ons het 4 weke gewag vir Kersfees, hulle het hulle hele lewens gewag vir die koms van Jesus.(verwysing onder). Ook hier beskikbaar

Jy kan ook, saam met van die voorstelle van Woord en fees, gesels oor “wag” en hoe moeilik wag is.  Laat almal vertel hoe dit gevoel het om te wag om hul Kersgeskenke oop te maak.  Vertel – of wys die video van – “Waiting is not easy” deur Mo Willems.  Julle kan lekker gesels oor die maniere waarop ons soms vir Jesus wag.

Hier is ’n inkleurprent van Simeon en Anna en hier is ’n oulike video wat die verhaal vertel.

Preekriglyn

Vir Stan Telchin, ‘n suksesvolle sakeman en toegewyde Jood, was dit verraad toe sy dogter, Judy (21), van die universiteit af bel om te sê: “Ek glo in Jesus Christus as die Messias.”

Stan besluit om sy dogter ten alle koste verkeerd te bewys. Hy begin intensief navorsing oor al Jesus se aansprake te doen. So ook sy vrou, Ethel, en hulle ander dogter, Ann. Gou is daar spanning tussen Stan en sy vrou, Ethel, oor hul bevindinge. Daarom besluit hulle om hul navorsing onafhanklik voort te sit.

Maande later aanvaar Stan ‘n uitnodiging om ‘n konferensie vir Messiaanse Jode by te woon. Hy sien dit as ‘n goeie geleentheid om sy navorsing voort te sit.

Dinge loop toe nie so glad vir Stan, wat seker was Jesus se storie was ‘n bedrogspul nie. Een aand, nog tydens die konferensie, lê hy wawyd wakker in sy bed. Hy was in ‘n krisis. As die Bybel waar was, en hy het begin dink die Bybel is waar, dan het hy werklik in die God van Abraham, Isak en Jakob geglo. Hy het ook tot die oortuiging gekom dat die hele Bybel – ook die Nuwe Testament – die geïnspireerde Woord van God was. Tog was dit vir hom moeilik om te sê: “Jesus is die Messias.”

Hy deel sy krisis met iemand en vra die persoon om vir hom te bid. Dié bid ‘n eenvoudige gebed: “Here, gee vir Stan u vrede, en neem sy innerlike konflik weg.”

Tydens ontbyt die volgende oggend vra iemand Stan om vir die voedsel te bid. Stan buig sy hoof en bid: “Ons prys U, Here ons God, Heerser oor die heelal. Ek dank u vir die vriendskap aan hierdie tafel. Ek dank U vir wat ek besig is om te leer by hierdie konferensie. Seën ons voedsel. Ek bid dit … in die Naam van Jesus, die Messias.”

Vir ‘n oomblik sit Stan versteen, Hy kan self nie glo wat hy nou net gebid het nie. Die mense aan sy tafel is oorstelp van vreugde.

Stan is egter onseker hoe Ethel, sy vrou, oor sy nuutgevonde geloof gaan voel. Hy bel en vertal haar sy soektog om meer inligting oor Jesus is verby. “Ek het my besluit gemaak. Ek erken nou Jesus is die Messias!”

Daar is stilte aan die ander kant, terwyl Stan sy asem ophou. Toe sê sy vrou saggies: “Dan is ons almal eenstemmig. Ann en ek het ook besluit Judy is reg: Jesus is die Here. Ons het almal gewag om te hoor of jy ook voor die Messias buig.”

Ja, Stan se hele gesin het besluit om Jesus as Verlosser en Here te volg. Hulle het almal die verlossing omhels wat God in Jesus Christus voorberei het.

Jesus as baba

In Lukas 1 en 2 word twee geboorteverhale vertel: dié van Johannes die Doper en dié verhaal van Jesus. Terwyl die twee verhale parallel ontvou, maak Lukas dit duidelik watter een die belangrikste is.

Vir hierdie doel speel ‘n bykomende toneel in ons teks af waarvoor daar geen parallel in Johannes die Doper se geboorteverhaal is nie. Jesus se ouers bring Hom na die tempel om Hom tot beskikking van God te stel. Dit word die hoogtepunt van Jesus (en Johannes) se geboorteverhaal.

Die episode begin met Maria en Josef wat die baba Jesus na die tempel in Jerusalem bring. Hulle kom om twee Ou Testamentiese voorskrifte uit te voer: om die eersgeborene aan die Here te wy, en om die reinigingsoffer te bring.

‘n Eersgebore seun moes volgens die wet aan die Here gewy word. Die eerste seun was op ‘n besondere manier as heilig vir die Here geag. Deel van die seremonie was dat die familie die seun vir 5 sikkels “terugkoop” van die Here en huis toe neem. Dit word egter nie hier vermeld nie.

‘n Vrou is vir 40 dae na die geboorte van ‘n seun as onrein geag. Wanneer hierdie periode verby was, is ‘n reinigingsoffer gebring. Vir arm mense, soos Lukas ons korrek meedeel, was die offer twee jong duiwe.

Die boodskap van hierdie gebeure is dat Jesus ten volle aan God gewy was. Hy word nooit teruggekoop nie, maar bly ten volle gewy aan sy Vader. Lukas onderstreep hierdie betekenis in die volgende paragraaf wanneer hy vertel hoe die twaalfjarige Jesus in die tempel besig was met die dinge van sy Vader.

Tweedens beklemtoon Lukas met die reinigingsoffer dat Jesus van geboorte af deel was van die armes. Sy ouers offer twee jong duiwe. Ons het alreeds die identifikasie met die armes in Maria se loflied gesien, en ons kom telkens in Lukas se evangelie weer by hierdie tema uit.

Derdens is dit betekenisvol dat die seremonie by die tempel plaasvind, die sentrum van Israel se geestelike lewe. Die wydingseremonie hoef nie by die tempel plaas te vind nie, maar vir die verhaal van Jesus se verlossingswerk is dit noodsaaklik. Jesus neem die rol van die tempel oor en word uiteindelik in sy persoon die konneksiepunt met God.

Johannes se geboorteverhaal begin by die tempel (1:5-25). Nou word die geboorteverhale afgesluit, weer eens met gebeure by die tempel.

Die vrome Simeon

In die tempel ontmoet Maria en Josef vir die gryse Simeon. Hy was getrou aan die wet van die Here en vroom, toegewyd aan die Here. Simeon speel dieselfde rol in die geboorteverhaal van Jesus as Sagaria in die geboorteverhaal van Johannes. Soos Sagaria, is Simeon bejaard, vroom, regverdig en verteenwoordigend van die beste in die Joodse kringe.

Simeon het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Soos al die hoofkarakters in die geboorteverhale, en spesifiek ook Sagaria, het Simeon ‘n belofte van die Here ontvang. In Simeon se geval is die belofte dat hy nie sal sterwe voordat hy die Messias, die Gesalfde van die Here, gesien het nie. Die Heilige Gees lei Simeon na die tempel, waar hy Jesus ontmoet en Hom in sy arms neem.

Net soos Sagaria spreek Simeon ‘n wonderlike loflied uit (Direkte Vertaling):
Nou, Here, kan U u dienskneg in vrede laat sterf,
Soos U gesê het.
My oë het inderdaad u verlossing gesien,
Wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het,
‘n lig wat vir die nasies tot openbaring dien,
En eer bring aan u volk Israel.

Gaan in vrede

Simeon kan in vrede sterf, want hy het die verlossing gesien wat die Here bewerk het. “Verlossing” sinspeel hier op die betekenis van Jesus se Naam, wat beteken “Die Here is my verlossing”.

Simeon hou die verlossing in sy arms vas. Die gawe van verlossing is “soos U gesê het” (Direkte Vertaling), of “volgens u Woord”. Dit is woorde wat die Here spesifiek vir Simeon gegee het, maar dit is ook waar van ons almal – die Here se verlossing is “volgens sy Woord” vir ons almal waar en toepaslik. Die verlossing in Jesus is ooreenkomstig ou, ou beloftes van God, ‘n tema wat telkens in die liedere wat in die geboorteverhaal aangehaal word, uitgespel word.

Ooreenkomstig die Woord van die Here kan Simeon nou in vrede of “heelheid” sterf – “shalom”. Shalom is ‘n sleutelwoord wat ook in Sagaria se lied voorkom, ‘n parallel vir hierdie lied. Daarvolgens lei die Messias ons op die pad van vrede. Volgens die engele se lied bring die Here vrede oor almal in wie Hy ‘n welbehae het. Daardie vrede vervul Simeon nou in die aangesig van sy eie dood.

Lig vir die nasies

Dit is nie net Simeon, Josef en Maria, of Israel, wat die Here se verlossing beleef nie. Die verlossing deur die Messias word ten aanskoue van al die volkere bewerk, dit is ‘n lig vir die nasies. In Simeon se lied hoor ons al die eerste klanke van Lukas se beklemtoning dat die genade vir al die nasies is. Hy sou nie net sy evangelie skryf nie, maar later ook die Handelingeboek, wat vertel hoe die verlossing in Jesus die nasies bereik het.

Die verlossing is dus vir die Jode en die nie-Jode. Vir die binnekring en die buitekring. Nie alle Jode sou Jesus verwerp nie. Simeon is ‘n voorbeeld van baie Jode wat God se bedoeling in Jesus sou verstaan, en Jesus in geloof as Verlosser aangryp. Volgens Handelinge se openingshoofstukke het duisende Jode Jesus aanvaar. Daarna ook die nasies.

‘n Swaard

Nogtans sou Jesus se bewerk van die verlossing nie maklik wees nie. Baie Jode sou nie Simeon se voorbeeld van geloof en dankbaarheid volg nie. Hulle sou nie God se verlossing in Jesus herken nie. Baie sou Jesus haat en uiteindelik kruisig. Ook in Handelinge verwerp die amptelike verteenwoordigers van die Jode later vir Jesus.

Vandaar Simeon se woorde aan Maria (vers 34 – 35):

Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word. 35So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan.

Vir te veel mense is Jesus se geboorteverhaal maar net ‘n mooi, rooskleurige verhaal van liefde en aanvaarding. Reeds in die tempel, in Simeon se arms, hoor ons van die pyn en verwerping waartoe die geboorte van die Seun van God sou lei. Kersfees het ‘n donker kant, soos Simeon se onheilspellende woorde aan Maria dit reeds uitspel.

Die waarheid lok altyd opposisie uit. Die verlossing in Jesus veroorsaak teenstand. Dit bring pyn en verwerping op soveel vlakke mee. Vra maar vir Stan Telchin se dogter, Judy, daar aan die begin van die familie se reis met die Messias. So was dit ook vir Maria.

Anna, die profetes

Simeon was nie die enigste vroom Jood op daardie dag in die tempel nie. Daar was ook die profetes Anna. Nie net ‘n bejaarde man nie, maar ook ‘n bejaarde vrou, dank God en praat oor die verlossing vir Jerusalem.

Naas die bekende dissipels, en die groot apostels en evangeliste, is dit ook mense soos Simeon en Anna wat die Messias verkondig en God oor Hom dank. Mense wat so maklik naamloos kon bly, en van wie ons byna niks weet nie.

Tog herken hulle die Messias.

Om Jesus te herken

Iemand skryf dat die herkenning van Jesus in ons teks reeds die slot van die Lukasevangelie. In Lukas 24 stap ‘n sekere Kleopas en ‘n naamlose persoon na Emmaus. Wanneer die opgestane Jesus saam met hulle stap, herken hulle Hom nie – ook nie die verlossing wat Hy bewerk het nie. Hulle sê: “Ons het so gehoop dat Hy die Een sou wees wat Israel verlos.” Hulle is mismoedig en kan nog nie sien hoe toepaslik hulle hoop op Jesus was nie. Dan herken hulle Hom by die breek van die brood.

Wanneer hulle Hom as Verlosser herken, word die hoop en vrede van Simeon en Anna vervul. Jesus is die Verlosser wat van God kom. Jesus het die verlossing bewerk. Die lig van God se redding skyn oor die nasies.

Dit gebeur vandag nog. Ook toe Stan Telchin, sy vrou Ethel, en sy dogter Ann en Judy, voor die Messias buig, gaan Simeon en Anna se hoop en vrede in vervulling.

Oor die afgelope Adventstyd en Kerstyd het ons ook die verskryning van God se verlossing gevier. Mag die vrede en genade van die Here ons deur die komende jaar dra. Ons kan in vrede gaan, want ons het die verlossing gesien wat God bewerk het.

Daardie verlossing is ‘n Persoon: Jesus Christus, die Here. Die Een wat saam met ons stap. Hy is ons vrede.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Wegsending
Bybel-media se Woord en Fees stel voor:
Aangesien die Kersseisoen eers met Epifaniefees afsluit, is dit gepas dat die Kersboom ook tot dan in die kerk bly.

Vir die Sondag na Kersfees stel ek twee moontlike rituele voor na gelang van die gekose fokus vir die dag.

1. Mense word genooi om hulle name op linte of papierstroke te skryf wat dan of aan die Kersboom of aan die doopvont gehang word as teken daarvan dat ons almal deel is van God se familie.

2. Mense word genooi om dankie te sê vir beloftes wat tot vervulling gekom het, of verwagtinge van die nuwe jaar neer te skryf en aan God op te dra. Dit kan ook aan die boom gehang word. Alternatiewelik kan een of twee mense genooi word om hulle stories of verwagtinge met die gemeente te deel.

Ons stel voor dat jy aan elke lidmaat ’n lint uitdeel (of hier of soos wat hulle die kerkgebou binnekom).  Herinner hulle nou weer aan hul 2018-woord, die gebed of hoop wat hulle vir 2018 het.  Nooi almal om hul woord op die lint te skryf (deel of penne saam met die linte uit of sit genoeg penne by die kersboom neer)  en dit aan die Kersboom vas te bind.

Terwyl lidmate dit doen, kan die musiek van die slotlied solank begin speel. Wanneer meeste lidmate klaar is, kan die slotlied sonder aankondiging begin:

Slotsang: Lied 372 “Hoe glansryk blink die Môrester”

Seën
Mag ons in 2018 vir Jesus as Verlosser herken.
Mag ons met die hoop en vrede van Simeon en Anna vervul word.
Die lig van God se redding skyn oor die nasies.

Respons
Lied 372 vers 2 se laaste 5 reëls:
Christus Jesus, Lig en Lewe, hoor my lied en hoor my bede: O bestraal my pad met vrede! of
Lied 310 “Voor U, Heer, bly ek staan”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.