Sondag na Kersfees

Sections

Oorsig

Die teks uit Kolossense beskryf die logiese gevolge, groei en leefwyse van die gelowiges as uitverkore volk. Dit sluit aan by Lukas 2:52 waar Jesus se groei beskryf word en hoe Hy in guns by God en mens toeneem.

Die teks in 1 Samuel 2:26 beskryf ook hoe Samuel  gegroei het in guns toegeneem het (goedgesind) by God en die mens.

Ander tekste

1 Samuel 2:18-26
Hanna se ander kinders
18Maar Samuel het die Here gedien. As ’n seun het Samuel al ’n linneskouerkleed gedra. 19Sy ma het elke jaar vir hom ’n manteltjie gemaak en dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man gegaan het om die jaarlikse offer te bring. 20Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Mag die Here jou uit hierdie vrou ’n nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is.”

Daarna is hulle weer huis toe. 21Die Here het Hom oor Hanna ontferm, en sy het swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gehad. Ondertussen het die seun Samuel voor die Here grootgeword.

Die goddeloosheid van Eli se seuns
22Eli was al baie oud. En wanneer hy alles hoor wat sy seuns aan al die Israeliete doen en dat hulle by die vrouens slaap wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting, 23sê hy vir hulle: “Waarom doen julle sulke dinge dat ek aanhoudend by die hele volk moet hoor van julle slegte dade? 24Ag nee, my seuns, die gerugte wat ek verneem, is nie goed nie. Julle verlei die volk van die Here. 25Wanneer een mens teen ’n ander mens verkeerd optree, sal die regters die saak uitmaak, maar as ’n mens teen die Here sondig, wie sal dan die saak uitmaak?”

Hulle het egter nie na hulle pa se vermaning geluister nie, want die Here het besluit om hulle dood te maak. 26Maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind.

Psalm 148
Sy Naam alleen is hoog verhewe
148 Prys die Here!
Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
2Prys Hom, alle engele,
prys Hom, alle hemelwesens!
3Prys Hom, son en maan,
prys Hom, alle sterre!
4Prys Hom, hoogste hemele,
en waters in die hoë hemelruim!
5Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want Hy het beveel
en hulle is geskep;
6Hy het hulle vir altyd
hulle vaste plek gegee,
vir hulle ’n orde neergelê
waarbuite hulle nie kan
beweeg nie.
7Prys die Here van die aarde af,
seediere en al die oseane,
8weerlig en hael, sneeu en miswolke,
stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
9berge, al die heuwels,
vrugtebome, al die seders,
10wilde diere, al die vee,
al wat kruip of vlieg,
11konings van die aarde, alle volke,
vorste, alle regeerders van die aarde,
12jong manne en meisies,
grysaards saam met seuns!
13Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want sý Naam alleen is hoog verhewe,
sy majesteit strek oor die aarde
en oor die hemel.
14Hy het aan sy volk mag gegee.
Dit is die roem
van al sy troue dienaars,
die Israeliete,
die volk naby wie Hy is.
Prys die Here!

Lukas 2:41-52
Die Kind Jesus by die tempel
41Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. 42Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. 43En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. 44Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle ’n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. 45Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. 46Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. 48Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”

49Maar hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”

50Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.

51Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.

52En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.

Fokusteks

Die ou en die nuwe lewe
5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. 9En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Ekstra stof

Kolossense
Die gemeente van Kolosse is waarskynlik nie deur Paulus gestig nie (Kol 2:1), hoewel hy op ‘n keer deur die landstreek van Frigië, waar hulle geleë was, gereis het (Hand 16:6).  Hulle was egter duidelik sterk onder sy invloed.  Epafras wat van Kolosse af was – en ook Paulus se medewerker – was moontlik die skakel tussen hulle, en ‘n moontlike stigter van die gemeente (Kol 1:7; 4:12).  Die stad was geleë naby Efese in Klein-Asië (160 km na die ooste), in die suid-weste van wat vandag as Turkye bekend staan.  Hulle was ook nou verbind aan die naburige gemeentes in Laodisea en Hiërapolis (4:13,15).

Die brief is uit die gevangenis geskryf – soos ook Filippense, Efesiërs en Filemon – en soos met die ander drie briewe word die brief met Paulus se Romeinse gevangenskap verbind (Kol 4:3,10,18).  Die brief was dus waarskynlik in die vroeë sestigerjare nC geskrywe, net voor ‘n aardbewing die stad getref het in 61 nC en volgens historici waarskynlik die plek verwoes het.  Vandag is daar net ruïnes oor.

Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk.  Dit is dus nie soseer die mense self – bv dwaalleraars – wat aangevat word nie.  Hy vat eerder hulle idees en praktyke aan.  Daar was in elk geval nog nooit sekerheid onder geleerdes om hierdie idees met ‘n spesifieke bekende groep uit daardie tyd te verbind nie – hetsy die gnostici of die Joodse mistiek of ‘n mengsel daarvan nie.

Wat ‘n mens uit die brief aflei, is dat hierdie idees en gebruike van ’n interessante vermenging van Joodse en ander godsdienstige en filosofiese idees  en praktyke gekom het.

  • Dit sluit teorieë (letterlik filosofieë) en argumente (leë leringe), waarmee Paulus nie die filosowe as sodanig aanvat nie, maar dié in Kolosse wat inhoudsloos was en slegs op menslike tradisies en basiese okkultiese of astrologiese beginsels berus het (NAV se “wettiese godsdienstige reëls” vertaal die Griekse frase: ta stoicheia tou kosmos, wat eerder beteken: “die magte van die heelal” – O’Brien), en nie op Christus nie (2:8,20).
  • Dit sluit ook sekere Joodse voorskrifte in – dinge soos die reëls van wat jy mag eet of drink of waaraan jy mag vat of dan nou juis nie (vgl ook 2:20-21), feeste wat gevier moet word (jaarlikse feeste en die nuwemaansfees) en die hou van die Sabbatdag (2:16).
  • Daarby was daar ook sprake van ‘n aanbidding van engele (2:18), en asketiese gebruike (streng beheersing van die liggaam – 2:23).

‘n Swetterjoel vreemde invloede dus wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en hulle in bygeloof te laat verval.

In Christus is hulle immers dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld (2:20).  En hierdie selfgemaakte leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie (2:23).  Selfs nie die besnydenis is meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (3:10).  Daarom maak Paulus beswaar teen enige vermenging van die geloof in Christus met selfgemaakte leerstellings, veral wanneer dit nog met jou saligheid verbind word.

Paulus help dus die gemeente en sy leiers om vir dié idees en praktyke te kan nee sê, voor dit te veel aanhangers in die gemeente sou hê.  Die brief is dus eintlik een van die vroegste Christelike Apologieë, wat die Christelike godsdiens teenoor leë filosofiese teorieë en vreemde gebruike verdedig.

Paulus wil daarteenoor sterk beklemtoon dat dit in die Christelike geloof net om Christus gaan, iets wat hy ook sterk beklemtoon het in sy brief aan Filippi (Fil 3:1 vv).  Dit is waarom hy in die eerste hoofstuk soveel klem lê op die voorrang van die Seun, nie net in betrekking tot die aarde nie, maar ook met betrekking tot die hemel (Kol 1:15-20).  Die enigste manier om te leef, is om vanuit ‘n verhouding met Christus te leef en Hom toe te laat om alle verhoudinge waarbinne jy leef, te beïnvloed (Kol 3 vv).  Dit het ‘n invloed op jou eie menswees (3:5-17), op jou verhoudings in die huweliks- en gesinslewe, op jou verhoudings in die werksplek (3:18-4:1), sowel as op jou verhouding met mense wat nog buite die geloof staan (4:5).

Dit is ook interessant dat die brief van Kolossense sterk inhoudelike ooreenkomste het met die brief van Efesiërs.  Beide gemeentes se geloof en liefde word vermeld (Kol 1:4,8 – Ef 1:15), Paulus bid vir hulle vir nog dieper geestelike insig (Kol 1:9-10 – Ef 1:17 – vgl Fil 1:9-10), Jesus word as Hoof van die kerk beskryf (Kol 1:18,24 – Ef 1:22-23) sowel as oor die magte (Kol 1:16-17 – Ef 1:21), en hulle word tot ‘n heilige lewe opgeroep (Kol 3:1-17 – Ef 4:17-5:13).  Dit wil voorkom asof Efesiërs verder uitbrei op temas wat in Kolossense aangeraak is, wat geleerdes Kolossense voor Efesiërs plaas (Lincoln), maar daar is nie genoeg bewyse na watter kant toe ook al nie.

Kolossense 3:1-4:1 – Leef as nuwe mense
Paulus maak nou ‘n laaste fundamentele uitspraak oor hulle verbintenis met Christus Jesus voor hy drie van die implikasies daarvan uitspel vir :  1) hulle gedagtes oor hulleself, 2) hulle lewenstyl en gedrag, en 3) al die verhoudings waarin hulle is.

Rig julle gedagtes op die dinge daarbo – 3:1-4
Dit is uiters belangrik om oor jouself vanuit jou verbintenis met Christus Jesus te dink.  Want dit beïnvloed alles.  Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie.  Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo.  Ons status verander.  Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe.  Trouens, ons lewe is verborge in God.  En daarom is ons toekoms verseker.  Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn.

Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo.  Paulus bedoel natuurlik nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie.    Dit spel hy juis in die volgende deel uit.  Die dinge van die aarde is dinge soos onsedelikheid, slegte begeertes en gierigheid.  Dit moet nie deel van ons denke wees nie.  Die dinge daarbo is dinge soos meelewendheid, goedgesindheid en verdraagsaamheid.  Dit moet ons denke volmaak.

Leef as nuwe mense – 3:5-17
Dit is ongelooflik hoe elke woord wat Paulus hier skryf van betekenis is.  ‘n Mens kan uitvoerig uitwy oor hoe Paulus die ou lewe beskrywe wat afgelê moet word (3:5-11 – 2 groepe van 5 sondes elk word genoem) en hoe hy dan beskrywe hoe die nuwe lewe geleef moet word (3:12-17 – 15 deugdes of karaktertrekke word genoem).  Eintlik kan ‘n mens ‘n paar maande hieroor nadink, en daar sal elke dag nog dinge wees wat vir jou nuut oopgaan!  Tyd en ruimte ontbreek my egter.  Daarom maak ek net ‘n paar opmerkings hieroor:

  • Ons het ‘n prentjie nodig van die tipe mens wat God wil hê dat ons moet wees.  En die prentjie wat Paulus hier kies, is dat ons vernuwe moet word na die beeld van ons Skepper.  Dit beteken dat ons moet groei tot die volle kennis van God, want Hy is ons Skepper.
  • Dit is waarom dit so onsinnig is om klem te lê op jou afkoms (Griek of Jood), jou vorige godsdiens (besny of nie besny nie), jou taal of jou kultuur (onbeskaaf) of jou klas (slaaf of vry).  Daar is net een ding wat belangrik is, en dit is of jy in Christus glo of nie, en of Hy in jou lewe of nie.
  • En belangrik: die prentjie wat Paulus skilder van die beeld van ons Skepper is nie sy Almag, of Alomteenwoordigheid, of sy Skeppingsmag nie … maar sy karakter.  En dit is wat in ons moet groei: meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid.  Dit is hoe God is.  Dit is hoe ons moet wees.
  • Dit is waarom ons met mekaar geduldig moet wees, en mekaar moet vergewe … want dit gebeur nie oornag nie!  Ons moet bo alles mekaar liefhê, sodat ons nie deur onderlinge verskille uitmekaar gedryf word nie, veral nie verskille soos afkoms, taal, kultuur of klas nie.  Selfs nie ons verskille in die wyse waarop ons die karaktertrekke van die nuwe lewe al vertoon of nie, moet ons verlei om onderskeid te maak tussen gelowiges nie.
  • Let op hoe Paulus sê dat die vrede wat Christus gee die deurslag in ons lewe moet gee.  Dit moet letterlik skeidsregter speel tussen verskillende opsies.
  • En ek kan nie nalaat om ook op die koop toe klem te lê op Paulus se aandrang dat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in ons moet bly nie.  Ons moet mekaar daarin onderrig en sorg dra dat almal van ons tot die volle kennis van God groei.
  • En dan is daar nog die dankbaarheid waarvan ons moet sing … op allerhande maniere …

Leef in verhoudings soos die Here verlang – 3:18-4:1
Let op hoe Paulus drie tipe verhoudings beskryf: huweliksverhoudings, gesinsverhoudings en arbeidsverhoudings.  Dit word deur geleerdes ‘n “huistafel” genoem, omdat al drie verhoudings tipies in ‘n huishouding voorgekom het.

Dt is belangrik om die vorige twee perikope se boodskap in berekening te bring in wat Paulus hier oor die drie verhoudings sê.  Die verbintenis met Christus Jesus (3:1-4) en die karakter van God (3:5-17) moet die vertrekpunt vorm vir die wyse waarop in elkeen van hierdie verhoudings opgetree word.  Dit wil sê, die spesifieke opdragte wat hy aan die onderskeie persone in die verhoudings gee, moet verstaan word in die lig van Jesus se Heerskappy en die karakter van God wat in ons gevorm moet word.

Dit beteken onder andere dat ‘n mens versigtig moet wees om die opdrag aan bv die vroue, kinders en slawe as ‘n billike en regverdige verwagting van die mans, ouers en eienaars te verstaan.  Dit sou tot misbruik aanleiding kon gee deur mans, ouers en eienaars, veral as dit onafhanklik van hulle eie opdrag tot liefhê, genaakbaarheid, en regverdige, billike gedrag hanteer word.  Dieselfde geld die opdragte aan die mans, ouers en eienaars.  Die gebreke van mans, ouers en eienaars kan baie maklik as beskuldigings teen hulle gebruik word, sonder om ag te slaan op die vroue, kinders en slawe se eie optrede.

Die opdrag tot onderdanigheid (wat natuurlik wedersyds is – in Ef 5:21 brei Paulus hierop uit om enige misverstand in hierdie brief aan Kolossense te voorkom), liefhê, gehoorsaamheid, die vermyding van foutvinderigheid, opregtheid, en reg en billikheid moet dus eerder op ‘n positiewe wyse  aangegryp word om daardeur die karakter van God aan ander ten toon te stel.  Dit sal ons almal motiveer en aanmoedig om te leef as nuwe mense.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 336

Votum: Psalm 148

Seëngroet

Lofsang: Psalm 148 of Flam 23 of Lied 367 of VONKK 128

Wet: Kolossense 3:12-17

Skuldbelydenis: Flam 7 of Lied 340

Genadeverkondiging: (Uit “Soos ’n Blom na die Son draai” deur Cas Wepener, Cussons gedig uit “’n Engel deur my kop”)

Geloofsbelydenis: Lied 338 of VONKK 91

HOOR

Gebed

Skriflesing: Kolossense 3:12-17

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 344 of VONKK 142

Seën: (Uit “Soos ’n Blom na die Son draai” deur Cas Wepener)

Respons: Lied 334 vers 1 laaste reël

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 336 “Dit is die dag deur God geskenk”

Votum:Psalm 148
Liturg: Prys die Here!

Vroue en meisies:  Prys die Here vanuit die hemele, prys Hom in die hoë hemel!
Mans en seuns:  Prys Hom, alle engele, prys Hom, alle hemelwesens!

Vroue en meisies:  Prys Hom, son en maan, prys Hom, alle sterre!
Mans en seuns:  Prys Hom, hoogste hemele, en waters in die hoë hemelruim!

Liturg:  Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en hulle is geskep; Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee, vir hulle ’n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie.
Prys die Here van die aarde af,

Vroue en meisies:  seediere en al die oseane,
Mans en seuns:  weerlig en hael, sneeu en miswolke,

Vroue en meisies:  stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
Mans en seuns:  berge, al die heuwels,

Vroue en meisies:  vrugtebome, al die seders,
Mans en seuns:  wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg,

Vroue en meisies:  konings van die aarde, alle volke, vorste, alle regeerders van die aarde,
Mans en seuns:  jong manne

Vroue en meisies:  en meisies, grysaards
Mans en seuns:  saam met seuns!

Liturg:  Laat hulle die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.
Almal:  Prys die Here!

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God wat gekom het, weer kom en elke dag in ons lewens kom!

Lofsang
Psalm 148 of
Flam 23 Prys Die Here of
Lied 367 “Ere aan God” of
VONKK 128 Eer Aan God  (Lukas 2:14) – kanon

Wet: Kolossense 3:12-17

Skuldbelydenis
Flam 7 Here, Ek Vergeet So Gou of
Lied 340 “Kom ons loof die Jesuskind”

Genadeverkondiging
’n Paar weke gelede het ons uit Sefanja 3 gelees:  Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red.  Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde vir jou.  Hy verseker jou vanoggend dat al jou sonde vergewe is.  ’n Paar versreëls uit Sheila Cussons se gedig “Advent” bring die betekenis van die Kersgebeure vir ons vergifnis bymekaar:
En was dit nie juis so dat
hy ons geskaad het nie?  Maar
toe alles wat lieflik in ons was,
ewewigtig en nederig en klein,
soos ’n uitmekaargerukte blom
voor daardie verslindende blik
in bleek fyn flardes val
het ’n verskriklike Toorn
uit sy eie hart gebars
in ’n roos van vlees.
(Uit “Soos ’n Blom na die Son draai” deur Cas Wepener, Cussons gedig uit “’n Engel deur my kop”)

Geloofsbelydenis
Lied 338 “Weer dink ons saam aan daardie nag”
VONKK 91 Die Kleine Dorpie Betlehem

Liedere

VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”
Teks: Ernst Kotzé 2010  Musiek: JUDAS MACCABEUS – GF Handel 1746;  harmonisasie effens gewysig 2001
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Advent  / Kersfees en Epifanie

1. Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!
Ons kom in aanbidding, buig tot in die stof.
Heer, ontvang ons loflied, aan U al die lof!
Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!

2. Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!
In ons donker harte, stuur Hy weer sy lig.
Hy kom na die aarde, om ons op te rig!
Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!

VONKK 128 “Eer Aan God   (Lukas 2:14)  – kanon”
Lukas 2:14 Teks: Gloria . . . et in terra pax – Taizé; Afrikaanse weergawe: VONKK Werkgroep 2010
Musiek: Jacques Berthier 1923-1994 Teks en musiek met toestemming Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Kersfees en Epifanie

Eer aan God, eer aan God in die hoogste hemel.
Eer aan God, eer aan God, halleluja!
Laat daar vrede wees vir almal op aarde,
God skenk aan ons sy genade.

Gloria, gloria, in excelsis Deo,
gloria, gloria, alleluja!
Et in terra pax hominibus bonae voluntatis.

VONKK 91 “Die Kleine Dorpie Betlehem”
Teks: O Little Town of Bethlehem – Phillips Brooks 1868;  Afrikaanse weergawe: Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Melodie:  FOREST GREEN – Tradisioneel Engels E16 Orrelbegeleiding en kantyoryverwerking: Ralph Vaughan Williams 1906
Klavierbegeleiding: Jacus Krige 2010 © Afrikaanse teks en klavierbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Die kleine dorpie Betlehem
lê rustig daarie nag,
terwyl dié wonderwerk gebeur
waarvoor die wêreld wag.
Want diep in daardie donker nag
verskyn ’n nuwe dag
vir almal wat in nood verkeer
en op sy redding wag.

2. Toe God se Seun gebore is,
was daar geen plek vir Hom;
so word ’n donker dierestal
‘n helder heiligdom.
Want soos voorspel en lank verwag
verskyn ’n Koningster,
wat ewig lig en vrede straal
na mense wyd en ver.

3. O Koningskind daar in die krip,
U kom hier by ons woon.
Net U versoen ons sondeskuld
en maak ons lewe skoon.
Die engele bring blye eer,
want U kom ons herstel.
O Vredekoning, God met ons,
U is Immanuel.

F23. “Prys Die Here”
(RUBRIEK: Flam – Lof)  Teks en musiek: Rhe Janse © 1994 Brettian Productions (Opgeneem op Lentereën – Willie Joubert)  (Ps 148)

1. Prys die Here vanuit die hemele;
prys die Here alle engele;
prys Hom son en maan,
prys Hom alle sterre!
Prys die Here en sy grote Naam!

2. Prys die Here van die aarde af,
uit die see en van die berge af.
Prys Hom bome, diere, plante en riviere.
Prys die Here en sy grote Naam!

3. Prys die Here alle volke saam;
mans en vroue, prys die Heer se Naam.
Prys Hom konings, vorste, oud en jonk tesame.
Prys die Here en sy grote Naam!

4. U’s my Here en ek prys u Naam;
U’s verhewe, hoor my loflied aan.
Heer, U majesteit strek oor aard’ en hemel;
U’s my Here, en ek prys u Naam!
U’s my Here, en ek prys u Naam!

F7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis) Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy  Teks en musiek: Steve Merkel
Afrikaanse vertaling: 2005 Breda Ludik © 2000 Integrity’s Hosanna Music (Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ’n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

2. Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:

3. Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ’n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Kolossense 3:12-17

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Jy kan aansluit by Psalm 148.  Wys almal daarop dat die Psalmdigter ’n lys maak van alles waaraan hy kan dink en sê dat alles en almal God moet loof.  Laat almal nog goed noem waaraan hulle kan dink, wat God moet loof.

Koos van der Merwe van die sanggroep Prophet skryf nav hierdie Psalm (jy kan die lied speel as jy dit het):
asems
al die asems
al die wasem
loof Hom…
likkewane
bobbejane
olifante
al die leeus
al die spreeus
en fisante
kom nou kraaie
papegaaie
en volstruise
al die vlooie in die kooie
al die luise
pelikane
en sprinkane
en marmotte
al die tiere
en die miere
kokkerotte
die miljoene skerpioene
en die swane
al die ape
al die skape
en die hane
o die vele vaal kamele
en die reiers
al die uile
al die muile
en miskruiers
elke bees
en elke kees
en al die vinkies
al die bokkies
en toktokkies
en tinktinkies
dan die wille krokkedille
en die muise
en die katte op die matte in die huise
al die kewers
al die bewers
swartwitpense
en heel laaste
maar die meeste
al die mense
OF
Wys ’n klomp alledaagse dinge, soos ’n skooltas, kosblik, potloodsakkie, wekker, ens.  Een van die dae kom al die aktiwiteite waar ons hierdie goed gebruik, weer terug.  Ons uitdaging is om die goeie nuus en vreugde van Kersfees die hele jaar, deur al ons aktiwiteite, te vier.  Die teks uit Kolossense leer ons hoe om dit te doen – om met die Kersfees-gesindheid te leef.
OF
Die beste idee bly maar ’n storie!  Jy kan die pragtige “Peace is an offering” deur Annette LeBox se kindle weergawe koop Neem screenshots en sit dit in die powerpoint.  Hierdie boek “is a journey of neighborhood friends living life in community with one another. They comfort, they share, they resist fights, they laugh, and they spend time in nature together. This story reflects the desires of Paul for the Colossian church to live in the peace of Christ among one another, enjoying life together and reminding one other how to respond when conflict and unrest arise.” (aldus Storypath.)

Preekriglyn

Paulus skryf die brief aan die gelowiges in Kolosse terwyl hy in die tronk in Rome sit. Die brief is klaarblyklik in die vroeë sestigerjare n.C. geskryf, kort voordat ‘n aardbewing Kolosse in 61 n.C. getref en verwoes het. Vandag is daar net ruïnes oor.

Kolosse is sowat 160 km oos van Efese geleë, ‘n stad waar Paulus baie tyd spandeer het. ‘n Getroue medewerker van Paulus, Epafras, was van Kolosse en dus waarskynlik die skakel tussen Paulus en die gemeente. Kolosse was naby aan Laodisea en Hiërapolis, waar daar ook Christelike gemeentes was.

Teen dwaalleer

Paulus skryf hierdie brief om sekere idees en praktyke wat in die gemeente begin posvat het, teë te werk.  Hy reageer sterk op die idees en praktyke van sekere dwaalleraars. Wat ‘n mens uit die brief aflei, is dat hierdie idees en gebruike uit ‘n vermenging van Joodse en ander godsdienstige en filosofiese idees en praktyke gekom het.:

  • Dit sluit teorieë en argumente (leë leringe) wat slegs op menslike tradisies, godsdienstige reëls en basiese okkultiese of astrologiese beginsels berus het.
  • Dit sluit ook sekere Joodse voorskrifte in – dinge soos die reëls van wat jy mag eet of drink of waaraan jy mag vat of dan nou juis nie (vgl ook 2:20-21), feeste wat gevier moet word (jaarlikse feeste en die nuwemaansfees) en die hou van die Sabbatdag (2:16).
  • Daarby was daar ook sprake van ‘n aanbidding van engele (2:18), en asketiese gebruike (streng beheersing van die liggaam – 2:23).

Kolosse se gelowiges is dus geteister deur ‘n swetterjoel vreemde invloede wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en die gemeente in bygeloof te laat verval.

Nuwe identiteit in Christus

Paulus wys die leë filosofieë af omdat hy hulle wil help om hul identiteit in Christus te vestig. In Christus is hulle immers dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld (2:20).  En hierdie selfgemaakte leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie (2:23).  Selfs nie die besnydenis is meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (3:10).

Daarom maak Paulus beswaar teen enige vermenging van die geloof in Christus met selfgemaakte leerstellings, veral wanneer dit nog met jou saligheid verbind word. Paulus help dus die gemeente en sy leiers om vir dié idees en praktyke te kan nee sê, voor dit te veel aanhangers in die gemeente sou hê.  Die brief is dus eintlik een van die vroegste Christelike Apologieë, wat die Christelike godsdiens teenoor leë filosofiese teorieë en vreemde gebruike verdedig.

Paulus beklemtoon dat dit in die Christelike geloof net om Christus gaan. Dit is waarom hy in die eerste hoofstuk soveel klem lê op die voorrang van die Seun, nie net in betrekking tot die aarde nie, maar ook met betrekking tot die hemel (Kol 1:15-20).

Die enigste geldige Christelike lewenswyse is om vanuit ‘n verhouding met Christus te leef en Hom toe te laat om alle verhoudinge waarbinne jy leef, te beïnvloed (Kol 3 vv).  Dit het ‘n invloed op jou eie menswees (3:5-17), op jou verhoudings in die huweliks- en gesinslewe, op jou verhoudings in die werksplek (3:18-4:1), sowel as op jou verhouding met mense wat nog buite die geloof staan (4:5).

Leef as nuwe mense

In hoofstuk 3 praat Paulus spesifiek oor die gelowiges se verbintenis met Christus Jesus wat drie pertinente implikasies het vir:

  • hulle gedagtes oor hulleself (3:1-4) – die Kolossense moet oor die hele lewe vanuit hulle verbintenis oor Christus dink,
  • hulle lewenstyl en gedrag (3:5-17) – na twee groepe van vyf sondes genoem word, beskryf Paulus die deugde waarmee die Kolossense hulleself moet beklee., en
  • al die verhoudings waarin hulle is (3:18-4:1) – hy verwys na huwelik, gesin en arbeidsverhoudings.

Ons teks kom uit die tweede deel van hoofstuk 3, uit die gedeelte wat handel oor die nuwe lewensstyl en gedrag van mense wat in Christus ingeplant is, mense wat die nuwe lewe in Christus op elke terrein van hul lewe uitleef.

Paulus toon dus aan hoe ons identiteit in Christus prakties lyk.

In ons teks word ons identiteit in Christus beskryf in terme van die feit dat ons die volk van God is (12). Ons is gekies om met wie ons is, hoe ons as gelowiges onder mekaar leef, en deur wat ons doen vir God bruikbaar te wees. Hierdie identiteit moet deursuur na ‘n diep-veranderde lewe.

Vyf innerlike kwaliteite

Paulus gebruik die beeld van ‘n boetiek, waar mens jy ou klere vervang met pragtige nuwe klere. Die nuwe klere van die geloof bestaan volgens vers 12 uit vyf deugde. Hierdie deugde beskryf die innerlike kwaliteite van God se kinders. Hulle is:

  • Meelewendheid
  • Goedgesindheid
  • Nederigheid
  • Sagmoedigheid
  • Verdraagsaamheid

Kom ons staan stil by die betekenis van hierdie vyf deugde.

Meelewendheid

Die term wat hier met “meelewend” vertaal word is in Grieks eintlik ‘n dubbel-term,  wat “simpatieke of ontfermende meegevoel” beteken. Volgens die Ou Testament is “meegevoel” tipies van God. God sien mense in nood aan en ontferm God oor hulle. in Romeine 12:1 dui dieselfde woord (meegevoel) op God se konkrete aksies van genade in Jesus, en in 2 Korintiërs 1:3 word God as Vader van ontferminge beskryf.

“Simpatiek” of “ontfermend” kom van die Griekse woord vir ingewande, want die hart en ingewande is as setel van die emosies gesien. Ook hierdie term word in die Ou Testament en veral in die Nuwe Testament tipies met God sowel as met Christus vereenselwig. Met ontfermende meegevoel gaan dit dus om te lewe as mense wie se identiteit deur ontfermende meegevoel vir ander gekenmerk word.

Iemand wat ‘n mens van “ontfermende meegevoel” is, is iemand wat in Christus gevorm is om empatie met die medemens te hê. Dit is iemand wat nie met stereotipes of vooropgesette idees oor ander werk nie, maar die Godgegewe menslikheid en menswaardigheid in ander kan raaksien.

Dit bring ‘n deernisvolle sagtheid in hoe Christene met alle ander mense werk.

Goedgesindheid

Die tweede deug, goedheid of goedgesindheid, is in die Ou Testament die term waarmee God Godself in konkrete dade bewys as die Bron van alle goedheid. Daar is baie voorbeelde in die Psalms. Paulus is ook lief daarvoor om hierdie woord met God in verband te bring. Dit onderstreep dat God se goedheid die verlossing, en nie die verwoesting nie, van sondaars in gedagte het. Goedheid is volgens Galasiërs 5:22 ook deel van die vrug van die Heilige Gees. 1 Kor. 13:4 beskryf goedheid as ‘n vorm van liefde.

Dit is soos God is, en dit is soos Christene ook moet wees. Ons is in Christus ‘n bron van goedheid teenoor ander, ons help en ondersteun eerder as om te verwerp.

Nederigheid

Nederigheid is ‘n term wat in destydse buite-Bybelse literatuur selde voorgekom het en dan meestal met ‘n negatiewe konnotasie van gedienstigheid of swakheid. In die Bybel word die term meer genuanseerd gebruik. Die Ou Testament waarsku die profete dat die nederiges bo die elite en maghebbers verhef sal word (Am 2:6, 7, 13; 8:6, 7; sien Jes 2:9, 11, 17; 5:15; Sef 2:3; 3:12), terwyl die wysheidsliteratuur nederigheid as vrug van ervaring en lewensgerigtheid aandui (Job 5:11; Spr 3:34; 11:2; 15:33). In die Nuwe Testament dui nederigheid op diensbaarheid aan Christus (Hand 20:19) en ander gelowiges (Ef 4:2; Fil 2:3; 1 Pet 5:5), ‘n eienskap wat Christus verbeeld soos Filippense 2:6-11 se lied oor Christus pragtig aandui.

‘n Nederige mens is iemand wat soos Christus dien. Dit gebeur waar ons van ons selfsug en selfgerigtheid bevry word. Nederigheid boots Christus na.

Sagmoedigheid

Die vierde deug is sagmoedigheid, ‘n woord wat maar 11 keer in die Nuwe Testament voorkom; agt keer in Paulus se briewe en drie keer elders (twee keer in Jakobus en een keer in 1 Petrus).

In die Ou Testament verwys nederigheid na die armes, en landloses van Israel wat sonder regte was en dikwels uitgebuit is (Jes 32:7; Ps 37:14; Job 24:4; sien Ps 9, 10). Die Here is die God van diegene sonder regte (Ps 25:9; 149:4; 34:2), wat hulle troos wanneer ander mense hulle onderdruk (Jes 29:19; Job 36:15) en wat hulle lot sal verander (Jes 26:6; Ps 37:11; 147:6).

Sagmoedigheid kenmerk ook Jesus se heerskappy, wat verlossing sonder onderdrukking bring (Matt 21:5 = Sag 9:9), en Homself as nederig beskryf (Matt 11:29).

Paulus verwys ook na die sagmoediges van God (2 Kor 10:1) as kenmerk van Christus se lewe en voorbeeld vir sy volgelinge. Sagmoedigheid is nie swakheid nie, maar behels die inagneming van ander en die gewilligheid om van jou regte afstand te doen.

Sagmoedigheid is werklik ‘n merkwaardige deug. Dit kom op uit innerlike krag, en is ‘n keuse om soos Christus te wees.

Verdraagsaamheid, geduld

Die finale deug wat genoem word, is verdraagsaamheid of geduld wat onreg verduur en die onregverdige optrede van ander verdra sonder om in woede te reageer of wraak te neem.

Hierdie vyf deugde dui aan watter vorm die optrede van Jesus se volgelinge, veral ten opsigte van ander mense, behoort aan te neem.

Onderlinge verhoudinge

Nadat Paulus die innerlike kwaliteite wat God in gelowiges skep in vers 12 verduidelik het, gaan hy vanaf vers 13 tot 17 voort om die lewe tussen gelowiges te beskryf. Hy betrek die vyf deugde op die nuwe kwaliteit van lewe wat onder lede van die gemeente van die Here vaardig moet word.

Daarom sê vers 13 dat die gelowiges mekaar moet verdra en ook moet vergewe. Paulus weet dat daar by tye geldige klagtes tussen gelowiges gaan ontstaan, maar doen ook ‘n beroep om wedersydse verdraagsaamheid en vergifnis. Die rede en oorsprong van die vergifnis is van die hoogste orde: soos die Here mense vergewe, so moet mense mekaar ook vergewe.

In vers 14 kom die opdrag om uit al hierdie goeie morele eienskappe veral liefde op te neem, wat as die “perfekte band” beskryf word. Liefde in die Nuwe Testament is die motiverende krag van die geloof (Gal 5:6), die belangrikste van alle deugde in Christus (1 Kor 13:13) en omvat al tien gebooie in een, as die vervulling van die wet (Rom 13:9-10). Liefde is die belangrikste deug wat alle ander deugde saambind, dit is die band tussen mense wat tot volmaaktheid lei. Liefde skep ‘n eensgesinde gemeente in Christus.

In vers 15 verskuif die fokus van liefde na vrede. Die opdrag is dat die vrede van Christus in die gelowiges se harte moet heers, want die hart is die sentrum van menslike wil, emosies, gedagtes en gevoelens. Wie vrede in die hart het, leef in ‘n nuwe, Christus-gelykvormige verhouding met ander. Die gemeente word opgeroep tot vrede in een liggaam. Daarbenewens, word die gelowiges  aangespoor om dankbaar te wees.

In vers 16 is die verdere opdrag dat die Woord van Christus ryklik in die Kolossense sal inwoon, en daarmee saam dat hulle mekaar sal onderrig of leer en vermaan in alle wysheid asook in dankbaarheid psalms en geestelike liedere in hul harte vir God sal sing.

Vers 17 is een van die mees omvattende aansporings in die Nuwe Testament en vat die voorafgaande vyf verse goed saam. Die Kolossense moet alles wat hulle dink of doen, dink of doen in die Naam van die Here Jesus, en God die Vader deur Hom dank. Die beklemtoning van “elke” en “alle” tesame met woord en daad, maak die reikwydte van die oproep duidelik: die hele lewe in elke hoedanigheid en in alle opsigte is nou ter sprake. Trouens, die totale oorgawe aan ‘n lewe in Christus moet gedoen word terwyl hulle God die Vader dank deur Hom.

In die gemeente

Ons kan nie genoeg beklemtoon dat hierdie deugde nie net die individuele gelowige raak nie, maar veral die kwaliteit van die onderlinge lewe in die gemeente wil verander. Individuele gelowiges wat vernuwe is met die kwaliteite van vers 12, leef volgens vers 13 tot 17 op ‘n nuwe manier onder mekaar.

Hier, op die eerste Sondag na Kersfees, word ons herinner aan die nuwe lewe wat die Kerskind moontlik kom maak het. In Christus, deur Woord en Gees, beleef ons ‘n innerlike transformasie, asook die heerlike kwaliteite van nuwe gemeenskap tussen verloste mense in die volk van God.

Groei!

Vir die nuwe jaar moet ons bestek opneem en groei in Christus. Dink aan die volgende uitdagings:

  • Groei in jou meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid.  Dit is hoe God is.  Dit is hoe ons moet wees.
  • Dit is waarom ons met mekaar geduldig moet wees, en mekaar moet vergewe … want die groei gebeur nie oornag nie!  Ons moet bo alles mekaar liefhê, sodat ons nie deur onderlinge verskille uitmekaar gedryf word nie.  Selfs nie ons verskille in die wyse waarop ons die karaktertrekke van die nuwe lewe al vertoon of nie, moet ons verlei om onderskeid te maak tussen gelowiges nie.
  • Groei sluit in dat die vrede wat Christus gee die deurslag in ons lewe moet gee.  Dit moet letterlik skeidsregter speel tussen verskillende maniere van optree.
  • Let ook op Paulus se aandrang dat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in ons moet bly.  Ons moet mekaar daarin onderrig en sorg dra dat almal van ons tot die volle kennis van God groei.
  • En dan is daar nog die dankbaarheid waarvan ons moet sing … op allerhande maniere …

Daar’s werk!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 344 “O die goeie tyding, o die blye tyding” of
VONKK 142 Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer

Seën
V: Mag die God van die engele wat Jesus se geboorte aangekondig het, vreugde in julle hart bring op hierdie dag en vir altyd.
G: Amen.

V: Mag die God van liefde wat sy enigste Seun vir ons gegee het, julle lewe met liefde en vrede vul.
G: Amen.

V: Mag Immanuel, God met ons, met julle wees in alles wat julle doen, totdat julle eendag aan sy tafel gaan aansit.
G: Amen.

V: Die almagtige God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees, seën julle elkeen in hierdie Kerstyd.
(Uit “Soos ’n Blom na die Son draai” deur Cas Wepener)

Respons
Lied 334 vers 1 laaste reël:  Juig dan almal, jubel oor die saligheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.