Sondag na Kersfees

Sections

Oorsig

Leesroostertekste

Sleutelteks: 1 Samuel 2:18-20, 26
Ander tekste: Psalm 148; Kolossense 3:12-17; Lukas 2:41-52

Psalms 148:1-14
Sy Naam alleen is hoog verhewe

148 Prys die Here!
Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
2Prys Hom, alle engele,
prys Hom, alle hemelwesens!
3Prys Hom, son en maan,
prys Hom, alle sterre!
4Prys Hom, hoogste hemele,
en waters in die hoë hemelruim!
5Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want Hy het beveel
en hulle is geskep;
6Hy het hulle vir altyd
hulle vaste plek gegee,
vir hulle ’n orde neergelê
waarbuite hulle nie kan
beweeg nie.
7Prys die Here van die aarde af,
seediere en al die oseane,
8weerlig en hael, sneeu en miswolke,
stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
9berge, al die heuwels,
vrugtebome, al die seders,
10wilde diere, al die vee,
al wat kruip of vlieg,
11konings van die aarde, alle volke,
vorste, alle regeerders van die aarde,
12jong manne en meisies,
grysaards saam met seuns!
13Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want sý Naam alleen is hoog verhewe,
sy majesteit strek oor die aarde
en oor die hemel.
14Hy het aan sy volk mag gegee.
Dit is die roem
van al sy troue dienaars,
die Israeliete,
die volk naby wie Hy is.
Prys die Here!

Kolossense 3:12-17
12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Lukas 2:41-52
Die Kind Jesus by die tempel
41Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. 42Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. 43En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. 44Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle ’n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. 45Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. 46Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. 48Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”

49Maar hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”
50Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.
51Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.
52En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.

1 Samuel 2:18-26
SAMUEL SE FAMILIE
18Samuel het voor die Here diens gedoen – ‘n seuntjie wat ‘n efod van linne aangehad het 19en ‘n klein manteltjie wat sy moeder vir hom gemaak en vir hom geneem het wanneer sy jaar ná jaar saam met haar man opgegaan het om die jaarlikse offer te slag. 20Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën. Hy het gesê: “Mag die Here vir jou uit hierdie vrou ‘n nageslag vestig in die plek van hom wat van die Here gevra is.” Daarna het hulle na hulle woonplek gegaan.
21Omdat die Here na Hanna omgesien het, het sy swanger geword. Sy het aan nog drie seuns en twee dogters geboorte gegee.
Maar die seuntjie Samuel het by die Here grootgeword.

VEROORDELING VAN ELI SE SEUNS
22Eli was al baie oud. Toe hy hoor wat sy seuns alles aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap het met die vroue wat diens doen by die ingang van die Tent van Ontmoeting, 23sê hy vir hulle: “Waarom doen julle hierdie dinge, dat ek telkens van julle slegte gedrag moet hoor by hierdie hele volk? 24Nee, my seuns! Want die gerug wat ek hoor besig is om onder die volk van die Here te versprei, is nie goed nie. 25As een mens teen ‘n ander mens sondig, kan God die saak vir hom beslis. Maar as dit teen die Here is wat ‘n mens sondig, wie sal dan sy saak behartig?” Hulle het egter nie na hulle vader geluister nie, want die Here wou hulle om die lewe bring.
26Die seuntjie Samuel, daarenteen, het in aansien en guns gegroei, by sowel die Here as by die mense.
Samuel het van baie vroeg af verstaan wat dit beteken om ‘n goeie mens te wees, in aansien by die Here sowel as by die mense. Twee invloede het ‘n rol gespeel: 1) Sy ma Hanna wat hom nie net afgebid het van die Here, toe sy kinderloos was,  maar aan die Here gegee het om Hom te dien in die tempel. En sy het hom steeds ondersteun deur hom te besoek en klere vir hom te neem. 2) Die toesig van Eli, wat op kritieke tye in Samuel se lewe, vir hom ‘n mentor was. Was hy maar so met sy eie seuns, het dinge miskien verskillend vir hulle almal uitgedraai.

Die belangrikste van Samuel egter was dat hy die Here gedien het, selfs voordat hy God se stem gehoor het, soos ons in hoofstuk 3 lees. Vers 21 sê eintlik dat Samuel by die Here grootgeword het, dws in die teenwoordigheid van God: letterlik “saam met Jahwe“. Dieselfde frase kry ons wanneer Moses se posisie in Eks 34:28 beskryf word: “Moses was veertig dae en nagte by die Here“.  Samuel het dus ‘n Moses-tipe verhouding met die Here gehad. Die gevolge vir hom word uitgespel in vers 26: “Samuel het in aansien en guns gegroei, by sowel die Here as by die mense.” ‘n Goeie mens wat geëer word deur God en in die guns van mense gekom het. En dit is interessant hoe hy dié goeie mens gebly het tot aan die einde van sy lewe – sonder dat hy ooit geval het vir die versoekings van ‘n goeie lewe. 1 Samuel 12 vertel hoe hy aan die einde van sy lewe verwys daarna dat hy niemand se os of donkie gevat het nie; dat hy niemand benadeel of verdruk het nie; dat hy nie omkoopgeld aanvaar het nie.

Die goeie nuus van die Kersfees-kind Jesus is dat Hy nog beter as Samuel die geheim van ‘n goeie lewe verstaan het. Daarom noem Hy mense gelukkig wat sy lewensweg gevind het.  Hoe pragtig spel Hy dit nie uit in die Bergrede nie:“Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt 5:3). Die boodskap van die Nuwe Testament is dat dit sulke mense is wat ‘n ware goeie lewe het, omdat God besig is om hulle goeie mense te maak, deurdat hulle sy kinders geword het, en Hy daagliks besig is om dit meer en meer ‘n werklikheid in hulle lewe te maak.

Inleiding
Die geseënde verhaal van 1 Samuel laat (deur ‘n besonderse kind-priester) die hemelse guns na die aarde uitkring in ‘n hernude verhouding tussen God en mens. Die psalm vervleg hemelse en aardse lofprysing. Kolossense roep gelowiges op tot ‘n gemeentelike liturgie van meelewing, dankbaarheid en lof. In Lukas ontmoet ons Jesus as die nuwe Samuel in die tempel.

Liturgie self kom in die teksgedeeltes as samebindende tema sterk na vore. Die koms van God na die mens en die nuwe verhouding vol hoop sal in die liturgie weerklink. Dit bied ‘n uitstekende geleentheid om in die Kerstradisie met sang en lofprysing (meer as gewoonlik) vir die nuwe jaar gereed te maak.

Liturgie

Daar is in die liturgie gebruik gemaak van Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar sowel as van vorige bydraes by Preekriglyne. Bestel produkte by www.bmedia.co.za of sluit aan by missio.org.za.

Powerpoint

Die foto sluit aan by die karakters van Hanna en Samuel. Dis vanaf piqsels.

Of gebruik die meer algemente foto vanaf pxherecom, wat nog aansluit by Kersfees en die ster wat met Epifanie ter sprake kom.

 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Ons steek die Christuskers aan om ons te herinner dat die Lig vir die wêreld op daardie eerste Kersnag gebore is.

Aanvangslied:Lied 345 “Kom alle getroues vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord:  (Uit Ps 148)
Prys die Here in die hoë hemel!
Prys Hom, alle engele, alle hemelwesens;
Prys Hom, son en maan, sterre, hoogste hemele
Prys die Here!

Seëngroet  
Genade en vrede vir julle van God wat gekom het, weer kom en elke dag in ons lewens kom!

Lied 365 “Hoor die blye eng’lelied vs 1,2,3”

Wet: Kolossense 3:12-17
12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Skuldbelydenis: Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Vryspraak: Johannes 1:9-14
9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.

Geloofsbelydenis met Kersfees (Teks uit DB)
Ek glo in Jesus Christus,
afstammeling van Abraham, met wie God ‘n verbond gesluit het,
en van Dawid, die groot koning van Israel.
Jakob was die pa van Josef, die man van Maria, die vrou wat Jesus in die wêreld gebring het.
Ek glo in Jesus Christus,
vooruit aangekondig deur God se engel Gabriël,
ontvang van die Heilige Gees,
met die naam Jesus, om sy volk van hulle sondes te verlos;
met die naam Immanuel, om God by ons te wees.
Ek glo in Jesus Christus,
deur God beskik vir geboorte in Bethlehem,
sonder Augustus en Sirenius se beterwete.

Saam met Maria juig ek oor God my redder,

want Hy het ook groot dinge aan my gedoen.

Saam met die sterrekeykers wat goud en wierook en mirre aanbied,

kom bied ek myself aan,

uit dankbaarheid vir God wat onder ons mens geword het.
Saam met die skaapwagters verstom ek my
oor die engelekoor in die hemelruim.
En saam met die engele juig ek:
die goeie nuus is vir die hele volk bedoel-
die Redder is in die stad van Dawid gebore!
Dit is die Messias wat mense van hulle sonde sal vrymaak,
die kind in die houtkrip
wat sy roeping sou vervul aan ‘n houtkruis.

Loflied: 344 “O die goeie tyding vs 1,2,3”

 

 

God praat met ons en ons luister

 

Epiklese (Ahv Psalm 148)
Aan U Here- aan U alleen
kom die lof toe. Halleluja.
Alles wat leef, beweeg en is
moet die Here prys.

U naam alleen is hoog verhewe;
U majesteit is oor aarde en hemel.

Konings en vorste,
manne en vroue,
oues en jonges-
almal prys U Naam!

Die skepping,
die aarde met sy natuurwonders en mense,
die hemel met sy planete en wesens,
alles wat leef, wat beweeg en wat is
moet die Here prys.

Want U Here is skepper en onderhouer,
U het tydlose ritmes bepaal-
U het selfs vir U ‘n volk uitgekies!
Prys die Here, halleluja!

Mag die woorde van my mond
en die oordenking van my hart
welbehaaglik wees voor u aangesig,
o Here, my rots en my verlosser!

Skriflesing: 1 Samuel 2:18-26

Familie-oomblik
Prediking

God stuur ons om te leef

 

Gebed
Ons loof u Naam, o Here,
ons wil vrolik juig;
met harp en lier getuig,
met snare sing u ere.

U goedheid laat ons lewe.
ons oggendlied wil sing,
ons aandlied hulde bring.
U trouheid loof ons, Here.

Ons juig oor U, o Here –
hoe groot is al u werk,
u dade onbeperk,
u denke so oneindig.
(n.a.v. Vonkk 20)

Offergawes

Wegsending: Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”

Seën
Liturg (L): Mag die God van die engele wat Christus se geboorte aangekondig het, vreugde in julle harte bring op hierdie dag en vir altyd.
Gemeente (G): Amen.

L: Mag die God van liefde wat sy enigste Seun vir ons gegee het, julle lewe met liefde en vrede vul.
G: Amen.

L: Mag Immanuel, God met ons, met julle wees in alles wat julle doen, totdat Hy julle in sy ewige koninkryk laat ingaan.
G: Amen.

V: Die almagtige God, Vader, Seun en Heilige Gees, seën julle, nou en vir ewig.
G: Amen.

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.
U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.
U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

Liedere

VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”
Nav Johannes 12:46 Teks: Jésus le Christ – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Albert Troskie 2009 (Pro Deo) Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.  Met toestemming gebruik (Frans, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief  – Advent

Jesus, U is die lig in ons lewe;
laat tog nie toe dat die donker oor ons kom.
Jesus, U is die lig in ons lewe;
Maak ons ontvanklik vir u liefde, o Heer.

Jésus le Christ, lumière intérieure,
ne laisse pas mes ténèbre me parler.
Jésus le Christ, lumière intèrieure,
donne moi d’accuellir ton amour.

Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let not my doubts nor my darkness speak to me.
Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let my heart always welcome your love.

F319. “Want ’n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”
(RUBRIEK: Flam / Flammikidz – Kersfees) Oorspronklik: Immanuel Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 1993 Celmar Music

1. Want ’n kind is vir ons gebore,
God het sy Seun aan ons gegee.
Die heerskappy rus op sy skouers
en sy Naam sal wees:

Refrein:
Wonderbare Raadsman, Magtige God,
Ewige Vader, die Vredevors.

Immanuel,
God met ons.
Immanuel,
God met ons,
Immanuel.

2. Want so lief het God die wêreld,
Hy het sy Seun aan ons gegee
sodat die wat nou in Hom glo
leef tot in ewigheid.

Refrein:

Familie-oomblik

Gebruik op hierdie eerste Sondag na Kersfees die addisionele teks oor die vlug na Egipte. Vertel die storie dramaties…

Lukas 2:41-52
Die Kind Jesus by die tempel
41Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. 42Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. 43En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. 44Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle ’n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. 45Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. 46Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. 48Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”

49Maar hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”
50Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.
51Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.
52En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.
Die vertaling uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999 word aangeheg.

Jesus in die Tempel

41–45 Jesus se ouers het elke jaar na Jerusalem toe gegaan om die paasfees te vier. Toe Hy twaalf jaar oud was, is hulle weer soontoe. Na die fees is hulle terug na Nasaret toe. Maar Jesus het in die tempel* agtergebly. Sy ouers het dit nie agtergekom nie. Hulle het gedink Hy is by ander familielede wat ook op pad terug was. Eers ’n dag later kom hulle agter Jesus is nie by hulle nie. Maria en Josef moes toe teruggaan na Jerusalem toe.

46–47 Na ’n lang gesoek kry Josef en Maria die volgende dag vir Jesus in die tempel*. Hy het tussen die kenners van die Bybel gesit. Almal was verbaas omdat Hy so baie van die Bybel weet.

48 Toe Maria en Josef vir Jesus daar sien, was hulle omgekrap. Maria sê dadelik vir Hom: “Hoekom het jy dit aan ons gedoen? Ons is al dood van bekommernis oor jou. Ons soek oral na jou!”

49–50 Maar Jesus sê: “Hoekom soek u na My? U weet mos Ek moet in die huis van my Vader wees.” Josef en Maria het nie verstaan wat Jesus vir hulle sê nie.

51 Hierna is Jesus saam met sy ouers terug na Nasaret toe. Maria het gereeld gedink aan alles wat gebeur het.
52 Jesus het gou groot geword. Almal het gesien dat Hy baie kennis van God het. God was baie bly oor Hom. Die mense ook.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangswoord

V: Prys die Here vanuit die hemele,

prys Hom in die hoë hemel!

G: Prys Hom, alle engele,

prys Hom, alle hemelwesens!

V: Prys die Here van die aarde af,

seediere en al die oseane,

weerlig en hael, sneeu en miswolke,

stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,

G: Dit is die roem

van al sy troue dienaars,

die volk naby wie Hy is.

– uit Psalm 148

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing: 1 Samuel 2:18-20, 26

Gemeentesang

Psalm 148

Preek

 

Diens van die Tafel

Dankoffer

Skriflesing: Kolossense 3:12-17

Nagmaal

V: In ons wêreld in,

soos in die skoot van Maria …

G: Kom, Here Jesus!

V: Op al die vergete plekke,

soos in die stal van Bethlehem …

G: Kom, Here Jesus!

V: Bring hoop in die lewe van armes;

bring wysheid in die lewe van magtiges;

bring rus in die lewe van vermoeides;

bring onrus in die lewe van oorgerustes;

in ons lewe en in ons verlangens,

wie ons ook al is …

G: Kom, Here Jesus!

V: Dit is die goeie nuus:

Christus is gebore.

Christus kom weer.

G: Kom, Here Jesus! Kom gou!

Sang

 

Instellingswoorde

 

Uitdeel en gebruik van die brood en die wyn.

 

Gebed

Gebed op bladsy 283-284 van Handleiding vir die erediens, Bybel-Media, 2010.

 

God stuur ons uit

Seën

V: Prys die Here van die aarde af,

konings van die aarde, alle volke,

vorste, alle regeerders van die aarde,

jong manne en meisies,

grysaards saam met seuns!

G: Laat ons die Naam van die Here prys,

want sý Naam alleen is hoog verhewe (Ps. 148).

V: Laat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in julle bly (Kol 3:16).

En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus

en dank God die Vader deur Hom (Kol 3:17).

Want God is met julle!

In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

G: Sing een van die Amen-liedere.

 

Musiek en sang

Lofliedere: Lied 365/NSG 90 “Hoor die blye eng’lelied”; Lied 356 “Ons het gehoor die Hemelheer”; 349/NSG 82 “Kom, kinders, besing met ‘n vrolike stem”; NSG 92“Joy to the World”; Flam 142“Kom Jesus, kom”

Kinderliedere: Lied 374/NSG 62“‘n Ster het in die ooste”; Lied 357 “‘n Kindjie is gebore”

Geloofsbelydenis: Lied 260:3/NSG 348:2“Ek glo Jesus, wat ontvang is deur die werking van die Gees”

Skuldbelydenis: Lied 542/NSG 88“Jesus, ons loof U”

Aan tafel: Vooraf: Lied 388 “Die Woord het deur die eeue”; ná tafeldiens: Lied 329 “Want so lief het God die wêreld”

Uitsending: Lied 334/NSG 67“God is liefde”

 

Teks en konteks – 1 Samuel 2:18-20, 26

Bybel-Media se Woord en Fees bevat skitterende agtergrondsinligting oor die teks. Besoek www.missio.org.za om op die inhoud in te teken.

Preekvoorstel

Ons lees graag verhale van die sterre van ons wêreld. Ons is gefassineer met die glans van hulle prestasies en hulle leefwêreld.

Maar wat sit agter ons fassinasie met sulke sterre?

Dallas Willard dink dat dit te make het met die vraag na ‘n goeie lewe. Wat is ‘n goeie lewe?

Wat is ‘n goeie lewe?

Almal van ons worstel met dié vraag. Dit is in ons natuur om ‘n goeie lewe na te jaag. Ons wil graag suksesvol wees. Ons wil die vrugte van sukses pluk. En selfs wanneer ons dit nie maak in ons eie of ander se oë nie, bly dit vir ons ‘n droom. En reageer ons op ons mislukkings met óf rebellie – ons raak teenstanders van sukses of die establishment – óf depressie – ons gooi tou op en raak moedeloos met ons lewe.

En laat ons nou maar eerlik wees, dit help nie om negatief te reageer op dié drang in elkeen van ons nie. Want dit is in ons make-up ingeweef. Dit is baie beter om konstruktief na te dink oor die maniere waarop ons die goeie lewe najaag waarmee ons ook die gevolge van ons keuses kan uitspel.

Geld, besit, status en eer

Een manier waarop ons die goeie lewe najaag, is deur te fokus op geld en besittings en status en eer en prestasies en aantreklikheid, want dit is waarmee ons die goeie lewe assosieer. Die sterre van ons wêreld het immers baie keer hierdie goed. Daarom dink ons dat hulle die goeie lewe het. En, heimlik wil ons ook dié tipe lewe hê, want dit is tog ‘n goeie lewe!

As ‘n ster blyk voete van klei te hê, bly ons steeds gefassineer met hulle, baie keer omdat ons dink, as ons darem in só ‘n posisie was, sou ons slimmer gewees het. Ons sou die goeie lewe kon geniet, sonder om dwaas op te tree en alles prys te gee.

Geheim van ‘n goeie lewe

Ons moet egter dieper nadink oor die goeie lewe. Wat is die geheim van ‘n goeie lewe?

Die verhaal van Samuel gee vir ons ‘n goeie idee van hierdie geheim. Dit is een van die verhale in die twee boeke wat na hom vernoem is, wat inspireer. Dit is ook ‘n verhaal wat waarsku. Want, die deel wat ons gaan lees, kontrasteer sy lewe met dié van Eli se kinders, Hofni en Pinehas, wat die geheim van ‘n goeie lewe gemis het.

Kom ons lees dit in 1 Samuel 2:18-26 [Lees die teks voor]:

Twee invloede

Ons sien hier dat Samuel van baie vroeg af verstaan het wat dit beteken om ‘n goeie mens te wees.

Twee invloede het ‘n rol gespeel:

  • Sy ma Hanna wat hom nie net afgebid het van die Here toe sy kinderloos was nie, maar hom aan die Here gegee het om God te dien in die tempel. En sy het hom steeds ondersteun deur hom te besoek en klere vir hom te neem.
  • Die toesig van Eli, wat op kritieke tye in Samuel se lewe, vir hom ‘n mentor was. Was hy maar so met sy eie seuns, het dinge miskien verskillend vir hulle almal uitgedraai.

“By die Here”

Die belangrikste van Samuel egter was dat hy die Here gedien het, selfs voordat hy God se stem gehoor het, soos ons in hoofstuk 3 lees. Hy was van die begin af “by die Here.”

Dit is wat vers 21 bedoel as dit sê dat Samuel by die Here grootgeword het, d.w.s. in die teenwoordigheid van God: letterlik “by Jahwe“. Dieselfde frase kry ons wanneer Moses se ervaring in Eksodus 34:28 beskryf word: “Moses was veertig dae en nagte by Jahwe“. Samuel het dus ‘n Moses-tipe verhouding met die Here, sê die skrywer vir ons.

En die gevolge vir hom word uitgespel in vers 26. Samuel:

“het in aansien en guns gegroei, by sowel die Here as by die mense.”

God het al hoe meer genade aan Samuel gegee en terselfdertyd het Samuel in aansien by die mense gegroei.

Dit is die geheim van ‘n goeie lewe. Om “by Jahwe” te wees. Om in sy teenwoordigheid te lewe.

En dit is interessant hoe Samuel deur hierdie allesoorheersende invloed van die Here self getrou kon bly tot aan die einde van sy lewe – sonder dat hy ooit geval het vir die versoekings van ‘n goeie lewe. In 1 Samuel 12 vertel die skrywers vir ons dat Samuel aan die einde van sy lewe verwys daarna dat hy niemand se os of donkie gevat het nie; dat hy niemand benadeel of verdruk het nie; dat hy nie omkoopgeld aanvaar het nie.

Skerp kontras

Samuel se lewe is in sterk kontras met die seuns van Eli. Soos ons hier gelees het, het hulle die goeie lewe nagejaag, sonder om enige effort in te sit om “by Jahwe” te lewe.

Hulle het eintlik soos celebrities gelewe, met baie kos en baie vrouens:

  • Hulle het net rou vleis van die Israeliete gevat en nie gekookte vleis nie (want dan kon jy meer vleis uithaal, omdat rou vleis makliker vassit aan ‘n vurk as gaar vleis) en dit boonop ook met geweld afgedreig. Daarmee het hulle nie net die wet oortree nie, maar die mense ook hulle agting laat verloor vir die offer van die Here. Die hele idee van versoening met God het daarmee gedreig om in diskrediet te kom (vers 15-17);
  • Hulle het by die vrouens geslaap wat by die ingang van die tent van ontmoeting diens doen, wat nie net immoreel was nie, maar ook die Israelitiese godsdiens daarmee tot dieselfde vlak as die Kanaänitiese vrugbaarheidsgodsdiens laat daal, en die volk verlei het om God te dien, soos wat Baäl onder die Kanaäniete gedien is (vers 22-25).

Eli se sonde in dié verband was dat hy net gekla het oor hulle sondes, maar nie opgetree en ‘n stokkie daarvoor gesteek het nie, iets wat hy uit hoofde van sy posisie in staat was om te doen.

Let ook op hoe Eli blykbaar meer bekommerd is oor wat die mense oor sy seuns sê as oor hulle gedrag per se en die effek wat dit op die eer van die Here het.

Verloor die goeie lewe

En die gevolge vir die seuns en vir Eli is aardskuddend. Hulle verloor letterlik die goeie lewe. Omdat hulle nie naby die Here gelewe het nie.

Die Here besluit daarom om Hofni en Pinehas dood te maak, soos een kommentaar sê:

they sinned past the zone of grace. They had entered the zone of judgement, where the Lord’s activity hardens the heart rather than convicting of sin.

Eli verspil só die uitsoek posisie wat sy voorvader Pinehas, kleinseun van Aäron, en na wie sy een seun vernoem is, vir hulle familie verwerf het, dat God ‘n verbond met hulle gesluit het dat hulle ‘n blywende priesterskap sou hê (Num. 25:5-8)!

Hulle voorvader Pinehas het met dapper gehoorsaamheid en toewyding aan die Here opgetree, deur die Israeliet wat ‘n Midianitiese vrou binne die laer ingebring het, dood te maak, en so God se toorn te laat bedaar weens Israel se afgodsdiens, nadat 24 000 van hulle al omgekom het.

Die priesterlike dinastie van Sadok (2 Sam 8:17) vervang daarom dié van Pinehas-Eli, wat tot in die Nuwe Testament so bly.

Eli se nageslag word ook op een na uitgewis.

  • Dit het gebeur met die bloedbad op die priesters van Nob (1 Sam 22:6–18), toe daar net een uit Eli se nageslag vrygekom het, naamlik Abjatar (1 Sam 22:19-23). Hy het egter nie lank hierdie posisie beklee nie, maar is verban na Anatot toe (1 Kon 2:26) en Sadok, die “betroubare priester” (1 Kon 2:35), is in sy plek aangestel (1 Kon 2:25).
  • Met die hervormings van Josia is sy afstammelinge nie toegelaat om langer op die platteland werksaam te wees nie (2 Kon 23:8-9), maar is na Jerusalem toe verskuif waar hulle van die Sadok-priesters afhanklik was (vgl. 2 Kon 2:36). Nogal ‘n hele omkeer in hulle hele verhaal.

Die geheim van ‘n goeie lewe lê dus onomwonde in die fokus om by Jahwe te wees.

Maar wat sê die Nuwe Testament hieroor?

Wat is die goeie lewe?

Jesus word beskrywe as die Immanuel, die God met ons.

Die goeie nuus van die Kersfees-kind Jesus is dat Hy die geheim van ‘n goeie lewe verstaan het. Daarom noem Hy mense gelukkig wat in sy teenwoordigheid lewe. Hoe pragtig spel Hy dit nie uit in die Bergrede nie

Gelukkig is die armes van gees – dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is – want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. (Matt 5:3)

‘n Mens sou dus kon sê dat Samuel alreeds hierdie waarheid verstaan en uitgelewe het.

Die boodskap van die Nuwe Testament is daarom dat dit die geheim is van ‘n goeie lewe. Dat dit sulke mense is wat ‘n goeie lewe het, omdat hulle naby God lewe, omdat hulle God toelaat om hulle te verander, om sy genade daagliks meer en meer ‘n werklikheid in hulle lewe te maak.

En die resultate van só ‘n goeie lewe is nie van verbygaande aard, soos geld en besittings en aantreklikheid nie. Dit het ook nie net te make met jou eie selfsugtige belange nie, maar met God s’n. Die impak van só ‘n lewe is dus nie net rondom jou eie belange nie, maar in die groter prentjie van God se wêreld.

Lewe naby die Here

Ons moet vanoggend dus hoor dat ons weer ons fokus op die regte plek moet sit. Die geheim van ‘n goeie lewe lê in die fokus daarop om naby die Here te lewe.

Fokus op jou stiltetyd in die komende jaar. Werk deur die Bybel met ‘n eenjaarplan. Fokus daarop om “by die Here” te lewe. In Bybellees. In gebed. Saam met ander gelowiges. In diensbaarheid aan wat die Here vir jou wys om te doen.

Samuel wys vir ons die geheim van ‘n goeie lewe:

Die seuntjie Samuel het by die Here grootgeword.

Dit is nooit te laat om daarvoor te kies nie.

 

 

 

Volgende erediens

Psalm 72

 

 

Liturgie en familie-oomblik: Wicus Wait

Powerpoint:Rethie van Niekerk

Preekriglyn: Danie Mouton

Prosesbestuur en ekstra stof: Chris van Wyk

Liturgie

Kyk ook die lys van Vonkk en Flam Kersliedere onder “liedere” – en maak gerus nog keuses daaruit!

Opsie 1

RUS

Toetrede: Lied 358 of Flam 453

Votum: Psalm 96:1-4

Respons: Lied 344 of Vonkk 68 [bekend – Joy to the World]

Seëngroet

Lofsang Lied 345 of Vonkk 142 [bekend – Zion’s daughter]

Aansteek van Adventkerse: responsories

Lied: Lied 364 of Vonkk 256 [selfde melodie as Herders op die ope velde]

HOOR

Skriflesing: Psalm 96

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed: (n.a.v. Vonkk 20)

Slotsang: Lied 348

Seën: responsories

Respons
Lied 348 refrein vers 2: Juig, die Redder is daar! Juig, die Redder is daar!

Opsie 1
Sit na elke beweging in die preek ‘n lied – of ‘n vers van ‘n lied – in, wat aansluit by daardie beweging in die preek. Die diens is dan meer ‘n sang-diens, met sang deur die preek verweef.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede
Lied 358 “Welkom ‘n Stille Nag van Vrede” of
Flam 453 In Ons Suiderland, Ruis ’n Kersfeesklank (Suiderkruis/Karoo Kerslied)

Votum: Psalm 96:1-4
1Sing vir die Here ‘n nuwe lied, sing vir die Here, o ganse aarde! 2Sing vir die Here, prys sy Naam, verkondig sy verlossing van dag tot dag. 3Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade. 4Want groot is die Here en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode.

Respons
Lied 344 “O die goeie tyding, o die blye tyding” of
Vonkk 68 Ere aan God, bring Hom die eer! [bekend – Joy to the World]

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God, wat gekom het, weer kom en elke dag in ons lewens kom.

Lofsang
Lied 345 “Kom, alle getroues”
Vonkk 142 Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer [bekend – Zion’s daughter]

Aansteek van Adventkerse
Voorganger (V): Ons vier vandag Kersfees – die fees van Christus se geboorte toe God se Seun mens geword het en onder ons kom woon het.
Terwyl ons hierdie kerse aansteek, dank ons God vir die hoop wat ons van Hom ontvang,

(steek die eerste kers aan),
vir die vrede wat Hy skenk,

(steek die tweede kers aan),
vir die vreugde wat Hy ons hart uitstort,

(steek die derde kers aan),
en vir die liefde waarmee Hy ons verlos

(steek die vierde kers aan).
Ons dank God omdat Hy sy Seun vir ons gegee het.
Ons dank Hom omdat sy lig deur Christus in die wêreld ingekom het en dit vir ons moontlik gemaak het om tot die lig te kom en as verlostes in die lig van Christus te lewe.
Gemeente (G): U is Immanuel, God met ons. U is vir ons die bron van lig en lewe.

(Steek die Christuskers aan.)
V: Liefdevolle God en Hemelvader, Immanuel,
Ons dank U dat U God met ons is en dat U u Seun gestuur het om onder ons te woon en ons na die ware lewe te lei.
Gee dat die hoop, die vrede, die vreugde en die liefde waarvan ons in die tyd van Advent gehoor het, ’n volle werklikheid in ons sal wees – ook nou waar ons U aanbid en dien.
Deur Jesus Christus ons Here – nou en vir ewig.
G: Amen.

Lied
Lied 364 “Herders op die ope velde”
Vonkk 256 Vol van vreugde wil ons jubel [selfde melodie as Herders op die ope velde]

Liedere

F453. “In Ons Suiderland, Ruis ’n Kersfeesklank (Suiderkruis/Karoo Kerslied)”
(RUBRIEK: FLAM – Verwondering / Geloof en vertroue)
Teks en musiek: Neil Büchner, Retief Burger, Louis Brittz, Helmut Meijer
Kopiereg: © Urial Publishing

In ons suiderland, ruis ’n kersfeesklank
en die vlaktes hoor weer die englekoor
met die staldeur oop waardeur herders loop
is die spoor te vind na die Redderkind.

Pre-refrein
Kersfeesliefde kom ons haal
al het ons ook ver verdwaal.

Refrein
Lei ons soos die suiderkruis
in die rigting wat u Seun ons wys.
Met die ster vooruit vind ons ware suid
helder skyn die Jesuskruis.

Hy nooi almal uit vier dit wêreldwyd
daardie stille nag was lank verwag.

Pre-refrein
Kruishout liefde kom ons haal
al het ons ook ver verdwaal.

VONKK 68 “Ere Aan God, Bring Hom Die Eer!”
Teks: Joy to the world – Isaac Watts 1719; Tom Gouws 1993; gewysig VONKK Werkgroep 2009
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
Musiek: ANTIOCH – Lowell Mason 1848, in aansluiting by GF Handel (1658-1759)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Ere aan God, bring Hom die eer!
Hy buig in liefde neer.
Profete se verwagting
gaan heerlik in vervulling.
‘n Kind vir ons geskenk!
‘n Seun vir ons gegee!
‘n Koningskind is vir ons gegee!

2. God is met ons, Immanuel!
‘n Engel deel dit mee.
Uiteindelik het Hy gekom,
Verlosser van die mensdom.
Kom buig nou almal neer!
Kom buig voor God, die Heer!
‘n Koningskind is vir ons gegee!

3. Buig voor die Kindjie in die stal.
Hy heers oor die heelal.
Ons wonderbare Raadsman,
ons Vredevors, ons Vader.
Verheerlik Hom tesaam!
Verheerlik Hom tesaam!
‘n Koningskind is vir ons gegee!

VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”
Teks: Ernst Kotzé 2010
Musiek: JUDAS MACCABEUS – GF Handel 1746;  harmonisasie effens gewysig 2001
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Advent  / Kersfees en Epifanie

1. Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!
Ons kom in aanbidding, buig tot in die stof.
Heer, ontvang ons loflied, aan U al die lof!
Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!

2. Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!
In ons donker harte, stuur Hy weer sy lig.
Hy kom na die aarde, om ons op te rig!
Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!

Vonkk en Flam Kersliedere:
VONKK 
Al die donker is nooit net donker ………… 30
Christus, lank reeds verwag ………………. 97 Hierdie Heilige Nag / Diese heilige Nacht
Eer aan God (kanon) …………………… 128
Ere aan God, bring Hom die eer! …………  68 Joy to the World
Ere aan God in die hoogste (kanon) ………..65
Jesus bring vreugde ……………………… 124 Selfde melodie as “Jesus bring Vrede” in Liedboek
Jesus, U is die lig in ons lewe ……………  23
Lank, lank terug in Betlehem ……………. 39
Babatjie Jesus, op strooi neergelê 291
Christus is gebore / Christus natus est 251
Daardie nag in Betlehem 313
Deur profete kom oor eeue die berig 312
Die kleine dorpie Betlehem 91 O Little Town of Bethlehem 
Die kleine dorpie Betlehem (2) 228 O Little Town of Bethlehem
Ek groet jou, begenadigde 184
Gaan met die blye boodskap 209 Go tell it on the mountain
Gaudium mundo / Vreugde in die wêreld 250
God is lief vir my 213
Hoor die blye tyding 245
Hoor die hemelkore sing 244 Ding, dong, merrily on high
Hosianna, Seun van Dawid 301
In die wêreld vol donker 332
Jesaja het lank t’rug 166
Jesus, daar in Betlehem 148
Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer 142 JUDAS MACCABEUS – selfde melodie as “Zion’s Daughter”
Kom buig in die stal voor die hemelse Kind 283 Away in a manger
Let op, kinders, dis weer Kersfees! 176
Loof die Heer tesame (kanon) 242
Net soos die hemelkoor 183
Ons bring aan U die lof en eer 147 bekende melodie 
Ons gebroke wêreld sug 321
Sing ‘n nuwe kerslied 273
So lief het God die wêreld 320
U het na ons gekom, Immanuel 240 Liedboek #491?
Vol van vreugde wil ons jubel 256 Selfde melodie as Herders op die ope velde
Voordat tyd begin het 343
Vreugde in die wêreld / Gaudium mundo 250
Wees bly, al God se kinders 208

FLAM
F103-Kersfees Is ‘n Vreugdefees
F144-God Is Liefde Verwerking liedboek weergawe
F192-Die Koning Is Hier
F319 Want ‘n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)
F323 Goeie Nuus
F355-Ons loof u Naam, u heilige Naam
F367-Hoor Jy Die Eng’le (Sing Halleluja)
F368-O Heer, My God (Dit Maak My Bly) Verwerking Liedboek O Heer My God
F393-Ons Is Die Herders
F404-Jesus, Ons Loof U Retief BurgerVerwerking Liedboek
F426-God kom word mens
F453-In Ons Suiderland, Ruis ’n Kersfeesklank (Suiderkruis/Karoo Kerslied)

God praat met ons en ons luister

Skriflesing: Psalm 96

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Lees Sally Lloyd-Jones se “Song of the Stars” (vertaal dit self in Afrikaans). Jy kan dat die hele gemeente – of minstens die kinders – telkens saam met jou sê “Dis tyd! Dis tyd!”

Preekvoorstel

Die Psalm wat vandag wêreldwyd gelees word, is Psalm 96. Daar is twee redes daarvoor.

Rede 1: Sing

Aan die een kant roep Psalm 96 ons op om te sing. Om te sing van die verlossing wat die Here bring. Iets wat natuurlik onlosmaaklik met die eerste Kersfees verbind is. Met Jesus se geboorte het die hemele gebewe van die sang van engele oor die Verlosser wat in ‘n krip in Betlehem gebore is.

Rede 2: Aanbid

Aan die ander kant verkondig Psalm 96 aan ons dat ons die Here moet aanbid. Want, daar kom ‘n dag waarop God finaal sal oordeel. Billik en regverdig. Oor alle mense. ‘n Oordeel wat ons natuurlik onlosmaaklik aan die laaste Kersfees verbind. Aan Jesus se wederkoms. Wanneer die hemele weer sal bewe van die lofsang van die ganse heelal oor die nuwe hemel en nuwe aarde wat God skep.

Kyk terug en vorentoe

Psalm 96 help ons dus om aan die een kant terug te kyk na die geboorte van Jesus en te sing van die verlossing wat Hy gebring het.
Psalm 96 help ons ook om aan die ander kant vorentoe te kyk na die wederkoms van Jesus en uit te sien na die finale verlossing wat Hy gaan bring.
Psalm 96 help ons om tussen die eerste Kersfees en die laaste Kersfees – by wyse van spreke – te leef. In lofsang en aanbidding.
Kom ons lees die Psalm met ‘n bietjie kommentaar om dit goed te kan verstaan.

Twee dele

Psalm 96 het twee duidelike dele.

Een: Sing ‘n nuwe lied
Eerstens: Sing vir die Here ‘n nuwe lied – Hy is ontsagwekkend
In die eerste deel – vers 1-6 – word die ganse aarde opgeroep om die Here te loof en prys. Drie keer word gesê (1):
Sing vir die Here ‘n nuwe lied, sing vir die Here, o ganse aarde! 2Sing vir die Here,
Om te sing vir die Here is nie maar ‘n opsionele ekstra nie. Dit is nie iets wat jy kan vermy nie. Want, as jy die Here ken, as jy die verlossing van die Here ervaar het, kan jy nie anders as om te sing nie.

Soos Psalm 96 dit sê (2-3):
Prys sy Naam, verkondig sy verlossing van dag tot dag. Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade.

Alle nasies moet van God se verlossing hoor, want die vreugde wat dit vir ons gee, is só groot. Ons is getuies daarvan dat God se majesteit groot is. Dat Hy groot dinge vir ons doen. En dat Hy groot dinge vir almal wat hulle vertroue op Hom plaas, sal doen. Alle volke moet daarom van God se wonderdade kennis neem. Trouens, alle mense word uitgenooi om deel te neem aan hierdie loflied vir God se verlossing. Soos Psalm 96 dit sê: “die ganse aarde.”

En wat moet ons vir Hom sê (4-5)?
Want groot is die Here en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode. Ja, al die gode van die volke is niksbeduidend.
Daar is niemand soos ons God nie. In vergelyking met Hom is die gode van die volke niksbeduidend. Hulle is waardeloos. Non-entiteite.

En in ‘n laaste rede verwys Psalm 96 na God se skeppingskrag (5-6):
Maar die Here het die hemel gemaak. Luister en glans is voor Hom; krag en heerlikheid is in sy heiligdom.
Om te sing tot lof van God is dus nie opsioneel nie. Dit is die enigste respons van iemand wat God se verlossing ervaar het, en wat weer bewus geraak het van die feit dat Hy die SkepperGod is. Die Een wat ons hele menswees omvou. Die Een op wie ons met ons hele hart kan vertrou.
Maar, dit is nie al nie.

Twee: Eer aan die Here
Gee eer aan die Here – Die Here regeer – Die Here kom om te oordeel
In die tweede deel – vers 7-13 – word alle familiegroep, alle stamme opgeroep om die Here te aanbid. Daar word drie keer gesê 7-8):
Gee eer aan die Here, familiegroepe van volke! Gee eer aan die Here vir sy heerlikheid en krag! Gee eer aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam!
Psalm 96 moedig ons dus aan om die Here alleen te aanbid. Want, Hy alleen dra gewig. Alleen Hy is die moeite werd om te aanbid.

Ons sing dus nie net nie. Ons gee onsself (8-9):
Bring dankbewyse en gaan sy voorhowe binne. Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid! Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde!

Ons gee dus ons dankbewyse op konkrete maniere in die geloofsgemeenskap. Ons buig voor God in aanbidding. Ons luister nie net na ‘n preek in die erediens nie – by wyse van spreke. Ons kom aanbid die Here.

Hoekom? Want hierdie God is nie net die SkepperGod nie. Hy is die HeerserGod (10).
Sê onder die nasies: “Die Here regeer; ja, die wêreld staan vas, dit wankel nie. Hy oordeel volke met billikheid.”
Dit sê die geskiedenis alreeds vir ons. Die geskiedenis waarvan die Bybel ons vertel. Deur die verhale van Noag, Abraham, Moses, Dawid en verder aan. Ook die geskiedenis waarvan die geskiedenisboeke ons vertel. Daar is so baie getuienisse deur die eeue dat God in beheer is. Dat Hy alleen vastigheid en sekerheid gee.

God se karakter

Let op hoe Psalm 96 God se karakter hier teken. In drie kort kriptiese, maar uiters betekenisvolle woorde sê Psalm 96.

  • “Die Here regeer.” God is soewerein.
  • “Die wêreld staan vas, dit wankel nie.” God gee stabiliteit.
  • “God oordeel volke met billikheid.” God is regverdig.

Maar, hierdie beskrywing van God het nie net betekenis vir die mense op aarde nie, Dit het betekenis ook vir die heelal. Daarom sê Psalm 96 (11-13):

Laat die hemel bly wees, en die aarde juig; laat die see en alles daarin dit uitbasuin. Laat die veld en alles daarop jubel; dan sal alle bome in die bos van vreugde uitroep voor die Here.

Waarom?
Want, sy heerskappy sal uiteindelik oor alles triomfeer:
Want Hy kom, ja, Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid, en volke ooreenkomstig sy trou. (2020-vertaling)

Tussen eerste en laaste Kersfees

Ons leef tussen die eerste en laaste Kersfees. En ons gebruik die woord “Kersfees” figuurlik, gesproke, as ‘n beeld.
Die eerste Kersfees het met Jesus se eerste koms na die aarde te make. Dit was alreeds heerlik. Verlossend. Genesend.
Die laaste Kersfees het met Jesus se wederkoms na die aarde te make. Ons kan vanoggend weer opnuut die Here loof en aanbid omdat ons hierdie hoop het.
Ons kan vandag  juig oor God se regverdigheid en billikheid, wat Hy reeds op soveel wyses in ons lewe bewaarheid het. En ons kan bid dat die Here Jesus met sy wederkoms sal kom om oor die aarde te heers.

Daardie wederkoms is iets wat ons vandag weer saam met die kerk van die eeue aan alle mense kan verkondig.  Saam met die Gees en die bruid, roep ons ook die laaste woorde van die Bybel aan almal uit:
“‘Kom!’  En laat elkeen wat luister, sê: ‘Kom!’  En laat elkeen wat dors het, kom.  En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kry, verniet!” (Openb 22:17)

God stuur ons om te leef

Gebed
Ons loof u Naam, o Here,
ons wil vrolik juig;
met harp en lier getuig,
met snare sing u ere.

U goedheid laat ons lewe.
ons oggendlied wil sing,
ons aandlied hulde bring.
U trouheid loof ons, Here.

Ons juig oor U, o Here –
hoe groot is al u werk,
u dade onbeperk,
u denke so oneindig.
(n.a.v. Vonkk 20)
Amen

Slotsang
Lied 348 “Stille nag, heilige nag!”

Seën
Voorganger (V):Mag die God van die engele wat Christus se geboorte aangekondig het, vreugde in julle harte bring op hierdie dag en vir altyd.
Gemeente (G): Amen.

V: Mag die God van liefde wat sy enigste Seun vir ons gegee het, julle lewe met liefde en vrede vul.
G: Amen.

V: Mag Immanuel, God met ons, met julle wees in alles wat julle doen, totdat Hy julle in sy ewige koninkryk laat ingaan.
G: Amen.

V: Die almagtige God, Vader, Seun en Heilige Gees, seen julle, nou en vir ewig.
G: Amen.

Respons
Lied 348 refrein vers 2: Juig, die Redder is daar! Juig, die Redder is daar!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.