Sondag na Kersfees

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: 1 Samuel 2:18-20, 26
Ander tekste: Psalm 148; Kolossense 3:12-17; Lukas 2:41-52

Inleiding

Die geseënde verhaal van 1 Samuel laat (deur ’n besonderse kind-priester) die hemelse guns na die aarde uitkring in ’n hernude verhouding tussen God en mens. Die psalm vervleg hemelse en aardse lofprysing. Kolossense roep gelowiges op tot ’n gemeentelike liturgie van meelewing, dankbaarheid en lof. In Lukas ontmoet ons Jesus as die nuwe Samuel in die tempel.

Liturgie self kom in die teksgedeeltes as samebindende tema sterk na vore. Die koms van God na die mens en die nuwe verhouding vol hoop sal in die liturgie weerklink. Dit bied ’n uitstekende geleentheid om in die Kerstradisie met sang en lofprysing (meer as gewoonlik) vir die nuwe jaar gereed te maak.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangswoord
V: Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
G: Prys Hom, alle engele,
prys Hom, alle hemelwesens!

V: Prys die Here van die aarde af,
seediere en al die oseane,
weerlig en hael, sneeu en miswolke,
stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
G: Dit is die roem
van al sy troue dienaars,
die volk naby wie Hy is.
– uit Psalm 148

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing: 1 Samuel 2:18-20, 26

Gemeentesang
Psalm 148

Preek

Diens van die Tafel

Dankoffer

Skriflesing: Kolossense 3:12-17

Nagmaal
V: In ons wêreld in,
soos in die skoot van Maria …
G: Kom, Here Jesus!

V: Op al die vergete plekke,
soos in die stal van Bethlehem …
G: Kom, Here Jesus!

V: Bring hoop in die lewe van armes;
bring wysheid in die lewe van magtiges;
bring rus in die lewe van vermoeides;
bring onrus in die lewe van oorgerustes;
in ons lewe en in ons verlangens,
wie ons ook al is …
G: Kom, Here Jesus!

V: Dit is die goeie nuus:
Christus is gebore.
Christus kom weer.
G: Kom, Here Jesus! Kom gou!

Sang

Instellingswoorde

Uitdeel en gebruik van die brood en die wyn.

Gebed
Gebed op bladsy 283-284 van Handleiding vir die erediens, Bybel-Media, 2010.

God stuur ons uit

Seën
V: Prys die Here van die aarde af,
konings van die aarde, alle volke,
vorste, alle regeerders van die aarde,
jong manne en meisies,
grysaards saam met seuns!
G: Laat ons die Naam van die Here prys,
want sý Naam alleen is hoog verhewe (Ps 148).

V: Laat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in julle bly (Kol 3:16).
En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus
en dank God die Vader deur Hom (Kol 3:17).
Want God is met julle!
In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
G: Sing een van die Amen-liedere.

Musiek en sang

Lofliedere: Lied 365/NSG 90 “Hoor die blye eng’lelied”; Lied 356 “Ons het gehoor die Hemelheer”; 349/NSG 82 “Kom, kinders, besing met ’n vrolike stem”; NSG 92 “Joy to the World”; Flam 142 “Kom Jesus, kom”
Kinderliedere: Lied 374/NSG 62 “’n Ster het in die ooste”; Lied 357 “’n Kindjie is gebore”
Geloofsbelydenis: Lied 260:3/NSG 348:2 “Ek glo Jesus, wat ontvang is deur die werking van die Gees”
Skuldbelydenis: Lied 542/NSG 88 “Jesus, ons loof U”
Aan tafel: Vooraf: Lied 388 “Die Woord het deur die eeue”; ná tafeldiens: Lied 329 “Want so lief het God die wêreld”
Uitsending: Lied 334/NSG 67 “God is liefde”

Preekstudie – 1 Samuel 2:18-20, 26

Teks

Ons kyk eers opsommend na die breër konteks voordat ons op die voorgeskrewe teks fokus. Soos vele ander verhale in die Bybel, waarvan Sara en Abraham seker die bekendste is, word die voortsetting van ’n geslag, nasie of belofte deur die onvrugbaarheid van ’n vrou bedreig. Die onvrugbaarheid voorspel egter die geboorte van ’n nuwe era. Die oorgang van ’n teokrasie na ’n monargie in Israel, begin by ’n onvrugbare vrou wat met die Here se hulp aan ’n seun geboorte gee.

1 Samuel begin met die verhaal van ’n gesin waarin konflik en spanning geheers het. Elkana het twee vrouens gehad, Hanna (genade) en Peninna (pêrel). Hanna was onvrugbaar, Peninna nie. Hierdie situasie het natuurlik groot ongelukkigheid en spanning tot gevolg gehad, veral vir Hanna (1:1-8). Hoewel Elkana en Hanna vroom en opreg was in hulle aanbidding van die Here, het dit nie die gesin van innerlike spanning en konflik gevrywaar nie. Dit is teen hierdie agtergrond wat Samuel gebore is.

Samuel se geboorte het hom dus as’t ware voorberei vir onseker tye in die lewe van die Godsvolk. Die priesterskap van Eli was in gedrang as gevolg van die goddeloosheid van sy seuns. Dit was tekenend van ’n tyd van onenigheid, morele verval en algehele wetteloosheid (Rig 17:6). Die verdere verlies van die verbondsark as gevolg van die vyandskap met die Filistyne, het die Godsvolk verder in ’n krisis gedompel. Hierdie situasie waarin Israel haarself bevind het, het ’n atmosfeer geskep wat ryp was vir verandering. Samuel se geboorte het ten doel om hierdie oorgangstyd te bemiddel. Die twee Samuelboeke vertel die dramatiese verhaal van hierdie oorgang na ’n monargie. Samuel word dus as die oorgangskind beskou wat Israel in ’n nuwe tydvak inlei.

Met hierdie breër agtergrond en perspektief kan ons nou ons fokus spesifiek op 1 Samuel 2:18-20, 26 plaas. Om die skrywer se oogmerk met die inhoud van hierdie teks deeglik te kan verstaan, moet dit ten minste binne die struktuur van vers 12-26 gelees word. 1 Samuel 2:12-26 is literêr so gestruktureer en saamgestel dat dit die gedagte van aanvaarding en verwerping belig en teenoor mekaar stel. Die vergelyking tussen Samuel en sy gesin, en Eli se seuns, Hofni en Pinehas, word met skerp kontraste van aanvaarding en verwerping, en in terme van goed en sleg geskets. Vers 12-21 beskryf die eerste kontras en vers 21-26 die tweede een.

Die algemene stelling in vers 12, naamlik dat Eli se seuns slegte mense was, dien as inleiding vir vers 12-17, waar Hofni en Pinehas se skandelike optrede in verdere besonderhede beskryf word. Vers 17 som Eli se seuns se optrede op as ’n baie groot sonde in die oë van die Here. Nog ’n kontras wat bygevoeg kan word, is dat Eli aanvanklik vir Hanna as ’n slegte vrou beoordeel het terwyl sy by die tempel gebid het (1:16), maar dat dit eintlik sy eie seuns was wat boos en sleg was (2:17).

Vers 18 begin met ’n algemene stelling oor Samuel se positiewe optrede, en lei vers 18-20 se positiewe beskrywing van Samuel en sy gesin, asook die Here se seën oor hulle lewe in. Vers 18-20 staan in skerp teenstelling met die voorafgaande verse (12-17). In vers 22-25 spreek Eli sy seuns aan oor die skandelike dinge wat hy van hulle hoor. Vers 26 bied ’n laaste teenstelling met Eli se seuns; hier word Samuel se guns by die Here en die mense bevestig.

1 Samuel 2:18-20, 26 stel dus die positiewe en goeie optrede van Samuel en sy gesin in kontras met die slegte optrede van Eli se seuns. Opsommend kan gesê word: Samuel is in, en die Elimiete is uit.

Daar is enkele belangrike punte in 1 Samuel 2:18-20, 26 om op te let.

Vers 18 en 26 begin albei met die woord “maar”. “Maar Samuel het die Here gedien” (v 18), stel Samuel se optrede in kontras met dié van Eli se seuns. ’n Sentrale gedagte wat in die voorgeskrewe teks en daarna herhaaldelik beklemtoon word, is dat Samuel die Here gedien en in sy teenwoordigheid gegroei het (2:18, 21b, 26; 3:1a, 19). So word Samuel se betroubaarheid en outoriteit as God se bemiddelaar en die toekomstige leier in Israel beklemtoon.

Vers 18-20 gee meer besonderhede oor die spesifieke klere wat Samuel se ma vir hom gemaak het. Daar word van twee soorte kledingstukke melding gemaak. Die een is ’n linneskouerkleed of efod, wat ’n priesterlike kledingstuk was. Dit is simbolies van Samuel se toekomstige priesterskap en die sentrale rol wat hy as sogenaamde “koningmaker” sou vervul met die salwing van Saul en Dawid. Die ander kledingstuk was ’n manteltjie wat Hanna elke jaar vir Samuel gebring het soos hy groter geword het. Dit was spesiaal in die sin dat dit moontlik ook uitdrukking gegee het aan haar verhouding met haar seun. Dit was ’n spesiale geskenk aan haar seun elke jaar wanneer sy die tempel besoek het.

In vers 20 lees ons dat Eli elke keer met hulle besoek vir Elkana en Hanna geseën het met die woorde: “Mag die Here jou uit hierdie vrou ’n nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is.” “Afgesmeek” of “gevra” is ’n sleutelbegrip wat sewe keer elders in 1 Samuel voorkom. Volgens sommige kommentatore sinspeel die skrywer met hierdie begrip doelbewus op die volk se versoek vir ’n koning van hulle eie, soos die ander volke. Die volk het vir die Here ’n aardse koning gevra. Samuel se naam beteken, eenvoudig vertaal, “die een wat gevra is”. Hanna het ’n seun van die Here afgesmeek of gevra. So word Samuel aan Hanna gegee, maar ook aan Israel. Die Here gee wie Hy verkies om tot diens van die volk te wees.

Vers 26 noem dat Samuel gegroei het, fisiek en geestelik. Hy het ook in guns by die Here en die volk gegroei. Hofni en Pinehas, daarenteen, se sonde was baie groot voor die Here (v 17). Terwyl Samuel dus groot geword het in die oë van die Here, het Eli se seuns se sonde groter geword in die oë van die Here. Eli se seuns het teen die Here en teen die mense gesondig. Hier word net klem geplaas op hulle sonde teen die Here. Sonde teen die volk kan vergewe word, maar vir die sonde teen die Here is daar blykbaar, volgens Eli, nie enige bemiddeling nie.

Konteks

Hierdie karakterryke verhaal met sy dramatiese diepte en teologiese misterie het mense deur die eeue aangegryp. Die menslikheid van die karakters en hulle gevolglike feilbaarheid bied baie stof tot nadenke. Naas Genesis is daar nie nog ’n boek in die Bybel met soveel karakters en drama nie. Daarom behoort daar baie moontlikhede te wees om uit 1 en 2 Samuel as geheel te preek. In hierdie studie is ons egter tot 1 Samuel 2:18-20, 26 beperk, wat ietwat van ’n uitdaging bied. Ek kon nie voorbeelde van enige vorige preke wat oor hierdie teksgedeelte handel, in die geraadpleegde bronne opspoor nie. In vorige uitgawes van hierdie reeks is 1 Samuel 2:1-10 gebruik.

Daar is ’n paar dinge wat na my mening in gedagte gehou behoort te word wanneer daar oor hierdie teks gepreek word. Eerstens is die teks vir ’n ongewone tyd in die kerkjaar ingedeel. Dit val op die Sondag direk ná Kersfees, en die Sondag daarna is weer die eerste Sondag van die nuwe jaar – Epifaniefeesdiens. Dit lyk vir my na ’n soort oorgang-Sondag of brug-Sondag tussen die ou jaar en die nuwe jaar; dit hang dus af of ’n mens vorentoe of terug wil kyk. Daarby is dit ’n Sondag wat nie juis met goeie kerkbywoning kan spog nie.

Die tema van oorgang van die oue na ’n nuwe is sentraal in die teks en kan moontlik as aansluitingspunt oorweeg word vir hierdie spesifieke Sondag waar mense se gedagtes moontlik ook oorwegend op die nuwe jaar gefokus is. Samuel was ’n oorgangsfiguur tussen die oue en die nuwe. In die voorgeskrewe teks kry ons, literêr gesproke, ’n kunstige skets van hoe die terrein voorberei word vir verandering en oorgang in Israel, vanaf ’n teokrasie na ’n monargie. Samuel se geboorte word geskets teen die agtergrond van ’n dringende behoefte aan verandering in Israel.

Daar is interessante raakpunte of ooreenkomste tussen 1 Samuel 2 en die geboorteverhaal van Jesus. Die loflied van Hanna in 1 Samuel 2:1-10 en die loflied van Maria (Luk 1:46-55) het soortgelyke elemente. Samuel se diens in die tempel herinner ook aan Jesus in die tempel in Jerusalem waar sy ouers Hom tydens die Paasfees gesoek het (Luk 2:41-52). Samuel het grootgeword en hy was in guns by God en die mense (1 Sam 2:26). In Lukas 2:52 word dieselfde van Jesus gesê. Daar was dus fisieke sowel as geestelike groei en ontwikkeling by albei. Al hierdie ooreenkomste is waarskynlik die rede vir die RCL-indeling van hierdie teks op die eerste Sondag ná Kersfees.

Die verskil tussen Jesus en Samuel is egter dat Jesus Hom vrywillig in die tempel tussen die geestelike leiers bevind. Samuel word onder Eli se sorg geplaas, nie uit eie keuse nie. Sy ma het ’n belofte aan die Here gemaak om Samuel aan Hom te leen vir sy diens. Hierdie “lening” het toe permanent geword, soos die res van die verhaal ons leer. Om jou kind op ’n baie jong ouderdom – waarskynlik drie jaar oud in Samuel se geval – in ’n vreemdeling se sorg te laat, is ’n gedagte waarmee ons as ouers ons vandag nie maklik kan vereenselwig nie. Ons kan ons maar net probeer voorstel watter emosies Samuel en sy ma in die oomblikke van skeiding en afskeid ervaar het.

Die teks sou om hierdie rede ook goed benut kon word vir ’n doopgeleentheid of moontlik ook tydens ’n jeugdiens. Kinders het versorging nodig om fisiek en geestelike te kan groei. Eersgenoemde is byna vanselfsprekend vir ouers, maar laasgenoemde kom nie vanself nie. Geestelike groei en ontwikkeling by jong kinders vereis die doelbewuste leiding van toegewyde ouers. Elkana en Hanna se toewyding en belofte in dié verband, kan as moontlike voorbeeld dien.

Predikers moet egter waak teen moralistiese prediking oor die karakters. Predikers moet hulle vergewis van die rolle van die karakters in die breër konteks van die verhaal. Hoewel Samuel, Saul en Dawid klaarblyklik die hoofrolspelers is, bly die Here sentraal. Hou die menslikheid van die karakters in gedagte en moet hulle nie as supermense of -helde probeer voorhou nie. God se genade en wil staan bo alles. Hy bring die verandering en stuur sake in ’n rigting, selfs deur die feilbaarheid van die karakters.

So mag ons byvoorbeeld nie vir Eli oppervlakkig veroordeel as ’n swak pa nie. Hy het immers sy seuns oor hulle slegte dade aangespreek. Daarom word hy in die teks sagter hanteer en sy seuns sterker veroordeel. Die Here het reeds sy keuse gemaak; gevolglik was daar geen bemiddeling vir Eli se seuns moontlik nie (2:25-26).

Ook Samuel en Dawid as die hoofkarakters in 1 en 2 Samuel sou later in die verhaal selfsugtig en in eie belang optree. Samuel se seuns sou ook later in die verhaal ongehoorsaam optree en hom teleurstel. Dawid, die held uit ons Sondagskool- en kinderjare, het met Batseba ’n buite-egtelike verhouding aangeknoop. Dit kan ons ten minste nie van Saul sê nie. Soos in ander verhale van die Godsvolk, is getrouheid nie primêr in mense gesetel nie, maar in die God van die verbond.

Wees dus waaksaam vir hoe daar oor die karakters gepreek word. Hulle was, afgesien van hulle rolle in die verhaal, net mense soos ons. Ons moet die Here se handelings agter en deur die karakters belig. Samuel se diens en toenemende toewyding aan die Here is sentraal in die teks.

Ons teks raak ook die tema van leierskap en morele verval aan. Ons het in krisistye waardige leiers nodig wat hoop kan bied. Nasionale leiers het die potensiaal om óf goeie, postiewe verandering teweeg te bring óf hulle kan ’n nasie na ondergang lei. Daar is talle voorbeelde daarvan in Afrika en elders in die wêreld.

Die literêre struktuur van die teks bring ook die tydlose tema van probleemoplossing na vore. Die teks daag ons uit om oplossings vir die probleme en uitdagings van ons tyd te soek. Dit wys vir ons dat die Here dikwels eenvoudige en ongewone maar gehoorsame mense gebruik om transformasie te bewerkstellig en sy wil te laat seëvier. Mense soos Hanna – ’n onvrugbare vrou wat in haar samelewing as nutteloos beskou sou word. Die oorgangstyd vir Israel het by die pleitgebede van hierdie onvrugbare vrou en haar onervare jong seun se getroue diens begin.

Preekvoorstel

Ter inleiding net eers die volgende nota. In die preekvoorstel wat volg, sluit ek aan by die gedagte van die ooreenkoms tussen Jesus in die tempel in Jerusalem en Samuel in die tempel in Silo. Uit die aard van die doel van Jesus se geboorte kan ons natuurlik nie lynregte parallelle tussen hierdie twee kinderfigure in die Bybel trek nie. Dit is nie die doel van die preek nie. Die preek wil eerder poog om ’n sinvolle verband te vind tussen Kersfees en die Sondag wat daarop volg (wat in 2021 net ’n dag uitmekaar is). Ek het ’n vermoede dat sommige gemeentes moontlik selfs nie eens ’n erediens die volgende dag sal hê nie. Daarom sou die preek ook vir ’n latere geleentheid as doop- of gesinspreek benut kon word.

Waaroor preek ’n mens die dag ná Kersfees? Watter boodskap hou hierdie dag vir ons in? Ons het pas die geboorte van Jesus gevier; die boodskap van sy geboorte is dus nog vars in ons geheue en in ons harte. Vandag se teks herinner ons aan die geboorte van nog ’n besonderse kind in die Bybel: Samuel.

Daar is interessante ooreenkomste tussen dié twee kinders se kinderjare. Ons kan kortliks daarna kyk. Albei kinders se ouers het jaarliks die tempel besoek om godsdienstige pligte na te kom (1 Sam 2:19; Luk 2:41). In ons teks is Samuel in die tempel in Silo. Lukas 2:41-52 vertel van Jesus waar Hy in die tempel in Jerusalem bedrywig is. Albei bevind hulle in die geselskap van geestelike leiers. Samuel is in die sorg van die priester, Eli, en Jesus is in die teenwoordigheid van Skrifgeleerdes. Van albei lees ons dat hulle grootgeword het en in guns was by God en die mense (1 Sam 2:26; Luk 2:52). Maar dit is min of meer waar die ooreenkomste eindig.

Die verskil tussen die twee jong kinders lê in hulle ervaring in die tempel. Jesus was op twaalfjarige ouderdom in die tempel in gesprek met die Skrifgeleerdes, uit eie keuse. Sy ouers het gedink hy het verdwaal. Samuel is in die tempel in Silo omdat sy ma, Hanna, die Here belowe het om Samuel aan die Hom te leen nie, nie omdat hy dit self so verkies het nie. So word Samuel op ’n baie jong ouderdom in die sorg van die priester, Eli, gelaat. Hierdie “lening” het permanent geword, soos die verhaal ons verder leer. Om jou kind op ’n baie jong ouderdom – waarskynlik drie jaar oud in Samuel se geval – in ’n vreemdeling se sorg te laat, is ’n gedagte waarmee ons as ouers ons vandag nie maklik kan vereenselwig nie. Ons kan ons maar net probeer voorstel watter emosies Samuel en sy ma in die oomblikke van skeiding en afskeid ervaar het.

Dit het gelukkig met Samuel goed gegaan onder Eli se sorg in die tempel. Die tema wat sentraal staan in ons teksgedeelte is dat Samuel die Here getrou gedien het en dat hy in guns was by die Here en by die mense (2:18, 26). Die skrywer beklemtoon Samuel se diens aan die Here en stel dit teenoor die goddeloosheid van Elia se seuns; daarom gebruik die skrywer twee keer die woord “maar” (aan die begin van vers 18 en 26). Deur hierdie woordkeuse word ’n skerp kontras of teenstelling getref tussen die gedrag van Samuel en dié van Eli se seuns. Vers 18 sê: “Maar Samuel het die Here gedien,” en vers 26 sê: “Maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind.” In skrille kontras hiermee word van Eli se seuns gesê dat hulle slegte mense was (2:12) en dat hulle sonde groot was in die oë van die Here (2:17). Daar kan kortliks na hulle sonde verwys word soos dit in 2:12-17, 22-25 beskryf word. Hulle gruweldade voor die Here was groot. Daar was geen vergifnis meer vir hulle moontlik nie (2:25). Dit was die begin van die einde van die Elimiete.

Uit die teks word dit duidelik dat die Here vir Samuel voorberei het om die priesterskap en leierskap in Israel oor te neem. Samuel was verantwoordelik vir die oorgang in Israel vanaf ’n losse federasie van stamme na ’n monargie. As sogenaamde “koningmaker” sou hy vir Saul en later vir Dawid as die eerste konings van Israel salf. Dit is waarom ons in vers 26 lees: “Maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind.”

Laat ons ten slotte nie vergeet van die belangrike rol wat Samuel se ouers, veral sy ma, Hanna, in sy kinderjare vervul het nie. Samuel het ’n groot deel van sy lewe onder Eli se leiding deurgebring. Dit was egter Hanna wat haar belofte aan die Here nagekom het deur vir Samuel aan Hom te leen of terug te gee (2:20). Vir moderne ouers beteken dit dat ons ons kinders behoort groot te maak as kinders wat aan die Here behoort en nie net aan ons nie. Samuel het volgens vers 26 in twee opsigte gegroei: fisiek en geestelik. Vir ouers is die fisieke versorging van hulle kinders vanselfsprekend. Die geestelike versorging en ontwikkeling van ons kinders is egter ’n saak wat ons deur (doop)beloftes aan die Here moet vasmaak, want dit is blykbaar iets wat nie vanselfsprekend sou gebeur nie. Hierdie teks herinner ons opnuut aan dié dubbele verantwoordelikheid wat ons as ouers het ten opsigte van die grootmaak van ons kinders.

Bibliografie 

Auld, Graeme 2011. I & II Samuel: A commentary. Louisville, Kentucky: John Knox Press; Arnold, Bill T 2003. 1 and 2 Samuel: The NIV application commentary from biblical text – to contemporary life. Zondervan; Anthony F Campbell, SJ. 2003. I Sameul: The forms of the Old Testament literature, Volume II. Eerdmans; Alter, Robert 1999. The David story: A translation with commentary of 1 and 2 Samuel. WW Nortan & Company; Bodner, Keith 2009. I Samuel: A narrative commentary. Sheffield Phoenix Press; Fox, Everette 2014. The early prophets: Joshua, Judges, Samuel, and Kings. New York: Schocken Books; Steussy, Marti J 2010. Samuel and his God. Universaty of South Carolina.

© Missio 2024 | All rights reserved.