Sondag na Kersfees

Sections

Oorsig

God het alles gedoen sodat ons mense kan deel in sy heerlikheid. Deur sy Seun, wat mens word, word ons God se kinders, broers en susters van Jesus. Die groot dade van God se verlossing moet die wêreld oor verkondig word. So moet die Here as die almagtige Skepper en troue Verlosser geëer word.

Die erediens behoort vir die gemeente troos te bring dat hulle die ou jaar kan afsluit en die nuwe jaar kan begin verseker daarvan dat hulle God se kinders is en Hom daarvoor loof.

Ander tekste

Jesaja 63:7-9; Psalm 148; Matteus 2:13-23

Fokusteks

Hebreërs 2:10-18
Die Leidsman tot die saligheid
5Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. 6Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê:
“Wat is ’n mens
dat U aan hom dink,
’n mensekind
dat U na hom omsien?
7U het hom ’n kort tydjie
minder as die engele gemaak;
U het hom met heerlikheid
en eer gekroon;
8U het alles aan hom onderwerp.”

By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. 9Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ’n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.

10God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heelikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. 11Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog:
“Ek sal u Naam aan my broers
bekend maak,
in die samekoms van die gemeente
sal Ek u lof besing.”
13Ook sê Hy:
“Ek sal altyd op Hom vertrou.”
En verder:
“Hier is Ek met die kinders
wat God My gegee het.”

14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. 16Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. 17Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. 18Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Votum
Lees Psalm 148.

  • As jy onderhoudend kan lees, kan jy die hele Psalm – of enkele verse van jou keuse – lees.
  • Lees dit responsories:
    • Liturg:  Prys die Here vanuit die hemele,
    • Gemeente:  prys Hom in die hoë hemel!
    • Liturg:  Prys Hom, alle engele,
    • Gemeente:  Prys Hom, alle hemelwesens,
    • ens.
  • Kry verskillende mense van verskillende generasies (dalk ‘n familie met ouers, kinders en grootouers) om verskillende dele van die teks te lees.
    • Laat verskillende mense verse 1-4 lees (elke vers deur iemand anders),
    • almal saam verse 5-6
    • en daarna lees elkeen ‘n woord, bv.
      • 1. Prys die Here van die aarde af,
      • 2. seediere
      • 3. en al die oseane,
      • 4. weerlig
      • 5. en hael
      • 6. sneeu
      • 7. en miswolke
      • ens.
  • Gebruik ‘n gratis FLV-Converter program om een van die volgende video van YouTube af te laai:
  • Creator King van Kathryn Scott met natuurtonele

Getuienisse
Laat mense vertel wat hulle oor Kersfees beleef het of wat Jesus vanjaar in hul lewens gedoen het.

Liedere

Flam 77 – “Jesus is die Heer bo alle Here”
Flam 214 – “Jesus, U regeer”
Flam 217 – “Jesus, U Naam”

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Die Bybelteks vertel ons dat Jesus die toets van mens-wees deurstaan het.  Daarom kan Hy ons begelei om die beste te wees wat ons kan wees.  Gebruik die voorbeeld van ’n suksesvolle sportman/vrou wat begin om af te rig.  Hy of sy is reeds deur die meule, verstaan waardeur sy spanlede gaan, en kan hulle op die regte manier motiveer.

Of wys ‘n uittreksel uit die fliek “Invictus” en vertel die verhaal van beide Mandela en Pienaar se leierskap.

Preekriglyn

“Gerrie Germishuys was ons superhero!”

’n Goeie vriend vertel onlangs hoe hy op laerskool in die rugbyspannetjie was wat Gerrie as jong onderwyser afgerig het.  “Vir ons seuns was Gerrie net so effens onder die Here,” vertel hy tong-in-die-kies, maar nie sonder rede nie.

Gerrie het in 20 toetse vanaf 1974 tot 1981 vir die Springbokke vleuel gespeel. Sy 12 toetsdrieë was in een stadium ‘n SA rekord.  Hy het ook vir die Vrystaat vanaf 1972 tot 1977 uitgedraf en vir Transvaal vanaf 1978 tot 1982. Gerrie was deel van die Vrystaatspan wat WP in 1976 in die Curriebeker-eindstryd getroef het.

Gerrie was geweldig vinnig.  Min vleuels kon hom keer as hy sy ore plattrek en met sy hoë knie-aksie en groot vaart buite-om hulle hol.  Hy het ook provinsiale kleure in atletiek en gimnastiek verwerf.  As student het hy die 100 meter in 10.5 afgeblits.  Sy beste afstand in die verspring was 7.26 meter, ‘n afstand wat daardie dae nie te ver buite bereik van die SA rekord was nie.

“Wanneer Gerrie gespeel het, was ons seuns saam met hom op die veld,” vertel my vriend.  “Sy drieë was ons drieë.  Ons kon bars van trots oor óns meneer.  En wanneer hy ons afgerig en op wedstryde voorberei het, het ons aan sy lippe gehang.  Ons het van binne gegloei.  Ons meneer weet waaroor rugby gaan.  Hy was self daar, op die hoogste vlak.  Hy mag maar afrig.  Hy weet hoe dit voel.  Hy weet wat om te doen.  En as hy ’n Springbok kon word, die hoogste eer kon verwerf, waarom nie ons ook nie?  Vir ons was hy die beste afrigter moontlik!”

Hebreërs 2 praat met dieselfde gloeiende taal oor Jesus.

Jesus, van God gestuur

Daar is twee bewegings in die boek Hebreërs.

Die eerste beweging is van God af na ons toe.  Jesus is van God gestuur na ons toe:
• God praat met ons deur die Seun, uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God (1:2-3)
• “Hy is ’n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe” (2:9).
• Hy is die Leidsman wat ons “tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid bring” (2:10).
• “Ek sal u Naam aan my broers en susters bekend maak” (vers 12).
• Hy het net soos ons mens geword (2:14)
• Hy het in elke opsig aan ons gelyk geword (2:17).

Ons vier hierdie eerste beweging met Kersfees.  God kom in die mens Jesus op die aarde aan.  Hy is ware God en ware mens.  Hy verbind hemel en aarde deur sy koms.  Hy kom om ons te red.

Die wêreld was nooit weer dieselfde sedert die aankoms van die Gestuurde nie.  Immanuel, God is by ons.  Daarom kan mens in die oggend opstaan en die lewe in die oë kyk.  Daarom is geen situasie, geen verhouding só dood dat God dit nie kan aanraak en dit lewend kan maak nie.

God se beweging na ons skep lewe en vrede.

Jesus, ons Hoëpriester by God

Die Hebreërbrief vat behoorlik vlam as die tweede beweging aan die orde kom: Jesus het een met ons geword, sódat
• Hy ons na God kan neem,
• Hy ons kan insluit by God se volk,
• ons veilig opgeneem kan word in die heerlikheid (2:10), volmaaktheid (2:10) en heiligheid (2:11) van God,
• ons ’n toekoms saam met God kan hê.

’n Priester verteenwoordig God by mense, maar ook mense by God.  Jesus is ons Hoëpriester.

’n Middelaar neem ’n tussenposisie in.  Jesus is ons Middelaar wat van God na ons gestuur is, jubel Hebreërs.  Maar Jesus is ook een van ons wat ons as Middelaar by God verteenwoordig, en wat ons na God neem, wat ons insluit by God se familie.  Jesus is die Middelaar van God by ons, en Jesus is ons Middelaar by God.  Hieroor gloei die Hebreërbrief.

Jesus verteenwoordig nie net God se beweging na ons toe nie.  Jesus is ook die Persoon in Wie en deur Wie ons na God beweeg.

Mens ter wille van ons

Die gemeenskap aan wie die Hebreërbrief gerig is, was op ’n laagtepunt in hul geloofslewe.  Hulle was moeg en moedeloos, met geestelike knieë wat lam geword het.  Het hulle die regte koers ingeslaan deur hul geloof en hoop op Jesus te plaas?  Van al die beloftes van die nuwe geloof wat hulle omhels het, kom so min.  As Christene in ’n Grieks-Romeinse samelewing is hulle na die rand geskuif, sosiaal vervreem van hulle omgewing, mense wat op duisende kleiner en groter maniere lei omdat hulle vir Jesus gekies het.

Die manier hoe mens geloof sien, kan jou maklik op moedverloor se vlakte laat beland.  As geloof jou keuse vir God is, wat staan en val by jou wilsdaad van geloof, kan die knieë maar vinnig slap word.  So ’n siening het geen waarborge nie.  Alles hang van die energie af waarmee jy aan God vasklou.  Jou vrees is dat jy kan afval.

Die Hebreërbrief gloei met die teendeel.  Jesus het na ons gekom, vir ons vlees en bloed geword, vir ons kom ly, Hy het deur die genade van God vir ons sonde kom sterf.  Hy het deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, die duiwel, kom oorwin, sodat ons van ons slawerny aan die boosheid bevry kan word.

En dit te doen, het Jesus ’n egte mens geword.  Hy het tot binne-in ons DNA met ons kom identifiseer.  En Hy red ons, hou ons vas, dra ons.

Verse 17 en 18:
Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers en susters gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en genadige Hoëpriester voor God kon wees.  Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Jesus kom red ons van alle vorme van nood omdat Hy vir ons mens geword het, en namens ons intree by God.

As jou kragte min word, kan jy die Afrigter raaksien.  Hy speel self op ’n vlak waar jy nog nie gekom het nie.  Daarom ken Hy die spel van die lewe op ’n dieper dimensie.  Hy kan jou begelei, Hy kan jou moed inpraat, Hy kan jou vashou, Hy kan jou red.  En Hy doen dit alles inderdaad.

Ons is áán Hom gegee

Hoe diep die band tussen ons en ons Hoëpriester is, word in vers 13 uitgespel.  Namens ons, sê Jesus voor die troon van God die Vader:  “Hier is Ek met die kinders wat God My gegee het.”

Jesus is nie bloot aan ons gegee nie.  Ons is deur die Vader aan Jesus gegee.  Ons is aan Jesus toevertrou.  Hierdie band bestaan op grond van God se onverbreeklike trou.  Hy lê beslag op ons, en Hy gee ons vir Jesus, wat ons op die weg van verlossing en heiliging lei.  Hy lei ons tot by die Vader, en sê: “Hier is Ek.  Hier is Ek met die kinders wat U My gegee het.”

Groter sekerheid is daar nie wankelmoedige mense beskore nie.  Groter sekerheid het ons oook nie nodig nie.  Dit is in alle opsigte genoeg vir ons lewensreis.  “Hier is Ek met die kinders wat U My gegee het.”

’n Praktiese voorbeeld

Dieselfde vriend vertel van hul skoolreünie 30 jaar na matriek.  Dieselfde seuntjie wat deur Gerrie Germishuys afgerig is, is nou al mooi groot.  Die meisies ook.  Almal is daar met mans en vrouens, party al weduwees of wewenaars, ander al oupas en oumas.

“Verrassend om te sien hoe my skoolmaats uitgedraai het,” sê my vriend.  Die grootste kansvatters, losbandiges en leeglêers is nou respektabele mense.  Terwyl ons kuier, onthou ek nog die Saterdagaand toe ons aangeneem en voorgestel is.  Destyds het ek gedink ’n paar ouens hoort nie onder ons groep nie.  Nie as hulle eerlik was nie.”  My vriend krap sy ken.  “Merkwaardig hoe juis daardie ouens verander het.  Die een is betrokke by kinderbediening in sy gemeente, die ander een het ’n geestelike bediening onder mans, nog een gee feitlik sy hele inkomste weg om barmhartigheidswerk in ’n township te finansier.  Hy probeer leef van 10% om 90% te kan gee.”

My vriend krap sy ken nog ’n keer.  “Ek onthou hoe ou tannie Sieberhagen daardie aan vir my gesê het:  ‘Jy verstaan nie ten volle wat vanaand hier gebeur het nie.  Jy dink jy verstaan, maar jy sal eers later in jou lewe regtig verstaan.’  Ek dink ek begin nou, meer as 30 jaar later, iets verstaan.  Dis nie soseer ons wat vir God gekies het nie – stamelend soos party van ons ons geloof daardie aand bely het nie.  Nee, God het vir ons gekies – daarom het ons voor die preekstoel beland.  Hy het lewenslank ons doop en ons openbare belydenisaflegging bly bevestig in ons lewens.  Hy is nog nie klaar nie, die proses gaan voort.”

Ja, Jesus is nie bloot vir ons gegee nie.  Ons is vir Jesus gegee om ons te was deur sy bloed, om ons vas te hou, en om ons Leidsman te wees na God se heerlikheid.

Jesus kan alles doen

Die Here Jesus is ware mens, Hy het volledig met ons geïdentifiseer deur sy dood en opstanding namens ons.

Hy is ook ware God.  Hy is almagtig, verhewe, Hy is die ewebeeld van die wese van God.  Hy hou alles met sy magswoord in stand.  Na sy hemelvaart het Hy aan die regterhand van God gaan sit, deel Hy in God se majesteit, en regeer Hy oor die wêreld (1:2-4).

Hy is ons Leidsman, ons Afrigter na God toe, en daar is niks wat Hy nie kan doen nie.

Met só ’n Middelaar, Hoëpriester en Afrigter kan mens die lewenspad aanpak.  In so Iemand se hande kan jy val.  Aan so iemand kan jy die komende jaar toevertrou.

Ek dink weer aan my vriend se vertelling uit sy laerskooldae:  “Ons meneer weet waaroor rugby gaan.  Hy was self daar, op die hoogste vlak.  Hy mag maar afrig.  Hy weet hoe dit voel.  Hy weet wat om te doen.  En as hy ’n Springbok kon word, die hoogste eer kon verwerf, waarom nie ons ook nie?  Vir ons was hy die beste afrigter moontlik!”

God stuur ons om te leef

Toewyding

  • Gee geleentheid vir stil gebed, sodat lidmate kan dink aan alles wat hulle bekommer vir die jaar wat voorlê – en dit aan Jesus kan toevertrou.
  • Of maak self ‘n lys van aspekte, gaan voor in gebed en laat die gemeente na elke aspek Lied 278 sing (met die “Amen” eers aan die einde).
  • Of gee geleentheid vir gebed waarin mense spesifieke sake rondom die komende jaar aan die Here opdra.  Laat die gemeente na elke gebed reageer met Lied 278.

Geloofsbelydenis

Lied
Flam 126 – “Jesus, Lig in duisternis”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.