Sondag ná Kersdag

Sections

Oorsig

Tema vir hierdie Sondag: gedagtes rondom God se teenwoordigheid of voorsiening in tye van konflik.

Saam met die hele skepping (Ps 148) kan ons getuig van God se goedheid in ons lewe omdat God nie ’n engel nie (Jes 63), maar sy Seun as middelaar en vredemaker midde in die konflik aan die wêreld gee (Matt 2).

God verskyn midde in konflik op die mees brose en weerlose manier – as pasgebore kind. Geen triomftog, geen pantserwaens, geen vertoon van mag, slegs die teenwoordigheid van ’n magtelose kind. Deur hierdie enkele daad word die status quo nek omgedraai.

Vind in hierdie diens maniere om die ontmagtiging van God deur die geboorte van sy Seun, Christus, as geloofsgemeenskap te beliggaam. ’n Paar voorbeelde: Vra kinders om te help met die bediening van die nagmaal, nooi die hele gemeente om aan die einde van die erediens die seëngroet met mekaar te deel, preek van ’n minder prominente plek (nie die kansel nie). Christus is as ontmagtigde gebore, en is op hierdie wyse by ons teenwoordig.

Ander tekste

Jesaja 63:7-9
U is tog ons vader
7Ek sal die troue liefde van die Here
verkondig,
die roemryke dade van die Here,
alles wat Hy vir ons gedoen het,
sy groot goedheid vir Israel,
alles wat Hy gedoen het in sy genade,
in sy groot liefde.
8Hy het gesê:
Hulle is my volk,
kinders wat nie ontrou sal word nie.
Daarom het Hy hulle gered
9uit al hulle nood.
Hy was vir hulle nie ’n vyand nie,
Hy self was die engel
wat hulle gered het.
Hy het hulle verlos
deur sy liefde en ontferming;
Hy het hulle opgetel
en hulle altyd gedra.
Psalm 148

Sy Naam alleen is hoog verhewe
148 Prys die Here!
Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
2Prys Hom, alle engele,
prys Hom, alle hemelwesens!
3Prys Hom, son en maan,
prys Hom, alle sterre!
4Prys Hom, hoogste hemele,
en waters in die hoë hemelruim!
5Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want Hy het beveel
en hulle is geskep;
6Hy het hulle vir altyd
hulle vaste plek gegee,
vir hulle ’n orde neergelê
waarbuite hulle nie kan
beweeg nie.
7Prys die Here van die aarde af,
seediere en al die oseane,
8weerlig en hael, sneeu en miswolke,
stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
9berge, al die heuwels,
vrugtebome, al die seders,
10wilde diere, al die vee,
al wat kruip of vlieg,
11konings van die aarde, alle volke,
vorste, alle regeerders van die aarde,
12jong manne en meisies,
grysaards saam met seuns!
13Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want sý Naam alleen is hoog verhewe,
sy majesteit strek oor die aarde
en oor die hemel.
14Hy het aan sy volk mag gegee.
Dit is die roem
van al sy troue dienaars,
die Israeliete,
die volk naby wie Hy is.
Prys die Here!

Hebreërs 2:10-18
Die Leidsman tot die saligheid
5Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. 6Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê:
“Wat is ’n mens
dat U aan hom dink,
’n mensekind
dat U na hom omsien?
7U het hom ’n kort tydjie
minder as die engele gemaak;
U het hom met heerlikheid
en eer gekroon;
8U het alles aan hom onderwerp.” 
By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. 9Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ’n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.

10God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heelikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. 11Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog:
“Ek sal u Naam aan my broers
bekend maak,
in die samekoms van die gemeente
sal Ek u lof besing.”
13Ook sê Hy:
“Ek sal altyd op Hom vertrou.”
En verder:
“Hier is Ek met die kinders
wat God My gegee het.”
14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. 16Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. 17Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. 18Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Fokusteks

Matteus 2:13-23
Die vlug na Egipte toe
13Nadat hulle vertrek het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”

14Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek 15en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur ’n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”

Die kindermoord
16Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. 17Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:
18“’n Gekerm word op Rama gehoor,
’n gehuil en groot gejammer:
Ragel treur oor haar kinders
en wil nie getroos word nie,
omdat hulle nie meer daar is nie.”

Die terugkoms uit Egipte
19Na die dood van Herodes verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef in Egipte 20en sê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.”

21Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan. 22Toe hy egter verneem dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was Josef bang om daarheen te gaan. Nadat God hom in ’n droom ’n aanwysing gegee het, is hy na die landstreek Galilea toe. 23Daar aangekom, het hy gaan woon in ’n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is: Hy sal Nasarener genoem word.

RIGLYNE VIR DIE EVANGELIE van MATTEUS
Die bedoeling van die homiletiese riglyne is nie om ’n uitvoerige inleiding tot die Matteusevangelie te gee nie. Skrywer belig slegs ses aspekte daarvan wat belangrik is vir die prediking daaroor.

1. ’n Gemeenskap in krisis
Matteus is ’n latere verwerking van die Markusevangelie vir ’n geloofsgemeenskap wat krisistye beleef het. Dit is gerig aan ’n gemeenskap woonagtig iewers in die Romeinse Ryk (waarskynlik in Antiogië) in die tyd ná die katastrofiese Joods-Romeinse oorlog (66-70 nC). Waar Markus tydens, of net na dié oorlog geskryf is, skryf Matteus ’n dekade of twee later. Sy lesers, wat hoofsaaklik uit die Jodedom gekom het, leef dus in ’n wêreld waarin die oorlog reeds vir meer as ’n dekade ’n identiteitskrisis vir die verskillende Joodse groeperinge in die eerste eeu veroorsaak het. Die tempel, die magsbasis van die Sadduseërs en die priesters, was vernietig. Jerusalem, die magsentrum van die Joodse elite, was in puin. In dié krisistyd het die Fariseërs en die Skrifgeleerdes, deur die herinterpretasie van die wet, ’n nuwe gestalte van die Joodse geloof geartikuleer wat bekend staan as formatiewe Judaïsme.

Dieselfde proses van omskrywing van ’n nuwe geloofsidentiteit, het in die Matteusgemeenskap afgespeel. Dié gemeenskap was in ’n fel stryd met formatiewe Judaïsme gewikkel oor wie waarlik die volk van God is (23:1-36). Só is hulle uit die nuwe sentra van die Joodse geloof, die sinagoges, geban. Matteus argumenteer dat sy gemeenskap nie alleen die Wet korrek uitlê nie (vgl die antiteses), maar dat hulle ook die enigste legitieme erfgename van die Ou-Testamentiese beloftes is (vgl die vervullingsitate). Sentraal tot dié stryd is die aanspraak van die Matteusgemeenskap dat Jesus die langverwagte Messias is.

Predikers moet in die lig van die voorafgaande in gedagte hou dat Matteus die identiteit van sy gemeenskap omskryf in terme van hul navolging van Jesus te midde van ‘n krisistyd gekenmerk deur interne konflik en eksterne weerstand, vyandigheid en selfs vervolging. Matteus is dus nie ’n leuenstoel-teoloog nie. Hy is krisis-teoloog. Daar sou ’n saak daarvoor uitgemaak kon word dat die ganse Nuwe Testament deur krisis-teoloë geskryf is.  

2. ’n Verwerking van Markus
Matteus is, soos reeds vermeld, ’n verwerking van Markus. Daarom is dit belangrik om breedweg te let op hoe Matteus vir Markus bywerk. Eerstens verkort hy telkens Markus se weergawe met amper ’n derde, deur hulle gemeenskaplike episodes in minder woorde weer te gee en nie deur episodes as sodanig uit te laat nie. Tweedens voeg hy ’n nuwe begin, einde en leerstellige blokke by die verhaal van Markus. Die genealogie en geboorteverhale wat hy byvoeg (Markus het geen Adventverhaal nie) verbind die verhaal van Jesus direk aan die verhaal van Israel, terwyl die vertellings van Jesus se verskyning aan die dissipels en sy uitstuur van hulle na die wêreld (Markus het net die leë graf en geen verskynings van Jesus nie) dit weer direk aan die bediening van die kerk koppel. Derdens omraam Matteus sy verhaal met ’n verwysing na die Ou-Testamentiese belofte dat God by sy volk teenwoordig sal wees (1:23) en Jesus se slotwoorde dat Hy by sy kerk sal wees tot en met die voleinding (18:20; 28:20). Jesus kan dus volgens Matteus nie los van die Ou Testament of die bediening van Jesus deur die kerk verstaan word nie.

Vir Matteus is sowel die sogenaamde “historiese Jesus”, as die geprofeteerde Messias (OT) en die lewende Here (sy voortgaande bediening in die wêreld) deel van die verhaal van Jesus. Terwyl hy dus wel Markus se weergawe van Jesus se leer en lewe as betroubaar gewaarmerk het deur dit byna volledig oor te neem, voeg hy vanuit Q en sy eie materiaal belangrike aksente by oor wie Jesus was wat in die prediking van Matteus verreken moet word.

3. ’n Fokus op die woorde en dade van Jesus
Matteus se invoeging van vyf diskoerse waarin die inhoud van Jesus se leer weergegee word (Markus vermeld net dat Jesus dikwels ander onderrig het) was geweldig belangrik vir die vroeë kerk. Die navolging van Jesus het naamlik getrouheid aan sy oorgelewerde woorde veronderstel en nie bloot die navolging van een of ander vae beginsel wat deur Jesus geartikuleer is nie (ons moet bv almal onvoorwaardelik liefhê) of van ’n idee deur Hom versinnebeeld nie (bv. naasteliefde), maar ook van sy leer oor hoe die beginsels konkreet uitgeleef moet word.

Matteus beklemtoon telkens (veral in die vyf redevoeringsdiskoerse) dat Jesus ’n gesagvolle leermeester en verkondiger van God se wil is. In Matteus is dit egter nie Jesus se dissipels wat Hom as ’n leermeester identifiseer nie, maar buitestanders (vgl 8:19; 9:11; 12:38; 17:24; 19:16; 22:16, 24, 36). Al noem Jesus se dissipels Hom nooit “rabbi” nie, beskryf Jesus Homself wel as ’n leermeester (23:8; 26:18) en is ’n groot deel van sy bediening om God se wil rakende die nuwe era te verkondig (3:15; 5:17-48; 11:27; 13:10-17; 23:8). Jesus sou egter uiteindelik as die bekendmaker van God se wil in Matteus verwerp word deur Israel en haar leiers (vgl 11:1-12:50).

Matteus verweef verder die woorde van Jesus aan sy dade. Vir hom is albei belangrik in die navolging van Jesus. Waar gelowiges dikwels eerder die daad-Jesus (wat almal innooi in sy teenwoordigheid) verkies bo die lerende-Jesus (wat die etiese kode van die Ou Testament radikaal verskerp het), maak Matteus dit duidelik dat Jesus se woorde nie van sy dade kan skei nie. Predikers moet daarom in gedagte hou dat hulle nie kan kies om ’n rooiletter (die woorde van Jesus) of ’n swartletter (die dade van Jesus) evangelie te verkondig nie. So volg Jesus se wonderdade (hfst 8-9) op sy verkondiging van die Bergrede (hfst 5-7) en is beide nodig om te verstaan wie Jesus volgens Matteus was.

4. ’n Sending na Israel en die nasies
Jesus is volgens Matteus spesifiek gebore om sy verbondsvolk van hulle sondes te verlos (1:21), en was sy sending (15:24) én die van die dissipels (10:5) aanvanklik net tot Israel beperk. Desondanks die fokus het Israel vir Jesus verwerp. Reeds aan die begin van die Matteusevangelie (2:3; 11:18; 12:24) vind ons voorafskaduwings van die verwerping van Jesus wat in hoofstuk 26-27 met sy kruisiging ’n klimaks bereik.

Matteus maak dit egter duidelik dat Jesus op sy beurt ook vir Israel verwerp het (3:10; 8:12; 10:15; 11:20-24; 12:43-50). Terwyl Matteus dus wel die voorrang van Israel in die bediening van Jesus stel (15:24), maak hy dit duidelik dat die evangelie ook vir al die nasies bedoel was (28:19). Terwyl enkele tekste (bv. 11:28-30; 23:39) dit duidelik maak dat Israel regdeur vir Jesus belangrik was, maak ander soos Matteus 21:41-43 dit weer helder dat Israel deur ’n nuwe verbondsvolk, te wete die kerk, verplaas is.

Die komplekse uitbeelding van die posisie van Israel in Matteus moet met groot omsigtigheid deur predikers hanteer word. Terwyl Matteus die verwerping van Jesus deur Israel pertinent uitspel, asook Jesus se reaksie daarop, bly dit ’n vraag of Israel steeds deel van die nasies is na wie Jesus sy dissipels stuur aan die einde van Matteus en of dié nasies vir Israel volledig vervang het (28:19). Wat wel duidelik is, is dat Jesus vir Matteus die Joodse Messias (1:1, 16, 17, 18; 2:4; 11:2; 16:16, 20; 22:42; 23:10; 26:63, 68; 27:17, 22) is wat deur God gestuur is om sy beloftes, soos vervat in die Ou Testament, te vervul (sien die opmerkings oor die vervulling van profesie). Jesus mag dus nie los van die Ou Testament, en die beloftes daarin vervat, gemaak word nie.  

5. Die koninkryk van die hemel
Vir Matteus is die kern van Jesus se verkondiging die koms van die koninkryk van die hemel. Die verwysing na die evangelie van die koninkryk in 4:23 en 9:35 omraam byvoorbeeld die versamelings van Jesus se woorde (hfst 5-7) en dade (hfst 8-9) om sodoende te beklemtoon dat die koninkryk deur die volheid van Jesus se werksaamhede aanbreek.

Vir Matteus is die koninkryk van die hemele sowel ’n teenwoordige (6:33; 11:12; 12:28; 13:24-30, 36-43; 16:19; 23:13) as ’n toekomstige werklikheid (4:17; 5:19; 8:12; 16:28; 25:1-13; 26:29).

Die teenwoordige dimensie van die koninkryk van God kom na vore in die demonstrasies van God se mag
(10:7-8; 12:28; 16:28) wat deur kosmiese magte en hulle menslike vennote weerstaan word (11:12; 13:24-30; 23:13), asook Jesus se aandrang op regverdige gedrag (4:17; 5:20; 6:33; 7:21; 13:44-45; 18:3, 23; 19:12, 23-24; 21:31-32; 24:14).

Die toekomstige aspekte van die koninkryk van die hemel sal tot vervulling kom met die wederkoms van die Seun van die mens (13:24-30, 36-43, 47-50; 16:28; 25:1-13). Dit sal lei tot die oordeel van God (8:12; 18:3; 19:23-24; 20:1-16; 22:1-14; 25:1-13) en sal gekenmerk word deur God se finale toe-eiening van sy volk (5:19; 8:12; 11:11; 13:43; 18:1, 3, 4; 20:1-16; 25:31-46; 26:29). Waar die koninkryk van die hemel in die hede die Jode insluit sal dit in die toekoms universeel wees (5:3, 10; 8:11-12; 13:31-32; 21:31, 43; 22:1-14; 23:13; 24:14).

Dit is belangrik vir predikers om in ag te neem dat die koninkryk van die hemel, as God se dinamiese heerskappy, vir Matteus omvattender is as net die kerk, en dat dit genade en toorn behels. Só is dit in 13:38 duidelik dat die saailand – die koninkryk van God – die wêreld en nie net die kerk is nie. Die kerk is egter die soteriologiese doel van die koninkryk. Aan die kerk is die koninkryk gegee (21:43), en is die kerk die seuns van die koninkryk wat die woord van die koninkryk verstaan (13:19, 23). Die kerk moet ook die lewe van die koninkryk eksemplaries voor leef vir ander (13:8, 23; 21:43).

6. Die vervulling van die Ou Testament
Deur Jesus as die Messias te benoem, het Matteus bely dat in Hom al die Ou-Testamentiese beloftes oor die herstel en verlossing van God aangebreek het (1:1-2:23; 5:17-48; 26:63). In die identifisering van Jesus as die Messias speel die talle vervullingsitate ’n deurslaggewende rol. Daar is ten minste twaalf vervullingsitate in Matteus (1:23; 2:6, 15, 18, 23; 4:14; 8:17; 12:17; 13:25; 21:5; 26:56 en 27:9). Meer as die helfte van die sitate kom uit Jesaja, terwyl die res uit Sagaria, Jeremia, Hosea en Miga afkomstig is. Dit is opvallend dat die meerderheid van die vervullingsitate nie in die lydensgeskiedenis van Jesus voorkom nie, maar eerder tydens sy bediening. Jesus vervul dus in sy ganse lewenswyse die Ou-Testamentiese beloftes en nie net deur sy dood nie. Veral Jesus se wonderdade (soos verwoord in hoofstukke 8-9) word uitgebeeld as die vervulling van Jesaja se profesieë.

In die prediking van die vervullingsitate moet predikers in ag neem dat profesie in Matteus nie net in die sin van voorspelling gebruik word nie. Dit dui vir Matteus ook op die insig in die werkwyse van God in die geskiedenis. Só kyk van die Ou-Testamentiese profesieë wat Matteus aanhaal in hulle oorspronklike konteks terug na wat God reeds verrig het (bv Hos 11:1). Profesie is dus ook die herkenning van herhalende patrone in God se handelinge in die geskiedenis. God se handeling in die lewe van Jesus sluit dan ook aan by dié patrone of werkswyse wat deur die Ou-Testamentiese profete geïdentifiseer is. Dit lui ook ’n nuwe, beslissende, tydperk in die heilsgeskiedenis in. In die sin word die woorde van die profete dan ook volgens Matteus vervul in die lewe van Jesus. Die gedagte dat die gawe van profesie in die Nuwe Testament nie net oor die gawe van voorspelling gaan nie, maar ook oor die uitleg van God se Woord en die herkenning van sy handelinge in die wêreld sluit by dié verstaan van profesie aan.

Liturgie

RUS

Toetrede
Lied 351 “Kom, verwonder julle, mense” of
VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”

Votum: (Ps. 148)

Seëngroet

Lofsang
Lied 365 “Hoor die blye eng’lelied” of
VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer” of
Flam 319 “Want ’n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”

Genadeverkondiging: Hebreërs 2:10-18

Toe-eiening: Lied 340 vers 1 Kom ons loof die Jesuskind

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed: Lied 372 “Hoe glansryk blink die Môrester”

Skriflesing: Matteus 2:13-23

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Respons: Vonkk 30 Al die donker is nooit net donker

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 351 “Kom, verewonder julle, mense”

Seën

Respons: Lied 372 vers 3 refrein “Christus Jesus, o verlig my…

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 351 “Kom, verwonder julle, mense” of
VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”

Votum: (Ps. 148)
(Jy kan ook verskillende voorlesers kry, of of die gemeente in bv. vier dele opdeel, sê linkerblok, regterblok, middelblok, galery en dit in vier stemme doen.)
Liturg: Prys die Here vanuit die hemele,
Gemeente: prys Hom in die hoë hemel!

L: Prys Hom, alle engele,
G: prys Hom, alle hemelwesens!

L: Prys Hom, son en maan,
G: prys Hom, alle sterre!

L: Prys Hom, hoogste hemele,
G: en waters in die hoë hemelruim!

L: Laat hulle die Naam van die Here prys,
G: want Hy het beveel en hulle is geskep;

L: Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee,
G: vir hulle ’n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie.

L: Prys die Here van die aarde af,
G: seediere en al die oseane,

L: weerlig en hael, sneeu en miswolke,
G: stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,

L: berge, al die heuwels,
G: vrugtebome, al die seders,

L: wilde diere, al die vee,
G: al wat kruip of vlieg,

L: konings van die aarde, alle volke,
G: vorste, alle regeerders van die aarde,

L: jong manne en meisies,
G: grysaards saam met seuns!

L: Laat hulle die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.
G: Prys die Here!

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God wat gekom het, weer kom en elke dag in ons lewens kom!

Lofsang
Lied 365 “Hoor die blye eng’lelied” of
VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer” of
Flam 319 “Want ’n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”

Genadeverkondiging: Hebreërs 2:10-18

Toe-eiening
Lied 340 vers 1 Kom ons loof die Jesuskind

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”
Nav Johannes 12:46 Teks: Jésus le Christ – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Albert Troskie 2009 (Pro Deo) Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik (Frans, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Advent

Jesus, U is die lig in ons lewe;
laat tog nie toe dat die donker oor ons kom.
Jesus, U is die lig in ons lewe;
Maak ons ontvanklik vir u liefde, o Heer.

Jésus le Christ, lumière intérieure,
ne laisse pas mes ténèbre me parler.
Jésus le Christ, lumière intèrieure,
donne moi d’accuellir ton amour.

Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let not my doubts nor my darkness speak to me.
Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let my heart always welcome your love.

F319. “Want ’n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”
(RUBRIEK: Flam / Flammikidz – Kersfees) Oorspronklik: Immanuel Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 1993 Celmar Music

1. Want ’n kind is vir ons gebore,
God het sy Seun aan ons gegee.
Die heerskappy rus op sy skouers
en sy Naam sal wees:

Refrein:
Wonderbare Raadsman, Magtige God,
Ewige Vader, die Vredevors.
Immanuel,
God met ons.
Immanuel,
God met ons,
Immanuel.

2. Want so lief het God die wêreld,
Hy het sy Seun aan ons gegee
sodat die wat nou in Hom glo
leef tot in ewigheid.

Refrein:

VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”
Teks: Ernst Kotzé 2010 Musiek: JUDAS MACCABEUS – GF Handel 1746; harmonisasie effens gewysig 2001
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Advent / Kersfees en Epifanie

1. Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!
Ons kom in aanbidding, buig tot in die stof.
Heer, ontvang ons loflied, aan U al die lof!
Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!

2. Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!
In ons donker harte, stuur Hy weer sy lig.
Hy kom na die aarde, om ons op te rig!
Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!

VONKK 30 “Al die donker is nooit net donker”
Nav Psalm 139 : 12 Teks: La ténèbre – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Gerrit Jordaan 2009 Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik (Frans, Afrikaans in hierdie weeergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis en Genade / Kersfees en Epifanie / Lydenstyd

Al die donker is nooit net donker in u sig.
Die nag, net soos die dag, word deur U verlig.

La ténèbre n’est point ténèbre devant toi:
La nuit comme le jour est lumiére.

God praat met ons en ons luister

Gebed Lied 372 “Hoe glansryk blink die Môrester”

Skriflesing: Matteus 2:13-23

Familie-oomblik

Hoewel hierdie ’n baie ontstellende verhaal is, kan ’n mens dit toeganklik maak vir kinders deur meer te fokus op die vlug na Egipte, eerder as die kindermoord.

Mission Arlington begin deur vir die kinders te vra of hulle al êrens heengereis het. Soms is dit lekker, soms voel dit baie lank. Dan word die verhaal van die teks vertel, met die klem dat God beskerm en Josef gehoorsaam was.

Jy kan ook die verhaal vanuit die oogpunt van van ‘n donkie vertel (sien skakel hier bo), dalk m.b.v. ‘n donkie-pop of prent. Jy kan dan vir hulle sakkies vol “donkie kos” gee – bestaande uit bv. “trail mix” of neute, ens.

Gesels met die kinders oor hoe hulle in die komende jaar gehoorsaam gaan wees aan God.

Hierdie is ook ’n ideale geleentheid om te gesels oor vreemdelinge – jy kan dalk terugvoer gee oor die sendelinge wat julle gemeente ondersteun, of gesels oor die vreemdelinge in jul omgewing. Baie van hulle het gevlug van hul eie land en moet nou leef in ’n land waar hulle vreemd en arm is en baie keer uitgeskel word as “makwerekwere”. Maar Jesus was ook ’n vlugteling! Gesels oor hoe ons gasvry kan wees teenoor die vreemdelinge in ons midde. Hier kan jy riglyne kry vir die oorvertel van die verhaal (m.b.v. ’n nativity toneel), asook idees rondom gesprek oor vlugtelinge.

Preekriglyn

Die wêreld is vol geweld.

Só is die predikant van die Victory Christian Centre in Tulsa, Oklahoma ‘n paar jaar gelede tydens die erediens met die vuis bygedam. Steven Rogers (50) het onder die preek opgestaan en die dominee in die gesig gaan slaan.

Soos dit gaan met predikers, kon niks pastoor Billy Joe Daugherty stop nie. Hy het bly preek, hoewel die vuishou ‘n sny bo sy oog veroorsaak het, wat later ‘n paar steke moes kry.

‘n Klompie gemeentelede het die wannabee bokser platgeduik en aan die polisie oorhandig. Dié het hom vir openbare geweld arresteer. Die goeie prediker het die erediens egter afgesluit met ‘n gebed vir sy aanvaller en geweier om ‘n klag te lê. (www.firstcoastnews.com)

Herodes die Grote

Ja, die wêreld is vol geweld. Baie groter geweld as ‘n relletjie in die kerk, of ‘n vuishou en ‘n klap hier of daar. Die wêreld is vol gewelddadige tiranne wat nie huiwer of af te knou, te gryp, op te eis, te moor en te laat vermoor nie.

Koning Herodes die Grote was so ‘n wrede en magsbehepte karakter. Hy was in Israel aan bewind tydens Jesus se geboorte. Van hom het keiser Augustus gesê hy sal eerder Herodes se vark as sy seun wees (“vark” en “seun” is ‘n woordspel in Grieks – die twee woorde klink baie na mekaar). Die rede was dat Herodes nie gehuiwer het om sy eie familie en vriende te laat vermoor nie. Naas ‘n klomp ander onskuldiges, het hy drie seuns en sy gunstelingvrou by verskillende geleenthede koelbloedig laat vermoor. Vir hom was geweld ‘n oplossing, ‘n manier om te regeer.

Ons teks vertel van sy heftige reaksie op die wyse manne se verraad. Hy kom agter hulle het met ‘n ander pad teruggekeer na hul land sonder om hom te vertel waar die nuutgebore kind tuisgaan. Sy komplot om die wyse manne te gebruik om Jesus te vind, misluk. Herodes gee ‘n woedende en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word.

Die Hoofkarakter

Naas Herodes is daar ook verskeie ander karakters in ons teks:

  • ‘n Engel verskyn twee keer aan Josef om hom te lei om reg op te tree – eers om na Egipte te vlug, en dan om terug te keer;
  • Josef, wat gehoorsaam op die droom reageer en dieselfde nag nog die Kindjie en sy moeder neem en na Egipte vlug;
  • Egipte, die land waaruit die Here sy volk eeue vantevore geroep het, en wat nou weer skuiling bied aan die Kindjie en sy gesin (politieke vlugtelinge) terwyl Herodes sy bloed soek;

Nie een van hierdie karakters moet ons egter verlei om die Hoofkarakter, God self, mis te kyk nie. Die aksent in hierdie gedeelte val op God wat deur Jesus beslissend in die harde, verskriklike, gewelddadige wêreldgeskiedenis handel om hoop en uitsig vir mense te bring.

Hoewel Jesus nog net ‘n Kindjie in ons teks is, is Jesus, en die God wat deur Jesus handel, hier in die fokus. Daar word bv. telkens eers na die Kindjie, en dan sy moeder verwys. Dit is die Kindjie wat bedreig word, en wat beskerm word. En van die Kindjie word gesê dat God sy Seun uit Egipte roep (15).

Wat doen die God, die Vader, van Jesus deur die Kindjie in die wêreld se geskiedenis?

Twee reaksies op Jesus

Soos verder in die Matteus-evangelie sal blyk, reageer mense op basies twee verskillende maniere op Jesus.

Eerstens is daar diegene wat gelowig en gehoorsaam reageer op wat God in Jesus doen. Josef aanvaar die vroeëre boodskap van die engel dat die Kind gebore word uit God se handelinge, en in ons teks gehoorsaam hy die opdrag om na Egipte te vlug. Hy keer ook terug na Israel in opdrag van God

Herodes reageer gewelddadig en probeer God se werk dwarsboom. Hy werp alles in die stryd om die Kindjie te vernietig.

Verder in Matteus se evangelie lees ons hoedat hierdie patroon voortduur. Mense aanvaar Jesus se woorde en dade, en leef dit uit, of verwerp dit. Telkens word ons verras met wie dit aanvaar en wie dit verwerp. Veral die Joodse godsdienstige leiers herken nie die werk van God in en deur Jesus nie. Uiteindelik kry hulle reg om te doen wat Herodes nie kon nie. Hulle smee ‘n komplot en vermoor Jesus deur Hom te laat kruisig.

Die moord op Jesus druk God nie in ‘n blik nie. God reageer op die geweld teen Jesus deur daarmee versoening vir sonde te bewer, en die dood en boosheid self te oorwin. God bevestig die oorwinning van die kruis deur Jesus uit die dood op te wek en Hom tot aan sy regterhand te verhef.

Die Kersgebeure is dus nie ‘n sprokie of ‘n sentimentele verhaaltjie nie. Dis harde geskiedenis in ‘n harde wêreld. Dis deel van die konflik tussen dié wat God se wil doen en dié wat dit wou dwarsboom.

God is in beheer in die geskiedenis

Reeds in hierdie vroeë episode in Jesus se lewe sien ons dat God nie in ‘n blik gedruk word nie. Soos die profete voorspel het, word Jesus in Betlehem gebore. Wanneer die Koning dan op Betlehem toeslaan, red God se Seun uit Bethlehem, bewaar Hom veilig en Egipte, en lei Hom later terug na ‘n veilige plek in die land.

God dwarsboom nie altyd die planne van die Bose onmiddellik nie. Herodes se bose planne word immers nie in hierdie gedeelte gekeer nie. Nogtans is God in beheer. Hy gebruik trouens Herodes se boosheid om die profetiese woord in vervulling te laat gaan dat sy Seun uit Egipte geroep is (Hosea 11). Dit gebeur nadat die magsbehepte Herodes gesterf het.

Die aanhaal van woorde uit die profete (Hosea en ook Jeremia) beklemtoon dat God nie verras of onkant betrap word deur die dade van bose geweldenaars nie. Die teenstand teen Jesus verf God nie in ‘n hoek vas nie, hoe dit ook al op enige gegewe oomblik mag lyk.

Só getuig Matteus oor die Verlosser van die wêreld wie se verlossing van die Bose goeie nuus is vir almal wat in ‘n gewelddadige wêreld leef.

Profesie is belangrik

In ons teks, en in die groter geboorteverhaal van Jesus, speel profesie ‘n geweldige belangrike rol. Vir Matteus is profesie nie bloot voorspelling van die toekoms nie. Dit is veel meer. Profesie is ook insig in die werkswyse van God in die geskiedenis.

Om die bespreking van hierdie teks uit Woord en fees aan te haal:

Sommige van die Ou-Testamentiese profesieë wat Matteus, in hulle oorspronklike konteks, aanhaal, wys “terug na wat God reeds verrig het” (bv. Hosea 11:1). Profesie is dus ook die herkenning van herhalende patrone in God se handelinge in die geskiedenis.

God se handeling in die lewe van Jesus sluit aan by dié patrone of werkswyse wat deur die Ou-Testamentiese profete geïdentifiseer is. Dit lui ook ’n nuwe, beslissende, tydperk in die heilsgeskiedenis in. In dié sin word die woorde van die profete volgens Matteus vervul in die lewe van Jesus.

Die gedagte dat die gawe van profesie in die Nuwe Testament nie net oor die gawe van voorspelling gaan nie, maar ook oor die uitleg van God se Woord en die herkenning van sy handelinge in die wêreld, sluit by dié verstaan van profesie aan.

Vir ‘n hedendaagse geloofsgemeenskap is hierdie insigte ook belangrik. Profesie help ons om die groter getye en vloei in die werk van God raak te sien. God se planne en aksies strek soms oor eeue. Die beslissende dinge wat God doen is nie altyd duidelik in die morsige oomblik waar die swaard uitgepluk en die bloed van kinders vloei nie. Met die geweld van die kruis op Goeie Vrydag het dinge allesbehalwe na ‘n oorwinning gelyk.

Binne die groter raamwerk van God se beslissende handelinge, soos die profete dit uitwys, kan ons van oomblik tot oomblik in die vaste geloof lewe dat God in beheer is en die geskiedenis van die wêreld beslissend rig.

Die dood van Madiba het ons in die afgelope weke gedwing om weer oor ons eie land se onlangse geskiedenis na te dink. Die geweld van Umkhonto we Sizwe en die geweld van die staat het prakties tot ‘n burgeroorlog in Suid-Afrika gelei. Geweld en gewelddadige reaksie het ons tot op ‘n afgrond gebring. Enorme gebedskettings is deur gelowiges gevorm. En God het beslissend ingegryp toe mense van vrede opgestaan het en die geweld in ons land beëindig is.

Profesie gee nie vir ons ‘n verklaring van geweld nie. Maar dit fokus die aandag op die goeie nuus dat die Verlosser vir ons verlossing van geweld bring. En dit skerp ons op om te weet dat die wêreldgeskiedenis onafwendbaar afstuur op die einde voor Sy regterstoel waar ‘n finale einde aan geweld en boosheid gemaak sal word.

Wanneer ons land nuwe uitdagings en nuwe gestaltes van grypsug en geweld beleef, help dit ons om kant te kies vir die Vredevors van geregtigheid, en sy lewe en lering na te volg. Dit is die pad wat tot lewe lei.

Jesus is die Messias!

Die hoogtepunt van ons teksgedeelte is die uitspraak dat Jesus die Nasarener (d.w.s. Jesus van Nasaret) die verwagte Messias is (23).

Josef verhuis met sy gesin na Galilea wat na die dood van Herodes ’n onafhanklike gebied teenoor Juda geword het. Dié gebied is deur Antipas (“Herodes” genoem in 14:1-12), ’n ander seun van Herodes, regeer. Ook dié skuif word deur Matteus direk aan die vervulling van die woorde van die profete verbind (23). Jesus sou naamlik ’n Nasarener wees.

Volgens Matteus is dit wat die profete voorspel het. Die laaste vervullingsaanhaling verwys nie na ’n spesifieke profeet nie, maar na ‘n ongespesifiseerde groep profete. Daar is met ander woorde nie ’n enkele Ou-Testamentiese aanhaling onderliggend aan die uitspraak nie. Daar word trouens nooit na Nasaret in die Ou Testament verwys nie. Nasaret was ’n onbenullige dorpie van skaars 480 inwoners genestel in die heuwels van Galilea. Dit was skaars ses km van Seporis, ’n groeiende Hellenistiese stad, die hoofstad van Galilea.

Die vraag is egter in watter sin was Jesus ’n Nasarener? Jesus was duidelik nie ’n Nasarener soos die geval met Simson was nie (vgl. Rigters 13:5, 7). Hy het naamlik nie volgens die Nasarener-eed geleef nie. Die term “Nasarener” is waarskynlik ironies bedoel in die sin dat niemand dit voorspel het dat die Messias uit Nasaret sou kom nie om sodoende aan te sluit by die Joodse tradisie wat geleer het dat die fisieke herkoms van die Messias onbekend en van min belang sou wees. Laasgenoemde tradisie sluit nou aan by die verwagting dat die Messias geminag en verwerp sou word. In die Nuwe Testament is Nasaret en haar inwoners dikwels geminag (vgl. Johannes 1:46-47; 7:41-42, 45; Handelinge 2:45).

Dié uitspraak is die slotsom van die tweede hoofstuk van Matteus: Jesus van Nasaret is die langverwagte Messias van Bethlehem.

So verstaan, wil hierdie opmerking ons daarop wys dat God die Vader in Jesus aan die werk is. Hierdie God is in beheer van die geskiedenis, en vestig God se koningskap deur die werk van Jesus Christus op aarde. Deur die bediening van Jesus word die koningskap van God op aarde gevestig. God regeer oor alles, word nooit onkant gevang nie, en lei die wêreld onafwendbaar na die heerlike bestemming van vir die kinders van God weggelê is.

God stuur ons om te leef

Respons Vonkk 30 “Al die donker is nooit net donker”

Dankoffer

Slotsang
Lied 351 “Kom, verewonder julle, mense”

Seën

Respons
 Lied 372 vers 3 refrein “Christus Jesus, o verlig my…