Sondag na Kersfees

Sections

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Aanvangswoord
Voorganger: Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
Gemeente: Prys Hom, alle engele,
prys Hom, alle hemelwesens!
Voorganger: Prys die Here van die aarde af,
seediere en al die oseane,
weerlig en hael, sneeu en miswolke,
stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
Gemeente: Dit is die roem
van al sy troue dienaars,
die volk naby wie Hy is (uit Ps 148).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Seëngroet
2Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader! (Kolossense 1:2-3)

Lied 148:1,4,5 “Prys uit die hemele die Heer en 147:1,2,4” Dis goed om God se lof te sing (Tweede melodie)

Verootmoediging
Ons gebruik ‘n gedeelte uit Kolossense as die spieël van die Woord waarin ons onsself kan ondersoek

Kolossense 3:5-11
Die ou en die nuwe lewe
5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. 9En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Gee ruim geleentheid vir stilgebed waarin lidmate kan terugdink oor die jaar wat verby is- oor die dinge waaroor ons spyt is en wat ons bely, oor die seerkry en hartseer van die jaar, oor die geleenthede wat ons laat verbygaan het…

Gebed
Nuwe jaar… nuwe genade
Here, Almagtige, Oneindige, Skepper, Voleinder,
‘n jaar is vir U net ‘n oogwink,
maar vir ons is dit 365 dae lank, ‘n lang pad.
Here, vir ons is elke jaar volgepak met goed en kwaad.
U is Here van elke uur en dag en jaar.
Maar ons is gevange slawe
van die vervlietende tyd.
Here, en tog bring elke jaar ons nader aan U.
Mense word jaar vir jaar ouer,
maar U kinders word jonger.
‘n Jaar lê agter ons,
vir altyd verby.
Plek-plek loop die pad pylreguit deur die vlakte,
ander kere met kronkelpaaie oor die steiltes,
vol slaggate, pap wiele,
verpaste treine, verspeelde geleenthede.
Here, oor die geleenthede
wat onbenut verbygegaan het,
sou ek wanhopig kon raak,
as dit nie was dat U vergewe nie.
Here, elke dag is U genade nuut,
sedert Noag se reënboog,
en is U goedheid nuut,
sedert Jesus Christus…
Here, as U die hare van my kop getel het,
het U sekerlik ook my dae getel,
die minute en die sekondes daarvan
alles hou U in die palm van U hand.
Here, ek dank U vir gesondheid
in die jaar wat verby is.
Ek bid vir gesondheid in die een wat voorlê,
vir genoeg kos vir elke dag.
Maar veral bid ek om ‘n honger na U Woord,
na U self…
Dit sal weer ‘n jaar wees vol van U genade.
Amen
(‘n Gebed uit Ghana)
(Uit Die groot gebede-boek, Lux Verbi, Bybelmedia 2003:413)

Riglyn vir dankbarheidslewe: Kolossense 3:1-4

Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Kolossense 3:12-17
12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Lied 502 Vol vertroue vas en veilig vs 1,3,5 (die melodie van lied 203 “Loof die Here al wat lewe” pas perfek met die woorde van 502)

Liedere

Flam 23 “Prys Die Here”
(RUBRIEK:  Nuwe Gemeentesang – Lof)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994  Brettian Productions
(Opgeneem op Lentereën  –  Willie Joubert)
(Psalm 148)

Prys die Here vanuit die hemele;
prys die Here alle engele;
prys Hom son en maan,
prys Hom alle sterre!
Prys die Here en sy grote Naam!

Prys die Here van die aarde af,
uit die see en van die berge af.
Prys Hom bome, diere, plante en riviere.
Prys die Here en sy grote Naam!

Prys die Here alle volke saam;
mans en vroue, prys die Heer se naam.
Prys Hom konings, vorste, oud en jonk tesame.
Prys die Here en sy grote Naam!

U’s my Here en ek prys U Naam;
U’s verhewe, hoor my loflied aan.
Heer, U majesteit strek oor aard’ en hemel;
U’s my Here, en ek prys U Naam!
U’s my Here, en ek prys U Naam!

Flam 24  “As ek die hemel aanskou (Psalm 8)”
(Rubriek:  Nuwe Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek:  Rhe Janse
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

1. As ek die hemel aanskou,
die werke van U vingers,
maan en sterre aanskou,
dan voel ek so gering Heer.
Wat is die mens dan dat U aan hom dink?
Wat is die mens dan dat U na hom omsien?

2. U laat ons heers oor U werk,
die werke van U hande,
dis aan ons onderwerp,
die see, die lug, die lande.
Wat is die mens dan dat U aan hom dink?
Wat is die mens dan dat U na om omsien?

O Heer, ons Heer, hoe wonderbaar U Naam;
O Heer, ons Heer, juig, aarde,
Roem sy Naam! O Heer, ons Heer,
hoe wonderbaar U Naam;
O Heer, ons Heer, juig aarde,
Roem sy Naam!
Ons roem U Naam,
ons roem U Naam.

Flam 1  “Die hemel juig”
(Rubriek:  Nuwe Gemeentesag – Lof/Verwondering)
Teks en Musiek:  Noel en Tricia Richards
© 1987 Kingsway Thank You Music

1. Die hemel juig, getuig van al U grootheid Heer.
Die skepping buig in aanbidding voor U neer.
Ja, tot in ewigheid sal ons U lof besing
Aan U daar op die troon, ons hulde altyd bring.

2. Ons wil verklaar:  U is die opgestane Heer;
U is die Lam wat vir ewig sal regeer
Ja, tot in ewigheid sal ons U lof besing
Aan U daar op die troon ons hulde altyd bring

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Psalm 148

Prediking

Familie-oomblik

Die teks pas goed in Kerstyd en kan gefokus word op wat met die geboorte van Jesus gebeur het.  Die vreugde en geluk van die Christusfees moet voorop staan.  Help die kinders verstaan hoe wonderlik dit is dat ons saam met al die diere, al die natuurverskynsels en elke deel van hierdie skepping God kan loof.

Die woorde waarmee Koos van der Merwe van Prophet-faam na aanleiding van Psalm 148 die Here loof vir sy liefde en ontferming, kan goed in hierdie erediens gebruik word. Kry byvoorbeeld iemand uit die gemeente wat dit kan voordra of speel dit vir die kinders en help hulle verstaan dat die liedjie ons help verstaan hoe ons op God kan reageer.

asems
al die asems
al die wasem
loof Hom…
likkewane
bobbejane
olifante
al die leeus
al die spreeus
en fisante
kom nou kraaie
papegaaie
en volstruise
al die vlooie
in die kooie
al die luise
pelikane
en sprinkane
en marmotte
al die tiere
en die miere
kokkerotte
die miljoene
skerpioene
en die swane
al die ape
al die skape
en die hane
o die vele
vaal kamele
en die reiers
al die uile
al die muile
en miskruiers
elke bees
en elke kees
en al die vinkies
al die bokkies
en toktokkies
en tinktinkies
dan die wille
krokkedille
en die muise
en die katte
op die matte
in die huise
al die kewers
al die bewers
swartwitpense
en heel laaste
maar die meeste
al die mense

Preekriglyn

[Dele van hierdie preek is ‘n geredigeerde weergawe van die werklik uitstekende materiaal in vandeesweek se Bybel-Media publikasie.]

Nisswa, in Minnesota (‘n staat in die VSA), is bekend vir sy gereelde skilpadresiese.  Elke Woensdagmiddag, gedurende die somer, kom die mense van Nisswa en omgewing op ‘n spesifieke parkeerterrein bymekaar vir die skilpadresies.

Dit het ‘n bedryf geword.  Daar is stalletjies wat skilpaaie uithuur, terwyl ander skilpadprodukte en memorabilia verkoop.  Die geesdriftiges kom reeds vroeg byeen, en sit hulle stoele en komberse op die plekke met die beste uitsig.  In ‘n onlangse resies het 435 skilpaaie in vyftien uitdunrondtes oor ‘n roete van ‘n volle twee meter gekompeteer.

Die aankondiger stel die skilpadhanteerders by die wegspring op, en gee die teken: “Gaan!”  Die skare gaan mal wanneer die hanteerders die skilpaaie loslaat en moedig hulle skreeuend aan.  Almal spring op en af, beduie woes hoe die skilpaaie moet hardloop, gooi hulle met water nat, en moedig hulle in die rigting van  die wenstreep aan.  Die wenners van die uitdunne kompeteer dan in die kampioenskapswedloop.

Die wenskilpad se hanteerder kry as prys vyftig rand, met ‘n spesiale skilpadhangertjie.

Die mense van Nisswa, Minnesota is oor die algemeen bedaard, skugter en gereserveerd.  By hulle skilpadresiese gooi hulle egter alle inhibisies oorboord.  Voorwaar ‘n gesig om gade te slaan!

Voete in beweging

Psalm 148 is ‘n entoesiastiese psalm.  Mens kan skaars jou voete stil hou wanneer jy dit lees.  Jy kry lus om op te spring en saam te dans.

Geen wonder nie.  Psalm 148 is deel van die laaste vyf “Prys die Here” of “Halleluja”-psalms.  Dit vorm die slot van die hele Psalmboek.  Al die intense gebede en diep menslike ervarings wat in die Psalms verwoord word, bereik ‘n hoogtepunt in die lasste vyf Psalms.  Dit gaan oor uitbundige en ongeëwenaarde lof wat as’t ware alle inhibisies oorboord gooi en God van harte prys!

Stilisties is Psalm 148 ryk aan ritme, herhalings en poëtiese merkers.  Die psalm is deurtrek van die opdrag “Prys (die Here)”!, of “Prys (hom)!” (letterlik “hallal” in die Hebreeuse teks). Die psalm vorm ’n ringstruktuur (inklusie) deur te begin en te eindig met “hallelu Yah” (Yah is die verkorte vorm van die Hebreeuse Jahwe/Here).  Dit is letterlik die eerste en die laaste woord wat in die loflied gespreek word.

Benewens die twee lof-opdragte aan die begin en einde van Psalm 148, kom die werkwoord “hallal” nog agt keer as opdrag voor (een maal as hallelu Yahwe > “prys die Here” en sewe maal as halleluhu> “prys Hom”).  Die opdragte “halleluhu” word so op mekaar gestapel in vers 1-4 (6 keer) dat dit amper klink soos die Switserse jodel wanneer mens die Hebreeuse teks lees!

Twee hoofindelings

Psalm 148 kan in twee hoofafdelings verdeel word, naamlik vers1-6 (prys die Here vanuit die hemele) en vers 7-14 (prys die Here van die aarde af).

In die eerste gedeelte van Psalm 148 (1-6) word die hemele en alles daarin opgeroep om die Here te prys, ook die boodskappers en die dienaars van die Here in die hemel (2).  Vers 5 bevat die oorgang na die eerste hooftema: Alle elemente en wesens van die hemelruim word opgeroep om die “Naam van die Here” te prys. Dit is die Naam van die Een deur wie se skeppingswoord hulle almal tot stand gekom het, die Naam van die Een wat orde en vaste grense geskep het waar daar eens chaos was. Juis daarom moet sy Naam geprys word.

In die tweede gedeelte van die psalm (7-14) word alles wat op die aarde is uitgenooi om die Here te prys. Teenoor die “waters in die hemelruim” (4) word die “seediere” en “oseane” of “oerwaters” (7) nou gelys. Vers 8 bevat die meteorologiese verskynsels van “weerlig”, “hael”, “sneeu”, “miswolke” en “stormwinde”. In vers 9 word melding gemaak van die “berge”, die “heuwels” en die “bome” en vers 10 verwys na al die soorte diere.

In vers 11-12 kom groepe mense aan die orde, vanaf die “konings” tot die “volke”, “alle regeerders”, “jong manne” sowel as “meisies”, en verskillende generasies. In vers 13 kom die uitnodiging tot lofprysing tot ’n einde en weereens, soos in vers 5, kom die hooftema aan die orde, naamlik dat die “Naam van die Here” geprys moet word.

In die redegewende klousule in vers 13b word die gedagte van die Here se heerskappy, sy koningskap, uitgelig: “want sy Naam is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en die hemel”. Die Here is koning in die hemel en op die aarde.

Aanvanklik word alles (en almal) wat in die hemel is opgeroep om die Here te prys, daarna alles (en almal) wat op die aarde is. Nou word die volgorde in vers 13 omgeswaai met die verwysing na die Here se majesteit wat strek oor die aarde (eerste) en die hemel (tweede). Alles in die heelal, in die hemel en op die aarde, op die aarde en in die hemel, bo en onder, onder en bo word opgeroep om die Here te prys!

In vers 14 staan letterlik: “Hy (die Here) het ’n horing vir sy volk opgelig, ’n pryslied vir sy getroue volgelinge, vir die Israeliete, die volk wat naby aan Hom is. Halleluja!” In die Ou Testament is die horing ’n simbool van krag – God se krag wat geopenbaar word in sy skeppingswoord waaruit orde vanuit chaos geskep word (5-6) en in sy koninklike majesteit en heerskappy oor die hemel en die aarde (13).

Vreemd op die ore?

Daar het in die Westerse wêreld min aanvoeling oorgebly vir die onbegrensde en spontane lof wat in hierdie psalm verwoord word.

Volgens die bekende Max Weber leef Westerlinge in ‘n ontluisterde wêreld (“disenchanted world”).  Die wêreld het sy betowering vir ons verloor.  Eerder as om dinge met verwondering en verrassing te benader, is ons skepties en sinies.  Ons is eerder krities ingestel, as oop vir verwondering en lof.

Ons word van kindsbeen geleer dat betroubare kennis slegs bekom word deur kritiese bevraag­tekening.  Ons betwyfel alles, en toets so dinge om seker te wil maak ons het met waarheid te doen.

Verder is ons oortuig dat alles verklaar kan word.  Daar is nie meer betowering en verwondering oor nie.  As jy diep genoeg met jou intellek grawe, sal jy wel agterkom dinge sit op ‘n spesifieke, natuurmatige, perfek-verklaarbare manier aanmekaar.

Selfs die verstommende kompleksiteit van die wêreld, wat so noukeurig aanmekaargeweef is, is die produk van natuurlike prosesse.  Dit is nou maar net so.  Geen rede tot lof en verwondering nie.

Die beste van geloof

Coenie Burger merk op dat lof aan God ‘n rare verskynsel in gevestigde Westerse kerke geword het.  Hy sê dat ons daarom die beste van geloof ontbeer.

Selfs waar lof nog in kerke voorkom, gaan dit dikwels oor die aangename, subjektiewe ervaring van die lofpryser, persoonlike belewenis, eerder as ‘n diepe verwondering voor die ewige God en Here wat hemel en aarde gemaak en sy kinders op ‘n wonderlike manier dra en versorg.

Volgens C S Lewis beveel die Here ons om Hom te loof, nie net ter wille van Hom nie maar ook ter wille van ons . . . omdat Hy ons so gemaak het dat ons in die daad van lofprysing die hoogste lewensvervulling ervaar wat menslik moontlik is . . . Ons menslike bestaan mis sy doel as dit nie oorwelf word deur ’n staande lofsang tot eer van die Here nie. In sekere sin is lof net soos die liefde. Daarsonder is ’n hele klomp ander dinge leeg en wanklankig . . .”

Waarom lof?

Indien vir Westerlinge moeilik is om tot verwonderde lofprysing te kom, beteken dit nie dit was vir die mense wat Psalm 148 die eerste keer gesing het, maklik om God te loof nie.  Die volk bevind  hulle met die ontstaan van die psalm in en net na ballingskap.  Hulle het alles verloor.

Maar deur hierdie swaarkry heen het die volk geleer wat dit beteken om op God te vertrou en om Hom te loof as hulle Skepper en Koning, ongeag die lyding wat hulle deurgemaak het en die geweldige verliese en onsekerhede wat hulle in die gesig staar.  Hierdie mense is deurleefde mense, hulle het geleer dat ware lof nie alte maklik kom nie.  Wanneer dit die dag kom, dan is dit lof ten spyte van . . .  Dit is om die Here te loof ten spyte van die situasie waarbinne jy jouself bevind.  Dit is om die Here te loof wanneer dit goed gaan, maar dit is ook om die Here met net soveel oorgawe te loof wanneer dit die dag nie goed gaan nie, selfs te midde van tye van erge swaarkry en lyding.

Ons het hier te make met deurleefde lof, lof wat gebore is vanuit lyding en swaarkry, aanvegtinge en vrae, nood en dood, trane van verlies en trane van vreugde.  Die volk wat alles verloor het, word in Psalm 148 (om die waarheid te sê in Ps. 146-150) uitgenooi om sonder inhibisies die Here voluit te loof.  Dit is ook nie sonder rede dat die Psalmboek kulmineer in vyf laaste psalms van uiterste lof nie.  Alleen diegene wat die vorige 145 psalms ken, die inhoud van lyding en kwellings, vrae en vrese, worstelinge en vreugdes gesmaak en gebid het, kan uiteindelik Psalm 146-150 met oorgawe sing.

Moderne moedeloosheid

Ons leef vandag in ’n tyd waar baie mense, ook gelowiges, moedeloos is of hoop verloor het.  Die reënboognasie is nog glad nie wat dit moet of kan wees nie (en hier word geensins bloot na grense oor velkleur heen verwys nie).  Korrupsie, leë beloftes en politieke geheimhouding is aan die orde van die dag.  Kinders en kleinkinders vlug (ons noem dit meer diskreet “emigreer”).  Vele sit sonder werk.

Baie mense beleef ballingskap-ervaringe.   Soos die volk van destyds sit ons met wesenlik verlies.  Nogtans, of eerder juis omdat lof nie meer onnadenkend oor ons lippe kan kom nie, is die tyd juis nou ryp om die Here te loof.  Om opnuut en alleenlik maar op Hom te fokus, weg te kyk van onsself en ons omstandighede en vir God te loof . . . omdat Hy God is, omdat sy naam Skepper is, omdat sy naam Koning is.  Ook omdat Hy binne ballingskapsituasies as Skepper en Koning intree en herskep, nuut maak, oor begin, en regeer.  Hy laat nooit die werke van sy hande vaar nie.

“Hy het aan sy volk mag gegee”

Ons het reeds vroeër verwys na vers 14 waar let letterlik staan: “Hy (die Here) het ’n horing vir sy volk opgelig, ’n pryslied vir sy getroue volgelinge, vir die Israeliete, die volk wat naby aan Hom is. Halleluja!”

In die Ou Testament is die horing ’n simbool van krag – God se krag wat geopenbaar word in sy skeppingswoord waaruit orde vanuit chaos geskep word (5-6) en in sy koninklike majesteit en heerskappy oor die hemel en die aarde (13).

Dit beteken dat mense van lof ook mense is wat weet dat hulle bemagtig is – deur die Here – om ‘n verskil te maak.  Die wonder van die lofwaardige God is juis dat Hy ‘n betroubare wêreld vir ons skep, te midde van al die onsekerheid, en dat Hy ons inskakel by sy missie om van die wêreld ‘n betroubare plek te maak.

Lof bevry ons van ons slagoffermentaliteit en maak ons medeskeppers van ‘n betroubare wêreld, saam met God.  God, wat vir alles ‘n vaste plek, ‘n baan en ‘n koers gegee, wat grense stel vir die magte van chaos, gee aan ons die vermoë om saam met Hom te werk om van die wêreld ‘n veiliger plek te maak.  Lof ontsluit juis die energie, dinamika en kreatiwiteit om God se eintlike bedoeling met die wêreld te snap en jou lewe daarvoor te gee.

Diepste rede vir lof

Dit is die Sondag na Kersfees. Ons het pas die grootste daad van God se herskepping en nuwe heerskappy gevier. In die menswording van sy Seun het Hy ’n nuwe begin kom maak met sy skepping, en in hierdie Seun het die Koninkryk (die heerskappy!) van God op aarde sigbaar geword. Die “horing van God” (14), die eintlike koning in die Dawidlyn, het mens geword. Hy het naby die mense gekom in hulle ballingskap (sy Naam is immers Immanuel – God bý ons), Hy het hoop gebring, en ’n toekoms. Prys die Naam van hierdie Here!

Herwinning van lof

Die psalm nooi geharde Westerlinge uit om – in die jaar wat voorlê – die risiko te loop om ‘n dankbare, verwonderde lewe van lof te begin lei.  Dit sal nuwe deure vir ons oopmaak.  Dit sal ons help om God op ‘n nuwe manier te sien en te leer ken, en ons wêreld om ‘n radikaal nuwe manier te sien en te beleef.

Loof en prys die Here!

God stuur ons om te leef

Gebed: ahv Ps 148
Here in die hoë hemel:
ons prys U saam met die engele en die hemelwesens.
Saam met die son, die maan en al die sterre
waaraan U ‘n vaste baan en plek gegee het
wil ons U Naam prys!
In die geknal van die weerlig en die knetter van die hael;
in die suis van die sneeu en die newel van ‘n miswolk
word U van die aarde af geprys.
Alles wat leef, kruip of vlieg;
wilde diere en mak vee;
konings, vorste en regeerders
wil U, die Here, prys.
U Naam is hoog verhewe;
U majesteit strek oor die hele hemel en aarde;
ons roem U Naam
omdat U naby is.
Ons prys U, Here!
Amen

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Offergawes

Wegsending: Lied 563 “Aan U o God my dankgesange vs 2,3,4”

Seën
Voorganger: Prys die Here van die aarde af,
konings van die aarde, alle volke,
vorste, alle regeerders van die aarde,
jong manne en meisies,
grysaards saam met seuns!
Gemeente: Laat ons die Naam van die Here prys,
want sý Naam alleen is hoog verhewe
(uit Ps 148).

Voorganger: Laat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in julle bly (Kol 3:16).
En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom (Kol 3:17).
Want God is met julle!
In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.